As Jesus nie opgestaan het nie…

1Korintiërs 15:12-19

Rudolf Bultmann (1884-1976) was ’n Duitse teoloog in die vorige eeu. Hy het die bonatuurlike elemente van die Skrif—byvoorbeeld Jesus se wonderwerke en sy liggaamlike opstanding—verwerp en dit as ’n mite bestempel. In ’n poging om die Bybel meer aanvaarbaar vir die moderne wetenskaplike mens te maak, het hy besluit om sogenaamde mites te herinterpreteer. Hy het geloof in die historiese Jesus as onbelangrik beskou en gesê dat ons eerder die dieper beteken agter hierdie ‘mites’ moet soek.1

Maar wat sê die Bybel hiervan en hoe het Christene dit deur die geskiedenis verstaan? Wat maak dit buitendien saak of ons glo dat Jesus se opstanding letterlik, histories, en liggaamlik was, en of ons sê dit het geestelik in die dissipels se harte plaasgevind? In 1Kor. 15:12-19 gee Paulus die antwoord op hierdie vrae.

 

1. Dan sal óns ook nie opstaan nie (v.12-13, 16)

Volgens die antieke Griekse wêreldbeskouing was alle materie (dit wat jy met jou sintuie ervaar) boos en was die nie-materiële geesteswêreld goed. Dus het die Grieke die mens se liggaam as boos beskou en sy siel as rein. Die mens se grootste doel was om, soos ’n voël uit ’n hok, uit sy liggaam te ontsnap. Dus het hulle nie ’n opstanding van die liggaam verwag nie.

           Dit mag wees dat hierdie beskouing sommige van die Korintiërs beïnvloed het, sodat hulle—soos die Sadduseërs (Matt. 22:23, Hand. 23:8)—die opstanding van die liggaam verwerp het. Maar as hulle dít verwerp het, dan moes hulle ook die basiese waarheid van Jesus se opstanding verwerp (v.12-13, 16). En dit sou geestelike en intellektuele selfmoord wees, veral omdat die bewyse vir Jesus se opstanding oorweldigend is.

           Dit is byvoorbeeld ’n voldonge feit dat Paulus in v.3-4 uit ’n vroeë Christelike belydenis aanhaal wat minder as 5 jaar na Jesus se opstanding in algemene gebruik was: “Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte”.2

           Duidelik is die opstanding nie iets wat iemand later uitgedink het nie, maar het Christene dit van die begin af geglo.

       Party sal sê dat die dissipels gehallusineer het en ’n spookbeeld gesien het soos iemand wat dwelms, of te veel narkose in sy sisteem het. Maar dit kan nie wees nie, veral omdat Jesus meer as tien keer aan verskillende groepe mense verskyn het—by een geleentheid aan meer as 500 gelyk (v.5-7). Die kanse is bitter skraal dat al hierdie mense gehallusineer het.

           Om verder te wys dat die dissipels nie ’n spookbeeld gesien het nie, het Jesus voor hulle geëet, hulle sy kruiswonde gewys, en het hulle aan Hom geraak (Luk. 24:36-43, Joh. 20:24-29, 1Joh. 1:1).

           Iemand sal sê dat die dissipels die storie opgemaak het en dat Jesus nooit aan hulle verskyn het nie. Maar as dit so is, het ek ’n paar vrae:

[a] Hoekom is die graf leeg en kon Jesus se opponente nog nooit sy liggaam na vore bring nie?

[b] Hoekom was gelowiges soos Stefanus en Jakobus bereid om vir die opgestane Jesus te sterf as hulle geweet het iemand het die storie opgemaak (Hand. 7:55-56, 12:2)? Mense sal miskien nog vir ’n leuen sterf as hulle gedink dit is die waarheid (soos toe Jim Jones in 1978 meer as 900 van sy volgelinge deur ’n leuen oortuig het om selfmoord te pleeg). As jy egter wéét iets is vals, sal jy baie gou met die waarheid uitkom as ’n Romeinse soldaat sy swaard teen jou keel druk.

[c] Hoe verduidelik jy Paulus se bekering; dat hy binne ’n kwessie van dae van ’n radikale Jesus-hater en vervolger van Christene in ’n passievolle prediker van die evangelie verander het? Volgens sy eie getuienis het hy ’n persoonlike ontmoeting met die opgestane Jesus gehad (v.8, Hand. 9, Gal. 1).

Jesus verander nog steeds losbandige mense in mense wat rein is; leuenaars in eerlike mense; dronkaards in mense wat nugter is; diewe in mense wat hardwerkend is en met ander deel. Hoe verduidelik jy dit as Jesus dood is en dit net sy nalatenskap is [Eng. legacy] wat voortleef? Elvis se nalatenskap doen dit nie vir mense nie.

Iemand sal sê: ‘Enige verbeteringsprogram kan dit vir mense doen; jy hoef nie in ’n opgestane Jesus te glo om te verander nie.’ Dit is waar dat sulke programme mense se dade kan verander. Maar kan dit hulle op die vlak van hulle emosies, begeertes, en gedagtes verander? Kan dit hulle nuwe mense maak, sodat hulle in elke opsig anders is en in die kern van hulle menswees verander het? Jesus kán en Hy hét ook.

[d] Hoekom sou die dissipels die opstanding uitdink as hulle dit self nie verwag het nie en ook nie die vroue se getuienis wou glo nie (Luk. 24)?

[e] Hoe het die vroue en dissipels se droefheid binne ’n oomblik in blydskap verander as Jesus nie opgestaan het nie (Luk. 24)?

Luister: niks behalwe die letterlike, historiese, en liggaamlike opstanding van Jesus nie kan verduidelik hoe Christene van die begin af hiervan oortuig was en deur die geskiedenis daaraan vasgehou het. Jesus se opstanding is so feitlik soos die geskiedenis van Julius Caeser. Eintlik is daar meer manuskripte om Jesus se opstanding te bevestig (meer as 5000) as manuskripte wat die geskiedenis van die Romeinse keisers bevestig (1 onvolledige manuskrip)!3 Daarom is geloof nie ’n sprong in die donker nie, maar is dit gebaseer op die historiese feite van Jesus se lewe, kruisdood, en opstanding (v.3-4, Heb. 11:1). Dit is veral die opstanding wat ons oortuig dat Jesus meer as nét ’n mens is, maar dat Hy die ewige en lewende Seun van God is (Rom. 1:4). Dit is hierdie Jesus wat deur die apostels verkondig is (v.12, 3-4). Hy was ook die inhoud van die kerkvaders, Hervormers, Puriteine, Hugenote, groot sendelinge en evangeliste se prediking. En vandag verkondig ons Hom nog steeds.

Ken jy Hom? Staan jy in ’n persoonlike verhouding met Hom? Is Hy jou Verlosser en Here? Het Hy al jou lewe verander? Het jy Hom lief? Dien jy Hom? Volg jy Hom? Gehoorsaam jy Hom? Wil jy Hom sien? Glo dan Paulus se evangelie en moenie vir dié luister wat sê dat daar niks na die dood is nie. As jy hulle glo, moet jy die duidelike bewyse van Jesus se opstanding ontken (v.12-13, 16). En hoe wil jy dit doen as jy die getuienis van die apostels, die profete, en Jesus self teen jou het (v.4, Ps. 16:10, Job 19:25-27, Jes. 25:7-8, 26:19, 53:10-12, Dan. 12:2, Matt. 12:40-42, 16:21, 17:23, 20:18-19, 26:32, Luk. 24:25-27, 44-46, Joh. 5:28-29, Hand. 2:24-32, 13:30-31, 35-37, 24:14-15, 26:6-8, 22-23)?

Die vraag is wat jy met Jesus en sy Woord sal doen? Sal jy sy woorde verdraai en Hom as ’n bedrieër en ’n mal mens uitmaak? Of sal jy saam met Tomas voor Hom neerval en sê: “My Here en my God!”? (Joh. 20:28).

 

2. Dan is ons prediking en geloof sinloos en ’n leuen (v.14-15, 17a)

’n Maatskappy het my vriend gebel en gesê: ‘Is dit mnr. so-en-so? Mnr., jy het sopas ’n gratis vakansie en ’n stel potte en panne gewen. Al wat jy moet doen, is om een van ons seminare by te woon.’

            My vriend het hom voorgeneem om die seminaar by te woon en niks te koop nie. ‘Ek wil net my gratis vakansie en my potte en panne hê,’ het hy gesê. Maar soos gewoonlik was dit leë beloftes en op die einde moes hy ’n paar Rand op sy ‘gratis’ vakansie inbetaal.

           As Jesus nie opgestaan het nie, is die apostels se prediking en Christene se geloof soos hierdie beloftes: dit is leeg (v.14, 17a). Wat is tog die doel daarvan om vir mense te sê: ‘Glo in Jesus! Hy is nou wel dood en Hy kan niks vir jou doen nie, maar ten minste sal jy ’n warm gevoel hê as jy na ons kerk toe kom—iets wat jou gunsteling sanger en die naaste kroeg ook vir jou kan gee’?

           As Jesus nie opgestaan het nie, dan is ons boodskap maar ’n droewige een. Om die waarheid te sê: Christenskap is ’n klug en die kerk moet haar deure toemaak. Daar is nie plek vir predikante, sendelinge, en evangeliste nie. Gaan sny liewers mense se toonnaels vir ’n lewe.

           Gelukkig hét Jesus opgestaan en kan ons die goeie nuus van die ewige lewe aan mense verkondig. Hierdie lewe is vir dié wat hulle tot die Here bekeer en Hom vertrou om hulle van God se ewige oordeel te red: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:16). Dit kan egter nie gebeur as Jesus dood is nie. Dan lieg ons om vir mense te sê Hy lewe en kan die ewige lewe vir hulle gee (v.15). In Leon Morris se woorde: ‘Christ rose or we all lied.’4

           As mense ons nie eers oor die hart van die evangelie kan glo nie, hoekom moet hulle ons oor enigiets glo, veral as dit hulle wanhopig laat?

 

3. Dan is ons nog in die bande van sonde (v.17b)

Gestel jy het ’n boete. ’n Gawe persoon besluit om dit te betaal. Die gereg aanvaar egter nie sy betaling nie, omdat hy self ’n klomp uitstaande boetes het.

           Vir Jesus om die straf vir ons sonde te dra, moes Hy self geen sonde hê nie. Anders sou Hy vir sy eie sonde moes sterf. En as dít geval was, sou die Vader Hom nie uit die dood kon opwek nie, omdat dit sy verdiende loon was.

           Jesus se opstanding wys juis dat Hy sonder sonde is en dat die Vader sy offer vir óns sonde aanvaar het (Rom. 4:25). Om dan te sê dat Jesus se opstanding ’n leuen is, is om te sê dat ons sonde nie vergewe is nie en dat ons nog onder die mag daarvan is (v.17b). Maar dan weerspreek Paulus wat hy in v.3 gesê het, naamlik dat Jesus vir ons sonde gesterf het.

           Jesus het ons straf gedra en die prys betaal! Dit is hoekom ons in sy dood kan roem. Ons roem nie in Prinses Diana, of enigiemand anders se dood nie. Ons roem wel in Jesus se dood, omdat Hy nie meer dood is nie maar lewe (2:2, Gal. 2:20, 6:14)!

 

4. Dan is gelowiges wat gesterf het, verlore (v.18)

Was jy al by ’n Christen se begrafis waar die predikant gesê het: ‘Alhoewel ons vandag hartseer is, weet ons ons broer is nou by die Here’? Maar as Jesus nie opgestaan het nie, het die dood en nie Jesus nie, die laaste lag. En dan beteken Jesus se kruisdood nie veel nie. Hy het probeer om ons te red, maar het hopeloos misluk. En dan moet ons die straf vir ons eie sonde dra, wat beteken dat die Christene wat gesterf het, vir ewig verlore is (v.18).

           Ek weet nie wat sê mense wat Jesus se opstanding verwerp vir gelowiges wat ’n geliefde aan die dood moes afstaan nie. Wat sê hulle vir ’n Christen wat op sy, of haar sterfbed lê? En wat doen so iemand as hy op sy eie sterfbed lê? Watse hoop het hy om vir mense te gee (v.18)?

 

5. Dan is ons betreurenswaardig (v.19)

Kort voor my ouma se dood het sy dementia gekry. Partykeer wou ’n mens lag vir die dinge wat sy sê, maar eintlik was dit meer hartseer as snaaks.

            Net so is Christenskap sonder Jesus se opstanding nie snaaks nie, maar hartseer. ’n Mens voel jammer vir iemand wat sy lewe lank gedink het hy gaan vir ewig by Jesus wees net om sy asem uit te blaas en daar is niks (v.19). En wat is dan die verskil tussen dié wat in hierdie lewe in Jesus gehoop het en dié wat Hom verwerp het? Dan kan jy net sowel jou vertroue op Freddy Mercury, of die Beatles stel—dit sal nie ’n verskil maak nie.

            Dit is presies om hierdie rede wat ek nie van die argument hou wat sê: ‘As die ateïs reg is en daar geen God is nie, dan verloor Christene niks. Maar as die Christen reg is en daar wél ’n God is, verloor die ateïs alles.’ Dit is nie waar nie, want as die Christen verkeerd was, het hy verniet sy lewe aan Jesus gewy en vervolging verduur (v.32)! Dit sou beter gewees het om te eet en te drink soveel jy kan, omdat jy dalk more in die graf sal wees (v.32).

            Ek is dankbaar dat dit nié so is nie, maar dat Jesus opgestaan het en dat ons deur Hom lewe: “Jesus het vir haar gesê: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?’” (Joh. 11:25-26).

            Ek hoop dat vandag se boodskap jou help as jou geloof wankelrig is en jy in Jesus begin twyfel het, of as jy skepties was. Dalk het jy selfs iemand anders op hierdie punt mislei. In daardie geval moet jy jou bekeer, die Here se vergifnis vra, en vir persoon sê dat jy hom, of haar mislei het. Christenskap sonder die opstanding is immers nie Christenskap nie, maar ’n resep vir depressie en wanhoop. Laat ons mekaar dan liewer groet soos die Christen in Bulgarye dit op Paassondag doen:

‘The Lord is risen!’

‘The Lord is risen indeed!’


1  Paul Beasley-Murray, The Message of the Resurrection (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 2000), 242

2  Aanhalings uit die 2020-Vertaling. Vir die interpretasie dat 1Kor. 15:3-4 uit ’n vroeë Christelike belydenis kom, sien: Lee Strobel, The Case for Christ (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 1980), 43-4 en Beasley-Murray, ibid., 122.

3  Strobel, ibid., 77-8

4  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1985), 207