Waar is die God van Handelinge?

Kerkgroei in die 1ste Eeu en Vandag

Handelinge 1-28

Omtrent 18 maande gelede toe praat ek en ’n ander leraar oor kerkgroei. Hy het my vertel wat een van sy dosente gesê het: ‘Waar ’n gemeente nie groei nie sê die leraar maklik: “Ek het ’n Jeremia bediening. Mense stel nie belang in die waarheid nie en daarom groei ons gemeente nie.” Maar as baie ander gemeentes rondom jou groei terwyl joune stilstaan, is daar iets fout.’

Hiermee bedoel ek nie dat ons kerkgroei om sy eie ontwil moet najaag nie, maar om te sê dat getalle nie saakmaak nie, is onbybels. Volgens Gen. 12:2-3, 22:17, Op. 7:9 sal God baie mense red om sy Seun te aanbid. Getalle is ook belangrik vir die onthalwe van dié wat gered moet word. Dit is soos as ’n skip sink en jy in ’n reddingboot sit om mense te red. Wat sal die drenkelinge daarvan dink as jy sê: ‘Getalle maak nie saak nie’? Wil jy dan nie hê baie mense in Suid-Afrika en die wêreld moet die Here ken nie? Is Jesus dit nie werd dat baie mense Hom moet ken en aanbid nie? Moet ons tevrede wees dat daar min tot geen bekerings in ons gemeentes is, en dit dan aan die soewereiniteit van God, of die hardheid van mense se harte toeskryf? Of moet ons dit aan ons eie nalatigheid toeskryf; aan die feit dat ons nie meer in die God van Handelinge glo, sodat ons bid, die Woord kragtig verkondig en die Heilige Gees vertrou soos die vroeë kerk het nie?

Moenie sê mense stel nie belang nie. Hulle het nog nooit nie. As die Gees hulle egter met die swaard van sy Woord wakker steek, sal hulle luister en nie slaap nie. Al is hulle ook hoe hard en woon daar ’n duisend demone in hulle kan geen skepsel staande bly voor die almag van die opgestane Christus deur sy Gees nie (Mark 5:1-20). Ons plig is om te besef dat bekerings en kerkgroei die norm is eerder as die uitsondering. Ons plig is om te glo dat jy nie spesiale programme en metodes nodig het om bekerings en kerkgroei te sien nie, maar dat jy eenvoudig die Woord moet verkondig, gebed ’n prioriteit moet maak, en op die Heilige Gees moet vertrou. Ons plig is om daarna te smag dat die Here in ons midde werk en deur ons die wêreld bereik. Ek weet nie hoe enige gemeente, of Christen tevrede kan wees met minder nie. Om Charles Spurgeon se woorde te gebruik:

‘It is a marvel to me how men continue at ease in preaching year after year without conversions. Have they no bowels of compassion for others? No sense of responsibility upon themselves? Dare they, by a vain misrepresentation of divine sovereignty, cast the blame on their Master? Or is it their belief that Paul plants and Apollos waters, and that God gives no increase?…How are they sent of God who bring no men to God? Prophets whose words are powerless, sowers whose seed all withers, fishers who take no fish, soldiers who give no wounds—are these God’s men?’1

Laat ons dan bid dat die Here ook in óns midde, in Suid-Afrika, en dwarsoor die wêreld in gemeentes werk en mense in sy Koninkryk inbring. Hoe doen Hy dit?

1. Jesus en die Heilige Gees

Volgens sommige is die korrekte naam vir Handelinge die Handelinge van die Heilige Gees eerder as die Handelinge van die Apostels. Maar eintlik is dit nie heeltemal korrek nie, omdat die boek volgens Lukas oor die voortgesette woorde en werke van Jesus Christus handel (sien Hand. 1:1). Dus is die korrekte titel vir die boek is dus, die Handelinge van Jesus Christus deur sy Gees in die apostels, die vroeë kerk en die wêreld.

Om hierdie rede moes die apostels nie in hulle eie krag probeer werk nie, maar vir Jesus wag om die Heilige Gees na hulle toe te stuur (Luk. 24:49, Hand. 1:4-5). Nadat hulle vir tien dae gewag het, toe kom die Gees skielik op Pinkersdag en red Hy 3000 mense onder Petrus se prediking (Hand. 2:1-4, 40-41). Van toe af het die kerk nie opgehou groei nie, maar het dit deur die hele Romeinse Ryk versprei. Soos reeds gesien, was dit die werk van Jesus deur sy Gees (Hand. 1:1, 8). Die volgende verse beskryf hoe Hy sy kerk gebou het:

  • “Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.” (Hand. 2:47).2
  • “Baie van die mense wat die toespraak gehoor het, het egter tot geloof gekom, sodat die getal manne tot ongeveer vyfduisend aangegroei het.” (Hand. 4:4).
  • “Tog is baie mense wat in die Here glo, algaande by hulle getal gevoeg—’n menigte mans en vroue.” (Hand. 5:14).
  • “Maar in dié dae, toe die aantal dissipels al hoe meer geword het…” (Hand. 6:1).
  • “En die woord van God het versprei en die aantal dissipels in Jerusalem het aansienlik vermeerder en ’n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword.” (Hand. 6:7).
  • “Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop.” (Hand. 8:12).
  • “Al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien, en hulle tot die Here gewend.” (Hand. 9:35).
  • “Dit het dwarsdeur die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom.” (Hand. 9:42).
  • “Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal.” (Hand. 10:44).
  • “Die hand van die Here was oor hulle, en ’n groot aantal het gelowig geword en na die Here gedraai.” (Hand. 11:21).
  • “Maar die woord van God het gegroei en uitgebrei.” (Hand. 12:24).
  • “Toe die sinagoge verdaag het, het baie van die Jode en die godsdienstige proseliete Paulus en Barnabas gevolg, wat met hulle gepraat en hulle oortuig het om in die genade van God te bly leef. Die volgende Sabbat het byna die hele stad byeengekom om die woord van die Here te hoor.” (Hand. 13:43-44).
  • “Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur die hele landstreek versprei.” (Hand. 13:48-49).
  • “In Ikonium het dit op dieselfde manier gebeur: Hulle het die Joodse sinagoge binnegegaan en so gepreek dat ’n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het.” (Hand. 14:1).
  • “Nadat hulle die evangelie in daardie stad verkondig en ’n redelike aantal dissipels gewerf het, het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië teruggekeer.” (Hand. 14:21).
  • “Met hulle aankoms het hulle die gemeente saamgeroep en vertel van alles wat God met hulle gedoen het, en dat Hy vir die heidene ’n deur tot die geloof oopgemaak het.” (Hand. 14:27).
  • “Sodoende is die gemeentes in die geloof versterk en hulle het van dag tot dag in getal toegeneem.” (Hand. 16:5).
  • “’n Vrou uit die stad Tiatira, ’n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is…” (Hand. 16:14-15).
  • “…Hy en sy hele huishouding was jubelend, omdat hulle tot geloof in God gekom het.” (Hand. 16:34).
  • “Sommige van hulle is oortuig en het by Paulus en Silas aangesluit, so ook ’n menigte Grieke wat God vereer, en geen geringe aantal vooraanstaande vroue nie.” (Hand. 17:4).
  • “As gevolg daarvan het baie van hulle, en ook nie ’n geringe aantal van die vooraanstaande Griekse vroue en mans nie, gelowig geword.” (Hand. 17:12).
  • “’n Paar manne het egter gelowig geword en by hom aangesluit, onder wie Dionisius, ’n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris, en nog ander saam met hulle.” (Hand. 17:34).
  • “Krispus, die leier van die sinagoge, het saam met sy hele huis tot geloof in die Here gekom. Ook baie van die Korinthiërs wat hom gehoor het, het gelowig geword en is gedoop.” (Hand. 18:8).
  • “Dit het twee jaar lank aangehou, sodat al die inwoners van Asië, Jode en Grieke, die woord van die Here gehoor het.” (Hand. 19:10).
  • “So het die woord van die Here kragtig bly groei en steeds sterker geword.” (Hand. 19:20).

As die Heilige Gees nie werk nie, mag mense dalk van gemeente verskuif (nie dat dit altyd verkeerd is nie), maar daar sal nie groei deur bekerings wees nie. Ons sal nie gemeentes hê wat die evangelie vreesloos verkondig nie (Hand. 4:8, 31). Kerke sal nie sendelinge uitstuur nie en hulle sal ook nie hulle taak suksesvol voltooi nie (Hand. 13:2, 14:26-27). Gemeentes sal nie vol blydskap wees nie, maar vol verdeeldheid (Hand. 13:52, Ef. 4:3). Geestelike leiers sal nie wyse besluite neem wat die evangelie bevorder nie (Hand. 15:28), maar hulle sal geestelik onvolwasse wees en nie die kudde voed nie (Hand. 20:28). Hulle prediking sal swak en oneffektief wees (1Kor. 2:4).

Sonder die Heilige Gees sal gemeentes vol mense wees wat nie weergebore is nie (Joh. 3:5, Tit. 3:5). Dié wat wel weergebore is, sal oor hulle redding twyfel (Rom. 8:15-16, Ef. 1:13-14, 1Joh. 3:24). Hulle sal nie sonde oorwin nie, maar aanhoudend daarin terugval (Rom. 8:13, 1Kor. 6:11, 2Kor. 3:17, Gal. 5:16). Hulle sal ’n gebrekkige kennis van God en sy Woord hê, en daarom ook verkeerd lewe (Joh. 14:26, 16:13, Ef. 1:17). Hulle sal nie ’n liefde vir God, of hulle naaste hê nie (Rom. 5:5). Hulle sal nie hoopvol lewe nie, maar sal swartgallig en neerslagtig wees (Rom. 15:13).

Hulle sal nie die Here naby voel nie (2Kor. 13:13). Hulle sal nie hulle gawes gebruik om ander te dien nie, maar sal die werk vir die leiers en ’n paar ander los (1Kor. 12). Hulle sal nie soos Jesus wees en ’n goeie karakter hê nie, maar sal onheilig wees (2Kor. 3:18, Gal. 5:22-23, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:2). Hulle sal oneffektief wees in hulle getuienis en nie mense vir die Here wen nie (Joh. 7:37-39). Hulle sal die gevoel van aanbidding soek, maar sal God nie in Gees en in waarheid aanbid nie (Joh. 4:24, Fil. 3:3). Gebed sal nie ’n prioriteit wees nie (Ef. 6:18, Jud. 20). Hulle sal vir die oomblik lewe en nie ’n verlange hê na die wederkoms nie (Op. 22:17).

As ons dan as gelowiges en gemeentes wil groei, moet ons met die Heilige Gees gevul wees. Hoe word ’n mens met die Gees gevul?

[a] Maak eers seker jy is weergebore, want slegs dán sal God se Gees in jou woon en kan jy waarlik deel wees van die gemeente (Rom. 8:9, 1Kor. 12:13).

[b] Vra die Here om jou met sy Gees te vul (Luk. 11:13, Ef. 3:16).

[c] Bekeer jou van alle sonde, omdat dit die Heilige Gees bedroef (Ef. 4:30).

[d] Wees gehoorsaam, aangesien God sy Gees gee aan dié wat Hom gehoorsaam (Hand. 5:32).

[e] Moenie die Gees se werk weerstaan, of Hom soos ’n vlam uitblus nie (Hand. 7:51, 1Tess. 5:19).

[f] Vul jou hart en gedagtes met die Skrif wat deur die Gees geïnspireer is. Doen dit deur baie daarvan in te neem en dit biddend te oordink (vergelyk Ef. 5:18 met Kol. 3:16).

[g] Bowenal moet ons op Jesus fokus: in ons prediking, lofliede, gebede, die nagmaal, ons getuienisse, en ons goeie werke. Niks is vir die Gees so belangrik as om Jesus te verheerlik nie (Joh. 16:14). Dit is ook hoe jy sal weet of die Gees in ’n gemeente werksaam is: nie as hulle in tale praat, visioene kry, of lekker sing nie, maar as Jesus sentraal is in dit wat hulle sê en doen.

2. Gebed

In talle kerke is daar geen bidure nie, of word dit baie swak bygewoon. In baie gevalle is dit die leiers se skuld, omdat hulle self biddeloos is en hulle die mense nie leer om te bid nie. Hulle is met ander woorde nie soos Jesus nie (Luk. 11:1-4). In die vroeë kerk was biddende gemeentes (wat by tye ook gevas het) die reël, terwyl dit in ons tyd die uitsondering is. Let op die vroeë kerk se gebede in die volgende verse:

  • “Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.” (Hand. 1:14).
  • “Hulle het bly volhard in die…gebede.” (Hand. 2:42).
  • “Op die negende uur, die uur van gebed, was Petrus en Johannes na die tempelterrein op pad.” (Hand. 3:1).
  • “Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê… Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.” (Hand. 4:24, 31).
  • “En ons sal ons dan toelê op gebed en die bediening van die woord.” (Hand. 6:4).
  • “Hulle het hierdie manne aan die apostels voorgestel, en die apostels het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê.” (Hand. 6:6).
  • “Want kyk, hy is besig om te bid” (Hand. 9:11).
  • “Nadat Petrus almal na buite gestuur het, het hy gekniel en gebid.” (Hand. 9:40).
  • “Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid.” (Hand. 10:9).
  • “So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar ’n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan.” (Hand. 12:5).
  • “Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.’ Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur.” (Hand. 13:2-3).
  • “Hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het.” (Hand. 14:23).
  • “Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister.” (Hand. 16:25).
  • “Nadat hy dit gesê het, het hy saam met almal gekniel en gebid.” (Hand. 20:36).
  • “Nadat ons die tyd daar deurgebring het, het ons vertrek en verder gereis. Almal, ook hulle vroue en kinders, het ons tot buitekant die stad begelei. Ons het op die strand gekniel en gebid.” (Hand. 21:5).
  • “Dit het so gebeur dat Publius se vader siek aan koors en diarree in die bed gelê het. Paulus het na hom gegaan en vir hom gebid, sy hande op hom gelê en hom gesond gemaak.” (Hand. 28:8).

Hoe kan ons bekerings, gesonde kerkgroei, of ’n impak op die samelewing verwag as ons in eie krag probeer werk en nie bid nie? “…julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4:2, Ou Vertaling). Laat ons daarom bid; nie net op ons eie nie, maar as gemeentes soos ons in Handelinge leer. Onthou asseblief dat byna elke Nuwe Testamentiese opdrag om te bid vir ’n gemeente geskryf is. Die Onse Vader self impliseer dat jy vir en saam met ander gelowiges moet bid: ‘Ons Vader…’ Iemand wat dan nie saam met ander gelowiges bid nie (selfs al bid hulle baie op hulle eie) het ’n foutiewe gebedslewe en is ongehoorsaam.

Op grond hiervan wil ek jou uitnooi om ten minste een keer per week saam met ander gelowiges te bid. In ons gemeente bid ons Sondae om 08:15 en 16:15, en Woensdae om 19:00. As ouderlinge bid ons elke Donderdag om 17:30. Moenie van die bidure af wegbly, omdat jy bang is om voor mense te bid nie. Bid saggies saam in jou hart. Bid een of twee sinne, of dalk ’n Bybelvers, of ’n Psalm. Laat ons egter bid, omdat dit die manier is waarop die Here sy Koninkryk uitbrei.

As ons nie bid nie, sal die Here se werk sonder ons aangaan. Hy sal iemand anders opwek om vir sy saak te bid, terwyl óns sal uitmis op die seën. As ons egter getrou bid, sal die Here deur ons werk om sy Naam en Koninkryk te bevorder (Hand. 1:14, 2:1-3, 41, 47). Laat ons dus Charles Spurgeon se woorde ter harte neem: ‘Keep up the prayer meeting, whatever else flags.’3

3. Bybelse prediking

Party Christene tref ’n vals onderskeid tussen die Gees se werk en diep Bybelse lering. So asof ons die Gees se werk uitblus as ons te diep in die Woord ingaan. Maar Bybelse prediking was nog altyd ’n kenmerk van ’n blywende werk van die Gees. Dus is dit nie genoeg om net vir herlewing te bid nie. Ons moet ook boodskappe preek wat die Heilige Gees vir Homself sal toe-eien en sê dat dit syne is. Omdat Hy die Gees van waarheid is, sal Hy nooit sy seël op verkeerde lering plaas nie.4 Tegnies beteken dit ook dat daar herlewing nie in ’n vals kerk (soos die Katoliekekerk, die Jehova’s Getuies, of Prosperity kerke) kan plaasvind nie.5

Moet dan nie in so ’n kerk bly in die hoop dat jy dinge sal verander nie, maar soek vir jou ’n gemeente wat die Bybel verkondig. Selfs hier moet jy versigtig wees, omdat baie kerke daarin roem dat hulle die Bybel preek, terwyl hulle eintlik mense mislei. Hoe kan jy dan weet of ’n gemeente regtig die Bybel verkondig? Kom ek gee vir jou vyf kenmerke:

[a] Nog voor ons by die inhoud kom, is Bybelse prediking ’n sentrale deel van so ’n gemeente se bediening (Hand. 6:4). God se Woord is die kompas waarvolgens hulle hulle gemeente en persoonlike lewens inrig, terwyl die Heilige Gees en gebed die wind in hulle seile is.

[b] Die prediker is nie onaantasbaar nie, maar verwelkom dit as die gemeente sy lering aan die Skrifte meet (Hand. 17:11). Om seker te maak dat hy by die Bybel bly, lê hy ’n teks, of Bybelse onderwerp vir die gemeente uit (bv. Hand. 2:16-36). Sy eie idees is nie vir hom belangrik nie, maar hy wil die Bybel verkondig (2Tim. 4:2).

[c] Jesus is sentraal in die prediking (Hand. 2, 3, 7, 10, 13, 17, 1Kor. 1:23, 2:2). God se Woord is vir die prediker soos paaie in die Romeinse Ryk wat almal Rome toe lei. Dit geld of hy nou oor die Tien Gebooie, gebed, of die huwelik preek (Matt. 5:17-20, Joh. 14:13, Ef. 5:25). Hy wil mense na die Here toe wys eerder as na homself, sy reputasie, of sy beursie (Hand. 2:38, 40, 3:19, 11:23, 13:43, 2Kor. 4:5, 1Tess. 2:6).

[d] Die prediker verkondig die Bybel met gesag. Hy beskou dit nie as sy opinie, of mense se voorstelle nie, maar as die Woord van God: onfeilbaar en foutloos; die finale gesag vir geloof en lewe (Ps. 19, 1Tess. 2:13, 2Tim. 3:16-17, 2Pet. 1:3). In sy verkondiging vertrou hy nie op homself om mense te verander nie, maar op die Heilige Gees. Hy besef dat sy woorde kragteloos is sonder die Gees. Hy verstaan iets van wat Spurgeon bedoel het met die woorde: ‘We might preach till our tongues rotted, till we should exhaust our lungs and die, but never a soul would be converted unless there were mysterious power going with it—the Holy Ghost changing the will of man. O Sirs! We might as well preach to stone walls as preach to humanity unless the Holy Ghost be with the word, to give it power to convert the soul.’6 En weer: ‘It were better to speak six words in the power of the Holy Ghost than to preach seventy years of sermons without the Spirit.’7 Die prediker wat dit besef, bid gereeld vir sy eie prediking en vra die gemeente om saam te bid (Hand. 6:4, Ef. 6:19).

[e] Bybelse lering word nie tot die kansel beperk nie, maar gebeur in mense se huise, in die werkplek, op die markplein, en oorsee (Hand. 1:8, 8:4, 11:19-20, 13:1-4, 20:20, 28:28). Een tot een dissipelskap, berading, sending, en evangelisasie is met ander woorde ’n belangrike deel van die gemeente se bediening.

Wat as jy nie so ’n gemeente kry nie? Soek dan die beste wat jy kan kry en vul dit aan met goeie preke op die internet. Moenie na enigiets gryp nie, maar luister na betroubare predikers soos Martyn Lloyd-Jones, John MacArthur, John Piper, R.C. Sproul, Paul Washer, Voddie Baucham, Steve Lawson, Stuart Olyott, Jannie Vosloo (Parys Baptistekerk), Willem Nel (Krugersdorp Baptistekerk), Franz Greffrath (Bet-El Baptistekerk), Janis Brits (tot onlangs nog by Vryheid Baptistekerk), Gerhard Beukes (Benoni EG Kerk), Leon Harmse (Sunwardpark Baptistekerk), Matt Viljoen (Pretoria Christen Gemeente), en Sola 5 gemeentes se predikers. Bid en begin so ’n gemeente in jou huis as daar regtig nie een in jou dorp is nie.

Indien jy wél by so ’n gemeente is, moet jy die Here dank en nie die voorreg misbruik deurdat jy gereeld wegbly nie. Verwag ook bitter saam met die soet, naamlik dat daar kerkdissipline en vervolging sal wees soos in Hand. 5. Moet asseblief nie die perfekte gemeente op aarde verwag nie. Arthur W. Pink (wat andersins ’n goeie prediker was) het dié fout gemaak. Hy het gesê: ‘We have travelled completely around the world, and ministered the Word in many places but there is no church known to us where we could hold membership.’8 Dit mag wees dat dinge in sy tyd moeilik was, en tog glo ek dat hy verkeerd was. In dieselfde asem is ek bly dat hy nou deel is van die perfekte kerk in die hemel. Ek sien uit om ook daar te wees, sodat ek saam met hom en ander gelowiges die Here kan aanbid.


1  Charles Spurgeon, Lectures to my Studentes (London: Marshall, Morgan & Scott, 1954), 32

2  Tensy anders vermeld, kom aanhalings uit die 2020-Vertaling van die Bybel.

3  Charles Spurgeon, The Soul Winner (New Kensington, PA: Whitaker House, 1995), 123

4  Martyn Lloyd-Jones, Revival (Wheaton, Illinois: Crossway, 1987), 43

5  Ibid., 35

6  Aangehaal in John Stott, I Believe in Preaching (London: Hodder & Stoughton, 1982), 335

7  Ibid., 334

8  Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2004 [1981]), 142