2021: Lig na die Donker

2Korintiërs 1:3-11

Dit was die leuse van Calvyn en later ook die Protestantse Hervorming: Post tenebras lux—Na donker, lig. Die inskripsie was op Geneve se munte en kan vandag by die Hugenote Museum in Franschhoek gesien word. Dit is asof die hervormers gesê het: ‘Die Katoliekekerk het ons vir ’n duisend jaar in die donker gehou, deurdat hulle God se Woord van die mense weerhou het. Na die duisternis het God deur sy Woord en die prediking daarvan lig gebring.’

In ’n mindere mate is dit waar van 2020. Dit was ’n donker jaar. Mense het gesterf weens Covid en ander oorsake. Min mense kon hulle begrafnisse bywoon. Die wêreld was onder grendelstaat. Ekonomieë het op hulle neuse geduik. Besighede het toegemaak. Baie mense is werkloos gelaat. Sommige was in ander lande vasgekeer. Siek mense moes eensaam in die hospitaal lê. Ou mense kon nie hulle geliefdes sien nie. Die hele afvere was ’n uitdaging vir kerke.

Maar daar is lig na die donker. Ek bedoel nie dat 2021 noodwendig makliker sal wees as 2020 nie. My punt is eerder dat Gód die Lig is wat hoop gee na ’n donker jaar. Hy bied troos na die verdrukking.

1. Bemoediging (v.3-7)

[a] Die God van bemoediging (v.3)

’n Witstinkhout se wortels, stam, bas, takke, en blare is maar ’n paar van dele waaruit die boom bestaan. Dit is egter nie so met God nie. Sy liefde, heiligheid, ewigheid, wysheid, geregtigheid, ensovoorts is nie verskillende dele waaruit Hy bestaan nie, maar is wie Hy in sy wese ís. Hy is volkome liefdevol, heilig, ewig, wys, regverdig, en meer. Dit is ook waar van sy bemoediging. Bemoediging is nie net iets wat Hy dóén nie, maar wat Hy ís. Hy is die God van barmhartigheid en bemoediging (v.3). Hy is die lofwaardige God (v.3). Die Griekse woord [eulogētos] vir lofwaardig beteken ook gelukkig, of geseënd. Hy is die bron van alle blydskap en seën. John Piper sê: ‘He is an unshakably happy God.’1 Daar is genoeg tekste om te bewys dat Piper reg is (sien Gen. 1:31, Ps. 115:3, 147:11, 149:4, Spr. 8:30-31, Jes. 62:4-5, Jer. 32:41, Sef. 3:17, Matt. 3:17, Luk. 10:21, 15:5-6, 23-24, 32, Joh. 15:11).

Moet dan nie net die donker kant van Covid en die grendelstaat sien nie. Sien ook raak dat die Here by jou in die vuuroond, leeukuil en die dal van doodskaduwee is. Hy is daar om jou te bemoedig (v.4-7). Prys Hom ten spyte van jou omstandighede (Ef. 5:20, 1Tess. 5:18). Dank Hom dat Hy soewerein is. Niks gebeur buite sy wyse raadsplan wat Hy tot ons voordeel sal uitwerk nie—ook nie die nuwe fase van lockdown nie (Gen. 50:20, Rom. 8:28). Ons weet dit, omdat Hy deur Jesus ons Vader is (v.3). En as Hy déúr Jesus ons Vader is, is Hy ook Jesus se Vader is. Dit is Hy van ewigheid af, terwyl Hy, wat Jesus se menslike natuur betref, nou ook sy God is (v.3, Joh. 20:17, Ef. 1:3, 17).

Paulus noem Hom die Vader van barmhartighede. Die Griekse woord [oiktirmos] spreek van ’n diep gevoel van deernis oor ander se swaarkry. God staan nie apaties teenoor 2020 wat vir ons moeilik was nie. Hy voel eerder saam met ons, omdat Hy in Christus mens geword het en ons lyding verstaan (Jes. 63:9, Heb. 4:15). Sy deernis is deel van sy karakter (Rom. 15:5). Hy is so vol van barmhartigheid soos die son van lig—eintlik voller (Thomas Watson).2 Barmhartigheid is die normale manier waarop Hy met os werk (Ps. 119:132). Hy is nie ’n Vader van toorn oor sy kinders nie, maar van barmhartigheid. Om kwaad te wees en ons te straf is vir Hom ’n vreemde werk (Jes. 28:21).

Paulus gebruik selfs ’n meervoud om te wys dat sy barmhartigheid groot en oorvloedig is (v.3, Ps. 103:8, 130:7, Rom. 5:20). Alles wat die Here in sy kinders se lewe toelaat, is barmhartigheid: ons redding en vergifnis, die versoekings en beproewings wat Hy toelaat om ons nader te trek, sy voorsiening, sy bemoediging, troos, nuwe krag, beskerming, en meer. As die God van alle vertroosting en bemoediging (v.3, Jes. 51:12, 66:13) staan Hy langs jou om jou te help. Dit is letterlik wat die Griekse woord parakaleō beteken. Hoe sou jy voel as Jesus deur 2020 se beproewings langs jou gesit het en sy hand op jou skouer gelê het? Die waarheid is dat Hy inderdaad persoonlik by jou is. Hy stuur nie iemand om by jou te wees nie, maar Hy kom self (1Pet. 4:14).

[b] Bemoedig om te bemoedig (v.4-7)

God het nie koeltebome vir hulleself gemaak nie, maar vir mense, voëls en diere. Net so bemoedig Hy jou nie nét vir jouself nie, maar sodat jy ander wat dieselfde swaarkry as jy beleef, kan bemoedig (v.4, 6). Charles Spurgeon het dit ervaar toe hy in die donker gat van depressie beland het. Gedurende dié tyd het hy ’n boodskap gepreek oor die woorde: ‘My God! My God! Waarom het U my verlaat?’ Hy het die preek tot in sy wese gevoel. Na die preek toe kom ’n man na hom toe. Die man was totaal wanhoping, maar Spurgeon kon hom help. Vyf jaar later het die man vir hom gesê: ‘…I am sure you will be glad to know that I have walked in the sunlight from that day till now. Everything is changed and altered with me.’3

Martyn Lloyd-Jones het iets soortgelyk ervaar. Hy het intense aanvalle van die duiwel beleef. Dit was so erg dat niks hom geestelik kon optel nie. As gevolg hiervan het hy in ’n diep depressie verval. Na ’n paar maande het die Here hom uitgehelp en hom meer bruikbaar gemaak as voorheen. Iain Murray skryf: ‘No small part of Dr Lloyd-Jones’ ministry in the years ahead was to help Christians to know their enemy and how to resist him.’4

Net so het die Here Paulus ook deur moeilike tye laat gaan om hom te troos en deur hom ander te troos. God het dit nie net vir die Korintiërs gedoen nie, maar sodat gelowiges deur die eeue hulp en troos deur Paulus se woorde kon vind. Buiten dat die Here ons deur sy Woord troos, troos Hy ons ook deur die nagmaal, antwoorde op gebed, en die gemeente. God het genoeg bemoediging vir elke gelowige in elke situasie. Daar is nie ’n enkele beproewing buite die sambreel van sy bemoediging nie. Hy is die God van alle bemoediging en troos ons in al ons verdrukkings (v.3-4).

As jy die Here volg, sal jy oorvloedige verdrukking beleef (v.5, Luk. 9:23, Hand. 9:4-5, 14:22, 2Kor. 4:10, Fil. 3:10, Kol. 1:24, 1Tess. 3:3, 1Pet. 2:21). Jesus se voetspore lei immers na die kruis voordat dit na die troon lei. Sy troos is egter ook oorvloedig—nie net op aarde nie, maar as jy sterf en hemel toe gaan (v.5, Luk. 16:25). ‘Earth has no sorrows that heaven cannot heal.’5

Omdat Jesus self gely het, weet Hy hoe om sy kinders te troos (v.5). Sy troos is vir gelowiges in enige beproewing, maar dit is veral vir dié wat ly omdat hulle die evangelie by mense wil uitkry (v.5-6, 2Kor. 11:23-28). Dit is vir dié wat in die tronk beland, omdat hulle die evangelie verkondig. Dit is vir dié wat siek raak, omdat hulle nie ’n kerkgebou het nie maar onder ’n boom in Indonesië moet preek. Dit is vir die gelowige wat malaria kry as hy Bybels Mosambiek toe vat. Dit is vir die sendeling wat ’n baba verloor, omdat Indië onhigiënies is. Dit is vir mense wat in ’n bees vas ry op pad na ’n evangelisasie uitreik in die Transkei. Ander se redding, groei, en volharding tot die einde toe is vir hierdie mense belangriker as hulle eie veiligheid (v.6, Ef. 3:13, 2Tim. 2:10).

Hulle is soos die 14-jarige Chen en sy boetie Chem. Tydens die oorlog in Kamboja was Chen in ’n vlugtelingskamp. Hy het maagkanker gehad. Toe dokters sê dat hy net ’n paar maande oor het om te leef, toe sê hy vir ’n Britse sendeling: ‘Uncle, in my village, back in Cambodia, no one has ever heard the gospel of Jesus Christ. I want you to go and tell them.’ Die sendeling wou nie gaan nie, omdat daar ’n oorlog gewoed het. Na ’n paar dae, toe besluit Chen om self te gaan en sy boetie saam te neem. Hy het met krukke tot by sy dorpie geloop, traktaatjies uitgedeel en die mense van Jesus vertel. Toe hy klaar was, het hy teruggeloop. Hy het ’n paar kilometer van die grens af gesterf. Sy voete was vel en been; vol modder, stukkend en gekneus. En tog was dit lieflike voete wat bereid was om te ly, sodat ander die evangelie kon hoor.6

Die meeste van ons is nie sendelinge nie, maar daar is ander maniere om te ly vir ander se redding, bemoediging, en groei. Jy kan byvoorbeeld jou braai prysgee om ’n ou, of siek gelowige te gaan bemoedig. Jy kan jou spaargeld gee om ’n arm gelowige, sendeling, of gelowige sonder werk te help. Dit sal ook help dat jy nie op 2020 se beproewings fokus nie, maar op Jesus en jou naaste. Jy sal sien hoe die Here dit gebruik om jóú op te tel. Sy troos is net vir dié wat op Hom wag en hulle swaarkry geduldig verduur (v.6, Kol. 1:11). Hoekom is ek so seker hiervan (v.7)? Want dit is God se karakter en Hy bly altyd dieselfde (Heb. 13:8).

2. Verdrukking (v.8-11)

[a] God sál jou iets gee wat jy nie kan dra nie (v.8-9)

Ek het eenkeer ’n vrou besoek wat deur baie swaar beproewings moes gaan. Ek het 1Kor. 10:13 gelees: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”

Voor ek egter by 2Kor. 1:8 kon kom, toe onderbreek sy my: ‘Ek weet! God sal my nie iets gee wat ek nie kan dra nie!’ Ek kon sien sy was mismoedig. Ek het 2Kor. 1:8 gelees: “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.”

‘Die Here sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, maar baie keer voel dit of ons beproewings te swaar is om te dra,’ het ek gesê. Dalk wonder jy wat dit beteken. Laat my toe om te verduidelik.

Die Korintiërs het geweet dat Paulus verdruk is, maar hulle het nie verstaan hoe erg dit was nie. Hy het reeds intense lyding in Asië se hoofstad beleef (vgl. Hand. 19:9, 23-34, 1Kor. 15:32, 16:9). Hier het hy egter van iets gepraat wat die Korintiërs nie mooi verstaan het nie. Die verdrukking was so erg, dat dit vir Paulus gevoel het of dit die einde was (v.8-9a). Maar dit het gebeur, sodat hy nie op homself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek (v.9b). Net sý krag kon Paulus nou help.

Dit is nog steeds hoe die Here werk. Solank ons op onsself, ons vermoëns, ons gawes, ons intellek, wysheid, planne, en geld vertrou, sal die Here nie groot dinge vir ons doen nie. En hoekom nie? Want as Hy ons moes uithelp, sou ons die krediet daarvoor gevat het en Hom nie die eer gegee het nie. As ons egter in die knyp was en nie geweet het wát om te doen nie, sou ons die Here aangeroep het en op Hom vertrou het (v.9b, 2Kron. 20). So word ons verleentheid God se geleentheid. In sulke tye laat die Her toe dat ons in moeilike situasies beland, sodat Hy ons sy genade, wysheid, en krag kan wys en ons Hom kan eer: “en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Ps. 50:15).

[b] Verdrukking: gister en vandag (v.10)

’n Bybelse berader het eenkeer gesê: ‘’n Herhalende sonde onder Christene is dat ons God se goedheid vergeet.’ Ons vergeet hoe Hy ons in die verlede uitgehelp het. Paulus was nie so nie. Hy het gesien en onthou hoe God hom uit doodsgevaar gered het (v.10). Dit het hom hoop gegee dat God hom tot aan die einde sou dra en die situasie heeltemal sou oplos (v.10).

En wat is jóú krisis? Gee dit vir die Here. Onthou hoe Hy jou in die verlede gehelp het. Vra en vertrou Hom om dit weer te doen (v.10). Vertrou dat Hy in 2021 by jou sal wees soos Hy in 2020 by jou was. Plaas jou hoop op die Here eerder as op die regering, die Wêreldgesondheidsorganisasie, Donald Trump, beter omstandighede, iets, of iemand anders (v.10). Hý sal jou uitred (v.10). Hoe sal Hy dit doen?

[c] Gebed en danksegging in beproewing (v.11)

Soms dink mense dat hulle hulle naaste liefhet, omdat hulle hulle geen skade aandoen nie. Maar volgens die Bybel moet jy ook iets góéd aan hulle doen. Volgens Paulus doen jy onder andere goed aan jou naaste as jy in sy swaarkry vir hom bid (v.11). Die Here sal jou gebede verhoor om die persoon deur sy krisis te help (v.11, Hand. 12:5, Rom. 15:30-31, Fil. 1:19, Filem. 22).

Ek wil jou aanmoedig om vir jou broers en susters te bid eerder as om hulle negatief te beïnvloed omdat die regering kerke sluit, maar nie Casino’s, flieks, konferensie-sentrums, restaurante, en taxi’s nie (Tit. 3:1-2). Ja, ek dink dat hulle verkeerd is—al sê hulle dit is vir die ekonomie—maar sal dit nie beter wees as ons mekaar bemoedig, vir die regering se redding bid, die Here vir sy goedheid prys, en die evangelie met ongelowiges deel nie? Kyk hoe jy ander kan help en vir hulle kan bid eerder as om te kla (v.11, Fil. 2:14, Tit. 3:8, 14). Bid daagliks deur 3, of 4 bladsye van ons gemeenteboekie. Begin weer voor as jy deur is. Onthou asseblief: as jy vir ander bid, help jy hulle, terwyl jy hulle benadeel as jy nié vir hulle bid nie (Ef. 6:18, Jak. 4:2). Thomas Brooks het gesê: ‘…let not others suffer by your neglect of private prayer! Oh, let not Zion [the church] suffer! Oh, let not any particular saint suffer by your being found seldom in your [prayer] closets.’7

Laat ons dan vir ander bid en die Here dank as Hy ons antwoord (v.11). So deel ons nie net in ander mense se krisisse nie, maar in hulle blydskap (v.11, Rom. 12:15, 1Kor. 12:26). Ons het dit telkemale in 2020 beleef waar ons vir mekaar gebid het en later die Here saam gedank het toe Hy ons antwoord. Dit was een manier hoe God die seën en troos van v.3-7 oor ons uitgestort het: deur gebed (v.11).

Let op dat baie mense saam bid en die Here saam dank (v.11). Op grond hiervan wil ek jou aanspoor om by ons bidure in te skakel.

Leer ook dat gelowiges nie so baie sou bid, of die Here sou dank as Paulus nie verdruk was nie. En sou óns gemeente so baie gebid het, antwoorde gesien het, en die Here gedank het as dit nie vir Covid en die grendelstaat was nie? Onthou dit as jy versoek raak om net die negatiewe raak te sien. Sien eerder God se hand in jou lyding. Hy gebruik dit om naby jou te wees wanneer Hy jou troos, om jou toe te rus om ander te bemoedig, om die gemeente te leer om vir mekaar te bid, en om mense te kweek wat vol dankbaarheid is.

In 2005 het ons iets hiervan beleef. ’n Man in ons gemeente was terminaal siek met kanker. Ek het 2Kor. 1:6 gelees en wou verstaan hoe dit op die man se siekte van toepassing is: “Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding…” Toe ek ’n ouer leraar hieroor vra, toe sê hy: ‘Bid jy vir hom? Bid die ouderlinge vir hom? Bid die gemeente vir hom? Indien wel, gaan jy sien hoe dit die eenheid in die gemeente versterk. Die Here gebruik hierdie man se siekte sonder dat hy dit weet.’

Kan jy sien hoe ons soms meer uit iemand se siekbed en ander beproewings leer as uit ’n preek?8


1  John Piper, Desiring God (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 2003 [1986]), 50

2  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 96

3  C.H. Spurgeon, Autobiography: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973), 415-6

4  Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 217. Sien ook bladsye 207-21.

5  Thomas Moore (1779-1852), Come, ye disconsolate

6  Don Cormack, Killing Fields, Living Fields (Grand Rapids, Michigan: Monarch Books, 1997), 330-2

7  Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2006 [1665]), 186

8  Thomas Watson, All Things for Good (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1986 [1663]) 27