Jesus is genoeg

1Korintiërs 1:30

In die laat 1990’s het ek ’n prediker gehoor sê: ‘Jesus is all you need, but you won’t realize He’s all you need, until He’s all you got. And when He’s all you got, you’ll realize; He’s all you need.’ Alhoewel ek hierdie waarheid lankal geken het, het dit die afgelope week vir my nuwe betekenis gekry. Jy sal net-nou verstaan wat ek bedoel.

1. Hy is ons wysheid

Die groot vrae van die lewe is:

  • Is daar ’n God en kan ons Hom ken?
  • Wie is ek?
  • Waar kom alles vandaan?
  • Hoekom is ek hier—wat is my doel?
  • Waarheen is ek op pad?
  • Wat is waarheid?
  • Wie besluit wat reg en verkeerd is?
  • Waar kom sonde en dood vandaan?
  • Hoekom is daar lyding in die wêreld?
  • Wat gebeur na jy dood is?

Die enigste manier om hierdie vrae te beantwoord, is om die Een te ken wat alles weet. Volgens Paulus is Jesus die wysheid van God en is Hy ook ons wysheid (v.30, 24, Spr. 8, Kol. 2:3). Gevolgik is die Christen met ’n lae IK wyser as die geniale ongelowige wat die wêreld gesien het en jare se lewenservaring het (sien v.19-21, 24-25, 30, Ps. 119:99-100). Wysheid lê immers nie in onsself nie, maar is uit God wat ons sy Seun gegee het en ons een gemaak het met Hom (v.30). Daarom kan ons nie in onsself roem nie, maar moet ons in Hom alleen roem en Hom prys (v.29, 31, Jer. 9:23-24).

Soek jy ware wysheid oor God, die wêreld, en die lewe? Vind dit in Jesus (v.30). Baie mense is te trots om dit te erken en daarom soek hulle wysheid in filosofie, wetenskap, ander godsdienste, of in hulle gedagtes. Hulle is dwaas (Spr. 28:26, Rom. 1:22). Om God se wysheid te hê, moet jy erken dat jy in jouself geen wysheid het nie en dat jy sý wysheid benodig (1Kor. 3:18). Eers dán sal Hy sy wysheid in Christus aan jou openbaar (v.30, Luk. 10:21).

2. Hy is ons geregtigheid

Toe ek en my vriend Jannie Vosloo studente was, het ons vir onsself gekleurde sonbrille gekoop. Sy lense was groen en myne oranje. As gevolg van die gekleurde lense, het alles waarna ons gekyk het, dieselfde skynsel aangeneem.

Geestelik werk dit dieselfde. Ons is onregverdig, vuil, en vol sonde (Rom. 3:10-12, 23). Ons beste geregtigheid is soos ’n besoedelde kleed (Jes. 64:6). Daarom kan ons nie voor ’n heilige God staan nie (Hab. 1:13). As oplossing het Hy sy Seun gestuur om ons geregtigheid te wees (v.30, Jer. 23:6). In sy Goddelike natuur is Jesus volmaak en as mens het Hy ’n sondelose natuur gehad en volmaak gelewe. As ons in Jesus glo, reken die Vader sy geregtigheid aan ons toe en skryf Hy ons sondeskuld af deur die kruis (2Kor. 5:21, Fil. 3:9, Kol. 2:14). Hy sien ons as’t ware deur die gekleurde lense van Jesus se volmaakte lewe en kruisdood. Gevolglik het jy niks meer nodig as Jesus nie om in ’n regte stand met God te kom (Rom. 3:28).

David Brainerd (1718-1747) het dit misgekyk voor sy bekering. Hy het op sy geestelike ervarings en godsdienstigheid vertrou. Hy het dit byvoorbeeld geniet om alleen te wees met God; om die Bybel te oordink en te bid. So het hy op sy stiltetyd vertrou eerder as op Jesus. Hy het ook gedink hy kan aanspraak maak op God se verlossing as hy genoeg berou het oor sy sonde, homself verneder, God deur gebed begeer, en suiwer lering glo. Sodoende het hy op homself gefokus eerder as op Jesus. Hy het kwaad geword toe God nie sy opregtheid raaksien en hom red nie. Dit het hom laat dink dat God hard is. Sy bitterheid het egter daartoe gelei dat sy sonde oortuiging toeneem. Sy dieper oortuiging het hom laat dink dat hy nou genoeg gedoen het om God se guns te wen. Hy het met ander woorde in sy oortuiging gerus eerder as in Jesus. Na ’n lang stryd, het hy verstaan dat ‘nòg my trane, nòg geween, kan my red: Heer, U alleen!’ Hy het besef dat Jesus genoeg is en dat hy niks meer nodig het nie. Eers tóé het hy tot bekering gekom.1

Moenie iets by Jesus probeer voeg nie, want sodra jy dit doen, sê jy: ‘Jesus is nie genoeg nie.’ En dit terwyl die Bybel sê Hy ís genoeg (Joh. 14:6, Hand. 4:12, Rom. 3:28, Ef. 2:8, 1Tim. 2:5, Heb. 10:14, 18).

3. Hy is ons heiligmaking

Jesus is nie net genoeg vir regverdigmaking nie, maar ook vir heiligmaking. Sowat 28 jaar na bekering het ek dit op ’n wonderbaarlike manier besef. Om te verstaan wat met my gebeur het, sal dit help as jy ’n bietjie agtergrond het.

Toe ek 13 jaar oud was, het ’n onderwyser in lewensoriëntering die seuns eenkant toe gevat en gesê dat wellus nie verkeerd is nie. ‘Jy moet dit net nie oordoen nie,’ het hy gesê. Toe ek 15 was, het ’n ander onderwyser dieselfde gesê. Ek het hulle geglo. Ek het ook vriende gehad wat baie oor seks en meisies gepraat het. My ouers het niks hiervan geweet nie. Toe ek 17 was, toe maak ek ’n deur oop vir wellustige gedagtes. Ek het lelike dinge in my gedagtes begin koester. Ek het nie in die minste skuldig gevoel nie, omdat my onderwysers gesê het dit is nie verkeerd nie. Ek het nooit pornografiese materiaal gekoop nie en daar was ook nie internet toe ek op skool was nie. Ek het egter, as die geleentheid hom voorgedoen het, lelike films gekyk.

Toe ek in my vroeë 20’s was, het ek erns begin maak met die Bybel. Daar het ek gesien dat wellus inderdaad sonde is (Matt. 5:27-30). Skielik het die wellustige gedagtes my begin pla. Vir die eerste keer in my lewe het ek daarteen gestry. Ek het verse gememoriseer en gebid om nie wellustig te wees nie. Dit het egter gevoel of ek die stryd verloor. Op ’n stadium was ek so moedeloos, dat ek gedink het: ‘Ek kan nie ’n Christen wees nie, want hoe kan ’n Christen sulke dinge doen?’

Op 24 het ek getrou en gedink my probleme is verby, maar dit was nie. Ek moes aanhoudend in my gedagtes teen sondige beelde stry. Die beelde wat ek in my tienerjare gesien het, het gedurig teruggekom. Ek het my stryd met my vrou gedeel. Sy was geduldig en het aanhoudend vir my gebid. Nog steeds het ek nie pornografiese materiaal gekoop, of dit op die internet gekyk nie. Ek het ook sulke films vermy. Maar die gedagtes was daar; die lelike beelde in my kop. Ek het daarteen geveg en na heiligmaking gestreef. En tog kon ek nie die vieslike goed uit my kop kry nie.

Op 29 het ek ingeskryf vir ’n beradingskursus. Ek het geweldig baie geleer en geestelik gegroei. Ek het aangehou stry om heilig te wees. Ek was nie meer versoek om na ’n lelike advertensiebord te staar nie. Maar sekere dinge kon ek nie keer nie, soos om in die mall verby ’n vrou te loop wat sleg aangetrek is.

Soos die jare aangestap het, het dit al hoe makliker geword om weg te kyk as daar ’n lelike prent in die winkelvenster was. My vrou het my ook gehelp deur te sê: ‘Moenie daardie kant toe kyk nie.’ Sy het dit ook gedoen as ons by ’n vakansie-oord swem. Laasgenoemde was vir my ’n probleem. Ek het dit gehaat om by ’n publieke swembad te wees. Ek onthou toe ons in 2016 by Pilansberg vakansie gehou het. Die kinders wou by Sun City se waterpark gaan swem. Ek wou nie, maar het ingestem om hulle te vat. Dit was ’n nagmerrie. Ek kon nêrens kyk sonder om versoek te word nie. Ek het later weggestap om op ’n afgeleë plek te gaan bid. Toe ons daardie aand by die kampplek kom, toe sê ek vir my vrou: ‘Moet my asseblief nooit weer vra om saam te gaan na so ’n plek toe nie.’

Die jare het aangestap. Die stryd het makliker geword, maar die gedagtes wou nie wyk nie. Soms moes ek tot 15 keer per dag daarteen stry. Deur die genade van die Here kan ek sê dat ek vir die grootste deel nie hierdie gedagtes gekoester het nie. Ek het dit dadelik bestry en daarteen gebid. In 2020 toe besluit ek: ‘Ek gaan ’n punt daarvan maak om met bloed en sweet teen hierdie kwessie te stry. Ek gaan die Here elke dag vra om my vry te maak en om hierdie sonde eens en vir altyd in my lewe te breek.’ Ek het dit gedoen. Selfs as ek nie versoek was nie, het ek hard daarteen gebid.

Toe gaan ons in November 2020 see toe. Ek het elke dag aangehou om teen hierdie sonde te bid. Gedurende die laaste week van ons vakansie, toe vat ons die kinders Ushaka Marine World toe. Dit was ’n weeksdag buite seisoen en daarom het ek geweet daar sal nie baie mense wees nie. Voor ons gery het, het ek in die geheim gewens dit reën sodat ons nie kan gaan nie. Maar dit het nie so gewerk nie en ons het gegaan.

Ek het geweet wat ek moet doen: kyk af as ons naby die swemplekke kom. Ek het dit gedoen, maar omdat ek nou en dan moes opkyk om te sien waar my vrou en kinders is, het ek vroue in hulle swemklere gesien. Ek het myself bestraf toe ek daardie aand by die huis kom. ‘Hoe kan jy bid: “Here breek hierdie sonde in my lewe,” maar dan plaas jy jouself in ’n posisie waar jy weet jy versoek sal word?’ Ek het die Here om vergifnis gevra.

By die huis gekom, het ek aangehou om daagliks teen hierdie sonde te bid. Eintlik het ek al ’n maand gelede begin wonder of ek verkeerd bid: ‘Hoe kan ek die Here vra om my vry te maak, as Jesus my reeds vrygemaak het toe ek gered is?’ Op Maandag, 7 Desember 2020 toe kom daar ’n ouer gelowige na my huis toe. Hy het oor iets anders kom praat, maar om een of ander rede toe vra ek sy raad oor hierdie kwessie. Ek het hom my agtergrond vertel en toe gesê: ‘Dink jy ek bid verkeerd?’

Die raad wat hy gegee het, het my lewe verander. Dit het vir my gevoel of ek wéér weergebore is. Na ons gesprek, het ek besef dat ek soos iemand is wat baie van perskes weet. Ek het al baie boeke daaroor gelees, het skilderye van perskes in my sitkamer, het perske T-hemde, was al by perske-konferensies, en het selfs al seminare hieroor aangebied. Maar ek het nog nooit ’n perske gesien, geruik, gepluk, of geproe nie. Maandag het ek vir die eerste keer in my lewe ’n perske geproe.

Ek het gevoel soos die vrou in Luk. 13 wat vir 18 jaar vooroor gebuk was. Jesus het haar in ’n oomblik genees. Net so Hy my na 24 jaar regop gehelp. Soos die vrou in Luk. 13 gewéét het Jesus het haar genees, het ek teen Dinsdagoggend gewéét dat die Here die kettings van wellus in my lewe gebreek het. Die gedagtes is weg. Die mag wat dit in my lewe gehad het, is weg. Dit trek my nie meer aan nie. Dit pla my nie meer nie. Alhoewel ek nog nie in die hemel is nie en daar nog versoekings sal wees, weet ek nou hoe om die probleem aan te spreek. Laat ek jou vertel wat die man vir my gesê het.

Hy het my onder andere van ’n vrou vertel wat met ’n ander sonde gesukkel het. Sy het ook sonder ophou teen die probleem gebid en probeer vrykom. Op ’n dag toe wys die Here haar: ‘Jy fokus op die probleem en nie op My nie.’ Sy het toe begin bid: ‘Meer van U Here; gee my meer van U.’ Toe die man my hierdie storie vertel het, toe dink ek aan iets wat ek in Martyn Lloyd-Jones se biografie gelees het. ’n Gelowige het lasterlike gedagtes gekry. Hy (of sy?) was so moedeloos, dat hy dit oorweeg het om sy lewe te neem. In sy desperaatheid, het hy verskeie predikante vir raad gevra. Almal van hulle het dieselfde gesê: ‘Hou aan om die Here te vertrou en oor die saak te bid.’

Die persoon het dit probeer, maar dit het hom net dieper in ’n gat laat beland. Uiteindelik het hy by Martyn Lloyd-Jones uitgekom. Nadat Lloyd-Jones die persoon deeglik ondervra het om seker te maak hy is ’n Christen, het hy vir hom gesê om nooit weer oor die probleem te dink, of daaroor te bid nie. ‘Eintlik bid jy nie oor die probleem nie; jy herinner jouself net daaraan,’ het hy gesê.

Die persoon het weggegaan en Lloyd-Jones se raad gevolg. Hy het die volgende week teruggekeer om te sê dat dinge nou ’n honderd keer erger was! ‘Dit is presies wat ek gedink het sal gebeur,’ het Lloyd-Jones gesê. ‘Dit bewys dat Satan agter die ding is.’ Hy het die persoon aangeraai om aan te hou om sy raad te volg. Die probleem het binnekort verdwyn, sodat die persoon getuig het: ‘I thank God that the Doctor (Lloyd-Jones) gave me that advice—the best pastoral advice I ever had. Satan was crushed under my feet—and remains so after all these years.’2

Toe ek hierdie storie onthou het, toe dink ek: ‘Ek is besig om dieselfde te doen. Ek herinner myself voortdurend aan die probleem. Ek fokus op my sonde en nie op Jesus nie.’ My ouer vriend het my gehelp om anders te begin: ‘Meer van U, Here; meer van U.’ Verder het die Here my gewys: ‘Jesus is genoeg. Niks in die skepping kan die leemte in jou siel vul nie.’ Dit sou wees soos om die Grand Canyon (446 km x 29 km x 1.8 km) met ’n emmer water te probeer vul: dit kan nie gedoen word nie. Net so sal niks in die skepping jou uiteindelik versadig nie: nie Facebook, ’n mooi liggaam, geld, besittings, mense se aanvaarding, beroemdheid, kos, seks, drank, dwelms, of enigiets anders nie. Die mense wat hierdie dinge kry, soek net nog meer, omdat dit nie versadig nie (Spr. 27:20, 30:16, Pred. 1:8, Jer. 2:13, Joh. 4:18). God het jou so ontwerp het dat net Hý die leemte in jou siel kan vul (Joh. 4:14).

Moet dan nie versadiging by die wêreld soek nie, want jy sal dit nie kry nie. As jy dit egter by Jesus soek, sal jy dit vind. Dit is wat C.S. Lewis bedoel het, toe hy gesê het: ‘We are half-hearted creatures, fooling about with drink and sex and ambition when infinite joy is offered us, like an ignorant child who wants to go on making mud pies in a slum because he cannot imagine what is meant by the offer of a holiday at the sea. We are far too easily pleased.’3 En weer: ‘If I find in myself a desire which no experience in this world can satisfy, the most probable explanation is that I was made for another world. If none of my earthly pleasures satisfy it, that does not prove that the universe is a fraud. Probably earthly pleasures were never meant to satisfy it, but only to arouse it, to suggest the real thing.4

Dit is ook wat Ps. 37:4 beteken: “verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” Dawid bedoel nie dat die Here jou alles sal gee wat jy wil hê as jy Hom net genoeg prys nie. Hy bedoel eerder dat jy jou in die Here moet verbly en dat Hy jou dan die regte begeertes sal gee (’n begeerte na Hom) en dit sal versadig.

Wat is die slotsom? Dit is reg dat jy jou sonde bely en bid vir beskerming (Matt. 6:12-13, 1Joh. 1:9). Moet asseblief nie dink ek sê jy moenie teen sonde stry nie. Jy móét daarteen stry. Moet egter nie na jouself kyk vir die oplossing nie, maar fokus op Jesus en sy kruisdood (1Joh. 2:1-2). ‘For every look at yourself, take ten looks at Christ.’ (McCheyne).5 Jesus is genoeg.

Riches I heed not, nor man’s empty praise;
Thou mine inheritance, now and always;
Thou and Thou only, first in my heart;
O King of glory, my treasure Thou art.6

Geniet God se goeie gawes op aarde (1Tim. 6:17), maar loof en dank die Here daarvoor (1Kor. 10:31, 1Tim. 4:3-4). Besef dat Hý die fontein is wat jou dors sal les: wanneer jy jou Bybel lees, bid, met ander gelowiges vergader, en die nagmaal gebruik (Ps. 36:9, Matt. 5:6). Dit sal jou help as jou lewensmaat jou nie liefhet nie, as jou ouers jou verwerp, as jou kinders jou weggooi, as jy kinders wil hê maar nie kan nie, as jy graag wil trou maar nie ’n lewensmaat kry nie, as jy ’n geliefde deur die dood verloor het, as jy arm is, as jou gesondheid agteruit gaan. Alhoewel dit lekker as mense jou liefhet, of as jy gesondheid geniet, kan nie eers hierdie dinge jou siel versadig nie, omdat jy buitendien alles gaan verloor as jy sterf. Jesus alleen kan jou siel versadig, sodat jy nooit weer honger en dors word nie (Joh. 6:35, 2Kor. 12:9).

4. Hy is ons verlossing

Vir ons is verlossing ’n godsdienstige term. Die Griekse woord [apolutrōsis] dra egter die idee van ’n losprys; van iemand wat gevange geneem is en vrygelaat word sodra ’n ryk man die losprys betaal. Jesus het die losprys betaal om ons los te koop van die mag van Satan, sonde, die dood, en die hel (Mark. 10:45, Joh. 8:36, Heb. 2:14-15, 1Pet. 1:18-19, 1Joh. 3:8). Ons kon niks doen om onsself vry te koop nie. Jesus en sy kruisdood was genoeg: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30).

Dit het praktiese implikasies; nie net vir dié wat ongered is nie, maar vir Christene wat voel: ‘Ek sukkel om vry te breek van sonde.’ Sê gedurig vir jouself: ‘Jesus en sy kruisdood is genoeg…’ Hy is genoeg vir alles wat jy nodig het en meer (v.30). Jy is soos ’n miertjie op ’n kontinent vol kos: jy kan nie eers begin om dit op te eet nie. Maar selfs al kon jy dit na tien miljoen jaar regkry, praat ons maar nog net van die aarde. Jy weet nie 0.000001% van die rykdom wat daar in Christus is nie (Ef. 3:8). In die hemel sal jy vir ewig meer van Hom ontdek (Joh. 17:24, Ef. 2:7). Dan sal jy besef dat die wonderlike dinge wat jy op aarde beleef het maar net ’n sonstraal was, terwyl Jesus die ewige son is; dat die skepping maar net ’n druppel was, terwyl Jesus die oseaan sonder bodem, of strand is.7

As jy onthou dat Jesus genoeg is, sal die dinge wat jou hart aantrek sy krag verloor. Dit sal wees soos om iemand met varkkos te probeer lok nadat hy sagte vleis, of sjokolade geproe het.

Hallelujah! All I have is Christ!
Hallelujah! Jesus is my life!8


1  John Thornbury (et. al.), Five Pioneer Missionaries (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965), 22-5

2  Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 409

3  C. S. Lewis, The Weight of Glory (San Francisco: HarperCollins, 2001), 25-6

4  C.S. Lewis, Mere Christianity (New York: HarperCollinsPublishers, 2002 [1942]), 136-7

5  Andrew A. Bonar, The Life and Remains, Letters, Lectures and Poems of the Rev. Robert Murray M’Cheyne (New York: Robert Carter & Brothers, 1866), 220

6  Dallán Forgaill, Be Thou My Vision

7  Aangepas uit ’n preek deur Jonathan Edwards: The Christian Pilgrim or The True Christian’s Life a Journey Toward Heaven. Edwards sê: ‘These [created things] are but scattered beams, but God is the sun. These are but streams, but God is the fountain. These are but drops, but God is the ocean.’ (Section II.3). Verkry by https://www.monergism.com/thethreshold/sdg/edwards/92SermonsEdwards_acro.pdf

8  Words and music by Jordan Kauflin, © 2009 Sovereign Grace Praise (BMI)