Persoonlike Probleme: Selfversekerdheid

Markus 14:26-31

Só klink die HAT se definisie van selfverskerdheid: ‘Seker van jouself, vol vertroue op eie bekwaamheid.’1 Dit gaan hier oor die Engelse woord ‘overconfidence’. Ek wil egter nie die woord oorverseker gebruik nie, omdat party mense dit met versekeringsmaatskappye soos Outsurance sal verwar. Ek glo dit sal help as ek ’n paar voorbeelde gebruik om te wys wat ek met selfversekerdheid bedoel.

Toe my broer in matriek was en ek in graad 11, het sy vriende by ons huis gekuier. Ons het in die erf krieket gespeel. Toe my 13-jarige sussie wou saamspeel, toe sê een van my broer se vriende: ‘Nee! Sy kan nie vir my boul nie. Ek gaan nie dat ’n meisiekind vir my boul nie.’ Hy was oortuig dat hy haar die eerste bal vir ’n ses sou slaan. Uiteindelik het hy ingestem dat sy vir hom kan boul. Toe sy hom die eerste bal uitboul, toe skater ons van die lag. Skielik toe tel dit nie dat hy uit is nie, omdat sy ’n meisiekind is!

’n Dekade of wat gelede was daar ’n selfversekerde sanger op South African Idols. Die beoordeelaars het vir hom gesê dat hy nie kan sing nie, maar hy het geglo dat hy ’n fantastiese stem het.

Tydens een wêreldbeker het die All Blacks hulle oorwinning gevier nog voordat hulle in die semi-finaal gespeel het. Hulle het geglo dat hulle die Franse gaan kafdraf en daarna die finaal gaan wen. Hulle het ’n fout gemaak. Die Franse het hulle uit die toernooi geskakel.

’n Student wat sy akademiese vermoë, of geheue oorskat, studeer nie baie hard nie en druip sy eksamen. ’n Sportman wat sy talent oorskat en nie gedissiplineerd oefen nie, word nie vir die span gekies nie. ’n Man wat sy werkvernuf oorskat, dink dat die maatskappy nie sonder hom kan klaarkom nie en dat sy baas hom nie sal afdank as hy lui is nie. Sulke mense is gewoonlik verras as hulle druip, die span mis, of hulle werk verloor. Hulle selfversekerdheid maak dat hulle dit nie verwag nie.

’n Mens sien ook selfversekerdheid by kinders. ’n Driejarige dink hy kan vir homself melk ingooi, maar mors dan op die vloer. ’n Sewejarige sê vir haar ouma: ‘Ek ken die pad na my maatjie se huis toe,’ maar as hulle op die pad is, verdwaal hulle.

Toe ek op hoërskool was, het ’n meisie my uitgedaag vir tennis en later vir muurbal. Ek was selfversekerd en het gedink ek sal haar vinnig wen. Sy het my pak gegee. By ’n ander geleentheid het ek teen ’n buitemuur muurbal gespeel. My pa het gesê: ‘Jy gaan daardie venster uitslaan.’ Ek het my talent oorskat en gesê: ‘Ek sal nie.’ My woorde was skaars koud toe ek die bal deur die venster geslaan het.

’n Paar jaar gelede het ek saam met my swaer en twee ander ouens gaan gym. ‘Kan jy optrekke doen, Ivor?’ het my swaer my gevra. Ek het gelag en gesê dat ek ’n gimnas was. Ek het vergeet dat ek ’n gimas was en dat ek intussen gewig opgetel het. Ek kon net-net vyf optrekke doen.

Toe ek in my vroeë twintigs was, het ’n ma haar tiener seun na my toe gebring. Hy het met ’n sekere sonde gesukkel en ek moes hom beraad. Ek het vroeër in my lewe met dieselfde sonde gesukkel. Ek het hom probeer help, asof ek nie weer hierdie sonde sou doen nie. ’n Paar maande later het ek in die lokval beland en dieselfde as hy gedoen.

Selfversekerdheid kan jou in die verleentheid bring. Ons sien dit Ester 6. Haman was tweede in bevel van die Persiese Ryk. Hy was arrogant en wou hê dat almal voor hom moes buig. Mordegai het geweier om die knie voor hom te buig. Hiervoor het Haman hom gehaat. Hy het planne gemaak om vir Mordegai dood te maak. Hy het na die koning toe gegaan om voor te stel dat hulle vir Mordegai moet hang.

Terwyl hy op pad was na die koning toe, het die koning se diensknegte die kronieke vir hom voorgelees. Hulle het onder andere gesê dat Mordegai ’n komplot teen die koning oopgevlek het om sy lewe te red. ‘Hoe het ek vir Mordegai beloon?’ het die koning gevra. ‘U het hom nie beloon nie, u majesteit,’ het die diensknegte gesê. Op daardie oomblik het Haman aan die koning se deur geklop. Toe die koning hom sien, toe vra hy: ‘Hoe moet ek iemand beloon wat iets goed aan my gedoen het, Haman?’ Haman het gedink: ‘Wie sal die koning beloon anders as vir my?’ Hy het voorgestel dat een van die koning se belangrikste amptenare die persoon met ’n koninklike mantel moet klee, dat hy hom op die koning se perd deur die strate moet lei, en dat hy voor hom moet uitroep: ‘So gebeur dit as die koning besluit om iemand te vereer!’

‘Dit is ’n uitstekende plan!’ het die koning gesê. ‘Doen dit vir Mordegai!’ Die selfversekerde Haman het nie geweet waar om sy kop in te druk nie.

In sommige gevalle kan selfversekerdheid selfs iemand se dood veroorsaak. ’n Jong man wat byvoorbeeld sy bestuursvermoë oorskat, sal te vinnig om ’n draai ry en verongeluk. Iemand wat sy vermoë om goed te swem, oorskat, sal in ’n sterk stroom swem en verdrink.

Selfversekerdheid is ’n probleem in ons tyd. Hoeveel keer het jy al mense gehoor sê dat jy in jouself moet glo? Die subtitel van ’n boek wat ek op ’n webtuiste gesien het, lui: How to Stop Doubting Your Greatness and Start Living an Awesome Life. ’n Artikel oor selfversekerdheid het tong in die kies gesê: ‘This post about overconfidence will definitely be excellent.’

Hoe keer ’n mens dat hierdie gesindheid van die wêreld jou beïnvloed? Hoe oorkom jy selfversekerdheid in jou eie hart?

1. Verstaan wie God is (v.26)

Kort voordat die Titanic haar nooiensvaart meegemaak het, het iemand gesê: ‘God self kan nie hierdie skip sink nie.’ Almal van ons weet dat die Titanic kort daarna in ’n ysberg ingevaar het en gesink het. As die mense maar net geweet het wie God is, sou hulle nie gedink het hulle is so wonderlik nie. Dit was toe Jesaja Gód se grootheid gesien het, dat hy besef het wie hý is (Jes. 6:1-5). Petrus moes dit ook besef het, maar toe hy dit vir ’n oomblik vergeet het, toe val hy.

Jesus en die dissipels het die Pasga herdenk. Hulle het onthou hoe God die Israeliete uit Egipte gered het en hulle droogvoets deur die Rooi See gelei het. Hulle het dit in Ps. 113-118 gesing. Dit is waaroor die ‘gesang’ in v.26 gaan. Die Jode het dit by elke Pasga gesing. Hulle het dit die Hallel genoem (afgelei van die woord ‘Halleluja’). As Petrus en die ander dissipels mooi oor die woorde van hierdie Psalms gedink het, sou hulle nie hulle eie vermoëns oorskat het en tot ’n val gekom het nie.

Dit is omdat mense te veel van hulleself dink en te min van God, dat hulle die stof lek. As hulle God beter geken het, sou hulle op sý krag staatgemaak het eerder as op hulle eie. Hulle sou nie in hulleself en hulle toekomsplanne geroem het nie. Hulle sou eerder erken het dat die Here hulle planne in ’n oomblik kan omkrap. Hulle sou erken het dat Hy ’n virus en ’n grendelstaat kan stuur.

Laat ons daarom leer om te glo dat die Here in beheer is van ons lewens en die toekoms. Laat ons leer om te sê: ‘As die Here wil en ek lewe, sal ek dit, of dat doen’ (Jak. 4:13-17). Laat ons ook leer om te bid. Dit is wat Jesus in v.26 gedoen het. Hy het juis na die Olyfberg buite die stad toe gegaan om volgens gewoonte in die tuin van Getsemane te bid (v.26, 32, Luk. 22:39). Volgens die Bybel het Petrus en die ander dissipels geslaap eerder as om te bid (v.37, 40, 41). Omdat hulle selfversekerd was, het hulle op hulle eie krag staatgemaak en gedink dat hulle nie die Here nodig het nie. Dit het hulle duur gekos.

Laat ons dan die Here se voorbeeld volg eerder as die dissipels s’n. Gebed is seker die eerste manier waarop jy jou swakheid erken en op die Here se krag staatmaak. Dit is ook hoe jy selfversekerdheid kan oorkom. Biddelose Christene en gemeentes is selfversekerde Christene en gemeentes. Hulle sal hard aarde toe kom.

2. Verstaan wie jy is (v.27, 29, 31)

Die Afrikaanse idoom lui: ’n Goeie begrip het ’n halwe woord nodig. As iemand met ander woorde gou verstaan wat jy wil sê, hoef jy nie so volledig te verduidelik nie.2 Net so sal iemand wat die Bybel goed ken, hierdie preek verstaan. Die Bybel se lering teen selfversekerdheid beteken nie jy moet jouself slaan, of vir jouself sê: ‘Ek kan nie sonde oorkom, of reg lewe nie. Om so te dink, is selfversekerd en is sonde.’

Jesus het eerder bedoel dat jy nie op jouself moet staatmaak nie, maar op Hom; dat jy in jouself swak is en dat jy sonder Hom niks is nie (Joh. 15:5). Die dissipels het dit vergeet en nie geglo toe Jesus vir hulle sê hulle sal wegval nie (v.27, 29, 31). Petrus het selfs gedink dat hy beter is as die res: “Selfs al sal almal struikel, ek sal nie.” (v.29, 2020-Vertaling). Dit is een van die faktore wat daartoe bygedra het dat Petrus val: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1Kor. 10:12). “…hoogmoed kom voor die val.” (Spr. 16:18).

Petrus het ook gedink dat hy homself beter ken as wat Jesus hom ken. Volgens die Griekse teks [eksperissōs elalei] het hy vurig, uitdruklik, met groot klem, en aanhoudend gesê dat hy nooit die Here sal verloën nie, selfs al moet hy saam met Hom sterf (v.31). ’n Vergelyking tussen v.30-31, Luk. 22:33, en Joh. 13:37-38 wys dat die dialoog soos volg geklink het:

Petrus: Ek sal my lewe vir U aflê.

Jesus: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.

Petrus: Ek sal nie, selfs al moet ek saam met U tronk toe gaan en sterf.

Die ander dissipels het dieselfde gesê (v.31). Ons is ook so. Ons dink dat ons onsself ken en dat ons nooit dit, of dat sal doen nie. Maar dan is ons geskok as dit gebeur. As ons egter Jer. 17:9 geken het, sou ons nie so selfversekerd gewees het en tot ’n val gekom het nie: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”

Laat ons nie slimmer as Jesus probeer wees nie, maar laat ons Hom daagliks vra om ons teen versoeking te beskerm (Matt. 6:13). Erken jou eie swakheid, asook dat jy God se hulp nodig het. Moenie soos die dissipels dink jy is sterk en belangrik nie (Luk. 22:24), want as jy dit doen, sal jy self teen die duiwel wil veg en sleg tweede kom. Vlug eerder na Jesus toe en vertrou Hóm om jou te beskerm soos Hy Petrus en die ander dissipels beskerm het (Luk. 22:31-32, Joh. 17:15, Rom. 8:34, Heb. 7:25).

3. Luister na die Woord (v.27, 30)

Ek het eenkeer ’n man gewaarsku om nie te mense se drumpel deur te trap nie. ‘Hulle gaan moeg word vir jou,’ het ek gesê. Hy het met my gestry en gesê dat hulle mekaar goed ken en verstaan. Op die einde het dit gebeur soos ek voorspel het. As hy na die Woord geluister het, sou hy nie in die strik getrap het nie: “Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie. Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie.” (Spr. 25:16-17).

Dit was dieselfde met Petrus en die ander dissipels. Hulle het nie na die Ou Testament, of na Jesus se woorde geluister nie. In Sag. 13:7 het God voorspel dat Hy die Herder sou tref en dat die skape uitmekaar sou spat (v.27). Dit is vervul toe die soldate Jesus in die tuin gearresteer het en die dissipel gevlug het (v.50). Dit is vervul toe Petrus Jesus verloën het (v.30).

Volgens Matteus, Lukas, en Johannes sou Petrus Jesus drie maal verloën voordat die haan kraai, maar volgens Markus sou Petrus Hom verloën voordat die haan twee maal kraai. Hoe moet ons hierdie spanning oplos? Volgens Mark. 13:35 het die Jode die nag in vier wake verdeel: aand (18:00-21:00), middernag (21:00-24:00), haangekraai (24:00-03:00), en vroeg in die more (03:00-06:00). Jesus het dus basies vir Petrus gesê: ‘Gedurende haangekraai, sal jy My verloën. En hoeveel keer sal die haan kraai? Twee keer. Teen daardie tyd sou jy My reeds drie maal verloën het.’ Dit het presies gebeur soos Jesus voorspel het (v.66-72).

Moet jouself dan nie bo Jesus se woorde verhef nie. Moenie dink jy weet beter as die Bybel nie, maar onderwerp jou daaraan en glo wat dit sê. Moenie sê: ‘Die Bybel sê ek moenie met ’n ongelowige trou nie, maar ek sal hom vir die Here wen… Die Bybel sê ek moenie slegte skuld maak nie, maar die Here sal voorsien dat ek dit vinnig afbetaal… Die Bybel sê ek moenie borg staan vir ander nie, maar ek ken die mense en hulle sal my nie indoen nie… Die Bybel sê ek moenie skei nie, maar ons is nie meer lief vir mekaar nie en dit sal beter wees vir ons almal as ek skei… Die Bybel sê ek moet myself nie in ’n posisie plaas waar ek versoek sal word nie, maar ek ken myself en is sterk genoeg om die versoeking te weerstaan. Ek is nie soos ander nie, maar ek kan myself beheer.’

Jy is soos Petrus en die dissipels wat vergeet het dat die skape niks is sonder die Herder nie. As jy jou nie gou bekeer nie, gaan jy tot ’n val kom.

4. Verstaan die kruis (v.27-28)

Toe Humpty Dumpty geval het, kon niemand hom weer aanmekaar sit nie. Toe die dissipels egter geval het, het Jesus hulle herstel. En tog was dit nie maklik nie. Dit het Hom sy lewe gekos. Die Vader moes Hom aan die kruis tref, sodat Hy die skape kon red en Hy ons sonde kon vergewe (v.27, Sag. 13:1, 7, Jes. 53:4-6, 10, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Die kruis herinner ons daaraan dat ons nie goed is nie, maar dat ons die dood verdien. Gevolglik moet ons nie selfversekerd wees nie, maar op Jesus vertrou. Om selfversekerdheid te oorkom, moet ons gereeld die nagmaal gebruik en aan die kruis dink.

Die dissipels het nie rede gehad om op hulleself te vertrou nie, omdat Jesus oomblikke vroëer die nagmaal ingestel het (v.22-25). Leer dus dat dit nie genoeg is om die nagmaal te vier nie, maar dat ons moet verstaan wat dit beteken. Ons moet die voordele van Jesus se kruisdood vir onsself toe-eien, deur geloof met Hom gemeenskap hê, ons sonde bely, en sy krag vra om reg te lewe. Onthou dat God se genade voldoende is om jou te help as jy soos die dissipels selfversekerd was en ernstig drooggemaak het. Dit is die hele punt van v.28. Nog voordat Jesus gesterf het, het Hy sy opstanding uit die dood voorspel en gesê dat Hy die dissipels in Galilea sou ontmoet (v.28, Matt. 28:7, 10, 16). Dit het Hy gesê met die volle wete dat hulle Hom sou verloën en verlaat.

Leer asseblief dat die sukses van God se werk nie op jou, of my rus nie, maar op Christus alleen. Dit is net nóg ’n rede om nie selfversekerd te wees nie, maar om slegs op Jesus te vertrou. Jy is nie onmisbaar in die Here se werk nie. As jy weg is, sal die werk aangaan. Laat niemand dus op sy suksesse, vermoëns, of gawes staatmaak nie, maar net op Jesus.

Indien jy alreeds soos die dissipels selfversekerd was en jou kop gestamp het, moet jy ander help om nie dieselfde fout as jy te maak nie. Dit is wat Petrus in sy eerste brief gedoen het. Hy het vir die gelowiges gesê dat God alles is, dat ons verlossing van Hom alleen kom, en dat ons niks is nie (1Pet. 1:1-3). Hy het hulle daaraan herinner dat sonde en die duiwel sterk is en dat ons waaksaam moet wees (1Pet. 1:13, 2:11, 5:8-9). Hy het vir hulle gesê dat ons sondaars is en dat ons Jesus se kruisdood nodig het om vergewe te word en om terug te keer na die Herder toe (1Pet. 1:18-19, 2:24-25, 3:18). Hy het gesê dat ons nederig moet wees, sodat die Here ons nie sal weerstaan nie (1Pet. 3:8, 5:5-6). Hy het gesê dat ons nugter moet wees in gebed (1Pet. 4:7). Hy het gesê dat ons op die Here moet vertrou en ons bekommernisse vir Hóm moet gee (1Pet. 4:14, 5:7). Hy het gesê dat die Here ons vir ons sonde sal tugtig (1Pet. 4:17). Hy het sê dat ons God alleen moet prys, wat impliseer dat ons nie in onsself moet roem nie (1Pet. 4:11, 5:11).

Petrus het sy les geleer. Laat ons nie sy foute herhaal nie. Laat ons ook leer dat selfversekerdheid baie mense uit die hemel hou. Te veel mense verseker hulleself dat hulle hemel toe gaan, terwyl hulle reguit op pad is hel toe. Ons sien dit byvoorbeeld in Matt. 7:21-23: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Paulus was selfversekerd voordat hy tot bekering gekom het: “alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër; wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.” (Fil. 3:4-6).

Toe die Here hom op die Damaskuspad ontmoet het, het sy selfversekerdheid soos sand onder hom meegegee. Daarna het hy nie meer op homself vertrou nie, maar op Jesus: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie… Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Fil. 3:3, 7-9).

In wie lê jóú sekerheid: in jouself, of in Jesus?


1  F.F. Odendal & R.H. Gouws (red.), HAT: Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Midrand, Suid-Afrika: Perskor, 2000, 1965), 966

2  http://www.mieliestronk.com/idiomeboekad.html