Goeie Nuus voor Kersfees

Lukas 1:5-25

Die tema van my preek is opsetlik dubbelsinnig. Dit is Oktober en dus is hierdie preek Goeie Nuus voor Kersfees wat in Desember plaasvind. Maar my teks handel ook oor die Goeie Nuus wat die engel Gabriël vir Sagaria gebring het ses maande voor hy Jesus se geboorte aangekondig het. Goeie Nuus is wat almal van ons nodig het; veral na ’n jaar soos 2020.

1. Sagaria se agtergrond (v.5-7)

Van 37-4 v.C. het Herodes oor Judea in Israel as koning geregeer. Herodes beteken ‘seun van ’n held’. In die Nuwe Testament is daar ses Herodesse: Herodes die Grote (Matt. 2:1), Herodes Archeláüs (Matt. 2:22), Herodes Antipas (Luk. 3:1, 13:31, 23:7), Herodes Filippus (Mark. 6:17), Herodes Agrippa I (Hand. 12:1, 20-23), en Herodes Agrippa II (Hand. 25:13, 26:1-2).

Die Herodesse was nie Jode nie, maar Itumeërs; die laaste van die Edomiete (Esau se nageslag). Herodes die Grote is die Herodes van ons teks. Hy was ’n bose man. Hy het ’n lus gehad vir mag. Hy was jaloers en agterdogtig as dit vir hom gelyk het of iemand sy troon soek. Gevolglik het hy sy skoonfamilie vermoor, asook sy vrou, ’n paar van sy seuns, en die babas onder twee jaar oud rondom Betlehem toe hy hoor dat die koning van die Jode gebore is (Matt. 2:1-8, 16-18).1

Gedurende die heerskappy van hierdie bose man, het daar godvresende mense in Israel geleef. Twee van hulle was Sagaria en Elisabet (v.5-6). Sagaria was ’n priester uit die diensgroep van Abia; agtste uit vier-en-twintig groepe van priesters wat op ’n rotasie basis in die tempel gedien het (v.5, 1Kron. 24:10). Elisabet was uit die nageslag van Aäron (v.5). Dus was sy ’n priester se dogter en het sy met een getrou.

Sagaria en Elisabet was regverdig deur die geloof, het ’n rein gewete gehad, en het God se bevele gehoorsaam (v.6, Ps. 119:1, 168, Spr. 5:21, Hand. 24:16, Fil. 2:15). Dit wys dat die Jode verkeerd was om te dink dat Elisabet se onvrugbaarheid God se straf oor haar was (v.7, vgl. Gen. 20:17-18). Maar buiten dat sy onvrugbaar was, was sy en haar man te oud om kinders te hê (v.7).

Wat leer hierdie verse ons? Moenie die Here se seën meet in terme van voorspoed en sukses nie. Die Here is nie noodwendig tevrede met jou, omdat jy finansieel voorspoedig, of gesond is nie. Dit is die fout wat die Prosperity Gospel maak. Toe ’n medegelowige hoor dat ’n weldoener betaal het om ons geboue oor te doen, toe vra hy: ‘Beskou jy dit as die Here se seën?’ ‘Nie noodwendig nie,’ het ek geantwoord. ‘Benny Hinn het ook nuwe matte in sy kerk.’

Moet dus ook dadelik dink die Here is kwaad vir jou, omdat jy sukkel om werk te kry, omdat jy onvrugbaar is, omdat jy finansieel swaarkry, omdat jy nie ’n lewensmaat kry nie, of omdat jy siek is nie. Natuurlik kan teëspoed die Here se tugtiging wees, maar dit is nie ’n gegewe nie. Kies daarom Sagaria en Elisabet se regverdige en gehoorsame lewe vol beproewings, eerder as ’n onheilige lewe vol wêreldse voorspoed en sukses. ’n Regverdige lewe vol beproewings wat in die hemel eindig, is beter as ’n goddelose lewe vol voorspoed wat in die hel eindig.

2. Sagaria se visioen (v.8-17)

Toe ons as kinders wegkruipertjie gespeel het, het ons lootjies trek om te kyk wie eerste ‘aan’ is. In die Bybel het dit nie heeltemal so gewerk nie. Hulle het die Urim en Tummim gebruik (Eks. 28:30). Volgens sommige het die hoëpriester twee plat klippe in sy borstas gehad. As hy ’n groot besluit moes maak, het hy sy hand in die borstas gesteek en ’n klip uitgehaal. As hy Urim gevat het, het dit een ding beteken, terwyl Tummim die teenoorgestelde beteken het. Dit was nie blote geluk nie, maar dit was die Here se wil (Spr. 16:33, 18:18). Vandag neem ons nie besluite op hierdie basis nie, omdat ons die Heilige Gees en ’n volledige Bybel het (2Tim. 3:16).

Nietemin, toe die lot gewerp is, het die Here Sagaria gekies om wierook in die tempel te offer (v.8-9). Dit moes twee keer per dag op die goue wierook altaar voor die allerheiligste geoffer word (Eks. 30:1-10). Dit was ’n groot voorreg toe die Here Sagaria hiervoor gekies het. Dit het eenkeer in ’n priester leeftyd gebeur, terwyl sommige nooit hierdie voorreg gehad het nie.2

Die aangename geur van wierook was simbolies van die priester se gebede (Ps. 141:2, Op. 5:8, 8:3-5). Die volk het ook buite gebid (v.10). Miskien het hulle hulle sonde bely, die Here gedank, of vir die Messias se koms gebid (Luk. 2:37-38). Hoe dit ook al sy, terwyl hulle buite gebid het, het ’n engel regs van die wierook altaar aan Sagaria verskyn (v.11). Engele is geeste (Heb. 1:14), maar hulle kan in verskeie vorme verskyn (2Kon. 2:11, 6:17, Luk. 24:4, Hand. 1:10, Heb. 1:7).

Sagaria het gevrees toe hy die skrikwekkende engel sien (v.12, vgl. Matt. 28:2-4). Die engel het hom gerus gestel en gesê dat God sy gebed vir ’n seuntjie verhoor het (v.13, Gen. 25:21, 20, 26). Laat ons leer om soos Sagaria in die gebed te volhard (v.13, Luk. 18:1). As jy te gou opgee, wys dit dat jy nie regtig ernstig was oor die saak waarvoor jy gebid het nie. Begin dus weer om vir sake te bid wat jy van jou gebedslys af verwyder het.

Om terug te kom na die teks toe: die engel het vir Sagaria gesê om die kind ‘Johannes’ te noem (v.13, 60, 63). Dit beteken ‘die Here is genadig’. Hy sou die reddende genade van God deur die Messias verkondig (Tit. 3:4-5). Sodoende het hy nie net sy ouers se harte verbly omdat hulle ’n seun gekry het nie, maar hy het die volk se harte verbly omdat hulle deur sy boodskap die Messias ontmoet het (v.14, 58, 64, 67-79).

Omdat Johannes die Messias se voorloper was en sy koms aangekondig het, was hy groot voor die Here (v.15, 3:2-6). Hy was groter as Abraham, Moses, Elia, Elisa, Jesaja, Daniël, en die res van die profete. Jesus het gesê: “Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie” (Luk. 7:28a). Op grond van hierdie vers, het R.C. Sproul ’n strikvraag aan sy studente gestel. ‘Wie is die grootste Ou Testament profeet?’ het hy gevra. Sommige het gesê Moses. Volgens ander was dit Abraham, of Jesaja. Hulle was geskok toe Sproul sê dat dit Johannes die Doper is. Alhoewel ons in die Nuwe Testament van Johannes lees, is hy ’n Ou Testament profeet. Soos hierbo gesien, het Jesus gesê dat Johannes die grootste is. En tog is die jongste, eenvoudigste, en armste gelowige in die Koninkryk van God groter as hy, omdat ons anderkant Jesus se kruisdood, opstanding, hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees leef: “maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.” (Luk. 7:28b).

Laat ons egter nie die belangrikheid van Johannes se bediening onderskat nie. Die Here het hom vir ’n groot taak gekies. Daarom moes hy geen wyn, of sterk drank drink nie en het God hom van die moederskoot af met die Heilige Gees vervul (v.15, 7:33, Jes. 49:1, Jer. 1:5, Gal. 1:15, Ef. 5:18). Miskien was hy ’n Nasireër soos Simson en Samuel (Rigt. 13:1-14, 1Sam. 1:11), en het hy met spesiale toewyding voor die Here geleef (Num. 6).

Wil jy toegewyd wees soos Johannes? Wil kragtig en effektief wees in die Here se hande? Dit kan gebeur, omdat die Gees permanent in jou woon soos Hy in Johannes gewoon het (Joh. 14:16-17).

Leer ook uit v.15, 41, 44 dat God ongebore babas met sy Gees kan vul en dat Hy hulle kan red. In Ps. 22:10-11 sê Dawid: “Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.” Iemand sal sê dat dit na die Messias verwys en nie na Dawid nie. Maar wat van Ps. 71:5-6: “Want U is my verwagting, Here Here, my vertroue van my jeug af. Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur.”?

Op grond van verse soos hierdie, glo ek dat babas wat sterf, hemel toe gaan. Die volgende tekste wys ook in daardie rigting: “en julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie—húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem.” (Deut. 1:39). “En hy sê: Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink: Wie weet—die Here kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe bly. Maar nou is hy dood—waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” (2Sam. 12:22-23).

“Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die Here het dit gespreek. Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe. En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ‘n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die Here, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.” (1Kon. 14:11-13). “Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!” (Matt. 18:3).

Moet egter nie verkeerde afleidings maak nie. Moenie sê nie:

[a] Kinders is eers aanspreeklik vir hulle sonde as hulle 7, of 12 jaar oud is.

Die Bybel ken nie so iets soos ’n ouderdom van aanspreeklikheid nie. En tog weet ons dat God wys is en dat Hy sal doen wat reg is as dit by die dood van babas kom.

[b] Babas is sondeloos en onskuldig.

Dit is nie waar nie: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Ps. 51:7). Babas wat sterf, gaan hemel toe omdat God hulle wederbaar, omdat Hy genadig is, en omdat Jesus vir hulle sonde gesterf het.

[c] Ons moet babas doop.

Nêrens sê die Bybel dat elke baba van die moederskoot af met die Gees gevul is nie. Daarom doop ons slegs dié mense wat hulle tot die Here bekeer en wie se lewens wys dat hulle weergebore is (Hand. 2:38). Dit geld of die persoon 5 is, of 55.

Het jý al tot bekering gekom? Is jý weergebore? Het jý al jou sonde agtergelos en die Here gevra om jou te red? Dit is wat Johannes vir die volk moes doen: God het hom gestuur om baie Israeliete se harte na Hom toe te draai (v.16). Hy wou hê dat hulle reg moes dink en doen, sodat hulle gereed kon wees vir die Messias se koms (v.17, 3:10-14). Johannes het as ’n boodskapper voor die Koning uitgaan en gesê: ‘Los jou sonde en maak gereed om die Koning te ontmoet! Erken Hom as jou Messias, jou Here, en jou God!’ (v.17, 1:76, 3:4-6, Jes. 40:3, Mal. 3:1, Joh. 3:28).

God het Johannes in die gees en krag van Elia gestuur (v.17). Soos Elia het hy gepreek om die volk na die Here toe terug te draai (v.17, 1Kon. 16:31-33, 18:18-40). Soos Elia het hy in die woestyn gewoon, vurig gepreek, en klere van kameelhare met ’n leer gordel gedra (v.80, Matt. 3:4, 1Kon. 17:1-7, 2Kon. 1:8).

Hy was nie die Elia-figuur wat die Jode verwag het nie. Hulle het gehoop vir iemand wat die verskyning van ’n militêre Messias sou aankondig. Johannes was nie daardie persoon nie (Joh. 1:21). Hy was eerder die Elia van Mal. 4:5-6 wat sou kom om ’n volk vir die Here voor te berei, om gebroke gesinne na die Here en na mekaar toe te draai (v.17, Matt. 11:14, 17:10-13).

Mag die Here weer so iemand stuur om Suid-Arika en die kerk in Suid-Afrika tot bekering te bring (v.16); om deur die prediking van die evangelie gebrokke gesinne heel te maak (v.17): huise sonder pa’s, of huise met enkel ouers; huise met rebelse kinders; huise waar pa’s en ma’s met mekaar baklei en skei.

God het dit in die 1700’s in Engeland gedoen. Kerke het nie meer die evangelie gepreek nie. Die regering het manner schools begin om volwassenes maniere te leer. Die regering het verbied dat alkohol ingevoer word. Die gevolg was dat mense hulle eie drank gemaak het, sodat elke sesde huis in Londen ’n Gin Shop geword het. Homoseksualiteit en poligamie is nie as sonde beskou nie. Die tronke was oorvol. Babas moes by hulle ma’s in die tronke bly. Die vieslikste tonele is in die teater uitgebeeld. Om die morele chaos te probeer oplos, het die regering die doodstraf toegepas vir 160 verskillende misdade.3

Niks kon egter die situasie verander nie… totdat die Here ingegryp het: ‘England was startled by the sound of a voice. It was the voice of a preacher, George Whitefield, a clergyman but twenty-two years old, who was declaring the Gospel in the pulpits of London with such fervour and power, that no church would hold the multitudes that flocked to hear.’4

Deur die herlewing het God letterlik elke aspek van die Engelse samelewing verander. My gebed is dat Hy dit in óns land sal doen. Bowenal begeer ek dat Jesus weer moet kom om alles nuut te maak. Moenie onverhoeds betrap word nie, maar maak gereed om jou God te ontmoet (v.17, Amos 4:12, Matt. 24:44)!

3. Sagaria se ongeloof (v.18-25)

Het jy al ooit vir iets gebid, maar ongelowig gereageer toe die antwoord kom? Dalk het jy selfs gesê: ‘Dit is onmoontlik!’ Sagaria was so. Hy het vir ’n kind gebid, maar wou nie glo toe die antwoord kom nie (v.18, 13, vgl. Hand. 12:5, 13-16). Hy het gesê dat hy en sy vrou te oud was om ’n kind te hê, en daarom het hy ’n teken gevra (v.18, Gen. 15:8, 17:17, 18:13).

Die engel was verbaas oor sy ongeloof en het gesê: ‘Ek is Gabriël wat voor God staan en sy bevele uitvoer (Ps. 103:20-21, Matt. 18:10). Hy het my met goeie nuus na jou toe gestuur. Omdat jy my nie wou glo en die Here prys nie, sal jy stom wees totdat my woorde vervul is en die kind gebore word. Dit is die enigste teken wat jy sal ontvang!’ (v.19-20).

Terwyl die engel so met hom gepraat het, het die volk buite gewag dat hy die priesterlike seënbede van Num. 6:22-27 sou uitspreek.5 ‘Hoekom vat hy so lank?’ het hulle gewonder (v.21). Het hy miskien soos Nadab en Abihu gesterf, terwyl hy aan diens was (Lev. 10:1-3)? Toe Sagaria uitkom, kon hy nie hoor, of praat nie (v.22, 20, 62). Dalk het die mense aan sy groot oë en spierwit gesig besef dat hy ’n visioen gesien het (v.22). Hy het met tekens verduidelik en kon nie praat nie (v.22).

Hy het vir die res van die week gedien en daarna teruggekeer na sy huis toe in die bergstreek van Juda in die suide van Israel (v.23, 8-9, 39-40, 2Kon. 11:5, 2Kron. 23:8). Kort nadat hy by die huis aangekom het, het Elisabet swanger geraak (v.24, vgl. 1Sam. 1:19-20). Sy het vir vyf maande in die huis gebly, totdat die mense kon sien sy is swanger en hulle haar nie meer as ‘die onvrugbare’ sou spot nie (v.24, 36, Gen. 30:23, 1Sam. 1:6). Almal sou weet dat die Here almagtig en soewerein is oor die moederskoot, en dat Hy aan die onvrugbare kinders gee (v.25, Gen. 30:2, 22, Ps. 113:9).

En tog is die sentrale toepassing nie dat die Here kinders kan gee as jy onvrugbaar is nie. Hy kán, maar Lukas se punt is dat Johannes die Doper ’n spesiale kind was. Selfs dít is egter nie die sentrale punt nie. Die sentrale punt is dat Johannes die Doper spesiaal was, omdat hy gebore is om die Messias se koms aan te kondig. Prakties beteken dit dat Johannes en elke ander mens op aarde onbelangrik en onbenullig is sonder Jesus, selfs al is jy die koning, die president, ’n sportster, ’n beroemde sanger, of ’n akteur (Joh. 15:5, Ef. 2:12).

Moet dus nie vir jou roem en eer in die wêreld soek nie, maar soek na Jesus. Vind jou vreugde in Hóm. Soek jou identiteit in Hóm. Vra Hóm om jou van jou donker hart, skuldige gewete, en jou verlede te red. Erken Hóm as jou Koning en Here. Glo dat sy dood genoeg is om jou sonde te vergewe en dat sy lewe genoeg is om die leemte in jou siel te vul.

As jy Jesus gevind het, sal jy ook weet wie jý is en wat jou doel hier op aarde is. Jy sal soos die donkie wees wat sy doel gevind het toe Jesus op hom ry, of soos die boom wat sý doel gevind het toe Jesus daaraan vasgespyker is vir ons sondes.


1  https://www.internationalstandardbible.com/H/herod.html

2  Alfred Edersheim, The Life and Times of Jesus the Messiah (MacDonald Publishing Company, n.d.), 66. Ook Mishnah, Tamid 5:2 aangehaal in Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 85

3  Arnold Dallimore, George Whitefield (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1970), 19-32

4  Ibid., 31

5  Edersheim, 68. Ook Mishnah, Tamid 7:2 aangehaal in Morris, 88