Hoe weet jy Jesus is waar?

Lukas 1:1-4

Party ongelowiges dink om in Jesus te glo, is dieselfde as om in Kersvader, of die tandemuis te glo: Hy kom uit die verbeelding van fanatiese Jode wat in die eerste eeu n.C. geleef het. ’n Paar jaar gelede het ’n NG predikant in ’n Christelike tydskrif gesê dat Jesus nooit bestaan het nie.

Ander glo weer dat Jesus bestaan het, maar dat Hy nie die Jesus van die vier Evangelies is nie. Hy is eerder ’n mistiese figuur wat gebore is, nadat ’n Romeinse soldaat met Maria geslaap het. Hierdie is die Jesus van die Jesus Seminar, National Geographic, en liberale teologie. Hulle argumente klink oortuigend en verwar sommige.

Hoe kan ons dan vir seker weet dat die Jesus van wie ons in die Bybel lees, waar is?

1. Die getuienis is oorweldigend (v.1)

Waar daar genoeg getuies is, is byna enigiets geloofwaardig. Hoe weet jy byvoorbeeld dat Plato, Julius Caesar, William Shakespeare, en Napoleon regtig bestaan het? Hoe weet jy of iemand dit nie miskien opgemaak het nie? Is dit nie omdat daar genoeg onafhanklike getuies is nie?

Net so is die getuienis van Jesus se bestaan, oorweldigend. Dit is nie asof Hy êrens in ’n hoek gelewe het, wonderwerke gedoen het, aan ’n kruis gesterf het, begrawe is, opgestaan het uit die dood, en aan baie mense verskyn het nie (v.2, Hand. 10:37-38, 26:26). Daar is meer as genoeg bewyse om te bevestig dat die Jesus van wie ons in die Bybel lees, waar is. Selfs ongelowiges erken dit.

Josefus was ’n ongelowige Joodse geskiedkundige (37-100 n.C.). Hy het Jesus se bestaan, wonderwerke, kruisdood onder Pontius Pilatus, en opstanding op die derde dag erken. Hy het ook geskryf dat Jesus die Messias is wat deur die profete voorspel is.1

Tacitus was ’n ongelowige Romeinse geskiedkundige (56-120 n.C.). Volgens hom het Christus ’n grusame dood onder Pilatus gesterf toe Tiberius keiser was.2

Terwyl die apostels nog gelewe het, het baie ander mense verhale oor Jesus geskryf (v.1). Die oorweldigende getuienis wys dat Lukas se weergawe van Jesus se lewe nie uit sy eie verbeelding kom nie. Hy het die saak noukeurig ondersoek, met die eerste getuies gepraat, en aan ons ’n betroubare weergawe gegee van wie Jesus is en wat Hy gedoen het (v.1-4). Lukas het nie belanggestel in ’n sentimentele Jesus wat in mense se harte woon as Hy nie ook die historiese Jesus is wat die Ou Testamentiese profesieë vervul nie (v.1, Gk. plērophoreō, Matt. 5:17).

Niemand behalwe hierdie Jesus kan mense se lewens verander nie. En tog het dit nie vir Lukas by die geskiedenis gestop nie. Hy wou hê dat mense die opgestane Jesus persoonlik moes ontmoet. Wat help dit Hy is die Verlosser van die wêreld as Hy nie ook jóú Verlosser is nie? Kan ek jou vra of Jesus jou persoonlike Verlosser is? Het jy al jou rug op die sonde gekeer, jou tot Jesus gewend, en uitgeroep dat Hy jou moet red? Wys jou veranderde lewe, karakter, gedagtes, spraak, en optrede dat Jesus jou gered het en dat Hy die historiese Jesus van die Bybel is?

2. Die getuienis is akkuraat (v.2)

Enige professor kom gou agter as een student by ’n ander een afgeskryf het. As die twee studente se take woordeliks dieselfde is, weet hy dat een van hulle plagiaat gepleeg het.

Dit is juis hierdie feit wat die Evangelies so betroubaar maak; wat wys dat die outeurs nie agteraf gekonkel het om hulle storie dieselfde te laat klink nie. Elkeen het eerder sy unieke perspektief gebied. Die verskillende weergawes beteken nie dat die storie vals is nie, maar dit wys juis dat die dinge regtig gebeur het. As ’n mens die vier perspektiewe saam sit, kry jy die volledige prentjie van wat gebeur het.

Matteus en Johannes was apostels en ooggetuies. Hulle was daar toe die dinge gebeur het. Lukas en Markus het die ooggetuies persoonlik geken en hulle oor die besonderhede uitgevra (v.2, 2Tim. 4:11, Filem. 24, 1Pet. 5:13). Die ooggetuies kon hulle akkuraat inlig, omdat hulle van die begin van Jesus se bediening af daar was (v.2, Hand. 1:21-22, Joh. 15:27, Heb. 2:3). Die apostels was die ampelike ooggetuies van sy lewe, onderrig, wonders, heerlikheid, kruisdood, opstanding, en hemelvaart (Joh. 1:14, Hand. 4:20, 10:39-41, 1Pet. 5:1, 2Pet. 1:16, 1Joh. 1:1). Jesus het hulle gekies om van Hom te getuig en om mense met die Woord te bedien (v.2, Hand. 1:8, 2:42). Hulle het die Ou Testament verkondig, asook wat Jesus hulle geleer het (Joh. 14:26). Hulle woorde was dus nie hulle eie nie, maar Jesus s’n (Joh. 16:13-15, 1Tess. 2:13). Toe hulle dus hulle lering op skrif sit, toe word dit die Nuwe Testament. Dit is dan ook hoe gelowiges in die vroeë kerk geweet watse boeke deel van die Nuwe Testament moet wees: dit moes deur ’n apostel geskryf word, of deur iemand wat saam met ’n apostel gewerk het3 (net soos wat die Ou Testament deur die profete geskryf is, vgl. 2Pet. 1:20-21). Verskeie tekste bevestig dat die apostels en hulle helpers se woorde van God af kom en dat dit deel van die Nuwe Testament is:

“As iemand meen dat hy ’n profeet of ’n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.” (1Kor. 14:37).

“Daarom, hy wat dit [Paulus se woorde] verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.” (1Tess. 4:8).

“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here” (1Tess. 4:15).

“Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.” (1Tim. 5:18). Die eerste aanhaling kom uit Deut. 25:4 en die tweede een uit Luk. 10:7. Beide word ‘Skrif’ genoem.

“En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2Pet. 3:15-16). Petrus vergelyk Paulus se woorde met die ander Skrifte. Sodoende erken hy dat Paulus se woorde Skrif is.

’n Volledige lys van die boeke van die Nuwe Testament is eers in die 4de eeu n.C. saamgestel.4 Dit beteken nie dat die kerk gekies watse boeke in die Nuwe Testament moet wees nie, maar eerder dat hulle besef wat gelowiges van die begin af erken het. ’n Vals leraar genaamd Marcion (85-160 n.C.) het hulle gedwing om ’n lys saam te stel.

Soos die liberales vandag, het Marcion gesê dat die God van die Ou Testament boos en wreed is, terwyl die God van die Nuwe Testament genadig en vol liefde is. Volgens hom het die ware God van die Nuwe Testament Jesus gestuur om ons van die bose God van die Ou Testament te red.5

In ooreenstemming met sy teologie, het Marcion sy eie Bybel saamgestel. Hy het die Ou Testament verwerp, asook alle aanhalings daaruit in die Nuwe Testament. Dit het hom gelaat met ’n Bybel wat bestaan het uit ’n geredigeerde weergawe van Lukas en tien van Paulus briewe waaruit hy dele gesny het.6

Jy hoef nie ’n graad in teologie te hê om te sien dat Marcion verkeerd was nie. Daarom glo ons die 66 boeke van die Bybel soos ons dit vandag het. Ons voeg nie nuwe boeke by nie en laat ook nie iets weg nie (Deut. 4:2, 12:32, Spr. 30:6, Heb. 1:1-2, Op. 22:18-19). Ons voeg nie die apokriewe boeke by nie. Ons verhef nie ander heilige boeke tot op die vlak van die Skrif nie. Ons versamel nie buite-Bybelse profesieë in ’n bundel nie. Ons plaas nie enige belydenis bo, of op dieselfde vlak as die Skrif nie. Ons bevraagteken nie die Bybel deur te sê dat daar foute in is nie. Ons stel onsself onder die Skrif en sit nie as regter oor dit nie. Ons beskou die Bybel en nie ons eie opinies nie, as die standaard van alle waarheid (Joh. 17:17).

3. Die getuienis is noukeurig (v.3)

Martyn Lloyd-Jones (1899-1981) was ’n mediese dokter wat ’n predikant geword het. Sy mediese agtergrond het sy styl van prediking beïnvloed. Hy sou eers ’n algemene diagnose van die probleem maak en dan spesifieke oplossings gee.

Lukas was so. Hy was ’n heiden en ’n mediese dokter (Kol. 4:11, 14). Hy het met die ooggetuies gepraat, deeglike navorsing gedoen, seker gemaak van sy feite, en alles in volgorde neergeskryf (v.3). Hy het veral by Paulus geleer (let gerus op die verandering van ‘hulle’ na ‘ons’ in Hand. 16:6-9, 10); by Paulus wat die opgestane Jesus gesien het, openbarings ontvang het, in die hemel was, en vir drie jaar in die woestyn deur Jesus geleer is (Hand. 26:16, 1Kor. 9:1, 2Kor. 12:1-4, Gal. 1:11-12, 17-18).

Soos enige goeie dokter het Lukas uitstekende navorsing gedoen. Ons sien byvoorbeeld in Luk. 2:1-2, 3:1-2 hoe puntenerig hy geskiedkundige feite opgeteken het: “En in daardie dae het daar ’n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was… En in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn.”

Let ook op dat Lukas alles in orde geskryf het (v.3). Dit verwys nie noodwendig na die orde waarin dinge gebeur het nie, maar eerder daarna dat hy deur die Gees ’n sekere orde gekies het om ’n spesifieke boodskap oor te dra. Ons sien byvoorbeeld in Luk. 8 hoe Jesus ’n storm stil maak, demone uitdryf, ’n sieke genees, en ’n dooie opwek. Lukas probeer wys dat Jesus mag het oor die natuurlike, die bonatuurlike, oor siekte, en oor die dood. Kan jy dus sien dat die orde belangrik is?

Omdat God dan ’n God van orde is (1Kor. 14:33, 40) en moeite gedoen het om sy Woord in ’n sekere orde te skryf, moet ons dit so preek en lees. ’n Mens lees tog nie net dele van ’n storie nie, want anders maak dit nie sin nie. Net so moet jy nie hier-’n-bietjie en daar-’n-bietjie lees wanneer jy die Bybel oopmaak nie. Werk eerder ’n boek, of ’n hoofstuk deur. Probeer om die geheelbeeld te kry. Dit is een van die redes hoekom ek in eksposerende-, of Skrifverklarende prediking glo. Mense moet die Gees se orde volg, sodat hullle die volle prentjie kry.

Dit is wat Lukas deur sy Evangelie en Handelinge vir Teofilus wou leer (v.3, Hand. 1:1). Wie was Teofilus? Sy naam beteken ‘vriend van God’. Uit die titel wat Lukas hom gee (hooggeagte, Gk. kratistos), kan ons aflei dat hy ’n Romeinse amptenaar met ’n hoë rang was (vgl. Hand. 23:26, 24:3, 26:25).7 So ja, dit is moeilik vir ’n ryk man om gered te word (Luk. 18:24-25). Maar by die Here is niks onmoontlik nie (Luk. 18:26-27).

Party van julle is in ’n posisie om ryk en belangrike mense vir die Here te wen. Gebruik jou invloed om dit te doen. Koop vir hulle goeie Christelike materiaal om hulle intellek te prikkel. Mere Christianity van C.S. Lewis, of Don’t Waste Your Life van John Piper is ’n goeie begin. Al verander dit nie dadelik hulle harte nie, sit dit hulle dalk aan die dink en kan jy die volgende oop deur gebruik om hulle verder te beïnvloed.

4. Die getuienis is seker (v.4)

In ’n vraag en antwoord sessie het ’n meisie vir John MacArthur gevra hoe sy haar twyfel kan oorkom. Hy het haar geantwoord: ‘Lees, bestudeer, en bepeins die Bybel. As jy dit baie doen, sal jou twyfel verdwyn.’ Dit is baie goeie raad, want hoe meer jy die Bybel bestudeer, hoe meer sal jy sien dat dit volmaak is. Sodoende sal jou twyfel verdwyn.

Dis presies wat Lukas in v.4 sê: “sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.” Hy het sy Evangelie geskryf, sodat Teofilus vir seker kon weet dat die dinge wat hy oor Jesus geleer het, waar is (v.4). As hy enige twyfel oor Jesus gehad het, sou die Gees dit deur die Evangelie laat verdwyn het (v.4). Hierdie boek sou hom ook in die waarhede van Jesus anker (v.4).

Is daar dinge in die Skrif waaroor jy twyfel? Wonder jy of alles wat daarin geskryf staan, waar is? Lees die Bybel, bestudeer dit, en luister na goeie Bybelse prediking. As jy dít doen en gegrond raak in die waarhede van die Skrif, sal jou twyfel soos mis voor die son verdwyn. Jy sal wees soos iemand wat wonder of ’n beer sterk is. Sodra die persoon met die beer stoei, verdwyn alle twyfel.

Buiten dat jy die Skrif moet vertrou, moet jy dit ook waardeer. Wees dankbaar dat dit nie nodig was vir jou grootouers en ouers om dit mondelings aan jou oor te dra nie, maar dat God mense beweeg het om dit neer te skryf, sodat jy die Bybel vir jouself kan lees (v.3-4). As dit nie op skrif was nie, sou jy op jou geheue moes staatmaak, kon jy dit nie maklik naslaan nie, was dit nie toeganklik vir so baie mense nie, sou mense dit makliker verdraai het, en kon dit maklik verlore gegaan het.8 Wees daarom dankbaar vir die Bybel.

Dit laat my dink aan ’n storie wat ’n kollega my vertel het. Toe die MacArthur Study Bible bekend gestel is, was daar ’n week van prediking by Grace Community Church in Kalifornië. My kollega was daar. Volgens hom het een van die sprekers ’n telefoon boek laat bind, sodat dit soos ’n Bybel gelyk het. In sy preek het hy gesê dat baie Christene hulle Bybels afskeep en God se Woord met minagting hanteer. Ewe skielik het hy sy Bybel tussen die banke ingegooi, sodat dit op die vloer geland het. Die mense was diep geskok. Hulle het nie geweet dat dit ’n telefoonboek was nie. Die spreker het van die verhoog af gestap en die ‘Bybel’ opgetel. Hy het dit teen sy bors vasgedruk en gesê dat ons die Bybel meer moet waardeer. Hy het Ps. 19:8-11 uit sy kop uit begin aanhaal. My kollega sê dat die hele episode ’n groot indruk op hom gemaak het.

Jou waardering vir die geskrewe Woord van God sal wys of jy die vleesgeworde Woord waardeer en of jy regtig glo dat Hy waar is.


1  Flavius Josephus, Complete Works (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 379, The Antiquities of the Jews, Book 18, ch. 3, par. 3

2  Publius Cornelius Tacitus, The Annals, Book 15, ch. 44

3  John MacArthur & Richard Mayhue, Biblical Doctrine (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 124

4  MacArthur & Mayhue, ibid. Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 64. Sien ook Athanasius, Paschal Letter 39, par. 5. Verkry by https://www.ccel.org/ccel/schaff/npnf204.xxv.iii.iii.xxv.html

5  N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 1998), 65-66, 94-103

6  Ibid., 104-5

7  https://www.biblehub.com/greek/2903.htm

8  Grudem, ibid., 50