Persoonlike Probleme: Kleingeloof

Markus 9:14-29

Kleingeloof gaan nie oor mense wat die geloof verloën het, of wat weier om die evangelie te glo nie. Dit gaan eerder oor Christene wie se geloof klein is. Wanneer hulle byvoorbeeld ’n krisis beleef, raak hulle paniekbevange en probeer hulle self om die probleem op te los eerder as om na die Here te kyk. Maar selfs as hulle oor die saak bid, twyfel hulle gou weer en sê hulle dat die Here hulle nie kan, sal, of wil help nie. Hulle is so seker hiervan dat dit nie help as jy hulle aan God se beloftes herinner nie. Hulle is oortuig dat dit nie in húlle geval geld nie. Hoe help ’n mens so iemand en hoe help jy jouself as jy so is?

1. Die krisis (v.14-19)

Ek was epilepties totdat ek 13 was. Toe iemand dit hoor, toe sê hulle: ‘Dit is demone.’ Hoe sou jy die persoon antwoord? Party sou saamstem en sê dat doofheid, stomheid, epilepsie, en ander kwale altyd deur demone veroorsaak word. Maar dit is nie so nie: “Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?” (Eks. 4:11).

Ander sal sê dat mense in Jesus se tyd medies onkundig was, sodat hulle gedink het epilepsie word deur demone veroorsaak. Hierdie mense ontken die bestaan van demone en glo dat daar ’n mediese verklaring is vir alles.1 Maar die Bybelskrywers tref ’n onderskeid tussen demone en epilepsie (Matt. 4:24). En tog glo hulle dat demone soms epilepsie veroorsaak. Ons sien dit byvoorbeeld in v.14-19.

Markus beklemtoon die kontras tussen Jesus op die berg van verheerliking (v.2-13) en die dinge wat onder in die vallei gebeur het (v.14-29). Jesus het vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen die berg opgevat. Daar het sy klere so wit soos weerlig geword, terwyl sy gesig geskyn het soos die son. Moses en Elia het uit die hemel aan Hom verskyn. ’n Wolk het hulle oorskadu en ’n stem het uit die wolk gesê: ‘Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug; luister na Hom!’ Die dissipels was vreesbevange en het op hulle gesigte geval. Toe hulle opkyk, toe is alles verby. Jesus het weer normaal gelyk en die profete was weg.

Toe hulle saam met Jesus van die berg afkom, toe loop hulle hulleself in ’n krisis vas. Die teks beklemtoon eintlik hoe hopeloos die dissipels (en ons!) sonder Jesus is. Gevolglik het Jesus saam met drie dissipels teruggekeer na die ander nege toe (v.14). Daar was ’n groot gewoel toe Hy daar kom. ’n Groot menigte het die dissipels omring, terwyl die Skrifgeleerdes met hulle gestry het, omdat hulle onsuksesvol was om ’n demoon uit te dryf (v.14).

Toe Jesus skielik op die toneel verskyn, toe verander alles. Die skare was verbaas, het Jesus tegemoet gehardloop en Hom gegroet (v.15). Hy het gevra waaroor hulle met die dissipels stry (v.16). ’n Demoonbesete seun se pa het geantwoord: ‘Meester, ek het my enigste seun na U toe gebring, sodat U die gees wat hom doofstom maak, kon uitdryf (v.17, 25, Luk. 9:38). Die gees gryp hom, sodat hy skreeu (v.18, Gk. katalambanō, Luk. 9:39). Dit gooi hom teen die grond en breek hom in stukke (v.18, Gk. rhēgnumi). Dit verniel hom en wond hom (Luk. 9:39, Gk. suntribō). Dit veroorsaak dat hy epileptiese aanvalle kry: sy mond skuim, hy kners op sy tande en kry stuiptrekkings—die gees wil hom nie los nie (v.18, Matt. 17:14, Luk. 9:39).’

Hierdie pa het geweet dat Jesus demone kon uitdryf en het gehoop dat Hy dieselfde vir hom kan doen (v.18, Mark. 1:21-28, 34, 3:11, 5:1-20, 7:24-30). Toe hy Jesus nie in die hande kry nie, toe smeek hy die dissipels om die demoon uit te dryf, maar hulle het misluk (v.18, Luk. 9:40).

Jesus het die pa, die dissipels, die skrifgeleerdes, en die skare bestraf nog voordat Hy die demoon bestraf het (v.19). Hy het hulle ’n ongelowige en verdraaide geslag genoem (v.19, Matt. 17:17, Luk. 9:41, Deut. 32:5, Hand. 2:40). Dit is asof Hy gesê het: ‘Hoe lank moet Ek nog met julle opgeskeep sit (v.19)? Ek is al vir drie jaar by julle. Hoe lank moet Ek nóg hier wees voordat julle sal glo dat Ek die Messias en die Seun van God is (v.19)?’ Om sy liefde, geduld, en krag te wys, het Hy die mense nog ’n kans gegee en gevra dat hulle die seuntjie vir Hom moet bring (v.19).

Ons kan hierdie verse toepas deur onsself aan die verskillende karakters te meet. Hoe en waar sien jy jouself?

[a] Sien jy jouself in die skrifgeleerdes? Jy sien ander se foute raak en wil vir hulle sê hoekom hulle geestelik onsuksesvol is, maar self verroer jy nie ’n vinger om mense geestelik te help nie. Dit laat my dink aan ’n storie van D.L. Moody wat ek gehoor het. Toe iemand sy evangelisasie-metodes gekritiseer het, toe vra hy: ‘En watse metode gebruik jý?’ Toe hy agterkom dat die man glad nie evangelisasie doen nie, toe sê hy: ‘Dan verkies ek maar my metode.’2

[b] Sien jy jouself in die dissipels? Jy is geestelik kragteloos en bereik nie mense vir die Here nie. Is dit omdat jy te min bid, op jou eie kragte staatmaak, kleingelowig is, of ’n verdraaide hart het (Hand. 19:13-16)?

[c] Sien jy jouself in die pa? Jy wil Jesus vra om jou met ’n probleem te help, maar jy is nie seker of Hy jou kan help nie.

[d] Sien jy jouself in die skare? Jy soek Jesus vir wat Hy vir jou kan doen en nie vir wie Hy is nie. Jy geniet die atmosfeer van die gemeente wat jy besoek en is nie daar omdat jy ’n verhouding met Jesus soek nie.

[e] Sien jy jouself in die seun? Jy is onder die mag van die duiwel; jy voel hopeloos en weet nie hoe om uit te kom nie. Kom na Jesus toe; Hy kan jou help.

2. Die genesing (v.20-27)

Party Christene gee die idee dat Jesus ons soms wíl help, maar dat die duiwel sy planne in die wiele ry. Aan die ander kant is dieselfde mense dikwels arrogant teenoor die duiwel, so asof hulle hom kan beveel om te doen wat húlle wil hê.

Volgens die Bybel is die duiwel baie kragtig, maar is Jesus soewerein oor hom. Ons sien dit in v.20-27. Toe die dissipels die seuntjie na Jesus toe bring, toe herken die demoon Hom (v.20, Mark. 1:29, 5:6-7). Hy het vir oulaas probeer om die seuntjie te vernietig: die seuntjie het op die grond geval, stuiptrekkings gekry, geskop en geskreeu, rondgerol, en aan sy mond geskuim (v.20, 18, Gk. susparassō). Jesus het kalm gebly en rustig met die pa gepraat (v.21). Hy wou nie hê dat die pa moes vrees nie, maar dat hy Hom moes vertrou en besef dat Hy in beheer is van die situasie.

Die pa het vir Jesus gesê dat hierdie dinge al van jonks af met sy seun gebeur (v.21, Gk. paidiothen).3 ‘Die gees gooi hom dikwels in water en vuur om hom dood te maak,’ het hy gesê (v.22, vgl. Joh. 8:44). Hy het toe desperaat uitgeroep, voor Jesus gekniel, en Hom gesmeek om barmhartig te wees (Matt. 17:14-15, Luk. 9:38). Hy het gevra dat Jesus hom asseblief moes help as Hy kon (v.22). Hy het dus erken dat hy hulp nodig het, terwyl hy in dieselfde asem getwyfel het of Jesus hom kan help.

Jesus het hom op sy twyfel gewys en gesê: ‘Alles is moontlik vir die een wat glo’ (v.23). Hy het nie bedoel dat die man in homself, of in sy geloof moes glo nie, maar dat hy in God se getrouheid en krag moes glo. Hy moes glo dat niks vir God onmoontlik is nie en dat Hy sy beloftes sal hou. Dit is in daardie opsig dat alles moontlik is vir die een wat glo. Dus gaan dit in ’n sekere sin nie eers oor hoe groot jou geloof is nie (geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie is voldoende), maar of jy op die Een vertrou wat alles kan doen (Luk. 17:6).

Toe die pa hierdie dinge hoor, toe glo hy en toe roep hy desperaat uit: ‘Ek glo! Help my ongeloof!’ (v.24). Hy het met ander woorde gevra dat Jesus hom sal help om te glo dat Hy die onmoontlike kan doen (v.23-24). Dit is interessant dat hy nie op hierdie oomblik gesê het: ‘Here, help asseblief my seun!’ nie. Hy het eers gevra dat die Here hóm moes help. Net soos sy seun het ook hý geestelike hulp nodig gehad.

Toe die pa hierdie woorde uitroep, toe kom die skare aangehardloop soos mense wat nuuskierig is by ’n ongelukstoneel (v.25). Toe Jesus hulle sien, toe bestraf hy die onrein gees wat seun doofstom gemaak het. ‘Ek beveel jou om uit hom te gaan en nooit weer terug te keer nie!’ het Hy gesê (v.25, vgl. Luk. 11:24-26). Jesus het weereens sy gesag oor die bonatuurlike en oor demone gewys.

Die demoon het geskreeu, die kind se stuiptrekkings vermeerder, en uitgegaan soos Jesus hom beveel het (v.26). Dit is asof hy nie wóú uitgaan nie, maar hy het nie ’n keuse gehad nie. Toe alles verby was, toe lê die seun so stil soos ’n lyk (v.26). Sommige het gedink dat hy dood is, maar dit het net so gelyk, omdat sy liggaam stil, rustig, en ontspanne was toe die demoon hom verlaat het (v.26). Jesus het hom by die hand gevat, hom opgetel, en hom vir sy pa teruggegee (v.27, Luk. 9:42). Die skare was stomgeslaan oor die majesteit van God (Luk. 9:43).

Hierdie selfde God is magtig oor jóú krisis. Glo jy dit, of is jy so kleingelowig soos die pa? Dan moet jy soos hy bid: ‘Here, ek glo; kom my ongeloof te hulp!’ (v.24, Luk. 17:5). Onthou dat alles moontlik is vir die een wat glo. Onthou ook dat die teenoorgestelde waar is, naamlik dat jy nêrens sal kom as jy in God se vermoë twyfel en op jou eie vermoëns staatmaak nie (Jak. 1:6-7).

3. Die les (v.28-29)

Net soos wat jy nie versadig kan bly op brood wat jy laasweek geëet het nie, kan jy nie geestelik sterk bly, omdat jy laasweek ’n goeie stiltetyd gehad het nie. Jy moet die Here daagliks vir nuwe krag vertrou. Die dissipels het nie. Jesus het hulle by ’n vorige geleentheid gesag gegee om demone uit te dryf (Mark. 6:7). Hulle was tevrede hiermee en het die Here nie vir nuwe krag vertrou nie. Daarom kon hulle nie die demoon uitdryf nie. Hulle was kleingelowig en biddeloos (v.29, Matt. 17:20). Selfs die dissipels wat saam met Jesus op die berg was, het geslaap eerder as om te bid (Luk. 9:32). Jesus alleen het gebid en daarom kon Hy die demoon uitdryf (Luk. 9:29).

Volgens Jesus kon hierdie soort demoon nie uitgaan sonder geloof, vas, en gebed nie (v.29, Matt. 17:20, 21:21-22). Daarom moes die dissipels ’n lewe van gebed kweek. Hulle moes ook leer om aan te hou bid waar ’n demoon nie na die eerste probeerslag wil wyk nie. Verder moes hulle leer om te vas as hulle die duiwel wou oorwin (v.29, Matt. 4:1-11, Dan. 10).

Dit is hoekom wyle Martin Holdt so ’n effektiewe en kragtige bediening gehad het: hy was ’n man van geloof en gebed; ’n man wat gereeld gevas het. Dit is ook hoekom die Here hom gebruik het om eenkeer ’n vrou van ’n demoon te bevry. Die hospitaal het hom gekontak en gesê: ‘Ons het vrou hier wat aanhoudend skreeu en worstel. Dit is nie ’n mediese probleem nie; daar is drasties fout. Kan jy ons asseblief help?’ Hy het hospitaal toe gery en met die vrou probeer praat. Sy het aanhoudend geskreeu en geworstel. Uiteindelik het hy met ’n groot stem gesê: ‘Bly stil! Bly stil!’ Hy het uit die Bybel begin lees en lank aangehou. Sy het kalm geword en stadig begin asem haal. Uiteindelik het sy met ’n sagte stem gesê: ‘Dankie. Dankie dominee. Dankie. Dankie.’

Wil jy soos Martin Holdt wees; ’n kragtige instrument in die Here se hande? Of beter: wil jy soos Jesus wees? Wy jouself dan aan gebed. Leer ook om te vas, veral as jy ’n krisis beleef wat hopeloos lyk. Probeer om 12, of 24 uur (of selfs langer) niks te eet nie. Sê vir die Here: ‘Hierdie saak is so dringend dat ek vir ’n tyd lank lewensbehoeftes soos kos wil prysgee. Ek is desperaat vir U hulp.’ Sonder jouself gedurig deur die dag af om met die Here te praat. Soek spesifieke beloftes wat te doen het met die krisis waaroor jy bid. Glo dit en hou daaraan vas. Herinner die Here aan sy beloftes (Jes. 62:6-7) en wag op Hom. Glo dat Hy jou sal antwoord as jy volgens sy Woord bid. Glo dat Hy almagtig en getrou is om jou te help.

Om kleingeloof te oorkom, moet jy ook die Woord gereeld lees en aandagtig daarna luister as dit gepreek word. Dit is tog deur die Woord wat geloof kom en wat ons geloof groei (Hand. 16:5, Rom. 10:17, 1Tess. 3:2, 10). Maar dan moet jy dit verstaan, sodat kleingeloof nie die oorhand kry nie (Luk. 24:25). ’n Mens hou tog nie styf aan iets vas as jy dit nie heeltemal verstaan nie. ’n Kind wat byvoorbeeld nie weet wat ’n Kruger Rand is nie, sal nie styf daaraan vashou, of baie waarde daaraan heg nie. Kry daarom ’n greep op God se Woord (of moet ek eerder sê, laat dit ’n greep op jou kry?). As jy jou hart met die Woord vul en dit verstaan, sal jy nie maklik twyfel as jy in ’n krisis beland nie.

Dit sal ook help as jy ’n joernaal hou van die Here se groot werke en sy getrouheid in jou lewe. Sodoende kan jy terugkyk en sien hoe die Here jou in die verlede gehelp het. Dit is omdat ons vergeet dat ons kleingelowig raak (Matt. 16:8-11).

Bowenal moet jy jou oë op Jesus hou as jy kleingeloof wil oorkom. Dit is as jy jou oë van Hom afhaal en na jou omstandighede kyk, wat jy begin om bang te raak en op die einde sink (Matt. 8:26, 14:28-31). Vestig daarom jou aandag op Hom. Dink aan sy kruisdood vir jou sondes wanneer jy die nagmaal gebruik. Dink daaraan as jy jou sonde bely. Dink aan Hom as jy in die oggend opstaan en voor jy gaan slaap. Dink aan Hom as jy met ’n petroljoggie die evangelie deel. Dink aan Hom as jy saam met jou kinders bid en hulle die Bybel leer. Dink aan Hom as jy sien hoe ’n nuwe bekeerling se lewe verander het. Dink aan Hom wanneer ’n gelowige sterf en hemel toe gaan.

Iemand wat sy gedagtes met Jesus vul, sal nie kleingelowig wees nie. Soos Stefanus in Hand. 6:5 sal hy vol van geloof en van die Heilige Gees wees. Vrede en blydskap sal uit sy geloof vloei (Rom. 15:13). Dit kan nie anders nie, omdat hy op Jesus fokus. Dit is soos as ’n jong bruid deur die dag aan haar bruidegom dink. Hoe kan sy nié bly wees en vrede hê nie?


1  Ferdi Mulder, Opgestaan (Cambridge, England: Opgestaan Publikasies, 2011), 176-7

2  Ek probeer nie sê dat verkeerde metodes aanvaarbaar is nie, maar dat ons iets moet doen om mense by die Here uit te kry eerder as om net te praat.

3  Johannes P. Louw & Eugene A. Nida, Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains: Vol. 1 (Cape Town: Bible Society of South Africa, 1989 [1988, United Bible Societies]), 649, 67.153