Getroue herders

Hebreërs 13:18-25

Ek het twee vriende in die bediening wat op die oomblik deur ’n moeilike tyd gaan. In die een se gemeente is verskeie egpare besig om te skei. In die ander een se gemeente is daar ’n groep rebelle wat skeuring veroorsaak. In beide gevalle bly my vriende getrou aan die Here en aan die gemeente. Hulle is goeie voorbeelde van wat dit beteken om ’n getroue herder te wees.

Die Hebreërskrywer was ook ’n getroue herder. Selfs toe dinge in die gemeente moeilik gegaan het, het hy getrou gebly. Hy het vasgebyt, die bul by die horings gepak, en die probleem aangespreek. In Heb. 13:18-25 leer hy ons wat getroue herders doen, veral wanneer dinge moeilik raak. Dit is goed as ons hierdie dinge weet, sodat ons tussen ware en valse herders kan onderskei. Dit is ook goed vir die herders om hulleself hieraan te meet, sodat hulle kan verander waar hulle kortkom.

1. Hulle begeer jou gebede (v.18-19)

Party mense dink dat herders supermense is. Hulle moet byvoorbeeld weet as jy in die hospitaal is, al het niemand hulle gesê nie. Blykbaar is hulle gebede kragtiger as ander mense s’n. Mense moet ook weet dat jou vriendin se huweliksprobleme sal verdwyn, dat jou ongelowige kollega tot bekering sal kom, en dat jou rebelse tiener in ’n gehoorsame lammetjie sal verander as hulle net by jou dominee kan uitkom.

Jammer om jou teleur te stel, maar herders is gewone mense soos jy. Hulle raak ook versoek, moet om vergifnis vra, raak moedeloos, voel soms bang, lê partykeer wakker in die nag, het ongehoorsame kinders, en werk ses dae per week (nie net op Sondae nie!). Omdat hulle gewone mense is, benodig hulle jou gebede net soos wat jy hulle s’n benodig (v.18, Rom. 15:30, 2Kor. 1:11, Ef. 6:19, Fil. 1:19, Kol. 4:3, 1Tess. 5:25, 2Tess. 3:1, Filem. 22).

Die Hebreërskrywer self het vir gebed gevra, omdat sy gewete skoon was en hy in alles opreg wou lewe (v.18). Wat beteken dit? Hy moes ’n paar harde dinge in sy brief sê. Sy gewete het hom egter nie gepla dat hy verkeerde lering gegee het, of dat hy verkeerd opgetree het nie (v.18). Hy het geweet dat hy dié dinge uit liefde gesê het, omdat hy die gelowiges wou help. Daarom moes hulle nie sy naam uit hulle gebedslys verwyder nie, maar aanhou om vir hom te bid (v.18).

Elke herder moet dit kan sê: ‘My gewete pla my nie. Dit is nie asof ek sekere sensitiewe tekste oorslaan, omdat ek bang is om op mense se tone te trap nie. Ek preek die hele Skrif, omdat die skape dit nodig het en omdat dit vir hulle nuttig is (v.18, Hand. 20:20, 27, 2Tim. 4:2-4). Ek voel nie skuldig oor hoe ek lewe nie. Ek lei nie ’n dubbele lewe nie. Wat ek voor julle is, is ek agter julle rug. Wat ek op ’n Sondag in die kerk is, is ek in die week in my huwelik, met my kinders, in my persoonlike lewe, in my gedagtes en in my motiewe. Ek lewe nie ’n geheime lewe van sonde nie. My gewete is skoon. Ek hou dit so deurdat ek gereeld my sonde bely en my daarvan bekeer’ (v.18, Hand. 23:1, 24:16, 1Kor. 4:3-5, 2Kor. 1:12, 4:2, 1Tess. 2:3-4, 1Tim. 1:19, 2Tim. 1:3, Heb. 9:14, 10:22).

Om sy liefde te beklemtoon, het die outeur gevra dat die gelowiges méér vir hom moet bid, sodat hy gouer by hul kon uitkom (v.19). Hy het begeer om gelowige gemeenskap, of fellowship met hulle te hê (v.19). Twee lesse staan vir my uit:

[a] Herders en hulle gesinne benodig die gemeenskap van die gelowiges soos wat die res van ons dit benodig (v.19). Moet dan nie soos sommige dink: ‘Herders het nie vriende nie nodig, aangesien Jesus hulle Vriend is.’ Volgens Gen. 2:18 het die Here ons sosiale wesens gemaak. Om hierdie rede het ek die ouderlinge se name op die besoeklys gesit. Die ouderlinge moenie net die gemeente besoek nie, maar hulle moet besoek word. God se middel vir herders se geestelike groei is nie hoofsaaklik predikantekonferensies nie, maar ’n gemeente waar almal mekaar bemoedig en vir mekaar omgee—ook vir die herders.

[b] Bid vir jou herders. Sit hulle name op jou gebedslys en bid gereeld vir hulle (v.18). As jy reeds vir hulle bid, wil ek jou vra om dit meer dringend en meer gereeld te doen: ook by die bidure (v.19). Bid dat die herders nie in sonde sal val, op ’n dwaalweg beland, of verkeerde lering gee nie, maar dat hulle opreg sal lewe en die Woord reg sal verkondig (v.18). Verwag ’n antwoord op jou gebede (v.19, Matt. 7:7) en besef dat die Here jou nié sal antwoord as jy nalaat om te bid nie (Jak. 4:2).

2. Hulle bid vir jou groei (v.20-21)

’n Ouer leraar het eenkeer vir my gesê: ‘Jy moet elke lidmaat en gereelde-besoeker op ’n Sondag in die oë kan kyk en sê: ek het hierdie week vir jou gebid.’ Wyle Martin Holdt het dieselfde gesê: ‘Jy moet elke week elkeen van jou mense by naam en volgens hulle behoeftes voor die Here bring.’ Paulus het dit gedoen. Hy sê gedurig in sy briewe dat hy sonder ophou vir die gelowiges bid (Rom. 1:9-10, 1Kor. 1:4, Ef. 1:16, Fil. 1:3-4, Kol. 1:3, 9, 1Tess. 1:2, 2:13, 3:10, 2Tess. 1:3, 11, 2Tim. 1:3). Die Hebreërskrywer het ook vir sy lesers gebid (v.20). Sy gebed leer ons hoe herders vir die gemeente moet bid:

[a] Bid tot die God van vrede (v.20, Rom. 15:33). Bid vir ongelowiges dat hulle nie vyande van God sal wees nie, maar dat hulle vrede met Hom sal hê deur Jesus wat vir hulle sonde aan die kruis gesterf het (v.20, Rom. 5:1, Kol. 1:20). Bid vir die gelowiges dat hulle, ten spyte van hulle beproewings God se vrede sal hê (v.20, Joh. 14:27, 16:33, Gal. 5:22, 2Tess. 3:16, Heb. 10:34).

[b] Bid tot God wat ons Here Jesus opgewek het uit die dood (v.20, Gal. 1:1). Ons bid met ander woorde tot die almagtige God vir wie niks onmoontlik is nie (Jer. 32:17, 26, Luk. 1:37, 18:27, Ef. 3:20). Deur die opstandingskrag van Christus antwoord Hy ons gebede. Dit doen Hy deur die opstandingslewe van Christus te wek in dié wat geestelik dood was (Ef. 2:1, 5). Hy doen dit deur bonatuurlike krag aan die gelowiges te gee, sodat hulle by tye hemel op aarde beleef in hulle verhouding met Hom (Ef. 1:19-20, 3:14-21).

Hierdie dinge gebeur onder andere in antwoord op die herders se gebede (v.20). Ons is nie Katolieke wat dink dat ’n herder se gebed meer krag het as ’n lidmaat s’n nie. Maar ons ignoreer ook nie die tekste waar Paulus en ander herders vir die gelowiges bid nie.

[c] Bid met die wete dat ons onder-herders is (Joh. 21:15-17, Hand. 20:28, Ef. 4:11, 1Pet. 5:1-2). Net Jesus is die Groot Herder van Ps. 23:1, 28:9, Jes. 40:11, Joh. 10:11, 1Pet. 2:25, 5:4 (v.20). Getroue herders sien hulleself dus nie as die skape se messias, of verlosser nie. Hulle vertrou die skape eerder in gebed toe aan die Groot Herder se sorg.

[d] Herinner God aan die bloed van Jesus waardeur Hy sy verbond met ons verseël het (v.20). Wat beteken dit om so te bid? Voordat Hy die skepping gemaak het, het die Vader ’n verbond met sy Seun gesluit (v.20). Uit die Skrif kan ons aflei hoe die gesprek geklink het:

Vader: Jy sal die Herder wees wat miljoene afgedwaalde skape na My toe terugbring (v.19, Jes. 53:6, 1Pet. 2:25). Ek het hulle name in my testament geskryf, sodat hulle die koninkryk in besit kan neem (Matt. 25:34, Ef. 1:4, Op. 17:8). Soos Jy weet, moet die Testateur sterf voordat die erfgename die erfdeel verkry (Heb. 9:16-17). Jy sal dus moet sterf en die testament met jou bloed verseël, sodat hulle die koninkryk kan erf (v.20).

Seun: Ek is gewillig Vader. Ek sal aarde toe gaan, mens word, en my lewe vir die skape aflê (Joh. 10:11). Ek sal hulle straf dra en hulle terugkoop met my bloed (Jes. 53:4-6, Hand. 20:28, Ef. 1:7, 2Kor. 5:21, 1Pet. 2:24).

Miskien is jy bly om dit te hoor, en tog wonder jy: wat as Hy my op die einde verloor? Hy sal nie, aangesien dit ’n ewige testament is (v.20). Dit is nie soos die ou verbond, of testament wat tot niet kan gaan nie (Heb. 8:13). Jesus sal nie een van dié verloor wat die Vader Hom gee nie (Joh. 6:37, 39). Sy liefde vir ons is vaster as die berge (Jes. 54:10). Niemand kan ons uit Jesus en die Vader se hand ruk nie (Joh. 10:28-29).

Getroue herders onthou dit wanneer hulle vir die skape bid. Hulle erken dat die skape nie húlle eiendom is nie, maar die Here s’n. Daarom bid hulle: ‘Here, dit is u skape. Sal U hulle nie dra, versorg, beskerm, vergewe, terugbring, vertroos, help, en seker maak dat hulle volhard nie?’

[e] Bid dat die Here die gelowiges sal toerus om sy wil te doen (v.21). Die Griekse woord katartizō beteken om voor te berei soos God die skepping vir sy skepsels voorberei het (Heb. 11:3), of soos Hy die Messias se liggaam vir sy lewe en dood voorberei het (Heb. 10:5). Dit beteken om te herstel soos die dissipels hulle vissersnette herstel het (Matt. 4:21). Dit beteken om op te lei soos Jesus sy dissipels opgelei het (Luk. 6:40).

Getroue herders bid dat die Here sy skape sal voorberei, herstel, en oplei om sy wil te doen: deur die preke, Bybelstudies, besoeke, een tot een gesprekke, en persoonlike tyd in die Woord (v.21, Rom. 15:14, Fil. 2:13, 2Tim. 3:16-17, 2Pet. 1:3). En tog bid ons nie net dat mense God se wil sal kén nie, maar dat hulle dit sal dóén (v.21). Ons bid nie net dat mense geestelik sal wees nie, maar dat hulle gehoorsaam sal wees (v.21). Die Here het ’n groter behae aan gehoorsaamheid as aan offers (v.21, 1Sam. 15:22, Spr. 21:3, Hos. 6:6, Miga 6:7-8, Mark. 12:33, Heb. 10:5-7).

[f] Bid dat die gelowiges God se wil sal doen om Hóm te verheerlik en nie sodat die gemeente suksesvol kan lyk nie (v.21, 1Kor. 10:31, 2Kor. 5:9, 15). As ons dus God se wil doen, moet ons onsself nie op die skouer klop nie, maar die Here dank: by die bidure, met lofgesange, en wanneer ons teenoor ander getuig (v.16). Ons moet sê: ‘Dit is nie óns wat dit gedoen het nie, maar die Here (v.21). Hy het dit gedoen deur Jesus wat in ons werk (v.21). Dieselfde eer wat die Vader toekom, behoort ook aan Jesus; nou en tot in alle ewigheid. Amen’ (v.21, Joh. 5:23, 17:1, 5, Op. 5:11-14).

Die getroue herder onthou dit. Hy gee nie om as mense van hom vergeet nie; solank hulle net vir Jesus verheerlik. Hy kan saam met George Whitefield sê: ‘Let my name be forgotten, let me be trodden under the feet of all men, if Jesus may thereby be glorified.’ En weer: ‘Let my name die everywhere, let even my friends forget me, if by that means the cause of the blessed Jesus may be promoted.’1

3. Hulle wil hê jy moet hulle lering verdra (v.22)

Toe ek eenkeer in ’n ouer leraar se studeerkamer sit, toe sê hy: ‘Sometimes the sheep don’t want to hear the Word of God. But they need to hear it. In Psalm 23 David said: “He makes me lie down in green pastures.”’ Soms soek die skape sagte preke en wil hulle nie die vleis van die Woord verteer nie (Joh. 6:60-66, 2Tim. 4:3-4). Vir sommige raak die preek-reekse lank, of is die onderwerpe te swaar. Party mense vind dit moeilik om vir 45 minute na ’n preek te luister.

Dit is ook hoe die eerste lesers oor die Hebreërbrief gevoel het. Daarom moes die outeur hulle vra om sy ‘kort’ lering te verdra (v.22). Hulle moes veral geduldig wees met sy bestraffing en die harde woorde wat hy oor afvalligheid gesê het (v.22). Hulle moes verstaan dat hy hulle uit liefde aangespreek het. Daarom het hy hulle broers genoem en volgens die Griekse teks gesê dat hy langs hulle staan om hulle aan te moedig [v.22, parakleō].

Ek wil dieselfde sê. Soms is die preke hard en is daar moeilike tekste, illustrasies en toepassings wat sny. En tog doen ek dit nie omdat ek jou haat nie, maar omdat ek jou siel liefhet. Ek wil jou teen sonde waarsku en jou op die regte pad lei.

4. Hulle wil jou bemoedig (v.23-25)

Calvyn het gesê: ‘The pastor ought to have two voices: one, for gathering the sheep; and another, for warding off and driving away wolves and thieves.’2 Dit is presies wat die Hebreërskrywer wou doen. Nadat hy sy lesers ernstig teen dwaling gewaarsku het, het hy hulle bemoedig. Hy het vir hulle gesê dat Timoteus uit die tronk is (v.23). Volgens 2Tim. 1:8 wou Timoteus opgee, maar nadat hy Paulus se lering ter harte geneem het, het hy besluit om vir die Here te ly eerder as om sy Naam te verloën. Die Hebreërs moes sy voorbeeld volg. Die outeur en Timoteus sou hulle binnekort besoek (v.23). Hierdeur het die Hebreërskrywer gewys dat hy in sy lesers belangstel. Hy het dit onder andere gewys deur die groete wat hy oorgedra het: aan al die leiers en aan die hele gemeente (v.24).

Hy het ook groete oorgedra van die gelowiges in Italië (v.24). Hy sê nie of hy by hulle in Italië was, en of hulle hom van Italië af besoek het nie (v.24). Dit maak egter nie saak nie. Die punt is dat mense regoor die wêreld Christene was omdat hulle in Jesus geglo het, en nie omdat hulle Jode was nie. Hulle was gered, het geestelik gegroei, en het volhard op grond van God se genade en nie omdat hulle diere in die tempel geoffer het nie (v.25, 9, 20-21). Die Hebreërs moes dit onthou, sodat hulle nie na Judaïme toe sou terugkeer nie.

Getroue herders sal die gemeente hiermee help. Hulle sal die kudde aanhoudend aan God se genade deur Jesus se kruisdood herinner: wanneer iemand siek is, of oor sy redding twyfel; wanneer iemand ’n tragedie deurmaak, teen versoeking stry, in sonde geval het, van die regte pad afdwaal, pyn beleef, oud word, en op sy sterfbed lê. ‘Rus op God se genade; rus op God se genade; rus op God se genade,’ sal hulle vir die skape sê.

Grace unmeasured, vast and free
That knew me from eternity
That called me out before my birth
To bring You glory on this earth

Grace amazing, pure and deep
That saw me in my misery
That took my curse and owned my blame
So I could bear Your righteous name

Grace paid for my sins
And brought me to life
Grace clothes me with power
To do what is right
Grace will lead me to heaven
Where I’ll see Your face
And never cease

To thank You for Your grace

Grace abounding, strong and true
That makes me long to be like You
That turns me from my selfish pride
To love the cross on which You died
Grace unending all my days
You’ll give me strength to run this race
And when my years on earth are through
The praise will all belong to You.3


1  Arnold Dallimore, George Whitefield: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1980), 257-8

2  Uit sy kommentaar op Titus 1:9. Verkry by https://biblehub.com/commentaries/calvin/titus/1.htm

3  Music and words by Bob Kauflin. © 2005 Sovereign Grace Praise (BMI). Sovereign Grace Music, a division of Sovereign Grace Churches. All rights reserved.