Persoonlike Probleme: Vooroordeel en Agterdog

1Korintiërs 4:1-5

Die Engelse woord vir vooroordeel is ‘prejudice’. Miskien het jy die woord gehoor in Jane Austen se boek, Pride & Prejudice. Om bevooroordeeld te wees, beteken dat jy iemand oordeel nog voordat jy iets van hulle weet. Jy oordeel hulle met ander woorde as goed, of sleg op grond van iets uiterlik: hulle velkleur, waar hulle vandaan kom, of hoe hul lyk (’n krom neus, skewe tande, ’n gebreklike hand, ou klere, ’n duur kar, of ’n mooi voorkoms). Jakobus praat hiervan: “Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ’n pragtige kleed aan, en daar kom ook ’n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit—het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?” (Jak. 2:2-4).

Hoe verskil vooroordeel van agterdog? Agterdog is wanneer jy iemand se motiewe en geheime dade oordeel. Jy dink jy weet wat hulle dink, hoekom hulle op ’n sekere manier optree, of dat hulle besig is met sameswerings teen jou. Jy maak met ander woorde aannames sonder dat jy enige feite het. As iemand byvoorbeeld vriendelik is, dink jy dat hy dit doen, omdat hy iets by jou wil hê. Saul was agterdogtig. Hy het gedink dat Dawid sy kroon wou steel (1Sam. 18:6-9). Agterdog is nie net lelik nie, maar dit is sonde. Dit maak dat jy soos animiste in vrees lewe en gedurig dink dat mense bymotiewe het en ’n vloek op jou wil plaas.

Hoe oorkom ’n mens die sondes van vooroordeel en agterdog, en wat moet jy doen as jy die slagoffer van ander mense se vooroordeel en agterdog is?

1. Wees klein in jou eie oë (v.1)

In 2003 het Joel Beeke by ’n konferensie gesê dat ’n groep predikante in sy dorp bevooroordeeld oor hom was. Hy was moedeloos en het vir die Here gesê: ‘Hulle glo en vertel leuens oor my.’ In sy mismoedigheid het hy ’n boek van William Booth van sy rak afgehaal. Hy het dit oopgeslaan en die volgende woorde daarin gelees: ‘Dit is alles leuens wat hulle oor jou vertel!’ Hy was geskok dat Booth sy situasie so akkuraat beskryf. ‘Ja!’ het hy gedink en toe verder gelees. ‘Die dinge wat hulle egter van jou gesê het is nie naastenby so sleg as wat jy werklik is nie.’

Wees klein in jou eie oë. Dit sal jou help om mense se verkeerde aannames oor jou te verduur. Jy sal soos Paulus wees. Toe die Korintiërs hom, Apollos en Petrus teen mekaar afgespeel het, het hy gesê dat hulle niks is nie en dat God alles is (1Kor. 1:10-12, 3:3-4, 5-7). Hy het besef dat hulle maar net slawe is en nie die Meester nie (v.1). Paulus sou Johannes die Doper se woorde beaam het: “Hy [Christus] moet meer word, maar ek minder.” (Joh. 3:30).

Dit is hoogmoed wat maak dat ons kwaad raak wanneer mense ons wanvoorstel, agterdogtig is, of ons oordeel sonder om te weet wie ons is. In ons stiltetyd sê ons vir die Here hoe sleg en onwaardig ons is, maar sodra iemand ons van een of ander sonde verdink, dan sê ons: ‘Ek? Ek sal dit nooit doen nie!’

As mense regtig wou, kon hulle ’n klomp slegte dinge van jou gesê het wat waar is. Wees bly dat hulle die verkeerde dinge gekies het. Wees ook dankbaar dat jy aan die ontvang kant staan en dat jy nie die een is wat sondige agterdog koester en bevooroordeeld is nie. Besef verder dat God soewerein is oor die mense wat bevooroordeeld en agterdogtig is (sien 2Sam. 16:5-12). Hy laat dit toe om jou te verneder en jou meer soos Jesus te maak (2Kor. 12:7, 10:10, 11:6, Heb. 12:10). Hy wil hê jy moet besef dat jy klein is en Hy groot.

Paulus het dit verstaan. Hy het geweet dat hy nie die huiseienaar is nie, maar net die bestuurder (v.1, Gk. oikonomos). Hy het geweet dat die evangelie nie aan hom behoort nie, maar dat hy dit net aan ander moet bedien (v.1). Hy was soos ’n kelner wat nie die kos gemaak het nie, maar dit net aan die kliënte bedien. Hy was God se instrument wat die geheimenis van die evangelie aan die wêreld bekend moes maak (v.1). Daarom het dit hom nie gepla dat sommige van die Korintiërs Petrus en Apollos bo hom verkies het nie. En as ons Jesus geken het soos wat Paulus hom geken het, sou ons dieselfde as hy gedoen het: ons sou wou hê dat mense goed moet dink van Jesus eerder as van ons.

2. Wees getrou (v.2)

Hoe sal jy voel as jy in ’n wêreld vol blindes was waar hulle jou uitlag, omdat jy sê dat jy kleur en lig sien? Dit sal jou nie pla nie, omdat jy weet dat dit waar is. Net so het Paulus hom nie aan die Korintiërs se opmerkings oor sy prediking en leierskap gesteur nie. Solank hy net getrou was soos ’n slaaf wat sy meester se eiendom goed oppas en bestuur (v.2).

Dit is een van die vrae wat jy jouself moet afvra as jy versoek word om agterdogtig te wees, om mense se motiewe te bevraagteken, en om dinge te glo wat jy nie kan bewys nie: ‘Is hulle getrou aan die Here?’ (v.2). Indien wel, het jy geen rede om bevooroordeeld en agterdogtig te wees nie.

Iemand sal sê: ‘Ja, maar ek het ’n sterk vermoede dat dit so is.’ Maar sou jy daarvan gehou het as mense jóú die koue skouer moes gee, omdat hulle ’n vermoede oor jou gehad het? Jou vooroordeel en agterdog wys dat jy nie genoeg liefde het nie. As jy ware liefde gehad het, sou jy die beste van ander mense glo (1Kor. 13:7). Vra die Heilige Gees om God se liefde in jou hart uit te stort (Rom. 5:5). Ken God beter, omdat Hy liefde is (1Joh. 4:7-8, 16). Verstaan die kruis beter, sodat jy kan liefhê soos wat Jesus jou liefhet (1Joh. 4:10, 19).

Dalk sê jy: ‘Die probleem is nie dat ek nie liefhet nie, maar dat ek 99% seker is my vermoedens is reg.’ Maar watse verskil maak dit of jy reg is? Jy is tog nie die regter aan wie die persoon moet antwoord nie, is jy (Rom. 12:19)? Is die Here nie bevoeg om reg te oordeel nie? Indien die persoon ’n Christen is, was Jesus se kruisdood genoeg om vir sy sonde te betaal. Die Here sal die persoon ook tugtig om seker te maak dat hy staande bly (Rom. 14:4). Indien die persoon ’n ongelowige is, sal God hom in die hel straf (Matt. 10:28, Jak. 4:12). Maak dit jou bly, of sal jy begin om vir die persoon se bekering te bid? Of sal jy die persoon behandel soos hy jou behandel het? Indien wel, wys dit dat jy nie ’n probleem het met vooroordeel en agterdog nie, solank jý net nie die slagoffer is nie. En sal die Here jou nie hiervoor oordeel nie? Sal Hy nie wys dat jy so ontrou is soos jou vyande nie?

Ek onthou toe dit met mý gebeur het. Ek het ’n preek oor kritiek gehoor. Terwyl die prediker besig was, toe dink ek: ‘Mense het dit al van my gesê. Mense het dit al aan my gedoen. Mense het al so teenoor my opgetree.’ Maar na ’n rukkie toe wys die Here my: ‘Jy het dit al van ander gesê. Jy het dit al aan ander gedoen. Jy het al so teenoor hulle opgetree.’ Ek was onder diep sonde oortuiging en moes my sonde teenoor die Here en ander bely.

Moet jy miskien dieselfde doen? Vra die Vader om Jesus se getrouheid in jou plek te aanvaar. Vra die Heilige Gees om jou so getrou te maak soos Jesus (v.2, Matt. 25:21). Waar dít gebeur, sal mense se vooroordeel en agterdog hulle krag verloor. Mense sal sien dat die dinge wat hulle oor jou glo vals is en dat jy opreg is. Maar selfs al sien hulle dit nie nou nie, sal hulle dit op die oordeelsdag sien.

3. Moenie mense se oordele oorskat nie (v.3-4a)

As jy weet dat die Here jou gaan oordeel, dan is mense se oordele soos ’n klein hondjie wat onder jou voete blaf—jy steur jou nie juis daaraan nie. Net so het Paulus hom nie aan mense se uitsprake en opinies gesteur nie (v.3). Die vraag was hoe die Here na hom gekyk het (Gal. 1:10, 1Tess. 2:4). Moet dan nie jouself prys, omdat mense van jou hou, of depressief voel, omdat hulle jou met vooroordeel, of agterdog beskou nie. Hulle opinies tel nie veel nie (v.3). Dit geld selfs vir wêreldse howe wat partykeer verkeerde uitsprake maak (Hand. 16:19-24, 21-28).

Daarom is die vraag nie wat mense van jou dink nie, maar of jy aan Gód getrou is (v.2). Indien wel, hoef jy jouself nie aan mense te verduidelik nie. Maar indien jy aan die Here ontrou is, maak dit nie saak dat mense jou prys nie. Hulle weet tog nie wat in jou hart aangaan nie. Jy self weet nie eers altyd wat in jou hart aangaan nie (Jer. 17:9). Voor sy bekering het Paulus homself verkeerd opgesom (Fil. 3:6), en daarom het hy nie veel waarde aan sy eie opsommings geheg nie (v.3).

En tog is dit nodig dat jy jouself moet ondersoek om seker te maak dat jou gewete skoon is, sodat jy jou kan bekeer as jy iets sien wat nie reg is nie (v.4a, 1Kor. 11:28, 2Kor. 13:5, Job 27:6, Hand. 23:1, 24:16). Saam met Paulus moet jy kan sê: ‘My gewete is skoon; ek is nie bewus van enige onbelyde sonde in my lewe nie’ (v.4a). Dit sal veral help as mense agterdogtig is oor jou motiewe, of as hulle dinge van jou sê wat nie waar is.

4. Wag op die Here se oordeel (v.4b-5)

Ek moes eenkeer ’n ouer predikant by die lughawe oplaai en hom Pretoria toe vat. Ek wou nie, omdat ek bang was om uit die kansel te wees. Die gemeente het deur ’n moeilike tyd gegaan en ek wou nie hê die mense moet kwaad wees vir my nie. Ek het dus my vrou gevra om die man op te laai. Toe ek die predikant die volgende dag sien en verduidelik hoekom ek hom nie opgelaai het nie, toe sê hy: ‘Maybe your conscience is too tender.’ Ek het nie verstaan wat hy bedoel nie, maar ek verstaan nou.

Soms dink ’n mens iets is sonde wat die Bybel nie beveel, of verbied nie. Jy voel skuldig as jy dit doen. Jou gewete is te sensitief. Om dit reg te stel, moet jy die Bybel beter leer ken, sodat jy kan weet of iets regtig sonde is, of nie. Party mense het die teenoorgestelde probleem: hulle doen dinge wat wél sonde is, maar hulle gewetens pla hulle nie daaroor nie. Miskien is dit omdat hulle nie weet wat die Bybel daaroor sê nie. Of miskien doen hulle dit so baie, dat hulle gewete verhard raak en dit hulle nie meer pla nie (1Tim. 4:2).

Wat ek probeer sê, is dat die mens se gewete belangrik is, maar dat dit verkeerd kan wees (v.4a). Dus moet ons dit nie as die hoogste hof beskou vir wat reg en verkeerd is nie. Moet byvoorbeeld nie sê: ‘Ek weet dat ek onskuldig is, omdat my gewete my nie pla nie.’ Die vraag is eerder of God in sy Woord sê dat jy onskuldig is (v.4b)? Sal Hy op die oordeelsdag sê dat jou motiewe suiwer was (v.5)?

Ons moet dit aan die Here oorlaat om ons te oordeel. Jy kan mense se dade oordeel en sê dat dit verkeerd is as hulle steel, leuens vertel, of seksueel losbandig is (1Kor. 5:12). Jy kan ’n persoon se lering aan die Skrif meet en sê of hy ’n vals leraar is, of nie (Matt. 7:15-20, 1Joh. 4:1-6). Jy kan egter nie mense se motiewe oodeel nie. Net die Here kan (v.5). Dus is dit sonde om bevooroordeeld en agterdogtig te wees; om te maak asof jy weet wat in mense se harte aangaan en asof jý die regter is wat hulle sal oordeel (1Sam. 17:28, Jak. 4:11-12). Jy is tog nie alwetend om te kan sê hoekom iemand jou nie gegroet het nie, wat hy gedink het toe hy in jou rigting kyk, of hoekom jou leraar besluit het om oor ’n sekere onderwerp te preek nie.

Dalk sê jy: ‘Alhoewel ek nie alles weet nie, het ek ’n sesde sintuig. Ek volg my intuïsie en ken ’n skelm as ek een sien. God het my die gawe van onderskeiding gegee.’ Mag dit miskien wees dat jy hierdie dinge as ’n verskoning gebruik om agterdogtig en bevooroordeeld te wees? Was jou sogenaamde sesde sintuig, intuïsie, of gawe van onderskeiding al ooit verkeerd? En hoe oortree jy nié 1Kor. 4:5 as jy mense oordeel nog voordat jy hulle ken, of as jy dinge van hulle glo wat jy nie kan bewys nie? Volgens Jak. 2:13 sal die Here se oordeel oor jou onbarmhartig wees as jy ander mense so oordeel. “Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Matt. 7:2).

Los dit vir die Here om op die oordeelsdag te wys wat in mense se harte aangaan (1Sam. 16:7) en hulle daarvolgens te beloon (v.5). Jy mag dalk net verbaas wees dat sommige mense van wie jy sleg gedink het, opreg was, terwyl ander van wie jy goed gedink het onsuiwer motiewe gehad het (bv. Ps. 55:22, 62:5, Spr. 26:23-25).

En wat sal die Here van jóú hart sê? As jou hart en motiewe rein is deur geloof in Jesus Christus (Matt. 5:8, Hand. 15:9), sal Hy jou beloon (v.5). Maar as jou hart vol vooroordeel en agterdog was, sal Hy jou daarvolgens vergeld (v.5, Pred. 12:14, Rom. 2:16). Laat ons dan in die eerste plek vir die Here vra om ons hart te vernuwe. As jy reeds ’n nuwe hart het, moet jy nie toelaat dat vooroordeel, agterdog, of enige ander sonde daar wortel skiet nie. Indien jy dit reeds toegelaat het, moet jy jou daarvan bekeer en die Here om vergifnis vra. Ek onthou ’n keer toe ek dit moes doen. Daar was ’n vrou wat nie getrou in die kerk was nie. Ek het gedink dat sy nie hier wíl wees nie en dat sy ontrou is. Toe ek haar egter besoek, toe hoor ek dat haar ongelowige man haar verbied om kerk toe te kom. Ek moes my sonde teenoor die Here bely. Genadiglik het Hy my vergewe net soos wat Hy dié mense vergewe het wat bevooroordeeld en agterdogtig was teenoor Hóm (Luk. 23:34, 1Tim. 1:13, vgl. Jes. 53:2-3, Matt. 13:54-56, Joh. 1:46, 6:41-42, 7:24).