Persoonlike Probleme: Skynheiligheid

Lukas 11:37-54

Die Griekse woord vir ‘skynheilige’ [hupokritēs] verwys na ’n akteur in die teater wat toneel speel met ’n masker op. So was die Fariseërs en die wetgeleerdes in Luk. 11:37-54. Lukas gee vir ons agt kenmerke van ’n skynheilige.

1. Hulle stel hulle tradisies bo die Bybel (v.37-38)

Jaap is die nuwe predikant by ’n gemeente in Tradisiefontein. Toe hy by ’n vergadering sê dat iets in die gemeente nie Bybels is nie en dat hulle dit moet verander, toe sê die mense: ‘Maar ons doen dit nog al die jare so.’

Dit is eintlik wat die Fariseër in v.37-38 aan tafel gesê het toe hy Jesus oorgenooi het vir ete (v.37, vgl. Luk. 7:36, 14:1). Die Fariseërs het die Skrifte geken, maar nie gedoen nie (Matt. 23:2-3). Hulle het die tradisies van hulle vaders bo die Bybel gestel (Matt. 9:14, 12:1-2, 15:1-9, 23:16, 18, Luk. 13:14, Joh. 5:10, 9:14-16). Daarom was die Fariseër geskok toe Jesus nie sy hande gewas het voor ete nie (v.38). Dit het nie gegaan oor higiëne nie, maar oor tradisie. Die Fariseërs het hulle hande gewas, omdat hulle nie onrein wou wees nie. Wat as hulle per ongeluk aan ’n onrein persoon, sondaar, of heiden geraak het (Mark. 7:1-5)?

Vandag nog neem mense aanstoot as jy hulle tradisies breek. Een persoon was byvoorbeeld geskok dat ek nie elke Sondag die Tien Gebooie vir ons gemeente voorlees nie. Party sal geskok wees omdat ’n predikant dit doen. Sommige is geskok as die mans in die gemeente nie almal dasse dra nie. Vir ander is dit ’n skok as die gemeente se mans dasse aan het. Party is geskok as daar nie ’n orrel in die kerk is nie, terwyl ander hulle wenkbroue lig as daar wél een is. Party is geskok as jy ’n diens op Kersdag hou, terwyl ander geskok is as jy nié een hou nie. Party gelowiges kan nie glo dat mense so ‘onbybels’ kan wees om in ’n kerkgebou bymekaar te kom nie, terwyl ander dink jy is ‘weird’ as jy in ’n huis bymekaar kom.

Maar waar beveel, of verbied die Bybel hierdie dinge? Dus is dit nie verkeerd as jy dit met ’n opregte gesindheid doen nie. Moet dit egter nie op ander wil afdwing en sê dat die Here dit vereis nie. Moenie dink dat dit jou beter maak as ander nie; dat jy God se guns daardeur kan wen; dat dit jou geestelik rein maak; of dat dit op dieselfde vlak, of selfs hoër is as die Bybel nie (Mark. 7:6-23).

2. Hulle is uiterlik skoon, maar innerlik vuil (v.39-41)

Jy ontmoet nuwe mense en gaan kuier by hulle. Die vrou maak vir jou ’n heerlike koppie tee. Toe jy die laaste slukkie vat, toe sien jy dat die koppie nie gewas is nie, maar dat die vlekke van die vorige koppie tee nog daar sit. Hoe voel jy daaroor?

Die Fariseërs was uiterlik soos ’n bord, of koppie wat seremonieel rein is (Mark. 7:4). Innerlik was hulle egter gierig en boos. Waar het hulle die lekker eet- en drinkgoed in hulle borde en koppies gekry? Hulle het die weduwees se geld gesteel (v.39, Matt. 23:25-26, Luk. 16:14, 20:47).

Uiterlik doen die skynheilige reg, terwyl hy agter toe deure, in die donker, en in sy gedagtes boos is. Die skynheilige beperk sy godsdiens tot sekere tye en plekke. Jesus is ’n byvoegsel tot sy lewe en is nie vir hom alles nie. Die oplossing teen hierdie sonde is nie om uiterlik harder te probeer nie, maar om innerlik nuut te word. Ja, volgens Jesus moet goeie kerkmense weergebore word (Eseg. 36:26, Joh. 3:3, 5, 1Kor. 6:11, 2Kor. 5:17, Tit. 3:5)! Bekeer jou daarom tot Hom. Vra Hom om jou ’n nuwe hart te gee. Glo in Hom. Vertrou op Hom. Volg Hom.

Jy is onverstandig en dwaas as jy uiterlik beter probeer lewe, maar nie innerlik verander is nie (v.40). God het nie net die uiterlike gemaak nie, maar die innerlike (v.40). Hy het die mens se liggaam, sowel as sy gees gemaak (Gen. 2:7, Pred. 11:5). Daarom kyk Hy nie na die uiterlike nie, maar na die innerlike (1Sam. 16:7). Laat ons ook soos Hy wees en meer aandag gee aan die innerlike as aan die uiterlike. Hoe doen mens dit prakties? Gee meer tyd aan persoonlike gebed eerder as aan jou gebede voor ander. Veg teen innerlike sondes en nie teen uiterlike sondes nie (2Kor. 7:1). Dra in die geheim by vir die Here se werk eerder as wat jy dit doen om jou naam in die koerant te kry (v.41, Amos 4:5, Matt. 6:1-2).

Dit beteken nie dat niemand mag uitvind dat jy bogenoemde dinge doen nie. Die punt is eerder dat jy dit met suiwer motiewe moet doen, naamlik om God te verheerlik eerder as om mense se guns te wen (Matt. 6:1-6, 16-18). Ons moet Christenskap nie tot die uiterlike beperk nie. Anders is jy soos die mense wat nie voor die ‘dominee’ wil suip, of vloek nie, terwyl hulle dit agter sy rug doen saam met hulle vriende. Jy is soos die mense wat nie ’n ander boek bo-op die Bybel wil neersit nie, omdat hulle dit respekteer. En tog lees hulle dit skaars en doen hulle nie wat dit sê nie.

3. Hulle is puntenerig en ongehoorsaam (v.42)

Ek het ’n klein Joodse boekie wat van Pick ’n Pay af kom. Dit verduidelik hoe die Jode hulle huise voorberei vir Pasga. In die boekie is daar ’n lys van produkte wat gis bevat; produkte waarvan hulle ontslae moet raak, omdat daar nie gis mag wees tydens die Pasga nie. Volgens die boekie moet hulle selfs van seker soorte hondekos ontslae raak, omdat dit gis bevat.

Die Fariseërs was so en daarom het Jesus hulle met ses wee-uitsprake verdoem (v.42, 43, 44, 46, 47, 52, Gk. ouai). Hul was puntenerig oor reëls wat God nie beveel het nie, maar het nagelaat om dit te doen wat Hy in die Bybel beveel (v.42). Jesus gee vir ons ’n voorbeeld. Hulle was puntenerig om selfs ’n tiende van hulle kruie vir die Here te gee. ’n Mens kan byna sien hoe hulle die kruie se blare tel om seker te maak dat hulle ’n tiende gee (v.42). God se liefde was egter nie in hulle harte nie. Hulle sou seker nie eers ’n enkele kruieblaar gegee het om die armes te help nie (v.42, Matt. 23:23, Miga 6:8). So het hulle die twee grootste gebooie versaak, naamlik liefde vir God en liefde vir jou naaste (Lev. 19:18, Deut. 6:5, Luk. 10:27). Dit is asof hulle ’n muggie uit die wyn gepik het omdat dit onrein is, maar dan ’n onrein kameel ingesluk het (Matt. 23:24).

Beteken dit dat hulle nié vir die Here se werk moes bydra nie (v.42)? Nee. Jesus se punt was eerder dat hulle nie puntenerig moes wees oor dinge wat nié in die Bybel staan nie. Hulle moes ook nie dink dat hulle die Here daardeur tevrede kon stel nie.

Hoe word óns op hierdie punt versoek om soos die Fariseërs te wees? Voel jy skuldig as jy nie vandag deur jou Bybelleesprogram gekom het, of as jy nie deur jou gebedslys gebid het nie? Voel jy miskien goed oor jouself, omdat jy dit gedoen het? Indien wel, dan het stiltetyd ’n middel geword waardeur jy God se guns probeer verdien, of dink dat jy dit verbeur het. Hoe goed jou stiltetyd was, bepaal dus of die Here vir jou ’n goeie dag gaan gee, of nie.

Sê jy miskien: ‘Ek het 10% vir die Here gegee; die res is myne om te gebruik soos ek wil’? Indien jy so dink, word jou bydrae iets om af te merk eerder as iets waardeur jy vir die Here wil wys dat jy Hom en jou naaste liefhet (1Joh. 3:17-18).

Is jy puntenerig om nie enige woord te gebruik wat soos lastering klink nie (woorde soos ‘jissie, of jislaaik, wat buitendien nie die Here se Naam is nie), terwyl dit jou nie veel pla om vir swartmense byname te gee nie: “[met ons tonge] vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is.” (Jak. 3:9).

Om bogenoemde dinge te doen, is skynheilig.

4. Hulle is selfbelangrik (v.43)

Toe my vriend twintig jaar gelede getroud is, toe vra ons die gasvrou iets oor haar man. Ons het hom per ongeluk ‘oom’ genoem. Die vrou was baie ontstoke. ‘My man is professor-doktor!’ het sy met ’n stywe bo-lip gesê.

Dit is wat die Fariseërs gedoen het. Dit het vir hulle oor hulleself en hulle titels gegaan. Hulle was nie lief vir God nie (v.42), maar vir menslike roem (v.43). Thomas Watson sê: ‘A hypocrite has a squint eye, for he looks more to his own glory than God’s.’1

Hoe het die Fariseërs in hulleself geroem? Hulle het voor in die sinagoge (die Joodse plek van aanbidding) gaan sit, sodat almal moes sien hoe gretig hulle was om die Woord te hoor (v.43). Hulle het dit geniet as mense hulle in die markplein volgens hulle titels aanspreek (v.43, Matt. 23:7). Dit is nog steeds so. Toe ’n sekere student sy teologiese studies voltooi het en erkenning gekry het as leraar, toe bel hy die Algemene Kantoor. ‘Goeie dag Klaas,’ het die sekretaresse geantwoord. ‘Dit is nie Klaas nie!’ het hy gesê. ‘Dit is dominee Klaas!’

’n Paar jaar gelede was ek by ’n vergadering oor Bybelvertaling. Die klomp vertalers was vreeslik in hulle skik oor iemand wat sopas sy doktorsgraad voltooi het. Die man wat die graad verwerf het, was net so ingenome met die lof wat hy ontvang het.

Ek wil nie soos hierdie mense wees nie. Ek wil nie soos die Fariseërs wees nie. Moet my dus nie dominee noem nie. Noem my Ivor. Ek doen dieselfde met ouer leraars. Ek verpes dit om hulle dominee te noem, maar noem hulle eerder oom.

Maar selfs al het jy nie ’n titel nie, kan jy versoek word om selfbelangrik te wees. Jy kan byvoorbeeld heilig, nederig, vriendelik, of toegewyd wil wees, omdat jy daarvoor bekend wil staan (veral op jou begrafnis). Dus doen jy dit nie, omdat jy die Here wil eer nie.

5. Hulle is onrein en besmet ander (v.44)

Blykbaar kan jy Covid-19 hê sonder dat jy dit weet. Dus kan jy iemand anders aansteek sonder dat jy, of die ander persoon weet dat jy dit het. So was dit met die Fariseërs. Hulle was soos ongemerkte grafte. Iemand wat na ’n fees in Jerusalem gereis het, het gedink dat dit ’n gewone klip is. As hy egter daaraan geraak het, het hy seremonineel onrein geraak en moes hy die fees mis (v.44, Num. 19:16, 9:6).

Net so het baie mense nie geweet dat die Fariseërs hulle op ’n verkeerde pad lei en hulle met valsheid besmet nie (v.44). Uiterlik het die Fariseërs soos spierwit grafstene gelyk, maar innerlik was hulle vol onreinheid en doodsbene (v.44, Matt. 23:27-28). Om hierdie einste rede is ’n leraar se lewe net so belangrik soos die lering wat hy gee (1Tim. 3:1-7, 4:6-16). Bly dus weg van kerke waar die prediking suiwer is, maar die leraar nie heilig lewe nie.

6. Hulle is slawedrywers (v.45-46)

Die wetgeleerdes, of skrifgeleerdes was professionele studente van die wet (Esra 7:6). Hulle het aanstoot geneem toe Jesus die Fariseërs aanspreek (v.45). Hoekom het hulle aanstoot geneem? Want hulle het dieselfde gedoen! Jesus het min of meer die volgende vir hulle gesê: ‘Julle belas mense met reëls wat nie in Bybel staan nie. Julle sê vir hulle om hierdie reëls te volg as hulle gered wil word. Julle verroer nie ’n vinger om hulle te help nie, maar verdoem dié mense wat ’n voet verkeerd sit (v.46, Matt. 23:4). Julle dink julle is beter as ander (Luk. 5:30, 18:9-12, Joh. 7:47-49, 9:34). Julle is hard op ander mense se sonde, maar sag op julle eie sonde (Matt. 7:1-5).’

Hierdie gesindheid vind ’n mens in kerke waar die leraar mense met die swaar juk van die wet oorlaai (‘Doen dit; doen dat!’) en nie die evangelie preek dat Jesus sondaars vergewe en verander nie (Hand. 15:10, Matt. 11:28-30).

7. Hulle is moordenaars (v.47-51, 53-54)

Van die ergste vervolging in die kerk se geskiedenis het gekom deur godsdienstige mense. Dink maar aan hoe die Jode en Rooms-Katolieke die ware kerk vervolg het. So was dit ook met die wetgeleerdes en die Fariseërs. Hulle het die grafte gebou van die profete wat deur hulle vaders vermoor is (v.47-48). Hulle het gedink dat hulle die profete eer, maar eintlik het hulle teen hulleself getuig dat hulle die vervolgers se kinders is, eerder as die profete s’n (v.48, Matt. 23:30-31)!

Volgens Jesus—wat die wysheid van God is (1Kor. 1:24, Kol. 2:3)—sou Hy sy apostels en profete na hulle toe stuur, en sou hulle dié vervolg en vermoor het (v.49, Matt. 23:34, Hand. 4-7, 12, 1Tess. 2:15). Hulle was alreeds besig om planne te maak om Hóm te vang en te vermoor (v.53-54, Mark. 3:2, Luk. 20:20, Joh. 8:6). Op die einde het hulle dit reggekry (Hand. 7:51-52). Dus het hulle hul nie van hulle vaders se sondes bekeer nie, maar het hulle dieselfde as hulle gedoen, sodat hulle die maat van hulle ouers se sondes gevul het (Matt. 23:32, 27:25). As straf het Jesus hulle en hulle tempel in 70 n.C. deur die Romeine verwoes (v.50-51, Matt. 23:36). So het Hy die Jode verantwoordelik gehou vir die bloed van die profete deur die geskiedenis: van Abel af in Gen. 4 tot by Sagaria in 2Kron. 24:20-22 wat tussen die altaar en die tempel vermoor is (v.50-51). In die Hebreeuse Ou Testament is Genesis die eerste boek en 2Kronieke die laaste boek (hulle het presies dieselfde boeke as ons, maar in ’n ander volgorde). Eintlik sê Jesus dus dat hulle en hulle vaders al die profete vermoor het: van die begin tot aan die einde van die Ou Testament.

In Suid-Afrika word Christene nou wel nie tot die dood toe vervolg nie. En tog sal enige skynheilige jou haat en jou in sy hart vermoor as jy soos Jesus sy sonde uitwys. Om te keer dat mense deur hom sien, kom die skynheilige nie graag kerk toe nie: veral nie as hulle die Woord verkondig en kerkdissipline toepas nie. Hy wil nie skuldig voel, of hê dat mense moet weet wie hy is nie. En tog sien Jesus sy hart en sal Hy dit op die oordeelsdag voor die wêreld bekend maak (Luk. 12:1-3). Laat ons daarom eerder oop, eerlik en deursigtig wees, en die Here vra om ons harte te reinig (Ps. 32:1-5, Spr. 28:13, 1Joh. 1:9).

8. Hulle lei ander saam met hulle hel toe (v.52)

Ek ken ’n storie van ’n ma wat haar 5-jarige kind geskiet het en toe haarself. Die feit dat sy selfmoord gepleeg het, is erg. Die feit dat sy ’n gesinsmoord gepleeg het, is erger.

Die Joodse leiers was so. Hulle was nie alleen op pad hel toe nie, maar het ander mense saamgesleep. Hoe? God het vir hulle die Skrif gegee as ’n sleutel tot die kennis van Hom (v.52, Mal. 2:7-8). In plaas daarvan dat hulle egter vir mense die Skrif geleer het, het hulle hul die gif menslike tradisies gevoer. So het hulle én hulle hoorders die hemel gemis (v.52, Matt. 5:20, 21:31, 23:13, 15, Luk. 7:30).

Dit is ’n ernstige waarskuwing vir predikers. Jak. 3:1 sê: “My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.” (Nuwe Vertaling). Hierdie beginsel geld ook vir ouers. Leer jy jou kinders die Bybel, of laat jy dit oor aan die TV, die internet, die skool, en hulle vriende om hulle te leer? Indien jy nie jou verantwoordelikheid nakom nie, is jy medepligtig as hulle hel toe aan. Leer jy jou kinders die Bybel, terwyl jy vir hulle ’n slegte voorbeeld stel? Dan is jy skynheilig en lei jy jou kinders saam met jou hel toe.

Sien jy dus dat skynheiligheid ’n ernstige oortreding is? En tog kan die Here dit vergewe. Ek weet van ’n man wat sy vrou geslaan het. Toe hy eendag baie siek geword het, het hy sy leraar gevra om Jak. 5:14 toe te pas: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.” Die leraar het geweier om dit te doen: ‘Die teks sê as iemand onder julle siek is. Jy is nie onder ons nie. Jy is nie ’n gelowige nie. Jy is nie deel van die familie nie.’ Hierdie woorde het die man geskud. ’n Rukkie later het hy die leraar terug gebel en gesê: ‘Kan jy asseblief iemand stuur om die evangelie met my te deel?’ Die leraar het dit gedoen en die man het tot bekering gekom. Hy het geestelik so gegroei dat hy later ’n ouderling geword het.

Laat niemand van ons dan Luk. 18:11-12 saam met die Fariseër bid nie: “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.”

Laat ons eerder Luk. 18:13 saam met die tollenaar bid: “O God, wees my, sondaar, genadig.”


1  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 10