Praktiese Christenskap

Hebreërs 13:1-6

Praktiese Christenskap is ’n pleonasme. Dis is soos om te praat van ’n ronde sirkel, of ’n dooie lyk. So asof mens ’n sirkel kry wat nie rond is nie, of ’n lyk wat lewe. Net so is Bybelse Christenskap per definisie prakties. Waar Christenskap nie ’n praktiese effek op jou lewe het nie, is dit nie Christenskap nie. Dit is die punt wat die outeur in Heb. 13:1-6 wil oordra.

1. Wees lief vir die broers (v.1-3)

Toe ek op hoërskool was, het ek baie opgekyk na my broer. Ek was trots op hom en wou hê dat ander mense die beste van hom moes dink. Net soos wat ek my bloedbroer liefgehad het (en nog steeds het!), moet ons ons broers en susters in die Here liefhê (v.1, Rom. 12:10, 1Tess. 3:12, 4:9-10, 1Pet. 1:2). Dit is tog ’n kenmerk van ’n ware gelowige en is ook ’n goeie getuienis vir die wêreld (Joh. 13:34-35, 2Pet. 1:7, 1Joh. 2:9-11, 3:14-15, 4:7-8, 20-21).

Laat ons daarom nie bitter raak en onsself bejammer, omdat ons soos die Hebreërs beproef word nie. Laat ons eerder ons broers en susters op praktiese maniere bemoedig en dien (v.1, 6:10, 10:24-25, 1Joh. 3:16-18). Hoe moet ons dit doen?

[a] Wees gasvry teenoor vreemdelinge (v.2)

Die Griekse woord xenophobia beteken ‘vrees vir vreemdelinge’, terwyl die woord philoxenia ‘liefde vir vreemdelinge’ beteken. Dit is ook die woord wat in v.2 met ‘gasvryheid’ vertaal word (vgl. Rom. 12:13). Die opdrag om vreemdelinge in jou huis te ontvang, beteken nie dat jy enige wildvreemde persoon moet verwelkom nie. Ons weet dat rowers hulle soms as loodgieters voordoen om jou te beroof.

Die vers gaan eerder or Christen sendelinge en predikers. Omdat hulle nie altyd ’n herberg kon bekostig nie, het gelowiges hulle huise vir die predikers oopgemaak. Ons het volgende week die geleentheid om dit te doen. ’n Sendeling kom ons gemeente besoek. Ek wil jou aanmoedig om jou huis vir hom oop te maak. Moet dit nie met ’n gesug doen nie (1Pet. 4:9). Ek het dit verlede jaar so gedoen. Iemand het my gevra om ’n wildvreemde sendeling by die lughawe op te laai. Ek het nie geweet of ek die persoon gaan moet huisves nie. Ek het gemurmureer. Later moes ek die Here om vergifnis vra, veral omdat ’n ouderling juis ’n voorbeeld hierin moet wees (1Tim. 3:2, Tit. 1:8).

En tog beteken die opdrag nie dat jy jou huis moet oopstel vir enigiemand wat homself ’n Christen-prediker noem nie. 2Joh. 10 sê: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.” Ons moet eerder ons huise oopstel vir dié wat regtig gelowiges is. Dit is gewoonlik iemand wat deur ’n betroubare persoon aanbeveel word.

Hoekom moet ons sulke gelowiges in ons huise verwelkom? Want daardeur het sommige al engele en die Here self gehuisves (v.2, Gen. 18-19, Rigt. 6, 13). Moet dan nie die geleentheid mis nie, want as jy ’n medegelowige in jou huis verwelkom, doen jy dit aan die Here (Matt. 25:35).

[b] Onthou die vervolgde kerk (v.3)

Toe ek in Taiwan was, het ek iemand in die tronk besoek en die geleentheid gehad om die evangelie met hom deel. Dit is heeltemal reg om dit te doen, maar dit is nie wat v.3 beteken nie. Hier gaan dit nie oor misdadigers nie, maar oor Christene wat vir hulle geloof vervolg word (v.3, 23, 10:34). Moet hulle nie vergeet nie, maar bemoediging hulle (v.3).

Ek dink hier aan broer Andrew wat met ’n Romeense leraar en sy vrou gepraat het. Tydens hulle gesprek het die vrou met trane gesê: ‘Weet jy, jare gelede het ek geweet dat mense in die Weste vir ons bid, maar nou het ons al vir baie jare nie van hulle gehoor nie. Ons kon nog nooit briewe skryf nie en het dertien jaar laas ’n brief ontvang. Ek het besef dat ons vergete is, dat niemand aan ons dink nie, dat niemand ons behoeftes ken nie, en dat niemand vir ons bid nie.’1 Ps. 142:4 in die ESV sê: “there is none who takes notice of me; no refuge remains to me; no one cares for my soul.”

As ons ons vervolgde broers en susters onthou, vir hulle bid, en geskenke vir hulle stuur, doen ons dit aan Jesus (Matt. 25:36, 40). Volgende week gaan ons hoor hoe ons as ’n gemeente betrokke kan raak by die vervolgde kerk. Dit gaan nie net oor gelowiges in die tronk nie, maar oor vervolging oor die algemeen (v.3, 10:34, 11:37). Jy sal beter kan help as jy jouself in hulle skoene plaas; as jy onthou hoe lekker dit was toe jý swaargekry het en iemand jou bemoedig het (v.3). Laat ons dieselfde vir ons vervolgde broers en susters doen (v.3, 2Kor. 1:4). As een lid ly, ly die hele liggaam (v.3, 1Kor. 12:26). ’n Jong man in destydse Tsjeggo-Slowakye het dit vir broer Andrew gesê. Toe hy aan hom ’n borsspeld van ’n silwer beker oorhandig het (simbolies van die lydingsbeker), toe sê hy: ‘Vat dit saam met jou Holland toe…as mense jou daaroor vra, vertel hulle van ons en sê vir hulle dat ons ook deel van die liggaam is en dat ons pyn het.’2

2. Moenie soos die wêreld wees nie (v.4-6)

[a] Heilig die huwelik (v.4)

Jare gelede het ’n man vir my gesê dat twee mense wat saamslaap getroud is in God se oë (kontra Joh. 4:18). Hy wou my oortuig dit nie verkeerd is vir ’n man en sy meisie om saam te bly nie. Maar om so te renedeer is onsin. Christene moet God se instelling en definisie van die huwelik eerbiedig (v.4, Gen. 2:18-25, 1Tim. 4:3-4). Sy definisie klink as volg: die huwelik is ’n lewenslange verbond voor God en getuies, tussen een natuurlike man en een natuurlike vrou (Rut 4:1-13, Spr. 2:17, Eseg. 16:8, Mal. 2:14, Matt. 19:4-6). Om die huwelik te eerbiedig, moet ons by hierdie definisie bly en die volgende doen:

  • Beskou die huwelik as ’n beeld van Jesus se verhouding met sy bruid, die kerk (Ef. 5:22-33).
  • Moenie saambly en maak of dit dieselfde is as om getroud te wees nie.
  • Moenie vir jare uitgaan en weier om te trou nie. As jy dit doen, beskou jy om uit te gaan hoër as die huwelik.
  • Maak jou troudag eksplisiet Christelik. Moenie baie drank hê, musiek met lelike woorde speel, en vuil grappe in die toesprake toelaat nie.
  • Moenie vir enige rede skei en hertrou nie.
  • Moenie iemand anders se huwelik binnedring en egbreuk pleeg nie.
  • Moenie soos die liberales in die NG Kerk dink jy kan met iemand van dieselfde geslag trou nie.
  • Moenie sê: ‘Om te trou is bloot ’n formaliteit’ nie. ‘Dit is maar net ’n stuk papier. Solank ons aan mekaar en aan die Here trou beloof, is die saak reg.’ Maar wat as jou sogenaamde man jou vir iemand anders los en nie onderhoud wil betaal nie; wil jy dán ’n stuk papier hê?
  • Behandel mekaar met respek eerder as om mekaar af te breek en te baklei.

Eerbied vir die huwelik is iets wat die vroeë Christene van die wêreld onderskei het. Christen-vroue se toewyding aan hulle mans en kinders het ene Libanius laat sê: ‘What women these Christians have!’3

Dit geld ook vir seksuele reinheid: laat ons anders as die wêreld wees en nie die huweliksbed met sonde besmet nie. Sê nee vir pornografie, lelike fotos op WhatsApp, verbode telefoonnommers, egbreuk, poligamie (Afrika-kulture), seks voor die huwelik, homoseksualiteit, verkragting, pedofilie, prostitusie, bloedskande, bestialiteit, en ander vorme van seksuele sonde (v.4). Die samelewing steur hul nie aan seksuele sonde nie, maar die Here sal hulle straf (v.4). Hoe sal Hy dit doen? Deur seksueel oordraagbare siektes, kerkdissipline, ’n skandelike reputasie, seksuele verslawing, en die hel (2Sam. 12, Spr. 5-7, Matt. 5:27-30, Rom. 1:27, 1Kor. 6:9-10, Gal. 5:19-21, Ef. 5:5-6, Op. 21:8, 22:15).

Volgens v.4 straf Hy seks voor die huwelik (hoereerders), sowel as seks buite die huwelik (egbrekers). Party dink dat seks voor die huwelik nie verkeerd is nie, maar volgens die Bybel is dit sonde (v.4, Deut. 22:13-21, 23-29). Wat egbreuk betref, verdoem Jesus nie net die daad nie, maar selfs net die gedagte daaraan (Matt. 5:27-28). Daarom is dit nie aanvaarbaar vir getroude mense om saam na pornografie, of lelike films te kyk nie.

Volgens die Bybel is skei en hertrou ook ’n vorm van egbreuk. Om te skei en weer te trou, is slegs toelaatbaar as een van die partye seksuele sonde gepleeg het (Matt. 5:32, 19:9), of as die ongelowige party die huwelik versaak (1Kor. 7:15). Iemand wat dus skei en hertrou, omdat ‘ons mekaar nie meer liefhet nie… omdat ons nie meer compatible is nie… of omdat ons te veel stry,’ pleeg egbreuk.

Omdat Jesus vir seksuele sonde gesterf het, sal Hy jou vergewe as jy berou het en jou daarvan bekeer (Ps. 51, Joh. 4:18-30, 39-42, 8:11, 1Kor. 6:11). Vlug daarom vir seksuele sonde (Gen. 39:9-10, 1Kor. 6:18, 1Tess. 4:3). Trou eerder as om van begeerte te brand (1Kor. 7:9, 36). Miskien wíl jy trou, maar is daar nie iemand op die horison nie. Vra die Here se hulp om rein te bly. Vra ’n vriend, of vriendin om vir jou te bid en jou aanspreeklik te hou. Moet jouself nie in ’n situasie plaas waar jy versoek sal word om sonde te doen nie (Rom. 13:14). Lees Randy Alcorn se boek, The Purity Principle en pas toe wat jy daarin leer.

Vir getroude mense: werk hard om ’n goeie huwelik en slaapkamerlewe te hê (Spr. 5:15-19, Hoogl. 1-8, 1Kor. 7:2-5). As jy versadig word by die huis, sal jy die wêreld se spookasem jou nie versoek nie.

[b] Waak teen geldgierigheid (v.5-6)

Voorspoed is gevaarliker as teëspoed. Randy Alcorn vertel van ’n leraar in Roemenië wat gesê het: ‘In my experience, 95 percent of the believers who face the test of persecution pass it, while 95 percent who face the test of prosperity fail it.’4 Waak dus teen geldgierigheid, omdat dit tot baie ander sondes lei (v.5, 1Tim. 6:9-10): diefstal, bedrog, egbreuk, dwelmhandel, slawerny, prostitusie, moord, en meer.

Mense wat geld verafgod is soos Bileam, Judas, die Fariseërs, en vals leraars (Num. 22-25, 31, Matt. 26:14-15, Luk. 16:14, 20:47-21:4, Joh. 12:4-6, 2Pet. 2:3, 14-15, Jud. 11). Hulle fokus op die hier-en-nou, kry nie die geluk waarna hulle soek nie, verloor alles as hulle sterf, en mis die ewige lewe (Ps. 49, Pred. 5:9, Matt. 6:19, 19:16-22, Luk. 12:15-21, 1Tim. 6:7, 1Joh. 2:15-17). Hoekom wil jy dan geld jaag as dit net tydelike geluk bring en jou nie eers die kosbare dinge van hierdie lewe kan verseker nie: liefde, ’n vredevolle gesin, gesondheid, ’n goeie reputasie, ’n opregte lewe, integriteit, God se Woord in jou hart, ’n goeie nagrus, en wysheid (Spr. 15:16-17, 16:8, 16, 17:1, 22:1, 28:6, Pred. 4:6, 5:11, Luk. 8:43)?

Sê eerder vir die Here dankie vir wat jy het as wat jy ontevrede is en kla oor die dinge wat jy nié het nie (v.5). Sê vir jouself dat jy nie die produk op die advertensie nodig het nie en dat jy nie skuld gaan maak om dinge te kry wat die Here jou nie gegee het nie. God is jou Vader en sal alles gee wat jy nodig het (Matt. 6:25-34, 1Tim. 6:8). Hy het jou nog nooit verlaat nie en sal dit ook nie nou doen nie (v.5, Deut. 31:6, 8, Jos. 1:5, Ps. 37:25). Eintlik gebruik die Grieks ’n baie sterk negatief: ‘Nooit ooit sal Ek jou begewe nie; nee, nooit ooit sal Ek jou verlaat nie.’

Sê daarom vir jou Vader wat jy nodig het (Matt. 6:8, 11, 7:7-11). Maak seker dat dit regtig ’n behoefte is en nie ’n luuksheid nie. As dit ’n behoefte is, moet jy hard werk om ’n inkomste te verdien. Dit is immers die gewone manier waarop die Here vir ons sorg (Eks. 20:9, 1Tess. 4:11-12, 2Tess. 3:7-10). Baie keer gee Hy selfs ekstra, sodat ons iets kan hê om met ander te deel (v.16, Hand. 20:35, Gal. 6:10, Ef. 4:28).

Miskien het jy nie ekstra geld nie, maar jy hét dinge wat jy nie gebruik nie, of wat jy nie nodig het nie. Jy kan dit verkoop om vir jou gesin te sorg, om ander mense te help, en om die Koninkryk te bevorder (Hand. 2:44-45, 4:32-37). Dit sal jou help om geldgierigheid te oorkom, omdat jy weggee eerder as om bymekaar te maak. So bêre jy ook vir jouself skatte in die hemel eerder as op die aarde waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en steel (Matt. 6:19-20).

Dalk dink jy dat dit onmoontlik is om materialisme te oorkom, omdat dit jou soos suurstof omring. Jy sien dit op TV, op die advertensieborde langs die snelweg, in die koerant, in tydskrifte, en by jou kollegas. Maar volgens die Bybel ís dit moontlik om materialisme te oorkom. Ek het ’n man ontmoet wat baie ryk was. Hy het daarvoor gemik om R80 miljoen per jaar te verdien. Gelukkig het die Here hom dit gespaar. Toe hy al sy geld verloor, het die Here hom gered. Hy het nie weer die begeerte gehad om ryk te wees nie, maar het sy geld begin gebruik om Bybels te versprei.

Die Here is vir jou ’n helper om te gee wat jy nodig het, maar ook om jou te help om vergenoeg te wees en om nee te sê vir materialisme (v.6, Fil. 4:11-13). Moet dan nie vrees as die geld min raak, of as die wêreld jou met geld probeer omkoop, afpers, of boelie nie (v.6, Ps. 56:5, 12). Moenie toelaat dat dit ’n greep op jou hart kry wanneer iemand se ouers die rugbyspan borg, sodat húlle kind in die span kan wees nie. Moenie angstig raak as ’n ryk persoon by die werk genoeg geld gee om bevorder te word nie. Wat kan ’n mens aan jou doen (v.6)? Hulle kan roem en geld by jou steel, maar hulle kan nie by die skatte kom wat jy in die hemel het nie. Moet daarom nie vir hulle bang wees nie, selfs al is hulle ryk en beklee hulle ’n belangrike posisie. Jy het skatte waarvan hulle niks weet nie. Eintlik behoort alles wat hulle besit aan Jesus en daarom ook aan jou (1Kor. 3:21-23). Jy is soos ’n gewone kliënt in ’n restaurant en hulle soos die bestuurder wat jou stief behandel. Eendag sal hulle met ’n skok agterkom dat jy die eienaar se seun is.


1  Vry vertaal uit Brother Andrew with John & Elizabeth Sherrill, God’s Smuggler (London: Hodder & Stoughton, 1967), 167-8

2  Vry vertaal uit ibid., 88

3  Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 85

4  Aangehaal in C.J. Mahaney (ed.), Worldliness (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2008), 103