Persoonlike Probleme: Sonde teen die Heilige Gees

Matteus 12:22-32

Eintlik is daar meer as een sonde teen die Heilige Gees. ’n Mens kan die Gees bedroef, uitblus, weerstaan en laster. Die eerste drie van hierdie sondes kan vergewe word (Hand. 7:51, 58, 60, 8:1, 3, 9:1-19, Ef. 4:30, 1Tess. 5:19). Die laaste een kan nie (Matt. 12:31-32). As ek in hierdie preek van sonde teen die Heilige Gees praat, verwys ek na die laaste een.

Wat is hierdie sonde en hoe weet jy of jy dit gedoen het? Dit is belangrik om te weet, sodat jy nie wanhopig raak soos iemand van wie ek onlangs gehoor het nie. Hierdie persoon is oortuig dat hy die onvergeeflike sonde gepleeg het en dat die Here hom nie kan vergewe nie.

Laat ons daarom die saak reg benader en verstaan wat die Bybel hiermee bedoel, sodat ons reg daarop kan reageer. Laat ek eers die konteks skets voor ons by die sonde kom.

1. Die genesing (v.22)

Ek het al mense ontmoet wat glo dat epilepsie nie ’n fisiese probleem is nie, maar dat dit deur demone veroorsaak word. Natuurlik kán demone dit veroorsaak (Matt. 17:15, 18), maar baie keer is daar natuurlike oorsake. Matt. 4:24 tref tog ’n onderskeid tussen demoon-besetenheid en epilepsie.

In Matt. 12:22 lees ons van ’n man wat as gevolg van ’n demoon blind en stom was. Natuurlik was dit nie sonder God se toestemming nie, aangesien Hy vir Moses gesê het: “Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?” (Eks. 4:11).

Net soos wat óns siek mense deur gebed na Jesus toe bring, het die stom en blinde man se geliefdes hom na Jesus toe gebring in die hoop dat Hy hom sou genees (v.22). Jesus het die demoon uitgedryf, sodat die man weer kon sien en praat (v.22).

2. Die reaskie (v.23-24)

Mense was stomgeslaan toe David Copperfield deur The Great Wall of China geloop het. Maar dit was oëverblindery. Hoe sou hierdie mense gereageer het as hulle een van Jesus se wonderwerke moes sien? Die Bybel sê vir ons. Die skare verbaas en verwonderd teruggestaan toe Jesus die man genees het (v.23, Gk. existēmi, vgl. Luk. 11:14). Hulle het gewonder of Hy die Seun van Dawid kan wees; die Messias van die Ou Testamentiese profesieë (2Sam. 7:12-13, Ps. 132:11, Jes. 32:3-4, 35:5-6, 42:7, vgl. Joh. 7:31).

Maar ten spyte van die wonderwerk het die Fariseërs nie geglo dat Jesus die Messias is nie. Hulle het in hulle gedagtes gesê: ‘Jesus dryf duiwels uit deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels’ (v.24). Die naam ‘Beëlsebul’ is afkomstig van Baäl-sebub, die god van Ekron (2Kon. 1:2). Hy was die god van die vlieë; die een wat vlieë en pessiektes moes weghou. Die Jode het hom gespot deur hom Beëlsebul, of ‘die god van die mishoop’ te noem. Dit was maar net ’n ander naam vir Satan; die leier, of prins van demone (v.24, Ef. 2:2).

Dan was dit ernstige lastering om te sê dat Jesus deur die mag van Satan demone uitdryf (v.24, Matt. 9:34). Volgens Mark. 3:22, 30, Matt. 10:25 het hulle selfs gesê dat Jesus deur die Satan beset is (vgl. Joh. 8:48, 52) en dat Hy Beëlsebul, of Satan self ís. Die waarheid is dat húlle onder die mag van die duiwel was en dat hy hulle geestelik so blind gemaak het soos die man in v.22.

Leer asseblief hieruit dat dit moontlik is vir iemand om téén die duiwel praat, terwyl hy terselfdertyd deur hom verblind word.

3. Die lering (v.25-32)

Mense wat lank getroud is, weet soms wat hulle lewensmaats dink. En tog weet hulle dit nie altyd nie en kan hulle nie regtig ander mense se gedagtes lees nie. Niemand kan nie, behalwe die Here: “U verstaan van ver my gedagte.” (Ps. 139:2). Toe Jesus dus die Fariseërs se gedagtes geken het, moes hulle besef het dat Hy van God af kom en dat Hy self ook God is (v.25, Matt. 9:4). Ongelukkig het hulle dit nie erken nie, maar gesê dat Hy van die duiwel besete is (v.24). Om hulle verdraaide gedagtes reg te stel, het Jesus twee gelykenisse vertel.

Die eerste gelykenis het gegaan oor ’n koninkryk, stad, en huis wat verdeeld is. Waar dit gebeur en mense aanhoudend met mekaar twis, sal dinge uitmekaar val (v.25). Net so sal Satan se koninkryk val as hy met een asem vir sy demone sê om mense se lewens te verwoes en hulle met die volgende asem beveel om uit te kom (v.26). As dit dan waar is dat die duiwel Jesus beskragtig het om demone uit te dryf, deur wie se mag het die Fariseërs se dissipels dit gedoen (v.27)? Hulle het dit nie altyd reggekry nie (Hand. 19:13-16), terwyl Jesus altyd suksesvol was. Sou die Fariseërs dan sê: ‘Ons dissipels misluk deur die krag van die Heilige Gees, terwyl Jesus deur die duiwel se mag sukses het’?

Waar die Fariseërs se dissipels dit wél reggekry het om die demone uit te dryf, het hulle dit (net soos Jesus) deur die krag van die Heilige Gees gedoen (v.27, Matt. 7:22). So het die Fariseërs se dissipels dan hulle leermeesters verdoem, omdat hulle indirek gesê het: ‘Jesus dryf demone uit deur die krag van Gód’ (v.27). Óf hulle het gesê: ‘Jesus dryf demone uit deur die krag van Satan,’ maar dan sou hulle hulleself verdoem het, omdat hulle dieselfde as Jesus gedoen het. En deur wie se krag het húlle die demone uitgedryf?

As Jesus in sy menslike natuur op die Gees se krag staatgemaak het om duiwels uit te dryf, wys dit dat Hy soewerein is oor hulle (v.28, 18 Hand. 10:38). Dit was vir Hom maklik om duiwels uit te dryf—die werk van sy vingers (Luk. 11:20, vgl. Eks. 8:19, Ps. 8:4, Mark. 7:33).

Die feit dat Hy duiwels uitgedryf het, wys ook dat Hy as Koning oor hulle troon en dat sy koninkryk aangebreek het (v.28, Matt. 4:17, Luk. 17:20-21). Die Fariseërs het dit nie so gesien nie. Hulle het ’n Messias en Koning verwag wat op ’n wit perd sou kom om die Romeine te oorwin. Jesus se werke was egter groter as dit: Hy het gekom om Satan en die magte van duisternis te oorwin. Dit is jammer dat die Fariseërs dit misgekyk het en ontken het.

Jesus se tweede gelykenis was van ’n sterk man wat in ’n paleis woon en wapens het om homself en sy rykdom te verdedig (Luk. 10:21). Die persoon wat hom wou oorwin, moes sterker wees as hy, hom vasbind, en hom ontwapen, sodat hy sy huis kon plunder en die buit kon verdeel (v.29, Luk. 10:22).

Wat beteken hierdie gelykenis? Satan is die sterk man. Jesus is sterker as hy, sodat hy hom en sy demone deur duiweluitdrywing, asook deur sy kruisdood en opstanding kom bind het (Jes. 49:24-25, Ef. 4:8, Kol. 2:15). Ons is die buit. Jesus het ons by die duiwel teruggevat (Jes. 53:12, Hand. 26:18, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8). Nou werk ons deur prediking, sending, en evangelisasie saam met Jesus om mense uit die duiwel se mag te bevry (Hand. 26:18).

Omdat die Fariseërs nie saam met Jesus wou werk om verlore sondaars te vergader nie, was hulle in werklikheid teen Hom en het hulle die mense soos skape verstrooi (v.30, Eseg. 34:6). Enigiemand wat nie aktief vír Jesus is en saam met Hom werk om mense vir die Koninkryk te wen nie—deur gebed, evangelisasie, ’n heilige lewenswandel, of finansiële bydraes vir die Here se werk—werk saam met die duiwel in sy poging om Christus werk te probeer keer (v.30). Jy hoef dus nie ’n Moslem, of Satanis te wees om teen Jesus te wees nie. As jy net ’n morele kerkmens is wat Hom nie met toewyding volg, of op een of ander manier betrokke is om mense vir Hom te wen nie, is jy aan die duiwel se kant en werk jy teen Jesus (v.30).

Hiervoor kan die Here jou egter vergewe as jy jou bekeer (v.31a). Om die waarheid te sê, kan Hy enige sonde vergewe as jy dit bely, jou daarvan bekeer, en om vergifnis vra (v.31a, 1Joh. 1:9, Spr. 28:13). Dit geld as jy moord, of seksuele sonde gepleeg het soos Dawid. Dit geld vir dié wat Jesus se Naam verloën het soos Petrus. Dit geld vir mense wat losbandig was soos die Samaritaanse vrou in Joh. 4. Dit geld vir mense wat in heksery betrokke was soos die Efesiërs in Hand. 19:19. Dit geld vir mense wat afgode gedien het soos die Tessalonisense in 1Tess. 1:9. Dit geld vir mense wat homoseksueel was, of ander sondes gedoen het soos die Korintiërs in 1Kor. 6:9-11.

Selfs as iemand gedink het dat Jesus net ’n mens is, sodat hulle Hom gevloek het en sy Naam gelaster het, kan hulle vergewe word (v.32a, Matt. 27:44, Luk. 23:39-43, 1Tim. 1:12-16, Mark. 3:21, Joh. 7:5, Hand. 1:14, Gal. 1:19, 2:9, Jak. 1:1, Jud. 1:1, vgl. Matt. 13:55). Lastering teen die Heilige Gees is die één sonde wat nié vergewe kan word nie (v.31-32, Luk. 12:10). Wat is hierdie sonde en hoekom sal die Here dit nie vergewe nie?

Lastering teen die Heilige Gees is wat die Fariseërs in die vorige verse gedoen het: hulle het die Heilige Gees se werke aan Satan toegeskryf. Uit Jesus se werke kon hulle duidelik sien dat Hy die Messias is. En tog het hulle dit ontken en gesê dat Hy sy werke deur Satan doen.

Hoe pleeg mense vandag hierdie sonde, veral as ons in gedagte dat Jesus nie tussen ons staan en wonderwerke voor ons oë doen nie? Mense laster teen die Heilige Gees as hulle die evangelie hoor, besef dat dit waar is, sien hoe mense se lewens daardeur verander word, ervaar hoe God sy kinders se gebede beantwoord, sien hoe Hy kragtig in die gemeente werk, maar ten spyte daarvan hulle harte teen Hom verhard en sê dat dit die werk van Satan is.

Leer asseblief dat lastering teen die Heilige Gees nie ’n enkele daad is nie. Dit is eerder die aanhoudende en hardkoppige weerstand van iemand wat duidelik sien dat Jesus die Verlosser en Here is, maar wat dan sê dat Hy nie die ware Messias is nie, maar ’n werktuig van Satan (Heb. 6:4-6, 10:26, 29).1 Louis Berkhof definieer die sonde as volg:

‘…the sin itself consists, not in doubting the truth, nor in a simple denial of it, but in a contradiction of it that goes contrary to the conviction of the mind, to the illumination of the conscience, and even to the verdict of the heart. In committing that sin man wilfully, maliciously, and intentionally attributes what is clearly recognized as the work of God to the influence and operation of Satan. It is nothing less than a decided slandering of the Holy Spirit, an audacious declaration that the Holy Spirit is the spirit of the abyss, that the truth is the lie, and that Christ is Satan.’2

En hoe kan die Here so iemand vergewe as hy hom aanhoudend teen die Gees verset, veral as Hy vir hom probeer wys dat Jesus die Messias is. Hoe kan hy vergewe word as hy nie na Jesus toe wíl kom om vergewe te word nie? Leer dus dat dit nie ’n geval is van iemand wat hom graag wíl bekeer, maar dat die Here hom nie wil vergewe nie. Dit is eerder ’n geval van iemand wat weet dat Jesus die Een is, maar wat hom dan verhard en nie na Jesus toe wíl kom om vergewe te word nie. Die Here gee so iemand oor aan die hardheid van sy eie hart, sodat hy hom nie meer wíl, of kán bekeer nie. Geen hoeveelheid intellektuele oortuiging, wonderwerke, of selfs gebede kan so iemand se hart verander nie (Jer. 7:16, 1Joh. 5:16b). Dit is juis omdat hy hom nie wil, of kan bekeer nie, dat Here hom nie vergewe nie (v.32). Ook as hy in die hel is, is daar vir hom geen vergifnis nie (v.32). John Piper sê:

‘If God says to you, “Never will I forgive you,” then a million ages from now his verdict will be like granite… If all the mountains on the earth were wearing down at the rate of one millimeter every thousand years, blasphemy against the Holy Spirit would still be unforgiven when the face of the earth is as smooth as a billiard ball. It is an eternally unforgivable sin.’3

Hoekom sal die Here so iemand nie in die hel vergewe nie? Want soos die res van die mense in die hel, hou hy aan om hom teen die Here te verset (v.32, Mark. 3:29, Op. 16:10-11). Niemand wat teen die Heilige Gees laster kry later berou oor sy sonde nie. Hy is verhard en vrees nie dat hy miskien hierdie sonde gepleeg het nie.

As jy dus berou het oor jou sonde, vergewe wil word, of bang is dat jy hierdie sonde gepleeg het, het jy dit nie gedoen nie. As jy egter opstandig teen die Here raak, of besig is met sonde in jou lewe, is jy op ’n gevaarlike plek. Jeremy Taylor sê oor die sonde in so iemand se lewe: ‘First it startles him, then it becomes pleasing, then delightful, then frequent, then habitual, then confirmed; then the man is impenitent, then obstinate, then resolved never to repent, then damned.’4

Ek probeer nie sê dat ’n ware Christen hierdie sonde kan pleeg nie. Hy kan nie, omdat geen ware gelowige sy redding kan verloor nie (Joh. 6:37, 39, 10:28-29, Rom. 8:29-30, 38-39, Ef. 1:13-14, Fil. 1:6, 1Pet. 1:5). Dit ís egter moontlik dat iemand wat bely dat hy ’n Christen is maar dit nie is nie, hierdie sonde kan pleeg (1Joh. 2:19). Laat ons daarom waak, in die geloof volhard, en naby Christus en sy Woord bly.

There is a time—we know not when,

a point—we know not where,
That marks the destiny of men

to glory or despair.

There is a line, by us unseen,

that crosses ev’ry path,
The hidden boundary between

God’s patience and His wrath.

To pass that limit is to die,

to die as if by stealth;
It does not quench the beaming eye,

nor fade the glow of health.


The conscience may be still at ease,

the spirit light and gay;
That which is pleasing, still may please,

and care be thrust away.

But on that forehead God has set

indelibly a mark,
Unseen by man, for man, as yet,

is blind and in the dark.

And yet the doomed man’s path below

like Eden may have bloomed,
He did not, does not, will not know

nor feel that he is doomed.

He thinks or feels that all is well,

and ev’ry fear is calmed;
He lives, he dies, he wakes in Hell,

not only doomed but damned!

Oh, where is this mysterious bourn

by which our path is crossed,
Beyond which God Himself hath sworn

that he who goes is lost?

How far may we go on in sin?

how long will God forbear?
Where does hope end, and where begin

the confines of despair?

An answer from the skies is sent,

‘Ye that from God depart,
While it is called “today” repent,

and harden not your heart.’

Oh, come today, do not delay,

too late it soon will be;
To Jesus fly, for mercy cry,

He waits to welcome thee.5


1  Sien my preke, Die Onvergeeflike Sonde en ’n Waarskuwing Teen Geestelike Selfmoord vir ’n verduideliking van hierdie verse in Hebreërs.

2  Louis Berkhof, Systematic Theology (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958 [1939]), 253

3  https://www.desiringgod.org/messages/beyond-forgiveness-blasphemy-against-the-spirit

4  Aangehaal in Augustus H. Strong, Systematic Theology (London: Pickering & Inglis, 1907, 1977), 651

5  The Doomed Man deur J.A. Alexander (1809-1860). Verkry by https://hymnary.org/text/there_is_a_time_we_know_not_when