Die Laaste Waarskuwing

Hebreërs 12:25-29

Daar is vyf waarskuwingstekste in Hebreërs (2:1-4, 3:7-4:13, 5:11-6:12, 10:19-39, 12:14-29). Vandag maak ons klaar met die laaste een. Dalk was dit vir eerste lesers ook die laaste een in dié sin dat daar nie nóg ’n kans vir bekering sou wees indien hulle hierdie een geïgnoreer het en besluit het om die rug te draai op Jesus nie.

Dit kan met jou ook gebeur as jy die Woord gereeld hoor en besef dat dit waar is, maar jou rug daarop draai en jou eie pad kies. “’n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.” (Spr. 29:1). Stuart Olyott sê: ‘Those who persist in walking the road that they have chosen one day cross the invisible line. They cross the thin boundary between God’s patience and His wrath. At last He says, “Enough is enough,” and gives them up. There is no special road which leads to hell. You just have to stay on your present road long enough.’1

Dit laat my dink aan ’n traktaatjie. Aan die buitekant staan daar: What to do to go to hell. As jy die pamflet oopmaak, is dit leeg. Dit is presies wat jy moet doen om hel toe te gaan: niks. Bly soos jy is en jy sal hel toe gaan. Laat niemand dan hierdie laaste waarskuwing in Hebreërs ignoreer nie.

1. Neem die Woord ernstig op (v.25)

Toe ek op skool was, het ’n jong seun en sy vriend met sy pa se haelgeweer gaan skiet. Sover ek die storie onthou, het die seun gemaak of hy sy vriend gaan skiet. Die geweer het per ongeluk afgevuur, sodat hy sy vriend raakgeskiet het. Gelukkig het hy hom nie doodgeskiet nie.

Net soos hierdie jong seun met die haelgeweer gespeel het, speel party mense met God se Woord. Hulle neem dit nie ernstig op nie en val dan onder God se toorn. Hulle is soos die jong seuns in 2Kon. 2:23-25. Hulle wou nie God se Woord hoor nie en het met Elisa gespot. Toe hy hulle in die Here se Naam vervloek, het twee bere uit die woud gekom en 42 van hulle verskeur.

Laat ons dus eerder na God se Woord luister wat Hy deur sy Seun spreek net soos wat die Israeliete moes luister toe Hy op Berg Sinaï gespreek het (v.25, 19, 1:1, Eks. 20:1, Joh. 1:1). Luister na Jesus se bloed wat uitroep dat die Vader ons vergewe (v.25, 19, Luk. 23:34). Moenie soos Israel wees wat die Here afgewys het [Gk. paraiteomai], omdat hulle bang was en nie verder sy stem wou hoor nie (v.19, 25, Eks. 20:18-19). Moenie soos die mense in Luk. 14:18-19 wees en die Koning se uitnodiging van die hand wys nie [Gk. paraiteomai]. Neem die Woord ernstig op. Hoe doen ’n mens dit?

[a] Lees die Bybel, vra die Heilige Gees om jou te help om dit te verstaan, glo wat dit sê, en vra jouself hoe jy daaraan gehoorsaam kan wees.

[b] Moenie sommer net wegbly wanneer die Woord verkondig word nie. As jy vir geen rede wegbly nie, beteken dit dat jy nie veel waarde aan die Woord heg, of dit belangrik ag nie (al sê jy ook anders).

[c] Solank as wat die Woord verkondig word, moet jy nie omgee wie preek nie. Mense wat by die huis bly as hulle gunsteling prediker nie in die kansel is nie, stel meer belang in die prediker as in die Woord.

[d] Moenie net gretig na die Woord luister nie, maar dóén dit. As jy dit net geniet om na preke te luister sonder om dit te doen, is jy lief vir teologiese idees eerder as vir Jesus.

Neem daarom die Woord ernstig op. Toe Israel die wet afgewys het wat God op aarde gespreek het, het Hy hulle gestraf. En dink jy jy sal wegkom as jy Hóm afwys wat uit die hemel neergedaal het om met ons te spreek (v.25, 2:2-3, 10:28-29, Matt. 11:20-24)? Jy hoef net na die kruis te kyk om te sien hoe God oor sonde voel. Hoe sal jy wegkom as jy die evangelie ligtelik opneem en in die weg van sonde volhard?

Dit is geen geringe saak as jy Jesus se kruisdood verwerp om vir jouself ’n weg van verlossing te kies nie (al sluit dit ook ‘goeie’ dinge in soos die doop, stiltetyd, kerkbywoning, en evangelisasie). Soveel as wat God skandelike immoraliteit haat, haat Hy dit as mense selfgeregverdig is. Hy haat dit, omdat mense in effek daardeur sê: ‘Jesus se kruisdood is nie spesiaal, of genoegsaam om my te red nie. My geregtigheid is so goed soos syne. God is nie só heilig nie; Hy haat sonde nie só baie nie. Solank ek my beste doen; solank ek meer goed as sleg doen, sal Hy my vergewe.’ Dit is beter om ’n leeu se welpie by sy ma te steel as om vir die Vader te sê dat sy Seun se dood nie genoeg is nie en dat jy ’n beter manier gevind het om gered te word.

2. Sorg dat jy deel is van die kerk (v.26-28a)

Toe die Nazi’s Londen gebom het, het die Britte veilig in hulle ondergrondse skuilings weggekruip. Net so moet jy in Jesus se nuwe tempel skuil as jy die skudding van sy oordeel wil vryspring. Die Nuwe Testament beskryf Jesus en die kerk as sy nuwe tempel (Joh. 2:19-22, 1Kor. 3:16, Ef. 2:19-22, 1Pet. 2:5-6, Op. 21:22). Dit is hoe ek v.26-28a verstaan: “Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees”.

Die outeur haal Hag. 2:6 aan. Die meeste kommentators dink dat Haggai hier na die wederkoms verwys, maar ek is nie so seker nie. Die konteks van Hag. 2 gaan oor die Israeliete wat die tempel herbou het, nadat hulle teruggekeer het uit Babilon. Hulle was moedeloos, omdat die herboude tempel nie so heerlik was soos Salomo s’n nie (Hag. 2:1-3). Daarom het die profeet hulle bemoedig en gesê: ‘Hou aan bou! God se Gees met julle. Eendag sal Hy die hemel, die aarde, die see, en die droë land skud. Die nasies sal hulle skatte bring, sodat die nuwe tempel se heerlikheid groter sal wees as enige tempel in die verlede’ (Hag. 2:4-9).

Volgens Haggai sou dit oor ’n kort tydjie gebeur (Hag. 2:6). Volgens die Hebreërskrywer is hierdie belofte in sy tyd (‘nou’) vervul (v.26). Ek verstaan die belofte as volg: net soos die Here se stem Sinaï geskud het toe Hy die wet gee (v.26, 18-19, Eks. 19:18-19), het Hy in Hag. 2:6 belowe om nog eenkeer die hemel en die aarde te skud (v.26). Dit het gebeur toe Hy die tempel in 70 n.C. deur die Romeine verwoes het. Net soos wat daar ’n skudding was toe Hy die ou verbond ingestel het (Sinaï), was daar ’n skudding toe Hy die ou verbond finaal tot ’n einde gebring het om die nuwe tempel van die kerk te laat uitbrei.

Sommige sal sê: ‘Die hemel en aarde het nie geskud toe God die kliptempel vernietig het nie.’ Maar die Skrif gebruik kosmiese terme om hierdie skudding te beskryf. Ek glo dat dit simboliese taal is. Petrus het geglo dat hierdie kosmiese skudding in die eerste eeu sou plaasvind (Hand. 2:16, 20), terwyl Jesus die verwoesting van die tempel in soortgelyke terme beskryf het (Luk. 21:6-7, 25-26). Volgens Hom sou dit in eerste eeu plaasvind (Luk. 21:32).

So het God dan die tempel wat met hande gemaak is, geskud en verwyder (v.27). Die Nuwe Testamentiese tempel, of kerk is nié geskud toe God die kliptempel in 70 n.C. verwyder het nie (v.27). Anders as die Ou Testamentiese tempel sal die kerk nooit eindig nie (v.27, Matt. 16:18).

Is jy deel van hierdie kerk (nie noodwendig van ons gemeente nie, maar van die kerk van Jesus Christus op aarde)? Indien nie, wil ek jou aanmoedig om deel te word. Hoe? Bekeer jou, glo die evangelie, kom na Jesus toe, ontvang Hom as jou Verlosser, en vra dat God jou ’n nuwe mens maak en in sy huisgesin ontvang (Mark. 1:15, Joh. 1:12-13, 3:16, 6:35). Glo dat Hy sy belofte sal hou en jou sal red as jy tot Hom roep (Rom. 10:13). Bely jou nuwe geloof deur die doop en sluit aan by ’n gemeente wat Jesus liefhet, die Bybel preek, dit gehoorsaam, dit uitdra, en God in Gees en waarheid aanbid (Joh. 4:24, Hand. 2:38, 41-42).

Iemand sal my kritiseer en sê: ‘God red ons deur Jesus en nie deur die kerk nie.’ Ek weet. Maar jy moet onthou dat Jesus die Hoof is van die kerk (Kol. 1:18). Om dus ’n ‘Lone Ranger’ Christen te wees wat die Here op jou eie dien, is onbybels en bedroef Hom wat sy lewe afgelê het om die kerk te red (Hand. 20:28, Ef. 5:25).

Dalk klink ek vir jou soos ’n Katoliek, of ’n kultus wat sê dat daar geen verlossing buite die kerk is nie. Maar dit is nie wat ek sê nie. Verlossing is in Christus alleen. En tog wil ek jou vra hóé die Here ons red. Hy gebruik die kerk: mense wat die goeie nuus verkondig, of hulle nou leraars, sendelinge, evangeliste, Bybelvertalers, of leke is. Dit is húlle wat Jesus se waarheid soos ’n fakkel dra, sodat mense kan glo en gered kan word (Matt. 28:19, Hand. 13:1-3, 1Tim. 3:15). So maak die Here hierdie mense dan deel van sy Koninkryk: deur die kerk (v.28a, Matt. 16:18-19).

As jy nie hiervan deel is wanneer Jesus weer kom nie, sal Hy jou saam met die heelal wegskud (Heb. 1:11-12, 2Pet. 3:10, 12, 1Joh. 2:17). Net dié wat deel is van sy kerk en sy Koninkryk, sal staande bly. Ek bedoel nie dat jy die Koninkryk erf, omdat jou naam êrens op die lederol van ’n kerk is nie. Ek bedoel eerder dat God jou sy ewige Koninkryk gee as jy geestelik deel is van die kerk: as jy weergebore is en een is met Jesus en sy liggaam, die kerk (v.28a, Luk. 12:32, 22:29).

Laat ons daarom dankbaar wees vir die Koninkryk waarvan ons ’n voorsmakie ontvang het in die kerk (v.28a). Wys jou dankbaarheid deur deel te word van die kerk. Of, as jy reeds deel is: vergader gereeld saam met die gelowiges om die Here te aanbid. Of, as jy gereeld hier is: raak meer betrokke en moedig ander aan om dieselfde te doen. As Jesus sy lewe vir die kerk afgelê het, kan jy sekerlik jou tyd gee.

3. Offer aanneemlike aanbidding (v.28b-29)

Ek ken ’n predikant wat by ’n ander gemeente gaan preek het. Toe hulle klaar gesing het, het hy opgestap om te preek. Die musiekspan het op hulle steitjies gaan sit om aan die slaap te raak. Die prediker het hulle wakker gemaak en gesê: ‘Sit regop. Musiek is nie die enigste deel van aanbidding nie. Prediking is ook aanbidding.’

Eintlik is ’n Christen se hele lewe aanbidding (Rom. 12:1, 1Kor. 10:31). In hierdie gedeelte wil ek egter op gemeentelike aanbidding fokus. Soos reeds gesê, verwys gemeentelike aanbidding nie net na lofliede nie, maar na die nagmaal, gebede, Skriflesings, diensbaarheid, prediking, offergawes, getuienisse, samesyn, en meer. Net soos wat die priesters in die Ou Testament diere geoffer het, bring ons in die Nuwe Testament bogenoemde as geestelike offers (v.28b, 13:15-16, Rom. 15:16, Fil. 4:18, 1Pet. 2:5, Op. 5:8, 8:3-5). Ons offer dit tot die Vader, deur Jesus die Middelaar, in die krag van die Heilige Gees wat dit in ons harte werk (v.28b, 24, Ef. 2:18).

Dit is dan in die eerste plek wat nodig is vir ons aanbidding om aanneemlik te wees: ons moet die Drie-Enige God aanbid. As ons een van die drie Persone uitskakel, is God ontevrede met ons aanbidding. Ons aanbidding is ook onaanneemlik as ons God sonder geloof aanbid nie (Heb. 11:6). Gevolglik stel Hy nie belang in ongelowiges se aanbidding, of in aanbidding wat op Ou Testamentiese rituele fokus en nie op Jesus nie. Ek dink hier aan die aanbidding van kultiese groepe soos die Hebrew Roots Movement.

Verder is dit onaanneemlik as ons God met opregte emosie aanbid, maar Hom nie volgens die Woord aanbid nie. Mense wat Hom so aanbid stel meer belang in ’n lekker gevoel as in God se eer. Die persoon is ook vermetel om te dink dat God sý manier van aanbidding sal aanneem eerder as die manier wat Hy in die Bybel voorgeskryf het. In daardie geval aanbid ons die Here soos Nadab, Abihu, en Ussa (Lev. 10, 2Sam. 6). Hulle het God aanbid soos húlle goed gedink het eerder soos Hy in sy Woord voorgeskryf het. Hiervoor het hulle met hulle lewens geboet.

Dit is ook onaanneemlik as ons God volgens sy Woord aanbid, terwyl ons harte nie in die saak is nie. Ons gaan met ander woorde deur die mosies van aanbidding, maar ons gedagtes is op ’n ander plek. Ons aanbid die Here omdat ons dit móét doen en nie omdat ons wíl nie. Die gepaste emosies van liefde, dank, en eerbied ontbreek.

Om reg te aanbid, moet ons ’n groot siening van God hê en ’n klein siening van onsself. As jy dít onthou, sal jy nie oor ‘ek, my, en ons’ sing, bid en preek nie, maar jy sal God met vrees en eerbied aanbid (v.28b, 21, Ps. 2:11). Dit sal ook daartoe lei dat dit die Gees en die Woord is wat jou hart beweeg eerder as gekleurde ligte, oorverdowende en herhalende musiek, of die mense rondom jou wat emosioneel is.

Tog probeer ek nie sê dat dit verkeerd is as iemand sy hand opsteek terwyl ons sing, of ‘amen’ sê terwyl die Woord verkondig word nie. Mense se persoonlikhede en temperamente verskil. Laat ons dan nie mense probeer dwing om soos ons te aanbid nie. Waar ons aanbidding ooreenstem met die Skrif, ordelik is (1Kor. 14:33, 40), uit die hart kom, deur geloof in Christus en in die vrees van die Here geskied, is dit aanneemlik vir God.

As jy Hom nié so eer en aanbid nie, moet jy onthou dat Hy ’n verterende vuur is wat jou in die hel kan werp (v.29, 18, Deut. 4:24, 5:4, Jes. 33:14, Matt. 10:28, 2Tess. 1:8). Aanbid Hom daarom soos Hy sê, omdat Hý die Een is wat jou geskep en gered het en jou lojaliteit verdien. Jy sal nooit gelukkig wees, of vervulling beleef totdat jy dit doen nie, omdat die Here jou gemaak het om Hom te aanbid. As jy dit nie doen nie, sal jy wees soos ’n vis buite water, of soos ’n voël met geknipte vlerke in ’n hok.


1  Stuart Olyott, Dare to Stand Alone (Darlington, England: Evangelical Press, 1982), 63