’n Motivering om by die kerk aan te sluit

Hebreërs 12:18-24

Ek bedoel nie noodwendig dat jy by óns gemeente moet aansluit nie. Ek bedoel eerder dat jy deel moet wees van ’n Bybelse kerk. My gebed is dat die Heilige Gees Heb. 12:18-24 sal gebruik om jou te motiveer om deel te word van Jesus se kerk in die wêreld, en ook om vir jou te wys wat jy mis as jy nié deel word nie. Laat ek dit onder die skadu van twee berge verduidelik.

1. Berg Sinaï (v.18-21)

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress het Christen uit die Stad van Verwoesting gevlug om na die Hemelse Stad toe te gaan. Evangelis het vir hom gesê om die lig te volg en na die klein hekkie toe te gaan. Toe hy nét weg is, het mnr. Wêreldwys hom voorgekeer en gevra wat fout is. Christen het verduidelik dat hy na die klein hekkie toe gevlug het om van sy sondelas ontslae te raak. Hierop het mnr. Wêreldwys gesê dat hy vir hom beter raad het:

‘Gaan na die dorpie genaamd Moraliteit en vra mnr. Wetties om jou te help om van jou sondelas ontslae te raak. Sy huis is nie ver hiervandaan nie; dit is net agter daardie heuwel.’

Toe hy die ‘heuwel’ nader, toe is dit nie ’n heuwel nie, maar berg Sinaï: “…’n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie” (v.18-19). Christen was vreesbevange. Hy het nie geweet wat hy moet doen nie. Evangelis het tot sy redding verskyn, hom ernstig gewaarsku, hom bestraf, hom vertroos, en hom weer tot op die regte pad gelei.1

Dit is presies wat met die Hebreërs gebeur het. Hulle wou die rug op die Nuwe Testamentiese evangelie keer om terug te draai na die Ou Testamentiese wet toe—hulle wou Jesus vir Moses verruil.

Om te wys hoe dom hulle besluit was, het die Hebreërskrywer hulle aan berg Sinaï herinner: vuur, donkerheid, duisternis, ’n storm, ’n harde trompet, en ’n magtige stem wat gemaak het dat die Israeliete die Here gesmeek het om nie verder met hulle te spreek nie (v.18-19, vgl. Eks. 19:16-20, 20:1, 18-19, Deut. 4:11, 33, 36, 5:4, 22). Hulle het veral gevrees toe die Here ’n bevel gegee het dat selfs ’n dier wat aan die berg raak, gestenig moet word (v.20, Eks. 19:12-13, 21-25). Hulle het besef dat God heilig is en dat geen onrein en gevalle skepsel voor Hom kan kom nie. Selfs Moses het hierdie skrikwekkende God gevrees (v.21, Eks. 19:16, 3:6, Deut. 9:19, Hand. 7:32).

Die outeur probeer wys dat daar onder die ou verbond ’n afstand tussen God en sondaars was. Onder die nuwe verbond het ons vrye toegang tot God deur Jesus Christus (v.22-24, 10:19-22, Ef. 2:12-13). Om Jesus dan vir ’n kliptempel, menslike priesters, en diereoffers te verruil, is om terug te keer na Sinaï en is geestelike selfmoord. Bly daarom by enige gemeente wat die evangelie van genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, volgens die Skrif alleen, tot eer van God alleen verkondig. As jy jou wend tot wettiese groepe wat sê jy moet sekere reëls volg voordat die Here jou sal aanvaar, sal jy vreesbevange raak soos die Israeliete, omdat jy nooit seker kan wees of jy genoeg gedoen het om God se guns te wen nie. Of dit mag wees dat jy hoogmoedig raak en selfverseker is, omdat jy dink dat jy die wet nagekom het en beter is as ander. In daardie geval sal dit goed wees om te besef dat God volmaakte gehoorsaamheid aan die wet vereis en dat Hy jou in die hel sal werp as jy dit nie doen nie (Matt. 5:20, 48, Gal. 3:10, Jak. 2:10).

Sien jy dus dat geloof in die Bybelse evangelie nodig is om jou van hel te red, maar ook om te help dat jy nie van jou kop af raak nie? Net soos wat die Hebreërskrywer sy lesers aangemoedig het om wettiese groepe te los en by die Nuwe Testamentiese evangelie te bly, wil ek jou aanspoor om dieselfde te doen. Moenie eers dink dat jy God se guns kan verdien, omdat jy na Bybelse prediking luister, gereeld stiltetyd hou, eredienste bywoon, bydraes gee, of vas nie. God kyk nie met groter guns na jou omdat jy moreel is, of omdat jou teologie suiwer is nie. Net so min as wat goeie werke jou kan red (Ef. 2:8-9), sal God met guns na jou kyk, omdat jy die Bybel ken en nie aan vals lering vashou nie. Volgens die Bybel red God ons deur geloof alleen en nie deur Calvinisme, of Arminianisme alleen nie (Rom. 3:28, Fil. 3:9). God kyk na ons deur sy Seun, Jesus Christus en nie deur John Wesley, of Johannes Calvyn nie.

My punt is nie om suiwer lering af te maak nie (2Tim. 4:2!). Ek probeer jou eerder aanmoedig om na Jesus te kyk en nie na Moses, of enigiemand anders nie; na die kruis van Jesus eerder as na berg Sinaï. In daardie opsig gee ek nie om hoe suiwer ’n kerk se lering is nie: as Jesus en sy kruisdood nie sentraal is nie, is hulle lering nie suiwer genoeg nie (1Kor. 2:2, 15:1-4, Gal. 6:14). Hoe kan enigiemand immers gered word, sonde oorkom, en geestelik groei as Jesus en sy kruisdood vir sondaars nie sentraal is nie? Die evangelie van Jesus Christus is die fondasie van elke individu en gemeente wat sê dat hulle Christene is.

Glo jy dit? Glo hierdie gemeente, of enige gemeente in jou omgewing dit? Hoekom dan nie saam met so ’n gemeente op die fondasie van die evangelie bou, eerder as wat jy op eie probeer bou nie?

2. Berg Sion (v.22-24)

Een nag het Jakob ’n droom gehad. In sy droom was daar ’n leer wat van die aarde af tot in die hemel gestrek het. Engele het teen die leer op en afgeklim. God het bo-aan die leer gestaan (Gen. 28:11-13). Jesus het gesê dat Hý die leer is; dat dit Hý is wat hemel en aarde aanmekaar verbind (Joh. 1:52, Ef. 1:10, Kol. 1:20). Hý is die Een wat God en sondaars met mekaar versoen. Dit het Hy gedoen deur tussen hemel en aarde aan ’n kruis te hang.

Jesus bring ons nie net in die toekoms tot in die hemel nie. Sodra ons in Hom glo, kry ons ’n voorsmakie van die hemel en deel ons daarin (v.22, Ef. 2:6, Kol. 3:3). Waar gebeur dit? In die kerk. Jesus is die Hoof en ons sy liggaam (Ef. 1:22-23). In Hom word die kerk die plek waar hemel en aarde mekaar ontmoet. Dit word die plek waar ons gemeenskap met die hemel het: “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.” (v.22-24). Prakties beteken dit dat die kerk die enigste plek op aarde is waar jy ’n ervaring van die hemel kan hê. Hiér kom jy tot by die hemelse berg Sion, die stad van lewende God, die hemelse Jerusalem (v.22, Gal. 4:26, Op. 14:1)!

Om deel te wees van die kerk beteken verder dat jy na die hemel met sy tienduisende engele kom (v.22). Die outeur verwys hierna as ’n feestelike vergadering (v.23). In die konteks van berg Sinaï was die engele skrikwekkend (Deut. 33:2). In die Nuwe Testament vier hulle saam met ons fees (v.23). Hulle kyk met belangstelling na wat in die kerk gebeur en voeg hulle stemme by ons s’n wanneer ons die Here prys (v.22, Luk. 15:10, 1Kor. 11:10, Ef. 3:10, 1Tim. 5:21, 1Pet. 1:12). Ons sien hulle nie (Heb. 1:14), maar hulle is daar (v.22). Die feit dat hulle toekyk, beteken nie dat ons hulle moet aanbid nie, maar eerder dat ons saam met hulle die Here moet aanbid (Kol. 2:18, Op. 19:10, 22:8-9).

Ons is ook een met die vergadering van die eersgeborenes (v.23). Die Griekse woord vir ‘gemeente’ [ekklēsia] beteken ‘uitgeroepenes’. Dit verwys na God wat ons uit die wêreld geroep het om syne te wees. Dit verwys na die kerk. Die outeur noem hulle die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeskryf is (v.23, Luk. 10:20, Fil. 4:3, Op. 13:8, 17:8). Hulle is met ander woorde nog nie in die hemel nie, maar hulle name is daar opgeteken. Dus verwys die eersgeborenes na gelowiges wat nog op die aarde lewe. Hulle en hulle alleen is deel van God se kerk op aarde; deel van dié mense wat een met die hemel is (v.22-23, Op. 20:15, 21:27).

Ons het reeds gesien dat hulle die eersgeborenes is (v.23)? Omdat Jesus die Eersgeborene en die Erfgenaam van alles is, is hulle dit deur Hom (Heb. 1:6, Rom. 8:17, 29).

Dis egter nie die punt waarop ek wil fokus nie. Ek wil eerder hê jy moet raaksien dat die kerk op aarde groter is as die Hebreër-gemeente, of as Kemptonpark Baptistekerk, die Afrikaanse Baptistekerke, of die kerk in Suid-Afrika. Ons is deel van die universele kerk; van alle ware gelowiges dwarsoor die wêreld. Dit beteken dat ons nie alleen is wanneer ons bymekaarkom om die Here te aanbid nie. Ons aanbid die Here saam met honderde miljoene ander Christene (Mal. 1:11). Dit sal jou help wanneer jy dink: ‘Ons gemeente is so klein. Daar is so min ware Christene waar ek woon en werk.’ Die kerk is groter as wat ons dink en sal nóg uitbrei voordat Jesus weer kom (Dan. 2:35, Hab. 2:14, Matt. 13:31-32).

Ons kom ook na God die Vader toe wanneer ons van die kerk deel word (v.23). Hy is die Regter van almal: van elke man en vrou en seun en dogter en engel en demoon (v.23). Hy sal hulle deur sy Seun oordeel (Joh. 5:22, Rom. 2:16). Jesus sal ons nie oordeel nie, omdat Hy reeds die straf vir ons sonde gedra het aan die kruis (Joh. 5:24, Rom. 8:1). Daar lê egter ’n oordeel voor vir dié wat Hom verwerp en met hulle sonde aanhou. Hy ken die donker dieptes van hulle harte en sal hulle regverdig oordeel (Gen. 18:25, Pred. 12:14, Hand. 17:31). Hy is nie maar net ’n Regter wat dreig nie, maar Een wat die straf kan uitvoer (Matt. 10:28, Jak. 4:12). Hy is immers die skrikwekkende God van v.18-21!

Is jy ’n gelowige? Dan sal Jesus jou nie veroordeel nie, maar jou volgens jou diens in sy kerk beloon (1Kor. 3:12-15, Heb. 13:17, Jak. 3:1). Doen daarom jou beste as iemand wat weet dat jou lewe, diens, en aanbidding voor God se oë plaasvind (1Tim. 5:21, 6:13-14, 2Tim. 2:14, 4:1-2). Raak betrokke as jy nie by die gemeente betrokke is nie. Hervat jou diens as jy moeg geraak het en verslap het.

Om deel te wees van die kerk beteken verder dat jy kom na die geeste van regverdiges wat volmaak geword het (v.23). Jy is een met dié wat reeds in die hemel is. Hulle liggame is nou wel in die graf, maar hulle geeste is sondeloos-volmaak in die hemel (v.23, Pred. 12:7, Luk. 16:22, 23:43, 2Kor. 5:8, Fil. 1:22-23). Dit beteken nie dat ons met die dooies praat nie, maar dat ons deel is van een massiewe familie wat van die aarde tot in die hemel strek. Ons aanbid God ook nie alleen nie, maar aanbid Hom saam met gelowiges oor alle tye en grense! Dink daaraan: Abel, Moses, Rut, Dawid, Paulus, Petrus, Augustinus, Luther, Spurgeon, oom Andries Rossouw, Martin Lötter, Linda Benade, en miljoene ander Christene is tans besig om saam met ons die Here te aanbid! Ek dink nie ons besef watse groot voorreg dit is om deel te wees van die kerk nie. Besef ons wat regtig aan die gang is wanneer ons saamkom om die Here te aanbid?

Hierdie lewe, gemeenskap, en aanbidding is moontlik as gevolg van v.24: “en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament”. Moses was die middelaar van die ou verbond. Hy het namens die volk met God gepraat en namens God met die volk (Eks. 19:7-9, 20:19). Jesus is die Middelaar van die nuwe verbond en is beter as Moses. Hy is waarlik God en waarlik mens (Matt. 1:23, Joh. 1:1, 14, 20:28, Gal. 4:4). Daarom kan Hy namens die Vader met ons praat (Joh. 1:18) en namens ons met die Vader (1Tim. 2:5). Dit beteken dat jy niks meer as Jesus nodig het om ’n Christen te word en na die Vader toe te kom nie (Joh. 14:6).

Laastens kom ons na die bloed van die besprinkeling wat ’n beter woord spreek as Abel (v.24). Wat beteken dit? Abel se bloed het van die aarde af geroep dat God wraak moes neem oor Kain wat hom vermoor het (Gen. 4:10). Jesus se bloed roep van die kruis af dat die Vader sondaars sal red en vergewe (Luk. 23:34, Heb. 10:22, 1Pet. 1:2, 18-19). Jesus se bloed, of dood vir ons sonde is sentraal tot wie en wat die kerk is. Ons weet dat ons nie sou bestaan het as dit nie vir die bloed van Jesus was nie. Daarom herdenk ons dit gereeld in die nagmaal (1Kor. 11:23-26). Ons verkondig dit (1Kor. 1:23) en ons sing daarvan in die hemel en op aarde (Op. 5:9).

Laat ons nooit vergeet wat Jesus vir ons gedoen het nie. Dit sou so goed wees jy vergeet dat jy bestaan. Onthou dus hoe die Here jou by berg Sinaï van jou sonde oortuig het, hoe Hy jou op die heuwel van Golgota kom red het, hoe jy Hom nou aan die voet van berg Sion aanbid, en hoe die hemelse Jerusalem eendag uit die hemel na die aarde toe sal neerdaal.2

Ek hoop jy kan sien watse groot voorreg dit is om deel te wees van die kerk, of dat jy deel sal word as jy nog aan die buitekant staan en inkyk.


1  John Bunyan, Pilgrim’s Progress (Geanies House, Fearn: Christian Focus Publications, 2005), 24-31

2  http://brackenhurstbaptist.co.za/a-glorious-privilege/