Persoonlike Probleme: Pyn en Lyding

Job 1-42

In 1993 het ’n paar gewapende mans by St James Kerk in Kenilworth ingestap. Elf mense is dood en nog 55 gewond. In 1967 het die 17-jarige Joni Eareckson in vlak water ingeduik en haar nek gebreek. Sy is al vir 57 jaar ’n kwadrupleeg. Laasweek het rowers by ’n huis in Muldersdrift ingebreek. Hulle het die man vasgebind en die ma met haar twee dogters verkrag (46, 15 en 11 jaar oud).

Lyding is ’n hartseer deel van die post-Gen. 3 wêreld. Nie een van ons sal lyding vryspring nie; ons moet dit verwag (Hand. 14:22, 1Tess. 3:3, 1Pet. 2:21, 4:12). Die vraag is hoe ’n mens sin maak van lyding. Sommige sal sê dat lyding nie bestaan nie, maar dat dit ’n illusie is (dink byvoorbeeld aan die Christian Science beweging). Ander glo dat lyding bestaan, maar hulle sê: ‘Cowboys don’t cry; grin and bear it.’ Volgens ander is God nie goed nie, óf Hy is nie almagtig nie. As Hy goed en almagtig was, sou Hy die lyding kon keer. Maar dit is hoe die wêreld oor lyding dink. In die boek Job het ons ’n beter antwoord.

1. Die tragedie (hfst. 1-2)

Op ’n moderne wêreldkaart lê Us in die Noord-Weste hoek van Saudi-Arabië (sien Klaagl. 4:21). Dit is waar Job gewoon het (1:1). Job het na Noag gelewe. Ons weet dit omdat die nasies na Noag ontstaan het (Gen. 10:23) en ons in Job 12:23 van die nasies lees. Job het omtrent in die tyd van Abraham, Isak, en Jakob gelewe. Die Hebreeuse teks van Job 42:11 praat van ’n geldeenheid wat ’n qesitah genoem word. Hierdie Hebreeuse woord kom net op twee ander plekke in die Bybel voor, naamlik in Gen. 33:19 en Jos. 24:32. Beide tekste verwys na ’n qesitah wat deur Jakob gebruik is.

Job het regtig bestaan en is nie ’n mite soos my Griekse dosent geglo het nie. Indien Job net ’n mite is, maak Jak. 5:11 nie sin nie: “Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.” Hoe bemoedig jy mense wat ly deur vir hulle te sê dat Goue Lokkies, of die Gummy Bears ook gely het?

Job was ’n heiden en nie ’n Israeliet nie. Sy naam beteken ‘een wat vervolg’ word. Hy was opreg, het God gevrees, en het vir die sonde gevlug (1:1, 8, 2:3, Eseg. 14:14, 20). Hy was die rykste van al die mense in die Ooste en het tien kinders gehad (1:2-3). Omdat hy bang was dat een van sy kinders miskien teen die Here gesondig het, het hy elke dag offers gebring en vir hulle ingetree (1:5).

Maar toe gebeur daar iets agter die skerms; iets waarvan Job nie geweet het nie. Luister hoe Job 1:6-12 dit beskryf: “En op ’n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die Here te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die Here vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die Here en sê: Van ’n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. En die Here vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. En die Satan antwoord die Here en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! Daarop sê die Here aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die Here.” (vgl. Job 2:1-6).

Hierna het die beproewings soos golwe oor Job gekom. Die Sabeërs het hom uit Jemen in die Suide aangeval: hulle het sy osse en donkies gevat en sy slawe doodgemaak (1:14-15). Van die Rooi See af in die Weste het daar weerlig gekom: dit het sy skape en sy slawe getref (1:16). Die Chaldeërs uit die Noorde het sy kamele gevat en sy slawe doodgemaak (1:17). ’n Woestynwind uit die Ooste (Hos. 13:15) het die huis omgewaai waarin sy kinders was (1:18-19). Job het pynlike swere gekry. Die swere was vol wurms en etter. Sy vel het swart geword en rowe gemaak wat weer oopgebreek het. Sy bene het soos vuur brand (sien 2:7-8, 7:5, 30:30). Satan het Job ook deur sy vrou versoek om die Here te vloek (2:5, 9-10). Wat leer ons uit hierdie rampe?

[a] God is soewerein oor ons beproewings. Niks gebeur buite sy beheer nie (Ef. 1:11).

[b] Satan is nie soewerein oor ons beproewings nie, maar is aanspreeklik teenoor God (1:6-7, 2:1-2). Hy kan nie doen wat hy wil nie, maar net wat die Here hom toelaat (1:12, 2:6).

[c] Ons sien nie wat agter die skerms gebeur nie en kan daarom nie ons beproewings akkuraat opsom nie. Laat ons eenvoudig glo dat die Here met ons is wanneer ons swaarkry (Jes. 43:2, Heb. 13:5).

2. Die worsteling (hfst. 3-37)

Job het in ’n diep depressie geval. En tog het hy nie die Here vervloek soos Satan gehoop het nie (1:11, 2:5). Hy het eerder sy geboortedag vervloek (hfst. 3, 10:18-19). Hy het gewens om te sterf en het gewonder hoekom sy opregte lewe en sy gebede vir sy kinders nie gehelp het nie (1:1, 5, 3:21, 25). Dit is seker een van die moeilikste beproewings: as iets gebeur wat nie pas by die manier waarop jy God en die Bybel verstaan nie; iets wat teologies nie sin maak nie.

Dit is wat met Job gebeur het, veral toe dinge erger raak. Sy vriende het gekom om hom te troos (2:11), maar op die einde het hulle hom gekritiseer. Hulle het vir drie rondtes met hom gepraat en Job het hulle geantwoord. Hulle het hom valslik beskuldig. Hulle was sarkasties en onsensitief. Job self het nie altyd reg gepraat nie.

Rondte 1

Elifas (hfst. 4-5): ‘Ly jy omdat jy God gevrees het (4:6)? Ek het nie so gedink nie. Onskuldige mense ly nie so nie, Job (4:7). Jy maai wat jy gesaai het (4:8). Jou kinders is dood, omdat ’n regverdige persoon jou vervloek het (5:3-4). As jy die Here soek, sal Hy jou voorspoed herstel en vir jou ’n nageslag en ’n lang lewe gee (5:19-26). Ek weet dit deur ’n gees wat in drome en visioene aan my verskyn het (4:12-16). Ek het dit ook deur deeglike navorsing ontdek (5:27).’

Elifas verteenwoordig mense wat sê: ‘As dit met jou sleg gaan, wys dit dat jy een of ander sonde gedoen het. Vir dinge om beter te gaan moet jy lewe spreek en nie dood nie.’ Om egter so te redeneer, is onsensitief. Dit is ook onsensitief om te maak of jy al die antwoorde het, omdat jy navorsing gedoen het. Jou teoretiese antwoorde oor mense se lyding beteken niks as jy self nog nie daar was nie.

Job (hfst. 6-7): ‘Dit sal nooit weer goed gaan nie (7:7). Los my net uit Here; laat my asseblief sterf (7:12-21).’

Om hartseer te wees is een ding. Om egter wanhopig te raak soos Jakob (Gen. 37:35), of soos Job is iets anders. Dit laat my dink aan ’n jong meisie wat in ’n karongeluk oorlede is. Toe ek haar ma vier jaar vra hoe dit gaan, toe sê sy: ‘Dit sal seker nooit weer goed gaan nie.’ Ek wil nie onsensitief wees teenoor die tannie nie, maar om so te praat, skep die idee dat daar nie eers by die Here hoop is nie. Moet ons nie eerder volgens 1Tess. 4:13 ly nie: “sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie”?

Bildad (hfst. 8): ‘God het jou kinders getref, omdat hulle teen Hom gesondig het (8:4). As jy jou bekeer sal die Here jou rykdom herstel (8:5-7). Ek het hierdie dinge by die wyse voorvaders geleer (8:8).’

Moenie soos Bildad, die Hindoes, of die Boeddhiste met gekruisde bene sit, oor ander mense se pyn filosofeer, en boeke skryf om dit op te los nie. Bly stil as jy nog nie gely het nie. Eers as jy self gely het, kan jy ander mense effektief help (2Kor. 1:3-4).

Job (hfst. 9-10): ‘Wat help dit ek probeer reg lewe as U my buitendien gaan verdoem, omdat ek ’n sondaar is (9:29-31)? Laat my asseblief met vrede voordat ek sterf en in die duisternis neerdaal (10:20-22).’

Al was Satan agter Job se lyding het hy erken dat God soewerein is oor alles. Dan lê die oplossing vir jou lyding nie daarin dat jy vloeke moet breek, demone moet bind, of jou huis met olie moet salf nie. Jy moet eerder die soewereine God aanroep en jou hart voor Hom uitstort (Ps. 62:9).

Sofar (hfst. 11): ‘Jy verstaan nie die diep dinge van God nie Job, maar ék weet hoekom jy ly (11:7-8). As jy jou sonde los en die Here aanroep, sal jy voorspoedig wees (11:13-19).’

Job (hfst. 12-14): ‘Ek weet so goed soos julle dat God my lyding beheer (12:3, 7-25, 13:1-2)! Die vraag is hóékom Hy dit doen. Ek wens dat ek my saak voor Hom kan stel—ek wéét ek sal reg wees (13:15, 18). Laat ek praat, dan antwoord U my, Here (13:22)!’

Wees eerlik met die Here, maar moet Hom nie uitdaag en eis dat Hy jou antwoord nie. Om kwaad te wees vir God is sonde, selfs al sê jou sielkundige anders.

Rondte 2

Elifas (hfst. 15): ‘Jy ly pyn en het jou rykdom en kinders verloor, omdat jy boos is en die Here verag (15:20-21, 25-29). Ek weet dit, omdat ek ouer is as jy (15:10, 18).’

Let op dat wat jy oor God glo, bepaal hoe jy lewe. Job se vriende het geglo dat lyding in enige vorm God se straf oor mense se sonde is. Om hierdie rede het hulle Job verag eerder as om simpatie te betoon. Maak dus seker dat jy ’n regte Godsbeskouing het. Om dit reg te kry, kan jy ’n studie van Jesus se karakter in die vier Evangelies maak, of bid en nadink oor Ps. 139, 145, Jes. 40.

Job (hfst. 16-17): ‘My oë is rooi gehuil al het ek niks verkeerd gedoen nie (16:16-17). Die graf is gereed vir my (17:1). Ek het geen hoop as ek sterf nie (17:13-15).’

Wanneer jy swaarkry, moet jy nie soos party mense wens om te sterf, of planne maak om jou eie lewe te neem nie. Maar jy moet ook nie die dood vrees en vergeet dat Jesus dit oorwin het nie (2Tim. 1:10, Heb. 2:14-15, Op. 1:18).

Bildad (hfst. 18-19): ‘God stuur swere oor die goddelose (18:13). Sy nageslag sterf en daar is geen oorlewendes waar sy huis was nie (18:19).’

Job (hfst. 19): ‘My familie, my vriende, en my eie vrou het my vergeet (19:13-19). Ontferm julle asseblief oor my, my vriende (19:21).’

Moenie jou vriende vergeet as hulle swaarkry nie. Dalk vermy jy hulle, omdat jy nie weet wat om vir hulle te sê nie. Sê iets deur jou dade. Koop vir hulle ’n geskenk, skryf vir hulle ’n kaartjie, sit jou hand op hulle skouer, of WhatsApp ’n gepaste Bybelvers.

Sofar (hfst. 20): ‘Jy het alles verloor en siek geword, omdat jy boos is en die armes verdruk het (20:19, 23, 28-29). Ek weet dit, omdat my gesonde verstand so sê (20:2-3).’

Soms is lyding die gevolg van ’n persoonlike sonde (Ps. 32, 38, 51). Maar dit is nie altyd die geval nie. Moet dus nie aanneem dat iemand wat ly een of ander sonde gedoen het nie (Joh. 9:1-3). Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek ’n tannie in die hospitaal besoek. ’n Ander predikant het daar aangekom en onmiddellik gesê: ‘Het jy ’n sonde gedoen dat jy so siek is?’ Maar om so te redeneer is nie noodwendig reg nie. Ons moet eerder Jesus se woorde in Luk. 13:2-5 onthou: “Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”

Job (hfst. 21): ‘Wat van al die bose mense met wie dit goed gaan (21:7-16)? Julle vertel ’n spul leuens (21:34).’

Rondte 3

Elifas (hfst. 22): ‘Los jou geldgierigheid en luister na God se woorde wat Hy deur ons spreek; dan sal Hy jou herstel en sal Hý jou goud wees (22:21-27).’1

Waar mense ly, moet jy mooi dink voordat jy sê dat jy namens die Here praat. Hy vat dit nie ligtelik as mense sy kinders seermaak en onsin in sy Naam praat nie.

Job (hfst. 23-24): ‘Ek wens ek kan die Here vind om my saak voor Hom te stel (23:3-9). Ek wil Hom vra hoekom Hy so onregverdig is (24:1).’

As jy oor die heelal regeer en alles weet, kan jy besluit wat regverdig is en wat nie. Maar omdat jy nie God is nie, moet jy besef dat jy sekere dinge nie weet nie (Deut. 29:29), asook dat die Here jou lyding tot jou voordeel sal uitwerk (Gen. 50:20, Rom. 8:28-29).

Bildad (hfst. 25): ‘Niks en niemand is rein voor God nie—jy ook nie’ (25:4-6).’

Job (hfst. 26-31): ‘My gewete pla my nie (27:4-6). Ek het nie die armes verdruk soos julle sê nie, maar ek het hulle gehelp (29:12-17). Ek is nie bewus van ’n geheime sonde in my lewe nie (hfst. 31). Here, antwoord my (31:35)!’

Vra jy: ‘Wat het ek verkeerd gedoen dat die Here my so straf?’ Pla jou gewete jou en het jy die Bybel oortree? Indien wel, moet jy jou sonde bely en jou bekeer. Indien nie, moet jy ophou om jouself te kasty.

Bonus Rondte

Elihu (hfst. 32-37): ‘God straf jou vir jou sonde (34:8, 11, 36-37). Hy sal jou nie antwoord nie (35:13, 37:24).’

Elihu het niks nuut gesê nie. En tog was hy reg oor die Messias as Job se enigste hoop (33:22-28). Job self het besef dat hy ’n Middelaar nodig het om voor God te kom (16:19, 21). Hy het daarna verlang om die Messias by die finale opstanding te sien (19:25-27). Soos Job moet ons verder kyk as ’n lewe van voorspoed hier op aarde. Soek na die ewige lewe in God se teenwoordigheid.

Maar hoe kan ek wat ’n sondaar is voor ’n heilige God verskyn? Ons benodig Job se Middelaar wat waarlik God en mens is en die twee bymekaar kan uitbring (9:32-33, 1Tim. 2:5). Die vraag is of Hy jóú Middelaar is? Is Hy jóú Rots, Verlosser, en Vriend? Indien wel, is jy nie alleen in jou lyding nie en het jy die wonderlike vooruitsig van ’n lewe saam met Hom.

3. Die herstel (hfst. 38-42)

God het aan Job verskyn soos hy gevra het: ‘Waar was jy toe Ek die heelal geskep het (38:4-11)? Kan jy die weer, of die konstelasies beheer (38:22-38)?2 Het jy vir die wilde diere hulle fantastiese vermoëns gegee en kan jy vir hulle sorg (39:1-33)? Kyk na Behemot en Leviatan wat Ek gemaak het (40:10-41:25).3 Hulle is magtige skepsels. Kan jy teen hulle veg? As jy dan nie eers die skepping kan beheer nie, hoe wil jy Mý uitdaag?’

Job het besef dat God se weë te kompleks is om te verstaan. Hy het sy hand oor sy mond gelê en vergifnis gevra dat hy die Here bevraagteken het (42:1-6).

Die boek eindig waar die Here Job se rykdom en familie herstel en vir hom ’n lang lewe gee (42:10-17). Hy doen dit nie as ’n beloning omdat Job goed was nie, maar vir wyse redes wat ons nie verstaan nie. Die les is duidelik: God se weë is nie ons weë nie (Jes. 55:8-9). Daarom weet ons nie altyd hoekom die regverdige ly nie en moet ons 1Pet. 5:6-11 toepas wanneer ons ly:

  • Onderwerp jou aan God en wag dat Hy jou op die regte tyd uithelp (v.6).
  • Weet dat Hy vir jou omgee en werp jou sorge op Hom (v.7).
  • Pasop vir die duiwel (v.8).
  • Weet dat jy nie alleen ly nie, maar dat daar ander Christene is wat saam met jou ly (v.9).
  • Jesus kom amper weer en dan sal jou lyding vir ewig verby wees (v.10).
  • Buig voor Hom wat oor alles en almal regeer (v.11).

Dit laat my dink aan ’n man wat breinkanker gehad het. Toe hy op sy sterfbed gelê het, toe vra hy sy vriend:

‘Rick, is God soewerein oor my breinkanker?’

‘Ja, Hy is,’ het Rick hom geantwoord.

Die siek man het trane in sy oë gekry, sy kop op die kussing neergelê, geglimlag en gesê: ‘Dan is dit moontlik om hierdie lyding te verduur.’


God is soewerein oor jou lyding. En tog moet jy nie die idee kry dat Hy koud en afsydig teenoor jou staan nie. Onthou dat Jesus aan die kruis gesterf het, dat Hy jou lyding volkome verstaan, en dat Hy op die bepaalde uur sal terugkeer om finaal daaroor te triomfeer.


1  Elifas beteken ‘God is my goud’. Wat hy dus eintlik vir Job gesê het, is: ‘As jy soos ék is, sal die Here jou herstel.’

2  Alhoewel die inhoud van die Afrikaanse en Engelse Bybel dieselfde is, verskil die versindeling van Job 38:38 tot aan die einde van hoofstuk 41.

3  Ongelukkig vertaal die Afrikaanse Bybel dit met seekoei en krokodil. Jy hoef egter net die beskrywings te lees om te weet dat hierdie hoofstukke nie oor ’n seekoei en ’n krokodil gaan nie. Die outeur verwys eerder na twee soorte dinousorusse. Sommige sal sê dat daar nie dinosourusse in Job se tyd was nie, maar jy moet onthou dat die dood eers in die wêreld ingekom het nadat Adam en Eva gesondig het (Gen. 3:14, 17, Rom. 8:19-22).