’n Geloof om na te volg

Hebreërs 11:29-40

Toe ek ’n kind was, het my leraar in sy preke illustrasies uit die kerkgeskiedenis gedeel. Sodoende het hy die geloof sigbaar, tasbaar en werklik gemaak, sodat mense dit kon navolg. Om dieselfde rede moet ons die Ou Testament lees en uit mense se foute en suksesse leer (Rom. 15:4, 1Kor. 10:11, Heb. 6:12, 13:7). Dit is ook die boodskap wat Heb. 11:29-40 aan ons wil oordra.

1. Wonderwerkende geloof (v.29)

Die meeste van ons ken die geskiedenis van die Slag van Bloedrivier. Omtrent 450 Voortrekkers het die Here gevra om hulle teen meer as 10 000 Zoeloes te beskerm. Slegs drie Voortrekkers is lig gewond, terwyl meer as 3000 Zoeloes gesterf het. So het die Here die Voortrekkers se gebed verhoor en hulle beskerm. Dit is wat ek bedoel met wonderwerkende geloof.

Dit is ook wat in Eks. 14 gebeur het. Die Israeliete was vasgekeer tussen die Rooi See, die Egiptenare, die berge en die woestyn. Hulle kon nêrens gaan nie. Die Here het die Rooi See oopgemaak en hulle beveel om deur te trek. Hulle het die Here geglo en Hom gehoorsaam. Hulle het geglo dat Hy die See sou ophou, totdat hulle veilig deur is. Dit het inderdaad so gebeur (v.29). Toe die Egiptenare dieselfde wou doen, het die watermure ineen gestort en hulle verdrink. Hulle het aangeneem dat die see vir hulle sou oopbly, maar dit het nie. In Engels noem ons dit ‘presumption’. Dit is soos die seuns van Skeva wat aangeneem het dat hulle demone in Jesus se Naam kan uitdryf, omdat dit Paulus dit doen. Die demoon-besete man het hulle ’n pakslae gegee (Hand. 19:11).

Moenie veronderstel dat die Here jou gunstig sal ondersteun as jy dinge doen wat Hy jou nie beveel het nie. Dit is hoe Jesus dit verstaan het, en daarom het Hy nie van die tempel se dak af gespring toe die duiwel Hom beveel het nie (Matt. 4:5-7). Dit laat my dink aan ’n man wat nie sy gemeente se goedkeuring en ondersteuning gehad het nie, maar in die ‘geloof’ sendingveld toe is. Daar aangekom, toe vra die sendingorganisasie: ‘Wie ondersteun jou?’ ‘Ek gaan in die geloof lewe,’ het hy geantwoord. Hulle het nie sy antwoord aanvaar nie, maar het vir hom gesê om na sy tuisland toe terug te keer. Indien jy wonder waar die arme man ’n vliegtuigkaartjie moes kry, kom die antwoord: ‘Hy kon in die “geloof” doen.’

Wat probeer ek sê? Jy kan nie doen wat iemand anders doen en dink die Here sal dit seën nie. Jy kan net iets doen as die Here jou spesifiek daarvoor geroep het, as jou roeping ooreenstem met die Bybel, en as ander volwasse Christene dit bevestig. Anders is dit jou eie besluit waarop jy nou die Here se stempel soek. En waar dít die geval is, lewe jy nie in die geloof nie, maar volgens jou eie veronderstellings.

As die Here egter iets belowe het, is dit ’n ander saak. Dan kan jy glo dat Hy vir jou sal deurkom; selfs al beleef jy die grootste krisis van jou lewe (soos die Israeliete in v.29). As jy byvoorbeeld ’n ernstige finansiële krisis het, kan jy God se beloftes glo en daarvolgens lewe. As jy God en sy Koninkryk eerste stel met jou finansies belowe Hy om vir jou te sorg (Spr. 3:9-10, Matt. 6:33). Hy belowe om jou nooit verlaat nie (Heb. 13:5). Hy belowe om jou uit te help as jy Hom aanroep (Ps. 50:15).

2. Volhardende geloof (v.30)

Douglas Kelly vertel van ’n Skotse vrou wat vir 53 jaar vir haar vriendin se bekering gebid het. Die Here het haar gebed verhoor en haar vriendin gered.1 Laat ons soos sy ’n volhardende geloof hê. Toe die Here belowe het om Jerigo se mure te laat platval as die Israeliete vir sewe dae om die stad loop, het hulle dit gedoen (v.30, Jos. 6). Die mure het nie na die eerste, tweede, of selfs vyfde dag inmekaar getuimel nie. Dit het eers op die sewende dag gebeur soos die Here gesê het.

Soos húlle, moet jy nie opgee omdat jy die Here vir langer as ’n paar dae moet vertrou nie. Moenie moedeloos raak, omdat jy al lank oor ’n situasie bid nie. As jy oortuig is dat dit ’n belofte uit God se Woord is, moet jy aanhou bid totdat die Here antwoord (vgl. Jes. 62:6-7, Luk. 11:5-13, 18:1-8). Waar jy nie ’n belofte het nie, moet jy volhard maar soos Jesus in Getsemane sê: ‘Nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.’

Leer ook dat ’n eenvoudige aksie soos geloof groot dinge kan vermag. Wie sou kon dink dat Jerigo se massiewe mure sou omval, omdat die Israeliete vir sewe dae om die stad geloop het? So ook kan iemand wat God se beloftes glo en aanhou bid, die onmoontlike regkry (Matt. 21:22). Glo jy dit? Wys jou geloof deur aan te hou bid.

3. Reddende geloof (v.31)

Meiringspoort naby Oudshoorn is een van die mooiste plekke wat ek in my lewe gesien het. Ek wou my belewenis met ander deel en het toe ’n paar foto’s geneem. Dit was egter nie dieselfde nie. ’n Mens kan dit nie regtig op ’n kamera vasvang nie—jy moet dit vir jouself sien.

Net so kan ek nie mooi verduidelik wat redding is as jy dit nie soos Ragab beleef het nie. Volgens Josua 2 was Ragab nie ’n Israeliet nie, maar van die land Kanaän. Sy was ’n prostituut wat afgode aanbid het. Êrens langs die pad het sy gehoor dat die God van Israel die Egiptenare verslaan het, dat Hy sy volk deur die Rooi See laat trek het, en dat Hy Israel se vyande anderkant die Jordaanrivier oorwin het. Sy het besef dat haar gode vals is en dat Jahwe die ware God is. Sy het nie ongehoorsaam gebly soos die res van haar volksgenote nie, maar het in die Here geglo. Sy het geglo dat Hy Kanaän vir die Israeliete gaan gee. Toe twee spioene van Israel gekom het om haar stad (Jerigo) te verken, het sy hulle nie aan haar eie mense uitgelewer nie, maar op haar huis se dak weggesteek. Sy het hulle gevra om haar lewe te spaar as hulle die stad verower. God het haar geloof geëer en haar lewe gespaar (v.31, vgl. Jos. 6).

Wat is jóú sonde? Glo jy soos Ragab dat die Here jou kan vergewe? Glo jy dat Hy Jesus se kruisdood in jou plek sal aanvaar (Joh. 3:16)? Glo jy die belofte dat Hy jou sal red as jy Hom aanroep (Rom. 10:13)? Glo jy sy belofte dat Hy jou sal vergewe as jy jou sonde bely (1Joh. 1:9)? Indien wel sal Hy jou verander, red, en vergewe, selfs al het jy reeds vir dekades teen Hom gesondig en is jou sonde baie groot (v.31, 1Kor. 6:9-11).

4. Triomferende geloof (v.32-35a)

Soms wil ons die bonatuurlike wegredeneer, asof daar ’n natuurlike verduideliking is vir alles. Ons besef nie hoe kragtig geloof en gebed is nie (of liewer hoe kragtig die Een is in Wie ons glo en tot Wie ons bid). Die geloofshelde (bv. van v.32) het dit besef, sodat die Here groot dinge deur hulle vermag het.

[a] Hulle het koninkryke oorweldig (v.33)

Omdat hulle op die Here vertrou het, het Hy magtige konings soos Sihon en Og deur hulle verslaan (Num. 21). Josua het die konings van Kanaän verslaan. Barak en Jefta het met min soldate groter weermagte as hulle s’n verslaan (v.32, Rigt. 4, 11).

Soos húlle kan ook óns deur die geloof en gebed groot oorwinnings vir die Here behaal. Nehemia het die Here aangeroep en Jerusalem se mure herbou (Neh. 1:4, 2:4, 8). Deur Daniël se gebede het die Here ’n nasie se toekoms verander (Dan. 10, vgl. Eseg. 22:30). Ons moet die Here aan sy belofte herinner dat Hy nasies aan sy Seun belowe het (Ps. 2:8, 22:28-29). Ons moet bid dat Suid-Afrika en die ander nasies die knie voor koning Jesus sal buig. Ons moet bid dat sy Koninkryk kom (Matt. 6:10). Ons moet bid dat die Here politieke leiers sal red, sodat die gelowiges ’n stil en rustige lewe kan lei sonder vervolging (1Tim. 2:1-2).

[b] Hulle het reg laat geskied (v.33)

Konings soos Salomo (1Kon. 2-3) en Josia het geregtigheid laat geskied (2Kon. 22-23). Daar was vrede en hervorming onder hulle regeringskap.

[c] Hulle het die beloftes verkry (v.33)

Josua het geglo dat die Here vir hulle die Beloofde Land gaan gee. Daniël het God se belofte geglo dat Israel uit Babilon bevry sou word (Dan. 9:2-3). Dawid het God se belofte geglo dat Een uit sy nageslag vir ewig op die troon sal sit (2Sam. 7).

[d] Hulle het leeus se bekke toegestop (v.33)

Simson en Dawid het op God se krag vertrou en leeus doodgemaak (Rigt. 14:5-6, 1Sam. 17:34-37). Daniël het op die Here vertrou om die leeus se bekke te sluit (Dan. 6).

[e] Hulle het die krag van vuur uitgeblus (v.34)

Daniël se drie vriende het geglo dat God hulle in die vuuroond sou beskerm. Die vuur het hulle nie gebrand nie. Hulle hare het nie geskroei nie en hulle klere het nie na rook geruik nie (Dan. 3).

[f] Hulle het die skerpte van die swaard ontvlug (v.34)

Toe Dawid vir Saul gevlug het, het die Here hom nie in sy hand oorgelewer nie (1Sam. 19-26). Die Here het nie toegelaat dat koningin Isebel vir Elia doodmaak nie (1Kon. 19:1-3). Toe die konings van Sirië en Israel vir Elisa wou doodmaak, was hulle onsuksesvol (2Kon. 6-7).

[g] Hulle was swak, maar het krag ontvang (v.34)

Toe Dawid ’n jong seun was, het hy die Here vertrou om hom krag te gee om ’n reus dood te maak (1Sam. 17). Nadat Simson se hare afgeskeer is en hy swak was, het hy die Here vir krag gevra en meer as 3000 Filistyne op een slag doodgemaak (Rigt. 16:28-30).

Voel jy swak en hulpeloos? Onthou dat die Here sy krag deur jou swakheid wys (v.34, 2Kor. 12:9). Die rede hoekom Hy dit so doen, is sodat jy nie in jouself sal roem nie, maar in Hom (Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:26-31).

[h] Hulle was dapper in die oorlog (v.34)

Omdat Dawid se dapper manne op die Here vertrou het, het Hy by verskeie geleenthede ’n individu gebruik om ’n hele weermag te verslaan (2Sam. 23:8-12). Hy het hulle ook krag gegee om reuse te verslaan (2Sam. 21:15-22).

[i] Hulle het die vyand laat vlug (v.34)

In Rigt. 7 het Gideon se 300 soldate (gewapen met kleipotte en fakkels) tienduisende Midianiete verslaan. Nadat Dawid vir Goliat doodgemaak het, het die Filistyne soos meisiekinders gevlug (1Sam. 17:51). Volgens 2Kron. 20 het koning Josafat die Here aangeroep om hulle teen die vyand te help. Die Here het hom gerus gestel en gesê dat dit nie nodig sal wees om te baklei nie, omdat die vyand mekaar sou doodmaak. Dit het gebeur toe die Israeliete begin het om die Here te prys.

Voel dit vir jou of jy aanhoudend deur die duiwel versoek word? Vertrou op die Here en glo dat Hy die vyand kan laat vlug (v.34, Jak. 4:7).

[j] Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry (v.35a)

Beide en Elia en Elisa het vir vroue se kinders gebid en hulle uit die dood opgewek (1Kon. 17:17-24, 2Kon. 4:18-37). Die geloof in hierdie vers verwys na die profete se geloof eerder as na die vroue s’n. Soos die profete moet ek en jy verder kyk as na die sigbare. Sien die onsigbare God en sy beloftes deur die geloof (v.1). Glo dat Hy die onmoontlike kan verrig (Jer. 32:17, 27, Matt. 19:26, Luk. 1:37, Ef. 3:20).

Ja, die geloofshelde se geloof was nie perfek nie. Daar was baie sonde in hulle lewens. En tog het hulle die Here behaag, omdat hulle Hóm vertrou het vir die uitkoms, vir wysheid, vir krag, ensovoorts. Dan is die vraag nie hoe slim, geleerd, sterk, of ryk jy is nie, maar of jy soos bogenoemde karakters geloof het en die Here vertrou. Indien wel, sal Hy groot dinge deur jou doen.

5. Onwrikbare geloof (v.35b-38)

Dalk het jy nie die geloof van die mense in v.32-35a wat groot dinge vermag het nie. Moenie vrees nie. Solank jou geloof onwrikbaar is, is die Here tevrede. Wees soos Polikarpus (69-155)2, of Perpetua (c.182-203)3 wat die Here nie verloën het nie, maar bereid was om vir Hom te sterf. So was die gelowiges in v.35b-38. Hulle het vervolging gekies eerder as om die Here te verloën. Hoe is hulle vervolg?

[a] Hulle is gefolter (v.35b). Dit beteken dat hulle vervolgers hulle doodgeslaan het [Gk. tumpanizō]. Gedurende die Makkabeërtyd tussen die Ou- en die Nuwe Testamente is ene Eleasar so doodgemaak.4 Hy het geweet dat hy eendag sou opstaan tot ’n beter lewe (v.35b, Jes. 25:8, 26:19, Dan. 12:2, Hand. 24:14-15, 26:6-8).

[b] Hulle is gespot (v.36). Ons sien byvoorbeeld hoe die mense Elisa (2Kon. 2:23), Jesaja (Jes. 28:9-10), Jeremia (Jer. 5:11-13), Esegiël (Eseg. 20:49), en die profete (2Kron. 36:16) gespot het.

[c] Hulle is gegésel (v.36). Die Griekse woord mastix verwys na stukke metaal wat tussen leer rieme ingeweef is. ’n Ma en haar sewe seuns is op dié gegésel in die tyd van die Makkabeërs.5

[d] Hulle is geboei en in die tronk toegesluit (v.36). Ons weet dat Josef as ’n slaaf verkoop is, dat hy in boeie was en dat hy in die tronk beland het (Gen. 37-41). Profete soos Miga, Hanani en Jeremia is in die tronk toegesluit (1Kon. 22:27, 2Kron. 16:10, 7-9, Jer. 20:2, 37:15-16, 38:6).

[e] Hulle is gestenig (v.37). Koningin Isebel het die onskuldige Nabot laat stenig (1Kon. 21:13-15). Koning Joas het die profeet Sagaria laat stenig (2Kron. 24:20-21).

[f] Hulle is in stukke gesaag (v.37). Volgens oorlewering het die bose koning Manasse vir Jesaja in twee gesaag.6

[g] Hulle is versoek (v.37). Hierdie frase kom nie in al die manuskripte voor nie. En tog weet ons dat die profete versoek is om Here te verloën, maar dat hulle die versoeking weerstaan het.

[h] Hulle is deur die swaard vermoor (v.37). Koningin Isebel het God se profete met die swaar vermoor (1Kon. 18:4, 19:10, 14). Die profeet Uria het onder koning Jojakim se swaard gesterf (Jer. 26:20-23). Onder opdrag van koning Herodes, het Johannes die Doper sy kop verloor (Mark. 6:24-28).

[i] Hulle was in skaapvelle en bokvelle geklee (v.37). Dit is ’n verwysing na mense soos Elia (2Kon. 1:8). Die punt is dat die profete arm was. Hulle sou egter hemelse feesklere en ’n ewige rykdom verkry.

[j] Hulle het min kos gehad (v.37). Die profete in 1Kon. 18:4 het op brood en water geleef. Volgens 1Kon. 22:27 het die profeet Miga ’n bietjie brood en water gehad. Toe Jeremia in die tronk was, het hy skaars kos gehad (Jer. 37:21, 38:9).

[k] Hulle is verdruk (v.37). Die outeur van Ps. 119 vertel hoe sy vyande hom verdruk het (Ps. 119:86, 150, 161).

[l] Hulle is mishandel (v.37). Jeremia en al die profete is mishandel (Jer. 17:18, Matt. 21:35-36, 23:35, Hand. 7:52).

Die wêreld waardeer nie die geloofshelde se invloed nie en daarom verdien hulle nie om sulke mense onder hulle te hê nie (v.38). Omdat dit so is, het die Here die geloofshelde weggevat. Toe ’n prediker genaamd James Montgomery Boice oorlede is, het R.C. Sproul vir John MacArthur gesê: ‘That man’s death is God’s judgment on America.’ Omdat die wêreld hom nie as God se geskenk aan hulle waardeer het nie, het Hy hom weggevat (v.38).

[m] Hulle het as arm pelgrims in die woestyne, grotte, en berge van die aarde gebly (v.38). Toe Dawid vir Saul gevlug het, het hy in woestyne en grotte gebly (1Sam. 22:1, 23:14, 24:1, 8, 26:1-2). Elia het in die woestyn gebly en moes selfs op ’n stadium in ’n grot skuil (1Kon. 17:1-7, 19:9). Om die profete teen koningin Isebel te beskerm, is hulle in grotte weggesteek (1Kon. 18:4). Johannes die Doper het in die woestyn gebly (Luk. 1:80).

Wat is die les vir ons? Heb. 11:35b-38 is ’n goeie teks vir mense wat sê: ‘Die feit dat jy siek is, of arm is, wys dat jou geloof swak is.’ Eintlik wys hierdie verse dat iemand wat nie sy rug op die Here draai as dinge sleg gaan nie, ’n ware geloof het. So iemand is soos Job en Habakuk wat aangehou het om die Here te dien toe dinge met hulle begin sleg gaan (Job 1-2, Hab. 3:17-19).

Sal jóú geloof staande bly as jy jou geld, werk, of gesondheid verloor? Die feit dat jy geloof het wanneer die son skyn, beteken niks. Die vraag is of jy nóg sal glo as die stormwolke saampak. Indien wel, dan is jou geloof eg en is jy ’n ware Christen.

6. Hoopvolle geloof (v.39-40)

Vandat die grendelstaat begin het, is verskeie van ons gemeentelede en vriende se geliefdes oorlede: sendelinge se baba wat vir 18 ure geleef het, ’n bejaarde lidmaat, ’n kollega, een van ons lidmate se susters, my oom, twee van ons lidmate se seun, ’n lidmaat se broer.

Soos met die gelowiges in die Ou Testament, kan ek genadiglik sê dat die Here van bogenoemde mense getuig dat hulle syne is (v.39, 2, 4). Ons weet dat hulle nou by die Here is (Pred. 12:7, Luk. 23:34, Hand. 7:59-60, 8:2, 2Kor. 5:8, Fil. 1:23, Heb. 12:23). Gevolglik is daar, ten spyte van die trane, ook blydskap. Hierdie blydskap is egter nog nie volkome nie, omdat ons en hulle nog wag op die belofte van ’n perfekte liggaam en ’n nuwe aarde (v.39-40, 35, 2Pet. 3:13, Op. 21:1). Alhoewel Abraham dus voor Paulus hemel toe is (Matt. 22:32, Luk. 16:22), sal hulle liggame gelyk opgewek en verheerlik word, en met hulle volmaakte siele herenig word wanneer Jesus kom (v.40, 1Kor. 15:35-55, 1Tess. 4:13-18). Dus is die grootste vooruitsig nie om hemel toe te gaan nie, maar dat Jesus sal terugkeer om die laaste belofte te vervul (v.40).

Dit is waarna Job uitgesien het. Hy het geweet dat die dood onnatuurlik is (Gen. 3:19) en het verlang na ’n wêreld sonder sonde, siekte, trane, pyn en die dood. Ten spyte van ons swaarkry is ons dus hoopvol en glo ons saam met Job:

“Ek weet dat my [Verlosser] leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe.” (Job 19:25-27, NAV).


1  Douglas Kelly, If God Already Knows—Why Pray? (Fearn, Ross-Shire: Christian Focus Publications, 1995 [1989]), 159-60

2  John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs (New Kensington, PA: Whitaker House, 1981), 20-25

3  Peter Hammond, Victorious Christians Who Changed the World (Cape Town: Reformation Society, 2011), 1-4

4  2Makkabeërs 6. Alhoewel ons nie die Apokriewe boeke as deel van die geïnspireerde Woord van God aanvaar nie, is dit deel van die Joodse geskiedenis.

5  2Makkabeërs 7

6  Donald Guthrie, Tyndale New Testament Commentaries: Hebrews (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1983, 2008), 247