Onwankelbare Geloof

Hebreërs 11:17-28

1Tim. 4:16 belowe dat ’n leraar wat heilig lewe, die waarheid reg verkondig, en daarmee volhard, bekerings sal sien. Gestel jy ontmoet ’n leraar wat dit glo, maar nie die beloofde bekerings sien nie. Hy begin die belofte betwyfel en doen dan onbybelse dinge om ongelowiges te trek. Hy bring allerhande foefies in die kerk in om kits bekerings te kry. Hy trek baie mense, maar vul die kerk met vals gelowiges wat jare se probleme veroorsaak.

Kan jy sien hoe ’n geloof wat wankel, nadelig is? Dink maar aan Abraham se geloof in Gen. 15. God het belowe om aan hom ’n groot nageslag te gee. Abraham het God geglo, maar in Gen. 16 het sy geloof geswik. Sara het vir hom gesê: ‘God het aan ons ’n groot nageslag belowe. Beide van ons is oud en ek is onvrugbaar. Hoekom slaap jy nie met my slavin nie, sodat sy namens my kinders kan baar?’ Abraham het dit gedoen en Ismael is gebore. Uit Ismael het die Arabiese stamme gekom. Vandag stam die Moslems van hulle af.

Kan jy jouself indink wat met ons sou gebeur het as Jesus se geloof moes wankel; as Hy in Matt. 4 na die duiwel geluister het? As Jesus geswig het, kon Hy ons nie red nie. Besef dan dat ’n onwankelbare geloof groot waarde het. Dit is onder andere wat ons in Heb. 11:17-18 sien.

1. Die dood kan dit nie keer nie (v.17-22)

In John Bunyn se Pilgrim’s Progress staan Christen en Hoopvol voor die Rivier van die Dood voordat hulle in die hemel kom. Christen vra vir die twee engele wat by hulle staan: ‘Is die rivier diep?’ Hulle antwoord hom dat dit alles afhang of jy in die Koning se beloftes glo. ‘As jy daaraan vashou, is die rivier vlak. Maar as jy sy beloftes betwyfel, kan die rivier diep raak,’ sê hulle. Toe Christen en Hoopvol in die rivier ingaan, toe sink Christen. Hy kon nie God se beloftes onthou nie. Hoopvol het hom bemoedig. Die rivier het weer vlak geraak, totdat beide van hulle veilig deur die rivier is.1 Die punt wat ek probeer maak, is dat die dood nie die pelgrims se geloof kon keer nie. Net so kon die dood ook nie Abraham, Isak, Jakob en Josef se geloof keer nie.

Abraham

God het vir Abraham getoets en vir hom gesê: ‘Ek wil hê dat jy jou unieke seun [Gk. monogenēs], die seun van die belofte, die enigste seun wat jy by Sara het, vir My moet offer (v.17, 22:1-2).’ Volgens v.17 het Abraham hom vir die Here geoffer. Hoekom sê die teks dit as hy hom in werklikheid nié geoffer het nie? Die Griekse woord vir offer [prosphero] aan die begin van v.17 beteken letterlik dat hy Isak gebring het om hom te offer. Dit beteken nie dat hy hom geoffer het nie, maar eerder dat hy hom in sy gedagtes afgegee het. Die tweede verwysing na offer in v.17 staan in die imperfektum. Dit verwys met ander woorde na ’n onafgehandelde aksie in die verlede. Abraham het begin om sy seun te offer, alhoewel hy dit nie afgehandel het nie.

Ons weet dat God ’n groot nageslag deur Isak belowe het, maar nou het Hy vir Abraham gesê om hom te offer (v.18, Gen. 15:5, 17:15-21, 21:12). Abraham was daarvan oortuig dat die God wat Isak vir ’n onvrugbare man en vrou gegee het, hom ook uit die dood kon opwek (v.18). Dit is hoekom hy in Gen. 22:5 vir sy slawe gesê het: ‘Ek en Isak gaan die Here op die berg aanbid en sal na julle toe terugkeer.’ Hy het geglo dat God Isak vir hom sou teruggee.

Wat van ons: glo en gehoorsaam ons die Here, selfs as dit ons benadeel en indruis teen alles wat God belowe? Kom ek gee ’n voorbeeld. Gestel jy sukkel finansieel. Jy vra die Here se hulp en Hy bemoedig jou uit Matt. 6:25-34. Kort daarna kry jy ’n werk. Maar dan kom die versoeking. Jy maak ’n fout by die werk. Jy weet dat dit jou werk kan kos. As jy egter ’n klein leuen vertel, sal jy jou werk behou. Wat moet jy doen? Jy moet erken dat jy verkeerd was en aanhou glo dat die Here vir jou sal voorsien.

Dit is wat Abraham gedoen het. Daarom het God sy geloof beloon en Isak teruggegee toe daar sentimeters tussen hom en die dood was (v.19, Gen. 22:9-13). Abraham en Isak is ’n prentjie van die Vader wat sy Seun nie gespaar het nie, maar Hom weer teruggebring het uit die dood (v.19, Hand. 2:23-24, Rom. 8:32).

Wat is die les vir ons? Selfs al lyk dit vir jou of daar geen uitweg is as jy die Here vertrou, sy beloftes glo en die regte pad volg nie—Hy kan die onmoontlike doen en ’n uitweg skep waar daar nie een is nie. Vir Daniël se drie vriende het dit gelyk of daar nie ’n uitweg is nie. Toe hulle egter in die vuuroond gegooi word, was die Here by hulle sodat hulle nie gebrand het nie. Daniël is aangesê om die koning te aanbid, of leeukos te word. Hy het nié die koning aanbid nie en is in die leeukuil gegooi. Toe hy egter in die leeukuil beland, toe stuur God ’n engel om die leeus se bekke te sluit.

Maar dan gebeur dit ook soms dat die Here nié ’n uitweg gee nie. Jy moet eenvoudig reg doen, omdat dit reg is en omdat dit die Here behaag. Hy sal jou egter op die oordeelsdag beloon.

Isak

Isak en Rebekka kon nie kinders hê nie. Isak het vir sy vrou gebid en na 20 jaar van getroude lewe het sy swanger geraak met ’n tweeling. Die kinders het in haar baarmoeder geworstel. Sy het die Here gevra wat dit beteken. Hy het verduidelik dat die kinders twee nasies voorstel en dat die ouer een die jonger een sal dien. Na nege maande is Jakob en Esau gebore. Esau was die oudste, maar volgens God se belofte sou Jakob geseën word. Isak het vir Esau voorgetrek en Rebekka vir Jakob (sien Gen. 25).

Toe Isak oud en blind was, toe roep hy vir Esau (sien Gen. 27 vir hierdie storie). ‘Gaan jag vir my ’n bokkie. Maak dit gaar en bring dit vir my. As ek klaar geëet het, sal ek aan jou die seën van die eersgeborene gee. Jakob het van die belofte in Gen. 25 geweet (die ouer een sal die jongere dien), maar hy wou dit nie aanvaar nie. Toe gebeur dit. Rebekka en Jakob het saamgespan om vir Isak te bedrieg. Jakob het gemaak of hy Esau is, sodat hy die seën van die eersgeborene kon steel. Dit het gewerk: hy het sy pa om die bos gelei.

Toe Esau later kom om die seën te ontvang, toe besef Isak dat sy ander seun (Jakob) hom bedrieg het. Die Here het egter sy oë geopen om die belofte van Gen. 25 te aanvaar: die ouer een sal die jonger een dien. Alhoewel Jakob se bedrog sonde was, het Isak besef dat die Here dit toegelaat het en dat dit sy ingrype was. Hy het nie die seën teruggetrek nie, maar het gesê: ‘Ek het vir Jakob gesëend en hy sal geseënd wees’ (sien Gen. 27:33). In Gen. 28:1-4 toe seën hy hom met opset. Isak het die Here se wil aanvaar. Hy het nie vir Esau geseën nie, maar het wel gesê dat hy op die einde onder Jakob se juk sou uitbreek (v.20, Gen. 27:39-40).

Wat was die seën wat Isak aan Jakob belowe het? God sou aan hom ’n groot nageslag gee (v.20). So het dit ook gebeur. Jakob het twaalf seuns gehad. Later het sy familie gegroei tot sewentig. Uit húlle nageslag het die Israeliete vermeerder soos hase. In die Nuwe Testament word mense uit alle nasies gereken as die nageslag van Abraham. Hierdie seën het nie maklik gekom nie. Jakob het ’n oom gehad wat hom bedrieg het. Maar deur sy bedrog het Jakob ’n paar vroue verkry, baie kinders gehad en voorspoedig geraak. Deur Farao wat die Israeliete onderdruk het, het hulle vrugbaar geraak en vermenigvuldig (Eks. 1). Deur Jesus wat aan die kruis gesterf het, is baie mense by Abraham se nageslag gevoeg.

Moet dan nie dink dat God se beloftes misluk het, omdat jy slegte omstandighede het nie. Hou aan glo. Slegte omstandighede en goeie beloftes is soos die ratte van ’n horlosie wat teen mekaar werk, sodat die horlosie in die regte rigting loop (Rom. 8:28).

Jakob

Toe Jakob oud en blind was, toe roep hy vir Josef om hom te kom groet. Josef het sy twee seuns gebring, sodat Jakob hulle kon seën. Jakob het sy hande gekruis toe hy hulle seën: hy het sy regterhand (die sterk hand) op die jongste een se kop gelê en sy linkerhand op die ouer een se kop (Jakob het seker onthou hoe hy jare tevore sý blinde pa gekul het). Josef wou sy pa se fout regstel, maar Jakob het hom gekeer. ‘Dit is reg so, my seun,’ het hy gesê. ‘Die oudste een sal geseënd wees, maar sy jonger broer sal ’n groter seën ontvang.’ Efraim is nou wel die jongste, maar hy sal uitermate geseën word, bo Manasse (sien Gen. 48). So het Efraim dan later ’n sinoniem geword vir die hele Israel (byvoorbeeld in die boek Hosea).

Die bejaarde Jakob het die Here aanbid terwyl hy met sy gewig op sy staf geleun het (v.21). Volgens Gen. 47:31 het hy op sy bed geleun. Hoekom die verskil? Die ou Hebreeuse manuskripte het nie vokale nie, maar net konsonante. Die Hebreeuse woord mtth kan bed, of staf beteken. As jy die vokale byvoeg, beteken mittah ‘bed’ en matteh ‘staf’. Ons is dus nie seker of hy op sy bed geleun het, of op sy staf nie.2 Die punt is egter dat hy die Here aanbid het toe hy op sy sterfbed was.

Waarvoor het hy die Here aanbid? God het belowe dat hy die land vir Jakob se nageslag sou gee. Daarom het Jakob vir Josef gevra om hom te begrawe op die stukkie grond wat Abraham gekoop het. Alhoewel Jakob se nageslag nog nie die land gehad het nie, het hulle ’n begraafplaas gehad as ’n deposito dat God aan hulle die res van die land sou gee.

Mag ons soos Jakob sterf en nie net terugkyk oor ons lewens nie, maar die Here aanbid, omdat ons glo dat Hy sy beloftes sal vervul nádat ons gesterf het. Glo die Here vir daardie kind, of kleinkind wat nog nie die Here dien nie. Alhoewel die Here nie belowe dat al jou kinders Hom sal dien nie, belowe Hy dat jou nageslag Hom sal dien (Ps. 22:32-33, Jes. 59:21, Hand. 2:39, 16:31-34, 18:8). Indien jy dus op jou sterfbed lê en bekommerd is oor jou ongeredde nageslag: glo dat die Here sy beloftes sal vervul.

Dalk lê jy op jou sterfbed as die land vol misdaad en sonde is. Glo die Here se belofte: as jy vir die regering bid, sal die geslagte wat kom ’n stil en rustige lewe lei (1Tim. 2:1-2). Miskien gebeur dit nie in jou tyd nie, maar dit sal in jou kinders, of kleinkinders se tyd gebeur.

Dalk is die Jode nog nie gered nie en aanbid die nasies nog nie die Here as jy op jou sterfbed lê nie. Glo egter dat God se beloftes vervul sal word (Ps. 72, 86:9, Jes. 11:9, 60:1-7, 65:17-25, Rom. 11:12, 15, 25-27). Dalk het Jesus nog nie teruggekeer as jy sterf nie. Glo dat die Here ook hierdie belofte sal vervul (2Pet. 3).

Josef

Josef het geweet dat die Israeliete vir 400 jaar slawe in ’n vreemde land sou wees, maar dat hulle weer vrygelaat sou word (Gen. 15:13). Toe Josef op sy sterfbed was, het hy aan hierdie belofte vasgehou en gevra dat die Israeliete sy geraamte in die Beloofde Land moes begrawe (v.22, Gen. 50:22-26, Eks. 13:19, Jos. 24:32).

Is ons geduldig soos Josef, sodat ons God se beloftes glo al vat dit jare, of selfs dekades om vervul te word? Of hou ons op glo, sodat ons ons eie planne maak, omdat die Here te lank vat om sy beloftes te vervul? Is daar miskien ’n saak wat jy van jou gebedslys afgehaal het, omdat jy aan God se beloftes begin twyfel het? Sit dit terug en vertrou die Here om dit in sy goeie tyd te antwoord.

2. Die wêreld kan dit nie keer nie (v.23-28)

’n Kwaliteit produk hou langer as die Chinese namaaksel. Die namaaksel breek maklik. Net so kan die wêreld ’n vals geloof breek, sodat die persoon sy rug op die Here draai. Die wêreld kan egter nie ’n ware geloof breek nie. Ons sien dit in die lewe van Moses. Sy ouers het geweet dat God ’n spesiale plan met hierdie mooi seuntjie het (v.23, Hand. 7:20). Daarom was hulle nie bang toe die koning ’n bevel gee dat al die Hebreeuse seuntjies in die Nylrivier verdrink moes word nie (v.23, Eks. 1:22). Hulle het Moses vir drie maande weggesteek (v.23, Eks. 2:1-2, Hand. 7:20). Toe hulle hom nie langer kon wegsteek nie, het hulle hom in ’n mandjie op die Nylrivier gesit (Eks. 2:3).

Let op dat vrees en geloof teenoorgesteldes is (v.23, 27, vgl. Mark. 5:36). As jy glo dat die Here sy beloftes sal hou, sal jy nie vrees nie. Wat vrees jy? Memoriseer gepaste beloftes en glo wat dit sê. Geloof in God se Woord help ook dat jy versoeking weerstaan. Moses het byvoorbeeld nie toegegee aan die versoeking om die prinses se seun te wil wees en ryk te erf nie (v.24). Omdat sy eie ma hom vir die eerste paar jaar opgevoed het, het hy geweet wie sy regte ma en sy regte volk is. Dus het hy gekies om homself met die slawevolk te vereenselwig en om saam met hulle te ly, sodat hy die beloftes kon verkry. Dit het hy gekies bo die tydelike plesier van Egipte se rykdom, roem, en sonde (v.24-25, Eks. 2:11, Job 36:21, 1Joh. 2:17).

Om vir Christus te ly het vir hom groter waarde gehad as al Egipte se skatte (v.26). Dit wys vir ons watse waarde Moses aan Christus geheg het, sodat hy bereid was om alles prys te gee om Hom te verkry. Ja, Moses het van die Messias geweet. Hy het van die Messias geskryf en het geweet dat Hy in die toekoms sou verskyn (Gen. 3:15, Deut. 18:15, Joh. 5:46).

Moses het Christus in die brandende bos ontmoet. Eks. 3 praat van die Here as ‘die Engel van die Here; EK IS wat EK IS. Volgens Joh. 8:58 is Jesus EK IS. Onthou ook dat Engel boodskapper beteken. Ons weet uit die Nuwe Testament dat Christus die Vader se boodskapper is. Christus is ook die Een wat die Israeliete deur die woestyn gelei het (1Kor. 10:3, Jud. 5, ESV). Hy is die heerlikheid van God wat in die wolk- en vuurkolom verskyn het; die glans van God se heerlikheid wat aan Moses verskyn het (Heb. 1:3, Eks. 16:10, 33:18-23). Hy is die Woord van God wat die Tien Gebooie met Moses en die volk gespreek het (Joh. 1:1, 18, Eks. 20:1). Die Hebreërskrywer se punt is dít: ‘As Moses dan vir Christus begeer het, hoekom wil júlle die rug op Hom draai om terug te keer na Moses toe? As Moses bereid was om vir Christus te ly, hoekom wil júlle Hom verloën?’

Wat is die les vir ons? Party mense vind dit moeilik om Jesus bo mense se guns, of aardse skatte te kies. Maar as jy geweet het dat Jesus oneindig keer meer waardevol is as wêreldse rykdom en dat alles buitendien syne is, sou jy dit enige dag prysgee om Hom te verkry (v.26, Fil. 1:21, Luk. 14:33). Jy sou sien dat die beloning soveel groter is as dit wat jy moes opoffer (v.26). Onthou asseblief dat jou lyding tydelik is, maar dat die beloning ewig is. Vir die wêreld is dit andersom: hulle plesiere is tydelik (v.25), terwyl die straf ewig is. Stuart Olyott sê: ‘When everyone else’s world is collapsing, ours has hardly begun!’3

Moses het dit geweet. Daarom het hy nie die koning se woede gevrees soos wat hy bang was toe hy Egipte die eerste keer verlaat het nie (v.27, Eks. 10:28-29, 2:14-15). Hy het eerder geglo dat die onsigbare Christus hulle deur die woestyn na die Beloofde Land toe sou lei (v.27). Ons moet soos Moses wees toe hy Egipte verlaat het en nie soos Moses by die brandende bos nie. By die brandende bos wou hy tekens sien voordat hy bereid was om te glo (Eks. 4, vgl. Joh. 20:25). Later het hy egter geleer om deur die geloof te lewe en om te glo wat God sê (v.27). Laat ons so wees en nie vir bewyse, of tekens vra voordat ons glo nie. Laat ons leer om die Woord en beloftes te glo van Hom wat onsigbaar is (2Kor. 5:7).

Dit is wat Moses gedoen het toe God die Pasga instel. God het die volk beveel om ’n lammetjie te slag en die bloed met ’n hisoptakkie teen die deurkosyne te sprinkel. Sodoende sou die verderwer die Israeliete se eersgeborenes spaar en hulle nie met die dood tref soos hy met die Egiptenare gedoen het nie (v.28, Eks. 12). Moses het God geglo, dit gedoen en die Israeliete se lewens gered.

Wat van jou: glo jy die Bybel se dreigemente van die oordeelsdag en ’n ewige hel? Dit is nie genoeg om te dat jy dit glo nie. Om te wys dat jy regtig glo, moet jy jou bekeer, op Jesus vertrou om jou te red, en bereid wees om jou lewe prys te gee om sy dissipel te wees. Jy moet soos Victor Petrov wees. Victor was in ons gemeente in Louis Trichardt. Toe hy op 14-jarige ouderdom gedoop is, het hy voor die gemeente gestaan en gesê: ‘I will follow Jesus Christ on earth and I will follow Him in heaven.’ Ons moet met ander woorde in Jesus glo om gered te word, maar ons moet ook in Hom glo tot aan die einde van ons lewens. Ons geloof moet onwankelbaar wees. Ons moet aanhou glo, totdat ons eendag in die hemel kom en ons geloof oorgaan in aanskoue.


1  John Bunyan, The Pilgrim’s Progress (Fearn, Scotland: Christian Focus Publications, 2005), 165-6

2  Thomas Hewitt, Tyndale New Testament Commentaries: Hebrews (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1960), 179

3  Stuart Olyott, I Wish Someone Would Explain Hebrews to Me! (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2010), 143