Die soort geloof wat jy benodig

Hebreërs 11:8-16

Baie mense dat hulle in God glo, maar dit maak nie ’n verskil in hulle lewens nie. Hoe verskil hulle geloof van demone s’n? “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” (Jak. 2:19). Wat is dan die soort geloof wat jy benodig; die geloof wat werklik ’n verskil sal maak in jou lewe?

1. Operasionele geloof (v.8-12)

Ek was geskok toe ek eenkeer die evangelie met ’n sekuriteitswag deel. Hy het gesê dat daar nie ’n God is nie. ‘Waar kom reg en verkeerd dan vandaan?’ het ek hom gevra. ‘Daar bestaan nie so iets soos reg en verkeerd nie,’ het hy geantwoord. ‘Ek kan steel, roof, en leuens vertel—dit maak nie saak nie. Dit is vir my soos niks om iemand dood te maak nie; solank ék net weet wat die doel is.’

Ongeag van die man se verkeerde geloof, was hy ten minste konsekwent. Omdat hy nie in ’n absolute God glo nie was hy van mening dat daar nie absolute morele waardes is nie. En omdat daar volgens hom nie absolute waardes is nie, het hy geleef soos hy wil. Dit is ook hoe evolusioniste leef. Hulle verwerp Genesis 1-3 en glo in evolusie. Gevolglik het hulle ook nie ’n probleem met seksuele immoraliteit, gay verhoudings en aborsie nie. Hoe hulle lewe, pas met ander woorde by wat hulle glo.

Net soos met hierdie mense was Abraham se geloof sigbaar in sy lewe. Toe hy in Mesopotamië was (Ur van die Chaldeërs in die Suid-Weste van Irak) en God hom roep, was hy gehoorsaam (v.8, Hand. 7:2). God het hom beveel om te trek. Om die dodelike Arabiese woestyn te mis, het hy via die vrugbare strook (langs die Eufraat rivier) tot by Haran getrek op die grens van Sirië en Turkye (Gen. 11:31). Daar het hy gebly totdat sy pa dood is. Daarna het hy verder getrek Kanaän toe soos die Here hom beveel het (Gen. 11:32, 12:1, 4-5). Hy het sy volk, land en familie verlaat en sy vrou Sarai, sy broerskind Lot, en sy slawe saam met hom geneem (Gen. 12:1, 4-5). Al het hy nie geweet waarheen die Here hom lei nie, was hy nogtans gehoorsaam (v.8).

Die toepassing vir ons wat in die 21ste eeu leef is nie dat jy moet oppak om te immigreer, selfs al weet jy nie waarheen nie. Abraham het gedoen wat God gesê het. Die vraag is dus wat die Here vir jóú sê? Wat is sy roeping vir jou lewe? Volgens die Nuwe Testament roep Hy jou om Hom tot in die hemel te volg. As jy Hom glo, sal jy jou geloof wys deur Hom te volg. Doen dit elke dag (Luk. 9:23). Volg Hom deur geloof in sy Woord en deur gebed. Loop die pad saam met ander gelowiges.

As jy Hom nie op hierdie manier volg nie, wys dit dat jy nie regtig glo wat Hy oor die hemel sê nie. Jy is soos iemand wat sê: ‘Baie water en vars groente help jou om gesonder te lewe,’ terwyl jy net filter koffie drink en groente vermy soos die pes.

Wees eerder soos Abraham wie se geloof sigbaar was in sy werke (Jak. 2:22). Al het hy nog nie die Beloofde Land verkry nie, het hy, sy seun Isak en sy kleinseun Jakob as vreemdelinge in die land gewoon (v.9). Hulle het geen grond besit om op te bou nie, maar het as reisigers in tente gewoon (v.9). En tog het hulle God geglo toe Hy belowe het om die land vir hulle nageslag te gee (v.9, Gen. 12:7, 13:14-15, 17, 26:3-4, 28:13, 35:12). Hulle het ook verder as die belofte van die land gekyk en ’n hemelse stad verwag wat vas is en nie opgeslaan word soos tente nie (v.10).

Waar het Abraham van hierdie stad gehoor? Hy kon nie daarvan geweet het, tensy die Here dit vir hom gesê het nie. Hy het God geglo en verwag dat hy eendag by Hom in die hemelse stad sal wees. Wanneer sou hy daar gewees het? Ek het ’n prediker gehoor sê dat die Ou Testamentiese gelowiges in ’n gevangenis was en dat Jesus hulle na sy kruisdood vrygelaat het. ’n Vrou het eenkeer vir my gesê dat die Ou Testamentiese gelowiges in die Paradys was en dat Jesus hulle ná sy dood hemel toe gevat het. Maar volgens die Nuwe Testament is die gelowiges wat ná Jesus gesterf het ook in die Paradys opgeneem (Luk. 23:43, Op. 2:7). Die Paradys en die hemel is dus nie twee verskilende plekke nie, maar dieselfde plek. So leer 2Kor. 12:2-3 ons.

Die Ou Testamentiese gelowiges is hemel toe toe hulle dood is. Toe Abraham sy asem uitgeblaas het, is hy by sy volksgenote versamel. Dit beteken nie bloot dat hy begrawe is nie, aangesien hy begrawe is nadat hy by sy volksgenote versamel is (Gen. 25:8-9). Om dus by jou volksgenote versamel te word, beteken dat jy hemel toe is.

Indien jy nog steeds twyfel of Ou Testamentiese gelowiges hemel toe is, wil ek jou aan die volgende verse herinner:

  • Beide Henog en Elia is van hierdie aarde af hemel toe (v.5, Gen. 5:24, 2Kon. 2:11).
  • Dawid het geweet dat hy ná sy dood God se gesig sal sien en in sy hemelse huis sal wees (Ps. 17:15, 23:4, 6).
  • Volgens Jesus lewe Abraham, Isak en Jakob by God (Matt. 8:11, 22:31-32). Onthou asseblief dat Jesus dit voor sy kruisdood gesê het.
  • Moses en Elia het in heerlikheid aan Jesus verskyn toe Hy nog op die aarde was (Luk. 9:30-31). Die frase ‘in heerlikheid’ verwys na ’n hemelse heerlikheid. Hulle het met ander woorde vanuit die hemel neergedaal en aan Jesus verskyn.
  • Volgens Luk. 16:22, 25 was Abraham ná sy dood in ’n plek van vertroosting en gemak.

Iemand sal sê: ‘Maar as die Ou Testamentiese gelowiges ná hulle dood hemel toe is, wat het Jesus se kruisdood en opstanding dan kom verander?’ Dit het vir hulle kom wys hóékom God hulle in die hemel toegelaat het, naamlik omdat die Messias in die toekoms vir hulle sonde sou sterf. Jesus se dood het vir hulle en ons toegang kom gee tot die Nuwe Jerusalem, waarvan God die Argitek [Gk. technitēs] en Bouer [Gk. dēmiourgos] is (v.10). Hoe moet die stad lyk waarvan God self die Ontwerper en Bouer is? In Op. 21 sien ons iets van die stad se majesteit en skoonheid. God het dit voor die skepping reeds begin bou (Matt. 25:34) en is nog steeds besig om dit te voltooi (Joh. 14:2-3). Ek wil baie graag hierop uitbrei, maar sal myself inhou en wag totdat ek by die volgende punt kom.

Die volgende vers handel oor Sara (v.11). Sy was onvrugbaar en kon nie kinders hê nie (Gen. 11:30). Gevolglik het sy haar slavin Hagar vir Abraham gegee, sodat sy namens Sara vir Abraham kon kinders baar (Gen. 16). Toe Sara 89 was, het die Here vir haar gesê dat sy die volgende jaar ’n kind sou hê (Gen. 17:17). Sy het gelag en wou nie die belofte glo nie. Menstruasie het lankal by haar opgehou. Sy het nie meer eierselle gehad wat bevrug kon word nie en buitendien het sy nie ’n begeerte gehad vir seks nie (Gen. 18:10-12).

Êrens langs die pad het sy tot haar sinne gekom en God se belofte begin glo (v.11). Sy het dit nie net in haar kop geglo nie, maar het by haar man gaan lê met die wete dat God sy belofte sou nakom en gee dat sy swanger word (v.11). Dit het presies so gebeur (Gen. 21:2). Al was sy dus onvrugbaar en al was haar honderdjarige man soos ’n dooie wat nie kan kinders hê nie, het hulle God se belofte van ’n groot nageslag geglo. God het hulle geloof geëer en vir hulle ’n groot nageslag gegee; so baie soos die sterre en die sand van die wêreld se strande (v.11-12, Gen. 15:5-6, 22:17).

Is jy ’n kind van Abraham en Sara? Moenie te gou ‘ja’ sê, net omdat jy gedoop is toe jy ’n baba was en dink dat jy daardeur deel is van die verbond nie. Moet ook nie ‘ja’ sê, omdat jy as ’n volwassene gedoop is nie. Moenie eers ‘ja’ sê, omdat jy dalk Joodse voorsate het nie. Die ware kinders van Abraham is slegs dié wat in Jesus glo—of jy nou ’n Jood is, of nie; of jy gelowige ouers het, of nie (Joh. 8:39-44, Rom. 9:6-8, Gal. 3:7-9, 14, 16).

Dalk pla dit jou nie of jy ’n kind van Abraham is, of nie. Onthou egter dat dit net húlle is wat geseën word en die belofte van die hemel verkry (Gen. 12:3, Gal. 3:29). Daarom vra ek weer: is jy ’n kind van Abraham?

2. Toekomsgerigte geloof (v.13-16)

Ek wonder hoe baie mense in die moderne kerk uitsien na die hemel. Ek hoor maar min hiervan in preke, in mense se gesprekke en in hulle gebede. Die topverkoper boeke in Christelike boekwinkels gaan oor hoe jy jou lewe in die hier-en-nou kan verbeter. Maar dit is nie hoe die aartsvaders hulle lewens ingerig het nie. Hulle geloof was toekomsgerig. Selfs toe hulle op hulle sterfbeddens was, het hulle geglo dat God aan hulle ’n groot nageslag sou gee en dat Hy die Beloofde Land vir hulle kinders sou gee (v.13). Dit is asof hulle hierdie dinge uit die verte gesien het (v.13).

Maar hulle het ook verder as dit gekyk. Hulle het geglo in ’n lewe na die dood; hulle het ’n hemelse stad verwag (v.10, 13). Hulle het hulleself beskou as mense wat deur reis; as vreemdelinge op die aarde (v.13).

Sien jy jouself so: as een wat maar net deur reis op die aarde, omdat jy ’n burger van die hemel is (Fil. 3:20, 1Pet. 1:1, 17, 2:11)? Is die hemel deel van jou gedagtes, gebede, en verlange? Wys die manier waarop jy jou geld gebruik dat jy skatte in die hemel soek (Luk. 12:33)? Of groei jou wortels te diep, sodat jy vashou aan hierdie lewe en die wêreld met sy skatte? Soek jy die perfekte land op aarde, omdat jy moeg is vir die probleme in Suid-Afrika? Het jy vergeet dat die hemel jou regte huis is?

Dit laat my dink aan ’n storie wat ek eenkeer gehoor het.1 Henry Morrison en sy vrou was sendelinge in Afrika. Toe hulle na 40 jaar terugkeer Amerika toe, was president Theodore Roosevelt saam met hulle op die skip. Toe hulle in New York se hawe aankom, was daar ’n hele parade om die president te verwelkom. Henry kon dit nie verstaan nie en het vir sy vrou gesê: ‘Die president is vir ’n paar maande weg en as hy by die huis kom, word met ’n rooi tapyt deur die vloot, ’n orkes en duisende toeskouers verwelkom. Ons offer 40 jaar van ons lewens op vir die Here en as óns by die huis kom, is daar niemand wat ons verwelkom nie.’ Sy vrou het geantwoord: ‘Ja, maar ons is nog nie by die huis nie.’

Die aartsvaders (Abraham, Isak en Jakob) was so en het verder as die Beloofde Land gekyk—hulle het die vaderland van die hemel gesoek (v.13-14). Hulle het dit nie gesoek soos wat iemand die verlore stad van Atlantis soek, of koning Salomo se myne nie. Hulle het eerder die Gód gesoek wat hulle daarheen sou lei.

Hoe weet ons dat die hemel waar is en dat daar regtig so ’n plek bestaan? Is dit omdat party mense dat hulle daar was en boeke oor hulle ervarings geskryf het? Nee. Jesus se getuienis is die basis van dit wat ons oor die hemel glo. Hy het uit die hemel uit neergedaal en ons daarvan vertel. God het ook vir Paulus en Johannes die voorreg gegee om die hemel te sien voordat hulle dood is. Onder die inspirasie van die Heilige Gees, het hulle hulle ervarings in die Bybel opgeteken (2Kor 12:2-3, Openbaring). Party mense sal sê dat hulle lieg, of dat hulle mal is. Maar het Paulus en Johannes (en Jesus) die eienskappe van mense wat lieg, of wat mal is? Nee. Dan is die enigste opsie wat jy oor het om te glo dat wat hulle sê die waarheid is.

En tog is dit nie genoeg om net te glo dat daar ’n plek soos die hemel is nie. Die vraag is eerder of jy daar sal wees. Die meeste mense dink hulle gaan hemel toe. Maar om die pad na die hemel te vind, moet jy Jesus vind, omdat Hý die Weg is wat mense daarheen lei (Joh. 14:5-6). Dit is by Hóm wat Abraham en die aartsvaders wou wees. Hulle het ’n veer gevoel vir die land waar hulle vaders gewoon het: hulle wou nie daarheen terugkeer nie (v.15). Hulle het die vaderland van die hemel gesoek (v.14).

Elke ware gelowige verstaan dit. Jy het ’n verlange wat jy nie kan beskryf nie. Dit is nie ’n verlange na ’n aardse paradys, ’n land van melk en heuning, ’n utopia, of ’n eksotiese eiland nie. Jy het eerder ’n verlange na ’n hemelse vaderland. As jy daar kom, sal dit voel of jy nog altyd daar behoort het. Dit sal voel of jy al by tye ’n voorsmakie daarvan gehad het toe jy nog op die aarde was. Jy sal sê: ‘Déjà vu—ek onthou so iets! My belewenis hiervan was egter net ’n skaduwee.’ Jy sal soos iemand wees wat nog net die restaurant se kos op ’n spyskaart gesien het, maar dit nou vir die eerste keer proe. Die aartsvaders het geglo dat dit beter sal wees om aan die hemelse feesmaal te smul as om die foto’s daarvan op ’n spyskaart te sien. Om hierdie rede wou hulle meer as net die Beloofde Land hê (die foto’s): hulle wou die hemel self hê (die feesmaal).

Verlang jý daarna? Sien jy uit na ’n lewe sonder sonde; na ’n lewe saam met Christus? Of sal dit vir jou genoeg wees as jy sy geskenke het (’n wêreld sonder siekte, swaarkry en dood; ’n wêreld waar daar net liefde, blydskap, en vrede is), maar nie Hóm nie? Gaan dit met ander woorde vir jou oor Jesus, of gaan dit oor die voordele wat Hy jou kan gee? Indien jy regtig na Hóm soek, sal Hy van jou sê wat Hy van die aartsvaders gesê het. Hy het Hom nie vir hulle geskaam nie, maar het met trots gesê dat Hy die God van Abraham, Isak, en Jakob is (v.16, Eks. 3:6). Kan Hy dit met trots van jou sê, nie omdat jy perfek is nie, maar omdat jou geloof in Hom en jou begeerte na Hom eg is?

Sal Hy van jou sê: ‘Ek is die God van Japie, Malvin, Ansi, Lizelle, Roelf, Gerdha, Timothy, Anna, Gideon, Pieter, Babs… Hulle het My liefgehad en sonde gehaat (2Tim. 2:19). Hulle het verlang om by My te wees en daarom skaam Ek My nie vir hulle nie, maar berei Ek vir hulle ’n stad voor, sodat hulle by My kan wees (v.16)’?

Of sal Hy sê: ‘Ek skaam My vir jou. Jy het gesê dat Ek jou God is, maar daar was nie ’n verskil tussen jou lewe en die wêreld s’n nie. Jy is verseker nie een van Myne nie. Gaan weg; Ek het jou nooit geken nie (sien Matt. 7:23)’?

Moet asseblief nie hieruit aflei dat ’n goeie lewe jou in die hemel kry nie. Dit is eerder Christus wat jou in die hemel kry deurdat jy in Hom glo (Ef. 2:8-9). Maar as jou geloof eg is, sal dit in jou lewe sigbaar wees (Ef. 2:10). Ons kan dit vergelyk met ’n kar wat nie ’n Ferrari word, omdat daar ’n pronkende swart perd met ’n geel agtergrond op die voorste modderskerm is nie. En tog weet ons dat hierdie embleem op elke regte Ferrari is.

Mag ek jou dan vra: is jy die ware Jakob en het jy die embleem van operasionele en toekomsgerigte geloof om dit te wys?


1  Ek weet nie hoe akkuraat die storie is nie. Dit is beskikbaar by verskeie webtuistes. Niemand gee egter die oorspronklike bron nie. As iemand my met die oorpronklike bron kan help, sal ek bly wees.