Werkverwante Probleme: Werkgewers

Efesiërs 6:9

’n Man wat jare gelede in ons gemeente was, was ’n direkteur van ’n groot ingenieursfirma. ’n Ander ingenieur in die gemeente het saam met hom en sy kollegas gaan jag. Hy het later vir my gesê: ‘Sjoe, dit was nogal iets om te sien hoe vriendelik en beleefd X (die direkteur) teenoor sy werknemers is. Dit was verfrissend om te sien hoe hulle hom respekteer en met hoë agting van hom praat.’

Om so ’n werkgewer te word, moet jy Ef. 6:9 ter harte neem en die volgende drie dinge doen:

1. Besin oor jou rol

Sommige werkgewers is ontoeganklik. Hulle is so streng en onbeskof, dat hulle werknemers te bang is om met hulle te praat. Ander werkgewers tree op asof hulle jou gelyke is; asof hulle nie die baas is nie en jy met hulle kan praat soos jy wil. Die Bybel leer iets tussen-in. ’n Werkgewer moet beleefd en behulpsaam wees, maar hy moet ook onthou dat hy die baas is.

‘Maar wat van Ef. 5:21?’ wil iemand weet. ‘Paulus sê dat ons aan mekaar onderdanig moet wees—hoeveel te meer nie as jou baas ’n Christen is nie?’ Eintlik is dit nie wat die vers beteken nie. Ef. 5:21 geld as ’n inleiding tot Ef. 5:22-6:9. Wat Paulus probeer sê is dít:

‘Onderwerp jou aan dié wat oor jou aangestel is (Ef. 5:21). Prakties lyk dit as volg: in die huwelik moet die vrou aan haar man onderdanig wees (Ef. 5:22-24); in die huisgesin moet die kinders aan hulle ouers onderdanig wees (Ef. 6:1-4); in die werkplek moet die werknemers aan hulle werkgewers onderdanig wees (Ef. 6:5-8).’

Ef. 5:21 beteken verseker nie dat ’n man aan sy vrou onderdanig moet wees, of ouers aan hulle kinders en werkgewers aan hulle werknemers nie. Die leiers in Ef. 5-6 se verhoudings is mans, ouers en werkgewers. Indien jy jou in ’n posisie van onderdanigheid bevind, moet dit jou nie jaloers maak nie. Besef eerder dat dié wat ’n gesagsposisie beklee ’n groter verantwoordelikheid voor die Here het en dat Hy hulle strenger sal oordeel (1Sam. 15:17, Jak. 3:1). Doen daarom wat die Here van jou verwag as jy ’n werkgewer is. Die beginsels wat vir werknemers geld, geld ook vir jou: “En, here, doen dieselfde teenoor hulle…” (v.9). Om ’n goeie werkgewer te wees, moet jy die volgende doen:

[a] Word met die Gees vervul (v.9, Ef. 5:18). Sien die vorige preek (Werkverwante Probleme: Werknemers) vir ’n verduideliking van wat dit beteken om met die Gees gevul te wees.

[b] Wees opreg (v.5). Moenie in jou werkernemer se gesig glimlag, terwyl jy agter sy rug kla oor hoe sleg hy werk nie. Spreek eerder die probleem op ’n mooi manier aan en sê vir jou werkernemer wat jy van hom verwag. Dalk kan jy selfs vir hom wys hoe hy die werk moet doen.

[c] Werk asof vir die Here en nie vir mense nie (v.5, 7).

[d] Wees regverdig (Kol. 4:1). Moenie party mense voortrek en vroeg laat loop, terwyl jy ander agterhou en vir hulle ekstra werk gee nie. Moenie vir party ’n salarisverhoging en bevordering gee, terwyl ander wat net so hard werk in ’n lae posisie bly nie.

[e] Stel ’n voorbeeld. Moenie harde werk van jou werknemers vereis, terwyl jy elke dag laat inkom, vroeg loop, of gedurig luilekker op die strand lê, of op die gholfbaan is nie.

[f] Wees vriendelik en werk entoesiasties en met ’n goeie wil (v.7). Moenie soos ’n beer met ’n seer tand by die werk aankom en almal se dag moeilik maak nie.

[g] Onthou hoe dit was toe jý ’n werknemer was. Sit jouself in jou werknemer se skoene voordat jy soos ’n vrag bakstene op hom afkom. Luister na sy besorgdhede en besware.

[h] Moenie ’n rugraatlose leier wees wat wil hê almal moet van jou hou nie (v.6). Vrees die Here en doen wat Hý sê. As mense oneerlik is, steel, traag is, swak werk lewer, jou gedurig uitdaag en bevraagteken, moet jy hulle aanspreek. Indien hulle nie vir jou wil luister nie moet daar tugstappe wees.

Dalk sê jy: ‘Dit is nie so maklik nie, aangesien die wet die werknemer se regte beskerm, sodat hy wegkom met moord. Verder is dit ook ’n beslommernis om met die CCMA te werk.’ Ek verstaan dit, maar as jy die situasie los, sal jy op die einde van die dag groter probleme hê. Ek sal later verduidelik wat ek bedoel.

2. Laat staan die dreigemente

Toe ek net klaar was met skool, het ek by ’n restaurant gewerk. Die eienaar was ’n emosionele wipplank. Hy het ’n baie kort humeur gehad. Een dag was hy beleefd en vriendelik; die volgende dag het hy op die werkers geskreeu en hulle gevloek.

‘Moenie so wees nie,’ sê Paulus: ‘laat staan die dreigemente’ (v.9). Moenie vrees by jou werkernemers inboesem soos wat party ouers met hulle kinders doen nie. Moet hulle nie gedurig dreig en sê jy gaan hulle afdank, of dat hulle werk in die weegskaal is nie. Waar ’n werknemer verkeerd doen, moet jy rustig met hom praat. Was dit ’n fout, of het die persoon opsetlik oortree? Wat dit sy eerste keer en ’n uitsondering, of maak hy gedurig droog? Het hy ‘n respekvolle gesindheid en is hy jammer oor sy fout, of is hy uitdagend en uittartend? Op grond hiervan kan jy besluit of jy verdere stappe gaan neem. As jy die saak aanhoudend los, sal jy uiteindelik jou humeur verloor en onchristelik optree. Jou werknemers sal jou verag. Hulle sal opstandig raak omdat jy op hulle skreeu, hulle vloek en hulle dreig. Hulle sal jou aankla. In stede daarvan dat hulle hulle foute erken, sal hulle jóú oortreding raaksien.1 Dit sal moeilik wees om hulle respek terug te wen. Verder gooi jy ook jou kanse weg om met hulle oor die Here te praat. Tree dus dadelik, bilik, en konsekwent op.

Wat sal die gevolge wees as jy só optree? Jy sal kalm bly en beheer hê oor jou emosies. Jy sal die werknemer help om sy fout reg te stel. Die ander werkers sal besef dat hulle nie kanse met jou kan vat nie. Jy sal die oortreder se invloed beperk, sodat dit nie versprei nie. Jou werkernemers sal jou respekteer. Jou optrede sal die Here verheerlik.

Miskien wil jy nie die pad van dissipline stap nie, omdat jy dink: ‘Ék gaan die oorsaak wees dat ’n man sonder werk sit en dat sy gesin nie kos het om te eet nie. Daarom kán ek hom eenvoudig nie afdank nie.’ Ek verstaan heeltemal dat ’n mens nie oorhaastig moet wees om tugstappe te neem nie. En tog móét jy dit doen as die persoon nie wil luister nie. Dit is vir sy eie beswil. Hoe? As jy hom aanhoudend ’n kans gee, sal hy nooit leer om ’n goeie werknemer te wees nie. Ernstige stappe mag dalk net die ding wees wat hy benodig, omdat hy daardeur leer om nie in die toekoms sy foute te herhaal nie.

In die hele kwessie van tug moet jy waak dat een molesmaker nie jou lewe regeer nie. Onthou dat daar 25 ander werknemers is wat hulle werk goed doen. Wees regverdig met hulle. Beloon hulle goeie werk. Moet hulle nie ’n minimum loon betaal as hulle goed en hard werk nie (Luk. 10:7). Miskien doen jy dit, omdat jy soveel as moontlik geld in jou eie sak wil steek. Of miskien hou jy hulle salaris terug, sodat jy ekstra rente kan trek. Of jy betaal hulle net die helfte en sê dan dat jy hulle later die res sal gee. Die Here gaan jou hiervoor oordeel (Jak. 5:1-6).

Stel daarom dinge reg—met die Here én met jou werkernemers. Gee ook vir húlle ’n kans om in ’n regte verhouding met die Here te staan. Ek bedoel nie net dat jy die evangelie met hulle moet deel nie. Ek bedoel ook dat jy hulle nie so met werk moet oorlaai dat hulle nie tyd kry vir die Here, hulle huwelike, hulle gesinne en ’n gemeente nie. Moet dan nie vir een persoon drie mense se werk gee, omdat jy geld wil spaar en nie ekstra werkers in diens wil neem nie. Moet ook nie jou beloftes verbreek en sê: ‘Jy hoef net 5 dae per week te werk,’ en dan jou deuntjie verander, sodat die persoon buitendien op Saterdae en Sondae ook moet werk nie.

Wat jy doen verheerlik nie die Here nie en jy weet dit. Dit help ook nie jou werknemer nie, omdat jy hom, of haar gaan laat uitbrand. Jy gaan jouself in die voet skiet, omdat jy een van jou werkers gaan verloor. Moet dan nie jou werknemer soos ’n perd oorlaai, of ’n slawedrywer wees nie. Die feit dat jý ’n werkslaaf is, beteken nie dat almal dit moet wees nie. Moet dus nie ’n onmoontlike hoeveelheid werk van jou werknemer verwag—’n ladig wat jý nie eers kan dra nie—en dit dan ‘performance management’ noem nie.

Hoekom doen jy dit? Is dit omdat jou werknemers jou te veel kos en jy eintlik van hulle ontslae wil raak, sodat jy meer geld in jou sak kan steek? Is dit ook hoekom jy mense op vervroegte pensioen laat gaan? Is dit ook hoekom jy herstrukturering doen waar mense van voor af aansoek moet doen vir hulle pos? Skielik kwalifiseer hulle nie meer vir die nuwe pos nie en sny jy hulle salaris. Jý ry egter nog steeds jou BMW X5 en bly nog in jou huis van R7 miljoen. Die Bybel het nie goeie dinge te sê van mense wat geldgierig is nie (Bileam, Judas, Simon die Towenaar, Luk. 12:13-21, 16:14-15, 19-31, 2Pet. 2:3, 14). Daar is ’n storm op pad (v.9, Kol. 3:25)!

3. Erken Jesus as Here

’n Ander gemeente wou eenkeer ons kerkgebou vir hulle dienste gebruik. Drie van hulle het in ’n swart Mercedes hier aangekom: die biskop, sy vrou en ’n pastoor. Die pastoor was die biskop se skiewie. Terwyl die biskop met my gepraat het, moes die pastoor die kardeur vir hom oopmaak en solank die kar aansit. Die biskop het vir my die idee gegee dat hy ’n tipe god is.

Luister: in jou posisie as werkgewer moet jy onthou dat jy onder die Here is. Onderwerp jou aan Hom en sy Woord. Hiervoor moet jy tot bekering kom en nie net goeie besigheidsbeginsels uit Spreuke probeer volg nie. Jy moet Jesus as Here erken en Hom nie net as jou Verlosser soek nie. Moenie die vals onderskeid glo wat sê dat Jesus jou Verlosser kan wees sonder dat Hy jou Here is nie. Jy is met ander woorde gered, maar jy lewe nog in sonde. Dit is absolute onsin, omdat Jesus nie verdeel kan word nie. Ontvang Hom as jou Verlosser én Here, of jy ontvang Hom glad nie. Vertrou Hom as die Verlosser wat vir jou sonde gesterf het, maar aanbid Hom ook as die Here wat opgestaan het uit die dood; die Here wat ons sonde, die dood, die duiwel en die hel oorwin het.

As jy jouself ’n Christen noem, het jy nie ’n keuse as om Ef. 6:9 te gehoorsaam nie. Indien jy nié gehoorsaam wil wees nie, moet jy openlik bely: ‘Jesus is nié my Here nie en ek is nié ’n Christen nie.’ Jesus het gesê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46). As jy egter ’n Christen is, moet jy soos een lewe. Stel ’n goeie voorbeeld vir jou werkernemers. Moenie van húlle verwag om reg te doen, terwyl jy gedurig die reëls buig soos wat dit jóú pas nie.

Onthou ook dat jy nie God is nie, maar ’n mens. Moet dan nie jou werkernemers wil mikro-beheer nie. Selfs al doen hulle nie die werk soos wat jy dit sou doen nie: as hulle dit goed doen en die werk klaar kry, los hulle! As jy hulle mikro-beheer, sal jy hulle afhanklik van jou maak en sal hulle nooit die werk op hulle eie kan doen nie. En wie moet dán die werk doen as jy siek is, of as jy met verlof is?

Die feit dat Jesus alleen die Here is, beteken ook dat jou werknemers nie absolute lojaliteit en toewyding aan jou en die maatskappy hoef te sweer nie. Hulle moet hulle beste gee, maar hulle is nie jou slawe nie. Onthou eerder dat jy self ’n slaaf van Jesus Christus is (Rom. 1:1, 1Kor. 7:22). Dink daaraan dat Jesus ’n goeie Meester is en volg sy voorbeeld. En wat is sy voorbeeld?

“Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”

As jy jou werknemers behandel soos wat die Here van jou verwag, sal Hy jou beloon (v.8). Hy is nie onregverdig soos party werkgewers wat sekere mense voortrek nie, maar Hy sal regverdig oordeel (v.8-9). Die feit dat Hy jou vir jou werk sal beloon, wys dat dit vir Hom onbelangrik is (v.8-9). Hy stel nie net belang in hoe jy jou Bybel lees, bid, betrokke is in die gemeente, en ander ‘geestelike’ dinge doen nie. Hy sien ook hoe jy jou taak as werkgewer uitvoer.

Hoe vaar jy hiermee? Sê jy: ‘Nie so goed nie, maar darem doen ek beter as my werknemers’? Moet jouself nie met hulle vergelyk nie. Die Here gaan jou nie oordeel vir wat húlle alles verkeerd gedoen het nie, maar vir die manier waarop jy jou werk gedoen het.

Dalk sê jy: ‘Ek doen nie God se wil as ’n werkgewer nie; ek weet ek moet beter doen.’ Die Here se genade is groot. Vat die saak na Hom toe in gebed. Vra daagliks sy hulp en bid ook vir elkeen van jou werknemers. Vat Hom op sy Woord en kyk of Hy nie jou gebede sal beantwoord nie (Matt. 7:7-11, Heb. 11:6). As jy nalaat om vir jou werk te bid, waarsku Jakobus: “julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4:2). As jy egter vir jou werk bid, sal jy die waarheid van Ef. 3:20 verstaan, naamlik dat die Here kan doen “ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk”.

Dit laat my dink aan ’n skatryk sakeman wie se maatskappy besig was om te sink. Wyle Martin Holdt het voorgestel dat hulle oor die saak vas. Die dag nadat hulle dit gedoen het, het die sakeman hom gebel: ‘Die Internasionale Krieketraad het ’n versoek oorweeg om my produk vir die spelers aan te koop! Ek was nie eers hiervan bewus nie! Alhoewel hulle die versoek afgekeer het, het ek gratis internasionale publisiteit gekry—my produk was op Sky News! Die fone hou nie op lui nie; daar is nie genoeg hande om te help nie!’

Dít is uiteindelik wat die Here wil hê: ’n werkgewer wat nie op homself en sy eie vermoëns staatmaak nie, maar wat die Here in al sy weë ken en sy werk doen soos ons in die Bybel leer.


1  Richard Baxter, The Practical Works of Richard Baxter: Vol. 1—A Christian Directory (Morgan, PA: Soli Deo Gloria Publications, 2000 [1846]), 460