Die goeie vrugte van geloof

Hebreërs 11:4-7

As jou buurman se appelboom mooi vrugte dra, sê jy nie: ‘Ek wonder waar hy die appels gekoop het—ek gaan sommer vandag vir my ’n paar kry en dit aan my boom vasgom.’ Om sulke appels te hê, moet jy ’n goeie appelboom koop.

Geestelik werk dit dieselfde. Dit help nie om goeie vrugte soek sonder die boom van geloof wat die vrugte produseer nie. Die geloofshelde in Heb. 11:4-7 het eers geloof gehad voordat hulle die goeie vrugte daarvan gedra het. Wat was die goeie vrugte van hulle geloof?

1. Aanneemlike offers (v.4)

Gestel jy vra my: ‘Wat wil Deirdrè vir haar verjaarsdag hê?’ Ek sê dat sy nie van verrassings hou nie, dat mense haar nie te vroeg moet bel nie, en dat sy nie van teologiese boeke hou nie. Jy is opgewonde om my vrou se dag te maak en koop vir haar die teologiese werke van John Owen en reël ’n verrassingsontbyt wat 07:15 begin. Jy het nie geglo wat ek oor my vrou gesê het nie, maar het voortgegaan om te doen wat jy wil. My vrou is nie beïndruk met jou geskenke nie.

Net so is die beste offers wat jy vir die Here bring nie aanneemlik as jy dinge doen wat jý geniet, eerder as om Hom te aanbid soos Hy in die Bybel sê. Dit was die verskil tussen Kain en Abel. Abel het die Here geglo en Kain nie (v.4). Abel was ’n profeet (Luk. 11:50-51) wat beteken dat Hy direkte openbarings van God ontvang het. Die Here het dus vir hom gesê watse offer hy moet bring. Hy het God se Woord geglo en ’n bloedoffer gebring, sy beste gegee en dit met die regte gesindheid gedoen (v.4, 12:24, Gen. 4:4).

Kain het geweet dat God ’n bloedoffer gebring het om sy ouers se sondes te bedek (Gen. 3:21). Hy het egter gedink hy weet beter, sodat hy die offer van sy keuse gebring het en dit nog met ’n slegte hart (Gen. 4:5, 7). Hy was onder die invloed van die duiwel (1Joh. 3:12). Gevolglik het die Here hom en sy offer verwerp, maar Abel en sy offer aanvaar en getuig dat hy regverdig is (v.4, vgl. Rom. 4:3). Hieroor was Kain jaloers. Hy het sy broer gehaat en hom doodgemaak (v.4, Gen. 4:5-8). Hy kon egter nie sy getuienis doodmaak nie. Abel se lewe spreek nog steeds deur die getuienis van die Skrif (v.4, 12:24, Gen. 4, Matt. 23:35).

Wat van jou: wys die goeie vrugte van jou lewe dat jy geloof het? Wat sal mense van jou sê as jý weg is? Sal hulle goeie dinge sê, of sal hulle moet lieg? Maar selfs al prys hulle jou, tel hulle opinies nie veel nie. Die groot vraag is wat die Here van jou sal sê? Sal Hý ’n goeie geteuienis van jou lewer (v.4, 2)?

  • Sal Hy sê: ‘Jou liefde was nie perfek nie, maar dit was eg’? Of sal Hy sê: ‘Jy het jou lewe bo alles liefgehad’?
  • Sal Hy sê: ‘Jy het gedoen wat Ek van jou vra’? Of sal Hy sê: ‘Jy het gedoen wat jy wil… jy het gedoen wat die groep wou hê’?
  • Sal Hy sê: ‘Om My te aanbid was vir jou ’n prioriteit’? Of sal Hy sê: ‘Om My te aanbid was nie vir jou die belangrikste nie. Eintlik het dit nie eers die top 5 gemaak nie’?
  • Sal Hy sê: ‘Jy het jou beste vir My gegee’? Of sal Hy sê: ‘Jy het vir My die oorskiet van jou tyd, geld, aanbidding, huwelik, kinders en lewe gegee’?
  • Sal Hy sê: ‘Jy het my Woord liefgehad, sodat jy dit wou verstaan, uitvoer en My daarvolgens aanbid’? Of sal Hy sê: ‘Jy het nie my Woord liefgehad soos die outeur van Ps. 119 nie, maar jy het jou eie hart gevolg (kontra Jer. 17:9) en gedoen wat lekker voel en dan gesê dat dit Ék is wat jou lei’?

Volgens v.4 is wat jy doen en wie jy is slegs aanneemlik deur die geloof. Hoekom? Want die Vader is nét tevrede met Jesus en sý offer vir ons sonde (Matt. 3:17). Laat ons dan in Hóm glo om die Vader te behaag. Sonder Jesus kan geen hoeveelheid kerkbywoning, tiendes, gebede, of goeie werke die Vader behaag nie.

2. Welbehaaglike toewyding (v.5-6)

Stuart Olyott sê oor Henog in v.5: ‘He walked and talked with God, and one day walked with him to his house without ever coming back. He arrived there without dying and did not leave his body behind!’1 Dit is goeie opsomming van Henog se lewe. Let op dat God hom weggevat het deur die geloof (v.5). Wat beteken dit? Wat dit nié beteken nie is dat as jy hard genoeg glo, jý soos Henog sal wees en nie sal sterf nie. Die bedoeling is eerder dat God vir Henog gesê het Hy gaan hom wegvat, dat Henog God geglo het, en dat God hom weggevat het (vgl. 2Kon. 2:1-11). Niemand het hom gevind nie (v.5, 2Kon. 2:16-18). God het hom gevat, omdat hy Hom behaag het (v.5). Wil jy soos Henog wees en die Here behaag?

[a] Sê jy: ‘As ek eerlik moet wees: nee, ek het nie ’n oorheersende begeerte om die Here te behaag nie’? Maar wie wil jy dan behaag? Jouself, of ander mense? Is die rede, omdat jy lof wil ontvang eerder as om dit te gee? Solank as wat jy so dink, kan jy nie gered word nie (sien Joh. 5:44).

[b] Sê jy: ‘Ja, maar dit is te moeilik. Henog het God gesien en gehoor, terwyl ons deur die geloof moet lewe’? Jy is verkeerd. Henog het deur die geloof gelewe (v.5)! Hy het géén Bybel gehad nie, maar het God se Woord geleer deur oorlewering, of deur drome en visioene. Soos ek en jy, moes Henog ook gereeld bid.

[c] Sê jy: ‘Ja, maar die wêreld is te goddeloos; dinge was makliker in Henog se tyd’? Weereens is jy verkeerd. Henog was die sewende van Adam af deur Set (Gen. 5, Jud 14-15). Lameg was die sewende van Adam af deur Kain (Gen. 4:17-18). Lameg was ’n bose man: hy het poligamie en moord gepleeg (Gen. 4:19, 23-24). In sy tyd het min mense die Here gedien (Gen. 4:26). In die tyd van Henog se kinders en kleinkinders het die wêreld al hoe slegter geword, sodat slegs Noag en sy gesin die Here gedien het (Gen. 6:5, 11-12). Moet dus nie sê dat jy nie heilig kan lewe, omdat die wêreld te sleg is nie. Die wêreld was sleg in Henog se tyd en tog het hy met God gewandel.

Maar selfs al sou die wêreld in 2020 slegter wees as in Henog se tyd: God verander nie, sy Woord verander nie, en sy krag verander nie. Deur die geloof kan ons dus in enige era soos Henog naby die Here lewe. Eintlik het ons ’n beter kans as Henog. Hy het gelewe voor Jesus se kruisdood en opstanding, voor die uitstorting van die Heilige Gees, en voordat enige van die Bybelboeke op skrif was. Ons leef ná hierdie dinge en kan dus soos Henog met die Here wandel (Miga 6:8, 2Kor. 5:7, Gal. 5:16, 25).

[d] Sê jy: ‘Ja, maar ek het alreeds my lewe opgemors’? Henog was 65 toe hy die Here begin dien het (Gen. 5:21-22). En wat sal ek van jou sondige verlede sê? “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20). “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1Joh. 1:9).

[e] Sê jy: ‘Ja, ek probeer my beste om die Here tevrede te stel’? Hoe doen jy dit? Is jy soos iemand wat langs die Victoria valle aan die Zambezi rivier staan en mense probeer beïndruk deur met ’n tuinslang te spuit? Probeer jy met die waterval kompeteer: almal moet vir die tuinslang kyk eerder as vir die waterval? Jy besef nie dat die tuinslang sy water uit die Zambezi rivier kry nie!

Net so is daar ’n manier om die Here te dien wat Hom glad nie beïndruk nie. Dit gebeur wanneer ons op ons eie vermoëns staatmaak eerder as op die Here. Ons is soos Marta wat die Here deur ons diens probeer beïndruk, terwyl ons eintlik saam met Maria by sy voete moet sit en Hóm moet bewonder (Luk. 10:38-42). Laat ons dan verstom staan oor die waterval van sy heerlikheid eerder as oor die tuinslang van ons diens vir die Here. Onthou dat God nie jou en my diens nodig het nie, maar dat ons Hóm nodig het (Hand. 17:25). Laat ons daarom deur die geloof op sý krag staatmaak (v.6). Om so te lewe sal Hom verheerlik; om op jou eie vermoëns staat te maak, sal nie (Ps. 20:8, 33:16-18, 147:10-11). As jy sterk is en ’n groot werk vir die Here doen, dan prys almal jóú. As jy swak is en die Here sy werk deur jou doen, prys almal Hóm.

Sien jy dus dat ons sonder Hom niks is nie (Rigt. 16:20, 30, Joh. 15:5)? Dit is ’n kenmerk van al die geloofshelde: hulle het hulle eie swakheid erken en op die Here vertrou vir sý lewe, wysheid en krag om deur hulle te werk (Jer. 9:23-24, 2Kor. 12:9-10). Nóg ’n kenmerk is dat almal van hulle gelewe het in die Woord en deur gebed. Daardeur het hulle bely dat hulle swak is en dat hulle die Here benodig. Om hierdie rede het hulle daagliks tot God genader (v.6, 10:22). Hulle het geglo dat Hy lewe en waarlik bestaan (v.6).

As iemand dit nie wil glo nie, sal God vir hom of haar gee wat hulle soek, naamlik om ten spyte van al die bewyse te glo dat Hy nie bestaan nie. God steek met ander woorde die waarheid vir hulle weg (Luk. 10:21-22). So iemand kan die Bybel ’n honderd keer deurlees, maar hy sal aanhou glo dat daar nie ’n God is nie (Joh. 5:39-40, 2Kor. 3:14-15, 2Tess. 2:11-12). Selfs al sou hy God se stem uit die hemel hoor, sal hy sê dat dit net donderweer was (Joh. 12:28-29).

Glo daarom dat jy na die ware en lewende God toe kom wanneer jy die Woord hoor, met ander gelowiges ontmoet, bid en die nagmaal gebruik. Glo ook dat God ’n beloner is van dié wat Hom soek (v.6). Om God te soek, impliseer dat jy nie twee minute met Hom spandeer, of nou en dan met Hom praat nie. Dit beteken eerder dat jy in sy teenwoordigheid lewe en met jou hele hart na Hom vra (v.6, Gen. 32:26, Deut. 4:29, Jer. 29:13).

Wat sal die gevolge wees as jy dit doen? Die Here sal jou beloon (v.6). Wat is die beloning? Hy sal jou gebede beantwoord. Soms sê Hy: ‘Wag ’n bietjie’ (Luk. 18:1-8). Partykeer sê Hy ‘nee’ vir ’n goeie rede (Ps. 66:18, Spr. 15:8, 29, 21:13, 28:9, Jes. 59:2, Matt. 6:14-15, Jak. 1:5-8, 4:3, 1Pet. 3:7, 12). Gewoonlik sê Hy egter ‘ja’ (Matt. 7:7-11). Ons ervaar dit op die oomblik. In ons gemeente se bidure sien ons so te sê elke week antwoorde op gebed. Vir die Here om ons op dié manier te beloon, is normaal (v.6). Soms gee Hy selfs meer as dít waarvoor ons vra. Soos een van my vriende sou sê: ‘Hy gee ons nie net brood nie, maar smeer dit lekker dik met heuning ook.’

Laat ons dan nie persoonlike en gesamentlike gebed afskeep nie. Ons doen dit tot ons eie nadeel en mis uit op die beloning (v.6, Jak. 4:2). Hierdie beloning kom slegs wanneer ons in geloof bid (v.6). Die beteken nie dat jy in jou eie geloof moet glo, of dat jy dit moet ‘uitspreek’ nie. Die punt is eerder dat jy God se Woord moet glo. Herinner Hom aan sy beloftes (Jes. 62:6-7). As jy só bid en regtig God se beloftes glo, sal Hy die onmoontlike verrig (Matt. 21:21-22, Ef. 3:20).

Die Here se beloning sluit nie net antwoorde op gebed in nie, maar Hy gee jou ook ’n sin van sy nabyheid wanneer jy bid (Jak. 4:8). En dan gee Hy ons natuurlik die ewige beloning van Homself (v.6, Ps. 73:25, Fil. 3:14). As dit jou nie aantrek nie, dan wys dit dat jy te min van Hom weet. Jy is soos ’n boemelaar wat drank, dwelms, werkloosheid, eensaamheid, honger, koue, armoede en ’n lewe op straat verkies bo ’n gelukkige gesin, ’n vaste werk, ’n salaris, ’n huis, ’n kar en ’n normale lewe.

3. Eerbiedige gehoorsaamheid (v.7)

Jan waarsku sy seuns om nie bal te skop naby die venster nie. ‘As julle die venster breek, gaan ek julle sakgeld vat om dit reg te maak,’ sê hy. Hulle glo hom nie en hou aan om naby die venster te skop. Soos Jan voorspel het, breek hulle die venster. Hy hou sy woord en vat hulle sakgeld om die venster te vervang.

Dit is maar ’n klein illustrasie van wat met Noag gebeur het. God het gesê dat Hy die korrupte mensdom met ’n vloed gaan uitwis en dat Noag ’n ark moet bou om homself, sy gesin, en ’n klomp diere veilig te hou (Gen. 6:13-7:4). Noag het God geglo, Hom gevrees en ’n ark gebou, selfs toe die vloed nog dekades weg was (v.7, Gen. 7:5). Ek kan my net indink hoe die mense hom gespot het: ‘Kyk hoe bou hy ’n skip op die droë grond? Wat? ’n Wêreldwye vloed? Ha-ha-ha-ha!’

Noag het die mense gewaarsku (2Pet. 2:5). Hulle wou nie luister nie, maar het aangegaan met hulle lewens (Matt. 24:38). Noag het egter in God geglo en ’n ark gebou. Deur sy aksie het hy die goddelose wêreld veroordeel (v.7). Toe die vloed onverwags oor hulle kom en hulle uitwis (Matt. 24:39), kon niemand sê: ‘Ek het nie geweet nie.’ Noag het hulle gewaarsku en God het hulle ’n 120 jaar kans gegee (Gen. 6:3).

Om dit huistoe te bring, wil ek jou vra: glo jy regtig in die wederkoms, die oordeelsdag, die hemel en die hel? Party sal prontuit ‘nee’ sê. Hulle vergeet egter van die vloed (2Pet. 3:4-7). ‘Ek glo nie in die vloed nie,’ reageer hulle. Natuurlik glo hulle nie in die vloed nie, want anders moet hulle erken dat daar ’n God is en dat Hy mense se sonde oordeel. Daarom ontken hulle ook die oordeelsdag en die hel, omdat hulle nie wil ophou om rond te slaap, dronk te word, te skinder, en te lewe soos hulle wil nie.

Iemand wat werklik in die Here glo, is wys. Hy weet dat die Bybel nie maar net ’n mooi storie is nie. Soos Noag, glo, vrees en gehoorsaam hy of sy die Here. Soos Noag, verklaar God die persoon dan regverdig deur die geloof (v.7, Gen. 6:9). Hy gee aan die persoon die geregtigheid van sy Seun (1Kor. 1:30, Fil. 3:9). Hy sien ons met ander woorde deur Jesus en ons sien Hóm deur Jesus (Rom. 13:14, 2Kor. 5:21, Gal. 3:26-27). Is daar iets in Jesus waarmee die Vader ontevrede is? Verseker nie. Het ons dan iets méér as Jesus nodig om deur God aanvaar te word? Ook nie. Hoe ontvang ’n mens Jesus? Deur die geloof. Dan is geloof genoeg net soos wat die gesonde wortels van ’n boom genoeg is om goeie vrugte voort te bring.


1  Stuart Olyott, I Wish Someone Would Explain Hebrews to Me! (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2010), 134