Wat is geloof en hoekom het jy dit nodig?

Hebreërs 11:1-3

Party mense het die idee dat geloof wensdenkery is. Dit is bedoel vir kinders wat in fiktiewe karakters soos Kersvader en die tandemuis glo. Dit is bedoel vir mense wat nie ’n sekere punt kan bewys nie en gevolglik daarin moet glo. Gelukkig is dit nie hoe die Bybel geloof verstaan nie.

1. Die definisie van geloof (v.1)

As jou dokter vir jou sê: ‘Jy moet kardiovaskulêre oefeninge doen,’ moet jy eers weet wat dit is, voordat jy dit kan doen. Dieselfde beginsel geld as 10:38-39 ons beveel om aan te hou glo, sodat ons ons siele kan behou. Wat is hierdie geloof? Volgens v.1 is dit “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Wat beteken dit? Dit beteken nie dat geloof ’n blinde sprong in die donker is nie, maar eerder dat dit gebaseer is op sekere feite (v.1).

Maar hoe weet ons dit is feite as ons dit nie kan sien nie? Jesus het uit die hemel gekom om ons daarvan te vertel. Maar wie sê Jesus lieg nie, veral as so baie mense al gesê het dat hulle die Messias is? Jesus se wonderwerke bewys dat Hy regtig van God af kom (Joh. 3:2, 5:36, 10:37-38, 14:11).

Dalk sê jy: ‘Ja, maar ek glo nie sy wonderwerke nie.’ Is dit omdat jy net glo in wat jy met jou sintuie kan waarneem en wat wetenskaplik bewys kan word? Wat dan van jou emosies en gedagtes: kan jy dit met jou sintuie waarneem? Wat van die triljoene onsigbare molekules: het hulle eers begin bestaan toe mense dit ontdek het? Jy glo seker ook in die Big Bang en makro evolusie. Maar het jy met jou sintuie waargeneem dat ’n spikkel ontplof het om alles tot stand te bring; dat geen lewe die oorsaak is van alle lewe; dat die inligting van die mens se DNA van nêrens af kom; en dat ’n enkele sel oor miljoene jare in die komplekse menslike liggaam verander het?

Dit lyk vir my of jý die een is met blinde geloof, maar dan lag jy vir Christene wat die historiese rekord glo van Jesus se lewe, wonderwerke, kruisdood en opstanding? Dalk sê jy: ‘Ek glo nie dat die Nuwe Testament vir ons ’n akkurate rekord van Jesus gee nie.’ Is dit omdat die Nuwe Testament volgens jou nie so volledig is soos ander antieke dokumente nie? Glo jy die geskiedenis van die Romeinse Ryk (The Annals deur Tacitus) waarvan ons net twee manuskripte het, terwyl jy die Nuwe Testament verwerp waarvan ons 5664 manuskripte het wat op verskillende tye en plekke gevind is en wat 99.5% met mekaar ooreenstem?

Het jy ’n probleem met die 0.5% wat verskil? Hoekom sal jy die hele Bybel hiervoor weggooi, veral as die verskille te doen het met die spelling van name, of klein kopieerfoute wat nie ’n enkele Bybelse leerstelling verander nie? Hoekom glo jy ander antieke dokumente bo die Bybel as hulle honderde jare na die oorspronklike dokumente gekopieer is, terwyl ’n fragment van Joh. 18 gevind is wat terugdateer tot ’n paar dekades nadat Johannes dit geskryf het?1

Hoekom trek jy die Bybelse rekord van Jesus in twyfel as honderde mense Hom gesien het en die waarheid van sy lewe, kruisdood, en opstanding bevestig het; as selfs Jesus se vyande nie sy wonderwerke ontken het nie; en as miljoene mense deur die geskiedenis radikaal, permanent, en sigbaar verander is toe hulle in Jesus glo?

Mag dit wees dat jy Jesus en die Bybel verwerp, omdat jy bang is wat mense van jou sal sê as jy teen die stroom ingaan (Joh. 5:44, 12:42-43)? Of verwerp jy die Bybel, omdat dit jou sonde aanspreek en jou keer om te lewe soos jy wil (Rom. 1:18-23)? Uiteindelik verwerp jy die Bybel, omdat jy geestelik blind is (Joh. 8:37, 43, 47, 2Kor. 4:4). As gevolg van hierdie feit sal jy altyd die Bybel verwerp, selfs al sien jy ’n duisend bewyse voor jou oë (Luk. 16:31).

Maar buiten vir die feit dat jy nie die Bybel wíl glo nie, kán jy dit ook nie doen tensy die Here jou oë oopmaak nie. Geloof is immers nie ’n natuurlike vermoë nie, maar ’n bonatuurlike gawe van God. Sonder die werking van die Heilige Gees in jou hart, sal jy nooit glo nie (Luk. 10:21-22, 2Kor. 4:6, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). ‘Maar maak dit regtig saak as ek die onsigbare dinge van die Bybel verwerp (v.1)?’ Dit máák saak, omdat geloof en ongeloof die verskil is tussen die hemel en die hel (10:39).

2. Die helde van geloof (v.2)

’n Held is iemand wat, ten spyte van gevaar, dapper is en groot dinge bereik. Soos met die mitologiese Hercules, lê sy krag en sy vermoë in homself. Maar dit is nie hoe die Bybel haar helde—die helde van geloof—beskryf nie. Hulle krag lê nie in hulleself nie. Dit is eerder deur hulle geloof dat die Here met krag deur hulle werk om groot dinge te vermag (Heb. 11).

Omdat geloof dan op die Here fokus en nie op menslike vermoëns nie, kry Hý die eer. Juis om hierdie rede lewer God ’n goeie getuienis van die geloofshelde in sy Woord (v.2). Dit is asof Hy sê: ‘Wees soos hierdie mense wat nie op hulle eie vermoëns staatmaak nie, maar op My, my Seun, my Gees, en my Woord.’ En omdat hulle na God alleen kyk en nie op hulleself vertrou nie, beloon Hy hulle (v.6). Om die waarheid te sê is geloof die oorsprong van elke voorreg en gawe in die Christelike lewe:

  • God se lewe in jou (Kol. 2:12).
  • ’n Regte stand voor God (Rom. 3:22, 28, Gal. 2:16, Fil. 3:9).
  • Vrye toegang tot God (Rom. 5:2, Ef. 3:12).
  • Verlossing van sonde, die duiwel en die hel (Hand. 16:31, Ef. 2:8, 1-3). Beskerming teen die duiwel en oorwinning oor die wêreld se versoekings (Ef. 6:16, 1Tess. 5:8, 1Pet. 5:9, 1Joh. 5:4-5).
  • Heiligmaking en ’n rein hart (Hand. 15:9, 26:18).
  • Jesus en die Heilige Gees wat in jou woon (Gal. 3:2, 14, Ef. 3:17).
  • Aanneming in God se huisgesin (Gal. 3:26).
  • Vreesloosheid, vrede en blydskap (v.27, Mark. 5:36, Rom. 5:1, 15:13).
  • Die bereiking van die onmoontlike deur gebed (v.33-35a, 10:22, Matt. 21:21-22, Mark. 5:34, 10:52, Jak. 5:15).
  • Goddelike wonderwerke en die effektiewe gebruik van ons geestelike gawes (Rom. 12:3, Gal. 3:5).
  • Standvastigheid en volharding (v.35b-38, 10:39, Rom. 11:20, 1Pet. 1:5).
  • Christelike vryheid (Rom. 14:1).
  • Die verkryging van God se beloftes (Heb. 6:12).
  • ’n Dieper verhouding met God (v.5).
  • Goeie werke (Jak. 2:14-26).
  • Christelike deugde (2Pet. 1:5-7).

As dit dan die voordele van geloof is, moet ons nie hoofsaaklik mik om die voordele te kry nie. Eintlik moet ons nie eers mik om die geloof te kry, asof dit ’n entiteit insigself is nie. Ons moet eerder daarna streef om Christus deur die geloof te verkry, want as ons Hóm het, het ons alles. Moet egter daarmee tevrede wees om net in die begin van die Christelike lewe in Hom te glo nie, maar begeer om jou geloof in Hom te verdiep.

Hoe doen ’n mens dit? Vra Hom om jou geloof te vermeerder en wy jouself aan gebed (Luk. 17:5, Jud. 20). Neem meer van sy Woord in, sodat jy meer het om in te glo (Joh. 20:31, Rom. 10:17). Spandeer tyd met dié wat sterk is in die geloof: deur gelowige gemeenskap en gebed met dié wat nog lewe (2Tim. 1:5, 2:22, 3:10, Filem. 6), en deur biografieë met dié wat reeds gesterf het (Heb. 11, 13:7). Leer ook uit die foute van dié wat kleingelowig is en bely jou eie kleingeloof as sonde. Sê vir die Here: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Mark. 9:24). As jy selfs net ’n bietjie geloof het, kan jy die onmoontlike verrig (Luk. 17:6). Dit wys weereens vir ons dat die krag nie in ons geloof lê nie, maar in die Een in wie ons glo.

3. Die fondasie van geloof (v.3)

Daar is sommige mense wat hulleself Christene noem, maar nie die Bybel glo nie. Hulle maak die eerste hoofstuk van die Bybel af as poësie en sê dat ons dit nie letterlik hoef op te neem nie.2 Sonder dat hulle dit besef, is hulle besig om hulle eie geloof te ondermyn, omdat ons deur geloof die waarhede van Gen. 1 verstaan (v.3).

Wat leer Gen. 1 ons? Dit leer ons van God. Ons sien sy almag daarin dat Hy die son, maan, sterre, land, see, en alles daarin gemaak het. Ons sien sy wysheid in die verskeidenheid wat Hy gemaak het, asook daarin dat daar diere is wat swem en ander wat vlieg, en dat plante, diere, en mense kan herproduseer. Ons sien sy goedheid daarin dat Hy die lig geskep het; die dag om te werk en die nag om te rus; kos vir mense en diere; die huwelik tussen ’n man en ’n vrou; kinders as die vrug van daardie huwelik.

Hy is ’n God wat praat. Hy het alles deur sy Woord, Jesus Christus, geskep (v.3, Gen. 1:3, 6, 9, 11, 14, 20, 24, 26, Ps. 33:6, 9, Joh. 1:1-3). Hy het nie die heelal van materie gemaak soos wat ’n skrynwerker ’n tafel van hout maak nie. Hy het eerder alles uit niks geskep (v.3, Rom. 4:17). Voor Gen. 1:1 was daar was nie suurstof, stikstof, enige molekules, of selfs oop ruimte nie. Dit was nét God.

Dit beteken egter nie dat Hy ’n deel van Homself gevat het om alles te skep. Anders sou ons moes sê dat die skepping gedeeltelik God is. En dan is God alles en alles God soos wat die Hindoes glo. Of dit sou beteken dat God in alles is en alles in Hom. Dan is Hy soos Oros-konsentraat in water, sodat jy nie meer tussen die twee kan onderskei nie. En in daardie geval moet ons sê dat God in Satan is en Satan in God, en dat daar nie juis ’n verskil tussen hulle is nie.

Maar om so te redeneer is absurd. God is betrokke in die skepping en onderhou dit (1:3, Ps. 104), maar Hy is nie dieselfde as die skepping nie. Hy het voor die skepping bestaan en het alles uit niks geskep (v.3). Daar is ’n duidelike verskil tussen Hom en die skepping.

Dalk bevraagteken jy die waarheid van Gen. 1. Maar hoe glo jý het alles tot stand gekom en kan jy dit bewys? Of is joune maar net ’n blinde geloof wat nie opmeet teen die realiteit wat jy rondom jou sien nie? Ten minste glo Christene nie dat ’n naaldekoker se vlerke, of die orde van ons sonnestelsel toevallig en uit wanorde ontstaan het nie, maar dat ’n alwyse, intellligente en almagtige God dit geskep het. Hoe weet ons dat Hy dit gedoen het soos Gen. 1 sê? Want Hy is die enigste Een wat daar was toe dit gebeur het. Daarom glo ons sy weergawe van die skepping in Gen. 1 (v.3).

Miskien ontken jy dat die heelal enigsins ’n begin gehad het en sê jy dat dit nog altyd daar was. Dit is egter ’n onvoldoende antwoord, omdat alles in die heelal ’n oorsaak het: ’n boom kom van ’n saad af, wat van ’n boom af kom, wat van ’n saad af kom, wat van ’n boom af kom, wat van ’n saad af kom, wat van ’n boom af kom, ensovoorts. Êrens moes dit ’n begin gehad het. Die vraag is dus wie die eerste boom geskep het, of wie die eerste saad geplant het.

Dalk sê jy: ‘Maar as alles ’n begin gehad het, dan moet God ook ’n begin hê. En wie het Hóm geskep?’ Niemand nie. Daar is twee opsies: óf jy glo dat materie ewig is, óf jy glo dat God ewig is. Volgens die Bybel het materie ’n begin gehad en God nie (Ps. 90:2).

As jy ’n Bybelgelowige Christen is, glo jy dit. Jy wéét dat die Bybel nie net die woorde van mense is nie, maar die Woord van God (1Tess. 2:13). Daarom steur jy jou nie aan die vals onderskeid wat mense tref wanneer hulle sê: ‘Ons glo in Jesus en nie in die Bybel nie.’ Ons glo eerder die Bybel omdat dit die Woord van Jesus is. Daarom aanvaar ons dit ook van die heel eerste vers af as die fondasie van ons geloof.


1  Lee Strobel, The Case for Christ (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 1998), 70-94. Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 96. John MacArthur & Richard Mayhue (ed.), Biblical Doctrine: A Systematic Summary of Bible Truth (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 127-128. Sien ook https://normangeisler.com/a-note-on-the-percent-of-accuracy-of-the-new-testament-text/

2  Jy hoef nie eers Hebreeus te ken om te sien dat Gen. 1 nie poësie is nie. Ps. 104 is ’n gedig oor die skepping; Gen. 1 is nie (buiten vir Gen. 1:27).