’n Waarskuwing teen geestelike selfmoord

Hebreërs 10:26-39

Om te hoor dat iemand selfmoord gepleeg het, is ’n groter skok as om te hoor dat iemand dood is. Dit is dieselfde met geestelike selfmoord. Die dissipels was seker geskok dat Judas vir Jesus verraai het. Ek was geskok toe ek hoor dat Joshua Harris sy rug op Jesus gedraai het. Omdat dit so ernstig is, gee Heb. 10:26-39 ’n streng waarskuwing, asook ’n oplossing teen geestelike selfmoord.

1. Die probleem (v.26-31)

In 2009 het ’n vriend my gebel om te sê dat een van ons kollegas dood is. ‘Wat!’ het ek gesê. ‘Was hy in ’n karongeluk?’ ‘Nee, hy het selfmoord gepleeg,’ het my vriend geantwoord. Eintlik het hierdie kollega eers geestelike selfmoord gepleeg. Ons het dit nie geweet nie, tot na sy dood. Toe die stories egter uitkom, het ons onthou dat daar lankal tekens was dat dinge nie reg is nie.

Geestelike selfmoord gebeur nie dadelik nie. Dit is nie altyd sigbaar nie. Dit gebeur stadig maar seker. Die persoon kom nie meer nader in gebed nie (v.22). Hy hou nie meer vas aan die belydenis van Jesus soos ons dit in die Bybel het nie (v.23). Hy wy homself nie meer aan goeie werke nie (v.24). Hy begin wegbly van die samekomste van die gelowiges (v.25). En op die einde gebeur v.26: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie”.

Moet dan nie dink dat dit ’n klein sonde is as jy v.22-25 oortree nie. Dit is immers die eerste stappe tot geestelike selfmoord, of afvalligheid. Dit is veral erg as jy die evangelie van Heb. 1-10 ken en Jesus vir die Ou Testamentiese skadus verruil (v.26, 6:4-6). Iemand wat dít doen, sondig nie onwetend nie, maar opsetlik en teen die lig (v.26, Num. 15:30-31). Vir hierdie persoon is daar geen offer vir die sondes meer oor nie (v.26). Hoe kan daar wees as hy die enigste offer verwerp (Joh. 14:6, Hand. 4:12)? Al wat op hom wag is “’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” (v.27). Hierdie vers is vervul toe God die tempel in 70 n.C. deur die Romeine verwoes het (Matt. 24:1-28, 27:25). Die Here sal dit verder vervul wanneer Hy sy vyande vir ewig in die hel verwoes (v.27, Ps. 21:9, Matt. 25:41, 46, Mark. 9:48, 2Tess. 1:9, Op. 14:10-11).

Dit is erg genoeg as jy die wet van Moses ootree en die doodstraf kry (v.28, Num. 35:30, Deut. 17:2-7, 19:15-21). Jy sal egter swaarder gestraf word as jy die evangelie verwerp (v.29, 2:2-3). Laat niemand dan onder die illusie verkeer dat die God van die Ou Testament kwaai is, terwyl Jesus in die Nuwe Testament nét liefde is nie. Lees gerus Op. 14:19-20 en 19:11-16 om te sien hoe Jesus sy vyande verpletter!

Die rede hoekom God se straf onder die evangelie erger is, is omdat jy meer lig verwerp. Jy moes met ander woorde van beter geweet het. Deur Jesus se wonderwerke en die vernuwing van sondaars is dit duidelik dat Jesus die Seun van God is en dat die evangelie waar is. Sommige mense het dit egter verwerp en gesê dat Jesus ’n onrein sondaar is wat verdien het om aan die kruis te sterf (v.29). Hulle het sy bloed vertrap soos ’n deurmatjie onder hulle voete: die bloed waardeur Jesus Homself geheilig, of afgesonder het as die offer vir ons sonde (v.29, Joh. 17:19)1; die bloed waardeur Hy die testament bekragtig het, sodat ons die hemel kan erf (v.29, 9:16-17, Matt. 26:28). Hulle het die Gees van genade gesmaad, geminag, verag, beledig, en gespot (v.29, Gk. enubrizō). Hulle het aanstoot gegee en die Gees vertoorn. Hy was toornig, omdat Hy gekom het om Jesus te verheerlik (Joh. 16:14), terwyl hulle Hom verwerp het (v.26, 29).

As iemand gedink het Jesus is net ’n mens en die persoon Hom verwerp het, sal God hom vergewe as hy hom bekeer (Matt. 12:32a, 1Tim. 1:13). Daar is egter geen vergifnis as iemand deur die Gees geweet het Jesus is die Een, maar Hom verwerp het nie (v.29, Matt. 12:31, 32b). Hoe kán God so iemand vergewe as hy sy rug gedraai het op die enigste Gees wat hom van sy sonde kon oortuig (Joh. 16:8-11)?

As jy na al God se pogings jou rug op Hom draai, sal Hy jou oorgee aan die verharding van jou eie hart. Dit is nie asof jy in Hom wíl glo, maar Hy jou verhinder nie. Dit is eerder dat Hy aan jou gee wat jy wil hê, naamlik ’n ewige bestaan sonder Hom. Jou straf sal groter wees as ’n Moslem, of ’n prostituut s’n (Matt. 10:15, 11:22, 24, Luk. 11:47-48, 20:47, Jak. 3:1). Jy het immers die waarheid geken, maar dit verwerp. Daarom is dit geen ligte saak om uit ’n evangelie-gemeente te loop, Jesus te verwerp, en na iets beter te soek nie. God beskou dit in ’n baie ernstige lig en sal jou swaar straf. Hy sal wraak neem en jou vergeld (v.30, Deut. 32:35-36). Wanneer Hy sy volk, of sy gemeente sif, sal Hy sy eie spaar en die res met ’n onuitblusbare vuur brand (v.30, Matt. 3:12).

Moet dan nie sê: ‘Ek is veilig in die kerk en kan maar in sonde lewe’ nie. Die Here sal jou in die kerk oordeel en jou daaruit verwyder (v.30, Matt. 18:17, 1Kor. 5, 1Pet. 4:17, Op. 2-3). Laat ons dus sy waarskuwing ter harte neem: “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (v.31). Vir die gelowige is dit ’n troos om in God se hande te wees (2Sam. 24:14, Joh. 10:28-29). Vir die ongelowige is dit ’n nagmerrie (v.31). En vir Jesus was dit ’n nagmerrie toe Hy ons sonde op Homself neem aan die kruis.

Dalk vrees jy dat jy v.26, 29 oortree het. Jy is jammer oor jou sonde en wens vir die Here se genade en vergifnis. Die feit dat jy sy genade soek, wys dat jy nie hierdie verse oortree het nie. Iemand wat hierdie verse oortree het, gee nie om nie en keer ook nie terug nie. As jy dus afgedwaal het en hierdie preek jou nie pla nie, loop jy op die dun ys van v.26, 29. Die kanse is goed dat jy binnekort geestelike selfmoord sal pleeg.

As hierdie preek jou egter pla, is dit goed. Maar dit is nie genoeg nie. Onthou dat oortuiging van sonde nie dieselfde is as bekering van sonde nie. Wees daarom ywerig en bekeer jou. Vra die Here vir genade en pleit sy vergifnis.

Vir dié wat sterk staan: wees versigtig dat jy nie wegdwaal nie. Selfs as jy net ’n bietjie wegdwaal, weet jy nie of dit in geestelike selfmoord sal eindig nie. Jy weet nie of jy Judas, of Petrus sal wees nie. Daarom is dit beter dat jy glad nie wegdwaal nie, maar dat jy dadelik na die Here toe terugkeer as jy in sonde geval het.

2. Die oplossing (v.32-39)

[a] Kyk terug (v.32-34)

Ek het ’n storie gelees van ’n vrou wat haar man vir iemand anders gelos het. Haar eerste man het aangehou om vriendelik en gaaf met haar te wees. Toe die nuwe man (sy het nie met hom getrou nie) na ’n jaar met haar baklei het, toe onthou sy hoe goed haar eerste man vir haar was. Sy het berou gehad oor haar sonde en na hom toe teruggekeer. Hy het haar vergewe en voorgestel dat hulle vir berading gaan om hulle huwelik te herstel.2

Dit is presies die outeur se raad aan die Hebreërs: ‘Onthou wat julle gehad het! Dink aan julle bekering! Julle het die lig gesien (v.32). Julle het besef dat Jesus alles is. Julle het die lig van die Skrif geniet (v.32, Ps. 119:105). Julle was lief vir Jesus, het opgestaan vir sy Naam, en was bereid om vir Hom te ly (v.32). Julle het verdrukking en spot verdra soos ’n man in die arena, of soos ’n nar op die verhoog (v.33). Julle het julle vereenselwig met dié wat vir die evangelie vervolg is en in die tronk was (v.33-34, 13:3, Matt. 25:36, 2Tim. 1:16). Julle het aan die hemel gedink en julle verbly toe die vervolgers julle eiendom geplunder het (v.34, 11:10, 13-16, 13:14, vgl. Matt. 5:10-12, Hand. 5:31).’

En wat van jou? Was jy in die verlede lief vir Jesus, sy Woord, gebed, lofprysing, die gemeente, die gemeenskap van die gelowiges, diensbaarheid en evangelisasie? Is dit nog steeds so? Was dit miskien so toe jy jonk was en die Here jou net gered het (v.32)? Maar noudat jy ouer is, het jy ander belange. Jesus is nie meer vir jou alles nie. Hoekom het jy weggedraai? Hoekom het jy jou eie plesiere en selfs sonde bo die Here gekies? Hoekom het jy begin bang raak vir wat mense van jou sal dink? Hoekom het jy begin om hulle aanvaarding te soek, veral nadat jy in die verlede vreesloos opgestaan het vir Jesus? Wat het verkeerd geloop dat jy ewe skielik skaam geraak het vir Jesus? Kyk terug! Onthou hoe dinge was en bekeer jou (Luk. 15:17, Op. 2:5).

[b] Kyk vorentoe (v.35-39)

Gestel jy hardloop ’n maraton. Jou bene brand en jy wil opgee. Wanneer jy egter aan die R1.5 miljoen prysgeld dink, besluit jy om te volhard. Dit is ook hoe dit met die Hebreërs was: om vrymoedig aan Jesus vas te hou, moes hulle na die beloning kyk (v.35, 11:26). Hulle moes dit nie weggooi vir diereoffers nie! Hulle moes nie opgee as gevolg van die swaarkry nie, maar hulle moes volhard en aanhou om God se wil te doen, sodat Hy hulle die belofte van die hemel kon gee (v.36, 34, 6:12, 11:39, Matt. 10:22). Hulle moes nog net ’n bietjie vasbyt, omdat Jesus in 70 n.C. sou kom om die vervolgers te straf (v.37, Hab. 2:3). Dié regverdiges sou sy belofte glo en lewe eerder as om sterf (v.38). Dié wat egter van Hom onttrek het, sou God se oordeel smaak (v.38, 25, Hab. 2:4).

Vandag is dit dieselfde: die Here sal ontevrede wees as jy wegdwaal (v.38). Vals gelowiges doen dit: hulle draai weg van die Woord, gebed en die gemeente en word vernietig in die hel (v.39a, 25-31, 1Joh. 2:19). Ware gelowiges hou vas tot aan die einde en bly behoue (v.39b, Fil. 1:6, 1Pet. 1:4-5). Watse een is jy: die ware gelowige wat volhard, of die vals gelowige wat geestelik lou is, wat reeds begin het om weg te dwaal, wat naby is aan geestelike selfmoord, en wat sal eindig in die hel?

Indien jy die tweede tipe is, gaan my hart uit na jou toe en breek dit soos Jesus s’n toe Hy oor Jerusalem geween het. Ek wens jy wil nie so onverskillig wees met jou siel nie. Ek wens jy kon vir ’n oomblik sien hoe skrikwekkend die hel is, sodat jy na Jesus toe sal vlug. Ek wens jy kon vir ’n oomblik Jesus se heerlikheid in die hemel sien, sodat jy Hom nooit weer laat gaan nie, selfs al moet jy ’n duisend keer vir sy Naam sterf.

Ek wens hierdie dinge, maar ongelukkig werk dit nie so nie. Ons moet immers deur die geloof lewe (Heb. 11). En tog kan jy Hom nou al met die oë van geloof sien: sy lewe, kruisdood, opstanding, heerskappy en wederkoms. Bid dat jy Hom sal sien: vir die eerste keer, of opnuut. Dit sal jou help om te volhard, ten spyte van ’n moeilike 2020, ’n wêreld vol versoeking en sonde, en die swaarkry wat jy op die oomblik moet deurmaak.

As jy Hom egter nie voortdurend in die Woord, gebed en die gemeenskap van die gelowiges sien nie, is dit ’n kwessie van tyd voordat jy jou siel aan die tou van afvalligheid ophang. Is dit dan nie beter dat jy jou oë tot aan die einde op Jesus hou soos ’n hond wat stip en aanhoudend na sy meester kyk, totdat hy hom beloon nie?


1  Party sal sê dat die geheiligde persoon in v.29 na die afvallige verwys en nie na Jesus nie. As die Here egter ’n sondaar red en hom heilig, is dit eens en vir altyd (sien v.10, 14). So iemand kan nie afvallig raak nie.

2  Ken Sande, The Peacemaker: Third Edition (Grand Rapids, MI: Baker Books, 1991, 1997, 2004), 251-2