Werkverwante Probleme: Werketiek

Efesiërs 4:28

As Jesus ’n mens verander, maak Hy hom nie net geestelik nie, maar verander Hy elke aspek van sy lewe—ook sy werk (1Kor. 7:17-24). Derhalwe staan ’n toegewyde Christen nie net bekend as iemand met wie jy jou persoonlike probleme kan deel nie, maar as iemand wat jou met komplekse professionele probleme kan help.1 Hy ken met ander woorde sy storie by die werk, omdat hy sy beste vir die Here gee (Kol. 3:23). Om só te werk, is deel van Christelike dissipelskap. Dit is tog die Here se wil dat ons Hom in alles moet eer (1Kor. 10:31). Ek het twee sendeling-vriende wat dit goed verstaan. Hulle bedien ’n area waar die meeste kinders nie pa’s het nie. Gevolglik leer hulle veral vir die seuns ’n Christelike werketiek:

  • Wees stiptelik.
  • Gehoorsaam jou baas.
  • Let op die fyner besonderhede, sodat jy uitstekende werk sal lewer.
  • Werk om jou maatskappy suksesvol te maak.
  • Wees lojaal aan jou maatskappy.
  • Wees betroubaar.
  • Werk hard om die beste in jou afdeling te wees.
  • Neem inisiatief om take te doen sonder dat die baas jou hoef te vra.
  • Vind beter en goedkoper maniere om jou werk te doen.
  • Wees vriendelik met kliënte.2

As jy op hierdie manier werk, sal jy mense se respek wen, asook die reg om die evangelie met hulle te deel. Jy kan hulle vertel hoe jy in die verlede nié so gewerk het nie, maar hoe Jesus jou lewe kom verander het. Mense sal sien dat werketiek nie bloot ’n goeie karaktereienskap is nie, maar dat dit deel is van die Christelike lewe.

1. Werk eerlik

’n Paar jaar gelede het ek parte by ’n motorhandelaar gaan koop. Toe ek wou betaal, het ek agtergekom dat ek nie my kaart by my het nie. Ek het huistoe gery om my kaart te kry. Toe ek terugkom, toe gee dieselfde verkoopsman vir my ’n ander prys. ‘Hoekom is die parte nou duurder?’ het ek gevra. Hy was verleë en het die prys terug verander. ‘Jy het my nie geantwoord nie,’ het ek gesê. ‘It depends whom is selling what to whom,’ het hy gesê.

Christene moenie so wees nie. Ons moenie steel nie. Moenie vat wat nie joune is nie (v.28, Eks. 20:15). Ek kan baie hieroor sê, maar ek wil spesifiek fokus op die maniere wat mense by die werk steel. Hulle steel geld uit die kleinkas, of deur oneerlik te wees met die boeke, of met belasting (Joh. 12:6). Hulle steel uit die maatskappy se bankrekening. Hulle steel deur nie ordentlik rekening te hou van die geld wat inkom en uitgaan nie, sodat die maatskappy geld verloor. Hulle steel deur nie al die geld wat inkom te rapporteer nie, maar deur ’n gedeelte vir hulleself te hou.

Hulle steel wat aan die maatskappy behoort: selfs klein goedjies soos penne. Hulle steel deur die maatskappy se eiendom—’n voertuig, petrolkaart, of fotostaatmasjien—vir persoonlike gewin te gebruik. Hulle steel deur sonder toestemming die maatskappy se toerusting vir privaat werk te gebruik, sodat hulle ’n ekstra inkomste kan verdien. Hulle steel deur omkoopgeld te vat en dan sekere kliënte voor te trek. Hulle steel tyd. Die baas betaal hulle vir 8 ure se werk, terwyl hulle net 6 ure werk. Hulle mors tyd op die internet, kuier by vriende terwyl hulle kliënte moet sien, vat ekstra koffie breke, gesels terwyl hulle moet werk, kom laat in en loop vroeg. Hulle steel deur hulle werkers se geld terug te hou en sodoende ekstra rente te verdien (Lev. 19:13, Jak. 5:4). Hulle steel deur hulle werkers te min te betaal. Hulle kry 20 keer meer as hulle werkers, maar beloon hulle dan met peanuts (kontra Luk.10:7).

Hulle steel deur die verskaffer minder te wil betaal as wat die produk werd is. Hulle steel deur vir kliënte te lieg en meer geld te vra as wat die produk kos. Hulle steel deur buitensporige pryse te vra (Matt. 21:12-13). Hulle steel deur nie te betaal wat hulle mense skuld nie (Rom. 13:7-8). Hulle steel deur te swindel. Hulle koop byvoorbeeld ’n produk by die verskaffer en betaal die 50% deposito. Wanneer die verskaffer die res van sy geld soek, vermy hulle sy oproepe.

Hulle steel deur op onwettige maniere geld te maak (byvoorbeeld deur met diamante te smokkel). Hulle steel deur ’n produk aan die kliënt te ‘verkoop’, maar dit nooit af te lewer nie. Hulle steel deurdat die kliënt hulle R4000 vir die werk betaal, terwyl hulle ou parte gebruik, swak werk lewer, of nooit die werk klaarmaak nie. Hulle steel deur ander mense se werk voor te hou as hulle eie (Jer. 23:30). In die akademiese wêreld noem ons dit plagiaat. Hulle steel deur goed by die werk te ‘leen’ wat hulle nooit teruggee nie. Hulle steel deur die geleende goed te beskadig, of dit te laat wegraak (Eks. 22:8-9, 12, 14).

Miskien dink jy dat jóú vorm van diefstal nie ernstig is nie, maar volgens die Bybel is selfs iemand wat by sy ouers steel soos enige ander dief (Spr. 28:24). So iemand het ’n slegte hart en sal die Koninkryk van God nie ingaan nie (Mark. 7:21, 1Kor. 6:10). Jy kan egter verander. Die Here kan jou ’n hart gee wat Hom en die hemel meer begeer as enige aardse besitting. Hy kan jou red soos Hy met die dief aan die kruis gedoen het. Hy kan jou verander soos Hy Saggeus se hart verander het: van ’n skelm na iemand wat meer teruggee het as wat hy gesteel het (Luk. 19:8). Hy kan jou verander van iemand wat steel na iemand wat hard werk (v.28).

2. Werk hard

Die Grieke en die Romeine het ’n lae beskouing van hande arbeid en harde werk gehad. Die slawe moes dit doen. Die ryk mense het geglo dat dit benede hulle is.3 Jesus het egter met sy hande gewerk (Mark. 6:3). Paulus het dieselfde gedoen en het die gelowiges geleer om sy voorbeeld te volg (v.28, Hand. 18:3, 20:34-35, 1Tess. 4:11, 2Tess. 3:7-9, 12).

Die Griekse woord vir arbei [kopiaō] beteken letterlik om hard te werk tot op die punt van uitputting. Die les is dat Christene nie moet terugstaan vir harde werk, of moet dink dat sekere werke benede hulle is nie. Maak jou hande vuil, sit agter die lessenaar, klim onder die kar se enjin in, sit agter die naaldwerkmasjien, vul die syfers in, kry die potte op stoof, klim agter die boeke in—werk hard tot eer van die Here. As jy hard werk, sal jy minder versoek wees om te steel (v.28). As die meeste mense in ’n land hard werk eerder as om te steel, sal hulle ryk en voorspoedig wees.

‘Maar is dit nie ’n sonde om ryk te wees nie?’ Nee. Party gelowiges in die Bybel was ryk: Abraham, Isak, Jakob, Job, Boas, Dawid, Hiskia, Josia, die vroue in Luk. 8:1-3, Saggeus, Josef van Arimatea en ’n paar ander. Dit is sonde om ’n afgod van geld te maak. Natuurlik kan jy dit makliker verafgod as jy dit het. Wees daarom versigtig dat geld nie jou hart oorneem soos wat onkruid ’n tuin oorneem nie (vgl. Luk. 18:18-25). Hoe kan jy keer dat dit gebeur? Gebruik jou geld reg: sorg vir jou gesin, deel met die armes, en ondersteun die Here se werk (v.28, Hand. 16:14-15, 1Tim. 6:18). Ek sal net-nou meer hieroor sê. Vir nou wil ek sê dat jy nie moet skroom om hard te werk en ryk te word, sodat jy ander kan help en die Here se saak kan bevorder nie.

Christene wat hard werk, bevoordeel ook die samelewing en die ekonomie (Jer. 29:7). Dit is wat in die Romeinse Ryk gebeur het. Baie mense was ryk omdat hulle aan ’n adelike familie behoort het, of omdat hulle ryk geërf het. Die res van die bevolking was slawe, of gewone arbeiders soos vissermanne, skrynwerkers en ystersmede. Hulle was nie ryk nie, maar het van die hand na die mond geleef.

Toe Jesus mense se harte verander, het Hy hulle geleer om hard te werk. Die adelikes wat tot bekering gekom het, het nie meer die hele dag gesit en druiwe eet nie, maar het hard gewerk. Christen slawe en arbeiders het dieselfde gedoen. As gevolg van hulle harde werk, het die arbeiders ryk geword. Gevolglik was dat daar nie net meer ryk mense en arm mense nie, maar het daar ’n middelklas ontstaan.4 Gewone mense het hard gewerk en ryk geword.

Sien jy dus hoe die evangelie, Jesus se lering, en sy lig wat deur ons skyn ’n hele ekonomie kan verander (Matt. 5:14-16)? Sonder die evangelie is mense gierig en gryp hulle die goud, diamante, olie, en ander hulpbronne vir hulleself. Waar dít gebeur, word enkele mense ryk en moet die res vír hulle werk, sodat hulle arm bly. Waar Jesus egter mense se harte verander, werk hulle hard werk om God te verheerlik en word die ekonomie bevoordeel.

Dalk bevraagteken jy my teorie, omdat party anti-Christelike lande ryk is. Jy redeneer verkeerd. Die feit dat die buurman se perskes in my erf oorhang, beteken nie dat die boom myne is nie. Net so is sommige sekulêre lande ryk, omdat hulle ’n Christelike werketiek aangeneem het. Alhoewel hulle die perskeboom nie in hulle erf staan nie, geniet hulle die vrugte wat oor die muur hang. Dit is byvoorbeeld wat in Japan gebeur het. Hulle het ryk geword toe keiser Meiji in die laat 1800’s ’n Westerse werketiek aanvaar het.5 Die Westerse werketiek kom van die Hervormers en die Puriteine af. Hulle het mense geleer om nie hulle werk as ongeestelik te beskou nie, maar om dit tot eer van die Here te doen.6 Toe hulle begin het om dit toe te pas, het gewone mense ryk geword.

Enigiemand wat dit doen, sal uitstekende werk lewer. Natuurlik kan ongelowiges ook goeie werk lewer. Hulle het egter nie dieselfde motiewe as ons nie. Hulle werk hard omdat hulle geld en besittings jaag sonder dat hulle die Gewer van die gawes erken (Hos. 1:5, 8, Matt. 6:24). Ons werk hard om God te verheerlik. Daardeur geniet ons ’n satisfaksie wat geen ongelowige ken nie. Al die geld in die wêreld sal hulle nie versadig, omdat hulle dit gaan agterlos wanneer hulle die dag doodgaan (Mark. 8:36, Luk. 12:15-21).

3. Werk om ander te help

Ernie Reisinger was ’n baie ryk sakeman wat ’n predikant geword het. Hy het sy rykdom gebruik om ’n gemeente te plant en om die evangelie te befonds. Hy het byvoorbeeld 12 000 kopieë van ’n Sistematiese Teologie handboek vir studente en predikante regoor Amerika gestuur. Hy het ’n goeie uitgewer van Christelike boeke Amerika toe gebring, sodat daar vandag nie net meer ’n tak in Skotland is nie, maar ook in Amerika.7

Só moet ’n Christen sy rykdom gebruik: nie om duurder speelgoed te koop en luukser vakansies te hou nie, maar om die Koninkryk te bevorder. Voordat jy egter daarby kom, moet jy met jou eie hande werk (v.28, Gk.) om vir jou gesin te sorg. As jy dit nié doen nie, is jy skynheilig wanneer jy geld tot God se Koninkryk bydra (Matt. 15:5-9, 1Tim. 5:8).

Om met jou eie hande te werk, impliseer ook dat jy privaat eiendom mág besit. Die kommuniste en sosialiste dink anders. Volgens hulle moet die regering alle eiendom [plase!] besit. Sommige van hulle glo dat dit Bybels is, omdat die gelowiges in Hand. 2 en 4 hulle eiendom verkoop het en die geld onder mekaar verdeel het. Wat die kommuniste miskyk, is dat die gelowiges dit vrywillig en uit liefde gedoen het. Niemand het hulle gedwing om dit doen nie. Toe Ananias sy eiendom verkoop het, het Petrus vir hom gesê: “As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?” Laat niemand dus dink dat die Bybel teen privaat eiendom is nie (Matt. 20:15). Die feit dat jy nie moet steel, bewys dit (v.28).

Waar die regering alles besit en dit uitdeel soos hulle goed dink, raak mense lui. Wie wil nou werk as die regering vir jou sorg? Natuurlik geniet die regering dit, omdat hulle die geld en die mag het, en omdat hulle die volk se verlosser is. In ’n land waar elkeen egter vir homself verantwoordelik is, werk die mense hard, of bly hulle honger (Spr. 16:26, 20:4, 2Tess. 3:10).

‘Maar wat van die armes—wie moet vir húlle sorg?’ In die meeste gevalle sal hulle nie arm wees as hulle hard werk nie. Daar sal egter party wees wat hard werk en arm bly. In sulke gevalle moet óns vir hulle sorg (v.28). Hoe moet ons dit doen? Werk hard om meer te verdien as wat jy nodig het, sodat jy vir jou gesin kan sorg en die armes kan help (v.28, Matt. 25:20). Help eers die armes in jou familie en jou gemeente, en daarná die ongelowiges wat nie het nie (Gal. 6:10).

Hoekom help ons die armes? Ons dit nie soos Moslems in die hoop dat dit ons in die hemel sal kry nie. Ons doen dit eerder omdat Jesus ons harte verander het en omdat ons Hom wil eer (v.28, Rom. 12:13, Heb. 13:16). Ons doen dit omdat Hý arm geword het, sodat ons geestelik ryk kan wees (2Kor. 8:9). Ons doen dit omdat ons ander mense wil liefhê soos Hy óns liefgehad het (1Joh. 3:16-18).

Laat ons dan nie bang wees om hard te werk, sodat ons kan ryk word, om meer vir die Koninkryk te gee en mense te help nie. Dit is deel van ’n Christelike werketiek. In John Wesley (1703-91) se woorde: ‘Make all you can. Save all you can. Give all you can.’8


1  John Piper, Don’t Waste Your Life (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2003), 143-4

2  Vry vertaal en opgesom uit Seth Meyers, Christian Economics: Wealth Creation, Politics, and Money from a Biblical Perspective (Course Syllabus for the Limpopo Bible Institute), 18-19

3  Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 194-5

4  Ibid., 198-9

5  Ibid., 202 & https://www.britannica.com/event/Meiji-Restoration

6  Ray Pennings in Joel Beeke, Living for God’s Glory: An Introduction to Calvinism (Lake Mary, FL: Reformation Trust Publishing, 2008), 349-360

7  Geoffrey Thomas, Ernest C. Reisinger: A Biography (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2002)

8  Dit was John Wesley se drie punte in sy preek, The Use of Money.