Christelike voorregte en pligte

Hebreërs 10:19-25

Om vir die Springbok Rugbyspan gekies te word, is ’n voorreg. Maar jy het ook sekere pligte, naamlik om hard te oefen en om jouself te gedra in die publiek. Net so is dit ’n voorreg om ’n Christen te wees, maar het jy ook sekere pligte.

1. Voorregte (v.19-21)

[a] Jy het toegang tot God (v.19-20)

As jy ’n belangrike persoon wil sien, moet jy ’n afspraak maak. Dit is hoe dit met die Here was in die Ou Testament: slegs die hoëpriester kon deur die tempelgordyn ingaan om vir homself en vir die volk in te tree. Hy kon dit net een keer per jaar doen (9:7, Lev. 16).

In die Nuwe Testament het dinge verander toe Jesus gesterf het en God die tempelgordyn in twee geskeur het (v.20, Matt. 27:51). Die geskeurde gordyn was ’n prentjie van Jesus se liggaam wat geskeur is deur geseling, die spykers en die wonde aan sy liggaam (v.20). Daardeur het die Vader gewys dat die hemel oop is vir sondaars. Deur Jesus se bloed kan ons enige tyd na die Vader toe kom: met vrymoedigheid en sonder huiwering, skaamte, twyfel, of vrees (v.19, 4:16, Rom. 5:2, Ef. 3:12).

Ons kom nie meer op die ou weg van dooie diere nie, maar op die nuwe weg van Jesus wat weer lewe (v.20, Joh. 14:6). Hoe gereeld gebruik jy hierdie voorreg? Wanneer laas het jy by die Here se voete gebid? Wanneer laas het jy gebid, nie omdat jy iets wil hê nie, maar omdat jy by Jesus wil wees (Ps. 131:2)? Gebed is die eerste en belangrikste voorreg van die Christelike lewe. Dit is soos sout wat aan al die disse smaak gee. Deur gebed gee die Here ons krag om die res van ons voorregte en pligte reg te geniet en uit te voer: hoe ons die Woord lees en daarna luister, hoe ons ons geestelike gawes gebruik, die viering van die nagmaal, evangelisasie, lofprysing, volharding, en die res. Iemand wat gebed afskeep is soos ’n kar sonder ’n enjin. Sonder die enjin van gebed maak dit nie saak hoe mooi die sitplekke van prediking, die radio van evangelisasie, die ligte van lofprysing, en die wiele van volharding is nie: “sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh. 15:5).

Om die einste rede sal ek enigiets prysgee voordat ek die bidure prysgee. As jy nie deel is van ten minste één biduur nie, wil ek jou vra om in te skakel. Vergeet van jou skaamte en bid vrymoedig (v.19).

Dalk sê jy: ‘Ek is te besig.’ Jy is nie besiger as Jesus nie en tog het Hy meer as enige van ons gebid (Mark. 1:35, Luk. 5:16, 6:12). Bely jou biddeloosheid en máák tyd vir gebed; op jou eie en saam met ander.

[b] Jy is deel van sy huisgesin (v.21)

Ek het ’n man geken wat stom was. Sy familie het hom weggegooi. Toe ek Mark. 10:29-30 vir hom wys en verduidelik dat dit oor die Christelike familie gaan, was hy oorstelp van vreugde: “En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.”

Dit is ’n groot voorreg as die lewende God jou deel van sy huisgesin maak. Baie besef dit nie, omdat mense deesdae makliker deel word van die kerk as van die krieketklub. As hulle net min of meer die regte woorde sê en gedoop word, word hulle opgeneem as lidmate. Baie geestelike leiers gee nie om of hierdie mense die evangelie verstaan, of hulle dit glo, of hulle ’n kredietwaardige getuienis het, en of hulle soos Christene lewe nie. Solank hulle belangstel, is die saak reg.

As jy egter ’n kerk besoek waar jy die evangelie moet glo, waar jy heilig moet lewe, en waar tug toegepas word indien jy in sonde lewe, beskou mense dit as ’n voorreg om deel te wees. Natuurlik sal daar selfs in die beste gemeentes Judasse en Demasse wees. Sover ons dit egter kan help, moet ons keer dat hulle inkom en moet ons seker maak dat net ware gelowiges lidmate word. Hoe doen ’n mens dit? Ons het tyd nodig om mense se lewens uit te kyk en te sien of hulle die evangelie glo. Om hierdie rede neem ons nie mense op as hulle ons vir 4 of 5 weke besoek het nie; ons vat ’n paar maande.

Nou vir die vraag: is jy al ’n lidmaat van ’n goeie gemeente? Indien nie, wat hou jou terug? Is jy nog nie gered nie? Vra die Here om jou te red. Glo dat Jesus se kruisdood genoeg is om jou sonde te vergewe. Is jy reeds gered, maar nog nie deel nie omdat jy dink lidmaatskap is onnodig? Kerklidmaatskap is baie nodig en heeltemal Bybels. Hoe weet ek dit?

  • In die vroeë kerk het hulle rekord gehou van wie deel was van die gemeente en wie nie (Hand. 2:41, 4:4).
  • Die feit dat hulle soms mense uit die gemeente verwyder het, impliseer dat hierdie mense deel was (Matt. 18:17).
  • Die feit dat die Bybel ons beveel om ons leiers te gehoorsaam, impliseer dat jy deel van ’n gemeente moet wees en dat jy weet wie jou leiers is (1Tess. 5:12-13, Heb. 13:17).
  • Die feit dat die ouderlinge die kudde wat aan hulle sorg toevertrou is moet oppas, wys dat hulle weet wie deel van die gemeente is en wie nie (1Pet. 5:2).
  • Let ook op dat al die Nuwe Testamentiese briewe vir gemeentes en hulle leiers geskryf is.
  • En dan is daar die mekaar-opdragte: bid vir mekaar, bemoedig mekaar, vermaan mekaar, dra mekaar se laste, ensovoorts. Die Here verwag seker nie dat jy hierdie opdragte vir elke liewe Christen in die wêreld moet doen nie. Die opdragte impliseer dat jy deel van ’n geestelike familie is, en dat jy dit vir húlle moet doen.

Moet dan nie soos ’n man wees wat vir ewig met sy meisie wil uitgaan en nooit met haar wil trou nie. Word asseblief deel van God se huisgesin waarvan Jesus die groot Priester en Hoof is (v.21, 3:6, 4:14, Ef. 1:22, 1Tim. 3:15). Ek raak ongemaklik as mense sê: ‘Ek is nou wel nie deel van ’n gemeente nie, maar darem dien ek nog die Here.’ Ek wonder altyd wie die Here is wat hulle dien, aangesien die Jesus van die Bybel die Hoof van die kerk is (Kol. 1:18).

2. Pligte (v.22-25)

[a] Nader tot God (v.22)

Ek geniet dit om vir my vrou te voorsien; dit is vir my ’n voorreg. Maar dit is ook my God-gegewe plig (Ef. 5:25, 29). Wat probeer ek sê? In die Ou Testament kon slegs die priesters tot God nader (Num. 3:10, 38). In die Nuwe Testament het elke gelowige die voorreg om tot God te nader (v.19-20). Eintlik is dit nie net ’n voorreg nie, maar ’n plig (v.22). Dit is nie net ’n individuele plig nie, maar ’n plig saam met die ander gelowiges: ‘laat ons…’ (v.22-25).

Dit is jammer dat party mense dit net as ’n voorreg sien. Hulle dink dat hulle dit soos ’n Master Chef Immunity Pin kán gebruik, maar dit nie hóéf te gebruik nie. Maar volgens v.22 is dit jou plig om tot God te nader. Hy is jou jou Here, jou Verlosser, jou Vader en jou Koning. Moet dan nie sê: ‘Dit is my voorreg om te bid, biduur toe te kom, en die erediens by te woon, maar ek wil dit nie vandag doen nie.’ As jy gedurig wegbly, sal jy noodwendig nader aan die wêreld beweeg. Kom daarom gereeld met ’n opregte hart om die Here te aanbid (v.22). Moenie net uiterlik bid, sing en die nagmaal gebruik nie, maar doen dit uit jou hart uit (v.22). Dit beteken nie dat die Here jou aanbidding aanvaar omdat dit opreg is nie. Hy aanvaar dit eerder omdat jy in Jesus glo en omdat Hy in jou plek staan (v.22).

Dalk bly jy weg omdat jy sonde gedoen het en jou gewete jou pla. Dit is nie nodig dat jy wegbly nie. Net soos wat die priester in die Ou Testament die ark met bloed besprinkel het (Lev. 16:14-16), kan Jesus jou deur sy bloed reinig. Dit is asof Hy jou hart en jou gewete met bloed besprinkel om jou te reinig en om jou vir Homself af te sonder, sodat Hy in jou hart kan woon (v.22, 9:14, 12:24, Joh. 14:23, Ef. 3:17, 1Pet. 1:2). Die Gees was jou ook in die bad van weergeboorte met rein water (v.22). Wat beteken dit? Dit gaan hier oor ’n geestelike reiniging in jou hart wat jy daarna deur die doop uitbeeld (Eseg. 36:25-26, Joh. 3:5, 15:3, 1Kor. 6:11, Ef. 5:26, Tit. 3:5-6). Die les is nie dat die dóóp jou reinig nie. Dit is eerder Jesus en die Heilige Gees wat jou reinig. Die doop illustreer egter dat die Here jou hart en jou gewete gereinig het (v.22, Hand. 2:38, 22:16, 1Pet. 3:20).

In die Ou Testament is die priesters met bloed besprinkel en met water gereinig (Eks. 29:21, Lev. 8:6). In die Nuwe Testament is elke gelowige ’n priester (1Pet. 2:5, 9) en word ons met bloed besprinkel en met water gereinig (v.22). Het jy dit al ervaar? Het die Here jou al skoongewas? Ja? Het jy dit al deur die doop bely? Nee? Dan moet jy gedoop word; nie omdat die Baptiste so sê nie, maar omdat Jesus jou Here is en omdat Hy jou beveel (Matt. 28:18-20).

[b] Hou vas aan Christus (v.23)

’n Man wat besig is om te verdrink, gryp vas aan die reddingsboei wat vir hom gegooi word. Toe die Jode die Hebreër-Christene vervolg het, wou hulle hulle rug op Jesus draai en terugkeer na Judaïsme. Gevolglik moes die outeur vir hulle sê: ‘Moenie. Hou vas aan Jesus. Hy is ons reddingsboei en die belydenis van ons hoop’ (v.23, 4:14, Kol. 1:27, 1Tim. 1:1).

Dit geld vir ons ook. Om effektief aan Jesus vas te hou, moet ons dit saam met ander gelowiges doen (v.23). Iemand wat van die gelowiges af wegdryf, is soos ’n dier wat nie by die trop is nie: hy is ’n teiken vir die wolwe.

dalk sê jy: ‘Ek kan die Bybel op my eie lees. Ek het nie die gemeente nodig nie.’ Maar aan wie toets jy jou interpretasie van die Skrif en teenoor wie is jy aanspreeklik? ‘Ek luister net wat die Here vir my sê,’ antwoord jy. Maar hoe weet jy dit is die Here? Hoe weet jy dat dit nie dalk jóú uitleg van die Bybel is, of die duiwel wat jou mislei nie (2Kor. 11:14)? Of praat die Heilige Gees net met jou (1Kor. 14:36)? Charles Spurgeon het gesê: ‘It seems odd, that certain men who talk so much of what the Holy Spirit reveals to themselves, should think so little of what he has revealed to others.’1

Hou daarom saam met ander gelowiges vas aan die belydenis van Christus (v.23). Dit beteken dat jy moet deel wees van ’n gemeente, asook dat jy die geskiedenis in ag moet neem. Moenie nuwe leringe volg nie, maar bly by wat Christene nog altyd geglo het (Jer. 6:16). Juis om hierdie rede het belydenisse soos die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Niceense Belydenis, die 1689 Baptiste Geloofsbeydenis, en die Westminster Kategismus groot waarde. Ek bedoel nie dat hierdie, of enige ander belydenis op die vlak van Skrif is nie. Hulle help ons eerder om te verstaan wat ons met sekere Bybelse terme bedoel.2 Waar ons byvoorbeeld die woord ‘opstanding’ met betrekking tot Jesus gebruik, bedoel ons sy liggaamlike opstanding en nie een of ander opstanding in jou hart soos die liberales glo nie. Met die woord ‘Jesus’ verwys ons nie bloot na ’n goeie Profeet nie, maar na God die Seun. Op dié manier verhoed belydenisse dat mense maklik die Bybel vervals.3

Iemand sal sê: ‘Maar hoe kan ons seker wees dat die Bybel waar is?’ Ons weet dit is waar, omdat dit God se Woord is en omdat Hy nie kan lieg nie (6:18, Num. 23:19, 1Tess. 2:13, 4:8, 2Tim. 3:16, Tit. 1:2, 2Pet. 1:20-21). Daarom kan ons die Bybel vertrou (v.23). ‘Ja, maar wie sê dat mense nie miskien die Bybel vervals het nie?’ As jy so dink, het jy maar ’n klein siening van God. Dink jy regtig dat Hy nie eers sy eie Woord teen mense en demone kon bewaar nie?

[c] Moedig mekaar aan (v.24-25)

Ek en my vrou help mekaar op. Ek en my vriend Jannie Vosloo help mekaar op. Twee is beter as een (Pred. 4:9-12). Net so het ons mekaar in die gemeente nodig. Ons moedig mekaar aan om nie lou te raak nie en om teen die sonde te stry (3:13). Ons moedig mekaar aan tot geloof (v.22), hoop (v.23) en liefde (v.24). Ons moedig mekaar aan tot goeie dade (v.24, Tit. 3:8, 14). Ons stel vir mekaar ’n voorbeeld deur ons broers en suters te bel, deur vir die siekes te bid, deur vir iemand data te koop, deur mense finansieel by te staan, deur die evangelie met mense te deel, deur mekaar te bedien en te bemoedig, deur na mense se probleme te luister, ensovoorts.

Jy kan dit nie effektief doen as jy die byeenkomste mis nie. Laat ons daarom nie soos die Hebreërs wees wat die nuwe tempel—die kerk volgens 1Kor. 3:16, Ef. 2:19-22—vir die ou een wou verruil nie (v.25). Of, in ons konteks moet ons nie die nuwe tempel vir die TV, ’n braai, kuier saam met vriende, laat slaap, sport, werk, inkopies, of iets anders verruil nie (v.25). Vervang die slegte gewoonte van ‘wegbly’ met die goeie gewoonte van ‘saamkom’ (v.25, Luk. 4:16, Hand. 2:42, 5:12b). Dit is veral relevant in die konteks van aanlyn kerk. Moenie daaraan gewoond raak nie, maar laat ons bymekaar kom sover dit moontlik is. Jy moet net wegbly as jy ’n geldige rede het. En wat is ’n geldige rede? ’n Geldige rede is enigiets wat nie met die Bybel bots nie, of ’n rede wat jy vir elke area van jou lewe sal gebruik. Moet byvoorbeeld nie sê: ‘Ek kan nie kerk toe kom nie, want…’; maar dan gaan braai jy die volgende dag by jou vriende. Sê eerder: ‘Ek kan nie winkel toe gaan, kuier, die sportbyeenkoms bywoon, by die verjaarsdag wees, my familie oornooi, werk toe ry, of kerk toe gaan nie, want…’ Redes soos siekte, die grendelstaat, vakansie, ’n siek persoon wat jy moet oppas, ’n sterfte, en soortgelyke gevalle, is geldige redes.

Indien jy regtig nie by die kan uitkom nie: kyk, of luister asseblief nog steeds die preke en bly in kontak met die gelowiges. Indien enige van ons broers en susters vir ’n ongeldige rede wegbly, moet ons hulle aanmoedig om te kom (v.25). Dit is nie net die ouderlinge se plig nie, maar ons almal s’n. Bel dié persoon wat wegbly en vra of hy ‘okay’ is. Indien ons ons beste doen en die persoon aanhou om weg te bly, moet ons die proses van kerkdissipline volg (Matt. 18:15-17). Die persoon se gebrek aan belangstelling in die Woord, die gemeenskap van die gelowiges en diensbaarheid wys dat hy waarskynlik nie die Here ken nie.

Hy verkeer ook in groot gevaar. Volgens v.25 sou die Hebreërs saam met die Jode gestraf word indien hulle die rug op Jesus wou keer om terug te gaan na hulle offers toe (v.25). Net so sal die Here ons kwalik neem as Hy sy lewe vir die kerk gegee het (Hand. 20:28, Ef. 5:25), maar ons dit nie die moeite werd ag om dit ’n prioriteit te maak nie (v.25). Wat sal jy op die laaste dag vir Jesus sê as Hy jou vra: ‘Hoekom wil jy saam met die gelowiges in die hemel wees en My aanbid as jy dit nie eers getrou op die aarde gedoen het nie?’ Ek twyfel of jy ’n goeie antwoord sal hê. My raad aan jou is: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jes. 55:6).


1  Aangehaal in Michael Haykin, Rediscovering the Church Fathers (Wheaton, Illinois: Crossway, 2011), 14

2  Sien John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois, Crossway, 2018), 412-414

3  Sien Iain Murray, Seven Leaders: Preachers and Pastors (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2017), 21