Werkverwante Probleme: Werkverslawing en Tydbestuur

Are Workaholics Really More Productive? - Dragons' Den

Prediker 3:1-15

Die wêreld prys mense wat besig is. Party mense floreer op hierdie applous, sodat hulle op die einde werkslawe word. Miskien besef jy dat jy in hierdie net vassit, maar jy weet nie hoe om uit te kom nie. Pred. 3 behoort jou te help. In hierdie hoofstuk gee Salomo vir ons riglyne vir tydbestuur, sodat jy soos ’n voël uit die vangnet van werkslawing kan ontsnap.

 

1. Besef dat God soewerein is en jy nie (v.1-10)

Het jy al ooit gekla: ‘Ek het nie genoeg tyd nie; ek soek ’n Bar-One vir ’n 25 uur dag?’ Om so te redeneer is verkeerd. God se plan van ’n 24 uur dag is perfek. Jy is met ander woorde te besig, of jy bestuur jou tyd verkeerd. Hoe moet jy die saak oplos? Voordat jy jou dagboek beplan, moet jy besef dat jy nie soewerein is oor tyd nie—Gód is (v.1, Dan. 2:21, Hand. 1:7). Hy is betrokke in jou lewe en het die detail daarvan tot op die sekonde bepaal (v.1, 8:6, Ps. 139:16, Spr. 16:1, 9, 19:21, 20:24, Ef. 1:11, Matt. 10:30, Jak. 4:13-15). Maak dus eenvoudig seker dat jy jou aan Hom onderwerp en aanvaar dat selfs sogenaamde toeval onder sy beheer is (9:11-12, 1Kon. 22:34, Spr. 16:33).

Jou tye is in die hande van Hom wat in die hemel sit (v.1, Ps. 31:16). Hy het die dag van jou geboorte en jou dood bepaal (v.2, 8:8, Gen. 18:10, 14, 21:1-2, 25:21, 29:31, 30:1-2, 22, Ps. 139:13, 1Kron. 10:4, 14, Job 14:5). Hy besluit wanneer Hy ’n nasie plant, of uitroei; wanneer Hy dit afbreek, of opbou (v.2-3, Jer. 1:10, Hand. 17:26). Hy bepaal wanneer Hy mense doodmaak, of genees (v.3, Gen. 38:7, 10, Deut. 32:39, Jesus se genesings). Hy bepaal wanneer ons nuus kry wat ons laat huil en rou, of wanneer ons nuus kry wat ons laat lag en dans (v.4, Rut 1:20-21, Gen. 21:6, Ps. 30:12, 126:1-3, Op. 21:4). Hy bepaal wanneer mense klippe optel, of weggooi (v.5, 1Sam. 17:40, 49, 2Kon. 3:19, 25, Jes. 62:10). So is selfs lewelose klippe deel van God se raadsplan!

Hy bepaal wanneer jy jou lewensmaat omhels, of nie (v.5, Lev. 18:19, Joël 2:16, 1Kor. 7:5). Hy bepaal selfs óf jy ’n lewensmaat het en of jy enkel is (v.5, Spr. 19:14, 1Kor. 7:7). Hy bepaal wanneer jy iets verloor en dit moet soek (v.6, soos Saul se verlore donkies in 1Sam. 9-10). Hy bepaal wanneer jy iets hou, of weggooi (v.6). Iemand het een van Spurgeon se preke weggegooi en ’n blok botter daarmee toegedraai. ’n Vrou het die botter gekoop, die bladsy gelees en tot bekering gekom.1

Die Here bepaal wanneer iets skeur: Samuel se kleed, Job se klere, of die tempelgordyn (v.7, 1Sam. 15:27-28, Job 1:20, Matt. 27:51). Hy bepaal wanneer iets nié moet skeur nie, soos Jesus se kleed (Joh. 19:24). Hy bepaal wanneer iemand se routyd verby is en hulle die geskeurde klere aanmekaarwerk (v.7). Hy bepaal wanneer jy stilbly en wanneer jy praat (v.7, Jes. 53:7). Een van my vriende het onlangs vir ’n man gesê: ‘Het jy ’n nuwe hart?’ ’n Besoeker wat daar was het die gesprek gehoor. Toe my vriend ’n paar dae in ’n ander area gaan evangeliseer het, toe kom ’n man na hom toe. ‘Het jy vir my ’n Bybel,’ het die man gevra. ‘Ken ek jou?’ het my vriend hom geantwoord. ‘Ja. Ek was ’n paar dae gelede by iemand se huis. Jy het die man gevra of hy ’n nuwe hart het. Toe ek dit hoor, toe dink ek: ‘Dít is wat ek nodig het!’ My vriend het nou al drie Bybelstudies met hierdie man gehad. Kan jy sien hoe die Here my vriend se woorde bepaal het?

God is selfs in beheer van mense se liefde en haat (v.8). Dit beteken nie dat Hy jou forseer om Hom lief te hê, sodat jou liefde oneg is nie. Dit beteken eerder dat Hy jou ’n nuwe hart gee, sodat jy Hom liefhet (Deut. 30:6, Eseg. 36:26, Rom. 5:5, Gal. 5:22). Sy bepaling van haat beteken nie dat Hy die oorsaak is dat mense mekaar haat nie. God kan immers nie sonde doen, of mense versoek nie (Jak. 1:13, 1Joh. 1:5). Die punt is eerder dat sonde deel is van God se raadsplan (v.8, Ps. 105:25). Randy Alcorn sê: ‘God isn’t the author of evil, but he is the author of a story that includes evil.’2 Ons sien dit byvoorbeeld in die storie van Josef: Josef se boeties het hom gehaat en hom as ’n slaaf verkoop. God het egter die situasie bepaal, sodat Hy sy goeie planne kon uitwerk (Gen. 50:20). Of dink aan Jesus: mense het Hom gehaat en Hom gekruisig. Dit was egter deel van God se raadsplan dat Jesus vir ons sonde moes sterf (Hand. 2:23, 4:27-28). God bepaal ook oorlog en vrede (v.8, Eseg. 38-39, Dan. 11, Matt. 24:6, Op. 16:12-16, 20:7-10, Jes. 2:4).

Maar beteken v.1-8 dat die mens ’n robot is en dat sy besluite nie eg is nie? Nee. Dit beteken eerder dat God se wil soewerein is en dat die mens se wil ondergeskik is aan syne. Dit is soos as jy ’n mier vang en hom in ’n bottel sit. Die mier kan loop waar hy wil, maar jy oorheers sy wil en besluit dat hy net in die bottel moet loop.

Iemand teken beswaar aan: ‘Maar as God alles beheer, help dit nie ek bid en neem aksie nie, aangesien God buitendien gaan doen wat Hý wil.’ Die Bybel leer nie fatalisme nie, maar eerder dat God bepaal het dat sekere aksies sekere gevolge het. As jy byvoorbeeld nalaat om te bid, moet jy nie ’n antwoord verwag nie (Jak. 4:2).

Watse implikasies het v.1-8 op werkverslawing? God is in beheer van jou lewe en jy nie. Moet jouself dus nie frustreer om die detail van jou lewe te probeer beheer nie (v.9). Mense wat dit doen, is gewoonlik perfeksioniste. Hulle dink dat hulle supermense is, maar op die einde brand hulle hulleself uit, omdat hulle nie by alles kan uitkom nie. Hulle wil soewerein wees oor hulle werk en skeep dan hulle gesinne af. Uiteindelik raak hulle huwelike koud. Hulle kinders verafsku hulle werke, omdat dit die ouers van hulle af wegneem. Sodoende raak die kinders van hulle ouers vervreem.

Mense wat so lewe, sal sê dat hulle te besig is vir die Here, die kerk, hulle huwelike en huisgesinne. In die meeste gevalle gaan dit egter oor prioriteite. Hulle maak ’n afgod van werk. Hoekom doen hulle dit? Dit laat hulle goed, belangrik en nodig voel. Of dit gaan oor geld, roem, sukses, aanvaarding, guns by die baas, of beloning. Vir ander gaan dit oor vrees: hulle is bang mense sal kwaad wees vir hulle, of hulle vrees dat mense hulle nie meer sal prys nie. Die eintlike probleem is dat hulle hulle identiteit in hulle werk vind en nie in Christus nie.

Ander is werkslawe, omdat hulle angstig is en wonder hoe hulle sal oorleef as hulle normale ure moet werk. Hulle vertrou nie dat die Here in beheer is nie (v.1-8). Hierdie mense benodig ’n goeie dosis van Matt. 6:25-34 in die oggend en Ps. 127:2 voor hulle gaan slaap. Ander is werkslawe, omdat hulle mense se werk vir hulle doen. Of hulle dink: ek sal die werk self doen, omdat niemand dit so goed kan doen soos ék nie. Sluk jou trots en vra vir hulp.

Ander is werkslawe, omdat hulle van hulle sonde probeer vergeet (Spr. 28:1). Maar om jou gewete skoon te kry, moet jy jou bekeer en jou sonde bely (Spr. 28:13, 1Joh. 1:9). Ander is werkslawe, omdat hulle van hulle slegte omstandighede by die huis wil ontsnap (Spr. 21:19). ’n Bybelse oplossing sou egter wees om vir berading te gaan, die dissipline-proses te volg (Matt. 18:15-17), of polisie toe te gaan indien dit nodig mag wees.

Ander is werkslawe, omdat hulle base slawedrywers is. Vra die Here om jou baas se hart te verander. Miskien moet jy met hom praat. Indien dit nie werk nie moet jy vir ’n ander werk bid, selfs al betaal hulle jou minder. Ek ken ’n man wat ’n baie groot salaris verdien het. Soms het hy vir twee weke nie sy kinders gesien nie. Hy is by die huis weg terwyl hulle nog geslaap het en het teruggekom nadat hulle al aan die slaap was. Uiteindelik het hy sy werk bedank om vir heelwat minder geld te werk. Maar darem kon hy weer sy gesin sien.

Wat probeer ek vir jou sê? Moenie ’n werkslaaf wees as jy dit kan help nie. Dit is ongesond, sonde en verheerlik nie die Here nie. As jy egter wil aanhou om in beheer te wees, sal die Here jou planne frustreer. Hy sal jou kar laat breek, jou rekenaar laat vries, of mense stuur om jou te onderbreek (v.10). Hy sal dit doen om jou te laat besef dat Hý soewerein is (v.1-8) en jý nie (v.9-10).

 

2. Kry ’n langtermyn visie (v.11)

Die lewe is soos ’n kous met patrone op. Ons sien die binnekant van die kous. Sommige van die kleure is mooi, maar daar is te veel swart in (v.1-8). God sien die buitekant van die kous. Hy meng die goeie en slegte dinge in jou lewe om ’n mooi prentjie te maak—om jou meer soos Jesus te maak (v.11a, Rom. 8:28-29). Leer dus om Hom te vertrou as dinge by die werk jou frustreer. Dit is Hý wat die netwerk laat hang, wat Covid-19 stuur, wat die grendelstaat uitroep, wat loadshedding bring, wat maak dat jy jou werk verloor het, ensovoorts (v.1-8). Vir jou lyk al hierdie dinge na ’n nuttelose frustrasie, maar die Here het ’n plan daarmee. Kyk dus verder as die probleem en vra die Here om jou te help om die beste te maak van dít waarmee Hy jou toebedeel het. Om bitter te raak, opstandig te wees, of die Here te bevraagteken, sal nie help nie. Jy sal jouself net frustreer, jou bloeddruk opjaag, en dalk nog ’n hartaanval kry.

In plaas daarvan dat jy gefrustreerd raak: luister na die verlange van jou hart wat sê dat daar ’n nuwe aarde sal wees sonder enige frustrasie, sonde, hartseer, pyn, of dood (v.11b). Moenie soos werkverslaafdes vir hierdie wêreld lewe nie. Gee eerder die beste van jou tyd en energie om jouself voor te berei vir die ewigheid (v.11b). Hoe moet jy dit doen? Vertrou op Jesus Christus wat aan die kruis gesterf het vir sondaars. Vertrou op Hom as die Groot Hersteller wat nie net jou stukkende lewe gaan herstel nie, maar ’n stukkende wêreld. Aanvaar dit wat met jou gebeur (ook die slegte dinge) as ’n geskenk uit die Here hand (v.11a) en onthou dat jou lewe onder sy beheer is (v.1-8).

As jy nié vir die Here lewe nie maar aanhou om vir jou werk te lewe, sal jy nooit vervulling beleef nie. God het ewigheid in die mens se hart geplant en daarom kan net Hý hierdie leemte vul (v.11b). Augustinus (354-430 n.C.) het gesê: ‘You have made us for Yourself, and our hearts are restless until they rest in You.’3 As jy in die Here rus, hoef jy jouself nie uit te put om te probeer verstaan hoekom iets sleg met jou gebeur het nie (v.11b). Glo eerder dat die Here die beste weet, al verstaan jy nie sy weë nie en kan jy nie jou lewe beheer nie (v.11b, 8:17, Jes. 55:8-9, Rom. 11:33). Mense wat hierdie langtermyn visie mis, is die soort mense wat hulle lewens om werk en later op hulle sterfbeddens sê: ‘Ek is jammer dat ek my lewe om gewerk het. Ek wens dat ek meer tyd gegee het aan die dinge wat belangrik was; aan die dinge wat ewigheidswaarde het.’

 

3. Leef gebalanseerd (v.12-13)

Die gesegde lui: ‘All work and no play makes Jack a dull boy.’ As jy lewe soos die Here wil, sal jy baie vreugde hê en kan jy die lewe geniet (v.12-13, 2:24-25, Gen. 2:9, Ps. 104:14-15, 1Tim. 6:17). Miskien sê jy: ‘Ek sal die lewe geniet as ek afgetree is.’ Maar wie sê jy gaan aftree? Wat as jy voor die tyd sterf (Luk. 12:19-20)? Gebruik daarom jou tyd wys. Moenie die hele tyd werk nie. God wil hê dat jy ook die vrug van jou arbeid moet geniet: eet, drink, deel met ander, en wees gesellig saam met jou geliefdes (v.12-13).

Beplan jou tyd goed en besef dat jy nie vir altyd hier gaan wees nie (Ps. 90:12, Ef. 5:16). Om jou tyd goed te beplan, kan jy ’n gedetaileerde joernaal hou, sodat jy kan sien waar die meeste van jou tyd heen gaan. Raak ontslae van die dinge in jou lewe wat tyd steel: baie ure op die foon, ure op die internet, dagdromery, te veel slaap, mense wat babbel, ensovoorts. Kry ook vir jou ’n dagboek om jou tyd te skeduleer. Moet egter nie toelaat dat die dagboek jou lewe beheer nie (v.1-8!).

Maak seker dat jy in jou dagboek fokus op wat belangrik is en nie op wat dringend is nie. Wat is prioriteit? Volgens die Bybel moet jou prioriteite as volg lyk: God, jou huwelik, jou gesin, jou gemeente, jou werk, ontspanning. God kom eerste. Israel se hele kalender het om Hom gedraai; hulle het die res van hulle lewens tussen-in gepas. Dit is ook wat Jesus ons in Matt. 6:33 wil leer: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Dit is hartseer dat party mense nie hierdie beginsel glo nie. Daarom sal hulle aanhou om hulle lewens te wil beheer en in werkslawe verander. Op die oordeelsdag sal hulle nie ’n verskoning hê vir hoekom hulle God se gawes (werk!) bo Hom gestel het nie.

 

4. Onderwerp jou aan God (v.14)

As God eendag in die hemel vir jou die plan vir jou lewe wys, sal jy sê: ‘Nóú verstaan ek dat u plan die beste was. Ek sou dit nie anders wou hê nie.’ Eintlik moet jy dit nóú al besef. Moenie dink dat jy sy ewige en perfekte raadsplan vir jou lewe kan verbeter deur iets by te voeg, of weg te vat nie (v.14). Moenie die kaptein van jou eie lewe wil wees nie, maar onderwerp jou aan die alwyse God van liefde wat reeds elke tree van die pad vir jou afgemeet het—ook die moeilike dinge wat met jou gebeur (v.14, 1-8).

 

5. Moenie jou eie waarde oorskat nie (v.15)

’n Oorversigtige ouer sal nie toelaat dat sy, of haar tiener self kook nie. Moenie so wees en dink dat die maatskappy nie sonder jou kan klaarkom nie. Net soos wat die siklusse in die skepping reeds was en weer sal wees, was daar al in die verlede mense soos jy en sal daar weer sulke mense wees (v.15, 1:4-9). Jy is nie onmisbaar nie. As jy weg is, sal die lewe aangaan.

Wat is die punt? Doen die beste wat jy kan, maar moenie werk asof jy God is nie. Jy is nie en daarom hoef jy nie sonder slaap te probeer lewe nie. Werk hard, maar rus ook genoeg (Eks. 20:8-11, Mark. 6:31). As jy hierdie raad volg, sal jy meer gedoen kry as die persoon wat aanhoudend werk (10:10). Maar as jy nié jou les leer nie, sal die Here jou weer oor dieselfde terrein vat totdat jy dit leer (v.15). En hoekom wil jy dit hê? Dit is onnodig dat jy jou kop twee keer stamp. Jy hoef nie soos ’n kind te wees wat vir die tweede keer gebyt word, omdat hy die hond se been by hom wil vat nie.


1  Ek het die storie by twee betroubare webtuistes gevind, maar sukkel om die oorspronklike bron in die hande te kry: https://christianhistoryinstitute.org/magazine/article/spurgeon-did-you-know EN https://www.christianitytoday.com/history/issues/issue-29/charles-h-spurgeon-did-you-know.html

2  Randy Alcorn, hand in Hand (Colorado Springs, Colorado: Multnomah Books, 2014), 43

3  Aurelius Augustinus, The Confessions of Saint Augustine (New Kensington, PA: Whitaker House, 1996), Book 1, p. 11