Werkverwante Probleme: Dorings en Distels

Thorn Bush - Song Download from Thorn Bush @ JioSaavn

Genesis 3:17-19

Ek het gesien hoe mense in Kenia doringtakke om hulle beeskrale pak om die leeus uit te hou. In Johannesburg het ek ’n digte doringheining om iemand se erf gesien. Ek is seker dat dit beter as enige sekuriteitstelsel werk. Die punt wat ek probeer tuisbring, is dat dorings en distels die leeus frustreer om by die beeste uit te kom, en dat dit oortreders frustreer om in jou erf in te kom. Dit maak dat jy nie kan doen wat jy wil nie. In die konteks van Gen. 3 bestaan dorings en distels om die mens se werk te frustreer.

 

1. Die oortreding (v.17a)

Een van my professors het geglo dat Adam en Eva nie regtig bestaan het nie. Volgens hom was Gen. 1-11 ’n mite waardeur die skrywer ons sekere lesse wou leer. Maar volgens die Nuwe Testament is die eerste Adam so histories soos die tweede Een en is Gen. 1-3 geskiedenis (Matt. 19:4-5, Luk. 3:38, Hand. 17:26, Rom. 5:12-19, 1Kor. 15:45-49, 2Kor. 11:3, 1Tim. 2:13-14). Die outeur van Genesis praat hier van regte mense wat regtig teen God oortree het, sodat daar regte gevolge was.

Wat het gebeur? In Gen. 1-2 het God die heelal geskep. Gen. 1 fokus op die ses dae waarin Hy dit gedoen het, terwyl Gen. 2 op die skepping van die mens fokus. Toe God die mens geskep het, het Hy hom gewaarsku om nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie (2:16-17). Die mens het nie geluister nie. In Gen. 3 sien ons hoe Satan in ’n slang invaar om die vrou te versoek en hoe sy haar man versoek (v.1-6). In v.14-19 deel God dan ook hulle straf uit in dieselfde volgorde: die slang, die vrou, die man.

Wat het God vir die man gesê? Hy het hom gestraf, omdat hy sy vrou se leiding bo die Here s’n gevolg het (v.17a). God het die man eerste geskep en daarom moes hy sy vrou lei en beskerm, eerder as om haar te volg (2:7, 18, 1Kor. 11:3, 8-9, 1Tim. 2:12-13). Toe die slang die vrou verlei het, het Adam stilgebly (v.1-5). Hy het by haar gestaan, alles gehoor wat die slang gesê het, stilgebly, en saam met sy vrou van die boom se vrugte geëet (v.6). Kan jy dus sien wat die eerste sonde was? Dit was nie dat Adam en Eva die vrug geëet het nie, maar dat hulle hulle rolle versaak het: Adam was passief en Eva het die leiding geneem (v.6, vgl. 16:2).

Dit is dan waar die dorings en distels begin het: in die huwelik. Ongelukkig dra dit dikwels oor na die werkplek (1Tim. 3:5), sodat baie van die mans passief is en die vroue dominerend. Laat ons dan eers die dorings en distels in ons huise uitroei, voordat ons dit in die werkplek doen. Wees lief vir jou vrou, respekteer jou man, voed jou kinders reg op, respekteer jou ouers (Ef. 5:22-6:4).

Eintlik is daar ’n stap voor dit: jy moet in ’n regte verhouding met die Here staan. ’n Skewe verhouding met God sal jou huwelik en jou werk affekteer (Gen. 3). Daardeur probeer ek nie sê dat jy in ’n regte verhouding met God moet lewe, sodat jy ’n rustige huwelik en voorspoedige werk kan hê nie. Ek probeer eerder wys dat jou verhouding met God die fondasie vir die res van jou lewe moet wees.

 

2. Die gevolge (v.17b-19)

Soos jy seker weet, glo evolusioniste dat die dinosourusse lank voor die mens gelewe het, en dat dorings honderde miljoene jare voor die dinosourusse ontstaan het.1 Dit is verkeerd, omdat die vervloekte skepping, dorings, en die dood deur Adam se sonde begin in die wêreld gekom het (v.17b-19, Rom. 8:19-22).

Die les in hierdie verse is dat sonde nooit net jouself affekteer nie. As die hoof van die mensdom het Adam se sonde almal van ons geraak (v.17b-18, Rom. 5:12, 1Kor. 15:22). Net so affekteer ons sonde die mense rondom ons. As jy byvoorbeeld by jou maatskappy steel, beïnvloed dit jou gesin se finansies, hulle reputasie, jou vriendskap met jou kollegas, en die gesondheid van die maatskappy. Jy saai dus nie net dorings en distels vir jouself nie, maar vir ander.

Dit is presies wat Adam gedoen het. Gevolglik het die Here hom gestraf. Soos God hom uit die aarde geskep het (2:7) en die boom van die kennis van goed en kwaad uit die aarde laat groei het (1:11-12), het God nou die aarde vervloek sodat Adam moeilik daarvan sou eet en ook sou terugkeer na die aarde toe (v.17b-19). Let op die herhaling van die woord ‘eet’: Adam het van die verbode vrugte geëet en daarom sou hy met sweet en moeite van die plante van die veld eet (v.17-19). Die straf het by die oortreding gepas.

Wat bedoel v.17b wanneer dit van ‘moeite’ praat? Die Hebreeuse woord itstsabon beteken ‘harde arbeid’ of ‘pyn’. Die vrou se swangerskap en geboorte sou met pyn en moeite kom (v.16), en die man se werk sou met pyn en moeite kom (v.17). Die rolle in hierdie verse is duidelik. Die man is die primêre broodwinner (v.17), terwyl die vrou op haar gesin en die opvoeding van haar kinders fokus (v.16). Dit beteken nie dat vroue nie ’n inkomste kan verdien nie (sien Spr. 31:16, 24). Die vrou se hoof rol is egter om haar gesin en kinders te versorg, behalwe as sy enkel is, of nie kinders het nie (Gen. 29:9, 1Tim. 2:15, Tit. 2:4-5). Die wêreld sal sê dat dit ouderwets en patriargaal is. Dit is egter die skeppingsorde wat God ingestel het. Die gesinne van ons wêreld sal baie gelukkiger wees as ons God se orde eerbiedig. As jy lief is vir jou kinders en hulle reg leer, kan ek jou waarborg dat hulle tydens die grendelstaat gelukkiger was toe hulle ma by die huis was.

Maar selfs as ons die rolle reg verdeel, sal daar nóg pyn wees (v.16-17). Adam en Eva kon nie sommer net vars vrugte pluk soos voorheen nie (1:29, 2:9). Adam moes eers die dorings en distels uitroei, versigtig wees dat dit hom nie steek nie, die harde veld buite die tuin van Eden omploeg, gewasse plant, en teen die voëls en insekte stry (v.17b-18, 23-24). Onthou asseblief dat hy nog nie vleis geëet het nie (vgl. 9:2-3).

Alhoewel ons nie in ’n landbou-samelewing bly nie, is daar nog steeds dorings en distels wat ons werk moeilik maak. Ek en my seun het Maandag die gras gesny. Ons moes die hondemis optel, die grassnyer se kabel skuif, en aanhoudend die lem se hoogte stel. Waar die gras te dik was, het die grassnyer ’n paar keer uitgesny. Ons was moeg en het gesweet. Net so het elkeen van ons sy eie dorings en distels by die werk: 

  • Spitsverkeer.
  • Lang ure.
  • ’n Swaar werklading.
  • ’n Moeilike, of ongenaakbare baas.
  • ’n Stadige netwerk.
  • ’n Swak ekonomie.
  • Werkloosheid.
  • BEE.
  • Loadshedding.
  • Die grendelstaat wat mense se inkomste beperk.
  • Toerusting wat breek.
  • Diefstal.
  • Onbekwame en lui werknemers.
  • Swak kommunikasie.
  • Dubbel standaarde en voortrekkery.
  • ’n Swak geheue wat die kos op die stoof vergeet, sodat dit brand.
  • Mense wat nie omgee vir wet en orde nie.
  • Werknemers wat die hele dag besig is, maar onproduktief is.
  • Swak dissipline as gevolg van sogenaamde mense regte.

Maar ten spyte van die dorings en distels, beloon die Here harde werk met kos (v.17b-19). Laat ons Hom hiervoor dank, veral voordat ons dit eet (1Tim. 4:4-5). Laat ons egter nie net die kós geniet nie, maar ook dankie sê vir die werk waardeur ons ons daaglikse brood verdien het. Natuurlik kan ongelowiges ook hard werk en hulle kos verdien. Hulle doen dit egter met ’n gesug oor die dorings en distels wat in hulle pad staan. Hulle werk nie om God te verheerlik nie (1Kor. 10:31). As Christene moet ons anders wees. Jesus het ons gered en daarom kan ons, ten spyte van die dorings en distels, die Here verheerlik. Moenie sê: ‘Ek kan nie! Miskien beteken die dorings en distels dat die Here nie wil hê ek moet die werk doen nie.’ Moenie so wees nie.

Mark Chanski sê: ‘I recently saw a flag traditionally carried by a particular Army unit. Its slogan read: I can and I will. In contrast, many of us carry around and invisible flag that reads: I probably can’t, so I won’t even try.2 Dit is ’n verkeerde ingesteldheid en ’n teken van kleingeloof. As jy so praat, lewe jy soos iemand wat nie glo dat Jesus opgestaan het en in hom leef nie. Moet dus nie jou hande laat hang as jy die dorings sien nie. Vra eerder die Here se krag, gaan vorentoe en sweet tot eer van Here (v.19). Martin Luther het gesê: ‘The household “sweat” is great; the civil or political “sweat” greater still, but the Church “sweat” is the greatest of all.’3

Jesus het gekom om die mens se sweet—sy harde werk en sy hele lewe—te heilig. Toe Hy aan die kruis gesterf het, het Hy die vloek van dorings en distels op sy hoof gedra (v.18, Matt. 27:29, Gal. 3:13). Jou werk hoef dus nie ’n vervloeking te wees nie. Jesus kan dit in ’n seën verander. Ten spyte van die dorings en distels kan gelowiges hard werk, dit met blydskap doen, en die Here daardeur verheerlik (Kol. 3:22-23, Tit. 2:9-10).

As Jesus nie jou Verlosser is nie, is al jou harde werk ’n sinnelose en eentonige gejaag na wind. Jy werk basies net om te eet: by die huis, saam met jou vriende, en wanneer jy met vakansie is (v.17-19). Dit is erg om te dink dat jy vir jou maag lewe en dat jy basies jou hele lewe spandeer om geld te verdien, sodat jy kos kan koop om te lewe. En dan help dit ook nie eers nie, omdat die kos nie kan keer dat jy doodgaan nie (v.19).

Maar dit is hoe ongelowiges leef. Hulle werk van 8 tot 5, vyf dae ’n week, jaar in en jaar uit—vir kos! Selfs as hulle aftree, maak hulle elke dag kos om te oorleef. So hou dit aan totdat hulle sterf (v.17b, 19). Christene eet ook om te oorleef, maar ons lewe nie vir die hier-en-nou waar mense ’n afgod maak van geld, kos, en die res van die skepping nie (Matt. 6:24, Fil. 3:19). Ons weet dat die dood al hierdie dinge sal wegvat. Die dood herinner ons dat ons stof is en dat ons sal terugkeer tot stof: na die vervloekte grond waaruit ons geneem is (v.19, 17, 2:7, Ps. 90:3, 103:14, Pred. 12:7).

Die dood is elke mens se lot: jy kan dit nie vryspring nie. Jy kan egter jou vrese daarvoor oorkom en ongedeerd daardeur gaan. Hoe? Jesus het gesterf vir die einste sonde wat die dood in die wêreld laat inkom het. Sy liggaam het egter nie stof geword nie, maar Hy het weer opgestaan en die dood oorwin (Hand. 2:24-32, Op. 1:18). As jy jou bekeer, in Hom glo, en Hom vertrou om jou te red, kan jy sonder vrees die dood in die gesig staar en ’n ewige lewe in die hemel geniet wanneer jy jou asem uitblaas (Ps. 23:4, 6, Luk. 23:43, 2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23, Heb. 2:14-15, 12:23). As Jesus weer kom, sal Hy jou liggaam uit Gen. 3:19 se stof opwek en vir jou ’n nuwe liggaam gee (Dan. 12:2, 1Tess. 4:13-18). Hy sal jou nie bloot ’n volmaakte liggaam van stof gee soos Adam s’n nie, maar ’n verheerlikte liggaam wat altyd jonk bly, sterk is, geen pyn ervaar nie, nooit sonde doen, of sterf nie (1Kor. 15:42-44, 47-49, Op. 21:4).

Daarna sal Hy die nuwe aarde skep; sonder dorings, of distels! Daar sal ons werk en die Here dien sonder enige frustrasie, sweet, pyn, of dood (v.17-19, Op. 21:4, 22:3). Dit sal selfs beter wees as die tuin van Eden, omdat daar op die nuwe aarde nie ’n boom sal wees om ons te toets, ’n duiwel om ons te versoek, of die potensiaal om sonde te doen en te sterf nie (Gen. 2:16-17, 3:1-5). Ek sien uit na daardie wêreld, nie omdat ek verlos wil wees van werk nie. Ek verlang eerder daarna, omdat ek Jesus se gesig wil sien. Dan sal ek wees soos ’n sonpaneel in die woestyn. Omdat die son aanhoudend daarop skyn, vloei daar altyd energie deur. Sal dit nie wonderlik wees om in ’n wêreld te lewe waar die Son van Geregtigheid altyd oor ons skyn en sy krag aanhoudend deur ons vloei nie; waar ons altyd sal werk om Jesus te verheerlik—sonder enige dorings en distels om ons te verhinder?


1  Jonathan Sarfati, The Genesis Account: A Theological, Historical, and Scientific Commentary on Genesis 1-11 (Powder Springs, Georgia, USA: Creation Book Publishers, 2015), 375-377

2  Mark Chanski, Manly Dominion (Calvary Press Publishing, 2004), 19

3  Hierdie aanhaling kom uit sy Genesis-kommentaar wat verkrygbaar is op Google Books. Sien ook John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 84