Wat doen Jesus vir sy kinders?

Question mark in clouds - Tech Advance

Hebreërs 9:23-28

Ek was jare gelede by ’n jeugbyeenkoms waar ’n man skaamteloos oor sy musikale talente geroem het. Hy het ook die Here vir sy peperduur Nike tekkies geprys en gesê: ‘I am so blessed. Praise the Lord! Thank you Jesus! Man, I am so blessed.’ Jy kan seker raai dat hy uit ’n Prosperity kerk kom. Sy optrede was tipies van hierdie kerke. Hy het op die hier-en-die-nou fokus, terwyl die lewe hierna eintlik maar afwesig was. Volgens die Nuwe Testament moet ons op geestelike dinge en op die lewe hierna fokus. Heb. 9:23-28 laat dit uitstaan soos ’n seer duim.

 

1. Hy maak hulle huis gereed (v.23)

Heb. 9:23 laat my dink aan ’n wewer-mannetjie wat sy nes bou vir ’n wyfie. Dit laat my ook dink aan ’n bruidegom wat sy huis gereed kry vir sy bruid. Dit is presies wat Jesus vir ons doen: Hy maak vir ons ’n huis gereed in die hemel (Joh. 14:2-3). Dit doen Hy deurdat Hy die hemel op grond van sy offer reinig, net soos wat die Ou Testamentiese hoëpriester die tabernakel met bloed gereinig het op die Dag van Versoening (v.23, Lev. 16:16).

Wat beteken dit? Die Sewendedag Adventistekerk glo dat daar ’n letterlike tabernakel in die hemel is. Hulle mis die feit dat die tabernakel met al sy meubels ’n skadubeeld van Jesus is (v.23-24, 11-12, 8:1-5, 4:14).1 Gevolglik sê hulle dat Jesus in ’n materiële tent ingegaan het toe Hy opgevaar het hemel toe (kontra 1Kon. 8:27, Hand. 7:48, Op. 21:22). In die mid-1800’s het die Adventiste voorspel dat Jesus in 1843 uit die hemelse tabernakel sou kom om terug te keer aarde toe. Toe die profesie misluk, het hulle sy koms in 1844 voorspel. Toe dit ook misluk, toe sê hulle dat hulle die Skrifte verkeerd verstaan het en dat Jesus in 1844 in die tweede deel van die hemelse tabernakel (die Allerheiligste) ingegaan het.

Hoekom moes Hy daar ingegaan? Volgens hulle het Hy ingegaan om die hemel te reinig en om ’n ondersoekende oordeel te verrig. Hiermee bedoel hulle dat Jesus al vir die afgelope 176 jaar besig is om vir die engele te wys wie die ware gelowiges is en wie nie. Volgens hulle is die ware gelowiges dié wat in Jesus glo en die wet van Moses onderhou (o.a. die Sewendedag Sabbat). Wat sal Jesus met die mense doen wat nié die ondersoekende oordeel slaag nie? Hy sal hulle name uit die boek van die lewe vee.2 Natuurlik is hierdie lering iets wat die Adventiste opgemaak het. Dit is wilde spekulasie wat hulle nie uit die Bybel kry nie.

Maar wat beteken v.24 dan? Ons kan verstaan dat die hoëpriester in die Ou Testament die tabernakel moes reinig, aangesien hy en die ander priesters wat daar gewerk het sondaars was (v.21-23). Maar hoekom moes Jesus die hemel reinig as daar geen sonde is nie? Daar wás sonde toe Satan en nog ’n paar ander engele in opstand gekom het teen die Here (Gen. 6:2, 4, Job 15:15, Jes. 14:12-15, Eseg. 28:13-17, 1Tim. 3:6, 2Pet. 2:4, Jud. 6). Daarom het Jesus die hemel op grond van sy bloed, of dood gereinig (v.23, Kol. 1:20). As gevolg van sy dood, kan Satan nie meer in die hemel inkom om gelowiges aan te kla soos hy in die Ou Testament gedoen het nie (Rom. 8:33-34, Op. 12:3-4, 7-10, vgl. Job 1-2, Sag. 3).

Die feit dat Jesus die hemel met sy bloed gereinig het, beteken ook dat niemand ooit weer in die hemel sal rebeleer, of uitgeskop word soos met Satan en die demone gebeur het nie. As jy ’n gelowige is, is jou plek in die hemel seker. Eintlik sit jy alreeds in die hemele in Christus (Ef. 2:6, Kol. 3:3). Dit beteken ook dat jy nie jou redding op die aarde kan verloor nie. Vir die Sewendedag Adventiste om dus te sê dat Jesus mense se name uit die boek van die lewe vee, is onsin. Ons name is voor die skepping reeds in die boek van die lewe geskryf (Op. 13:8, 17:8, 20:15, 21:27). Paulus het geweet dat sy naam nie uit die boek van die lewe gevee kan word nie (Rom. 9:3). Jesus het ook belowe dat Hy nie sy kinders se name uit die boek van die lewe sal vee nie (Op. 3:5). Moet asseblief nie sy belofte in ’n dreigement verander nie!

Maar wat van Eks. 32:32, Ps. 69:29 wat duidelik sê dat God mense se name uit die boek van die lewendes verwyder? Die boek van die lewendes is nie dieselfde as die boek van die lewe nie. Die verse beteken eerder dat mense wat sterf se name nie meer op die rekord van die lewendes is nie.

Maar wat van Op. 22:19: Johannes praat hier van die boek van die lewe en sê dat God mense se name daaruit sal verwyder? Die beste Griekse manuskripte sê dat iemand wat God se Woord verander, nie toegang het tot die boom van die lewe nie (v.14, 19, 2:7, Gen. 3:22-24). Hulle sal m.a.w. nie eers in die hemel toegelaat word nie. Dit gaan nie hier oor mense wie se name uit die boek van die lewe verwyder word nie.3 Jy kan dus asemhaal en moed skep: Jesus sal jou nie deur sy vingers laat glip soos ’n klein dogtertjie wat haar ma se diamantring verloor nie (Joh. 6:37, 39, 10:28-29, Rom. 8:29-30, 38-39, Ef. 1:13-14, Fil. 1:6, 1Pet. 1:4-5).

 

2. Hy bid vir hulle (v.24)

’n Mens voel bemoedig as iemand sê hulle bid vir jou. Jy voel nog méér bemoedig as jy kan hóór hoe hulle vir jou bid. Wat is die punt? Net soos wat die Ou Testamentiese hoëpriester in ’n mensgemaakte tabernakel vir die volk gebid het, bid Jesus in die ware tabernakel, of die hemel vir sy kinders (v.24, 11-12, 4:14, 7:25, Rom. 8:34). Wens jy soms jy kon hoor hoe Hy vir jou bid? Jy kan, want in Joh. 17:20 het Hy gebid vir dié wat in die toekoms in Hom sou glo.

Waarvoor het Hy gebid? Dit is ’n belangrike vraag, omdat dit aandui waarvoor Hy nog steeds bid.

  •  Hy dank die Vader vir jou; dat jy in Hom glo en dat jy syne is (Joh. 17:6-10, 25).
  • Hy bid dat jy sal aanhou om in Hom te glo (Joh. 17:11). Hy dank die Vader dat Hy jou tot die einde sal bewaar (Joh. 17:12).
  • Hy bid dat sy vreugde jou hart sal vul (Joh. 17:13).
  • Hy bid dat die Vader jou van die wêreld en die duiwel sal bewaar (Joh. 17:14-16, vgl. Luk. 22:31-32).
  • Hy bid dat jy deur die Woord sal groei en heilig sal word (Joh. 17:17).
  • Hy bid dat jy sy lig in die wêreld sal skyn (Joh. 17:18).
  • Hy bid dat sy kruisdood jou lewe sal verander (Joh. 17:19).
  • Hy bid dat jy een sal wees met ander gelowiges en nie verdeeld nie (Joh. 17:11). Hy bid ook dat jy een sal wees met Hom en die Vader (Joh. 17:21-23). Hy bid dat gelowiges se eenheid vir die wêreld sal wys dat Hy die Een is—die Seun van die lewende God. Slegs Jesus kan ware eenheid skep tussen ryk en arm, swart en wit, man en vrou, oud en jonk.
  • Hy bid dat jy sy heerlikheid in die hemel sal aanskou (Joh. 17:24).
  • Hy bid dat Hy in jou sal woon en dat die Vader se liefde in jou sal wees (Joh. 17:26).

Hoe weet jy dat die Vader sy gebede sal beantwoord? Die Vader sien altyd die merke in Jesus se hande (Luk. 24:39, Joh. 20:27, Op. 1:7, 5:6). Net soos wat die Vader sy offer aanvaar het, sal Hy sy gebede vir jou aanvaar.

Miskien is dit nie vir jou die kwessie nie. Jy is eerder teleurgesteld, omdat Jesus vir die verkeerde dinge bid. Jy wil meer rykdom, voorspoed, gesondheid en sukses hê. Ek voel jammer vir jou. Jy is soos ’n kind wat vir sy ma wil voorskryf wat die beste is. Jy dink dat lekkers gesonder is as kos. Jy dink dat dit beter is om die hele dag te speel en nie te werk nie. Jy glo dat die dokter se suigstokkies, eerder as sy medisyne, jou gaan help om beter te word. Wat ek probeer sê, is dat jy ’n swak begrip het van wat die beste is. Leer daarom om saam met die Puriteine te sê:

‘As U my uitnooi om in enige saak vir myself te besluit,

sal ek kies om alles aan U oor te laat,

omdat U oneindig wys is en nie verkeerd kan doen

soos ék die gevaar staan om te doen nie.’4

 

3. Hy verwyder hulle sonde (v.25-26)

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress het Christen ’n sondelas op sy skouers gehad. Hy kon niks doen om dit weg te vat nie. Iemand het voorgestel dat hy oor Berg Sinaï moet klim, maar dit het erger geraak. Die las het eers afgeval toe hy by die kruis kom, omdat nét Jesus ons sonde kan wegvat. Die Ou Testamentiese hoëpriester en offers was maar net ’n prentjie van vergifnis, maar hulle kon nooit mense se sonde wegvat nie (Heb. 7:11, 19, 10:1, 4). Hoe weet ons dit? Die hoëpriester het elke jaar offers gebring op die Dag van Versoening (v.25, Lev. 16). Die feit dat hy dit aanhoudend moes doen, wys dat die offers nie die volk se sonde kon wegvat nie (v.25, 10:11).

Jesus se offer is nie so nie. Indien dit was, sou Hy van Gen. 3 af vir ons sonde moes ly (v.26). Die waarheid is dat hy een maal aan die einde van die eeue (die einde van die ou verbond) verskyn het om ons sonde weg te vat deur die offer van Homself (v.26, 1:1, 1Kor. 10:11). Hy het ons sonde verwyder so ver as wat die ooste van die weste af is; die ooste en die weste wat nooit bymekaar uitkom nie (Ps. 103:12). Hy het ons sonde in die diepste see begrawe (Miga 7:19). Hy het dit laat verdwyn soos ’n miswolk voor die son (Jes. 44:22). Hy het dit weggevat soos in Lev. 16. Die hoëpriester moes twee bokke vat. Hy het die een geoffer en sy hand op die ander een se kop gelê. Dit was ’n prentjie van geloof en vertroue, omdat hy met sy gewig op die bok se kop gesteun het. Dit het ook daarop gedui dat hy die volk se sonde simbolies aan die bok oordra. Daarna het hy die bok in die woestyn vrygelaat om die volk se sonde weg te neem (Lev. 16:20-22). Dít is wat Jesus vir ons gedoen het. Natuurlik het Hy dit nie net simbolies gedoen nie, maar werklik (v.26). Hy het ons sonde uit die rekordboeke verwyder (Kol. 2:14). Dit geld vir elkeen wat in Hom glo (Rom. 5:1).

Maar hoe kon Hy ons sonde met ’n enkele offer wegvat, veral as die hoëpriester in die Ou Testament na honderde offers onsuksesvol was? Die Ou Testamentiese hoëpriester was ’n sondaar en kon dus nie vir ander mense sterf nie. Jesus is sondeloos en daarom kon Hy vir ons sterf. Verder het ’n dier se lewe het nie die waarde van ’n mens s’n nie. Gevolglik kan geen dier regtig ’n plaasvervanger wees vir mense se sonde nie. Jesus is waarlik mens en daarom kon Hy vir ander mense sterf. Hy is ook die oneindige God en daarom kon Hy in ’n oomblik die ewige straf vir miljoene mense se sonde dra.

Daarom is dit nie nodig om godsdienstige offers te bring om God se guns te wen nie. Jesus se offer is genoeg. Hy het reeds die Vader se guns vir ons gewen. As jy Hom en sy kruisdood aanvaar, sal die Vader jou aanvaar en jou sonde vergewe. As jy Hom verwerp, verwerp jy die enigste manier om gered en vergewe te word. Hoe anders sal jy gered word? Gaan jy vir Hom die drek offers van jou goeie werke gee; goeie werke wat kom uit ’n hart vol hoogmoed, selfsug, wellus, bitterheid, onreinheid, en ander sondes? Dink jy regtig dat sulke gemors aanneemlik sal wees vir ’n God wat sonde haat? Sal jy dit vir ’n aardse koning gee? En dink jy dat die perfekte Koning van die hemel dit sal aanvaar? Indien wel, dink jy maar min van Hom.

Hoekom nie maar net jou trots sluk nie? Erken dat jy ’n slegte sondaar is wat sy straf verdien. Bely dat jy jouself nie kan red nie en aanvaar dat Jesus se offer voldoende is. Indien jy dit doen, sal die Vader jou so sondeloos en regverdig beskou soos Jesus self (2Kor. 5:21). Hy sal nie verder oor jou frons nie, omdat Hy oor Jesus gefrons het toe Hy jou sonde aan die kruis gedra het (Matt. 27:46). Op grond van Jesus se offer, sal die Vader van nou af oor jou glimlag.

 

4. Hy red hulle van die dood (v.27-28)

Om te sterf, is een van die mens se grootste vrese (Heb. 2:14-15). Sal jy bang wees as jy in ’n boom sit en ’n paar honger leeus die boom probeer klim om by jou uit te kom? Sal jy bang wees as vier rowers jou vasbind en jy nie ’n vuurwapen by jou het nie? Sal jy bang wees as jy vasgevang raak in ’n huis wat besig is om te brand? Sal jy bang wees as ’n aankomende motoris aan die slaap raak en skielik voor jou indraai?

Jesus red sy kinders van die dood. God het bestem dat elke mens een maal moet sterf (v.27, Gen. 2:16-17, 3:19). Daar is ’n paar uitsonderings. Lasarus en ander wat uit die dood opgewek is, het twee keer gesterf. Henog, Elia en dié wat nog lewe by die wederkoms, sal glad nie sterf nie. Om egter een keer te sterf is reël (v.27). Jesus self het een keer vir ons sondes gesterf (v.28).

Omdat die mens net eenkeer sterf, bestaan daar nie so iets soos reïnkarnasie nie: jy kom nie ná hierdie lewe terug as iets anders nie. Wanneer jy doodgaan, gaan jy hemel toe, of hel toe (v.27, 12:23, Luk. 16:19-31, 23:43, Hand. 1:25, 7:59, 2Kor. 5:8, 2Pet. 2:9, Jud. 7). Die volgende groot gebeurtenis is Jesus se wederkoms en die finale oordeel (v.27-28, Matt. 25:31-46, Op. 20:11-15). Hoe seker is jy dat jy dit sal slaag? Watse hoop het jy as jy op jou goeie werke, godsdiens, of opregtigheid vertrou? Hoop jy maar net dat jou goeie werke swaarder sal weeg as jou sonde? Jy weet dat dit nie so werk nie: jy kan nie die straf vir ’n moord vryspring, omdat jy meer goed gedoen het as sleg nie.

By God werk dit dieselfde. Daarom is Jesus se kruisdood jou enigste hoop, aangesien Hy dáár die straf vir miljoene mense se sonde gedra het (v.28, Jes. 53:4-6, 10, 12, Matt. 20:28, Op. 5:9, 7:9). Om die voordele hiervan te verkry, moet jy in Hom glo (Joh. 3:16). Die voordele strek verby die dood, tot in die hemel, tot by die wederkoms, verby die finale oordeel en tot op die nuwe aarde (v.27-28). Vir iemand wat hierdie voordele geniet, is die wederkoms en die oordeelsdag nie iets om te vrees nie, maar iets om na uit te sien. Jy sal sien hoe Jesus en die Nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal (Op. 21:2). Om Stuart Olyott se woorde te gebruik: ‘[Jesus] will come to earth again…without ever leaving heaven!’5 Hierdie keer sal Hy egter nie kom as ’n Kneg om te sterf nie, maar as Koning om sy kinders se liggame uit die graf te verlos (v.28, Rom. 8:23).

Sien jy uit daarna? Is die wederkoms deel van jou gedagtes en gebede? Voel jy gemaklik in hierdie wêreld? Of sug jy, omdat jy daaruit verlos wil word (v.28, 2Tim. 4:8, Tit. 2:13)? Begeer jy om by Jesus te wees (Fil. 1:23)? Lewe jy vir Hom (Fil. 1:21)? Is Hy vir jou wat water vir ’n vis is, lugstrome vir ’n arend, die buitenste ruimte vir ’n planeet, die son vir die dag, suurstof vir jou longe? Hoe kan Hy nié hierdie dinge vir jou wees nie as Hy jou sy lewe gegee het en as Hy oor ’n rukkie weer gaan terugkeer om aan jou ’n Koninkryk te gee?


1  https://baptistekerkkemptonpark.com/2020/03/07/die-nuwe-testament-is-beter-as-die-ou-testament/

2  Sewendedag-Adventiste Glo… (Silver Spring, VSA: Predikantevereniging—Wêreldkonferensie van die Sewendedag-Adventiste, geen datum), 328-348. Sien ook https://www.andrews.edu/~damsteeg/pion.html

3 Maar hoekom praat v.19 in die Ou Vertaling dan van die boek van die lewe? Hoe het die vertalingsfout ingesluip? Dit kom uit die Latynse Bybel, of die Vulgaat. In die vierde eeu n.C. het ene Hieronimus (345-420 n.C.) die Bybel uit die oorspronklike tale in Latyn vertaal. Mense het nie fotostaatmasjiene gehad nie en moes dus die Bybel met die hand oorkopieer. In die proses het iemand ’n kopieerfout gemaak en die Latynse woord ligno (boom) met libro (boek) vervang. Dit kon maklik gebeur het, omdat die Latynse woord libri (boek) ook in v.18 voorkom. Vir honderde jare was dit die standaard vertaling op Op. 22:19. In die 16de eeu eers het Disederius Erasmus (1466-1536) ’n klomp Griekse manuskripte bymekaar gesit. Toe hy by Op. 22 kom, toe ontbreek die laaste ses verse daarvan. Om die Griekse Nuwe Testament volledig te maak, het hy die Latyn gebruik en dit terug vertaal in die Grieks in! Omdat die Ou Vertaling en die King James Version van hierdie Griekse manuskripte gebruik maak, praat Op. 22:19 van mense se name wat uit die boek van die lewe verwyder word. Eintlik moet daar staan dat mense nie toegang het tot die boom van die lewe nie. Die punt is dus nie dat mense hulle redding verloor nie, maar dat hulle nie toegang het tot die hemel nie. Dit is ook hoe die beste Griekse manuskripte dit het. Sien http://www.reltech.org/TC/v16/Krans2011.pdf vir ’n tegniese verduideliking.

4  Vry vertaal uit Arthur Bennett (Ed.), The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975), 4

5  Stuart Olyott, I Wish Someone Would Explain Hebrews To Me! (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2010), 112