Die laaste wense en testament van Jesus Christus

Is your last will and testament up to date? |Zululand Observer

Hebreërs 9:15-22

’n Testament is ’n persoonlik dokument wat nie vir almal se oë bedoel is nie. En tog is Jesus se testament oop en kan almal dit lees. Die vraag is of jou naam in die testament geskryf staan. Hoe kan jy weet of jou naam daarin is?

 

1. Die Testateur en Eksekuteur (v.15a)

’n Testateur is iemand wat sy persoonlike testament optrek. Hy verdeel sy eiendom tussen sy geliefdes, of dit nou sy familie, of vriende is. Die testateur wys ’n eksekuteur aan om toe te sien dat die eindom regmatig verdeel word na sy dood. Natuurlik kan die testateur en eksekuteur nie dieselfde persoon wees nie, aangesien die eindom eers verdeel sal word wanneer die testateur sterf. Die eksekuteur moet dus namens die testateur optree.

In Jesus se testament is Hy beide die Testateur én die Eksekuteur. As Testateur het Hy die testament opgetrek. Toe Hy aan die kruis gesterf het, kon die erfgename hulle erfporsie kry. Hy het egter uit die dood opgestaan en daarom kan Hy ook die Eksekuteur wees wat die erfporsie verdeel.

Sy rol as Testateur help ons op nóg ’n manier. Hy sit as mede-Koning langs die Vader. Ons is sterflike mense wat nie voor die ewige en heilige Koning kan verskyn nie. Hoe kan ons dan volgens die bepalings van die testament die rykdom en skatte van die hemelse Koninkryk erf? Dit is waar die Testateur inkom. Omdat Hy God én mens is, kan Hy ons by die Koning verteenwoordig en ons na Hom toe bring (v.15, 8:6, 12:24, 1Tim. 2:5, Job 9:32-33). Dit werk as volg:

Gestel jy koop ’n rekenaar in Amerika. Hulle kabels en proppe lyk anders as ons s’n en het ook nie dieselfde spanning, of volt nie. Hoe sal jy jou rekenaar inprop as jy weer in Suid-Afrika kom? Jy sal ’n kabel met die regte prop benodig, of jy sal ’n aansluitprop [Eng. adaptor] moet koop. Deur middel van die aansluitprop kan jy jou Amerikaanse rekenaar aan ’n Suid-Afrikaanse muurprop koppel.

Jesus is soos die aansluitprop. Omdat Hy God én mens is, kan Hy ons na die Vader toe bring. Hy kan die mens by God verteenwoordig en andersom. Sy amp as Middelaar beteken dat Hy vir ewig God én mens sal bly (Matt. 26:64, Hand. 7:56, 17:31, 1Tim. 2:5, Op. 1:7, 13, 14:14). Daarom kan Hy ons altyd by die Vader verteenwoordig. As mens verstaan Hy ons probleme en pyn, omdat Hy self daardeur is (Heb. 4:15). As God beskik Hy oor alle wysheid en mag om ons te help wanneer ons swak is (Heb. 1:3, 8, 10-12).

Hoe moet ons hierop reageer? “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Heb. 4:16). Jy hoef nie soos Jakob skelm te wees om die seën van die eersgeborene te steel nie (Gen. 27). Sê eenvoudig vir die Here: ‘U is die Testateur en het my ’n erfgenaam gemaak. Tree asseblief as Eksekuteur op om my te seën volgens wat U in die testament geskryf het. Ek benodig dit veral in hierdie tyd: u genade, vrede, blydskap, goedheid, guns, versekering, en hoop.’

 

2. Die testament en die erfgename (v.15b)

As jy ’n testament opstel en dit later wil verander, moet jy dit herroep. Jy moet ’n nuwe testament opstel wat dan as die uiterste testament bekend staan. In die eerste testament was God die Testateur, Israel die erfgename, die Beloofde Land hulle erfporsie, die diere offers ’n voorskou van die Testateur se dood, en die navolging van die Tien Gebooie ’n voorwaarde vir Israel om die erfporsie te kry. Toe Israel dus die voorwaarde verbreek, toe kry hulle nie die erfporsie nie. God het die testament herroep en ’n nuwe, of uiterste testament opgestel.

In die uiterste testament is Hy die Testateur. Christus is die Erfgenaam, terwyl dié wat in Hom glo mede-erfgename is (Heb. 1:2, Rom. 8:17). Die Koninkryk van God is die erfporsie (Matt. 25:34). Jesus se bloed (die Testateur se dood) bekragtig die testament. Jesus het die testament se voorwaardes vir ons nagekom. Hy het dit ook op ons harte geskryf, sodat ons die voorwaardes wíl nakom. Die Heilige Gees woon in ons om ons te help om dit na te kom (Jer. 31:31-34, Eseg. 36:25-27).

Is jou naam in die testament? Ja, of nee? Hoe weet jy, veral as God die name alreeds voor die skepping inskryf het (2Tim. 1:9, Op. 13:8, 17:8)? Dit is nie moeilik om te weet nie. Het jy al gehoor hoe die Herder jou by die naam roep en sê: ‘Volg My’ (v.15b, Joh. 10:3-4, 14, 16, 27, Rom. 1:7)? Jy het nie ’n stem met jou ore gehoor nie, maar in jou hart. Jy het jy geweet dit is Hy. Daar was iets in sy stem wat jy nie kon weerstaan nie, sodat jy Hom (soos die dissipels) net móés volg, maar dit ook wóú doen.

Is dit waar van jou? Glo jy met jou hele hart dat Hý die Een is: die Messias en die Seun van die lewende God? Het jy al die knie voor Hom gebuig? Gehoorsaam jy Hom as jou Here? Bedroef dit jou as jy teen Hom sondig, omdat jy Hom liefhet en Hom nie wil teleurstel nie? Dan staan jou naam in die ewige testament wat Hy voor die skepping van die wêreld geskryf het (Hand. 13:48, Rom. 8:29-30, Ef. 1:4-5, 1Tess. 1:4-5, 2Tess. 2:13, Tit. 1:1-2, 1Pet. 1:1-2, 2Pet. 1:10, 5-9).

Moenie jou kop breek oor uitverkiesing nie. Die Bybel sê nie: ‘Glo in uitverkiesing en jy sal gered word’ nie. Dit sê: ‘Glo in die Here Jesus en jy sal gered word’ (Hand. 16:31). Moet dan nie uitverkiesing die basis vir jou redding wil maak nie. Dit was Israel se fout en is nog steeds ’n fout wat baie mense maak. Die Jode het gesê: ‘Ek is uitverkies, omdat ek ’n Jood is en besny is.’ Vandag sê mense: ‘Ek is uitverkies, omdat ek in die verbond gedoop is en ’n lidmaat van die kerk is.’

Die Bybel maak nooit uitverkiesing die basis van sekerheid nie, aangesien nie een van ons die ewige testament, of die Boek van die Lewe gesien het om te weet wie se name daarin geskryf staan nie. Niemand kan dus deur sy verbondenheid aan ’n kerk, of ’n godsdienstige groep weet of sy naam in die Boek van die Lewe is, of nie. Moet daarom nie dink dat jou naam in die Boek van die Lewe is, net omdat dit op ’n kerk se lederol verskyn nie.

Maak eerder die kruis die basis van jou sekerheid soos wat die Nuwe Testament ons leer. Vertrou op Jesus se kruisdood eerder as op jou eie gebrekkige nakoming van die wet. As jy dít doen, sal die Vader sy Seun se perfekte nakoming van die wet aanvaar asof jý dit gedoen het. Hy sal ook Jesus se dood aanvaar, asof jy die straf vir jou eie wetsoortreding gedra het (v.15b).

Wat is die punt? Deur die geloof in Jesus kan jy weet dat jy ’n erfgenaam van die hemel is en dat jou naam in sy testament geskryf staan. Die vraag is dus of jy in Jesus glo? Ek praat nie hier van ’n intellektuele geloof nie. Ek bedoel eerder: vertrou jy op Jesus; nie net vir jou gesondheid, werk, of beter omstandighede nie, maar vir die vergifnis van sondes? Getuig jou gewete dat jy sy vergifnis ontvang het? Moenie rus totdat jy dit ontvang het nie.

 

3. Die erfporsie en die bekragtiging (v.16-22)

Ek en Deirdrè is binne gemeenskap van goedere getroud: ons deel alles. Net so is Jesus en die kerk binne gemeenskap van goedere getroud en kry ons alles wat aan Hom en die Vader behoort (1Kor. 3:21-23). Sy dood het die testament bekragtig, sodat die erfporsie van die ewige lewe beskikbaar is vir die erfgename (v.16-17). Ons ontvang dit egter eers wanneer ons in Hom glo (Joh. 6:47, 17:3).

Op grond van v.16-17 kan ons dan sê dat die Nuwe Testament strenggesproke nie begin het toe Jesus gebore is nie, maar toe Hy gesterf het. Dit werk byna soos wanneer die son opkom. Op ’n stadium is alles nog donker, maar is daar ’n ligte geel strook op die horison: die Testateur word gebore (Joh. 1:9). Daarna word dit lig, alhoewel die son nog nie op is nie: Jesus lewe vir 33 jaar op aarde (Matt. 4:16). Die son steek sy neus oor die horison: Jesus stel die nagmaal in as ’n prentjie van sy bloed wat die testament van krag maak (Matt. 26:28). Die oranje son verskyn as ‘n halfmaan bo die horison: Jesus red die dief aan die kruis (Luk. 23:39-43, 46). Die son hang as ‘n helder vuurbal bo die horison: Jesus blaas sy laaste asem uit. Die ogggendson is te helder om te aanskou: volgens die belofte van die nuwe verbond stort Jesus die Gees uit op Pinksterdag (Joël 2:28, Hand. 2). Die oggendson skyn warm, maar die maan is nog sigbaar: die Joodse gelowiges besef dat die gelowiges onder die heidene deel is van die kerk en dat die besnydenis nie nodig is vir redding nie (Hand. 10-11, 15). Die maan is weg en die 12 uur son skyn vir ewig: die tempel word in 70 n.C. verwoes, sodat daar geen meer verwarring tussen die ou en die nuwe testament is nie.

Alhoewel die oorgang tussen die ou- en die nuwe verbond (testament) nie in ’n enkele oomblik gebeur het nie, was daar tog ’n definitiewe oomblik toe die son bo die horison verskyn het. Dit het gebeur toe Jesus sy asem uitgeblaas het (v.16-17, Joh. 19:30). Selfs onder die eerste testament moes daar bloed vloei om dit te bekragtig (v.18, vgl. Eks. 24). Moses het die wet vir die volk voorgelees. Hy het voorwaardes voorgehou vir hulle om die erfporsie te kry (v.19). Hy het ook hisop gebruik om die volk en die wetboek met die offerdiere se bloed, met water, en met rooi wol te sprinkel (v.19).

Hoekom het hy dit gedoen? Die bloed het daarop gedui dat hulle wetsoortreding die dood verdien (die wet wat Moses sopas vir hulle gelees het). Vir hulle om vergewe te word, moes onskuldige en vlekkelose diere in hulle plek sterf. Soos reeds gewys, dui hierdie offers op Christus. Die water was simbolies van geestelike reiniging (Hand. 2:38, 1Kor. 6:11, Tit. 3:5, Heb. 10:22). Die rooi wol was ’n prentjie van die Lam van God wat ons met sy bloed reinig (1Pet. 1:19). Hisop was ’n antiseptiese middel wat gekeer het dat kieme en infeksie versprei. Dit was dus ook ’n prentjie van geestelike reiniging (Eks. 12:22, Ps. 51:9, Joh. 19:29).

Moses het ook die tabernakel en sy meubels met bloed gesprinkel (v.21, Eks. 24:6, 29:12, Lev. 8:15, 16:14). Dit het hy gedoen om die tabernakel vir God se diens af te sonder om te wys dat dit vir niks anders gebruik mag word nie. Volgens die wet moes byna alles met bloed gereinig word: die Israeliete se huise gedurende die pasga, die priesters voordat hulle kon dien, die volk om vergewe te word, melaatses, mense wat aan dooies geraak het, mense met liggaamlike uitskeidings, die meubels van die tabernakel, ensovoorts. Daar was ’n paar uitsonderings. Arm mense kon byvoorbeeld meel offer om gereinig te word (Lev. 5:11-13). Metale wat na ’n oorlog as buit geneem is, moes met water en vuur gereinig word (Num. 31:22-24). Dit was egter uitsonderings. As ’n reël moes mense en voorwerpe met bloed gereinig word (v.22).

Sonder bloedvergieting is daar geen vergifnis van sonde nie (v.22). Hoekom? Die rede is, omdat sonde die dood verdien (Gen. 2:16-17, Rom. 5:12, 6:23). Dus moes daar ’n perfekte offer in die oortreder se plek sterf, voordat God die persoon kon vergewe (v.22). Soos reeds hierbo gesê was die Ou Testament offers ’n skadu van Jesus se offer (10:1, 4). Die offers het begin toe God klere van vel gemaak het vir Adam en Eva. Abel het ’n offer gebring in Gen. 4, Noag in Gen. 8, Abraham in Gen. 15 en 22, Jakob in Gen. 31:54 en 46:1, Job in Job 1, en Israel deur haar geskiedenis. Jesus is die finale Offer waarheen al hierdie offers gewys het. Hy reinig en vergewe ons deur sy bloed (Ef. 1:7, Kol. 1:13-14, 1Joh. 1:7). As God ons sonder die kruis moes vergewe, sou dit beteken dat Hy onheilig is. Dit sou beteken dat Hy nie omgee oor sonde nie en dat Hy ’n blinde oog daarvoor gooi. Die waarheid is eerder dat God juis mense se sonde in die Ou Testament oorgesien het, omdat Hy hulle deur Jesus se dood in die Nuwe Testament sou vergewe (v.15, Rom. 3:25-26). Jesus se kruisdood is ook die rede hoekom Hy óns vergewe.

Dit is belangrik, omdat baie mense vergewe wil word sonder die kruis. Hulle dink dat God ons vergewe, bloot omdat Hy genadig is. Baie gebruik sy liefde en genade as ’n dekmantel vir hulle sonde. Hulle maak sy genade en vergifnis goedkoop. Hulle sou dit nie gedoen het as hulle die bebloede kruis gesien het nie. Hulle sou nie verder onder die illusie verkeer het dat vergifnis goedkoop kom nie. Die Testateur het gesterf en sy laaste asem gegee. Die bloed het uit Hom getap soos water uit ’n kraan. Dit het Hy vir ons gedoen.

Moet dus nie dink dat God mense se sonde onder die mat invee as Hy hulle vergewe nie. Besef eerder dat Hy ons sonde in Christus aan die kruis gestraf het (Jes. 53:4-6, 10, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Gevolglik kan elkeen wat in Christus glo om vergifnis vra en weet dat Hy hulle sal vergewe. Hy doen dit nie, omdat dit sy werk is, of omdat Hy in ’n goeie bui is nie. Hy doen dit, omdat Jesus die straf vir ons sonde aan die kruis gedra het.

Het jy sonde wat jy nog nie bely het nie? Bely dit en weet dat die Here jou sal vergewe (1Joh. 1:9). Het jy afgedwaal, maar jy weet nie hoe om terug te keer nie? Moenie God se guns probeer wen nie, maar vertrou op Jesus wat in jou plek gesterf het. Vra die Vader om jou op grond daarvan te vergewe. Het jy nog nooit God se vergifnis ontvang nie? Jy het al ’n keer of wat jou sonde bely, maar jy is nie vergewe nie, omdat jy dit sonder die kruis wou doen: “…sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.” (v.22). Kom na die kruis toe. Lees daarvan in Jes. 53, in die vier Evangelies, in Romeine, Hebreërs, en die res van die Nuwe Testament. “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Waar? Kyk mooi. Vra die Heilige Gees vir oë om te sien en kyk totdat jy Jesus aan die kruis sien hang. Sodra jy Hom sien, sal die sonde wat jou gewete pla soos ’n las van jou skouers afval.

Dalk wonder jy: ‘Maar hoe weet ek die Here sal my vergewe? Wat as ek die kruis sien en in Jesus glo, maar die Vader my nie vergewe nie? Of wat as Hy my vergewe, maar ek weer in sonde val en hel toe gaan?’ Dit kan nie gebeur nie. Hoe weet ek dit? Want God het ’n verbond gemaak. Ek kan my net voorstel hoe die Vader in die ewige verlede vir die Seun gesê het:

‘My Seun! Ek het miljoene sondaars se name in die testament geskryf. Ek gee hulle as jou erfdeel (Joh. 6:37, 39, 10:29, 17:2, 6, 9, 24). Sal Jy die straf vir hulle sondes dra?’

‘Ek sal Vader. Eintlik wíl Ek dit doen, omdat Ek hulle liefhet.’

‘Ek het hulle ook lief, my Seun. Dan is dit ’n ooreenkoms dat Jy vir hulle sondes sterf en hulle Jou aanbid.’

‘Dit is ’n ooreenkoms, Vader. Ek sal aarde toe gaan, mens word, en die testament verseël met my bloed.’

‘Goed so, my Seun. Ek is lief Jou.’

‘Dankie Vader. En Ek is lief vir U.’