Gemeentelewe in die grendelstaat

South Africa is moving to a level 4 lockdown – but what does level ...

1Petrus 4:7-11

Uit die aard van die saak kan ons nie bymekaar kom soos gewoonlik nie. En tog bly ons ’n gemeente. Wat sal ons doen om effektief gemeente te wees gedurende hierdie tyd?

 

1. Gebed (v.7)

Soos jy weet mag mense nie drank verkoop tydens die grendelstaat nie. Gevolglik brou sommige mense hulle eie alkohol en glip hulle selfs oor ons land se grense om drank te koop. Mense kla oor hierdie verbod, omdat hulle drank soek en die lewe wat daarmee gepaard gaan (v.3).

Christene moet anders leef, omdat ons Jesus se kruisdood vir ons sondes onthou en weet dat daar ’n oordeel op pad is (v.1, 5). Petrus het sy lesers verder herinner dat die einde van alle dinge naby is (v.7). Wat het hy bedoel, aangesien Jesus al vir 2000 jaar nie gekom het nie?

In Luk. 21 het Jesus die val van Jerusalem en die tempel in 70 n.C. voorspel. Hy het gesê dat daar voor die tyd hongersnood, pes, aardbewings, oorloë en vervolgings sou wees (vgl. Luk. 21:32, 11-12, 16-17). Hoe moes die dissipels hierop reageer? Hulle moes nie in vrees lewe, of dronk word nie, maar bid (Luk. 21:34, 36).

Dit was presies ook Petrus se punt in v.7, veral in die lig van die oorloë, hongersnood en vervolgings wat tóé plaasgevind het (1:1, 6, 3:14, 17, 4:12-19, 5:9-10). Gevolglik het hy gesê: ‘Moenie losbandig wees soos die wêreld nie, maar bid’ (v.3, 7).

Wat is die toepassing vir ons? Net soos die verwoesting van Jerusalem en die tempel vir Petrus se lesers naby was, is die wederkoms vir ons naby. Omdat God nie tydgebonde is nie, sal dit binne ’n oomblik plaasvind (v.7, 2Pet. 3:8). Lewe in die lig hiervan. Bid elke dag die Onse Vader, sodat jy nie die wederkoms vergeet nie: “laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10). As jy die wederkoms verwag, sal jy ingetoë (selfbeheersd) en nugter leef (v.7, 2Pet. 3:11, 14, 1Joh. 3:3). As jy dit nié verwag nie, sal jy jouself oorgee aan seks, drank en ander sondes (v.3, 7, Luk. 12:45).

En tog beteken gereedheid nie dat jy paniekbevange moet wees nie. As Christene lewe ons nie in vrees, omdat ’n paar mal Christene WhatsApp’s rondstuur wat sê dat die 666 op ons is, of dat Covid-19 die einde van wêreld is nie. Nee: as jy die wederkoms verwag, beheer jy jouself, dink jy nugter, is jy rustig, en wy jy jouself aan gebed met die wete dat God in beheer is (v.7). Jy sal moeilik bid as jy nié nugter dink en jouself beheer nie; as jy saam met die wêreld sonde doen en vreesagtig is (v.7, 3:7, 12, Ps. 66:18, Jes. 59:2).

Hoekom is gebed so belangrik? Hoe anders sal jy Satan se landmyne van versoeking en vervolging vryspring (5:8)? Ek wil jou dus aanmoedig om gereeld te bid. Moenie wag totdat jy lus voel nie, maar dissiplineer jouself om te bid (1Tim. 4:7). Kies vir jou ’n tyd in die dag. Kies die beste tyd wanneer jy vars is en nie moeg nie. Begin jou gebedstyd met lof en danksegging. Dink aan soveel dinge as moontlik waarvoor jy die Here kan dank. Dank Hom veral vir jou redding. Peins dan oor ’n spesifieke Skrifgedeelte en bid daaroor. Gebruik die Onse Vader as die patroon waarvolgens jy bid. Bid vir jouself, jou gesin, jou gemeente en haar leiers, mense met spesiale behoeftes (soos siek mense en ou mense), sendelinge met wie jy bekend is, bekerings onder die Jode en in jou eie omgewing, herlewing, die vervolgde kerk, Christene wêreldwyd (Ef. 6:18), jou familie, jou vriende en ons land. Deel die versoeke op as dit te veel is vir een dag. Dalk kan jy selfs ’n vasdag, of ’n ekstra tyd vir gebed inruim.

Let asseblief op dat vers 7 nie net vir individue geskryf is nie, maar vir gemeentes. As gelowiges moet ons saam bid soos hulle dit in die vroeë kerk gedoen het (Hand. 1:14, 2:42, 4:24-31, 12:5, 21:5) en soos Jesus ons leer in die Onse Vader. Op hierdie stadium bid ons gemeente drie keer per week saam op Facebook Messenger en Skype. Ek wil jou uitnooi om in te skakel, of om dit in jou eie gemeente te doen as julle nie reeds ’n biduur het nie. Iemand wat nie saam met ander gelowiges bid nie, het ’n defektiewe gebedslewe. Hy kan nie groei soos hy moet, of effektief teen die duiwel stry nie (sien Ef. 6:18 in sy konteks). Maak dus ’n plan om êrens by ’n biduur in te skakel.

 

2. Broederliefde (v.8-9)

A.W. Tozer was ’n godvresende man en ’n bekende skrywer. Soos die res van ons het hy ook maar kleivoete gehad. Ná sy dood het sy vrou Ada weer getrou. Sy het gesê: ‘I have never been happier in my life. Aiden [A.W. Tozer] loved Jesus Christ, but Leonard Odam loves me.’1 Natuurlik is dit ’n vals onderskeid, want as jy die Here liefhet, sal jy jou naaste liefhê. Verder moet jy ook die Here liefhê bo jou lewensmaat. En tog is dit ’n feit dat A.W. Tozer emosioneel afsydig was en sy vrou afgeskeep het.

Christene moenie so wees nie. Ons moenie net geestelik wees nie (v.7), maar ons moet mekaar prakties liefhê (v.8). Eintlik moet liefde vir God en jou naaste selfs belangriker wees as gebed (v.7-8). Gebed sal ophou as ons die dag sterf, terwyl die liefde nooit sal ophou nie (1Kor. 13:13). Bowendien sal die liefde ons ook dryf om meer te bid, nie waar nie?

Volgens die Grieks moet ons aanhou om mekaar vurig lief te hê. Ek dink die idee is dat ons mekaar moet liefhê, selfs as die wêreld ons haat en vervolg (v.8). Petrus praat van ’n vurige liefde (v.8, 1:22): intens, konstant, ywerig, voluit, tot die maksimum toe [Gk. ektenēs].

Wie moet ons liefhê? Ons moet almal liefhê, maar laat ons veral ons broers, of medegelowiges liefhê (v.8, Joh. 13:34-35, Rom. 12:10, 1Tess. 3:12, 4:9, Heb. 13:1). Dit is tog ’n kenmerk van ’n Christen, naamlik dat hy die broers liefhet (1Joh. 2:9-11, 3:14-15).

Hoe moet ons mekaar liefhê? Moenie bloot ’n sekere emosie wil hê nie, maar wees prakties: dien die broers, deel met hulle, help hulle op as hulle in sonde val, dra by tot hulle nood, wees gaaf en vriendelik, verdra hulle tekortkominge, maak opofferings, ensovoorts (1Kor. 13:4-7, Gal. 5:13, 6:1-2, Ef. 4:2, 1Joh. 3:16-18). Petrus sê ook dat ons mense se sonde sal bedek as ons hulle liefhet (v.8). Dit beteken nie dat ons hulle sonde onder die mat invee, of die opdrag om kerkdissipline toe te pas ignoreer nie (Matt. 18:15-17). Wat dit eerder beteken is dat ons nie rekord hou van mense se sonde teen ons nie, maar dat ons hulle vergewe omdat God óns sonde bedek en vergewe het (v.8, Spr. 10:12, 1Kor. 13:5, Ef. 4:32).

In v.9 gee Petrus ons nóg ’n manier hoe ons mekaar prakties moet liefhê. Hy sê dat ons gasvry moet wees. Die Griekse woord [philoxenos] beteken letterlik dat ons vreemdelinge moet liefhê (1Tim. 3:2, Tit. 1:8, Heb. 13:2). Dit was veral belangrik in die konteks van vervolging, vlugtelinge, rondreisende sendelinge en huiskerke. Die gelowiges moes hulle huise vir hierdie mense oopmaak.

Vandag nog moet Christene gasvry wees. Laat ons dit veral doen as die grendelstaat verby is. Nooi mense vir koffie, of vir ete. Stel jou huis oop vir Bybelstudies en bidure. Gee slaap plek vir sendelinge. Doen dit sonder murmurering (v.9). Moet byvoorbeeld nie sê: ‘Hoekom moet julle altyd by mý huis wees; hoekom maak ánder mense nie bietjie hulle huise oop nie?’ Moenie so wees nie, maar doen dit met die regte gesindheid, asof jy vir Jesus huisves (v.9, Matt. 25:38).

Dit beteken nie dat jy mense se gasvryheid moet misbruik nie (Spr. 25:16-17). Dit beteken ook nie dat jy enigiemand in jou huis moet verwelkom, net omdat hy homself ’n Christen noem nie (2Joh. 10). Dit beteken egter dat jy jou huis moet oopstel vir mense wat waarlik broers is (v.9). Maar hoe doen ’n mens dit tydens die grendelstaat?

 

3. Geestelike gawes (v.10-11)

In The Chronicles of Narnia kry die Pevensie-kinders geskenke vir Kersfees: ’n swaard, ’n pyl-en-boog wat altyd raak skiet, ’n ramshoring wat van ivoor gemaak is, ’n dolk, en ’n botteltjie medisyne wat van ’n vuurblom se nektar gemaak is.2 Hierdie geskenke was nie vir speel nie, maar is gegee om teen die vyand te veg en vriende te help, te beskerm, en te genees.

Net so het elke gelowige ’n geestelike gawe ontvang om die gemeente te dien en op te bou (v.10, 1Kor. 12:7, 14:12, 26, Ef. 4:11-13, 16). Wat is ’n geestelike gawe? Dit is die vermoë om deur die krag van die Heilige Gees hierdie dinge te doen. Net soos daar verskillende kleure blomme is, is daar verskillende geestelike gawes [v.10, Gk. poikilos]. Daar is der duisende unieke kombinasies van gawes, net soos wat mens ’n oneindige hoeveelheid melodieë met net agt note kan speel. God kies die kombinasie wat by elke individu en gemeente pas (1Kor. 12:11, 18). Die gawes is nie ons eie nie, maar is Gód se gawe aan ons (v.10). Ons is maar net rentmeesters. Ons is soos iemand wat nie die restaurant besit nie, maar dit bestuur [v.10, Gk. oikonomos]. Moet dus nie jou gawe op die rak laat lê nie, maar gebruik dit om God se genade aan ander te bedien (v.10). Die liggaam sal gebreklik wees as jy nie jou gawe gebruik nie (1Kor. 12).

‘Maar my gawe is so klein en onbelangrik,’ sê iemand.

Bedoel jy dat jou gawe so klein en onbelangrik is soos jou tong, of soos die DNA in jou liggaam? Gebruik jou gawe, selfs al het jy ’n klein taak soos om die nagmaaltafel te dek, die PowerPoints tik, tee te skink, of geld te tel (sien Matt. 10:42).

‘Maar hoe moet ek my gawe gebruik tydens die grendelstaat?’ wil iemand weet. Vind eers uit wat jou gawe is. Alle gawes kan in twee klasse gedeel word: gawes om te spreek en gawes om te dien (v.11). Wat is jóu gawe? Vra jouself eenvoudig wat jy geniet, wat jy goed doen, en wat ander gelowiges in jou sien en bevestig? Dalk is jy nie seker nie. Kyk dan waar daar dringende behoeftes is en doen iets (Tit. 3:14). As jy getrou is in die klein dinge sal die Heilige Gees jou lei om te sien wat jou gawe is (Luk. 16:10).

Het jy die gawe om te spreek? Moenie jou eie woorde spreek nie, maar Gód s’n (v.11). Spreek die evangelie, goeie lering, bemoediging, ’n woord van kennis, of ’n woord van wysheid volgens die Skrif. ‘Maar hóé doen ek dit tydens die grendelstaat?’ Vra God se wysheid. Hier is ’n paar voorbeelde van dinge wat jy kan doen: gebruik jou selfoon om goeie audio en video preke te versprei (John MacArthur se preke is ’n goeie begin). Stuur ook preke aan wat mense teen vals lering waarsku. Lei jou Bybelstudiegroep via WhatsApp, Facebook, YouTube, en op ander maniere. Bemoedig mense via WhatsApp en oproepe. Deel met ander wat die Here jou uit sy Woord leer. Gebruik WhatsApp en oproepe om vir mense raad te gee.

Het jy die gawe om te dien? Doen dit in afhanklikheid van die Heilige Gees (v.11). Vra m.a.w. sy hulp en krag om te dien. Hoe doen mens dit tydens die grendelstaat? Laai vir iemand ’n pakkie af, vernaamlik vir dié mense in jou gemeente wat sukkel. Vat vir iemand ’n bederfie, of ’n geskenkie. Laai ’n pak kaarte of bordspeletjie af vir kinders, of ou mense wat verveeld by die huis sit. Bied aan om winkel toe te gaan vir die ou mense.

Betaal ’n geldjie in vir die mense wat sukkel. As jy in ons gemeente is, kan jy dit in die kerk rekening inbetaal en as ‘Lockdown behoeftes’ merk. Anders kan jy dit direk vir die mense oorbetaal. Koop data vir iemand. Help jou leraar met die tegnologie, sodat hy sy preke vir die gemeente kan stuur. In ons gemeente is daar ’n paar mense wat dit doen. Bel jou broers en susters en bid vir hulle oor die foon. Bid vir die siek mense en sê vir hulle dat jy dit doen. Bel die ou mense en die enkel mense. Stuur vir die gemeente inligting oor die sendelinge en bid vir hulle. Laat die musiek-groep ’n liedjie sing en die woorde aanstuur, sodat die gemeente saam kan sing. Stuur ’n boodskap waarin jy mense vir gebedsversoeke vra.

Vra vir wysheid, sodat jy kan weet hoe jy nóg kan bedien. Probeer elke manier wat jy kan. Iemand het gesê (blykbaar verkeerdelik toegeskryf aan John Wesley): ‘Do all the good you can, by all the means you can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times you can, to all the people you can, as long as ever you can.’3

Natuurlik moet jy dien, sodat mense jou kan prys nie (v.11). Ons het niks om in te roem nie. Gód gee die gawes en die krag wat ons nodig het om dit uit te voer: dit is sy gemeente en sý woorde waardeur jy die gemeente opbou (v.10-11, Jer. 9:23-24, 1Kor. 4:7). As jy in jouself roem, is jy soos die haan wat gedink het dat die son elke dag opkom om te hoor hoe hý kraai (Charles Spurgeon).4

Laat ons eerder dien, sodat die mense wat bedien word God kan prys, sodat die wêreld Hom kan prys as hulle sien dat ons mekaar liefhet, en sodat jý Hom kan prys vir die geleentheid wat jy het om te dien en geseën te word (v.11, Joh. 13:34-35, Hand. 20:35).

Verheerlik God deur Jesus Christus (v.11). Wat beteken dit? Sonder Jesus dien ons met selfsugtige motiewe en is ons diensbaarheid ’n onaanneemlike gemors (Jes. 64:6). Jesus moet dus selfs ons gawes en ons lofprysing in sy bloed was (v.11). Aan Christus kom toe die heerlikheid en die krag: in die gemeente, op die aarde, in die hemel, deur die geskiedenis, en deur die hele skepping (v.11, Op. 5:11-14). Laat ons mekaar daarom dien uit sy inisiatief, deur sy krag, en tot sy eer (v.11).

Deur sý krag sal ons mekaar deur die grendelstaat dien en liefhê, en sal die gemeente behoue bly (v.11). Selfs ná hierdie lewe sal Jesus ons in hemel behou en sal ons Hom vir ewig prys (v.11). Nooit weer sal enige grendelstaat die gemeente van mekaar skei nie. Ons sal vir altyd as ’n familie bymekaar wees saam met miljoene ander. Bowenal sal ons by Jesus wees, sal ons mekaar perfek liefhê, en sal ons mekaar bedien. Maar dit is net as jy hemel toe gaan. In die hel sal jy altyd in staat van inperking wees: in ’n plek vol haat sonder enige hoop om ooit weer daar uit te kom. Dit is nie nodig dat jy hel toe gaan nie. Jesus strek sy hand uit en sê vir jou: ‘Bekeer jou van jou sonde en vertrou op My om jou te verlos. Ek het aan die kruis gesterf om sondaars te vergewe. Ek het opgestaan en lewe weer. Kom na My toe en Ek sal vir jou rus gee. Kom na My toe en word deel van die familie.’


1  Lyle Dorsett, A Passion for God: The Spiritual Journey of A.W. Tozer (Chicago: Moody Publishers, 2008), 160

2  C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Lion, the Witch and the Wardrobe (New York: HarperCollins Publishers, 1950), 159-160

3  https://quoteinvestigator.com/2016/09/24/all-good/

4  C.H. Spurgeon, An All-Round Ministry (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 1972 [1900]), 61