Belydende Christene en die ware Jakob

Christians, Calvinists, Arminians: Why Are We So Divided on the ...

1Johannes 1:5-10

Byna 80% van ons land se mense bely dat hulle Christene is. Baie van hierdie selfde mense gee egter nie om dat hulle steel, dronk word, seksueel losbandig is, bedrog pleeg, babas in die baarmoeder vermoor, hulle voorvaders aanbid, of die historisiteit van Gen. 1-3 verwerp nie.

Wie is dan die ware Christene, wie maar net dat hulle Christene is, en hoe onderskei mens tussen die twee? Dit is belangrik om te weet, omdat die antwoord op hierdie vraag ewige gevolge het.

 

1. Ware Christene ken God (v.5)

Daar is baie kinders wat nie hulle pa’s ken nie. Op ’n geestelike vlak is dit onmoontlik, omdat elke Christen sy, of haar hemelse Vader ken. Ek praat nie hier van kopkennis nie, maar van ’n persoonlike kennis; van ’n verhouding (v.5, 7, 2:13-14). Hoe het jy Hom leer ken? Nie deur jou eie idees, of die idees van engele en mense nie. Nee; jy het Jesus se woorde geglo soos Hy dit deur die apostels in die Bybel laat opteken het (v.5, Ef. 2:20, 3:5, 2Pet. 3:2). En wat was sy boodskap? “God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.” (v.5).

Wat beteken dit? Dit beteken dat Hy suiwer, heilig, rein, roemryk, vol majesteit, glans en heerlikheid is (Jes. 24:23, 30:26, Op. 21:23). God is pure lig. Niemand kan die essensie van sy wese sien nie (Ps. 104:2, 1Tim. 6:16). Daarom moes Christus mens word om God se heerlikheid aan ons te openbaar (Joh. 1:4-5, 9, 14, 18, 8:12, Heb. 1:3). Maar selfs dít is te veel vir sterflike mense om te aanskou (Eseg. 1:4, 26-28, Matt. 17:2, Hand. 26:13, Op. 1:16). Ons is sondaars, terwyl die Here moreel volmaak is en geen duisternis in Hom het nie (v.5). Selfs die son het vlekke en kolle. Ook die heiligste mense op aarde het sonde: Noag het dronk geword, Abraham het oor sy vrou gelieg, Moses het sy humeur verloor, Job het God uitgedaag en Paulus het ’n uitval gehad met Barnabas. Nie eers die hemel is rein voor God se oë nie (Job 15:15). Die sondelose gelowiges in die hemel en die engele val op hulle gesigte en aanbid God (Op. 4:8-11, 5:11-14, 7:9-12). Die vlammende serafs bedek hulle gesigte (Jes. 6:2).

Dít was dan Jesus se boodskap aan die apostels, Johannes se boodskap aan sy lesers en my boodskap aan jou: “God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.” (v.5). ’n Gebrekkige begrip hiervan maak dat party mense hulleself Christene noem, terwyl hulle nie ’n verhouding met God het nie. Jesus is ’n deel van hulle lewens, maar Hy is nie alles nie. Hy is nie essensieel nie. As die regering môre ’n verbod op Christenskap plaas, sal hierdie mense na die ander kant toe oorswaai en ewe gemaklik sonder Jesus lewe as met Hom.

Wat is die rede hiervoor? Hulle sien Jesus net as ’n kruk om hulle te help as dinge moeilik gaan. Hulle glo nie regtig dat hulle Hom nodig het nie. En hóékom dink hul so? Want hulle meet hulleself nog aan ander mense en dink dat hulle die reëls uiterlik nakom. Hullle sien hulleself nie soos God hulle sien nie. God is lig en het geen duisternis in Hom. Met sy vlammende oë kyk Hy deur die mens se siel tot by die onrein motiewe, begeertes en gedagtes wat in die donker hoeke van sy hart skuil. En moet die Here dit maar net onder die mat invee en dit ignoreer soos wat die regering korrupsie ignoreer?

 

2. Belydende Christene lewe in sonde (v.6)

Die meeste kerke pas nie kerkdissipline toe nie. Die lidmate sondig soos hulle wil en daarom beskou baie ongelowiges hulleself as Christene. Maar dit is ’n vals Christen wat in sonde leef (v.6). Hy noem homself ’n Christen, maar lewe in die donker van sy sonde en nie volgens die waarheid van die Bybel nie (v.6). Dalk lewe hy voor ander mense as ’n Christen en praat hy selfs die regte taal. In die donker van die nag, agter toe deure en in die geheim van sy hart, motiewe en gedagtes, lewe hy egter in sonde (v.6, 2:9, 11, Luk. 12:3, Rom. 12:12-13, 1Kor. 4:5, Ef. 5:12, 1Tess. 5:7).

Belydende Christene is skynheilig. Hulle lyk goed voor ander, maar waar niemand hulle sien nie is hulle oneerlik, skelm, leuenaars, vleiers, glibbering en agterbaks. Om die sonde in hulle harte weg te steek, vermy hulle ware Christene en die gereg (Joh. 3:19-20). Hulle sal selfs hulle adresse, telefoonnommers en name verander om die lig te ontwyk (Spr. 28:1).

As jy nie oop lewe nie, maar dinge wegsteek, het jy nie ’n verhouding met God nie, al sê jy ook so (v.6). God is lig en het nie ’n verhouding met die duisternis nie (v.5). Dit impliseer dat iemand wat in die donker lewe, ’n kind van Satan is. Jou lewe is ’n leuen (v.6). Daarom kan jy jouself maar ’n gay- of transgender Christen noem soveel as jy wil: jy bedrieg jouself. Dit geld ook vir mense wat in ander sondes lewe en hulleself Christene noem.

 

3. Ware Christene lewe opreg (v.7)

Net soos wat Judas gemáák het of hy Jesus se vriend is, het Henry Phillips gemáák of hy die Bybevertaler, William Tyndale, ondersteun. Op die einde het hy hom egter aan die gereg oorhandig.1 Talle mense bely dat hulle Christene is, maar doen dit vir die verkeerde redes: om hulleself te regverdig, om geld te kry, om hulle gewetens te sus, om aanvaar te word, om ’n meisie te kry, omdat hulle toegee aan groepsdruk, ensovoorts.

’n Ware Christen is nie so nie, maar lewe in die lig: opreg, met integriteit, oop, eerlik, met suiwer motiewe, heilig, gehoorsaam, vol liefde en goeie werke (2:10, Jes. 2:5, Matt. 5:16, Joh. 3:21, Hand. 13:47, Ef. 5:9). Sy lewe in die lig wys dat hy die Gód van lig ken en dat hy ’n verhouding met Hom het (v.7, 5, Joh. 8:12, 12:35-36, 46, Hand. 26:18, 2Kor. 4:6, Kol. 1:12-13, 1Pet. 2:9).

Maar hoe kan selfs ware Christene ’n verhouding met God hê as Hy geen duisternis in Hom het nie (v.5)? Die bloed van Jesus sy Seun reinig ons van alle sonde (v.7). Hy reinig ons van die duisternis, sodat ons in die lig kan lewe. Dit het implikasies vir die hele kwessie van belydende- teenoor ware Christene is:

Belydende Christene probeer uit hulleself om beter mense te wees. Ware Christene weet dat hulle dit kan regkry nie en vra dus die Vader om Jesus se lewe en dood in hulle plek te aanvaar. Verder glo hulle in die ware Jesus van die Bybel en verwerp hulle die Jesus van vals godsdienste en kultusse. Hulle glo dat Jesus die Seun van God is; gelyk met die Vader (1:7, 1-3, 5:20, Joh. 1:1, 18, 10:30, 14:9). Hulle glo dat Jesus se bloed een van die bewyse is dat Hy waarlik mens geword het en gesterf het (1:1, 7, 4:2-3, Joh. 1:14, 19:30, 34). Hulle glo dat hulle gemeenskap met die Vader en die Seun (v.3) een van die bewyse is dat Jesus nie meer dood is nie, maar lewe; dat Hy letterlik, histories en liggaamlik opgestaan het uit die dood (Joh. 20).

Hulle glo dat Jesus se dood voldoende is om ons van alle sonde te red, sonder enige bydrae van ons kant af. Alle sonde (v.7) sluit in: ons sondige natuur, woorde, gedagtes, emosies, begeertes, dade, verlede, hede, toekoms, en onwetende sonde. Geen sonde word uitgesluit nie. Ware Christene glo dat God aan ons ’n skoon rekord en ’n skoon hart gee deur Jesus se lewe en kruisdood. In die lig van hierdie waarhede, lewe ware Christene opreg. Maar anders as vals Christene wat dink dat God ons op grond van ons opregtheid aanvaar, weet ware Christene dat Jesus se kruisdood—sy bloed—ons enigste hoop is (v.7).

 

4. Belydende Christene ontken hulle sonde (v.8, 10)

Vals Christene ontken dat hulle sondaars ís en dat hulle sonde gedóén het (v.8, 10). Miskien dink jy Johannes oordryf, maar as ek paar ’n voorbeelde gee, sal jy gou sien dat hy reg is.

In ooreenstemming met moderne sielkunde, het ’n besoeker by ons Bybelstudie gesê dat die mens neutraal gebore is en dat hy nie ’n sondaar is nie. ’n Paar mense het al tydens ons straat evangelisasie vir my gesê dat hulle nog nooit sonde gedoen het nie en dat hulle sondeloos is. Soos baie Afrikaners, het ’n vrou eenkeer vir my gesê: ‘Ek is nou wel nie perfek nie, maar dit is nie asof ek ’n slegte sondaar is nie.’ ’n Man wat in seksuele sonde geleef het, het vir my gesê: ‘Dit is nie asof ek goddeloos is nie.’ Sommige mense in die heiligsbewegings glo dat ’n Christen in hierdie lewe al sondeloos kan wees. Ek het so iemand ontmoet.

Sommige mense erken hulle sonde, maar sê dan dat dit nie hulle skuld is nie: ‘Eva het my versoek… Die slang het my mislei… Ek het nie gesondig nie (Spr. 30:20, Jer. 2:35)… Ek het ’n demoon van wellus in my… My verslawing is ’n bloedlynvloek… Ek is ’n kleptomaan… My foutiewe gene maak dat ek dronk word… Ek is transgender, of gay gebore… Homoseksualiteit is nie sonde nie, maar ’n alternatiewe uitdrukking van liefde… Ek het dit nie gesteel nie, maar geleen en het beplan om dit terug te gee… Om te steel is deel van my kultuur… My kort humeur kom van my Franse voorvaders af… My kinders dryf my teen die mure uit… Die disfunksionele ouerhuis waarin ek groot geword het, het gemaak dat ek egbreuk pleeg. Eintlik is dit as gevolg van my swak selfbeeld… Ek het nie my baba vermoor nie; ek is pro-choice.’

Sielkundiges is veral goed hiermee. Hulle dink groot name uit vir dinge wat sonde is en noem dit dan ’n versteuring, of ’n afwyking. Sonde is met ander woorde nie iets wat jý doen nie; dit is iets wat met jou gebeur; iets wat jy nie kan help nie.

Ek sê nie dat Satan en demone ons nié versoek nie, of dat slegte mense en omstandighede ons nie beïnvloed nie. Wat ek eerder sê, is dat jy persoonlike verantwoordelikheid vir jou lewe moet aanvaar. Indien jy dit nié doen nie en jy jou sonde verskoon, mislei jy jouself en noem jy God ’n leuenaar, omdat Hý gesê het dat almal van ons sondaars is (v.8, 10, Rom. 3:23, 5:12). Om jou sonde te ontken beteken ook dat die waarheid van God se Woord nie in jou is nie (v.8, 10). Solank as wat jy jou sonde ontken en ander blameer, sal jy nie die oplossing by Jesus soek nie (v.7, 9), maar in beter omstandighede, in beter mense, in ’n toordokter wat die vloek kan breek, in pille, of in iets anders.

 

5. Ware Christene bely hulle sonde (v.9)

Baie Christene weet nie hoe om hulle sonde te bely nie en daarom sê hulle verkeerde dinge soos:  

  • As ek iets verkeerd gedoen het…’
  • ‘Jammer dat ek op jou geskreeu het, maar…’ (En dan volg die verskoning vir hoekom die ander persoon eintlik verkeerd was).
  • ‘Jammer dat ek jou gevloek het; ek het dit nie bedoel nie…’ (Regtig? ’n Halwe belydenis ontvang gewoonlik ’n halwe vergifnis).
  • ‘Jammer dat ek ongelukkig was…’ (Hoekom erken jy nie maar net dat jy kwaad was nie?).
  • ‘Ek wóú dit nie doen nie; dit het net gebeur…’ (Bedoel jy soos Aäron se goue kalf in Eks. 32:24 wat per ongeluk uit die vuur gespring het?).
  • ‘Ek is jammer.’ (Waarvoor is jy jammer?).

Dit is nie wat die Bybel met ‘bely’ bedoel nie. Die Griekse woord [homologeō] beteken ‘om saam te stem, om dieselfde ding te sê, om te erken’. Stem saam met hoe God jou sonde in die Bybel beskryf. As jy jouself aanhoudend verskoon, dan vra jy nie eintlik vergifnis nie en sal jy nie vergewe word nie (v.9, Ps. 51, 32:5, Spr. 28:13, Jer. 3:13).

‘Maar het Jesus my nie alreeds op grond van sy kruisdood vergewe toe ek tot geloof gekom het nie?’ wil iemand weet. Hy het (v.7). Die oomblik toe jy in Jesus glo, het die Vader jou sondige rekord skoon gewas (Rom. 5:1, 2Kor. 5:21). God moet egter nog jou hart reinig. Hy doen dit onder andere deurdat jy jou daagliks bekeer en jou sonde bely (v.9, Matt. 6:12).

‘Maar wat van my onbelyde sonde?’ Jesus het ook daarvoor gesterf en daarom sal Hy al jou sonde vergewe; selfs die sonde waarvan jy nie bewus is nie (v.7, Lev. 4, Ps. 19:13, Luk. 23:34). Die normale patroon is egter dat jy jou sonde daagliks moet bely. Dit bring jou terug na die kruis toe. Dit herinner jou daaraan dat God jou aanvaar, nie omdat jy ’n goeie stiltetyd gehad het, of omdat jy gehoorsaam was nie. Ook verwerp Hy jou nie omdat jy vandag sonde gedoen het en jou stiltetyd gemis het nie. Hy aanvaar jou slegs deur Jesus Christus. Dank Hom daarvoor en sê dit vir Hom wanneer jy bid: ‘Vader, ek is ’n sondaar. Wees my genadig en ontvang my, omdat Jesus vir my gesterf het, omdat U my met sy volmaakte geregtigheid beklee, en omdat Hy vir my intree.’

Doen dít, eerder as wat jy God se guns deur godsdienstige aksies probeer wen. Jy weet mos hoe dit werk: jy doen sonde en omdat jy sleg voel, besluit jy om vir ’n uur of twee jou Bybel te lees. God werk nie so nie. Bely eenvoudig jou sonde en wees dankbaar dat Hy jou op grond van Jesus se lewe en kruisdood aanvaar (v.7, 9, 2:1).

Hoe weet jy dat Hy jou sal vergewe en dat Hy nie soos Allah is wat vergewe as hy lus voel nie? God is getrou (v.9, Klaagl. 3:23, 1Kor. 10:13, 2Tim. 2:13). Hy kan nie lieg nie, maar sal sy belofte hou om ons deur Christus te vergewe (Ps. 103:10, 12, Spr. 28:13, Jes. 1:18, 43:25, Miga 7:18-19, Tit. 1:2, Heb. 6:18, 10:17). Hy is ook regverdig (v.9, Gen. 18:25, Deut. 32:4, Ps. 119:137, 142). Hy het sy Seun in ons plek gestraf en daarom sal Hy ons nie vir dieselfde sonde straf nie, maar ons deur Christus vergewe (v.7, Rom. 8:1, Kol. 2:14).

Leer asseblief dat belydenis nie net ’n formaliteit is nie. God reinig ons regtig wanneer ons in ons stiltetye, of by die nagmaaltafel ons sondes bely (v.9). Wanneer laas het jy dit gedoen en hoe gereeld doen jy dit? Belydenis is tog ’n kenmerk van ’n ware Christen, omdat hy ’n oop verhouding met sy Vader wil hê. Jy wil tog nie met God wees soos ’n kind wat al vir jare van sy ouers vervreem is en nie met hulle praat nie. Maar selfs al hét jy in die ver land van sonde gaan dwaal, kan jy vandag nog na jou Vader toe terugkeer, jou sonde bely, en vergewe word (v.9, Luk. 15:11-24).


1  Brian Edwards, God’s Outlaw (Welwyn, UK: Evangelical Press, 1976, 1982), 148-153