’n Tyd om geestelik te groei

Department of Environment Science

2Petrus 1:3-11

Tydens die grendelstaat het ek van ons lidmate hoor sê: ‘Ek het nou meer tyd om die Bybel te lees en te bid.’ Ek het self ekstra tyd gevind om verse te memoriseer. My gesin is besig om in drie weke deur die Nuwe Testament te lees.

Ek weet egter nie of almal geestelik groei in hierdie tyd nie. Miskien bly jy net soos jy is, of doen jy selfs minder as gewoonlik. Ek wil aanspoor om die tyd te gebruik om geestelik te groei.

 

1. Die fondasie van geestelike groei (v.3-4)

[a] God se karakter

Iemand wat v.5-7 probeer uitvoer sonder om v.3-4 te doen, is soos ’n kind wat kantoor-kantoor speel met ’n rekenaar wat nie ingeprop is nie. Om geestelik te groei het jy God se krag en kennis nodig (v.3). Bid hiervoor en verwag ’n antwoord (v.2). Jesus se goddelike krag gee ons alles wat nodig is vir die ewige lewe, vir die Christelike lewe hier op aarde en om die vrug van bekering te dra (v.3).

Hoekom het ons Jesus se krag nodig? Ons het dit nodig omdat die wêreld boos is en ons trek soos wat ’n magneet ’n yster trek (v.4). Daar is ’n bonatuurlike hand nodig om te maak dat ons heilig wíl wees en nie soos die wêreld lewe nie (v.3). Ons kan hierdie krag kry deur ’n intieme en persoonlike kennis van God deur Jesus Christus in sy Woord en deur gebed (v.3, Spr. 2:1-6, Joh. 17:3, 6, 26). As jy dit het, het jy alles wat nodig is om reg te lewe (v.3). Jy kort nie die teorieë van sielkunde, of nuwe openbarings om reg te lewe nie. In Christus en sy Woord het jy alles wat nodig is om geestelik te groei (v.3, 2Tim. 3:16-17).

Ek bedoel nie dat ons nét uiterlike wette het nie. Ons het ook die innerlike roeping om gehoorsaam te wees (v.3, Rom. 8:30). God het jou deur sy heerlikheid en deug geroep (v.3). Sy heerlikheid [Gk. doxa] verwys na sy helder glans en die openbaring van Homself in Christus (v.3, 17, Joh. 1:14). Sy deug verwys na sy morele goedheid, opregtheid en uitnemendheid [Gk. aretē].

God het ons ook tot sy heerlikheid en deug geroep, sodat hierdie kwaliteite deur ons lewens sal skyn (v.5, 2Kor. 3:18, 1Pet. 1:15-16). Laat ons dan nie ’n slegte advertensie vir die Here wees nie, maar laat ons Jesus en die Vader se voorbeeld volg, net soos wat ’n klein kind sy ouer na-aap (Ef. 5:1, 1Joh. 2:6). As ons dit nié doen nie dan sleep ons Christus se Naam deur die modder (Rom. 2:24). Dan sal die ongelowiges sê wat ’n onderwyseres een keer van ’n stoute kind gesê het: ‘Hy het seker baie slegte ouers.’ Die waarheid is dat die ouers gawe mense was, terwyl hý rebels was.

 

[b] God se beloftes

’n Goeie afrigter belowe ’n goue medalje vir die kind wat hard oefen. Net so spoor God se beloftes ons aan om geestelik te groei. Hy het ons sy beloftes deur sy heerlikheid en deug gegee (v.3-4). Petrus noem dit groot beloftes (v.4). Dit is beloftes waardeur Hy ons vergifnis, verlossing van die hel, die ewige lewe, die hemel, geestelike bewaring, sekerheid van sy liefdevolle teenwoordigheid en voorsiening, en veel meer belowe. Petrus noem dit ook groot beloftes, omdat daar baie beloftes is: om en by 7500 van hulle.

Laastens praat Petrus van kosbare beloftes (v.4). God se beloftes is soos kosbare edelstene (Gk. 1Kor. 3:12, Op. 21:11, 19). Dit is veral kosbaar in beproewing, nood, hartseer, twyfel, probleme, versoeking, sonde en dood. Daar is ’n belofte vir elke geleentheid. God se beloftes is ’n groot geskenk aan ons. Laat ons dit dan memoriseer, daaroor nadink, dit ken, dit glo, en daaraan vashou.

 

[c] God se natuur

Toe Lasarus gesterf het, kon hy nie lewend word deur ’n battery, ’n suurstofmasjien, of toue wat sy arms en bene soos ’n marionet s’n beweeg nie. Jesus moes hom lewend maak (Joh. 11). Net so kan jy nie geestelik lewe, omdat jy geestelike dinge soos Bybelstudie, gebed, kerkbywoning, of goeie werke doen nie. Gód moet aan jou die lewe gee. Hy het aan ons sy natuur, of die ewige lewe gegee deur die Heilige Gees wat in ons woon (v.4, Joh. 3:3, 5-6, 14:16-17, 23, 17:3, Gal. 2:20, Ef. 3:16-19, 1Joh. 3:9). Dit beteken nie dat ons God word nie, maar dat ons in sy lewe deel. Ons geniet hierdie lewe, of goddelike natuur as ons God se beloftes glo en dit nakom (v.3-4). Ek dink byvoorbeeld aan ’n belofte soos: “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” (1Joh. 5:11-12).

Om God se lewe en natuur te kry, moes ons die verdorwe en verrotte sondige natuur en sy begeertes afsterf (v.4, Ef. 2:1-3). Het jy al vir die sonde gesterf? Is God se lewe en natuur in jou? Of is die begeertes van jou hart soos ’n lyk wat besig is om te ontbind? Beskryf die volgende paragraaf van ’n ou Skotse prediker dalk jou hart?

‘Every natural man [unbeliever] is a hypocrite. He is different in reality from what he appears to be. I undertake to say, that there is not a natural man present here today in his true colours… If every unclean man were to lay bare his heart, and show his abominable [Afr. gruwelike], filthy desires and thoughts; if every dishonest man were now to open his heart, and let us see all his frauds, all his covetous, base desires; if every proud, self-conceited [Afr. self verwaande] one were now to show us what is going on below his coat, or below that silk gown—to let us see the paltry schemes [Afr. skandelike planne] of vanity and desire of praise; if every unbeliever among you were openly to reveal his hatred of Christ and of the blessed Gospel—O what a hell would this place appear! Why is it not so? Because natural men are deceitful—because you draw a cloak over your heart, and put on a smooth face, and make the outside of a saint cover the heart of a fiend [Afr. vyand].

‘Every natural man is a flatterer. He does not tell other men what he thinks of them. There is no plain, honest dealing between natural men in this world. Those of you who know anything of this world, know how hollow most of its friendships are. Just imagine for a moment that every natural man were to speak the truth when he meets his friends; suppose he were to tell them all the bitter slanders which he tells of them a hundred times behind their back; suppose he were to unbosom himself [Afr. sy hart blootlê], and tell all his low, mean ideas of them—how worldly and selfish they are in his eyes—; alas! what a world of quarrels this would be. Ah, no! natural man, you dare not be honest—you dare not speak the truth one to another; your heart is so vile that you must draw a cloak over it; and your thoughts of others so abominable that you dare not speak them out.’1

 

2. Die manier om geestelik te groei (v.5-7)

[a] Ywer

Toe jy nog verlief was, het jy nie gesê: ‘Ek is te moeg en te besig om by jou te kuier’ nie. Nee; jy het tyd gemáák, omdat dit vir jou belangrik was. Dit geld ook vir jou geestelike groei: as dit vir jou belangrik is, sal jy jou daarvoor beywer (v.5). Om geestelik te groei is nie ’n passiewe ding nie. Dit werk eerder soos volg: God gee jou die krag, die kennis van Homself, sy beloftes, ’n nuwe natuur en die gewilligheid om te groei (v.3-4, Fil. 2:13). Hy dek as’t ware die tafel met ’n verskeidenheid van ryk kosse. Dit is jóú plig om in Hom te glo, Hom vas te gryp, en alles te doen wat nodig is om geestelik te groei (v.5-7, Fil. 2:12). Jy moet met ander woorde vir jouself opskep en die ete geniet.

Om geestelik te groei (v.5-7) is die enigste manier om seker te maak dat jy nie terugdraai na die wêreld en sy sondige begeertes nie (v.4). As jy traag is om te groei, sal jy terugval en moontlik selfs wegval.

 

[b] Geloof

Wat bedoel die Bybel met geloof? Party mense dink dit beteken om die Here te vertrou om jou deur moeilike tye te help en vir jou te voorsien wat jy nodig het. Ander verstaan dit as volg: ‘Ek weet nie of die Bybel waar is of nie, maar laat ek eerder ’n kans vat en daarin glo as wat ek verkeerd was en hel toe gaan.’ Ander dink geloof beteken om net die feite van die evangelie te glo: Jesus is God, Hy het mens geword, Hy het aan die kruis gesterf vir sondaars, Hy is begrawe en het uit die dood opgestaan. Ander dink geloof is om oortuig te wees dat die Here vir jou sal gee wat jy wil hê. ‘Om dit te kry, moet jy dit uitspreek,’ is wat hulle sê.

Maar dit is nie wat die Bybel met geloof bedoel nie. Geloof is eerder om die feite van die evangelie te glo (soos hierbo genoem) en om op Jesus te vertrou om jou van jou sonde en die hel te red. God moet Homself aan jou openbaar voordat jy in Hom kan glo. Abraham kon byvoorbeeld nie in God glo en Hom volg, voordat Hy Homself nie aan Abraham geopenbaar het nie. Geloof is iets bonatuurlik wat ons by God ontvang. Hy gee aan ons die vermoë om te kán glo (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29).

En nou die vraag: het jy reddende geloof? Dit is baie noodsaaklik om dit te hê as jy geestelik wil groei. Geloof is immers die beginpunt van ons geestelike groei (v.5). Dit is die boom waaruit al die takke van v.5-7 groei.

 

[c] Deug

Wat maak dit saak as mense op jou begrafnis sê: ‘Hy was ryk… Sy was slim… Hulle was suksesvol’? Wat mense eerder moet sê, is: ‘Hy was ’n deugsame mens… Sy was opreg… Hulle was moreel uitnemend soos Jesus’ (v.5, 3). Streef hierna en bid dat die Here jou sal help om deugsaam te wees.

 

[d] Kennis

Iemand wat gered is, ken die Here (v.3). Doen egter jou beste om Hom beter te ken, net soos wat jy tyd spandeer om jou lewensmaat, of ’n vriend beter te ken (v.5, 2, 3:18, Fil. 3:8). Ken Hom deur sy Woord en gebed: beide op jou eie en saam met ander gelowiges.

 

[e] Selfbeheersing

Om geestelik te groei, benodig jy selfdissipline (v.6, 1Tim. 4:7, Heb. 5:14). Dissiplineer jouself om vroeg te gaan slaap, nie te laat op te staan nie, ‘nee’ te sê vir nóg ’n uur voor die TV, die internet, of jou selfoon. Doen dit, sodat jy kan ‘ja’ sê vir die Bybel, gebed, kerkbywoning, goeie werke en gehoorsaamheid. Hoe meer jy jouself beheer, hoe meer sal jy dit regkry. Vra ook die Heilige Gees om jou hiermee te help, aangesien die vrug van die Gees selfbeheersing is (Gal. 5:22-23).

 

[f] Lydsaamheid

Ek en my vrou het eenkeer ’n dokumentêr gekyk oor hoe hulle Navy Seals oplei. Op ’n stadium moes hulle ’n hele paar myl met ’n swaar rugsak loop. Sommige het die rugsak afgehaal en opgegee. Hulle het nie die opleiding voltooi nie, omdat dit vir hulle te moeilik was.

Moenie soos hulle wees nie, maar bly onder die laste van die lewe [Gk. hupomonē] eerder as wat jy die Here verloën (v.6). Dit is tog hoe ’n mens ware en valse gelowiges van mekaar onderskei: ware gelowiges volhard deur moeilike tye (v.6, Rom. 5:3-4, Jak. 1:2-4), terwyl valse gelowiges hulleself vir ’n tyd lank dissiplineer om Jesus te volg, maar dan opgee as dinge te moeilik raak (Matt. 13:20-21).

Wat van jou? Gebruik jy hierdie tyd van inperking om geestelik te groei? Indien wel, wil ek jou aanspoor om nie op te hou wanneer die grendeltyd verby is nie, maar om te volhard.

 

[g] Godsvrug

Die woord ‘Fariseër’ het ’n neerhalende term geword. Dit verwys na iemand wat uiterlik vroom is, maar innerlik vrot (Matt. 23). Godsvrug is die teenoorgestelde hiervan. Die Griekse woord [eusebeia] spreek letterlik van vroomheid tot God, eerbied en respek vir God, en innerlike toewyding van die hart wat uiting vind in ’n heilige lewe. Vra die Here om jou so te hart. Sorg ook dat jy jou hart met goeie dinge voed en slegte dinge uithou (Spr. 4:23). Laat die inhoud van jou hart ook sigbaar word deur goeie dade.

 

[h] Broederliefde

Baie van ons weet van die stad Philadelphia in die V.S.A. Die stad se naam kom van twee Griekse woorde wat liefde [philos] en broer [adelphos] beteken. Dit is ook die woord van Petrus in v.7 gebruik wanneer hy sy lesers aanmoedig om broederliefde te hê (vgl. Joh. 13:34-35, Rom. 12:10, 1Tess. 4:9, Heb. 13:1, 1Pet. 1:22). Laat ons dit nie net met woorde doen nie, maar deur praktiese dade; beide nóú en as die grendelstaat verby is (Matt. 25:35-40, Heb. 10:24-25, 1Joh. 3:16-18). Broederliefde is immers ’n kenmerk van ’n ware gelowige (v.7, 1Joh. 2:9-11, 3:14-15, 4:20-21).

 

[i] Naasteliefde

Die Engelse spreekwoord sê: ‘Charity begins at home.’ Jy moet met ander woorde eers vir jou eie mense sorg, voordat jy vir ander sorg. Net so moet ons eers ons broers en susters in die Here liefhê, voordat ons ons naaste liefhet (v.7). Die Griekse woord vir naasteliefde [agapē] impliseer ’n liefde vir God wat uitdrukking vind in liefde vir jou naaste (Matt. 22:37, 39).

Hoe moet jy jou naaste liefhê? Bid vir hom, deel met hom, seën hom, wees gaaf met hom, vergewe hom, help hom, wees geduldig met hom, wees vriendelik en beleefd teenoor hom, glo die beste van hom, ensovoorts (Luk. 6:27-38, 10:25-37, 1Kor. 13:4-7, Gal. 6:10). Indien hy jou dan vra hoekom jy hom liefhet, kan jy hom van Jesus se groot liefde vir sondaars vertel.

 

3. Die rede vir geestelike groei (v.8-9)

[a] Sodat jy vrugtevol kan wees

Ek het ’n nuttelose en vrugtelose perskeboom in my erf. Ek wil nie so wees nie en daarom wil ek toeneem in die kwaliteite van v.5-7, sodat ek goeie vrugte kan dra wat die Vader verheerlik (v.8, Joh. 15:8, Fil. 1:11). Indien ons dit nie doen nie, sal ons kennis van God kopkennis bly soos die duiwel s’n (v.8, Jak. 2:19, vgl. Joh. 15:2, Tit. 3:14). En wat help dit as mense sê: ‘Sjoe, maar jy ken die Bybel!’ as jou lewe soos die wêreld s’n lyk?

 

[b] Sodat dit nie op einde blyk dat jy ’n ongelowige is nie

Gestel jy besoek die dieretuin. By die leeuhok is daar ’n bordjie wat sê: bere. Jy weet dat dit nie bere is nie, al sê die bordjie anders. Bere het immers sekere eienskappe wat hierdie dier voor jou nie het nie.

Net so is jy nie ’n Christen net omdat jy so sê, of omdat jy bid, die Bybel lees, kerk toe gaan, ’n geestelike ervaring gehad het, die regte woorde sê, of omdat jou leraar of ouers so sê nie. Indien v.5-7 nie jou lewe beskryf nie is jy ’n belydende Christen (jy sê maar net dat jy een is), maar nie ’n ware een nie. Jy is geestelik blind en sien nie die waarheid nie (v.9, 2Kor. 4:4). Jy is kortsigtig, omdat jy na die tydelike kyk en nie na die ewige nie (v.9). Jy het ook vergeet wat jou doop beteken, naamlik dat Jesus gekom het om jou van jou sonde te reinig (v.9, 4, Hand. 2:38, 22:16). Hoekom ís jy ooit gedoop as jy nie anders as die wêreld lewe nie? Was dit maar net om goed te voel oor jouself, of as ’n ritueel in die hoop dat dit jou sal red; of was dit om mense te beïndruk?

 

4. Die doel van geestelike groei (v.10-11)

[a] Dit gee sekerheid van redding

Om ’n Springbok trui te dra, maak jou nie ’n Springbok. En tog dra elke Springbok rugbyspeler ’n Springbok trui. Op dieselfde kan ons sê dat v.5-7 jou nie ’n Christen máák nie. En tog sal elke Christen v.5-7 uitvoer. Indien jy dit nié doen nie, sal jy oor jou redding twyfel. As jy dit egter uitvoer, kan jy verseker wees dat jy ’n Christen is. Groei dus in v.5-7, want as jy dit doen, sal jy wéét dat die Here jou geroep en gekies het, omdat jou lewe daarvan getuig.

Nog ’n les wat ons hier leer, is dat uitverkiesing jou nie passief maak nie. As jy uitverkiesing reg verstaan, sal jy nie sê: ‘Ek is uitverkies en daarom kan ek terugsit’ nie. Jy sal eerder aktief wees en v.5-7 gehoorsaam, omdat jy wil seker maak dat die Here jou gekies het (v.10).

 

[b] Dit help dat jy nie val nie

As jy op ’n fiets sit en nie vorentoe beweeg nie, sal jy val. En as jy nie geestelik vooruit gaan en groei nie, sal jy val (v.10). Gaan daarom vorentoe, sodat jy nie vir vals lering en sonde val nie (3:17-18).

 

[c] Dit lei tot beloning

Maar is dit nie Prosperity predikers wat beloning soek nie? Hulle soek hulle rykdom op aarde. Jesus het egter gesê dat ons ons beloning in die hemel moet soek (Matt. 6:19-21). Petrus sê dieselfde. Indien jy in Christus glo en v.5-7 jou lewe opsom, sal God jou ’n ryke ingang en beloning in sy Koninkryk gee (v.11). Dit beteken nie dat jy die Koninkryk kan verdien nie. Petrus se punt is eerder dat jy die tipe geloof en lewe het wat nodig is om die Koninkryk in te gaan en beloon te word (1Kor. 3:12-15).

Dink daaraan: God gee jou sy Koninkryk (v.11, Luk. 12:32)! Wil jy dit hê? Of is jy soos ’n hond en ’n vark wat tevrede met die uitbraaksel en die modder van die wêreld (2:22), omdat jy nie van beter weet nie? Jy is soos ’n man wat Money or the Box speel en ’n Rolls Royce verloor, omdat hy die R50 000 wou hê. Wat ek eintlik vir jou probeer sê, is dat jy jouself gaan skop as jy tydelike geluk en plesier bo Jesus kies.


1  Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne (London, The Banner of Truth Trust, 1961, 1972), 32-33