Christene, Covid-19 en die Ekonomie

Ses Redes Hoekom Christene Nie Covid-19 Se Impak Op Die Ekonomie Moet Vrees Nie

Covid 19 and money

Lukas 12:22-34

Covid-19 het reeds ’n impak op ons gemeente gemaak. Een persoon se salaris is met 20% gesny. ’n Ander een kry minder geld tydens die grendelstaat [Eng. lockdown]. Nóg ’n persoon kry glad nie betaling vir die vyf weke nie. Iemand anders het nie eers betaling gekry vóór die grendelstaat begin het nie. Wat hou die toekoms vir ons? ‘Wat gaan van my besigheid word?’ wonder party mense.

‘Moenie angstig wees nie,’ sê Jesus in Luk. 12:22-34, en dan gee Hy ses redes.

 

1. Die lewe is meer as kos en klere (v.22-23)

Harry en Rita is multi-biljoeners. Omdat hulle nie kan kinders hê nie, neem hulle ’n 7-jarige seuntjie aan. Hulle gee vir hom ’n huis, ’n kamer, speelgoed, sakgeld, ’n plaas om te geniet, en betaal ook dat hy in die beste privaatskool kan wees. Ten spyte van hierdie voorregte wonder hy of hulle vir hom kos en klere sal gee.

Party van ons is so: God gee vir ons lewe, maar ons wonder of Hy vir ons kos en klere sal gee (v.22-23). Party van ons hét kos en klere, maar ons raak angstig omdat ons nie weet hoe ons ’n tweede voertuig gaan bekostig nie, of omdat ons Ricoffy gaan moet drink. Ons dink dat ons swaarkry as ons nie elke dag vleis het om te eet nie. Die oplossing in hierdie geval is nie dat ons meer geld moet kry nie, maar dat ons tevrede moet wees met kos en klere (v.22-23, Fil. 4:11-13, 1Tim. 6:8).

Ons moet soos die vrou wees op ’n video wat ek onlangs gesien het. Sy bly in ’n twee-vertrek huis in Dunoon in Kaapstad. Een van die vertrekke is ’n kombuis, terwyl die ander een (omtrent 3 x 4 meter) ’n slaapkamer vir vyf mense, ’n studeerkamer, en ’n badkamer is. Daar is ’n aparte toilet, maar daar is ’n plastiek skottel in die kamer waarin hulle bad. Die vrou is heel tevrede hiermee en vertel hoe goed die Here vir haar is. Sy spoor gelowiges aan om nie bekommerd te wees nie, omdat God ons Vader is en omdat Hy vir sy kinders sal sorg. Leer uit hierdie vrou se voorbeeld: wees vergenoeg en moenie angstig wees nie.

 

2. Jy is meer werd as die voëls (v.24)

Ek was eendag baie besorg oor iets. Ek het gewonder hoe ons deur die situasie gaan kom. Dit was ’n yskoue dag. Toe ek kerk toe loop, toe sien ek ’n dooie mossie op die gras. Ek het Jesus se woorde onthou: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” (Matt. 10:29-31).

Kyk na die voëls. Sien jy ooit ’n kraai saai, of maai (v.24)? Bêre hulle hulle kos in skure (v.24, 16-18)? Nee. En tog voed God hulle (v.24, Job 39:3, Ps. 147:9). Natuurlik beteken dit nie dat jy nie hard moet werk, of dat jy nie iets moet weglê nie (Spr. 6:6-8, 20:4, 21:20, 30:25). Die voëls self soek tog kos van die oggend tot die aand. Jesus se punt is eerder dat jy nie angstig moet wees nie. Doen eenvoudig jou werk en vertrou dat God jou daaglikse brood sal voorsien (Matt. 6:11).

Covid-19 se impak op die ekonomie maak nie ’n verskil nie. Jy is immers nie afhanklik van jou salaris, of die ekonomie vir oorlewing nie, maar van jou Vader wat vir die voëls en vir sy kinders sorg. Sal God die gulsige kraaie voed en nie ook sy kinders nie? Natuurlik nie. Jy is meer werd as die voëls en daarom is dit heeltemal onnodig om angstig te wees (v.24, 7).

 

3. Dit kan jou nie langer laat lewe nie (v.25-26)

Wanneer iemand 80 of 90 jaar oud word, sê ons dat hulle ’n mylpaal bereik het. Ons gebruik m.a.w. afstand om tyd mee aan te dui. Dit is presies wat Jesus doen as Hy in v.25 sê dat die angstige gelowige nie een el (45 cm) by sy lengte, of lewenspad kan voeg nie (vgl. Ps. 39:5-7). Eintlik sal jy waarskynlik korter lewe as jy angstig is, omdat jy ’n hartaanval gaan kry.

Dus: “As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?” (v.26). Met ander woorde: ‘As jy jou lewe nie eers ’n bietjie kan verleng nie, hoe wil jy groter dinge doen soos om die ekonomie, die toekoms, Covid-19 en die wêreld te beheer?’

 

4. God is betrokke in jou lewe (v.27-28)

Deïsme is ’n vals godsdiens wat in ’n onpersoonlike god glo. Hulle glo dat hy die wêreld gemaak het, teruggetree het, en glad nie betrokke is in die wêreld nie. Volgens hulle is hy soos die argitek wat ek op ’n program gesien het. ‘As ek ’n huis klaar gebou het, keer ek nooit weer terug om dit te sien nie,’ het hy gesê.

Ons is verseker nie deïste nie, maar soms leef ons so wanneer ons angstig is, of as ons self ons probleme wil oplos eerder as om dit vir die Here te vat. En om biddeloos te wees is niks anders as praktiese deïsme, of selfs ateïsme nie.

Die oplossing is om na die lelies en ander veldblomme te kyk. Kyk na hulle spikkels en strepe; na die helder en sagte kleure wat inmekaar vloei. God het hulle mooier gemaak as ryk koning Salomo in al sy heerlikheid (v.27). Dit herinner my aan ’n fyn veldblommetjie wat ek eenkeer in Hermanus gesien het. Dit was so groot soos my pinkienael. Die blommetjie was wit, maar as jy dit omdraai was daar ’n dun pers streep aan die onderkant van elke blaartjie. Daar waar niemand sien nie, het die Here die blommetjie pers geverf.

So onderhou God alles en is Hy betrokke in die fynste besonderhede van die skepping (Job 38-39, Ps. 104, Matt. 10:29-30, Kol. 1:16, Heb. 1:3). Hoekom sal jy dan angstig raak? Sal die Here soveel moeite doen vir ’n blom, of vir die gras wat net ’n dag hou en môre in die vuuroond gegooi word om dit aan die gang kry, terwyl Hy van jou behoeftes vergeet (v.28)? Kleingelowige (v.28)! Sien die Here se betrokkenheid in jou lewe. As jy soos ek is, het jy waarskynlik ’n bietjie te veel vet om jou middel, effens van ’n dubbelken, ’n kar, ’n bed, ’n huis, ’n kombers, kos om te eet en baie meer!

Maar selfs al het jy nét kos en klere, kan ek jou waarborg dat jy nog nie van die honger gesterf het nie (indien jy het, lees nie nou hierdie preek nie). Hoekom dan angstig raak, asof Covid-19 God se beloftes ongedaan gaan maak (so asof Hy ons na die grendelstaat sal vergeet)?

Iemand wat kleingelowig is, sê indirek: ‘God is nie goed nie; Hy wíl nie vir ons sorg nie… God is nie almagtig nie; Hy kán nie vir ons sorg… God is nie getrou nie; Hy sál nie vir ons sorg nie.’

Weet asseblief dat die Here vir sy kinders sorg, selfs in hongersnood, of as die ekonomie van die swaai af val en sy nek breek (Ps. 33:19, 37:19).

 

5. Dit maak jou soos die wêreld (v.29-30)

Die wêreld is angstig oor kos en klere (v.30). Dit is waarvoor hulle lewe, waarna hulle jaag, waarvoor hulle elke dag van 8-5 in die ‘rat race’ sit, en waarvoor hulle paniek-aankope doen. Dit is waarvoor hulle bangmaak stories soos die ‘nag van die lang mes’ vertel, sodat hulle blikkieskos opgaar. Dit is hoekom hulle ’n paar jaar gelede tou gestaan het om diesel te koop, omdat dit kwansuis sou opraak.

Die rede hoekom hulle angstig na hierdie dinge soek, is omdat hierdie lewe al is wat hulle het. Moenie soos hulle wees nie (v.29). Dit is ’n slegte getuienis as ’n Christen paniek-aankope doen; hope skuld maak om te oorleef (Rom. 13:8); sy lewe inrig volgens die finansiële blad van die koerant, die wisselkoers, inflasie, of die politiek; naïef is, sodat die fopnuus op WhatsApp hom angstig maak en hy dit vir al sy kontakte aanstuur; wakker lê oor Covid se impak op sy lewe, sy besigheid en die ekonomie; soveel as moontlik opgaar vir sy aftrede, asof God se kinders na 65 op hulle eie is en Hy nie meer vir hulle gaan sorg nie (Matt. 6:34). ’n Christen wat só lewe, sê indirek vir die wêreld: ‘Ons is in dieselfde boot; soos júlle het ék ook nie ’n Vader wat vir my omgee en sorg nie.’

Wat daarvan as die ekonomie duik? Is God nie meer God nie; is Hy nie meer ons Vader nie? Hou op om soos die wêreld oor die ekonomie te stres. Jou Vader weet wat jy nodig het nog voordat jy Hom vra (v.30, Matt. 6:8). Doen daarom jou werk, bid, vertrou die Here en wag op Hom: Hy sal vir jou sorg.

Ek onthou hoe ’n man een aand bekommerd by my huis aangekom het. Hy wou sy finansiële situasie met my bespreek. Sy vrou en kinders is konstant siek. A.g.v. van ’n klomp mediese uitgawes, kon hy nie meer die verband op sy huis betaal nie. Hy was reeds agt maande agter. A.g.v. sy vrou en kinders se siekte, het die bank ’n toegewing gemaak. Maar dit kon nie langer so aanhou nie; hy moes betaal.

Hy was baie bekommerd, want waar sou hy sommerso R150 000 kry? Ek het hom met God se beloftes bemoedig en saam met hom ’n gebid. ’n Paar dae later toe laat sy vrou my weet dat die Here vir hulle voorsien het! Die man se pa het vir hom ’n polis laat uitneem toe hy ’n kind was. Die polis het uitbetaal. Dit was presies die bedrag wat nodig was om hulle skuld by die bank te betaal! En hoekom raak ons nou weer angstig?

 

6. God se Koninkryk is joune (v.31-34)

Gestel ’n boemelaar vra jou vir R20. Jy reageer: ‘Ek gaan nie vir jou R20 gaan nie, maar jy kan my Bentley kry.’ Hy weet nie eintlik wat ’n Bentley is nie (dit is ’n kar wat meer as R5 mijoen kos, indien jy nie geweet het nie) en stry met jou: ‘Ek het nie gevra vir ’n Bentley nie; ek het jou vir R20 gevra!’

Ons is so. God gee ons sy Koninkryk, maar ons raak angstig oor kos en klere (v.32). Moenie so wees nie. Soek God se Koninkryk en jaag daarna (v.31) soos wat ongelowiges na kos en klere jaag (v.30).

Hoe soek ’n mens die Koninkryk? Maak seker dat jy weergebore is en dat die Here jou gered het. Dit is immers hoe ’n mens deel word van sy Koninkryk (Luk. 16:16, 23:42, Joh. 3:3, 5, Kol. 1:13-14, 1Tess. 2:12). As jy reeds deel van sy Koninkryk is, moet jy bid en die Woord van die Koninkryk deel, sodat jou kinders, familie, kollegas, bure en die onbereiktes deel kan word van God se Koninkryk (Matt. 6:10, Hand. 8:12, 19:8, 28:23, 31).

Soek ook God se geregtigheid (Matt. 6:33). Hoe doen ’n mens dit? God gee ons sy Seun se perfekte geregtigheid deur die geloof (1Kor. 1:30, Fil. 3:9). Indien Hy jou reeds regverdig verklaar het, moet jy ’n regverdige lewe najaag (Rom. 6:13, 1Tim. 6:11). As jy God se Koninkryk en sy geregtigheid ’n prioriteit maak, sal Hy gee wat jy nodig het (v.31).

Dit beteken nie dat ons (soos die Prosperity Gospel) die Koninkryk moet soek om aardse rykdom te kry nie. Soek eerder die Koninkryk, omdat jy Jesus soek. Glo egter dat die belofte van v.31 staan, naamlik dat God jou behoeftes sal voorsien as jy Hóm soek. Onthou ook. v.32, naamlik dat God die Herder is wat sy kudde oppas (Ps. 23, Joh. 10), die Vader wat sy kinders versorg (Matt. 7:11, 1Joh. 3:1) en die Koning wat ons sy Koninkryk gee (Matt. 25:34, Luk. 22:29, Heb. 12:28, 2Pet. 1:11). En sal Hy ons hierdie dinge gee en nie ook die kos en klere wat ons nodig het nie (vgl. Rom. 8:32)? God geniet dit om aan ons goed te doen en daarom sal Hy vir ons sorg (v.32).

Wat is jou plig? Moenie fokus op wat jy in hierdie lewe vir jouself kan kry nie (v.13-21), maar eerder op wat jy kan gee (v.33). Deel met ander, omdat God daardeur sy kinders van kos en klere voorsien (v.33, Mark. 10:29-30, Hand. 2:45, 4:34-37, Rom. 12:13, Gal. 6:10, Ef. 4:28, Heb. 13:16). Laat ons dit veral doen as die grendelstaat verby is. Onthou asseblief hoe vrygewig God met ons was toe Hy sy Seun vir ons gegee het (Joh. 3:16, 2Kor. 8:9, 9:15). Wees daarom soos Hy (1Joh. 3:16-18).

Iemand maak beswaar: ‘Ek kan nie bekostig om te gee nie.’ Miskien moet weer 2Kor. 8:1-5 lees, sodat jy kan sien hoe die arm Christene van Macedonië gegee het. Die Koninkryk-beginsel is: hoe meer jy gee, hoe meer het jy (v.31, Spr. 19:17, Luk. 6:38, 2Kor. 9:6, 8, 11). Soms sukkel Christene finansieel omdat hulle nie gee (Hag. 1:4-11). As jy die Koninkryk eerste stel en vir die Here se werk gee, sal Hy vir jou voorsien (v.31, Spr. 3:9-10, Fil. 4:19).

Miskien word jy kwaad dat ek dit sê, omdat jy moeg is vir predikante wat alewig oor geld praat. Vir julle wat my ken: hoe gereeld praat ek oor geld? Vir julle wat my nie ken nie: kyk gerus hoeveel van die 700 preke op hierdie blog oor geld gaan. Jy kan my verseker nie daarvan beskuldig dat ek gedurig oor geld praat nie. Ek soek nie jou geld nie. Ek wil jou eerder aanmoedig om te gee, sodat jý skatte in die hemel kan hê (v.33, 16:9, Matt. 6:19-20, Fil. 4:17, 1Tim. 6:18-19, 2Pet. 1:4).

As jy jou skatte op die aarde bymekaar maak, sal dit roes, gesteel word, of deur vismotte geëet word (v.33). Moet dan nie vir hierdie dinge lewe nie. Jou aardse skatte gaan buitendien op die ashoop beland. Is dit nie hartseer dat kinders oor hierdie einste stukkende ‘skatte’ baklei het, dat families opgebreek is, en dat mense selfs geskei het nie?1

Soek dan eerder die hemel met sy skatte. Hoe kry ’n mens dit? Ek hoef myself nie te herhaal nie. Die antwoord is in v.31-32: “Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.” Gee vir die sendelinge wat die Koninkryk versprei en vir die armes (v.33, Fil. 4:18). Verkoop die goed in jou kas, garage en buitekamer wat jy nie nodig het nie (v.33). Hoekom wil jy dit hou vir ingeval jy dit eendag nodig het as jy dit al vir vyf jaar nie gebruik het nie? As jy daaraan vashou, sal jy dit verloor (Job 1:21, Ps. 49:18, 1Tim. 6:7). Maar as jy dit weggee, sal jy dit behou (v.33, Spr. 11:24).

Solank as wat jy jou skatte op die aarde bymekaar maak, kán jy nie op die hemel fokus nie, want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (v.34, Matt. 6:21). Kyk na jou begroting as jy wil weet waar jou hart is, waar jou prioriteite lê en wat jou afgode is (v.34). As al jou rykdom op die aarde is, word dit ’n gewig wat jou terughou (Luk. 18:22-25). Jy is soos die ryk plantasie-eienaar wat sy rykdom vir John Wesley gewys het en gevra het: ‘Wat dink jy van my groot plantasie?’ ‘Dit is baie mooi,’ het Wesley hom geantwoord, ‘maar jy gaan sukkel om dit agter te laat.’2

Ek bedoel nie dat dit sonde is om ryk te wees nie. Abraham, Isak, Job, die vroue in Luk. 8:2-3 en Lidia was almal ryk gelowiges. My punt is eerder dat jy op die hemel moet fokus en vrygewig moet wees. As jy jou skatte in die hemel belê, sal jou hart volg (v.34).

Dit is hoe ek wyle Martin Holdt onthou. Hy was altyd vrygewig. Hy het boeke weggegee, mense uitgeneem vir etes en meer. Omdat hy regtig God se Koninkryk en sy geregtigheid gesoek het, het die Here in sy behoeftes voorsien. Hy het vir baie jare voertuie gratis gekry. Ook ná sy aftrede (toe hy nie meer ’n salaris gekry het nie), het die Here gesorg dat sy mediese fonds betaal word. Toe hy dood is, was daar maar net R50 in sy bankrekening. Sy skat was in die hemel en daarom het sy Vader op die aarde vir hom gesorg. En sal Hy nie dieselfde vir jou doen as jy op die hemel fokus en Hom vertrou nie?


1  Randy Alcorn, The Treasure Principle (Colorado Springs, CO: Multnomah Books, 2001), 49

2  Ibid., 42-43