Die Praktiese Implikasies van Paasfees

Easter - It's Meaning, History & Holiday Symbols Explained

2Korintiërs 5:11-21

Ons moet nooit die Bybel lees om net meer kennis in ons koppe die kry nie. Ons doel moet altyd wees om meer kennis te kry, sodat ons reg kan lewe. Dit is immers die rede hoekom God ons sy Woord gegee het, naamlik om reg te lewe (Deut. 29:29b). Daarom is die praktiese implikasies van Paasfees in 2Kor. 5 nie maar net ’n goeie idee nie—dit is basiese Christenskap.

 

1. Jou motiewe (v.11-15)

Goeie dade is walglik as jy uitvind dat die persoon wat dit doen ander mense misbruik, of as hy bymotiewe het om populêr te wees, of geld te kry. Die evangelie van Jesus Christus reinig mense se motiewe. Kyk byvoorbeeld na Paulus. Omdat hy die vrees van die Here geken het en geweet het wat op ongelowiges wag, het hy uit sy hart uit gepreek om mense te oortuig (v.10-11, Joh. 5:28-29, Rom. 2:6-11, Jud. 23). Hy sou met my goeie vriend Seth Meyers saamstem: ‘We need evangelists who have seen the other world!’

Ja, die Heilige Gees oortuig mense. En tog doen Hy dit deur ons (Hand. 18:4, 28:23). Wanneer ons dan die evangelie verkondig, moet ons by mense aandring en hulle wakker skud. Ons moet soos iemand wees wat by ’n slapende persoon se huis instorm en sê: ‘Jou huis brand! Jou huis brand!’ (v.20, Hand. 13:43). Daar moet ’n dringendheid in ons prediking en evangelisasie wees. ‘Bekeer jou vandag!’ moet ons vir mense sê (6:2). Ons prediking moenie dood, koud en vervelig wees, sodat mense aan die slaap raak nie. ‘If you want to bore people, bore them with Shakespeare; don’t bore them with the Bible!’ het Steve Lawson by ’n konferensie gesê.

Ons moet oor die verlore toestand van mense treur (2:4, Ps. 126:5-6, Luk. 19:41, Hand. 20:19, 31, Fil. 3:18). William Booth (1829-1912) was die stigter van die Salvation Army. Hy het twee vroue, Kate en Mary Jackson, na ’n woonbuurt buite Londen toe gestuur. Na ’n lang geswoeg het hulle aan mnr. Booth geskryf: ‘Stuur ons asseblief na ’n ander gebied toe. Ons het alles probeer, maar die mense wil nie luister nie.’ Sy reaksie was: ‘Try tears.’ Hulle het indringend vir die mense begin bid. Daar het ’n herlewing gekom.1

Gee alles deur die Heilige Gees se krag wat in jou werk (Kol. 1:28-29). Sê saam met George Whitefield (1714-1778): ‘I had rather wear out than rust out.’2 Preek met oortuiging en glo wat jy sê (v.11, 4:13).

Dit herinner my aan nóg ’n storie van George Whitefield. Hy vertel dat die Aartsbiskop van Canterbury in 1675 met ’n sekere akteur, mnr. Butterton gepraat het. Hoekom is julle akteurs so oortuigend, terwyl die mense nie ons prediking ernstig opneem nie. ‘Ons akteurs praat van denkbeeldige dinge asof dit ’n werklikheid is, terwyl julle predikers van werklike dinge praat asof dit denkbeeldig is,’ het die akteur hom geantwoord.3

***

Paulus het nie net net ongelowiges oortuig nie, maar hy wou ook die Korintiërs van sy suiwer motiewe oortuig, veral omdat die vals leraars leuens oor hom versprei het (v.11). Hy het hulle verseker dat die Here sy hart en motiewe ken (v.11, 10:10, 1Kor. 4:3-5). Die Here het geweet dat hy nie preek om mense se guns te wen, of omdat hy wil ryk word nie, maar eerder sodat mense gered sou word (Gal. 1:10, 1Tess. 2:4-6). Die Korintiërs het dit ook geweet (v.11, 4:2). Hulle het immers sy lewe en prediking eerstehands ervaar toe hy nog by hulle was.

Paulus se eie gewete was ook skoon in hierdie saak (Hand. 23:1, 24:16, 2Kor. 1:12). Sy lewe het hiervan getuig (v.12). Gevolglik het hy nie ’n aanbevelingsbrief nodig gehad soos die vals leraars nie (v.12, 3:1, 10:18). Op die oordeelsdag sou die Korintiërs hieroor roem: ‘Paulus het ons na Jesus toe gelei. Alhoewel hy nie uiterlik indrukwekkend en ryk was nie, het hy ons met suiwer motiewe liefgehad.’ (v.11-12, 1:14).

Die vals leraars het gesê dat Paulus mal is. ‘Wel, dan is dit tot eer van die Here dat ek mal is,’ het hy geantwoord (v.13, vgl. Mark. 3:21, Joh 8:48, Hand. 26:24). ‘Ek sal enige tyd vir Jesus ly. Eintlik is ek by my volle verstand wanneer ek swaarkry om júlle en ander mense vir die Here te wen.’ (v.13, 11:23-28, Hand. 20:21, 24, 26:25, 2Tim. 2:10).

Jesus se liefde het Paulus gedryf (v.14, Rom. 5:5). Hoe kon hy nié ander liefhê as Jesus hom eerste liefgehad het nie (1Joh. 4:19)?

Dít is hoe ons mense vir die Here moet wen: ‘We must love men to Jesus.’ (Charles Spurgeon, 1834-1892).4 Jesus se liefde aan die kruis is ons boodskap (Joh. 3:16, 15:13, Rom. 5:8, 1Joh. 3:16, 4:8-10). Ons moenie net hierdie liefde in ons koppe ken nie, maar ons moet dit in ons harte voel en só die evangelie met mense deel.

Om God se liefde te verstaan, moet ons eers verstaan dat Hy ’n heilige God is wat sonde haat. Ons moet verstaan dat ons sonde ’n ernstige oortreding van sy heilige wet is. Ons moet verstaan dat ons sonde die ewige hel verdien. Ons moet verstaan dat Jesus in ons plek aan die kruis gesterf het om ons straf te dra.

Eers as jy dít verstaan, het jy God se liefde verstaan. En as jy die liefde van God verstaan, sal jy Hom liefhê en uit ’n hart vol liefde spreek (v.14, Matt. 22:37-39, Luk. 7:47, 1Kor. 16:14). Doen daarom moeite om Jesus se kruisdood te probeer verstaan, aangesien alles hiér bymekaar kom (v.15).

Wat beteken die kruis? Jesus het vir almal gesterf (v.15). Hy het in ons plek gesterf (v.15, Jes. 53:4-6). Ons het saam met Hom gesterf (v.15, Rom. 6:6, Gal. 2:20a). Ons het die realiteit hiervan by ons bekering beleef en dit in die doop bely (Luk. 9:23, Rom. 6:3, Gal. 5:24). Nou lewe ons nie meer vir onsself nie, maar vir Hom (v.15, Rom. 6:4, Gal. 2:20b). Dit is asof ons sê:

Adieu self! Ek wil nie meer lewe vir mý aptyte, mý passies, mý plesiere, mý belange, mý begeertes, mý sintuie, mý voorkeure, mý geld, mý tyd, mý vriende, mý vermaak, mý ontspanning, mý stokperdjies, mý verhoudings, mý gedagtes nie (Gal. 5:19-21, Ef. 2:3). Ek wil nou vir die Here lewe en Hom in alles behaag! (v.15, 9, Luk. 9:23, 14:26, Rom. 6:12-13).’

Jesus het vir jou gesterf en opgestaan (v.15, Rom. 4:25). Wat is die enigste gepaste reaksie? Lewe vir Hom (v.15, Rom. 14:7-8).

 

2. Jou natuur (v.16-17)

’n Leeu se natuur is om dood te maak. ’n Sondaar se natuur is om sonde te doen. Jesus het ons natuur kom verander, sodat ons Hom nie meer volgens sy onaantreklike voorkoms beoordeel en sê dat Hy nie die Messias is nie (v.16, Jes. 53:2-3, Matt. 13:54-56, Joh. 6:42, 7:15, 24, 27, 10:33). Nee, maar nou kyk ons verby die uiterlike. Ons sien Hom met nuwe oë as die Seun van God en die Messias; ons Verlosser en Here (v.16).

Dit is omdat mense nie ’n nuwe natuur het nie, dat hulle dit miskyk en sê: ‘Jesus is ’n bedrieër… Hy is maar net ’n wyse leermeester en ’n gewone profeet… Hy is die eerste skepsel.’ Ons sien dieper as dit, omdat die Here ons oë geopen het en aan ons ’n nuwe natuur gegee het (v.16). Ons sien ook ander mense deur die nuwe hart wat God ons gegee het. Ons let nie op hoe indrukwekkend, of aantreklik hulle van buite lyk nie (v.16, 11, 10:10, 11:6, kontra Fil. 3:4-6). Daarom val ons nie vir ’n prediker se elegante styl, sy mooi kar, sy duur klere, sy groot huis, sy groot gevolg, hoeveel boeke hy geskryf het, of hoe gereeld hy oor die TV preek nie. Ons vra eerder: ‘Hoe lyk sy verhouding met die Here? Is Jesus sentraal, of is hy vir homself die belangrikste?’

A.g.v. ons nuwe natuur los ons ook ons ou lewe agter en lewe ons op ’n nuwe manier (v.17). Sonde is nie meer normaal nie; gehoorsaamheid is. Ons sê nie soos die wêreld: ‘Om nou en dan verkeerd te doen is normaal. Ek is maar net ’n mens. Niemand is perfek nie.’ Om sonde te doen is abnormaal, aangesien die nuwe natuur Jesus liefhet en Hom gehoorsaam (v.17).

Hoe word mens ’n nuwe skepsel? Die Heilige Gees blaas Jesus se lewe (die ewige lewe) in ons harte en maak ons een met Hom (Joh. 3:3, 5, 14:23, 15:4-5, 7, 17:3, Gal. 2:20, Tit. 3:5-6, 1Pet. 1:23, 2Pet. 1:4, 1Joh. 3:9). Hy maak ons ’n hele nuwe mens met ’n nuwe natuur, nuwe begeertes, en ’n nuwe hoop (v.17, Ef. 4:24).

En tog is dit maar net die begin van die nuwe skepping (v.17) wat voltooi sal word na die finale oordeel wanneer ons nuwe liggame ontvang en Jesus ’n nuwe aarde met nuwe bome, berge, riviere, en meer sal maak (2Pet. 3:10, 12-13, Op. 21:1, 4-5). Weergeboorte is maar net die waarborg van hierdie nuwe skepping (v.17). Ek weet nie hoe jy hieroor voel nie, maar ek sien baie uit.

 

3. Jou stand voor God (v.18-21)

Hoe jy voor mense lyk, tel nie op die oordeelsdag nie. Hoeveel geld jy het, help ook nie. Ek het onlangs ’n foto gesien van hoe die mense in Italië geld in die strate gooi, aangesien dit hulle nie kan help om gesond te word nie. Die Bybel sê:

“Goed [besittings] bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.” (Spr. 11:4).

“Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ’n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid.” (Eseg. 7:19).

Hoe Gód jou sien is al wat saakmaak. Hoe sien Hy jou; ek bedoel jou persoonlik? Sien Hy jou as ’n nuwe skepsel (v.17)? Indien wel, is dit omdat Hý jou een gemaak het (v.18). Jou en my redding is alles uit God en nie uit God plus jou eie pogings nie (v.18, Ef. 2:8-9). Hy red ons deurdat Hy ons met Homself versoen het deur Jesus Christus (v.18, Kol. 1:20). Hý het die inisiatief geneem, al was dit óns wat verkeerd was.

Om mense te red, stuur Hy predikers met die boodskap van versoening na die wêreld toe (v.18). Dit moet dus die fokus van ons bediening wees: Jesus se kruisdood en nie sosiale aksies, programme om die kerk te laat groei, aktiwiteite om jongmense mee te vermaak, fondsinsamelings, beplanningsvergaderings, musiekkonserte, en soortgelyke dinge nie. Enige bediening sonder die kruisboodskap van versoening is onbybels (v.18).

Wat is ons boodskap? God het die wêreld (al die nasies) met Homself versoen deur Jesus Christus (v.19). Jesus het die straf vir ons sonde aan die kruis gedra, sodat God nie die misdade aan ons sou toereken nie (v.19, Rom. 4:8, Kol. 2:14). Hy bied sy vergifnis aan elkeen wat in Jesus glo (Joh. 3:16). Hierdie Goeie Nuus kom na ons toe deur die prediking (v.19, Rom. 10:13-15, 17, 1Kor. 1:18, 23, 2:2). Die boodskap is nie ons eie nie, maar dit word aan ons toevertrou (v.19). Dit is m.a.w. Gód se boodskap, terwyl ons maar net die bestuurders is. Daarom kan ons nie ons eie idees preek nie, maar moet ons preek wat God aan ons toevertrou het, naamlik sy Woord (Hand. 20:27, 1Tim. 4:13, 2Tim. 4:2).

Omdat prediking God se metode is, mag ons dit nie uitgooi en vervang met drama, musiek, ekstatiese ervarings, onderhoude, debatte, of kort oordenkings nie. ‘Prediking is alles!’ het John MacArthur eenkeer vir ’n groep studente gesê. Ons is die gesante wat Christus verteenwoordig; God vermaan mense deur ons (v.20, 1Pet. 4:11). Daarom is dit belangrik dat predikante hulle boodskappe noukeurig moet voorberei en nét die Bybel moet preek. As hulle dit nié doen nie, sal hulle dinge aan God toeskryf wat Hy nie gesê het nie.

Buiten dat wát jy sê belangrik is, tel dit ook hóé jy dit sê: “Ons bid julle om Christus wil…’ (v.20). Die ernstige prediker wys dat sy boodskap nie ’n voorstel, of ’n opsie is nie—dit is dringend. Die prediker wat die boodskap ernstig oordra, is soos George Whitefield en Richard Baxter (1615-1691):

‘You blame me for weeping; but how can I help it, when you will not weep for yourselves, although your own immortal souls are on the verge of destruction, and, for aught I know, you are hearing your last sermon, and may never more have an opportunity to have Christ offered to you?’5

***

‘I preached, as never sure to preach again,

And as a dying man to dying men!’6

Soos Whitefield, Baxter, Paulus en Jesus, smeek ek jou: ‘Lê jou wapens van sonde en rebellie neer! Laat jou met God versoen deur Jesus se kruisdood.’ (v.20). Vir jou wat afgedwaal het, sê ek: ‘Moenie langer wegdryf nie. Jy weet nie waar dit sal eindig nie. Jy weet nie of jy die persone van Matt. 7:21-23 is nie. Keer terug na die Here toe. Maak gou! Laat jou met God versoen deur Jesus se kruisdood.’

Vir die gelowige sê ek: ‘Pasop dat jy nie afdwaal nie. Moenie die duiwel, jou eie sonde en die wêreld onderskat nie. Moenie gemaklik raak met die wêreld nie. Moenie speletjies speel nie. Moenie dink dat jy ’n bietjie aan die sonde sal toegee nie. Moenie in die Woord, gebed en jou toewyding in die gemeente verflou nie. Moenie jou eerste liefde vir Jesus verloor en ander dinge bo Hom stel nie. Waak, stry en volhard. Ek pleit by jou om Christus ontwil: laat jou daagliks met God versoen! Onthou dat Jesus sonder sonde was in sy natuur en in sy lewe (v.21, Joh. 8:46, Heb. 4:15, 7:26, 1Pet. 2:22, 1Joh. 3:5). Onthou dat Hy ons sonde aan die kruis gedra het, sodat die Vader Hóm as sonde beskou het (v.21, Gal. 3:13). Onthou dat die Vader ons in Christus—deur geloof in Hom—so regverdig soos Jesus self beskou (v.21, Rom. 5:1, 1Kor. 1:30, Fil. 3:9)!’

Wat is die gevolge van hierdie regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus?

  • Al jou sonde is vergewe. Daar is niks meer om te betaal nie; nie deur selfkastyding, een of ander vagevuur, of deur boetedoening nie.
  • Niemand kan jou aankla nie; nie jou gewete oor die sonde van die verlede, die duiwel, of die wêreld nie: “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Rom. 8:33-34).
  • God sal jou nie veroordeel nie (Rom. 8:1). Jou beproewings en die oordeelsdag self is nie ’n veroordeling nie. Indien dit so was, beteken dit dat God Jesus vir ons sonde straf, en ons dan weer vir dieselfde sonde straf. Dit sou ook beteken dat God sy eie besluite omkeer.
  • Jy het ’n perfekte rekord voor God op die oordeelsdag (Jes. 61:10).
  • Jy kan hoop hê wanneer jy eendag op jou sterfbed lê. As jy op jouself moes staatmaak, sou jy hopeloos, vol twyfel en vrees gewees het.
  • Bowenal lei die waarheid van regverdigmaking tot lofprysing:

 

 My hope is built on nothing less
Than Jesus’ blood and righteousness
I dare not trust the sweetest frame
But wholly lean on Jesus name

On Christ the solid rock I stand
All other ground is sinking sand
—Edward Mote (1797-1874)—

***

Upon a Life I have not lived,
Upon a Death I did not die,
Another’s Life; Another’s Death,
I stake my whole eternity.

—Horatius Bonar (1808-1889)—

 ***

Maar wat my betref,

mag ek nooit roem nie,

behalwe in die kruis

van onse Here Jesus Christus,

deur wie die wêreld vir my gekruisig is

en ek vir die wêreld.

—Die Apostel Paulus—


1  Mack Tomlinson, In Light of Eternity: The Life of Leonard Ravenhill (Conway, Arkansas: Free Grace Press, 2010), 15

2  Arnold Dallimore, George Whitefield: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1980), 505

3  Harry S. Stout, The Divine Dramatist: George Whitefield and the Rise of Modern Evangelicalism (Grand Rapids, MI: Eerdmans, 1991), 239-240. Aangehaal in John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 666

4  Charles Spurgeon, Lectures to my Students (London: Marshall, Morgan & Scott, 1954), 344

5  Dallimore, Ibid., 483

6   Richard Baxter, Poetical Fragments: First Edition (1681), 40, lines 7-8 verkry by http://preacherthoughts.blogspot.com/2013/07/a-dying-man-to-dying-men-richard-baxter.html