Goeie Vrydag en die Eindtyd

Moon And Cross Photograph by Tony Brierton

Sagaria 3

Vir die eerste keer in my lewe is daar nie ’n erediens op Goeie Vrydag nie. Saam met die kwessie van die Koronavirus en ’n paar ander dinge, sien party mense dit as ’n teken van die einde. Ek weet nie of hulle reg is nie en tog sien ek ’n verwantskap tussen daardie eerste Goeie Vrydag en die eindtyd. Sagaria 3 sê dit. Ons kan dit onder drie woorde opsom.

 

1. Regverdigmaking (v.1-5)

Gestel jy kry ’n R500 000 boete. As iemand jou boete betaal, is jy vry om te gaan. Jy bly egter nog steeds die oortreder. In God se hof werk dit anders. Omdat Jesus jou boete betaal het, verklaar Hy jou onskuldig en regverdig. Hy beskou jou nie meer as die oortreder nie. Ons sien dit o.a. in Sag. 3:1-5.

Josua was die hoëpriester van Juda, nadat hulle teruggekeer het uit Babilon (v.1). Sy tydgenote was Esra die skrifgeleerde en priester, Nehemia die goewerneur, Serubbabel die goewerneur (hy was ook die regmatige koning van Juda na die ballingskap, vgl. Matt. 1:12), en die profete Sagaria en Haggai (Esra 5:1-2, Neh. 12:26, Hag. 1:1, Sag. 4:9, 6:11).

As hoëpriester het Josua die volk verteenwoordig (vgl. v.2, 9). Hy het voor die Engel van die Here gestaan.1 Satan het aan sy regterhand gestaan om hom aan te kla (v.1, vgl. Ps. 109:6, Job 1-2). Hy het Josua en die volk voor die Here aangekla, omdat hulle lewens soos ’n vuil kleed was (v.3). Hy het in effek gesê: ‘Kyk net hoe sondig is hulle! Josua kan nie die hoëpriester wees nie! Israel kan nie u volk wees nie!’

Die Here het hulle egter uitverkies (1:17, 2:12, Deut. 7:7-8) en daarom het Hy gesê: “Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!” (v.2). Die Here sê dieselfde van ons wanneer die duiwel ons wil aankla. Eintlik kán die duiwel ons nie aankla nie, omdat Jesus alreeds die wet namens ons onderhou het en die straf vir ons sondes betaal het (Rom. 8:33-34, Op. 12:10). Moet dan nie mismoedig raak wanneer die duiwel en jou gewete jou probeer aankla nie. Vat eerder jou sonde na die Here toe en vra Hom om jou op grond van Jesus se kruisdood te vergewe (1Joh. 1:7, 9).

Onthou ook dat Hy jou soos ’n brandhout uit die vuur gered het (v.2, Gen. 19:16, 23-29, Jud. 23). Dit is hoe Hy Josua en die volk uit Babilon gered het (v.2, Amos 4:11, vgl. Deut. 4:20). Hulle lewens was soos vuil klere (v.3, Jes. 64:6). Ons lewens lyk net so (Jud. 23). Ons is sondaars by konsepsie: ons het slegte harte en is gevul met slegte gedagtes, motiewe, emosies, woorde, dade (Gen. 6:5, Ps. 51:7, 58:4, Jer. 13:23, 17:9, Matt. 15:19, Rom. 3:10-12, 23). As die Here ons nie terughou nie, is ons in staat tot die ergste (2Kon. 8:7-15, Matt. 26:35, 69-75). Dink gerus aan hoe die godvresende koning Dawid egbreuk en moord gepleeg het. Volgens Thomas Watson (1620-1686) is ons harte soos ’n modder-moeras wat skoon water besoedel; soos ’n slapende leeu wat wakker word; soos smeulende kole onder ’n laag as.2

Sonde is aaklig. Dit maak jou soos die duiwel en wys dat jy sy kind is (Joh. 6:70, 8:44, 1Joh. 3:8). Sonde verag God se goedheid en probeer Hom onttroon, sodat óns God kan wees (Gen. 3:5, Jes. 14:13-14). Dit wil Hom dood hê. Jesus se kruisdood bewys dit. Toe God mens word, toe vermoor ons Hom.

Die beelde wat die Bybel van sonde gebruik, wys hoe lelik dit is. Sonde is:

  •  ’n Roofdier wat jou bekruip (Gen. 4:7).
  • Diep vlekke en vuil klere (Ps. 51:4, Jes. 1:18, Sag. 3:3).
  • ’n Vangnet (Spr. 5:22, Gal. 6:1).
  • ’n Swaar las (Jes. 53:6, 12).
  • Slyk en modderwater (Jes. 57:20-21).
  • Onbekostigbare skuld (Matt. 6:12, 18:21-35, Luk. 7:41).
  • ’n Aansteeklike en dodelike siekte (Matt. 9:11-12, Rom. 5:12).
  • Duisternis (Joh. 3:19-20).
  • ’n Harde slawemeester (Joh. 8:34, Rom. 6:16).
  • ’n Moordenaar (Rom. 6:23, 7:11).
  • Gis (1Kor. 5:6).
  • Die angel van die dood (1Kor. 15:56).
  • ’n Tronkwag (Gal. 3:22).
  • ’n Sondaar se graf (Ef. 2:1).
  • ’n Bedrieër (Heb. 3:13).
  • ’n Strik om jou enkels (Heb. 12:1).
  • Iemand wat die wet breek (1Joh. 3:4).

Die gevolge van die sondeval—siekte, trane, pyn, emosionele probleme, verhoudingsprobleme, die dood, die hel—en Jesus se grusame kruisdood wys ook vir ons hoe lelik sonde is. Daarom is dit baie erg dat ons, Josua en Juda met vuil klere voor ’n heilige God staan (v.2). Dank dus die Here vir sy oplossing. Die Engel van die Here het vir die hemelwensens voor Hom gesê (vgl. Luk. 1:19): “Neem die vuil klere van hom weg.” (v.4, Mark. 2:7, 10). God het Josua nie sonder klere gelos nie, maar Hy het sy naaktheid met feesklere bedek (v.5, vgl. Gen. 3:21). Die Hebreeuse woord vir feesklere [machalatsah] verwys letterlik na ’n staatskleed; na ’n adelike se lang mantel. Die Engel van die Here het sy koninklike mantel vir Josua se vuil klere verruil!

Dit geld vir elkeen wat in Hom glo (Rom. 5:1, 2Kor. 5:21). As jy in Jesus glo, dra jy nie meer die vuil klere van sonde nie, maar die skoon klere van Christus se geregtigheid (Jes. 61:10, Matt. 22:11-13, Luk. 15:22, Rom. 13:14, Gal. 3:27, Op. 3:4-5, 7:14, 19:8, 22:14 [ESV]). Geen werk, of poging kan jou aanneemlik maak voor God nie. Net Jesus kan.

Only Jesus, Only He
Brings redemption, full and free
There’s a yearning, in all our lives
That only Jesus satisfies

Calvary’s love will sail forever
Bright and shining, strong and free
Like an ark of peace and safety
On the sea of human need

Through the hours of all the ages
Those tired of sailing on their own
Finally rest inside the shadow
Cast by Calvary’s love across their souls

Calvary’s love, Calvary’s love
Priceless gift Christ makes us worthy of
The deepest sin can’t rise above
Calvary’s love…

—Steve Green—

Die bloed van Jesus was ons heeltemal rein. Daarom het God deur die profeet Sagaria vir die engele gesê: ‘Moenie net nuwe klere vir Josua en Juda aantrek nie, maar sit ook ’n rein tulband op sy kop.’ (v.5, vgl. Job 29:14). Hulle het dit in die Engel van die Here se teenwoordigheid gedoen (v.5).

Die rein tulband, of kroon het gewys dat Josua en die volk ’n heilige en koninklike priesterdom vir die Here is (Eks. 19:6, 28:36-38. Sag. 6:11). Ons is ook ’n koninklike priesterdom (1Pet. 2:9, Op. 1:6, 5:10). Prakties beteken dit jy self jou sonde kan bely om vergewe te word. Dit beteken dat jy aanneemlik geestelike offers vir die Here kan bring (1Pet. 2:5). Offer jou danksegging, lofprysing, mededeelsaamheid, finansiële bydraes aan sendelinge, gebede, evangelisasie en dissipelskap (Ps. 50:23, Heb. 13:15-16, Rom. 15:16, Op. 5:8, 8:3-5, Fil. 4:18). Bowenal moet jy jou lewe aan die Here offer (Rom. 12:1).

Het jy dit al gedoen? Het Jesus al jou vuil klere uitgetrek om jou sy skoon klere te gee? Moenie self probeer om te verander nie: ‘Ek moet dit stop en dat begin doen.’ Nee, maar vra die Here om jou te verander en vertrou dat Hy dit sal doen (Rom. 3:28).

2. Heiligmaking (v.6-8)

Regverdigmaking is ’n eenmalige aksie waardeur die Vader ons deur ons geloof in Jesus onskuldig en regverdig verklaar. Heiligmaking is ’n stelselmatige proses wat God in en deur ons doen om ons meer soos Jesus te maak (2Kor. 3:18). Heiligmaking sal in jou gees voltooi word wanneer jy sterf (Heb. 12:23) en in jou liggaam wanneer Jesus weer kom (1Kor. 15:50-55, 1Joh. 3:2).

Iemand wat regverdigmaking en heiligmaking omruil, verkondig ’n vals evangelie. Ek het dit eenkeer by iemand se huis gesien. In die tuin was daar ’n klip met die volgende woorde op: ‘Ons moet die hemel ingaan deur heiligmaking en nie deur regverdigmaking nie.’ Maar dit impliseer dat jy jouself deur ’n heilige lewe regverdig kan maak en dat jy jouself in ’n regte stand voor God kan bring. Jy kan m.a.w. die hemel verdien as jy heilig genoeg lewe. Dit impliseer ook dat dié wat in die hemel is, daar gekom het omdat hulle beter is as ander. En as dít die geval is, dan kan ons in onsself roem eerder as in die Here (kontra Ef. 2:8-9).

‘Maar beteken dit dan jy kan sondig soos jy wil, aangesien ons uit genade alleen gered word?’ wil iemand weet. Nee (Rom. 6:1-2). Dit beteken eerder dat regverdigmaking en nie heiligmaking nie, die basis vir ons redding is. Regverdigmaking bring ons in ’n regte stand met God (v.1-5). Regverdigmaking is die boom se wortels (v.1-5). Heiligmaking is die goeie vrugte wat wys dat die boom gesonde wortels het (v.6-8, Jak. 2:14-26).

‘Daarom Josua,’ het die Here plegtig belowe, ‘as jy heilig lewe, sal jy my volk as hoëpriester in die herboude tempel lei. Jy sal oor die tempel waak, sodat niemand sommer net daar inkom nie. Jy self sal egter soos die engele in God se heilige teenwoordigheid inkom.’ (v.6-7, Lev. 8:35, Num. 3, Deut. 17:9).

Hierdie voorwaarde geld ook vir ons: As jy heilig lewe, sal jy die Here sien (Heb. 12:14). Lewe jy heilig? Is jy anders as die wêreld? Lewe jy afgesonder vir God? Is jy toegewy aan Hom? Is Jesus vir jou alles? Indien wel, moet jy onthou dat selfs jou heilige lewe nie uit jouself kom nie. Wat bedoel ek?

Josua en sy mede-priestervriende was ’n teken van die groot Priester wat sou kom (v.8, Heb. 7). Wie is hierdie groot Priester? Hy is God se Kneg; die Spruit (v.8, Jes. 42, 49, 50, 52-53). As Kneg het Hy gekom om ander te dien deur sy lewe vir hulle af te lê (Matt. 20:28, Fil. 2:6-8). As Spruit is Hy uit die geslag van Dawid (2Sam. 7, Ps. 132:11-12, Luk. 1:32, Op. 22:16). Hy is die Loot uit die stomp van Isai (Jes. 11:1, 6:13). Hy het soos ’n tak gegroei om goeie vrugte in en deur ons te dra (v.8, Jes. 4:2, Jer. 23:5, 33:15, Sag. 6:12, Joh. 15:1-8, Gal. 5:22-23, Fil. 1:11).

As die goeie vrugte in jou en my lewe dan uit Hom is, moet ons nie die Bybel lees en sê: ‘Van vandag af gaan ek hierdie verse in lewe toepas’ nie. Iemand wat so redeneer, dink verkeerd. Hy dink dat regverdigmaking God se deel is, terwyl heiligmaking uit homself ontstaan. Wat ons eerder moet doen, is om die Bybel te lees en die Gees se hulp te vra, sodat ons gehoorsaam kan wees, vrug kan dra, en kan groei in heiligmaking (Fil. 2:12-13, Heb. 13:21).

Jerry Bridges vertel hoe hy in die begin van sy bediening gedink het: ‘Om sondige begeertes te oorkom, moet ek my gedagtes met Bybelse opdragte vul.’ Hy het gou besef dat sy sondige begeertes sterker as sy wilskrag is. Dit het hom na die evangelie toe gedryf. Hy moes leer dat hy nie net die kruis nodig het vir regverdigmaking nie, maar ook vir heiligmaking. Hy moes elke dag die evangelie vir homself preek: ‘Just as I am without one plea, but that thy blood was shed for me… Nothing in my hands I bring, simply to thy cross I cling.’3

As dit by heiligmaking kom, moet ons soos Jerry Bridges besef dat Jesus se kruisdood en die Heilige Gees alles is.

 

3. Versoening (v.9-10)

Ken Sande is ’n advokaat en die outeur van The Peacemaker. In sy boek leer hy mense hoe om vrede te maak en vyandige partye met mekaar te versoen. Dit is ook die rede hoekom Jesus aarde toe gekom het: om ons met die Vader te versoen. Buiten dat Jesus die Kneg en die Spruit is, is Hy die Hoeksteen van die nuwe tempel, die kerk (v.9, Ps. 118:22, Jes. 28:16, Matt. 21:42, Hand. 4:11, Rom. 9:33, Ef. 2:20, 1Pet. 2:4, 6-8). Hy is die Steen met sewe oë (sewe is die volmaakte getal), wat beteken dat Hy alles sien en weet (Op. 5:6). God het ons name op hierdie steen gegraveer (v.9, 2Tim. 2:19, Op. 3:12). God het ook sy volk se skuld op een dag deur Hom uitgedelg (v.9, Kol. 2:14, Heb. 9:26).

Hier is ’n belangrike les vir ons, naamlik dat God die hele land se sonde uitgedelg het. In die eerste paar dekades moes die Jode leer dat Jesus se kruisdood vir almal was: vir die Jode, maar ook vir die heidene (Joh. 3:16, 11:50-52, Hand. 11, 15). Deur die eeue en ook in ons tyd moet ons leer dat Jesus se kruisdood ook vir die Jode was (v.9, 3-5, Rom. 11:25-27).

Volgens Sag. 3 en verskeie ander tekste, sal God die Jode red. Dalk lyk dit vir jou ontmoontlik, omdat hulle ’n hardnekkige volk is. As die Here hulle sonde egter in ’n enkele dag kon uitwis (v.9), kan Hy hulle sekerlik in ’n oogwink red, nie waar nie (Jes. 66:8)? En dan kan Hy ook seker ’n herlewing oor die hele aarde bring en miljoene mense tot bekering bring, of hoe (Jes. 2:2-4, 60:1-22, Rom. 11:12, 15)? Volgens v.9-10 sal Hy dit op grond van Goeie Vrydag doen, sodat daar vreugde, voorspoed, liefde en vrede op die aarde is (v.10, 1Kon. 4:25, Jes. 11:9, 65:17-25, Miga 4:4). Ons wag nog vir die finale volheid hiervan op die nuwe aarde. Wanneer dit gebeur, sal ons weet dat die soet, kraakvars en sappige vrugte van hierdie boom sy lewe ontvang uit die wortels van dieselfde boom wat 2000 jaar gelede geplant is op die verlate heuwel van Golgota buite Jerusalem.


1  Alhoewel die Engel van die Here nie die Vader is nie (2Sam. 24:16, Sag. 1:11-13), is Hy God self (v.1-2, Gen. 16:7-13, 22:11-12, 31:11-13, Eks. 3:2, 6, 14). Die frase ‘Engel van die Here’ is ’n verwysing na Jesus voor sy menswording (Joh. 1:1, 18, 8:58).

2  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1890, 1652]), 147-148

3  Jerry Bridges, The Transforming Power of the Gospel (Colorado Springs, CO: NavPress, 2012), 73-74