’n Christelike reaksie op die Koronavirus

Luister na die Diens

Habakuk 3

Mense reageer verskillend op die Koronavirus. Voor die grendelstaat [Eng. lockdown] het baie mense paniek aankope gedoen. Ander het ’n traak-my-nie-agtige houding. Ander is fatalisties en sê: ‘As ek die virus kry, kry ek dit. Ek gaan my nie laat inperk nie.’ Ander besluit om teen die regering te kla en nie by die reëls te hou nie. Ander dink dat die hele afvere ’n oorreaksie is. Ander dink hulle kan die virus wegspreek deur Psalm 91 as ’n rympie op te sê. Ander dink dat dié wat die virus gekry het, groter sondaars is as ander (Luk. 13:1-5). Ander sit vasgenael voor die nuus. Ander is bang vir die dood. Ander is angstig oor die ekonomie wat val.

Ander is vas oortuig dat die illuminati agter alles is. Hulle glo dat hierdie nie eintlik ’n virus is nie, maar dat sekere wêreldleiers ’n nuwe wêreld orde probeer skep en dat hulle die 666-chip deur sekere entstowwe in ons liggame gaan inplant. Ander dink dat die duiwel agter enige siekte is. Ander preek net hel-en-verdoemenis en gee nie vir mense hoop nie. Ander sit knus in hulle huise. Hulle bid nie vir ander, vir die siekes, of vir bekerings nie. Solank húlle veilig is. Ander is onproduktief. Hulle spaneer ure op die internet, of met ’n boek in die hand.

Ek kan aanhou, maar ek dink jy kry die punt. Om op bogenoemde maniere te reageer, is onchristelik. Om reg te reageer, moet ons Habakuk se voorbeeld volg.

 

1. Bid (v.1-2)

Met die draai van die eeu het die Jabes-gebed ’n modegier geword. Mense het dit as ’n rympie begin bid. Baie het dit gedoen in die hoop dat hulle ryk, voorspoedig, suksesvol en gesond sou word. Natuurlik is dit nie verkeerd om die Bybel te bid nie. Dit ís egter verkeerd indien jy dit bloot as ’n rympie bid. In daardie geval verskil jou gebede nie juis van die heidene s’n nie. En het Jesus ons nie hierteen gewaarsku nie: “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.” (Matt. 6:7)?

Laat ons daarom nie tydens die Koronavirus sekere Bybeltekste as ’n rympie bid in die hoop dat dit ons teen die siekte sal beskerm nie. Laat ons eerder soos Habakuk bid. Hoe het hy gebid? Voordat ek daarby kom, sal dit help as ek eers ’n bietjie agtergrond gee. Habakuk het Israel by die Here aangekla:

‘Kyk hoe goddeloos is die volk. Hoekom doen U niks hieraan nie? Hoekom sit U en toekyk hoe mense aaklige booshede aanvang?’

Die Here het hom geantwoord:

‘Ek gaan my volk straf. Ek gaan die Babiloniërs teen hulle stuur. Dit sal ’n verskriklike oordeel wees.’

‘Wat!?’ het Habakuk gereageer. ‘Die Babiloniërs? Hulle is dan erger is as ons! Hoe kan U genadelose heidene gebruik om u volk te straf? U sal dit sekerlik nie doen nie! Ek sal op die wagtertoring staan en uitkyk, totdat U my ’n antwoord gee.’

‘Wees verseker dat ek die Babiloniërs gaan stuur, Habakuk. Indien dit wil voorkom of Ek dit nie sal doen nie, wag maar en kyk. Wanneer die tyd aanbreek, sal die profesie vinnig vevul word. Dié wat my Woord vertrou en in My glo, sal lewe. Die res sal sterf. As Ek die Babiloniërs klaar gebruik het om my oordele uit te voer, gaan Ek húlle straf. Hulle sal nie wegkom nie. Hulle vertrou op hulle eie mag en op hulle afgode, maar ek sal hulle vir hulle booshede straf.’

Ons moenie bid soos Habakuk in hfst. 1-2 gebid het nie. Moenie die Here beskuldig (1:2-4), bevraagteken, of vir Hom wil voorskryf nie (1:12-2:1). Bid eerder soos die profeet in hfst. 3 gebid het. En hoe is dit?

[a] Maak jou hart stil en onderwerp jou aan God se wil. Dit is wat Habakuk volgens v.1-2, 2:20 gedoen het. Fokus op hoe groot God is, eerder as op hoe groot die probleem is (v.2).

[b] Sing ’n loflied (v.1, 19) vir wie God is en vir wat Hy gedoen het (v.1-19). Ek is ernstig as ek dit sê: sing, veral omdat ons in hierdie tyd net na preke kan luister en nie kan saamkom om te sing nie. Om lofliede te sing pas by Christene (Ps. 33:1, 147:1). Dit is iets wat Moslems, Hindoes en ateïste nie doen nie.

[c] Lees eers die Woord en bid dan in reaksie daarop. Dit is presies wat Habakuk gedoen het: hy het gebid, omdat hy die Woord in hfst. 1-2 gehoor het (v.2). Laat God se Woord jou gebede voed. Dit is die raad wat George Müller gegee het:

‘Formerly, when I rose, I began to pray as soon as possible. But I often spent a quarter of an hour to an hour on my knees struggling to pray while my mind wandered. Now I rarely have this problem. As my heart is nourished by the truth of the Word, I am brought into true fellowship with God. I speak to my Father and my Friend (although I am unworthy) about the things that He has brought before me in His precious Word… When we pray, we speak to God. This exercise of the soul can be best performed after the inner man has been nourished by meditation on the Word of God.’1

[d] Stort jou hart uit voor die Here (Ps. 62:9). Gee jou vrese vir Hom soos Habakuk in v.2 gedoen het (vgl. 1Pet. 5:7).

[e] Bid vir ’n oplewing van God se werk (v.2, Ps. 85:7). Bid dat sy Koninkryk, ten spyte van—of dalk, as gevolg van—die Koronavirus, sal kom (Matt. 6:10). Doen ook jou deel om sy verlossing aan mense bekend te maak (v.2).

[f] Vra dat Hy in sy toorn aan ontferming sal dink (v.2). Herinner Hom sy aan karakter. Sê vir Hom: ‘Here, U het nie ’n behae in die dood van die goddelose nie (Eseg. 18:32). Onthou asseblief dat U u Seun aarde toe gestuur het om die wêreld te red en nie om die wêreld te veroordeel (Joh. 3:16-17). U barmhartigheid triomfeer oor u oordeel (Jak. 2:13).’ Jes. 28:21 praat van God se oordeel as ’n vreemde werk. Thomas Watson (1620-1686) het gesê: ‘The bee naturally gives honey, it stings only when it is provoked; so God does not punish till he can bear no longer.’2 Die Here straf net as daar geen ander uitweg is nie (2Kron. 36:15-16, Jer. 44:22). Laat ons daarom bid: “In toorn, dink aan ontferming.” (v.2) en nie: ‘Dink aan ons goeie werke’ nie.3

[g] Dank die Here vir sy ontferming (Eks. 34:6, Klaagl. 3:22-23, 2Kor. 1:3). Dank Hom dat Hy jou liefhet en dat Hy Hom in sy toorn oor jou ontferm (v.2, Klaagl. 3:31-33, Hos. 11:8-9). Dank Hom dat die Koronavirus nie erger is nie. Dit is tragies dat daar al meer as 50 000 mense dood is, maar darem is daar nie 50 miljoen mense dood soos tydens die Swart Dood in Europa nie. Dank Hom dat Hy ons nie volgens verdienste straf nie (Ps. 103:8-12, 130:3-4). Dank Hom dat sy toorn op Jesus geval het, sodat sy ontferming op ons kon val (Jes. 53:10, Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13, Ef. 2:4, 1Pet. 1:3). Dank Hom dat die Koronavirus nie ’n oordeel oor gelowiges is nie en dat niks ons van sy liefde kan skei nie (Rom. 8:1, 38-39).

 

2. Onthou (v.3-15)

Het jou kinders al ooit vir jou gesê: ‘Maar pa het laas gesê…’? Net so het Habakuk (met groot respek natuurlik) die Here aan die verlede herinner (v.3-15):

Hy het Hom herinner aan hoe die Israeliete Hom geloof en gevrees het: vir sy krag wat deur die wolk- en die vuurkolom omhul was; vir die vuur, rook, donderslae, weerlig en aardbewing by Sinaï naby Teman en Paran (v.3-4, 6, 10, Eks. 16:10, 19:16, 18-19, 20:18, Deut. 33:2, Rigt. 5:5, Ps. 114:4). Hy het Hom herinner aan die pes wat Hy oor die Egiptenare en die rebelse Israeliete gebring het (v.5, Eks. 9:1-12, Num. 14:12, 16:46-49, 25:9, Deut. 28:21-22).

Hy het Hom herinner aan hoe die nasies en die berge voor Hom gebewe het (v.6). Hy het onthou dat die Here ewig is en dat Hy voor die berge bestaan het (v.6, Ps. 90:2-7). Hy het die Here herinner aan hoe Hy die nasies soos berge platgevee het en hoe Hy die land afgemeet het om dit vir sy volk te gee (v.6, Jes. 2:12, 14, 17). Hy het Hom herinner aan hoe die mense van Kusan en Midian in Noord-Wes Arabië gebewe het toe Hy neergedaal het op Sinaï (v.7, Eks. 19:18, Gal. 4:25).

Hy het Hom herinner aan hoe Hy die Rooi See en later die Jordaanrivier oopgemaak het: die water het sy ‘arms opsteek’; die Here het met sy oorwinningswa gekom en die Egiptenare in die Rooi See verdrink (v.8, 10, 15, Eks. 14-15, Jos. 3-4, Ps. 68:18, 77:19, 93:3-4, Jes. 66:15). Hy het Hom herinner aan hoe Hy sy boog uitgehaal het en gereed gemaak het vir oorlog; aan hoe Hy sy pyle beveel het wie hulle moet tref (v.9, Ps. 7:13-14, 45:6).

Hy het Hom herinner aan hoe Hy die aarde oopgebreek het om waterstrome uit die rots te gee (v.9, Eks. 17:1-8, Ps. 78:15-16). Hy het Hom herinner aan hoe Hy die son en die maan laat stilstaan het, sodat Hy sy vyande met pyle kon skiet en hulle met sy spies kon doodmaak (v.11, Jos. 10:12-13). Hy het Hom herinner aan hoe Hy vol toorn deur die aarde gemarsjeer [Heb. tsaad] het om sy volk se vyande af te maai net soos wat ’n boer koring dors (v.12, Miga 4:12-13).

Hy het Hom herinner aan hoe Hy sy gesalfde volk gered het (v.13, Ps. 105:15). Hy het Hom herinner aan hoe Hy die hoofde, of konings van die goddelose verbrysel het; aan hoe Hy hulle kaal gestroop het en van kop tot tone onbloot het en openlik tot skande gemaak het (v.13). Dink maar aan sy oorwinnings oor Farao, koning Og van Basan, koning Sihon van die Amoriete, en die konings van Kanaän. Hy het Hom herinner aan hoe Hy die konings se boë gevat het en hulle eie generaals daarmee in die kop geskiet het om te keer dat hulle arme Israel soos ’n warrelwind verstrooi en in die geheim verslind (v.14).

Wees soos Habakuk. Onthou God se werke in die geskiedenis en in jou lewe. Glo dat Hy dit wéér kan doen. Onthou dat Hy uit die hemel aarde toe gekom het om sy volk te red (v.13, Matt. 1:21). Onthou die woorde wat Hy aan die kruis gesê het om ons te red:

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34). Ons sonde is vergewe!

“Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk. 23:43). Deur die kruis het Hy die poorte van die hemel vir ons geopen.

“En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.” (Joh. 19:26-27). Selfs in sy laaste oomblikke het Jesus ander mense se belange bo sy eie gestel. Dit is juis hierdie onbaatsugtige liefde wat gemaak het dat Hy sy lewe vir ons aflê.

“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). Jesus is deur die Vader verlaat, sodat ons nie deur Hom verlaat sou word nie.

“Ek het dors!” (Joh. 19:28). Jesus het dors gehad om ons dors te les en sodat ons uit die fontein van lewende water kan drink.

“Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Hy het sy verlossingswerk afgehandel.

“Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Luk. 23:46). Nou kan ons ook veilig in die Vader se hande wees.

Onthou dat Jesus die duiwel met sy eie wapen—die dood—oorwin het (v.15, Heb. 2:14-15). Onthou dat die Vader sy Gesalfde (die Messias) uit die dood opgewek het en dat Jesus die vyand se kop verbrysel het (v.13, Gen. 3:15, Hand. 2:24, 27, 31, Kol. 2:15, 1Joh. 3:8). Onthou dat Hy opgevaar het hemel toe, dat Hy as Koning langs die Vader sit en dat Hy vir jou intree (Ps. 110:1, Heb. 7:25, 1Pet. 3:22). Onthou die blydskap wat jy gehad het toe jy tot bekering gekom het. Jy was bly dat:

  • God jou Vader is.
  • Jesus jou Verlosser en Vriend is.
  • Die Heilige Gees jou Trooster is en in jou woon.
  • Jou sonde vergewe is.
  • Jy ’n nuwe mens is.
  • Jy die ewige lewe en ’n erfdeel in die hemel het.
  • Jy deel van God se familie is.
  • Jy deur die doop kon bely dat Hy jou sonde afgewas het.
  • Jy vir die eerste keer die nagmaal reg kon vier.
  • Die Bybel en die prediking daarvan vir jou ’n hele nuwe wêreld oopgemaak het.
  • Gebed nie meer ’n paniek knoppie was nie, maar ’n manier waardeur jy in ’n lewende verhouding met die Here kon begin lewe.

Onthou God se hulp in die verlede: hoe Hy jou getroos het deur sy beloftes, hoe Hy jou gebede beantwoord het, hoe Hy sy helpers gestuur het om jou te bemoedig, hoe Hy in jou behoeftes voorsien het, hoe Hy jou uit verskeie krisisse gered het. En wat maak die Koronavirus anders? Covid-19 is onder sy beheer net soos wat die son, die maan, die berge, die see, die riviere, die nasies en hulle konings, jou vyande, en alles onder sy beheer is (v.3-15). Selfs al kry jy dus die virus, sal die Here dit tot jou voordeel beheer (Rom. 8:28).

Dalk het jy nie ’n verlosser, of ’n verlossing om te onthou nie. Wat kan ek vir jou sê? Glo in Jesus. Hy is ’n Verlosser wat regtig bestaan, wat vir ons sonde gesterf het, wat liggaamlik opgestaan het op die derde dag. Dit is ’n historiese feit. Ondersoek dit vir jouself as jy my nie glo nie. Gaan egter verder as die historiese feite en vra Hom om jou persoonlike Verlosser te wees. Hy sal jou nie teleurstel nie.

 

3. Glo (v.16-19)

Geloof is nie ’n blinde sprong in die donker nie. Dit is nie asof ons sê: ‘Ek hóóp maar net dit is waar al het ek nie enige bewyse nie.’ Nee. Dit is juis omdat ons die historiese bewyse het en God se karakter ken (v.3-15), dat ons glo Hy sal sy beloftes hou (v.16-19).

In Habakuk se geval het hy geweet dat God die beloftes van hfst. 1-2 sal nakom. Om hierdie rede het sy hele liggaam gebewe (v.16, Ps. 119:120, Jer. 4:19, Dan. 10:8, Op. 1:17). Tog het Hy nie meer God se weë bevraagteken soos hy in Hab. 1:1-2:1 gedoen het nie. Hy het eerder rustig gewag dat die Babiloniërs kom (v.16). Hy het geweet dat hy nie die situasie kan verander nie. Hy het ook geweet dat die ekonomie ’n duik gaan vang: geen vye, medisyne (Jes. 38:21), druiwe, rosyne, wyn, olywe, olyfolie, koring, meel, brood, wol, leer, bokhaar, vleis, of melk nie (v.17).

En tog was sy blydskap in God sy Verlosser en nie in God se geskenke, rykdom, of die ekonomie nie (v.18). Habakuk het inderdaad volgens die beginsel van Hab. 2:4 uit die geloof gelewe. Deur die beproewing sou hy op God se krag vertrou en soos ’n bok wees wat vreesloos teen die steiltes uitloop (v.19, 2Sam. 22:34). Habakuk was geseënd en veilig op die gevaarlike hoogtes, omdat hy op die Here vertrou het (v.19, Deut. 32:13).

Sy ervaring is nie uniek nie, maar geld vir elkeen wat op die Here vertrou. Soms worstel Christene met die Here (Hab 1:1-2:1). Daar kom egter ’n punt wat jy die knie buig, die wit vlag waai, oorgee, die Vader se wil aanvaar en geduldig op Hom wag (v.16). Ons verstaan nie God se plan met die Koronavirus, die grendelstaat, of die dalende ekonomie nie (v.17). Tog kyk ons as Christene verby die wêreld. Ons is nie soos ongelowiges wat stres oor Koronavirus en die grendelstaat, omdat hulle daardeur hulle enigste skatte (aardse rykdom en gesondheid) verloor nie (v.17). Ons is ook nie soos die aanhangers van die Prosperity Gospel wat Jesus soek, omdat hulle aardse voorspoed, rykdom en gesondheid soek nie.

Ons het ’n beter skat: Jesus Christus. Selfs al verloor ons dan alles wat ons het (selfs ons gesondheid, of ons lewens), kan niemand hierdie skat by ons wegvat nie (v.18, Job 13:15, Fil. 1:21). Jesus is ons sterkte en die Een wat ons deur alles sal lei: deur die koronavirus, deur die grendelstaat en deur die dood (v.19). Het jý so Iemand: ’n Vriend wat by jou sal wees as jy die virus kry en jy jou gesondheid verloor; as al die rykdom in die wêreld jou nie kan help nie; as niemand jou nie mag besoek nie; as jy stoksielalleen is wanneer jy sterf?


Christian response toe Covid 19

1  The Autobiography of George Müller (New Kensington, PA: Whitaker House, 1985), 139-140

2  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 93

3  Matthew Henry, A Commentary on the Whole Bible: Vol IV—Isaiah to Malachi (Old Tappan, New Jersey: Fleming H. Revell Company, n.d.), 1366