Twee maniere om na God toe te kom

Gravel road ends

Hebreërs 9:1-14

Die meeste evangeliese Christene sal sê dat daar net een manier is om na God toe te kom, naamlik deur Jesus Christus (Joh. 14:6, Hand. 4:12). Ander sal sê dat dit arrogant is om so te redeneer, omdat Moslems, Hindoes, Boeddhiste en mense van ander godsdienste óók na God toe kan kom op die maniere wat húlle verkies. In die Bybel was daar twee maniere om na God toe te kom: die ou manier en die nuwe manier. Eintlik was die ou manier net ’n voorskou van die nuwe manier. Jy sal nou sien wat ek bedoel.

 

1. Die ou manier (v.1-10)

Die Engelse spreekwoord sê: ‘A picture is worth a thousand words’. As jy die Bybel op enige plek oopmaak, sal jy nie abstrakte, filosofiese taal sien nie, maar ’n prentjie. Prentjies help ons om te verstaan. Dieselfde is waar van die heiligdom, of tabernakel in v.1-10 (vgl. Eks. 25:8). Dit was die ou manier waarop God sy volk beveel het om Hom te aanbid (v.1).

Moses moes die tabernakel bou en inrig volgens die patroon wat God hom op die berg gewys het (v.2, 8:5, Eks. 25:40-26:1). Hy moes twee dele maak. Die eerste deel is die Heilige genoem, terwyl die tweede deel die Allerheiligste genoem is (v.2-3). In die Heilige was daar die volgende voorwerpe: 

  • Die kandelaar (v.2, Eks. 25:31-39, Lev. 24:1-3). Dit het gewys dat Israel die lig vir die nasies is. Omdat hulle egter misluk het, het Jesus gekom om die Lig van die wêreld te wees (Joh. 8:12). Hy skyn sy lig deur ons, sodat óns nou die kandelaar is (Matt. 5:16, Hand. 13:47, Op. 1:20).
  • Die tafel met toonbrode (v.2, Eks. 25:23-30, Lev. 24:5-9). In heidense godsdienste het mense kos geoffer om die gode te voer. In die godsdiens van die Bybel voorsien God sy volk se daaglikse brood (Eks. 16, Matt. 6:11). Hierdie dinge is ’n skadubeeld van Jesus wat die Brood van die Lewe is (Joh. 6:32-35).

Agter die tweede voorhangsel was die Allerheiligste (v.3). Die voorhangsel is van rooi, pers, blou materiaal gemaak (koninklike kleure). Gerubs (hemelwensens) is daarop geborduur (Eks. 26:31). Die voorhangsel wys vir ons dat niemand net naby God kan kom nie: Hy is heilig en afgesonder.

In die Allerheiligste was daar ’n wierookbak (v.4). Eintlik was dit net buite die Allerheiligste teen die voorhangsel (Eks. 30:1-10). Dit is egter as deel van die Allerheiligste beskou (v.4). Hoekom? Een keer per jaar het die hoëpriester kole van die brandoffer altaar gevat en dit saam met wierook van die wierook-altaar af in die Allerheiligste ingevat. Die wierook het die Allerheiligste gevul en die ark met ’n wolk bedek (Lev. 16:12-13). Daarom kan v.4 sê dat die wierookaltaar deel van die Allerheiligste was (v.4, vgl. 1Kon. 6:20, 22). Die soet wierook verteenwoordig die hoëpriester se gebede vir die volk. Ons gebede is ook soos aangename wierook deur Jesus ons Hoëpriester (Ps. 141:2, Op. 5:8, 8:3-5).

Dan was daar die ark van die verbond (v.4, Eks. 25:10-22). Dit stel God se troon voor (1Sam. 4:4, Ps. 99:1). Wat was in die ark?

  •  Die goue kruik met manna, of brood uit die hemel (v.4, Eks. 16:32-34).
  • Aäron se staf wat gebloei het (v.4). Numeri 17 vertel hoe Moses Aäron se staf in die tabernakel gaan sit het en hoe dit die volgende dag takke, blare, bloeisels en amandels gehad het.
  • Die tafels van die verbond, of die Tien Gebooie op twee kliptafels (v.4, Eks. 31:18, Eks. 25:16, 21, Deut. 4:13, 10:2, 5). Dit is die terme van die verbond wat Israel moes nakom om die Beloofde Land te kry. Twee kopieë van God se wet is in die ark gebêre. Die kliptafels is volgeskryf aan beide kante (Eks. 32:15). Al tien wette is op elke kliptafel geskryf. Geleerdes noem dit ’n soesereiniteitsverbond.1 As ’n koning iemand van hulle vyande gered het, het hy ’n verbond met hulle gemaak. Hy het die verbond op twee aparte dokumente geskryf. Een kopie was syne, terwyl hy een kopie vir sy onderdane gegee het. Dit is presies wat God met die Tien Gebooie gedoen het. Een kopie was syne en die ander een die volk s’n.

Daar was gerubs van soliede goud bo-op die ark se deksel. Hulle het hulle vlerke na mekaar toe uitgesprei en afgekyk, omdat hulle nie God se heerlikheid kon aanskou nie (v.5, Eks. 25:18-20, Eseg. 1:26-28). Die gerubs het ook God se troon beskerm, sodat geen buitestaander kon naby kom nie (Op. 4:6-9). Die gerubs was een met die soliede goue deksel van die ark (v.5, Eks. 37:6, 8). Dit is die versoendeksel genoem, omdat die hoëpriester bloed daarop gesprinkel het op die Dag van Versoening (Lev. 16:15). Die versoendeksel het tussen die bloed en die kliptafels van die wet gelê wat deur die volk oortree is.

Die Griekse woord vir versoendeksel is hilastērion. Dit is dieselfde woord wat in Rom. 3:25 gebruik word waar Jesus die versoening vir ons sondes is. In Joh. 20:12 sien ons hoe daar twee hemelwesens in Jesus se graf was: een waar sy voete gelê het en een waar sy kop was. Jesus is dus die versoendeksel tussen God en die wet wat ons oortree het.

Die outeur kon meer oor die tabernakel gesê het, maar hy wou by sy punt uitkom (v.5). Daarom het hy oor die priesters gepraat. Hulle het gereeld in die eerste deel van die tabernakel ingegaan om met die tafel en brode, die kandelaar en die wierook te werk (v.6, Eks. 27:20-21, 30:7-8, Lev. 24:2-9, Num. 28:3-8). In die tweede deel, of die Allerheiligste kon net die Hoëpriester ingaan en dit maar een keer per jaar op die Dag van Versoening (v.7, Lev. 16). Hy het met ’n offerdier se bloed ingegaan: eers vir sy eie sonde en daarna vir die volk se sondes wat hulle onwetend gedoen het (v.7, 5:3, 7:27, Lev. 16:6-19, Num. 15:22-29, Ps. 19:13). Die idee is dat hy en die volk eintlik vir hulle sonde moes sterf, maar dat die offerdier in hulle plek gesterf het.

Wat was die Gees se punt toe Hy al hierdie dinge in die Skrif laat opteken het (v.8, 2Pet. 1:20-21)? Hy wou wys dat daar ’n sekere sin is waarin ons nie na God toe kan kom, solank as wat die eerste tabernakel staan nie (v.9). Net die priesters en hoëpriester kon na God toe kom. God het juis die tempelvoorhangsel geskeur toe Jesus gesterf het om te wys dat almal wat in Jesus glo nou na God toe kan kom (10:19-22, Matt. 27:51). Hy is die enigste Weg na God toe (Joh. 14:6). Daarom was dit ook nie meer nodig vir die tempel, priesters en offers nie, maar sou God dit in 70 n.C. deur die Romeine verwoes.

Soos reeds gesê, het alles in die tabernakel, of tempel gewys na Jesus en na die herstel wat Hy deur sy kruisdood tussen God en mense sou bring (v.9-10). Die tabernakel met al sy offers, reëls en rites kon die volk uiterlik reinig, maar dit kon nie hulle gewetens reinig nie (v.9-10, 7:11, 19, 10:4). Daarvoor moes Jesus aan die kruis sterf. Ek sal onder die volgende punt meer hieroor sê.

Vir nou moet ons vra wat v.1-10 vir ons sê, veral omdat niemand van ons versoek word om ’n aardse tabernakel op te rig nie. Die toepassings is nie moeilik om te sien nie. Ons moet God aanbid soos Hy in die Nuwe Testament voorskryf en nie soos Israel dit onder die ou verbond gedoen het nie. In die praktyk beteken dit dat ons nie meer vir godsdienstige doeleindes kerse aansteek, ramshorings blaas, olie op mense se huise sprinkel, die Ou Testamentiese Feeste vier, ’n sekere dieet volg, die Sewendedag Sabbat vier, wierook brand, babas besny, ’n priester vertrou om vir ons sondes te bid, die Ou Testamentiese tiendewet volg. Om dit te doen, is om terug te gaan na eerste verbond en om Jesus vir die skadubeelde te verruil (Kol. 2:16-17).

Al is daar nie meer ’n tempel in Jerusalem nie, raak ook óns versoek om dit te doen. Sommige mense doen dit bv. deurdat hulle ’n verkeerde interpretasie van die Ou Testamentiese profesieë het, sodat hulle ’n herboude kliptempel in Jerusalem verwag. Ander doen dit wanneer hulle dink dat sekere opofferings wat hulle vir die Here maak (Bybelstudie, gebed, finansiële bydraes en kerkbywoning), hulle in ’n regte stand voor God kan bring. Maar dit is nie hoe aanbidding in die Nuwe Testament werk nie. Dit gaan nie meer oor uiterlike rituele nie. Dit gaan in die eerste plek oor Jesus wat hierdie rituele vervul en in die tweede plek oor ware gelowiges wat die geestelike tempel en geestelike priesters is, wat ook geestelike offers bring (1Kor. 3:16, 6:19, Ef. 2:22, 1Pet. 2:5, 9, Heb. 13:15-16, Op. 1:6).

Dit gaan nie oor uiterlike rituele soos in die Ou Testament nie. Dit gaan eerder daaroor dat ons in God in Gees en waarheid aanbid (Joh. 4:23-24). Wat beteken dit? Om God in Gees te aanbid beteken dat sý Gees in jóúne werk om Hom met ’n hart vol dankbare liefde te aanbid. Ons aanbidding is m.a.w. nie emosieloos, koud en klinies nie. Maar ons wek ook nie hierdie emosie kunsmatig op nie. Die Gees wek dit op deur die waarheid wat Hy vir ons verstand duidelik maak. Enige emosie wat jou verstand omseil, sodat jy a.g.v. ’n sekere ‘atmosfeer’ opgewonde, hartseer, of oorweldig voel, is van die duiwel, of die vlees—dit kom nie van God af nie. Die Heilige Gees werk deur ons verstand om ons harte aan te raak en tot gehoorsaamheid te lei (Rom. 12:2, Ef. 4:23). Jy verstaan bv. ’n sekere waarheid oor God, die evangelie, of ’n ander Bybel lering, wat jou dan lei om die Here te aanbid, te bewonder, jou sonde te bely, jou te bekeer, jou opnuut aan die Here toe te wy, ’n gebroke verhouding met iemand te herstel, Jesus meer lief te hê, ens.

Dit is dan wat dit beteken om God in Gees en waarheid te aanbid. Dit is ook hoe ons God in die Nuwe Tesament moet aanbid. Dit gaan nie vir Hom oor uiterlike rituele, of selfs oor beter rituele in die Nuwe Testament nie. God stel nie belang in bydraes, gebede, lofgesange, prediking, die doop en die nagmaal as ons dit volgens ons eie voorkeure doen en sy voorskrifte in die Bybel ignoreer nie. Hy stel nie eers daarin belang dat ons alles reg doen as ons harte nie in die saak is nie. Laat ons Hom daarom met vrees en eerbied aanbid; met harte vol liefde. As Hy wou, kon Hy ons in ’n oogwink uitwis vir ons sonde. Hy het egter gekies om sy Seun te stuur en Hom ’n gruwelike dood te laat sterf om ons te red. Hoe kan jy nié hierdie God aanbid nie?

 

2. Die nuwe manier (v.11-14)

Ek het eenkeer ’n bekende prediker vir my vriende aangehaal: ‘Christenskap is die korrekte naam vir die godsdiens van die Ou Testament.’ ‘Is nie!’ was hulle reaksie. Maar dit ís, want selfs onder die Ou Testament is mense gered deur geloof in die Messias wat sóú kom. Hulle het nou wel nog nie alles verstaan nie, maar soos reeds gewys was die tabernakel, priesters en offers maar net ’n prentjie van die Messias wat sou kom.

In daardie sin kan ons dan sê dat my tema verkeerd is. Daar was nog nooit twee maniere om na God toe te kom nie, maar net twee uitdrukkings of fases van dieselfde manier. In die eerste fase het ’n aardse hoëpriester vir die volk ingetree, terwyl ons onder die tweede fase ’n hemelse Hoëpriester het. Daarom kyk ons nie terug na die eerste tabernakel wat met hande gemaak is nie, maar na die toekomstige en meer volmaakte tabernakel van die hemel; na die teenwoordigheid van God self (v.11, 24, 8:2, 10:1). Hierdie is die tabernakel waardeur Jesus gegaan het; nie met die bloed van diere soos in Lev. 16 nie, maar met sy eie bloed (v.12, 10:4). Dit beteken nié dat Jesus letterlik sy bloed in die hemel ingevat het nie. Volgens die Griekse teks (dia + die genitief) moet ons eerder sê dat Jesus d.m.v. of op grond van sy eie bloed in die hemel ingaan het. Om dit anders te stel: omdat Jesus as die volmaakte offer sy bloed vir ons gestort het, kan Hy nou as Priester vir ons intree en vra dat die Vader ons vergewe.

Volgens v.12 het Hy dit eenmaal gedoen. Hy hoef nie oor en oor ’n offer te bring soos die priesters van die Ou Testament nie (v.26, 10:10, 14). Hy het eenmaal gesterf en eens en vir altyd verlossing en vergifnis gebring (v.12, Joh. 19:30). Die verlossing wat Hy bring is nie tydelik nie, maar ewig. Dit beteken weereens dat jy nie jou redding kan verloor nie—nie nou nie en ook nie in die hemel nie.

Die hele punt van Hebreërs is om te wys dat Jesus beter is as alles en almal. Onder die ou verbond het die bloed van bulle en bokke die onreines se liggame gereinig (v.13, 7, Lev. 16:14-16). Die priester sou bv. ’n rooi vers (’n jong koei) saam met sederhout, hisop en rooi wol verbrand (Num. 19:1-6). Hy het die as gevat en dit met vars water gemeng (Num. 19:17). As iemand aan ’n lyk sou raak, het hy die as-en-water-mengsel as ’n vloeibare seep met ’n hissoptakkie op die persoon gesprinkel (Num. 19:18-19). Na sewe dae moes die persoon homself bad en sy klere was (Num. 19:19). Daarna het die priester hom rein verklaar. Maar dit het net sy liggaam gehelp. Jesus se bloed kan egter ons gewetens reinig (v.14, 9, 10:4, 22). Hy kan die werke van sonde wat tot die dood lei, vergewe. Hy kan die sondeskuld wat jy voor God het, kwytskeld. Hy kan jou in ’n nuwe mens verander; in iemand wat ’n begeerte het om die lewende God te dien (v.14).

Weereens is jou godsdiens dus nie bloot uiterlik nie, maar innerlik. Om die Here te aanbid, is nie ’n beslommernis nie. Jy wíl dit doen, omdat jy die Here liefhet. Dit is nie ’n byvoegsel tot jou lewe nie; dit ís jou lewe. Jy sien die wêreld en alles wat gebeur deur die lens van hierdie nuwe godsdiens. Eintlik is ek huiwerig om die woord ‘godsdiens’ te gebruik, omdat dit met reëls en rituele geassosieer word, terwyl Christenskap oor ’n persoonlike verhouding met die lewende God gaan. Dit gaan oor ’n verhouding met Jesus wat Homself vir ons sondes geoffer het (v.14). Dit gaan oor die Heilige Gees deur wie se instaatstelling Jesus nie teruggediens het van die kruis nie, maar Homself vir ons geoffer het (v.14). Dit gaan oor die Vader aan wie Jesus Homself as die sondelose en volmaakte Lam geoffer het (v.14, 1Pet. 1:19). Ja, Jesus het Homself nie eerste vir ons geoffer nie, maar vir God (Ef. 5:2). Hy wou die Vader tevrede stel. Hy wou wys dat die Vader heilig en regverdig is: dat Hy nie ons sonde oorsien nie, maar dat Hy dit in sy Seun straf.

En dit is a.g.v. hierdie kruisoffer wat die Vader jou skuld afskryf. Daarom hoef jy nie met ’n skuldige gewete rond te loop nie. Jy kan jou sonde bely en vergewe word. Jy hoef nie te luister as die duiwel, of jou vlees jou herinner aan die sonde waarvan jy jou reeds bekeer het en waarvoor jy alreeds vergewe is nie (Rom. 8:1, 33-34). Jy hoef ook nie jou gewete te probeer stil maak met drank, dwelms, pille, godsdienstige werke, of iets anders nie: “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1Joh. 1:7).

Kom deur die nuwe en lewende weg na die Vader toe en aanvaar sy vergifnis. Geen geskenk wat hierdie wêreld kan bied, is groter as dit nie. As jy hierdie geskenk het, sal jy verstaan wat John Bunyan beleef het toe die Here sý sonde vergewe het en hy dit vir die kraaie op die koringlande wou vertel.2


1  John D. Currid, Evangelical Press Study Commentary: Exodus Vol. 2 (Darlington, England: Evangelical Press, 2000), 141

2  Charles Spurgeon, Autobiography: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1962), 89