Die nuwe testament is beter as die ou testament

Image result for a new covenant

Hebreërs 8

Let op dat die woorde ‘nuwe’- en ‘ou testament’ in kleinletters staan. Daarom bedoel ek nie dat die tweede deel van die Bybel beter is as die eerste deel nie. Ek gebruik eerder die woord ‘testament’ soos wat die Hebreërskrywer dit gebruik (bv. in Heb. 9:15-20). Dit gaan hier oor iemand wat ’n testament opstel en byvoorbeeld sê dat sy drie seuns die besittings gelykop moet verdeel as hy die dag doodgaan. Omdat hulle oor die besittings baklei (‘Ek wil die kar hê! Ék soek die huis! Ek soek pa se boeke!’), stel hy ’n nuwe testament op waarin hy sê dat hulle die besittings moet verkoop en eerder die geld gelykop moet verdeel.

Dit is wat ek bedoel wanneer ek sê dat die nuwe testament beter is as die oue. Die ou testament verwys na God se verbond wat hy deur Moses met die volk gemaak het (Eks. 24). Die nuwe testament verwys na die verbond wat Hy deur Jesus met ons gemaak het (Matt. 26:28). Ongetwyfeld is die nuwe testament dus beter as die ou een. Hebreërs 8 sê dit. Jy sal net-nou sien wat ek bedoel.

 

1. Ons het ’n beter Hoëpriester en tabernakel (v.1-5)

’n Man wat met ’n oorpak by ’n stop/ry padteken staan, is besig om te werk. ’n Man wat met ’n oorpak langs die pad onder ’n koelteboom sit, is besig om te rus. Onder die ou testament het die hoëpriester gestaan om sy werk te doen. Omdat Jesus se werk afgehandel is, het Hy as Hoëpriester aan die regterhand van die Vader gaan sit (v.1, 10:11-12, Ps. 110:1, 1Pet. 3:22).

Die feit dat Hy op die troon langs die Majesteit in die hemel gaan sit het, wys ook dat Hy die Koning is en dat Hy God se majesteit deel (v.1, 1Kron. 29:11, Ps. 104:1, Joh. 17:1, 5, 2Pet. 1:16-17, Jud. 25). Die punt is m.a.w. dat Hy self ook God is (Heb. 1:3, 8-9). Maar dan is Hy ook mens. Net soos wat die Levietiese priesters in die tabernakel gedien het, dien Hy in die ware tabernakel, of heiligdom van die hemel (v.2, 9:11, 24). Dit beteken nie dat daar ’n fisiese tabernakel, of tempel in die hemel is nie. Die punt is eerder dat Jesus self die tempel, of tabernakel ís wat nie deur mense gemaak is nie (v.2, Joh. 1:14, 2:19-22, Op. 7:15, 21:3, 22).

Hierdie is die God wat aarde toe gekom het om die nuwe tempel, Hoëpriester en offer te wees (v.1-3). Hy is nou wel nie volgens die wet ’n priester uit die stam van Levi nie (v.4, Heb. 7), maar Hy is die ewige hoëpriester wat Homself geoffer het en vir ons intree (Heb. 7, 9). Die aardse tabernakel en priesters is dus net ’n afbeeldsel en skaduwee van die Priester en tabernakel wat ons in die hemel het (v.5, 9:23). Daarom moes Moses alles presies bou volgens die plan wat God hom op die berg gegee het (v.5, Eks. 25:40). Alles in die tabernakel dui op een of ander manier op Jesus:

  •  Die heining wys dat God heilig is en dat niemand sommer net naby Hom kan kom nie.
  • Die enkele ingang wys dat daar net een weg tot die Vader is (Joh. 14:6).
  • Die brandoffer altaar en die waskom buite die tent wys dat ons ’n offer en reiniging nodig het voor ons na God toe kan kom.
  • Die tabernakel se vaal buitekant van dierevelle en die koninklike binnekant van rooi-, pers-, blou- en goudstof wys dat Jesus van buite af ’n gewone mens was, maar dat Hy ook God is.
  • Die tafel met die twaalf toonbrode vir die twaalf stamme wys dat Jesus die Brood van die Lewe is wat sy volk voed (Joh. 6:32-35).
  • Die kandelaar met sy sewe lampies wys dat Jesus die Lig van die wêreld is (Joh. 8:12).
  • Die wierook altaar wys dat ons gebede deur Jesus soos geurige wierook voor die Vader is (Ps. 141:2, Op. 5:8, 8:3-5).
  • Die goue ark met sy gerubs op wys dat Jesus bo die gerubs troon (1Sam. 4:4, Ps. 99:1, Eseg. 1:26-28).
  • Die hoëpriester wat offers gebring het, dui op Jesus ons Hoëpriester wat Homself vir ons geoffer het.

Ek kan nog uitbrei om te wys hoe elke deel van die hoëpriester se klere op Jesus dui. Die punt is eenvoudig dat die Hoëpriester en tabernakel van die nuwe testament beter is as dié van die ou testament. Laat ons daarom nie menslike middelaars, of ’n aardse heiligdom soek nie. Dalk oortuig jy jouself dat jy dit nie doen nie, maar het jy al ooit gevoel dat mense nie voor die diens in die kerkgebou moet praat nie, omdat dit ’n heilige plek is? Het jy al ooit gesê dat die kerkgebou die huis van die Here is? Het jy al ooit gedink dat die Here nie jou gebed vir ’n siek persoon sal beantwoord nie, maar dat die persoon genees sal word as die predikant net by hom kan uitkom? Het jy al ooit gedink dat iemand tot bekering sal kom as die predikant met hom kan praat, omdat jou woorde nie so effektief soos syne is nie? Sonder dat jy dit besef, het jy in dieselfde strik as die Hebreërs getrap. Jy het ’n aardse heiligdom en menslike middelaars in Jesus se plek gestel.

Daardeur probeer ek nie sê dat ons voor die diens moet raas en moet vergeet dat daar mense is wat bid nie. Ek probeer nie sê dat die geestelike leiers nié vir die siekes moet bid nie (Jak. 5:14). Ek probeer nie sê dat die leraar baie keer meer van die Bybel weet as die gemiddelde lidmaat nie. Ek probeer eerder sê dat ons nie weer ’n aardse tabernakel en menslike middelaars moet opstel nie, aangesien daardie dinge skadubeelde van die finale tabernakel en Hoëpriester, of Middelaar was (v.1-5, Heb. 7, 1Tim. 2:5). Alhoewel ons nie ons plekke van samekoms of ons geestelike leiers totaal moet ignoreer nie, mag ons hulle nie in Jesus se plek stel nie. As ons dít doen, keer ons terug na die ou testament en vergeet ons dat die nuwe testament beter is.

 

2. Ons het beter beloftes (v.6-13)

Die Hebreërskrywer noem Jesus die Middelaar van ’n beter verbond (v.6, 7:22, 9:15, 12:24). Wat is ’n verbond? In die Bybel is ’n verbond maar net ’n ander naam vir ’n testament. Dit is ’n plegtige belofte soos die huwelik (vgl. Spr. 2:17, Eseg. 16:8, Mal. 2:14). God het ’n eed afgelê om ’n sekere belofte te vervul. Hy het ’n uiterlike teken gegee om ons aan die verbond te herinner (bv. die reënboog in Gen. 9, of die besnydenis in Gen. 17). Hy het ’n offer voorsien om te wys dat die party wat die verbond breek, die dood verdien. Soos handtekeninge met ink vandag ’n verbond amptelik maak, is Bybelse verbonde met bloed verseël.

Wat maak die nuwe verbond beter as die ou een? Dit is op beter beloftes wetlik gegrond (v.6). Beteken dit dat God in die ou verbond gelieg het? Nee. Dit gaan eerder daaroor dat Israel nie die terme van die verbond—die Tien Gebooie (Deut. 4:13)—nagekom het nie, sodat die Here hulle verstoot het (v.9). Omdat hulle die verbond of die wet oortree het, kon die meeste van hulle nie die Beloofde Land ingaan nie en kon selfs dié wat die Land in besit geneem het, nie daar bly nie (Num. 13-14, 2Kron. 36, Heb. 3-4). Die wet kon m.a.w. nie die volk se hart verander om te doen wat die Here wou hê nie (7:11, 19). Met die nuwe verbond is dit anders: die Gees verander ons harte en gee aan ons die vermoë om te doen wat die Here van ons vereis (Heb. 13:21, Fil. 2:12-13). Die volgende gediggie vat dit mooi saam:

‘Run John, run!’ the law commands,

But gives us neither feet nor hands.

Far better news the gospel brings:

It bids us, ‘Fly!’ and gives us wings.1

Dit is presies die punt wat die Hebreërskrywer in hierdie hoofstuk probeer maak (v.1). Omdat die ou testament, of die wet nie ons harte kan verander nie, het God ’n nuwe testament belowe (v.7-8, Jer. 31:31-34). Hy het hierdie belofte aan Israel en Juda gemaak (v.8). As ons in Jesus glo, word ons daarby ingesluit (Gal. 3:6-8, 16, 29, 6:16) en maak die Here die volgende beloftes aan ons:

[a] ‘Ek sal my wet op julle harte skryf en my Gees in julle binneste gee, sodat julle My wet kán en wíl gehoorsaam’ (v.10, Eseg. 36:26-27, Rom. 8:4, 2Kor. 3:3). Dit sal nie meer ’n uiterlike wet op kliptafels wees wat moeilik is om na te kom nie (1Joh. 5:3b). Die Here self sal in jou werk om jou te verander: ‘Ek sal… Ek sal… Ek sal…’ (v.8-12). Die Here sál sy belofte nakom volgens die herhalende frase, ‘spreek die Here’ in v.8-10.

Dít is dan die verskil tussen die vals godsdiens van baie Afrikaners en die ware godsdiens van die nuwe testament: onder die vals godsdiens beskou mense dit as ’n las om ’n eksterne wet na te kom. Godsdiens is ’n byvoegsel tot hulle lewens. As die Gees egter in ’n mens woon en jy onder die nuwe verbond lewe, geniet jy dit om die Here te gehoorsaam (v.10). Jou godsdiens is nie net déél van jou lewe nie—dit ís jou lewe. Is dit so vir jou, of het jy ’n vals godsdiens?

[b] ‘Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees’ (v.10, Gen. 17:7-8, Eks. 6:7). Die Here sal ons nie verstoot soos Hy die rebelse Israeliete onder die ou verbond verstoot het nie (v.9, Hos. 1:9). Hy is ons Vader en ons is sy kinders (Hos. 2:23, 1Joh. 3:1). Dit beteken dat Hy ons probleme verstaan (Ps. 103:13-14), dat Hy ons gebede beantwoord en vir ons sorg (Matt. 6:32, 7:11), dat Hy ons uit liefde dissiplineer as ons afdwaal (He. 12:5-11), dat ons deel van sy familie is en al die skatte van die hemel erf (Rom. 8:14-17, 2Kor. 6:18, Gal. 4:4-7). Omdat ons sy kinders is, is ons selfs nader aan Hom as die engele: hulle is sy diensknegte; ons is sy bruid.2

[c] ‘Julle kan My persoonlik ken’ (v.11, Joh. 17:3). Dit is nie soos onder die ou verbond waar ’n mens deur geboorte deel geword het van God se volk, sodat jou ouers en die profete jou moes leer om die Here te ken nie (v.11). Onder die nuwe verbond word mense deur wedergeboorte deel van God se volk, wat beteken dat almal wat deel het aan die verbond, die Here ken (v.11). Ons hoef mekaar dus nie te leer om die Here te ken nie, omdat ons Hom reeds van ons geestelike geboorte af ken (v.11). Hierdie kennis is nie net vir belangrike mense bedoel nie, maar vir almal wat in Jesus glo (v.11).

Wat is die positiewe en negatiewe implikasies hiervan? Onder die nuwe verbond bestaan God se volk uit gelowiges. Gevolglik mag nét gelowiges lidmate van die gemeente wees. Soms sluip Simon die Towenaar, of Demas in (Hand. 8:13-23, 2Tim. 4:10), maar sover ons dit kan help, moet ons nie ongelowiges doop, of hulle opneem as lidmate nie.

Dit het verdere implikasies, naamlik dat ons nie goedkoop bekerings moet maak deur vir mense te sê dat hulle gered is, net omdat hulle ’n gebedjie opgesê het nie. Ons kan ook nie babas doop en sê dat hulle nou deel van die kerk is nie. Die meeste mense dink dat God se verbondsvolk kinders insluit, maar dit is hoe dit onder die ou testament was. Onder die nuwe testament hoef ons mekaar nie van die Here te leer nie, omdat almal Hom sal ken (v.11). Dit kan een van twee dinge beteken:  

  1. Jou kinders is deel van die verbond en daarom hoef jy hulle nie van die Here te leer nie.
  2. Jy móét jou kinders van die Here leer, omdat hulle nog nie deel van die verbond is nie.

Volgens Hebreërs 8 is die tweede opsie die regte een. Dit is jammer dat baie kerke die eerste opsie kies en glad nie die nood sien om die evangelie met sogenaamde ‘verbondskinders’ te deel nie. Maar wat as hierdie ‘verbondskinders’ nooit tot bekering kom nie? Moet ons dan sê dat die nuwe verbond gefaal het soos die ou een?

Kerke wat ’n goedkoop evangelie verkondig (‘As jy die gebedjie opsê, is jy ’n Christen’), of kinders as deel van die verbond beskou, is vol ongeredde lidmate. Hulle verkeerde teologie is hiervoor verantwoordelik. As jy my nie glo, vra jouself hoeveel lidmate hierdie gemeentes het en hoeveel van hulle op ’n gegewe Sondag in die kerk sit [’n vrou uit so ’n gemeente het my eenkeer gebel en gesê dat hulle gemeente wat uit 1000 lidmate bestaan maar net 100 mense in die oggenddiens het en 12 mense in die aanddiens]. Hoeveel van die mense wat op ’n ‘altar call’ reageer, wil die Here met hulle hele hart dien en vir Hom lewe? Hoeveel van die mense wat saam met jou voorgestel en aangeneem is, dien nog steeds die Here? Duidelik help dit nie om die ou verbond met die nuwe een te verwar nie.

[c] ‘Ek sal hulle sondes vergewe en nie meer daaraan dink nie’ (v.12, Jes. 53:4-6, Rom. 3:25-26). Dit kan gebeur, omdat Jesus die straf vir ons sonde aan die kruis geneem het en omdat jy die voordele van sy kruisdood deur die geloof ontvang (v.12, Kol. 1:14, 2:14). As gevolg hiervan kan jy Stuart Olyott se woorde vir jouself toe-eien: ‘We now enjoy pardon for our sins—the sins of our nature, open sins, secret sins, repeated sins, yesterday’s sins, today’s sins, tomorrow’s sins, whether these be actual transgressions or sins of omissions—every sin!’3

Beteken dit dat jy nou kan lewe soos jy wil? Niemand wat waarlik gered is, sal so redeneer nie (Rom. 6:1-2). Die les is eerder dat daar onder die nuwe verbond hoop is vir die grootste sondaar om vergewe te word. Hoekom wou die Hebreërs dan so graag terugkeer na die tempel, priesters en offers van die ou verbond? Hoekom wou hulle hieraan vashou as die Here ’n nuwe testament gemaak het en as Hy binnekort die ou een sou vernietig met die verwoesting van die tempel deur die Romeine in 70 n.C. (v.13)?

Dalk wonder jy of ek hierdeur probeer sê dat ons die wet van Moses weggooi. Jy misverstaan my. Ek probeer eerder sê dat jy die wet moet sien soos wat Moses dit gesien het, naamlik as skadus en tipes van die Messias wat op pad was (Joh. 5:46).

Daarom hoef jy nie soos party mense ’n Joodse dieet te volg, of weer die Ou Testamentiese Feeste te vier nie. Moenie aan die skadus van die ou testament vashou as jy die volheid van Christus in die nuwe testament het nie (v.5, 10:1, Kol. 2:16-17). Ek hoop nie dat jy my misverstaan het nie. Moet asseblief nie soos die Hervormde leraar wees wat ’n boek oor die ‘Baptiste Beweging’ geskryf het, waarin hy ons valslik beskuldig dat ons net die Nuwe Testament glo nie. Ek hoop eerder dat jy kan insien wat eintlik probeer sê het, naamlik dat Jesus groter is as Moses.


1  https://www.thegospelcoalition.org/blogs/justin-taylor/run-john-run/

2  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958 [1692, 1890]), 158

3  Stuart Olyott, I Wish Someone Would Explain Hebrews To Me! (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2010), 95