Emosionele Probleme: Selfliefde

Image result for selfie

Filippense 3:3-9

Volgens die wêreld moet jy jouself liefhê, vir jouself sê hoe wonderlik jy is en jou omring met mense wat jou waardeer en vir jou sal sê dat jy spesiaal is. Daar is glad nie ’n tekort hieraan nie. Een outeur sê dat sy nagklere met hierdie woorde daarop gesien het (nogal agterstevoor, sodat jy dit in die spieël kan lees): ‘I am a precious, wondrous, special, unique, giving, rare, valuable, whole, sacred, total, complete, entitled, worthy, and deserving person.’1

Die meeste mense (selfs predikers) het nie ’n probleem hiermee nie. Ene Robert Schuller sê byvoorbeeld: ‘The most serious sin is the one that causes me to say, “I am unworthy.”…For once a person believes he is an “unworthy sinner”, it is doubtful if he can really honestly accept the saving grace God offers in Jesus Christ.’2 Volgens Schuller is die evangelie foutief en gevaarlik as dit ’n persoon platslaan voordat dit hom optel.3 Die kerk se taak is dus om die mens te verheerlik en sy sonde te herinterpreteer, sodat dit nie sy selfbeeld krenk nie.4

Is Schuller se idees Bybels? Hedendaagse sielkundiges dink so. Daar is selfs baie Christene wat so dink. Maar wat sê die Bybel?

 

1. Selfliefde is anti-Christelik (v.3)

Selfliefde en Christenskap is so teenstrydig soos warm en koud, nat en droog, die hemel en die hel. Volgens Paulus is ’n Christen iemand wat nie op die uiterlike fokus nie. Hy kyk nie vir homself in die spieël en sê: ‘Because you’re worth it’ nie. ’n Christen is eerder iemand wie se hart besny, of verander is (v.3, Rom. 2:28-29, Kol. 2:11). Sy aanbidding en godsdiens is nie bloot uiterlik nie, maar innerlik deur die Gees wat in hom woon (v.3, Joh. 4:23-24). Omdat sy hart nuut is, aanbid hy nie homself nie. Hy aanbid die Here (v.3). Dit is immers die Here wat hom gered het. Daarom roem hy in Jesus en nie in sy goeie werke, sy skoonheid, sy geleerdheid, sy rykdom, sy talente, sy suksesse, sy status, of sy krag nie (v.3, Jer. 9:23-24, 2Kor. 10:17, Gal. 6:14).

As jy jouself liefhet en vir jouself die belangrikste is, kan Jesus nie vir jou nr. 1 wees nie. En as Jesus nie nr. 1 is nie, het jy soos die Efesiërs afgedwaal (Op. 2:4-5), of is jy glad nie ’n Christen nie.

Miskien sê jy: ‘Maar die Býbel beveel ons dan om ons naaste lief te hê soos onsself. Hoe kan jý dan sê dat selfliefde anti-Christelik is?’ Maar wat sê die teks? “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Matteus 22:37-39).

Let in die eerste plek op dat Jesus twee opdragte gegee het en nie drie nie:  

  1. Jy moet die Here jou God liefhê bo alles en
  2. Jou naaste soos jouself.

Om jouself lief te hê is nie een van die opdragte nie. Jesus se punt is eerder dat elke mens ’n natuurlike selfliefde het, maar dat ons dit in ’n naasteliefde moet verander, sodat ons ander se belange bo ons eie stel (Matt. 7:12, Fil. 2:3-4). Jesus verwys ook na ’n gesonde menswaardigheid waardeur jy jou lewe koester eerder as om dit te vernietig: “Wie verstand verkry, het sy lewe lief…” (Spr. 19:8). Volgens Jesus moet jy dit ook vir jou naaste doen.

Jesus se opdrag beteken nie dat jy jouself moet liefhê, sodat jy jou naaste kan liefhê nie. As Christene vergeet ons juis van onsself, sodat ons op die Here en op ander mense kan fokus. Daarom is dit anti-Christelik om te sê: ‘…our ability to love God and to love our neighbor is limited by our ability to love ourselves. We cannot love God more than we love our neighbor and we cannot love our neighbor more than we love ourselves.’5

‘Maar wat van Jesus se kruisdood?’ wil iemand weet. ‘Die feit dat Hy so ’n duur prys vir ons betaal het, wys mos iets van ons groot waarde, nie waar nie?’ Nee. Dit wys eerder hoe groot die sonde was wat so ’n duur prys vereis het. Die Bybel sê: “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars [nie kosbare pêrels nie] was.” (Rom. 5:8).

 

2. Selfliefde is egosentries (v.4-6)

’n Egosentriese persoon is iemand vir wie alles om homself draai. Hy het m.a.w. ’n obsessie met homself. Hy is die tipe persoon vir wie selfies beter is as suurstof. Hy roem in homself en hou daarvan dat die aandag op hom is.

Voor sy bekering was Paulus so. Hy het op sy eie vleeslike, of natuurlike pogings vertrou (v.4).  

  • As deel van God se uitverkore volk Israel is hy op die agtste dag besny (v.5, Gen. 17:12, Lev. 12:3, Deut. 7:7-8, 2Kor. 11:22).
  • Hy was uit die stam van Benjamin (v.5, Rom. 11:1).
  • Hy was nie ’n Grieks-sprekende Jood soos party nie, maar ’n Hebreër met Hebreeuse ouers (v.5).
  • Hy was ’n Fariseër (v.5, Hand. 23:6, 26:5). Hy was teologies konserwatief, het streng volgens die wet gelewe, het ’n breë kennis van die Skrif gehad, is onderrig aan die voete van die geleerde Gamaliël (Hand. 22:3).
  • In sy misplaasde ywer vir sy godsiens het hy die Christene vervolg, omdat hulle ‘gelaster’ het deur te sê dat Jesus die Messias is (v.6, Hand. 8:3, 9:1, 22:3-5, 26:4-11, Joh. 16:2, Rom. 10:2, Gal. 1:13-14).
  • Wat uiterlike geregtigheid onder die wet betref, was hy onberispelik (v.6, Matt. 19:18-20). Niemand kon ’n vinger na hom wys nie. Hy was ’n mooi koppie en ’n spierwit grafsteen. Innerlik was hy egter gierig: ’n vuil koppie en ’n graf vol doodsbeendere (Rom. 7:7-11, Matt. 19:21-22, 5:21-22, 27-28, 23:25-28).

Is jy soos Paulus voor sy bekering was, sodat jy in jou godsdienstige CV roem? Voel jy goed oor jouself en dink jy jy gaan hemel toe, omdat jy gedoop is (‘groot of klein’), of omdat jy ’n lidmaat van die kerk is, ’n ouderling is, of omdat jy ’n dimploma in teologie het? Miskien nie. Maar waarin roem jy? Wat laat jou goed voel, sodat jy jouself daarvoor gelukwens? Is daar iets wat maak dat jy voel: ‘Omdat ek dít doen, is die kanse goed dat die Here my sal aanvaar’?

Is dit die feit dat jy geld het, of dalk omdat jy nié ryk is nie? Is dit die feit dat jy mense help, dat jy ’n ‘skoon’ lewe lei, dat jy goed is vir die mense wat vir jou werk, dat jy nie die landswet oortree nie, dat jy die beste van jou lewe maak en suksesvol is, dat jy deur baie beproewings is, dat jou ouers jou reg grootgemaak het, dat jy geld gee om mense te help, of dat jy maklik vergewe? Wat sê jy wanneer iemand jou vra of jy hemel toe gaan? Sê jy: ‘Niemand is perfek nie, maar darem is ek nie só nie en darem doen ek nie dít nie…’? Voel jy m.a.w. goed oor jouself, omdat jy sekere dinge doen en ander dinge nié doen nie? Dink jy dat die Here dieselfde as jy voel? Is daar ’n Bybelvers wat dit bewys, of dínk jy maar net so?

Selfliefde is sonde. Paulus skryf aan sy jong vriend Timoteus: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees” (2Tim. 3:1-2). Volgens die Bybel is ons skepsels van stof en onwaardige sondaars. Sonder die Here is ons hopeloos, vuil en haatlik (Gen. 18:27, Job 42:6, Eseg. 20:43, 36:31, 12:3, Rom. 7:24, 1Kor. 15:9-10, Gal. 6:3, Ef. 3:8, 1Tim. 1:15, Op. 3:17). Dit beteken nie dat ons mense moet afbreek, slegsê, hulle soos rotte moet behandel, vir hulle moet sê ons wens hulle is nooit gebore nie, of dat hulle ’n las vir die mensdom is, dat hulle suurstofdiewe is, dat ons hulle uit ons lewens soek, of dat hulle die produk van verstandlose evolusie is nie. God het die mens na sy beeld gemaak en daarom moet ons mense so hanteer (Gen. 1:26-27, 9:6, Jak. 3:9). Dit geld of hulle nou wit, swart, bruin, of geel is; of hulle gestrem is, of nie; of hulle oud is en of hulle nog in die baarmoeder is; of hul manlik, of vroulik is; of hulle ryk, of arm is.

En tog is dit ’n probleem dat Adam se sonde en ons s’n God se beeld in ons geskaad het. Dit is asof jou sonde ’n klip teen die spieël gegooi het, sodat God skaars sy beeld in jou kan herken. Omdat dit so is, het ons nie juis iets om op trots te wees nie. Ons het eerder elke rede onder die son om die Here te prys, omdat Hy deur die evangelie besig is om jou en my na sy beeld te herstel (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18, Ef. 4:24, Kol. 3:10). Let asseblief op dat dit nie jóú beeld in God se spieël is nie, maar sýne. Roem daarom in die Here en nie in jouself nie (1Kor. 1:31).

 

3. Selfliefde is ’n las (v.7-9)

Solank as wat jy ingenome is met jouself (v.4-6), sal jy nie jou nood vir Jesus sien, of eers ’n begeerte na Hom hê nie (v.7-9). Wie het immers die Here nodig as jy jou wonderlike self het? Die enigste rede hoekom jy nog so dink, is omdat jy Hom nie ken nie. As jy Hom ontmoet, sal jy baie gou agterkom dat die sogenaamde rykdom wat jy in jouself, jou persoonlikheid en die wêreld het, armoede is en dat jy dit nie kan vergelyk met die rykdom wat daar in Christus is nie. Jy sal besef dat jou bates eintlik laste is, omdat dit jou terughou om die Here te ken en die hemel se skatte te ontgin (v.7, 4-6).

Vat die ryk jongman as voorbeeld. Sy rykdom was vir hom te belangrik, sodat hy dit nie kon los om die Here te volg nie (Luk. 18:18-25). Hy het dit bo die ewige skatte van die hemel gekies. Moes hy nie liewer gewees het soos die man wat al sy besittings verkoop het om ’n kaal stuk grond te koop, omdat hy geweet het dat daar ’n skatkis begrawe lê wat biljoene Rande werd is nie (Matt. 13:44)?

Raak ontslae van dit wat jou verhinder om Jesus te kry: wêreldse rykdom, plesier, populariteit, vriende, sukses, ens. Beskou hierdie dinge as ’n verlies, sodat jy die wins van Christus en die hemel kan kry (v.7-8). Jy kan besluit om Jesus te verwerp, sodat jy hierdie dinge kan behou. Maar op die einde sal jy jouself en alles wat jy het verloor. As jy egter bereid is om alles te verloor om Jesus te kry, sal jy Hóm, jou ware self en alles in die heelal verkry (Mark. 8:34-37, Joh. 12:25, 1Kor. 3:21-23).

Ek verstaan nie hoekom mense die nagemaakte goud van selfliefde en wêreldse plesiere wil hê as hulle die skatkamers van Jesus in die hemel kan hê nie. Al rede wat ek kan sien hoekom hulle dit doen, is omdat hulle nie weet wie Jesus is nie. As hulle Hom geken het, sou hulle lankal alles prysgegee het (ook hulleself) om Hom te hê (v.7-8, Heb. 11:26).

Om Jesus te ken, is beter as enigiets in die hemel, of op aarde; in die verlede, die hede en die toekoms. Paulus het dit besef en daarom wou hy Jesus hê meer as enigiets anders (v.8). As almal maar net soos Paulus was, sou die wêreld ’n miljoen keer beter wees as wat dit is. Maar nou soek mense vervulling in hulleself eerder as in ’n verhouding met Jesus. Om Jesus persoonlik te ken en ’n verhouding met Hom te hê, is alles. Dit is selfs beter as die lewe, omdat dit ewige lewe ís (Ps. 63:4, Joh. 10:10, 17:3).

Moet dan nie bang wees om jou egosentriese self te haat en jouself te verloën nie (Luk. 9:23, 14:26). Beskou dit saam met die res van hierdie wêreld as hondemis, as die oorskiet wat jy vir die honde uitkrap, as vuilgoed en as gemors, sodat jy Jesus kan kry (v.8, 1:21). Sê vir jouself dat dit dwaas is om in hondemis te roem. Bid saam met die Puriteine: ‘I have cause to loathe myself, and not to seek self-honour, for no one desires to commend his own dunghill.’6

Jesus moet meer word en ons minder (Joh. 3:30). Bely dat Hy alleen waardig is en dat enige waardigheid wat jy in jouself het van Hom af kom (Op. 5:2-4, 9, 12, 3:4). Lewe dan vir Hóm en nie vir jouself, of vir die wêreld nie (Rom. 14:7-8, 2Kor. 5:15). Om vir jouself te lewe en goed te voel oor jouself sal jou nie help as jy op die laaste dag voor die Here staan nie. Jy sal besef dat selfs jou beste pogings soos ’n smerige doek is (Jes. 64:6).

Om voor die Here te staan, het jy ’n volmaakte rekord nodig. Nie een van ons het dit nie, maar Jesus het. Laat ons daarom sý geregtigheid deur die geloof ontvang en die Vader vra om ons op grond van sy kruisdood te vergewe (v.9, Rom. 5:1, 2Kor. 5:21). Om die wêreld se raad te volg en in jouself te glo, sal jou net dieper in die moeilikheid laat beland. Glo daarom in Jesus. Om dit reg te kry, moet die Here jou van jouself verlos. Dit sal goed wees as jy leer om saam met die ou Khoikhoi man te bid: ‘Lord, deliver me from all my enemies, and above all, from that bad man—myself.’7 Of saam met die tollenaar: “O God, wees my, sondaar, genadig!” (Luk. 18:13).


1  Nancy Leigh DeMoss, Lies Women Believe And The Truth That Sets Them Free [Chicago: Moody Publishers, 2001], 69

2  Robert Schuller, Self-Esteem: The New Reformation [Waco: Word, 1982], 98. Aangehaal in John MacArthur, The Vanishing Conscience [Cape Town, South Africa: Struik Christian Books, 1994], 101

3  Schuller, 127 in MacArthur, 102

4  Schuller, 31 in MacArthur, 103

5  Philip A. Captain, Eight Stages of Christian Growth (Englewood Cliffs: Prentice Hall, 1984). Aangehaal in Jay Adams, The Biblical View of Self-Esteem [Pensacola, Florida: Mount Zion Bible Institute, 2015], 7

6  Arthur Bennett (ed.), The Valley of Vision: A Collection fo Puritan Prayers and Devotions (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1975), 69

7  J.C. Ryle, A Call to Prayer (New York: The American Tract, n.d.), 45