Oor Jesus se doop en joune

Image result for baptism

Matteus 3:13-17

’n Gelowige besoeker het my eenkeer gevra of ek haar kan doop, nadat sy reeds drie keer gedoop is. Ek moes haar verkeerde verstaan van die doop uit die Bybel regstel en vir haar sê dat ’n gelowige slegs één keer gedoop hoef te word.

‘Maar wat as iemand in ’n vals kerk gedoop is (soos byvoorbeeld by die Mormone, die Jehova’s Getuies, of die Ou Apostels)?’ wil iemand weet. In die vroeë kerk was dit ’n debat.1 Ek glo dat ons hierdie mense weer moet doop, omdat hulle ’n vals geloof in ’n vals Jesus gehad het. Doop sonder geloof in die ware Jesus, is geen doop nie. Om dan iemand te doop wat voorheen as ’n grootmens, of as ’n baba gedoop is terwyl hulle nie werklik in Jesus geglo het nie, is nie om hulle weer te doop nie, maar om hulle reg te doop.

Alhoewel Jesus se doop nie in elke opsig dieselfde is as ons s’n nie, gee sy doop ons die regte patroon waarvolgens elke gelowige hom, of haar moet laat doop.

 

1. Hoe is Jesus gedoop? (v.13)

’n Paar jaar gelede het ’n vrou my vertel dat sy vir jare gewag het om haar in die Jordaanriver te laat doop. Baie mense wil dit doen, omdat Jesus daar gedoop is. Dit is nie verkeerd nie, solank jy nie dink dat die Jordaanrivier se water meer heilig is nie. Jesus is nie in die Jordaan gedoop, omdat die water heilig is nie. Hy het eerder van sy tuisdorp Nasaret in die Galilea-streek in die noorde van Israel na die Jordaanrivier gekom, omdat Johannes daar gedoop het (v.13, 2:22-23, Mark. 1:9). En hoekom het Johannes mense in die Jordaanrivier gedoop? Omdat daar baie water was. Dit is ook hoekom hy later by Enon naby Salim gedoop het (Joh. 3:23).

Dit dui iets aan van die manier waarop Jesus en mense in die Bybel se tyd gedoop is. As Johannes mense besprinkel het, sou hy nie die moeite gedoen het om hulle in ’n rivier te doop nie. Die feit dat hy hulle in die rivier gedoop het, maak ’n redelike sterk saak uit om te sê dat Johannes mense onderdompel het. Dit is tog wat die Griekse woord baptizō beteken.2 Ons sien dit nie net in die Nuwe Testament nie, maar selfs in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die LXX). 2Kon. 5:14 sê byvoorbeeld dat Naäman homself sewe keer in die Jordaanrivier gedoop [baptizō] het.

Daar is mense wat hierdie interpretasie van baptizō betwis. Hulle sal byvoorbeeld sê dat Mark. 7:4, Heb. 6:2, 9:10 baptizō gebruik om die Jode se reinigingsrites te beskryf en dat dit daarom nie onderdompel kan beteken nie. Maar moet ons glo dat die Jode hulle liggame en breekware besprinkel het, of dat hulle dit in ’n skottel water gewas het (vgl. Eks. 30:17-21, Lev. 8:6, 2Kron. 4:6)?

Selfs buite-Bybelse geskrifte gebruik baptizō om onderdompeling te beskryf. Dit is byvoorbeeld hoe die Joodse geskiedkundige Josefus (37-100 n.C.) dit gebruik het.3 Dit is ook hoe die vroegste Christelike dokumente, wat tussen 60 en 155 n.C. geskryf is, dit gebruik.4 Ek probeer nie hierdeur sê dat buite-Bybelse dokumente ons gesag is nie. Ek probeer eerder wys dat die Baptiste se verstaan van die doop nie iets nuut is nie: dit is hoe gelowiges dit van die vroegste eeue af verstaan het.

Dit is ook hoe ons tekste soos Kol. 2:11-12 moet verstaan. In hierdie verse sê Paulus dat mense wie se harte besny is (m.a.w. mense wat weergebore is) saam met Jesus begrawe is en dat hulle saam met Hom opstaan in ’n nuwe lewe. Volgens Paulus bely hulle dit deur die doop. Die metode van doop wat hierdie begrafnis en opstanding die beste uitbeeld, is onderdompeling.

Beteken dit dat iemand wat besprinkel is nie ’n goeie Christen is nie, of dat iemand wat onderdompel is noodwendig gered is? Nee. En tog is dit God se wil dat jy jou van jou sonde moet bekeer, dat jy in sy Seun moet glo, en dat jy jou deur onderdompeling moet laat doop. Het jy dit al gedoen? Indien nie, hoekom nie; wat hou jou terug? Is jy bang jy stel jou ouers, of jou familie teleur? Volgens die Bybel moet jy Jesus bo jou familie liefhê (Matt. 10:37, Luk. 14:26). Hoekom dan nog langer wag? “Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?” (Hand. 8:36). “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” (Hand. 22:16).

Versuim jy om gedoop te word, omdat jy ’n geliefde sonde het wat jy nie wil los nie? Hoe help hierdie sonde jou verhouding met die Here? Hoe berei dit jou voor om in vrede te sterf? Hoe help dit jou in jou verhouding met ander mense? As dit dan tot niemand se voordeel is nie, hoekom daarmee aanhou? Hoekom nie vandag nog die Here vra om jou te vergewe, om jou lewe skoon te was en jou ’n nuwe mens te maak nie? Hoekom nie deur die doopwater bely dat die Here jou verander het nie?

Is jy al deur onderdompeling gedoop, terwyl jy nog geheime sonde in jou hart koester; ’n tipe buite-kamer waar jy jou sonde wegsteek? Dalk het dit tyd geword om die Heilige Gees te vra om hierdie buite-kamer deur die bloed van Jesus te reinig. Onthou ook jou doop, toe jy voor die gemeente bely het dat jy saam met Jesus begrawe is en dat jy saam met Hom opstaan in ’n nuwe lewe (Rom. 6:3-4).

 

2. Hoekom is Jesus gedoop? (v.14-17)

My ma het my in hierdie week ’n WhatsApp gestuur. Hier is min of meer wat sy gesê het: ‘Ek het vanoggend in my stiltetyd oor Jesus se doop gedink. Ek het nooit besef dat sy doop ’n profesie van sy begrafnis en opstanding is nie.’

Ek het dit ook nie besef nie en Johannes die Doper nóg minder. Hy kon nie verstaan hoe hy Jesus moes doop as Jesus groter is as hy nie (v.11, 14, vgl. Joh. 13:6). Sou dit nie beter gewees het dat Jesus hóm doop nie (v.14)? Die doop van Johannes was ’n uitbeelding en belydenis dat die Here die sondes afwas van elke mens wat hom bekeer (v.2, 6, 11). Hoe kon Jesus dan sy ‘sondes’ laat afwas as Hy nie ’n sondaar was nie (Luk. 1:35, Heb. 4:15, 7:26, 1Pet. 2:22)?

Jesus moes vir Johannes verduidelik wat sy doop beteken: “Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.” (v.15). Wat het Hy bedoel? Hy het bedoel dat Hy gekom het om die Vader se wil te doen deur vir ons sondes te sterf, begrawe te word, op te staan, en ons met sy perfekte geregtigheid te bedek. Jesus praat van sy lyding as ’n tipe doop (Mark. 10:38, Luk. 12:50). Die kruis is die plek waar die Vader die Seun vir óns sonde gestraf het; waar Jesus as’t ware onder die vloed van God se oordeel ‘gedoop’ is en verdrink het (Jes. 53:4-6, 10, Gal. 3:13). Jesus het dit voorspel en uitgebeeld toe Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop is (v.15). So het Hy Homself openlik met sondaars vereenselwig, alhoewel Hy nie ’n sondaar is nie.

Toe Johannes Jesus se verduideliking hoor (alhoewel hy sekerlik nie alles verstaan het nie), het hy toegegee en Hom gedoop (v.15). Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgekom en gebid (v.16, Mark. 1:10, Luk. 3:21). Die Vader se antwoord wys dat Jesus waarskynlik gebid het dat die Vader sy Gees uit die hemel sal stuur om vir die mense teenwoordig te wys dat Hy die beloofde Messias en die Seun van God is (v.17, Joh. 1:34). Dit het gebeur toe God die hemel skeur en die onsigbare Gees in sigbare vorm soos ’n duif op Jesus laat neerdaal (v.16, Mark. 1:10, Luk. 3:22, Joh. 1:32).

Hoekom het die Gees op Jesus kom rus? Net soos wat konings, profete en priesters in die Ou Testament met olie gesalf is, het die Heilige Gees Jesus as die Messias gesalf (Messias, of Christus beteken ‘Gesalfde’). Die Heilige Gees het Jesus se menslike natuur versterk, sodat Hy die Vader se wil kon doen. As Jesus wou, kon Hy dit deur sy eie krag doen—Hy is immers die ewige God wat die wêreld gemaak het en nie ’n tekort het aan krag nie (Joh. 1:1, 10:30, 20:28, Kol. 1:16-17, Heb. 1:2-3). Hy het egter besluit om die onafhanlike gebruik van sy Goddelike eienskappe vir 33 jaar prys te gee om nét te doen wat die Vader Hom beveel (Matt. 4:3-4, Joh. 4:34, 5:19, 30, 6:38, 12:49-50, 14:31, Fil. 2:6-7, Heb. 10:7). Die Heilige Gees het Hom versterk om die Vader se wil uit te voer: om wonderwerke te doen, om versoeking te oorwin, om die Woord vir mense te leer, om vir ons sondes te sterf, om uit die dood op te staan (Jes. 11:2, Matt. 12:28, Luk. 4:1, 14, 18-19, Hand. 10:38, Rom. 1:4, 8:11, 1Tim. 3:16, Heb. 9:14).

Volgens v.16, Joh. 1:32-33, 3:34, het die Gees op Jesus kom rus en het Hy die Gees sonder mate ontvang. Toe Jesus opgevaar het hemel toe, het die Vader Hom wéér met die Gees gesalf (Ps. 45:8, Hand. 2:33, Heb. 1:9). Hy het die Gees nie net vir Homself ontvang nie, maar sodat Hy Hom oor óns kon uitstort (v.11, Hand. 2, Tit. 3:6). Net soos die Vader Jesus met die Gees gedoop, geseël en gesalf het (v.16, Joh. 6:27), het Jesus óns met die Gees gedoop, geseël en gesalf (v.11, 1Kor. 12:13, 2Kor. 1:22, Ef. 1:13, 1Joh. 2:20, 27).

Hoe weet jy dat die Heilige Gees in jou woon? Die bewys lê nie daarin dat jy in tale praat, of ander bonatuurlike gawes het nie, omdat ongelowiges ook hierdie dinge kan hê (Matt. 7:22). Die bewys dat jy die Gees het, lê eerder daarin dat jy ’n nuwe mens met ’n nuwe karakter is (2Kor. 5:17, Gal. 5:22-23). Dit gaan dus nie daaroor of jy uiterlik mooi is, of jy suksesvol en populêr is, of jy baie geld het, of jy godsdienstig is, of jy gedoop is nie. Die Here wil weet of jy ’n nuwe mens is. Is jy anders as die meeste mense in jou familie, in jou woonbuurt, by die skool, by die werk, in die samelewing?

Om anders te wees, moet jy weergebore wees en die Heilige Gees ontvang (Joh. 3:3, Rom. 8:9, Tit. 3:5). Vra die Here hiervoor en moenie skaam wees om dit deur die doop te bely nie (sien Hand. 2:38, 8:36-38). Sê vir die wêreld dat God jou Vader is, dat Jesus jou Verlosser en jou Here is, dat die Heilige Gees jou Trooster is. Bely dat die Drie-Enige God wat by Jesus se doop teenwoordig was (v.16-17), jóú God is. Bely dit deur jou as ’n gelowige in sý Naam te laat doop (Matt. 28:19).

Moet egter nie daar stop nie. Soek meer van hierdie God. Bid vir ’n voller belewenis van die Gees, om meer van Jesus se liefde te verstaan, om vervul te wees met al die volheid van God (Luk. 11:13, Ef. 3:16-19, 5:18). Met ‘volheid’ bedoel ek die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ons glo nie soos Moslems in ’n god wat net een persoon is nie. Volgens v.16-17, Matt. 28:19, Ef. 4:4-6 en die res van die Bybel, bestaan God in drie Persone. Die Vader het die Seun gestuur om vir ons sondes te sterf. Die Gees verander ons in nuwe mense wat die Vader in Gees en in waarheid aanbid.

Jesus se doop illustreer hoe die Drie-Enige God verlossing en nuwe lewe bring vir elkeen wat deur geloof by Hom skuil. Wat bedoel ek? Ek het reeds gewys hoe Jesus se doop ’n profesie is dat die vloedwaters van God se oordeel oor Hom sou gaan. Toe die Heilige Gees soos ’n duif oor die water op Jesus gekom het, was dit ’n herinnering aan Gen. 1:2 waar die Gees by die eerste skepping oor die waters gesweef het (Gen. 1:2). Dit was ook ’n herinnering aan Noag wat ’n duif oor die waters uitgestuur het, sodat dit met ’n olyftakkie teruggekeer het.

Wat is die les? Die les is dat God ons in die ark van Jesus se kruisdood wegsteek om ons van die vloed van sy oordeel te red. Die les is dat die Gees ons op grond van Jesus se kruisdood ’n nuwe skepping maak en aan ons nuwe lewe gee. So het Petrus die doop verstaan, naamlik dat “die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus” (1Pet. 3:20-21).

Is jy veilig in die ark van Jesus se kruisdood? Is jy ’n nuwe skepping met die nuwe lewe van die Gees in jou? Of vertrou jy op die bamboesvlot van jou doop sonder geloof (hesty kinderbesprinkeling, of sogenaamde ‘groot doop’)? As jy nie op Jesus se kruisdood vertrou nie, gaan jou vlot sink as die storm van God se oordeel oor die wêreld losbreek. Om dit te verhoed, moet jy in Jesus skuil. Hy is al Een oor wie die Vader sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” (v.17, 12:18, 17:5, Ps. 2:7, Jes. 42:1, Joh. 1:34, 5:19-29, 10:17, 17:1-5, Ef. 1:6, Kol. 1:13).

Voor die skepping reeds het die Vader en die Seun mekaar volmaak liefgehad en het die Heilige Gees dit tussen hulle oorgedra (Spr. 8:30, Joh. 17:24, 1Joh. 4:8). Die Drie-Enige God is nie ’n eensame, enkel-persoon God wat mense en die res van die skepping nodig het nie, maar ’n God wat oorvloedig gee; ’n God wie se liefde en blydskap oorloop tot in die skepping (Spr. 8:31). Hierdie liefde word sigbaar in die Vader wat sy Seun vir ons gegee het (Joh. 3:16, Rom. 5:8); in die Seun wat Homself vir ons gegee het (Gal. 2:20, 1Joh. 3:16); in die Vader en die Seun wat die Heilige Gees gegee het om by ons te wees (Joh. 14:16, 15:26, 16:7); in die Heilige Gees wat God se liefde in ons harte uitstort (Rom. 5:5); in die Drie-Enige God wat ons help om meer van Jesus se liefde te verstaan en te ervaar (Ef. 3:16-19).

Hoekom twyfel ons dan so maklik in God se liefde wanneer dit met ons sleg gaan, of as die Here nie dadelik ons gebede beantwoord nie? Wat moet die Here nóg doen om sy liefde te wys? Wat Hy by die Jordaanrivier vir sy Seun gesê het, sê Hy vir elkeen wat in Jesus glo en Hom gehoorsaam: ‘Ek het jou lief, jy is my kind, Ek is tevrede met jou’ (v.17, Jer. 31:3, Luk. 2:14, Joh. 14:23, Gal. 3:26-27). Sy liefde vir jou is groter as wat jy besef. Volgens Joh. 17:23 het Hy jou so lief soos Hy sy eie Seun het! Dit rede is omdat Hy jóú nie sien as jy in Jesus glo nie, maar slegs sy Geliefde Seun met wie Hy tevrede is (v.17, 2Kor. 5:21, Fil. 3:9).

Die Vader kan jou nie méér liefhê nie. Die Seun kan jou nie méér liefhê nie. Die Heilige Gees kan jou nie méér liefhê nie. In die Drie-Enige God en sy evangelie hou die fontein van sy liefde nie op met vloei nie. Drink daarom na hartelus; vat soveel as jy wil hê. Laat Jesus se doop en joune vir jou die prentjie word van die briljante plan wat die Drie-Enige God gemaak het om ons te red: nie om ons lewens op aarde gemakliker te maak, of selfs sodat ons vergewe kan word nie, maar sodat ons eendag by Hom kan wees om sy heerlikheid te sien en Hom vir ewig kan geniet (Joh. 17:24). Soos ek die Bybel verstaan, kan geen kinderdoop, of sogenaamde ‘groot doop’ sonder geloof hierdie verlossing uitbeeld nie. Om die prentjie van verlossing reg te sien, moet jy as ’n gelowige onderdompel word.


1  N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Vol. 1 (London: Grace Publications Trust, 1997, 2002), 134-135, 184, 245-246

2  Strong’s NT 907; Johannes P. Louw & Eugene A. Nida, Greek-English Lexicon of the New Testament: 2 Vols. (Cape Town: The Bible Society of South Africa, 1989 [1988]), 53:41

3  Flavius Josephus, Complete Works (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), Antiquities of the Jews, 4:4:6, 9:10:2, 15:3:3

4  Didache, 7; Epistle of Barnabas, 11; The Shepherd of Hermas, Commandment 4, ch. 3 & Similitude 9, ch. 16. Sien ook H.F. Stander & J.P. Louw, Baptism in the Early Church (Garsfontein, Pretoria: Didaskalia Publishers, 1994 [1988]).