Emosionele Probleme: Ontevredenheid en Jaloesie

Image result for jealous

Psalm 73

Jaloesie is nie altyd sonde nie. Dit is bv. reg dat ’n man jaloers voel as ’n ander man by sý vrou aanlê (Num. 5, Hoogl. 8:6). Dit is ook reg as ons jaloers is vir Gód se eer en kwaad is as mense sy Naam ontheilig (Eks. 20:5, 34:14, Num. 25:11, 13, Deut. 4:24, 5:9, 32:16, 21, 1Kon. 19:10, 14, Joh. 2:13-17, 2Kor. 11:2, Jak. 4:4-5). Jaloesie raak egter sonde as dit vir jou oor jouself gaan, as jy ontevrede is met wat jy het, of as jy bereid is om sonde te doen om te kry wat jy wil hê. Dit beteken dat selfs heilige jaloesie soms in sondige jaloesie omskakel. ’n Man wat bv. jaloers is op iemand wat by sy vrou aanlê, doen sonde as hy wraak neem en die persoon doodmaak (Spr. 6:34).

Laat ons onsself dus mooi ondersoek om seker te maak dat jaloesie nie soos ’n aggressiewe kanker, of gangrene in ons harte groei nie. Soos met enige sonde sal jaloesie jou doodmaak as jy dit nie eerste doodmaak nie.1 Jaloesie pas nie by gelowiges nie, maar is ’n kenmerk van ongelowiges wat die wêreld liefhet (Gal. 5:20-21, 2Tim. 3:2, Tit. 3:3). Laat ons dan by Asaf leer hoe om jaloesie te oorkom.

 

1. Die probleem (v.1-15)

Ek sidder as mense van ’n geestelike leier sê: ‘Hy sal nooit val, of verkeerde lering gee nie.’ Geestelike leiers is sondaars soos die res van ons. Asaf was die outeur van Ps. 50, 73-83. Hy was ’n geestelike leier in koning Dawid se tyd. Hy was ’n profeet wat lofgesange in die tempel gelei het (1Kron. 15:17, 19, 16:4-5, 7, 2Kron. 29:30). Tog het die groen monster van jaloesie ook in sý hart gesluimer.

Jaloesie is ’n werklike gevaar onder Christene. As die Here se genade jou nie terughou, sal jy leuens versprei oor persoon op wie jy jaloers is (Hand. 17:5-7), hom voor die hof daag, hom in die tronk laat toesluit (Hand. 5:17-18), reël dat iemand hom ontvoer (Gen. 37), hom doodmaak (Gen. 4, Matt. 27:18), sy besittings steel, sy lewensmaat vir jouself vat, met hom baklei en baie ander sondes teen hom doen (Jak. 3:16).

Laat niemand dan dink hy staan nie, want anders sal hy val (1Kor. 10:12). Asaf moes dit op die harde manier leer. Hy het amper gegly en geval (v.2). Hoe het dit gebeur? Hy was jaloers op arrogante ongelowiges wat grootpraat oor hoe baie hulle het (v.3). Tot aan die einde van hulle lewens is hulle sonder probleme (v.4). A.g.v. al die voorspoed is hulle so vet dat hulle oë uitpeul (v.4, 7). Hulle velle blink van die ryk kos wat hulle eet (v.4). Hulle het nie die probleme wat gewone mense het nie (v.5). A.g.v. hiervan is hulle so trots soos ’n vrou met duur juwele om haar nek (v.6). Hulle het meer as wat hulle harte voor kan wens en is vreeslik ingenome met hulleself (v.7b, Hebreeus)

Hulle spot met die armes en spreek bose dinge teen hulle (v.8). Hulle dink dat hulle bo ander is, sodat hulle uit die hoogte spreek en verdrukking dreig (v.8). Hulle gebruik geweld om ryk te word (v.6, 8). Hulle praat nie net teen die armes nie, maar teen die Here (v.9). Hulle dink hulle is groter as Hy en maak dwase stellings soos: ‘Nie eers God kan die Titanic sink nie.’ Soos ’n pou pronk hulle deur die wêreld en vertel hulle vir mense hoe belangrik hulle is (v.9). Hulle het baie aanhangers; mense wat hulle woorde indrink soos water (v.10). Hulle is so arrogant soos diktators, of beroemde ateïste wat dink dat daar nie ’n God is wat weet wat hulle doen nie (v.11). Hulle gaan onbesorg deur die lewe (v.12). Hulle dink dat hulle toenemende rykdom alles kan regmaak (v.12).

Asaf kon nie verstaan hoe die Here hulle hiermee laat wegkom nie: ‘Hoe kan die Here hierdie mense met voorspoed seën as hulle Hom haat? Dinge is verkeerd om! Ek dien die Here, maar kry swaar—elke dag, die hele dag (v.14, 44:23, Hand. 14:22). Dit lyk of ek verniet probeer om heilig te lewe (v.13).’

Genadiglik het Asaf dit net gedink en niks gesê nie. Hy het geweet dat sy woorde swakker gelowiges kon laat struikel en dat hulle dan die Here se goedheid sou betwyfel (v.15). Hy wou nie sy medegelowiges verloën nie (v.15).

As jy jaloers is, beïnvloed jy nie net jouself nie—jy sal jou kinders en ander mense saam met jou aftrek. Soos jy, sal hulle ontevrede en jaloers begin raak. Hulle sal ontevrede wees met die lewensmaat, kinders, geld, huis, kar, werk, omstandighede, posisie, gawes, beproewings en gesondheid wat die Here hulle gee; hulle sal ander mense s’n begin begeer (Eks. 20:17, Gen. 30:1, Num. 16, Ps. 106:16, 1Kor. 12, Rom. 12:3-8, Hand. 5:17, 14-16, 13:45, 17:4-5, 1Kor. 3:3-4).

Maar hoe sal dit wees as die Here jou alles gee wat jy wil hê? Jy sal soos ’n ballon wees wat te veel lug in het en bars. Jy sal soos ’n bedorwe kind wees wat alles kry wat hy wil hê as hy net ’n tantrum gooi. Volgens die Bybel is dit ’n straf as die Here jou aan jou begeertes oorgee (Ps. 106:15, Rom. 1:28). Om alles te kry wat jou sondige natuur begeer, kan jou nie versadig nie. ’n Geldgierige mens wat R1 miljoen kry, soek R2 miljoen. En as hy R2 miljoen het, soek hy R5 miljoen. Hy is nooit tevrede nie (Pred. 5:9).

Dit werk dieselfde met pornografie en enigiets anders wat die sondige natuur begeer: jy soek altyd meer (Spr. 27:20, Pred. 1:8). Daarom sê die Bybel dat jaloesie erger is as woede (Spr. 27:4). Woede is ’n vulkaan wat ontplof en groot skade doen. Jaloesie is die coronavirus wat al hoe erger word. Dit is ’n vuur wat nóg hout soek, ’n begraafplaas wat nóg lyke soek, ’n bloedsuier wat nóg bloed soek, ’n onvrugbare vrou wat ’n kind soek, ’n dor stuk aarde wat nóg reën soek (Spr. 30:15-16).

Die dinge van hierdie wêreld kan nooit die leemte in jou siel vul, jou dors les, of jou honger stil nie. Net die Here kan (Matt. 11:28, Joh. 4:14, 6:35). As jy jou in Hom verlustig, sal Hy die regte begeertes in jou hart gee én dit versadig (Ps. 37:4). Kom dan na Hom toe. Vra Hom om jou in die fontein van sy bloed te was: nie net van ontevredenheid en jaloesie nie, maar van die selfsug wat agter dit lê. Vra Hom om jou te vry te maak van die versoeking om reg te wil lewe, net omdat jy goeie omstandighede, gesondheid, geld, werk, ’n lewensmaat, kinders, of iets anders by Hom soek (v.13, Jak. 4:3). Dien die Here vir wie Hy ís en nie net vir wat jy by Hom kan krý nie.

‘Maar hoekom seën die Here slegte mense, terwyl dit met mý sleg gaan?’ (v.3-5, 14). In die eerste plek weet jy nie regtig hoe dit met die goddelose gaan nie. Wat weet jý van die probleme in sý huwelik, huisgesin en familie? Hoe seker is jy dat jy alles van sy werksituasie en gesondheid weet? In die tweede plek moet jy onthou dat jou swaarkry ’n bewys van die Here se liefde is (v.14, Heb. 12:5-11, Op. 3:19). Hy stuur dit om jou op die regte pad te hou. Sê vir Hom dankie en moenie die goddelose se omstandighede begeer nie.

 

2. Die oplossing (v.16-28)

In hierdie lewe loop die bokke in die sonskyn op die hoë berge, terwyl Jesus se skape in die vallei van slagting is.2 Eendag sal dit andersom wees (Luk. 16:25). Dit is die les wat Asaf moes leer. Toe hy dit op sy eie probeer uitwerk het, het dit hom uitgeput (v.16). Toe hy egter in die heiligdom van die tempel ingaan en oor die Here nadink, toe verstaan hy (v.17).

Ons is soms so. Ons is in ’n penarie en verstaan nie wat aangaan nie. Ons probeer dit vir onsself uitwerk, maar ons kry nie die antwoorde nie. Op ’n dag lees ons ’n vers in die Bybel, of hoor ons ’n preek waardeur die Here ons probleem oplos.

Moet dus nie wegbly uit die heiligdom as dit met jou sleg gaan nie (v.17, Heb. 10:25). Dit is soos om van die dokter af weg te bly as jy siek is. Kom eerder om die Woord te hoor, sodat die Here jou die antwoord op jou probleem kan gee. Dit is hoe die Here vir Asaf gehelp het. Hy moes leer om ’n langtermyn fokus te hê. Hy moes besef dat die goddelose se voorspoed tydelik is, terwyl die gelowige se swaarkry tydelik is (v.16). Hy moes leer dat voorspoed nie altyd ’n seën is nie, maar dat dit ’n vloek kan wees as jy dit verkeerd hanteer. Hy moes leer dat voorspoed die tou is waaraan die goddelose hulleself gaan ophang en dat dit die gladde klippe is waarop hulle gaan gly en oor die waterval se kant gaan verdwyn (v.18, kontra v.2). Hulle sal skielik tot ’n val kom, sodat almal verbaas is (v.19). Hulle sal soos ’n takkie deur die vloed weggevoer word (v.19). Soos ’n droom wat verby is as ’n mens wakker word, sal dit met hulle wees (v.20). Hulle sal soos ’n skim verdwyn as die Here van sy troon af opstaan (v.20).

Asaf het dit nie besef toe bitterheid en jaloesie in die donker hoeke van sy hart skuil nie (v.21, Mark. 7:22). Hy het die pyn van sy sonde in die diepte van sy wese gevoel (v.21).3 Hy was soos ’n dier wat nie rasioneel, of reguit kon dink nie (v.22). Dit is wat jaloesie en elke ander sonde aan ’n mens doen: dit maak dat jy nie reguit kan dink nie (Rom. 1:28). Jy doen dom dinge. Daar is bv. niks fout met die kar, huis, of klere wat jy nou het nie, maar jy maak ’n klomp skuld om jouself op te gradeer—skuld wat jy nie kan bekostig nie—omdat jy beter as iemand anders wil wees (Pred. 4:4).

A.g.v. die jaloesie wat jy in jou hart koester, gee jy vir die duiwel ’n voet in die deur (Ef. 4:26-27). Jy is soos koning Saul toe hy jaloers was op Dawid. A.g.v. sy jaloesie het ’n bose gees hom geteister en slegte dinge oor Dawid in sy oor gefluister (1Sam. 18:8-11). Hy het agterdogtig begin raak, al het Dawid hom niks aangedoen nie. Op die einde het hy irrasioneel begin optree en Dawid soos ’n dier gejag (1Sam. 18-27).

Jaloesie maak jou dwaas (v.22). Dit maak dat jy nie die Bybel verstaan nie, maar dat dit vir jou dood is (1Kor. 3:1-3, 1Pet. 2:1-2). Dit maak dat die Bybel vir jou nie anders as die koerant is nie. Jaloesie affekteer egter nie net jou siel nie. Dit kan ook maak dat jy siektes soos rumatiek kry (Spr. 14:30). Ek sê nie dat almal wat rumatiek het, jaloers is nie. Wat ek wel sê, is dat jaloesie sekere siektes kan veroorsaak.

Hoe moet ’n mens jaloesie oorkom? Buiten dat jy weergebore moet wees, moet jy jou jaloesie as sonde bely en ophou om dit te voed (Rom. 13:13-14). Moet bv. nie in klerewinkels rondloop, of na mooi karre op die internet kyk as dít dinge is waaroor jy jaloers is nie. Spandeer eerder jou tyd om in ’n verhouding met die Here te groei. Bly naby Hom (v.23). Vra Hom om jou hand vas te hou, sodat jy nie val nie maar veilig tot in die hemel kom (v.23-24, 2, 16:7-8, 32:8, 121:5, Jes. 30:21, Joh. 10:28-29).

As jy só op Jesus en die hemel fokus, sal jy nie jaloers wees op ander nie (Spr. 23:17-18). Dit sal jou nie pla as hulle omstandighede en besittings beter is as joune nie. Jy sal eerder bly wees vir hulle, omdat die Here kies wie ryk is en wie arm is, hoe suksesvol jy is, óf jy kinders het en hoevéél jy het, of jy gaan trou en of jy enkel gaan bly, met wié jy gaan trou, wat jou geestelike gawe is, watse werk jy gaan doen, ens. (Gen. 30:1-2, 1Sam. 2:7, Ps. 75:7-8, Spr. 19:14, Matt. 25:15, Mark. 3:13-19, 5:37, 14:33, Rom. 12:3, 6, 1Kor. 7:7, 12:11, Jak. 4:13-15). Moet dan nie jaloers wees, of kla oor wat jy het nie, maar dank die Here daarvoor (Luk. 3:14, Fil. 2:14, 1Tess. 5:18, 1Tim. 6:6, 8, Heb. 13:5). Om gereeld dankie te sê, is een van die grootste oplossings vir jaloesie (Fil. 4:11-13).

Deel ook jou rykdom en besittings met ander. Sodoende fokus jy op wat jy vir mense kan doen en ie wat jy by hulle kan kry nie (1Kor. 13:4). Hoekom wil jy buitendien aan die dinge van hierdie lewe vashou, of ’n klein fortuin maak as jy dit nie kan saamvat hemel toe nie (Job 1:21, Ps. 49:18, Matt. 6:19-20, 1Tim. 6:7)? Wat help dit jy verkry die hele wêreld as wins as jy jou ewige siel verloor (Mark. 8:36)? Ek sê nie dat dit verkeerd is om ryk te wees, bevorder te word, of meer geld te verdien nie. Wat ek wél sê, is dat die Here groter rekenskap van jou sal eis as jy baie het (Luk. 12:48, Jak. 3:1).

Moet dus nie op hierdie lewe fokus nie, maar soek die Here (v.25, Jer. 29:13, Fil. 3:8). Soek die rykdom wat daar in Jesus is; ’n rykdom wat groter is as Bill Gates s’n (Ps. 37:16, Spr. 15:16-16, 16:8, 17:1, 1Kor. 3:21-22, Op. 2:9). In Jesus het jy ’n rykdom wat rotsvas is; ’n rykdom wat nie eers die dood by jou kan steel nie (v.25-26, 16:5-6, kontra Ps. 73:18-20). As jy nié hierdie rykdom het, of naby die Here lewe nie (v.28), sal jy jou geld, besittings, gesondheid, prestasies, sukses en status verloor sodra jy jou asem uitblaas (v.27). Die Here sal jou én jou voorspoed uitroei (v.27).

Kan jy dan sien hoe sinneloos dit is om jaloers te wees op dinge wat oor ’n paar jaar in stof gaan verander (Ps. 37:1-2, 8-10, Spr. 23:17, 24:1, 19-20)? Fokus daarom op jou verhouding met die Here. As jy deur geloof, bekering, die Woord en gebed by Hom skuil en naby Hom bly (v.28, Ef. 2:13, Heb. 4:16, 10:22, 11:6, Jak. 4:8), sal jy die probleme van die lewe kan hanteer. Dan sal jy vir mense kan vertel wat die Here vir jou gedoen het; dat Hy jou hart skoon gewas het en dat Hy goed is vir gewone mense met middelmatige gawes (v.28, 1, Eseg. 36:25-27, Ps. 24:4, Matt. 5:8, Joh. 1:48, 1Joh. 1:7, 9). Jy sal die waarheid van Randy Alcorn se woorde verstaan en nie jaloers wees op ander nie: ‘For Christians, this present life is the closest they will come to Hell. For unbelievers, it is the closest they will come to Heaven.’4


1  John Owen, The Mortification of Sin (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2004), 5

2  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958 [1692, 1890]), 63

3  Die Ou Vertaling sê dat sy niere geprikkel was. In die Bybel is die niere die setel van ’n mens se intellek en emosies en spreek dit van die onsigbare dieptes van sy wese (Ps. 7:10, 16:7, Spr. 23:16, Op. 2:23).

4  Randy Alcorn, Heaven (Carol Stream, Illinois: Tyndale House Publishers, 2004), 28