Emosionele Probleme: Selfbejammering en Woede

Image result for sulking

Jona 4

Toe ek ’n kind was, het ek die volgende grappie gehoor: ‘What’s big, green and sits in a corner? The Incredible Sulk.’ Ek het nie geweet wat dit beteken nie. My pa het vir my verduidelik dat ‘sulk’ of ‘self-pity’ die Engelse woord selfbejammering is en dat die grappie op The Incredible Hulk sinspeel.

Jona het homself bejammer. Hy het gedink dat hy en die res van die Jode God se guns verdien, maar dat dit nie vir die heidene bedoel is nie. Toe die Here dus sy guns aan die heidene bewys het, toe blaas Jona sy lip op (selfbejammering) en toe raak hy kwaad.

 

1. Die eerste klagte (v.1-4)

Wie was Jona? Hy was die seun van Amittai (Jona 1:1). Hy was ’n profeet van Gat-Hefer in Galilea in die noorde van Israel; hy het in die 8ste eeu v.C. geleef toe Jerobeam II die koning van Israel was (2Kon. 14:25). Die Here het vir Jona gestuur om die bose mense van die stad Nineve te waarsku. Hy wou nie vir die Here luister nie en het op ’n skip Tarsis toe gevlug. Die Here het ’n storm gestuur. Jona het vir die matrose gesê om hom in die see te gooi. Toe hulle dit doen, toe bedaar die storm onmiddellik. Die Here het ’n groot vis gestuur om vir Jona in te sluk en sy lewe te red. Na drie dae het die vis hom weer uitgespoeg. Die Here het hom weer beveel om in Nineve te gaan preek. Hierdie keer het hy geluister en het die hele stad tot bekering gekom.

Jona was briesend toe God die bose Assiriërs en hulle hoofstad Nineve red. Hy het hierdie vyande van Israel gehaat. Nahum beskryf die Nineviete as leuenaars, plunderaars, moordenaars, onderdrukkers en afgodsdienaars (Nah. 3:1-4). En tog is was Jona se woede nie eintlik teen húlle gerig nie, maar teen die Here wat hulle gered het (3:10-4:2). Dit was hoekom hy in die eerste plek nie die 1000 km preektoer na Nineve wou meemaak nie, maar in die teenoorgestelde rigting gevlug het om 3500 km na Tarsis in Spanje te gaan (v.2).

Hy het uit die Here se liefdevolle karakter geweet dat Hy die Nineviete sou red (v.2). God is genadig en gee goeie dinge soos verlossing wat ons nie verdien nie (v.2). Hy is barmhartig en gee nie die slegte dinge wat ons wél verdien nie (v.2). Hy is lankmoedig en stadig om kwaad te word (anders as Jona). Hy kon ons lankal uitwis, maar gee ons weer en weer ’n kans (v.2, 3:9-10). Hy is groot van goedertierenheid en troue verbondsliefde [v.2, Heb. chesed]. Hy het berou oor die onheil (v.2, 3:9-10, Jer. 18:7-8, Joël 2:13). Hy geniet dit nie om te straf nie, maar vergewe graag (Eseg. 18:32, Luk. 15:20, 1Tim. 2:4, Jak. 2:13, 2Pet. 3:9).

Jona het die fout gemaak om te dink dat hierdie dinge net vir Israel bedoel is, eerder as vir al die nasies deur Israel. T.s.v. tekste soos Eks. 34:6 en Deut. 7:7-8, het hy gedink Israel verdien beter as die res. Jona het sy eie ongehoorsaamheid vergeet. Hy het vergeet dat die Here geduldig was met hom, dat Hy hom vergewe het en dat Hy hom nóg ’n kans gegee het (1:17, 2:10-3:1). Die probleem was dat Jona gedink het hy verdien dit, terwyl die Nineviete dit nié verdien het nie. Daarom was hy woedend toe die Here hulle nie straf nie, maar hulle red (3:10-4:2, vgl. Luk. 15:25-30).

Daar het jy dan een van die grootste oorsake van woede: hoogmoed. Ons dink ons verdien beter as ander. Soos Jona dink ons dat óns volk, stam, taal of nasie beter is as ander. Ons dink die hemel is net vir ons. Ons vergeet dat ons óók soos die res sleg, haatlik en verlore was; dat God se genade aan alle mense verskyn het; dat Hy ons nie gered het omdat ons beter is as ander nie, maar slegs omdat Hý genadig is (v.2, Matt. 28:19, Joh. 3:16, 8:12, Hand. 10:34-35, 17:26, Rom. 3:29, 10:12, 11:32, Gal. 3:28, Kol. 3:11, Tit. 2:11, 3:3, Op. 5:9, 7:9).

Jona kon dit nie raaksien nie. Daarom was hy so kwaad dat hy gewens het hy sterf (v.3). Hy was so trots op sy godsdiens en nasionaliteit, dat hy nie omgegee het dat ander mense verlore gaan nie. Oor sy dooie liggaam sou hy toelaat dat hierdie heidense ‘honde’ dieselfde God as hy aanbid en dat hulle sy broers genoem word. Hy sou eerder sterf as wat dit gebeur!

Ek wonder of óns soms so is; of ons ons taal en kultuur bo die evangelie stel? Pla dit jou as mense van ander nasies, of tale jou gemeente besoek en as die prediker die boodskap in Engels bring? Voel jy dat hierdie óns kerk is en dat mense van ander tale hulle eie kerk moet soek? Miskien nie. Maar wat ís vir jou so belangrik dat jy kwaad raak, of selfs wens om te sterf as jy dit nie kan kry nie (v.3)? Vir Jona was dit die verlossing van Israel se vyande. Hy kon dit eenvoudig nie aanvaar nie. Die Here het hom gevra of hy rede het om kwaad te wees (v.4). ‘Kan Ek nie barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wíl wees nie (Rom. 9:18)? Mag Ek My nie oor die Nineviete ontferm soos Ek My oor jóú ontferm het nie?’

Blykbaar het Jona vergeet dat die Here sy lewe gered het (Jona 2). Hy was ondankbaar. Daar het jy nóg ’n wortel van woede. Ons kyk so vas in wat ons nié het nie, dat ons vergeet van die goeie dinge wat die Here ons gee. Ons raak bv. kwaad as die vullis nie verwyder word nie, maar ons sê nie dankie vir dit wat ín die sakke is wat ons geniet het nie. Ons raak kwaad as hulle die krag, of die water afsit, maar wanneer laas het jy die Here vir hierdie gawes gedank? Ons raak kwaad as ons in die verkeer moet sit, maar het jy al die Here gedank dat Hy jou op hierdie manier van ’n ongeluk bewaar? Ons raak kwaad oor die petrolpryse, maar het jy al onlangs vir die Here dankie gesê dat jy ’n kar het?

Om woede te oorkom, moet jy ’n daadwerklike poging aanwend om die Here se goeie hand in jou omstandighede te sien eerder as wat jy woedend daarop reageer (Ef. 5:20, 1Tess. 5:18). Ek sê nie jy moet ’n blinde oog gooi vir dinge wat verkeerd is nie. Ek bedoel eerder dat jy nie op ’n sondige manier aan jou woede uitdrukking moet gee nie (Ps. 4:5). Om te verhoed dat jy op ’n sondige manier kwaad word, moet jy seker maak dat jy nooit kwaad gaan slaap nie, want anders sal die duiwel jou versoek om bitter te wees, te vloek, te skinder, mense te haat, te baklei en moord te pleeg (Gen. 4:1-8, Ef. 4:26-27, Spr. 29:22, 30:33, Matt. 5:21-22).

As jy aan die duiwel se versoekings toegee, sal dit bekend word dat jy ’n humeur probleem het. Mense sal jou vermy (Spr. 22:24). Jy sal jou in die gereg vasloop en op die einde sal jy hel toe gaan (Spr. 19:19, Matt. 5:21-22). Bely daarom jou woede as sonde. Vra vergifnis vir die sonde wat jy in jou woede gedoen het. Maak dinge reg met die mense teen wie jy gesondig het (Matt. 5:23-26, Jak. 5:16). Raak kwaad oor die feit dat jy in jou woede sondig eerder as wat jy jou woede op ander mense uithaal (2Kor. 7:11).

 

2. Die tweede klagte (v.5-11)

Henry Jackson het ’n paar weke gelede sy getuienis by ons kerk kom gee. Hy was ’n boer in Zimbabwe. Die landkommissaris en ’n paar ander mense het met ’n aggressiewe houding by sy plaas opgedaag om vir hom te sê dat hulle sy plaas van hom gaan afneem. ’n Ruk later het Henry gehoor dat die landkommissaris siek is. Hy het hom gaan besoek en vir sy genesing te bid (Luk. 6:28, 23:34, Hand. 7:60). Die Here het die man genees. Baie van die boere was kwaad toe hulle dit hoor, omdat hulle gehoop het die landkommissaris sterf.

Hulle was soos Jona. Nadat die Here die Assiriërs gered het, het Jona aan die ooste kant van die stad onder ’n skerm gaan sit. Hy wou sien of die Here hulle dalk binne die verwagte 40 dae sou straf (v.5, 3:4, Gen. 19). Hy het ’n verdraaide beeld van God gehad: hy het gedink dat die Here mense vergewe (v.2) en daarna weer sy vergifnis terugvat (v.5). Om Jona se verkeerde beeld van God reg te stel, moes die Here hom ’n les leer. God het ’n wonderboom beskik om Jona van die bloedige hitte te red (v.6). Moontlik was dit ’n kasterolie plant [Heb. qiqayon] met blare wat tot 45 cm in deursnee is.

Die Here wou nie net vir Jona van die hitte red nie, maar van homself; van sy woede en sy verkeerde gesindheid (v.6, 1). Weereens het die Here vir hom gewys dat Hy ’n genadige God is (v.2). Jona was baie bly oor die wonderboom (v.6). Hy was kwaad toe dinge nie volgens sý verwagting gewerk het nie, maar bly toe die Here hóm bevoordeel het.

Met dagbreek die volgende oggend, het die Here ’n wurm beskik om die wonderboom te laat vrek (v.7). Toe die son opkom, toe beskik die Here ’n gloeiende oostewind of sirocco (v.8, Gen. 41;6, 23, 27). Toe die son in die ooste opkom, het dit Jona se kop gesteek soos wat die wurm die plant gesteek het (v.8). Jona het oos van die stad gesit en sou dus dadelik die oggendson voel (v.5). Hy wou flou raak (v.8). Hy het gebid en gewens om te sterf (v.8, 3). Gevolglik moes die Here hom vir ’n tweede keer vra of hy rede gehad het om kwaad te wees (v.9, 4). Jona was woedend. Hy het opgetree asof hý die wonderboom geplant het en die Here dit laat vrek het (v.9). Eintlik het hy nie ’n vinger verroer om die boom te plant nie; hy het eenvoudig geniet wat die Here hom gegee het (v.10). Hy het egter gedink dat dit sy reg is om gemaklik te wees.

Daar het jy nóg ’n rede hoekom ons kwaad word: ons dink dat ons sekere regte het en as ons dit nie kry nie, dan raak ons kwaad (Est. 1:12, Dan. 3:12-13, 3:5, 5:9-13). Dit is hoekom party mense in ons land skole, busse en geboue afbrand: omdat hulle kamtig die reg het om ’n ordentlike opvoeding, vervoer en ander dienste gratis te ontvang. Ons brand nou wel nie geboue af nie, maar in wese is ons nie juis anders as hierdie mense nie. Ons ‘tantrums’ lyk net anders. Ons word kwaad vir die Here, skreeu op die vrou in lisensie-kantoor of die restaurant, sê ons kinders sleg, baklei met ons lewensmaats, vloek ander motoriste in die verkeer, skinder oor die baas en smeer mense se reputasie swart. Ons dink dat ons die reg het om gemaklik te wees, om werk te hê, om ’n bonus te kry, om vakansie te hou, om ’n goeie reputasie te hê, om waardeer te word, om plesier te hê, om suksesvol te wees en om die mense onder ons te beheer.1

Maar watse regte het jy? Van wanneer af skuld die Here jou goeie omstandighede? Al wat ons verdien, is die hel (Rom. 3:23, 6:23a). Enigiets beter as die hel is pure genade (1Kor. 4:7). Laat ons dan nie saam met Jona op ’n hopie sit en wens om te sterf as dinge nie uitwerk soos ons gehoop het nie. Sien eerder die Here se soewereine hand in die dinge wat met jou gebeur: in die wonderboom, die wurm, die oostewind, die verkeersknoop, die siekte op jou verjaarsdag, die begrafnis wat jou vakansieplanne onderbreek, die feit dat jy jou werk verloor het omdat die maatskappy sy deure toemaak, iemand wat dinge vir jou moeilik maak, die slegte land waarin ons bly, die internet wat stadig is, kragonderbrekings—alles (v.6-8, Ps. 135:6, Dan. 4:35, Ef. 1:11, Jak. 4:13-15). Gód is die Een wat hierdie dinge in jou lewe toelaat. Moet dan nie kwaad raak, of in ’n hoek sit en jouself bejammer nie. Vertrou eerder dat die Here ook hierdie situasie tot jou voordeel sal uitwerk (Rom. 8:28).

Om jouself te bejammer is lelik. Dit is ’n subtiele vorm van hoogmoed. Die persoon wat homself bejammer, lyk nederig omdat hy in die spieël kyk en sê: ‘Ek haat myself.’ Die waarheid is dat die persoon selfgefokus is. ‘Ek offer so baie op en kry nie eers ’n dankie nie. Hoekom sien niemand my moeite raak nie?’ John Piper sê:

‘…the desire of the self-pitying is not really for others to see them as helpless, but as heroes. The need self-pity feels does not come from a sense of unworthiness, but from a sense of unrecognized worthiness. It is the response of unapplauded pride.’2

Buiten dat selfbejammering ’n uitdrukking van hoogmoed is, is dit ook ’n vorm woede. Dit is die woede van ’n kind wat met gevoude arms, ’n kwaai gesig en ’n dik bek in die hoek sit en huil, omdat hy nie sy sin kon kry nie. Wanneer dit doen, is ons nie soos die Here wat wíl hê dat mense gered moet word nie (v.11, Jona 3). Die Here gee selfs meer om vir diere as wat ons vir mense omgee (v.11). Dit pla ons bv. nie as 120 000 mense hel toe gaan nie—solank ons ons koelteboom het (v.10-11). Ons sal op ’n kind skreeu, of hom half doodslaan, omdat hy ’n glas melk op ons skoon klere gemors het. Op hierdie manier stel ons koeltebome en klere bo mense wat na God se beeld gemaak is.

Kan jy sien hoe irrasioneel dit is om woedend te raak? Stry daarom met jou hele wese daarteen. Om woede te oorkom, sal dit help as jy die volgende stappe volg:

[a] Glo dat Jesus se kruisdood en die Heilige Gees jou kan help om woede en enige ander sonde te oorkom. Bely dat jou woede sonde is en vra die Heilige Gees om jou te help om dit met vrede, geduld, vriendelikheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, liefde, ontferming en vergewensgesindheid te vervang (Gal. 5:20, 22-23, Ef. 4:31-32, Kol. 3:8, 12-14).

[b] Sê vir jouself dat dit ’n dwaas en ’n swakkeling is wat sy humeur verloor en dat dit net tot rusies lei (Spr. 14:17, 29, 15:18, 20:3, 29:11, Pred. 7:9). Dit verg ’n sterk persoon om homself te beheer en kalm te bly (Spr. 16:32).

[c] Moenie skerp reageer nie, omdat dit net dinge vererger. Reageer eerder met ’n sagte stemtoon en dink mooi voordat jy antwoord (Spr. 15:1, 28, Jak. 1:19). Loop weg uit enige situasie wat jy weet jou gaan versoek om kwaad te raak. Stop die sonde terwyl dit nog klein is (Spr. 17:14).

[d] Sê vir jouself dat jy nie God se wil kan doen as jy kwaad is nie (Jak. 1:20).

[e] Bid oor die saak en vra ander mense om saam met jou te bid (Pred. 4:9-12, Jak. 5:16).

[f] Los dit vir die Here om wraak te neem en mense vir hulle sonde te straf (Ps. 37:1-11, Rom. 12:19).

[g] Moenie vriende maak met mense wat ’n kort humeur het nie: jy sal hulle maniere aanleer (Spr. 13:20, 22:24-25, 1Kor. 15:33). Vermy hulle ook op Facebook, WhatsApp en in die nuus wat jy lees, of kyk. Bedink eerder wat goed is (Fil. 4:8).

[h] Dink aan die negatiewe gevolge van woede: depressie (Gen. 4:5); ’n stukkende verhouding met God en mense (1Sam. 20:30-34, Ps. 66:18, Jes. 59:1-2, Matt. 5:21-24, 1Tim. 2:8, 1Pet. 3:7); probleme met jou hart en bloeddruk, asook ander siektes (Spr. 14:30).

Jy hoef nie soos die man in Nelspruit te wees wat by ’n graad 1 rugby wedstryd sy humeur verloor het en ’n hartaanval gekry het nie. Dit ís moontlik om woede te oorkom en jouself in toom te hou (1Kor. 10:13, 2Tim. 1:7).


1  Sien Wayne Mack, A Homework Manual for Biblical Living: Vol. 1 (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1979), 5-6

2  John Piper, Desiring God: Updated Edtion (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1986, 2003), 302