’n Sterk bemoediging om in Jesus te glo

Image result for jesus our high priest

Hebreërs 7:4-28

Almal ken die idoom wat sê: ‘Goedkoop is duurkoop’. Gestel jy moet tussen twee produkte kies. Die Chinese namaaksel kos R600, terwyl die ware Jakob drie keer die prys is. Jy is beïndruk dat jy net R600 betaal het, maar binne ’n maand breek die produk. Jy ruil dit om, maar weer hou dit net ’n maand. Uiteindelik haal jy maar die geld uit en koop jy die ware Jakob. Dit is nou al tien jaar later en die produk werk nog steeds.

Geestelik werk dit dieselfde: hoekom wil jy op iets vertrou wat nog nooit iemand in die hemel, of in ’n regte stand voor God kon bring nie? Hoekom wil jy op ’n godsdiens, jou goeie werke, of jou eie pogings vertrou as Jesus oneindig keer beter is?

 

1. Hy is die groot Hoëpriester (v.4-10)

Met ’n vervolg-film moet jy iets van die vorige film verstaan om te weet wat aangaan. Soms werk dit dieselfde met prediking. Ek wil dus gou iets oor die vorige preek sê (v.1-3), sodat jy kan weet wat aangaan.

Toe Abraham op aarde was (2000 v.C.), was Melgisedek die koning van Jerusalem en ’n priester van die Allerhoogste God (v.1). Hy was die koning van geregtigheid en vrede (v.2). Ons het geen rekord van sy geboorte, of dood nie (v.3). Ons weet nie wie sy ouers, of voorouers was nie (v.3). Hy is dus ’n ewige priester soos Jesus en die gelowiges in Op. 5:10.

Waar het Abraham hom ontmoet? In Gen. 14 het vier slegte konings Abraham se broerskind Lot gevange geneem. Abraham het hulle agterna gesit en hulle oorwin. Ná Abraham se oorwinning het Melgisedek uit Jerusalem gekom om hom te seën. Abraham het hom ’n tiende van die buit gegee (v.2).

Abraham was die vader van die Jode. Hoe groot was Melgisedek dan as selfs Abraham hom erken het en hom ’n tiende van die buit gegee het (v.4, Gen. 14:20)? Duidelik was Melgisedek groter as Abraham. Ons kan dit ook deurtrek na Levi toe. Hy was een van Abraham se agterkleinseuns. God het die priesters uit sý nageslag gekies (v.5, Num. 17, 18:6-7, 3:10, 16:40). Omdat hulle in die tabernakel, of tempel gewerk het en nie ’n ander inkomste gehad het nie, het die Here ’n wet gemaak dat die res van die volk ’n tiende van hulle gewasse, vee, goud en silwer aan die Leviete moes gee (v.5, Num. 18:21-24, 26).

Tog was dít nie die rede hoekom Abraham tiendes aan Melgisedek betaal het nie. Melgisedek was nie uit die stam van Levi nie, maar het ’n paar honderd jaar voor hom geleef (v.6). Alhoewel Abraham die wonderlike belofte van ’n groot nageslag ontvang het (v.6, 6:14), het hy tiendes aan Melgisedek betaal om te wys dat hy hom respekteer: ‘Jy is groter as ek’ (v.6). Die feit dat Melgisedek Abraham geseën het, bevestig dit: die mindere is deur die meerdere geseën (v.6-7, Gen. 14:19).

In die geval van die Leviete praat ons van sterflike priesters wat tiendes ontvang het (v.8, 23). In die geval van Melgisedek praat ons van ’n priester van wie se dood ons geen rekord het nie en wat dálk selfs soos Henog en Elia is en nie gesterf het nie (v.8, 3).

Om die twee verder te kontrasteer, kan ons sê dat Levi wat tiendes ontvang het, dit deur sy voorvader Abraham aan Melgisedek betaal het (v.9-10). Ons sien dus dat Melgisedek nie net groter as Abraham was nie; hy was ook groter as Levi.

Wat is die punt van al hierdie dinge? Jesus is ’n een-van-’n-soort priester soos Melgisedek (5:6, 10, 6:20). Hy kom nie uit die priesterlike familie van Levi nie en het ook nie enige opvolgers nie. Omdat Hy dan soveel groter as die Levitiese priesters is, was dit malligheid vir die Hebreërs om Hom vir die Ou Testamentiese priesters en offers te verruil.

Dit geld vir ons ook. Ons moet Jesus vir niks in heelal verruil nie. Party mense wil Hom vir ’n rukkie volg, maar daarna verruil hulle Hom vir die wêreld. Die Woord maak nie meer vir hulle saak nie: hulle wil dinge soos die wêreld begin doen. Hulle gee nie meer om vir die ewigheid nie. Wêreldse sukses, onmiddellike plesier, meer rykdom vir hulleself, die droom om in luuksheid af te tree en niks te doen totdat jy die dag sterf nie, het vir hulle belangriker geword as geestelike groei, ’n verhouding met Jesus, en die hemel. Hulle praat soms van die Here, maar Hy is nie in hulle lewens nie (1Joh. 2:15-17).

Ander wíl Hom nog hê, maar Hy kan nie nr. 1 wees nie. Hy moet tweede plek inneem naas hulle besige skedules, hulle kinders se skedules, hulle families wat kom kuier, hulle werk, hulle planne om geld te maak, hulle tyd om te ontspan, hulle studies. Hulle het allerhande verskonings vir hoekom hulle nie meer tyd het vir die Woord, gebed en die kerk nie, maar dit is al wat dit is: verskonings (Luk. 14:18-20). Hulle het vergeet dat die goeie dinge wat hulle geniet van die Here af kom.

Moet dus nie toelaat dat God se goeie gawes jou weggrokkel van die Gewer nie (Hos. 2:8). Kan jy iets (selfs jou eie lewe) bo Jesus stel en sy dissipel wees? Nee, jy kan nie (Luk. 14:26, 33). Kom dan met ’n berouvolle hart voor die Here en vra Hom om jou te vergewe. Dien Hom met ’n hart vol liefde soos jy ten tye van jou bekering gedoen het (Op. 2:4-5).

 

2. Hy is ’n effektiewe Hoëpriester (v.11-19)

Toe ek eenkeer die kerk se alarm wou aktiveer, toe sê ’n vriend grappenderwys vir my: ‘Jy hoef nie die alarm te aktiveer nie. Niemand sal inbreek nie; dit is teen die wet.’

Dit is hoe baie mense God se wet beskou. Hulle dink die Tien Gebooie kan hulle harte verander en hulle in ’n regte stand voor God plaas. Hulle dink dat hulle die vermoë het om die Tien Gebooie na te kom en die Here tevrede te stel. Maar wat as hulle die wet ootree en sonde doen? Ag, dan sal Here hulle vergewe en hulle weer op die pad van die wet sit om hulle plek in die hemel te verdien. As hulle net genoeg goeie werke doen, sal dit hulle sonde uitkanseleer (dit is mos hoe dit in enige normale regsisteem werk!). As hulle net weer vir ’n maand kerk toe kom, hulle tiendes bydra, die Bybel lees, vas, bid en die nagmaal gebruik, sal alles weer ‘okay’ wees.

Hulle vergeet egter dat die Here heilig is en dat Hy volmaakte gehoorsaamheid aan sy wet vereis (Matt. 5:48, Gal. 3:10). Hulle vergeet dat die Tien Gebooie nooit gegee is om ons harte te verander nie, maar om te wys hoe sleg ons is. Die wet is nie ’n vriendelike ou man wat goeie mense beloon nie, maar ’n kwaai man met ’n lat wat wys dat almal van ons gesondig het (Rom. 3:19-20, 10-12, 23). Die wet maak dat ons uitroep: ‘Ek kán nie reg doen en die Here tevrede stel nie! Jesus, help my!’ (Gal. 3:24).

Dit is dán wanneer die Vader jou hart troos en vir jou sê: ‘My Seun het die straf vir wetsoortreders gedra toe Hy aan die kruis gesterf het; Ek gee die rekord van sy gehoorsame lewe aan dié wat in Hom glo. As jy dit wil hê, is dit joune’ (2Kor. 5:21, Fil. 3:9, Kol. 2:14).

Die Ou Testamentiese priesters, offers en die wet is maar net ’n prentjie hiervan en kon nooit regtig mense se sondes wegvat, die volmaakte rekord voorsien wat hulle nodig het om voor God te staan, of hulle gewetens reinig nie (v.11, 19, 9:9, 10:1, 4, Hand. 13:39). As dit kon, sou Jesus ’n Priester gewees het uit die nageslag van Aäron. Hy is egter ’n Priester-Koning en die Messias uit die stam van Juda; ’n ewige, onsterflike en een-van-’n-soort Priester volgens die orde van Melgisedek (v.11, 13-17, Gen. 49:8, 10, Ps. 110:4, Matt. 1, Rom. 6:9).1

Omdat ons ’n nuwe Priester het, het ons ook ’n nuwe wet (v.11-12). Ons staan nie meer onder die wet van diereoffers, priesters uit die stam van Levi, die tempel, Ou Testamentiese rituele soos die besnydenis, Ou Testamentiese voedselwette, die Ou Testament Sabbat en Ou Testamentiese Feeste nie (v.12, 18). Ons staan eerder onder die nuwe wet van Christus (1Kor. 9:21).

Nadat Moses die volk uit Egipte gelei het, het hulle deur die water getrek en daarna deur die woestyn tot by die berg waar God hulle sy wet op kliptafels gegee het (Eksodus). Nadat Jesus uit Egipte gekom het, het Hy deur die water gegaan en daarna deur die woestyn (Matt. 2:15, 3:16-4:1). Daarna het Hy op ’n berg gaan sit en die nuwe wet van die Koninkryk aan sy dissipels gegee (Matt. 5-7).

Jesus is die nuwe Moses. Eintlik is Hy groter as Moses (Heb. 3:1-6). Sy wet is nie op kliptafels geskryf nie. Sýne is ’n innerlike wet wat Hy op ons harte geskryf het (Heb. 8:10). Deur die Heilige Gees stel Hy ons in staat om dit te gehoorsaam (Rom. 8:4). Die nuwe wet van Christus gaan nie net oor uiterlike dade nie, maar oor ’n innerlike gesindheid (bv. Matt. 5:21-48). Dit gaan nie oor Jesus se skaduwee nie, maar oor sy liggaam wat die skaduwee gooi (Kol. 2:16-17).

Wat bedoel ek? Die wet van Christus gaan nie oor die Levitiese priesters en hulle offers nie (die skaduwee), maar oor Jesus wat ons Priester en Offer is (Heb. 7). Dit gaan nie oor die Sewendedag Sabbat nie, maar oor die rus van verlossing wat ons op eerste dag van die week, die dag van Jesus se opstanding, herdenk (Ps. 118:22-24, Matt. 11:28, Hand. 20:7, 1Kor. 16:2, Heb. 4:3, 8-10, Op. 1:10, 14:13). Dit gaan nie oor die besnydenis van die liggaam nie, maar oor weergeboorte oftewel die besnydenis van die hart (Rom. 2:28-29, Kol. 2:11-12). Dit gaan nie oor Ou Testamentiese Feeste soos die Pasga nie, maar oor Jesus ons Paaslam wat geslag is soos ons dit in die nagmaal vier (Joh. 1:29, 1Kor. 5:7-8, 11:23-26).

Ons glo dat die Ou Testament net soveel die Woord van God is as die Nuwe Testament. Die lering egter vir hoe ons die Christelike lewe moet leef, kom uit die Nuwe Testament (Matt. 28:19-20). Anders as die Hebrew Roots Movement volg ons nie die Ou Testamentiese rituele nie. Deur die krag van die Heilige Gees leef ons volgens die morele wet soos Jesus en die apostels dit in die Nuwe Testament verduidelik het (Matt. 22:37-40, Rom. 13:8-10, Gal. 5:14, 6:2).

Maar wat as ons die wet oortree? Dan vertrou ons op ’n Priester wat regtig ons sonde wegvat en ons gewetens reinig. Dit is Hý wat ons na God toe bring en ons die hoop van die ewige lewe gee (v.19, 4:16, 10:22, Ef. 2:12-13, vgl. Num. 3:10, 10:3).

Het jy hierdie hoop? Indien nie kan jy dit by Jesus kry, aangesien Hy die hoop van Israel, die hoop van die nasies, en hoop vir sondaars is (Jer. 17:13, Hand. 28:20, Rom. 15:12, Kol. 1:27, 1Tim. 1:1).

 

3. Hy is ’n ewige Hoëpriester (v.20-25)

Baie van ons het leraars en ander Christene na wie ons opkyk. Hulle sal egter nie altyd daar wees nie. En tog sal die Here se werk aangaan. So was dit in die Ou Testament. Daar was priesters, maar die dood het hulle verhinder om hulle werk voort te sit (v.23). Gevolglik moes die Here gedurig nuwe priesters aanstel. So het dit aangehou… totdat Jesus aarde toe gekom het.

Anders as die Levitiese priesters het Jesus nie ’n Priester geword, omdat Hy uit die regte stam gebore is nie (v.20). Hy het eerder ’n Priester geword, omdat die Vader met ’n eed gesweer het dat Hy vir ewig ’n Priester sal wees volgens die orde van Melgisedek (v.20-21, 17, Ps. 110:4).

Wat is die praktiese implikasies hiervan? Die verbond wat God gemaak het dat ons sy kinders is, staan vas (v.22). Die feit dat Jesus ’n ewige Priester is wat vir altyd vir ons intree, asook die feit dat God nie kan lieg nie, waarborg dit (v.22, 24-25, 6:18, 9:24, Rom. 8:34, Num. 23:19, Tit. 1:2). As Jesus weer kon sterf, of as Hy kan ophou om vir jou te bid, kan jy jou redding verloor en in die toekoms uit die hemel geskop word. Dit kan nie gebeur nie!

Hoekom lê die outeur soveel klem op hierdie punt? Dit is nie hoofsaaklik om vir jou geloofsekerheid te gee nie. Hy probeer eerder sê: ‘As jy op jou nakoming van die wet, of enige van jou eie pogings vertrou, sal jy nooit seker wees dat jou sonde vergewe is, of dat jy hemel toe gaan nie. Jy sal altyd wonder of jy genoeg gedoen het. As jy egter op Jesus vertrou, kan jy seker wees dat jy gered is, omdat Hy vir ewig lewe om vir jou in te tree, omdat die Vader sy kruisdood aanvaar in die plek van dié wat op Hom vertrou, en omdat die Vader Hom nooit sal wegwys nie.’

Jesus red nie halfpad nie. Hy red volkome; Hy red tot aan die einde toe; Hy red vir ewig (v.25). Kom na die Vader deur Hom (v.25, Joh. 14:6, 1Tim. 2:5)! Roep tot Hom! Vertrou op Hom! Glo in Hom! Hoop op Hom! Hoekom nog wag? Doen dit vandag! Doen dit nou! Jy het nie tyd nie! Daar is geen ander manier nie! Daar is geen ander hoop vir sondaars nie!

 On Christ, the solid Rock, I stand;
All other ground is sinking sand.

 

4. Hy is ’n volmaakte Hoëpriester (v.26-28)

Wat sal in ’n normale regsisteem gebeur as die advokaat wat jou verteenwoordig, ’n kriminele rekord het? Dit kan nie gebeur nie; in ’n perfekte regsisteem nóg minder.

Daarom moes Jesus die volmaakte Hoëpriester word: heilig, uniek, een-van-’n-soort, sondeloos, onskuldig in sy lewe, onbesmet in sy natuur, afgesonder van sondaars, ver verhewe bo alles en almal in die hemel en op aarde (v.26, Lev. 21:17-23, Ps. 16:1, Mark. 1:24; Luk. 1:35, Joh. 8:46, 2Kor. 5:21, Ef. 1:20-22, Heb. 1:1-14, 4:15, 1Pet. 2:22, 1Joh. 3:5).

Omdat Jesus dan die volmaakte Hoëpriester is, was dit nie nodig dat Hy soos die Ou Testamentiese priesters eers ’n offer vir sy eie sonde moes bring nie (v.26-27). Dit is ook nie nodig dat Hy op ’n daaglikse basis vir óns sondes moet offer nie, omdat Hy dit eens en vir altyd aan die kruis gedoen het (v.27, 9:12, 25-26, 28, 10:10-14). God se eed staan: Jesus is nie ’n menslike priester vol sonde nie, maar ’n ewige en volmaakte hoëpriester en die Seun van God (v.28).

Vir 33 jaar het Jesus Hom aan menslike swakhede soos honger, dors, moegheid en die dood onderwerp (Rom. 8:3). Nou is Hy verheerlik en volmaak (v.28, 2:10, 5:9). Hy is geklee met ’n lang kleed soos ’n Priester en het ’n goue band om sy bors soos ’n Koning (1:13, Dan. 10:5, Lev. 8:7). Sy hare is soos sneeu en wit wol om te wys dat Hy rein is (Op. 1:14, Jes. 1:18, Dan. 7:9). Sy vlammende oë wys dat Hy alles sien (Op. 1:14, Dan. 10:6, Rom. 2:16). Sy voete soos gesmelte koper wys dat Hy sy vyande vertrap (Op. 1:15, 14:19, Ps. 110:1, Dan. 10:6). Sy stem is soos die golwe van die see, soos donderweer en soos die Victoria-valle in vloed (Op. 1:15, 14:2, Eseg. 43:2, Dan. 10:6). Sy Woord is soos ’n skerp tweesnydende swaard in sy mond (Op. 1:16, 19:15, Heb. 4:12). Die glans van sy gesig is soos die son wat op sy helderste skyn (Op. 1:16, Matt. 17:2, Hand. 26:13-15).

As jy nie voor hierdie Jesus buig, in Hom glo, Hom aanbid, Hom liefhet en jou hele lewe aan Hom wy nie, is dit omdat jy nog nie gesmaak en gesien het dat die Here goed is nie. Indien jy egter die waarheid aangaande Hom ken en nog steeds jou rug op Hom draai, is daar vir jou geen hoop nie. Jy is die grootste sot op aarde.


1  Israel se priesters was uit die stam van Levi. 2Sam. 8:18 praat egter van Dawid se seuns—Dawid was uit die stam van Juda—as priesters. Het Dawid dn die wet oortree? Ek dink nie so nie. ’n Vergelyking met 1Kron. 18:17 dui aan dat Dawid se seuns administrateurs oor die priesters was.