Emosionele Probleme: Vrees vir Mense

People pleaser

Matteus 26:69-75

Vyf honderd jaar gelede was daar ‘n Protestantse Christen genaamd Thomas Cranmer (1489-1556). Hy het die evangelie liefgehad en die Woord van God getrou verkondig. Toe die nuwe Katolieke koningin—Bloody Mary—die troon bestyg, toe raak sy ontslae van die Protestante. Sy het Cranmer in die tronk laat toesluit. Sy het haar Katolieke handlangers gestuur om hom emosioneel te boelie.

‘Jy moet hierdie dokument onderteken en jou Protestantse geloof verloën. As jy dít doen, sal jy weer die aartsbiskop van Cantebury wees.’ Hy het geweier om die dokukment te onderteken, maar die dreigemente het erger geraak. Uiteindelik het dit so erg geraak, dat hy onder die druk geknak het. Hy het sy Protestantse geloof verwerp en erken dat die Katolieke reg is.

Bloody Mary het besluit om hom in elk geval op die brandstapel te vermoor. Voor sy teregstelling het sy ’n Katoliek gestuur om vir hom te sê: ‘Wanneer jy verbrand word, moet jy voor almal erken dat die Protestantse geloof vals is, dat jy jou rug daarop draai, en dat jy die Katolieke geloof aanneem.’ Cranmer het ingestem.

Toe die dag aanbreek en Cranmer op die brandstapel staan, toe sê hy: ‘Ek is jammer vir wat ek gedoen het. Ek was verkeerd.’ Die Katolieke het bly geraak. ‘Ek was verkeerd om my Protestantse geloof te verloën,’ het hy voortgegaan. ‘Ek moes dit nooit gedoen het nie. Die Pous is die Antichris. Ek verwerp hom en die Katolieke Kerk se vals leerstellings.’ Die Katolieke was woedend, maar hulle kon niks doen nie, aangesien hy in elk geval verbrand sou word.

Cranmer het sy hand uitgesteek en gesê: ‘Omdat ek met hierdie hand die dokument onderteken het, sal ek dit eerste verbrand.’ Hy het sy hand in die vuur gesteek. Daarna het die Katolieke vir Thomas Cranmer verbrand.

Ek is seker dat almal van ons op een of ander tydstip mense gevrees het. Jy was bang wat ander van jou sou dink, dat hulle nie meer van jou sou hou nie, dat hulle jou sou verwerp, of dat hulle jou sou seermaak. Gevolglik het jy nie opgestaan teen dit wat verkeerd is nie. Jy het nie jou mond oopgemaak vir wat reg is nie. Petrus was so en daarom het hy die Here verloën. Kom ons kyk na sy storie en sien wat ons daaruit kan leer.

 

1. Die eerste verloëning (v.69-70)

Soos die res van die dissipels was Petrus oortuig dat hy nooit vir Jesus sou verloën nie (v.35). Dit was die begin van sy val (1Kor. 10:12, Gal. 6:2). Omdat hy selfversekerd was het hy geslaap en nie die nood gesien om te bid dat hy nie in die versoeking sou kom nie (v.40-41, 43, 45). Sy biddeloosheid was die volgende stap tot sy val (6:13).

Toe die soldate gekom het om Jesus te arresteer, toe pluk Petrus sy swaard uit om Jesus te beskerm (v.51, Joh. 18:10). Maar op die einde toe vlug hy saam met die res van die dissipels (v.56). Later het hy Jesus gevolg. Hy het dit egter op ’n afstand gedoen, omdat hy bang was (v.58). Johannes het saam met Petrus gevolg (Joh. 18:15). Hy het saam met Jesus in die hoëpriester se huis ingegaan (Joh. 18:15).

Petrus was te bang en het buite gewag (v.69). Omdat Johannes die hoëpriester geken het, het hy laasgenoemde se diensmeisie gevra om Petrus in te laat (Mark. 14:66, Joh. 18:16). Petrus wou nie in die hoëpriester se huis ingaan nie en het dus in die binnehof bly sit (v.69). Die mense teenwoordig het ’n vuur gemaak, omdat dit koud was (Joh. 18:18). Petrus het saam met hulle gesit om homself warm te maak (Mark. 14:67, Luk. 22:55). Hy wou nie saam met Johannes by Jesus wees nie, omdat hy gevrees het hulle sou vermoed dat hy een van Jesus se dissipels is.

Terwyl Petrus langs die vuur gesit het, kom die diensmeisie wat hom ingelaat het (v.69, Joh. 18:17). Toe sy Petrus se gesig in vuur se lig sien, toe sê sy: ‘Jy is een van sy dissipels; jy was saam met Jesus die Galileër van Nasaret’ (v.69, Mark. 14:67, Luk. 22:56, Joh. 18:17). Hy het dit voor almal ontken: ‘Ek ken Hom nie,’ het hy gesê. ‘Ek is nie een van sy dissipels nie’ (v.70, Luk. 22:57, Joh. 18:7).

Soms is ons soos hy: ons sal eerder ’n leuen vertel, of ‘n ander sonde doen as wat mense ons verwerp, seermaak, of nie van ons hou nie (v.70, vgl. Gen. 12, 20, 26). Kom ek gee jou ’n paar voorbeelde. Om mense se fronse te vermy, sal ons:

  •  Ongehoorsaam wees (1Sam. 15:24). Ek onthou hoe ek jare gelede agter ’n stadige trok moes ry. Ek was bang dat die mense agter my ongeduldig sou raak. Ek het toe die trok oor ’n wit streep verbygesteek.
  • Dronk word, dwelms gebruik, rondslaap, Jesus verloën—enigiets dat die groep ons tog net moet aanvaar (Ps. 1:1, Luk. 22:55).
  • Mense uitskuif as die persone vir wie ons bang is ’n probleem met hulle het (Gal. 2:11-14).
  • Saam met die stroom gaan (Eks. 23:2, Mark. 15:15, Hand. 24:27, 25:9). Ons sal saam met die res van die wêreld sê dat aborsie en homoseksualiteit reg is.
  • Jesus nie openlik bely nie (bv. deur die doop), of bang wees om ander van Hom te vertel (Rigt. 6:27, Matt. 10:26, 28, 33, Joh. 3:2, 5:44, 7:13, 9:22, 12:42-43).
  • Swak gehalte werk lewer en net werk as jou baas of die onderwyser kyk (Kol. 3:22).
  • Wens om te sterf (1Kon. 19:2-4).
  • Mense boelie of uit die weg probeer ruim, omdat jy hulle vrees (Eks. 1:12-14, 1 Sam.18:12, 15, 29).
  • Skynheilig wees, omdat ons mense probeer beïndruk (Matt. 6:1-6, 16-18, 1Tess. 2:4).

 Om mense te vrees, is geen ligte saak nie. Dit laat ons in ’n vangnet van sonde beland (Spr. 29:25). Op die einde vat dit ons hel toe as ons uit vrees vir mense se opinies besluit om die Here nie te volg nie (Matt. 10:33, Op. 21:8).

 

2. Die tweede verloëning (v.71-72)

Nadat Petrus gesê het hy ken nie vir Jesus nie, was hy tussen die duiwel en die diep blou see. Hy wou vlug (v.71), maar hy wou ook weet hoe dinge met Jesus sou uitdraai (v.58). Hy het besluit om na die hek toe te loop, sodat niemand hom verder sou uitvra nie (v.71). Terwyl hy daarheen geloop het, toe kraai die haan vir die eerste keer (Mark. 14:68). Toe hy ’n rukkie by die hek was, toe kry hy koud sodat hy besluit het om weer by die vuur te staan (Joh. 18:18, 25a). ’n Ander diensmeisie het hom gesien en vir die mense by die vuur gesê: ‘Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret; hy is een van sy dissipels’ (v.71, Luk. 22:58).

Hierdie keer het Petrus dit met ’n eed ontken (v.72). Hy het die Here se Naam gebruik om ’n leuen te vertel (Lev. 19:12). ‘Ek ken die man nie!’ het hy gesê (v.72). ‘Ek weet nie waarvan jy praat nie; ek is nié een van sy dissipels nie’ (Luk. 22:58). Petrus het Jesus ‘die man’ genoem om homself sodoende van Hom te distansieer. Dit is een van die bewyse dat ons mense vrees: ‘Ons raak kwaad as hulle ons sonde uitwys. Ons sal hoog en laag sweer dat ons iets nie gedoen het nie, terwyl ons in ons harte wéét dat ons dit gedoen het.’

Maar dit is nie die enigste bewys dat ons mense vrees nie. Om te weet of jy mense vrees, kan jy jouself die volgende vrae afvra:

Vis jy vir komplimente? Praat jy selfs negatief oor jouself, omdat jy eintlik wil hê mense moet sê: ‘Moenie so hard op jouself wees nie—jy is ’n wonderlike mens!’? Is jy bang om ander mense naby jou toe te laat en vriende te maak, omdat jy bang is hulle verwerp jou? Oorreageer jy op kritiek? Maak dit jou kwaad en depressief, omdat jy wil hê mense moet van jou hou? Oor-verduidelik jy jouself, omdat jy nie wil hê mense moet sleg dink van jou nie? Jy kan bv. nie net sê jy gaan laat wees, of jy kan nie meer kom nie: jy moet ’n ellelange verduideliking gee.

Vermy jy konflik ten alle koste, eerder as om dit op te los (Matt. 18:15)? Dagdroom jy oor hoe jy beroemd is en mense van jou praat? Sukkel jy om besluite te neem, omdat jy bang is mense stem nie saam nie? Sukkel jy om ‘nee’ te sê? Is jy m.a.w. oorbetrokke, selfs al weet jy jy gaan jouself uitbrand? Jy sal jouself eerder uitbrand en in die hospitaal beland as wat mense nie van jou nie.

Raak jy angstig en depressief as jy oor sekere mense dink? Fokus jy meer op die uiterlike wat mense kan sien as op die innerlike waar net die Here sien? Watse kar jy ry, watse klere jy dra, hoe jy lyk, hoe suksesvol jy is, is m.a.w. vir jou belangriker as hoe dit met jou siel gaan.

Jy kan seker agterkom dat daar bittermin mense is wat kan sê hulle vrees nie mense nie. Selfs ’n ekstrovert soos Petrus het mense gevrees.

 

3. Die derde verloëning (v.73-75)

Omtrent ’n uur na die tweede verloëning (Luk. 22:59) het die hoëpriester se dienskneg—’n familielid van die man wie se oor Petrus afgekap het (Joh. 18:26, 10)—vir Petrus gesê: ‘Het ek jou nie saam met Jesus in die tuin gesien nie? Jy was verseker saam met Jesus; jy praat dan soos ’n Galilieër’ (Luk. 22:59, Joh. 18:26). Die res wat daar gestaan het, het dit beaam en gesê: ‘Hy is reg; jy is verseker een van sy dissipels. Jou Galilese aksent gee jou weg.’ (v.73, Mark. 14:70).

Petrus het homself begin verwens (v.74). Hy het vloeke op homself neergeroep om hulle te oortuig dat hy nie lieg nie. Hy het dinge gesê soos: ‘Ek sweer in die Here se Naam, ek ken nie die man van wie julle praat nie! Mag die Here my doodslaan as ek lieg!’ (v.74, Mark. 14:71).

Onmiddellik het die haan vir ’n tweede keer gekraai (v.75, Mark. 14:72). Jesus het omgedraai en Petrus in die oë gekyk (Luk. 22:61). Toe dit gebeur, toe onthou Petrus Jesus se woorde: ‘Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.’ (v.34). Volgens Markus sou Petrus Jesus drie maal verloën voordat die haan ’n tweede keer kraai (Mark. 14:30, 68, 72).

Hoe moet ons Matteus en Markus se weergawes met mekaar versoen? Volgens Mark. 14:35 het die Jode die aand in vier nagwake verdeel: aand (18:00-21:00), middernag (21:00-24:00), haangekraai (24:00-03:00) en vroegoggend (03:00-06:00). In Matteus sê Jesus wanneer Petrus Hom sal verloën (voordat haangekraai uitloop, m.a.w. voor 03:00 die oggend), terwyl Hy volgens Markus vir hom gesê het hoeveel keer die haan sou kraai (twee keer).

Toe die haan gekraai het, het Petrus uitgegaan, in trane uitgebars, en bitterlik of onbedaarlik [Gk. klaiō] gehuil (v.75, Mark. 14:72). Volgens die Griekse teks het hy gehuil en gehuil en gehuil en gehuil. Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën (v.34). Hy het voor die tyd vir Petrus gebid en geweet dat hy berou sou hê en dat hy hom sou bekeer (Luk. 22:31-32).

Daar is vergifnis as jy mense vrees en selfs as jy die Here verloën het. Jesus het aan Petrus verskyn en Hom vergewe (Mark. 16:7, Luk. 24:34, 1Kor. 15:5). Petrus het gesukkel om dit te aanvaar. Sy sonde het hom gepla, maar Jesus het hom nie gelos nie. Net soos Petrus Hom drie maal langs ’n koolvuur verloën het (v.69-75, Joh. 18:18), het Hy Petrus drie maal langs ’n koolvuur gevra of hy Hom liefhet (Joh. 21:9, 15-17). So het Jesus bevestig dat Hy vir Petrus vergewe het en het Hy hom daar en dan herstel (Joh. 21:19).

Na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag het Petrus so vreesloos en dapper soos ’n leeu geword (Hand. 2-5, vgl. Spr. 28:1). Dit is dan wat jy nodig het om die vrees vir mense te oorkom: jy moet met die Heilige Gees gevul word (sien ook Stefanus in Hand. 6-7). Hoe word jy met die Gees gevul?

Bowenal moet jy weergebore word. Almal wat weergebore is, hulle bekeer en in Jesus glo, ontvang die Heilige Gees (Hand. 2:38, Rom. 8:9, Tit. 3:5-6). Daarna moet jy jou lewe vul met die Bybel wat deur die Heilige Gees geïnspireer is (Ef. 5:18, Kol. 3:16, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:19-21). Bid dat Hy jou sal vul (Luk. 11:13). Onderwerp jou aan sy leiding om ’n God-vresende karakter te hê en die Bybel te gehoorsaam (Rom. 8:4, Gal. 5:16, 25). Doen dit op ’n daaglikse basis. As jy dit nie doen nie, sal jy, voordat jy dit weet, weer in die strik trap om mense te vrees. Petrus het, sodat Paulus hom in die openbaar moes teregwys (Gal. 2:11-14).

Om die vrees vir mense te oorkom, moet jy ook God se grootheid verstaan. Peins oor sy karakter in Ps. 139 en Jes. 40. Praat baie met Hom. Luister na R.C. Sproul se reeks, The Holiness of God, of lees die boek. Hoe beter jy die Here ken, hoe meer sal jy Hom vrees (Deut. 17:19). En hoe meer jy Hom vrees, hoe minder sal jy mense vrees (Luk. 12:4-5).

Om die Here meer te vrees, moet jy ook tyd maak om groot dinge in die skepping te bewonder: rotse, bome, berge, die see, storms, sterre, olifante, walvisse—dinge wat jou laat klein voel en jou laat besef dat die Here groot is (Jes. 51:12-13, Jer. 5:22). Dit sal ook help as jy van tyd tot tyd by die begraafplaas ’n draai maak, of by ’n begrafnis onthou dat die mens stof is (Ps. 146:3-4, Jes. 2:22, 51:12). Jy hoef nie bang te wees vir stof nie (Ps. 118:6, Heb. 13:6). Dink ook daaraan dat mense se opinies nie ’n verskil sal maak op die oordeelsdag nie. Die Here gee nie om wat mense van jou gedink het nie. ‘Wat dink die Here van my?’ is die vraag wat jy jouself moet afvra (1Kor. 4:3-5). Is jou gewete skoon? Indien wel, kan die honde maar vir die maan blaf: die maan sal aanhou blink.

Om die vrees vir mense te oorkom, moet jy hulle liefhê (1Joh. 4:12, 17-18). Iemand wat mense vrees, is bekommerd oor wat hulle van hom dink (so asof hierdie mense die hele dag aan jou dink). Iemand wat ander liefhet, wonder hoe hy hulle kan bedien en gee nie om oor wat hulle van hom dink nie. Hy vergeet van homself, omdat hy op die Here en op sy naaste fokus. As jy mense vrees, raak jy hulle skoothondjie wat toertjies moet doen om die koekies van hulle guns te wen. Jy raak hulle slaaf in plaas daarvan dat jy ’n slaaf van Jesus Christus is (1Kor. 7:23, Gal. 1:10).

Hoekom nie liewer die Here vertrou om jou teen mense se fronse te help nie (Spr. 29:25, Ps. 56:4-5, 10-12)? Bid gereeld om nie mense te vrees nie, maar God. As jy die Here vrees, sal Hy jou met ’n lang lewe, beskerming, voorspoed en vrede seën (Deut. 6:24, Spr. 8:13, 9:10, 10:27, 19:23, 22:4).

Nog ’n manier om die vrees vir mense te oorkom, is om jouself te herinner dat jy nooit almal tevrede kan stel nie. As hulle sleg gepraat het van Jesus, sal hulle sleg praat van jou (Matt. 10:25). As almal goed praat van jou, is dit miskien omdat jy so sleg is soos hulle (Luk. 6:26)

Jy kan nie almal tevrede stel nie. Maar jy kan die Here tevrede stel. Hoe doen jy dit? God is tevrede met sy perfekte Seun (Matt. 3:17, 17:5). As jy op Jesus vertrou en in Hom glo, sal die Vader jou deur sy Seun se perfekte lewe en kruisdood sien (2Kor. 5:21, Heb. 11:6). Sodoende beskou Hy jou as iemand wat sondeloos volmaak is. Namate jy meer soos Jesus word en God se wil doen, sal Hy ook al hoe meer tevrede met jou wees (Ef. 5:10, Kol. 1:10, 1Tess. 4:1).

Is dit nie op die ou end wat jy wil hê nie: om God se guns te hê, al aanvaar mense jou nie? Of wil jy eerder hê mense moet jou aanvaar, terwyl die Here kwaad is vir jou? Ek kies die eerste opsie. Ek wil soos John Knox (1514-1572) wees. Toe hy begrawe is, het Graaf van Morton van hom gesê: ‘There lies one who in his life never feared the face of man…’1 John Howie het dit beaam: ‘[Knox’s] faithfulness in reproving sin…showed he was not awed by the fear of man’.2

My gebed is dat die Here ons so sal maak. Eintlik bid ek nie om soos John Knox te wees nie. Ek wil soos Jesus wees. Selfs sy vyande het geweet dat Hy Hom nie aan mense se opinies steur nie (Matt. 22:16).


1  John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 63

2  Ibid., 64