Emosionele Probleme: Vrees

Related image

Lukas 8:22-25

Wat is jou grootste vrees? Iemand wat jy ken, bose geeste, die see, ‘n soort dier (bv. ‘n spinnekop), hoogte, die donker, die toekoms, om te bestuur, ‘n tandarts, om voor mense te praat, die dood, of wat? Is dit ‘n vrees wat jy al vir jare het, sodat jy sê: ‘Ek kán dit nie oorkom nie?’ Volgens die Bybel kán jy dit oorkom net soos wat Jesus se dissipels húlle vrees oorkom het en soos wat baie gelowiges deur die geskiedenis dit gedoen het.

 

1. Vrees vir die skepping (v.22-24a)

Die See van Galilea is ‘n varswater meer in die noorde van Israel. Dit is 21 km lank en 13 km breed; die helfte van die Vaaldam se grootte. Een middag toe die son sak, toe klim Jesus en sy dissipels in ‘n vissersboot op die See van Galilea (v.22, Mark. 4:35). Omdat die skare die hele dag om Hom was, wou Hy net ‘n bietjie wegkom (Matt. 8:19, 23, Mark. 4:36). Hy wou ook oor die See vaar om twee demoon-besete mans te red (8:26-39). En dan wou Hy natuurlik ook die storm stilmaak om vir sy dissipels te wys wie Hy regtig is.

Nadat hulle ‘n entjie gevaar het, toe raak Jesus agter in die boot op ‘n kussing aan die slaap (v.23, Mark. 4:38). Dit wys net hoe moeg Hy was nadat Hy vir ‘n hele dag vir die skare moes preek (v.1, 4, 19). Dit wys ook dat Hy nie kleingelowig was nie, maar dat Hy geglo het sy Vader is in beheer van die storm. Laastens wys dit dat Hy waarlik mens was, terwyl sy beheer oor die natuur vir ons wys dat Hy waarlik God is. Om sy beheer oor die natuur beter te begryp, sal dit help as jy iets van die See van Galilea verstaan.

Die See van Galilea is 209 meter onder seevlak. Dit is die laagste varswater meer op aarde. Koue lug kom oor die berge wat die see omring en druk dan deur die smal klowe tot in die vallei (soos beeste deur ‘n drukgang). Die vallei bak die hele dag in die bloedige son, wat maak dat warm lug styg. As die koue- en die warm lug mekaar ontmoet, bots dit en veroorsaak dit geweldige warrelwinde, of windstorms. Dit gebeur sonder enige waarskuwing.

Die dissipels het dus nie die storm sien kom nie. Die wind het gemaak dat die golwe oor die boot se lae kante breek, sodat dit begin het om vol te word (v.23, Mark. 4:37). As die boot moes tiep of sink, was die dissipels daarmee heen. Hulle het dit geweet en was vreesbevange. In hulle desperaatheid het hulle Jesus wakker gemaak en Hom gevra om hulle te red (v.24a, Matt. 8:25). Tog het hulle nie regtig geglo Hy kan dit doen nie, want as hulle geglo het, sou hulle vrees verdwyn het. Duidelik het hulle ook nie verwag dat Hy die storm gaan bedaar nie (v.25).

Toe hulle Hom wakker maak, het hulle Hom ‘Meester’ genoem (v.24a). Hulle het geweet dat Hy ‘n fantastiese Leermeester is, maar hulle het nog nie verstaan dat Hy die Skepper is wat die wind en die see beheer nie (Kol. 1:17, Heb. 1:3). As hulle dit verstaan het, sou hulle nie in v.24a gesê het: ‘Ons (Jesus inkluis) vergaan’ nie. Hulle sou nie gedink het dat die skepping groter is as die Skepper nie. Hulle sou nie vir Jesus blameer en gesê het: ‘Gee U nie om dat ons vergaan?’ nie (Mark. 4:38).

Hulle sou eerder soos Bethan Lloyd-Jones gereageer het. Soos die dissipels was sy baie bang vir storms. Sy en haar man Martyn het in Aberavon in die suide van Wallis gewoon. Die Suid-Weste wind het Aberavon al vantevore tot ‘n einde gebring.

Bethan het ‘n kalender gekoop om die getye dop te hou, sodat sy kon weet wanneer die storms kom. Toe Martyn een aand uit was en sy alleen met die baba by die huis was, toe kom die storm. Sy was buite haarself van vrees. Sy het koors gekry en in die bed rondgerol. Sy het gedink: ‘Wat as die gety tot by die huis kom? Sal ek en die baba betyds kan ontsnap? Sal ek uit die venster, of op die dak kan klim?’

In haar hopeloosheid het sy op haar knieë langs die bed neegesak en gebid: ‘Here, as alles waar is en U regtig daar is, antwoord my gebed; gee my asseblief vrede en vat al my vrees weg.’ Terwyl sy bid, het haar vrees verdwyn en het die Here haar hart met sy perfekte vrede gevul. Nooit weer het sy die wind, of die getye gevrees nie. Binne twee minute het sy aan die slaap geraak.1

In daardie opsig was sy soos Jesus en kon sy rustig slaap. Jy kan ook rustig slaap (Ps. 3:6, 2, 4:9, 121:3-4, 127:2, Spr. 3:24, Hand. 12:6, 2-4). Dit is nie nodig dat jou vrese jou in die nag wakker hou nie. Gee dit in gebed vir die Here, maar moenie daarop fokus nie. Moet bv. nie soos Bethan Lloyd-Jones ‘n kalender koop om die getye dop te hou as dit juis die ding is waarvoor jy bang is nie. Moenie tot laat in die aande voor jou CCTV skerm sit, die koerant lees, die misdaadblad op Facebook dophou, of moord films kyk as jy die dood vrees, of as jy bang is skelms kom in jou huis in nie. Moet jouself ook nie toelaat om oor jou vrese te dagdroom nie. Gee dit liewer vir die Here en los dit daar.

Memoriseer verse wat met jou spesifieke vrees te doen het en sê dit vir jouself op as jy bang is. Herinner jouself daaraan dat die Here in beheer is van die dinge waarvoor jy bang is en dat niks in die skepping groter is as Hy nie. Kom ek gee jou ‘n paar voorbeelde:

[a] Vrees jy verwerping, vyande, misdadigers, of boelies by die skool en by die werk? Die Here is met jou en sal met jou vyande afreken (Ps. 27, 56, Matt. 10:28). Ek sal in die volgende preek ‘n hele studie oor vrees vir mense doen.

[b] Vrees jy mense van ander nasies (xenofobie)? God is soewerein oor die nasies (Ps. 22:29, Hand. 17:26).

[c] Vrees jy om te verdrink, of te versmoor? Vrees jy die dood—jou eie, of ‘n geliefde s’n—in enige vorm? Jesus het die dood oorwin en sal met jou wees as jy sterf (Ps. 23:4, 1Kor. 15:55, Heb. 2:14-15, Op. 1:18).

[d] Vrees jy die duiwel, of bose geeste? God het hulle oorwin en is soewerein oor hulle (Job 1:12, 2:6, Matt. 4:10, 8:29, 31, Kol. 2:15, Jak. 2:19, 1Joh. 3:8).

[e] Vrees jy die natuur: storms, die wind, die see, vuur? Jesus beheer dit (v.22-25, Ps. 46:3-4, 135:6, Dan. 3).

[f] Vrees jy diere: spinnekoppe, muise, honde, wilde diere? Die Here beheer hulle (Eks. 7-11, Jona 1-4, Dan. 6).

[g] Vrees jy hoogte, of diepte? Dit is in die Here se hande en kan jou nie van sy liefde skei nie (Ps. 95:4, Rom. 8:38-39).

[h] Vrees jy die donker? God het dit geskep (Jes. 45:7). Vir Hom is dit so helder soos die dag (Ps. 139:11-12).

[i] Vrees jy slegte nuus? Slegte dinge kan net met jou gebeur as die Here dit toelaat (Klaagl. 3:37-38). Moet daarom nie slegte nuus vrees nie, maar vertrou die Here (Ps. 112:7).

[j] Vrees jy iets wat in die verlede gebeur het? Gee dit in gebed vir die Here (Ps. 25:7). Ek gaan binnekort hieroor preek.

[i] Vrees jy die toekoms; die onbekende? Die Here beheer die toekoms en weet alles; niks is vir Hom onbekend nie (Jes. 46:9-10, Matt. 6:34).

[j] Vrees jy beproewings? Moenie bang wees nie (Spr. 3:25-26). Die Here bring dit in jou lewe om jou karakter te vorm en om jou te bevoordeel (Jak. 1:2-4). Geen beproewing kan jou van sy liefde skei nie (Rom. 8:35).

[k] Vrees jy siekte en hospitale? Siekte en gesondheid is in die Here se hande (Eks. 15:26, Deut. 32:39, 2Sam. 12:15).

[l] Vrees jy dat die Here nie sy beloftes sal nakom nie? God kan nie lieg nie (Tit. 1:2, Heb. 6:18).

[m] Vrees jy om te vlieg, of te bestuur? Is jy m.a.w. bang vir ongelukke? Sogenaamde geluk en ongeluk is in die Here se hande. Niks gebeur toevallig nie (1Sam. 6:7-12, Spr. 16:33).

[n] Vrees jy die regering en vervolging? God is die Koning van die konings en gebruik die regering om sy soewereine wil uit te voer (Spr. 21:1, Joh. 19:10-11, Hand. 4:27-28, Op. 19:16).

[o] Vrees jy armoede; om nie geld te hê nie? Die Here maak ryk en Hy maak arm (1Sam. 2:7).

[p] Is jy bang om voor mense te praat? God het die mens se mond gemaak; Hy kan jou help om te praat (Eks. 4:10-12). Wat kan ‘n mens buitendien aan jou doen (Heb. 13:6)?

[q] Vrees jy om alleen oud te word? Die Here sal jou nie verlaat nie, maar Hy is met jou tot aan die einde (Ps. 71:9, 18, Jes. 46:3-4, Heb. 13:5).

[r] Vrees jy slaaploosheid? Sien weer Ps. 3:6, 4:9, 121:3-4, 127:2.

Jy hoef niks te vrees nie. Dit geld ook vir dinge wat ek nie genoem het nie: om te trou, om kinders te hê, hysbakke, dat jou kinders ontvoer sal word, mislukking, teleurstelling, ens. Die Here is groter as al hierdie dinge. Dit beteken egter nie jy kan teen 250 km/h op die snelweg ry sonder om bang te wees nie. Daar is ‘n verskil tussen iemand wat vreesloos is en iemand wat roekeloos en waaghalsig is (Matt. 4:5-7). As jy die Here vrees sal jy juis nie roekeloos wees nie, maar jy sál vreesloos wees.

 

2. Vrees vir die Skepper (v.24b-25)

Martyn Lloyd-Jones was vir 30 jaar die leraar van Westminster Chapel in Londen. Op Sondag, 18 Junie 1944 was hy besig om in die kansel te bid. Die Duitsers het V-1 bomme oor Londen laat reën. Een van die bomme se sirene het so hard geraas, dat Lloyd-Jones homself nie kon hoor bid nie. Die bom het naby die kerk ontplof en die voorportaal se venster uitgeblaas. Stukkies van die plafon het uitgeval. Die mense kon hoor hoe die kerkgebou se struktuur kraak. Die hele gemeente het soos een man op hulle voete gestaan. Lloyd-Jones het vir ‘n paar sekondes stilgebly en toe verder gebid, asof niks gebeur het nie.2 Hy was kalm, omdat hy geweet het sy Vader is in beheer. Eintlik het hy maar net Jesus se voorbeeld gevolg.

Toe die dissipels Jesus wakker maak, het Hy nie angstig opgespring om die storm en die dissipels te kalmeer nie. Hy het eerder rustig opgestaan en vir die dissipels gevra hoekom hulle kleingelowig en bang is (Matt. 8:26). Net soos iemand wat ‘n wilde perd tem, het Jesus die weghol storm aan die stang gevat en dit tot bedaring gebring. Nadat Hy die storm stilgemaak het, toe vra Hy weer vir die dissipels hoekom hulle kleingelowig en angstig is (v.25, Mark. 4:40).

Hy vra dieselfde vir jou en vir my: ‘Hoekom vrees jy? Glo jy nie Ek is soewerein nie? Glo jy nie dat Ek in beheer is van die dinge wat jy vrees nie? Ek het o.a. Luk. 8 in die Bybel gesit om vir jou te wys dat ek in beheer is van die natuurlike en die bonatuurlike (v.22-39), van siekte en die dood (v.40-56).’

Jesus wil nie hê jy moet kleingelowig wees soos die dissipels nie (v.25). Hy wil hê jy moet weet dat dinge soos inbrekers, die dood, duiwels, siekte, spinnekoppe, storms en die res van die skepping nie kan doen wat hulle wil nie, maar dat dit onder sy soewereine beheer is (Ps. 103:19, Matt. 28:18, Ef. 1:22, vgl. lys onder punt nr. 1 hierbo).

Om sy soewereine mag te wys, het Jesus twee woorde gespreek om die storm stil te maak (Mark. 4:39). Toe Hy klaar gespreek het, was daar nie eers ‘n rippeling op die water, of ‘n luggie wat roer nie (v.24, Matt. 8:26). Die dissipels moes weet dat Jesus die God van Ps. 29:3-4, 89:9, 107:29 is; die God wat die wind en die see beheer.

Hulle was bang en verwonderd. ‘n Mens sou dink dat hulle vrees weg sou wees toe Jesus die storm bedaar het. Maar dit was erger (v.25, Mark. 4:41). Dit was ‘n ander tipe vrees; nie ‘n slaafse vrees soos vir die storm nie, maar ‘n heilige eerbied en respek; die tipe vrees wat alle ander vrees verdryf (Spr. 14:26a). Die dissipels het besef dat hulle met iets anders te doen het; met iets wat hulle nie voorheen geken het nie. Hulle het te doen gehad met die Heilige van God; met Iemand wat in ‘n klas van sy Eie is (v.25, Matt. 8:27, Mark. 1:24).

Dit is omdat ons dit nie meer besef nie, dat ons ander dinge vrees. As ons ‘n hoë beeld van Christus gehad het (ek bedoel nie net in ons teologie nie, maar in ‘n persoonlike belewenis van Hom), sou ons sonder vrees gelewe het. Ons moet die sin van God herwin wat mense soos Henog, Moses, Jesaja, Paulus, Johannes Calvyn, John Knox, Jonathan Edwards, Martyn Lloyd-Jones, A.W. Tozer en R.C. Sproul gehad het. Ons benodig ‘n groot teologie van God, maar ons het meer as dit nodig. Ons moet bid dat die Here ons met Homself sal oorweldig; dat Hy sy Gees opnuut oor ons sal uitstort, sodat ons vervul kan word met al die volheid van God (Ef. 3:16-19). Ons moet weer ons oupas se God ontmoet: die soewereine Here van hemel en aarde.

Dalk sê jy: ‘Ek twyfel nie dat die Here in beheer is nie. Ek is juis bang omdat Hy in beheer is. Wat as Hy besluit om slegte dinge soos inbrekers, armoede, siekte, egskeiding, of ‘n rebelse kind in my lewe toe te laat?’ Jy het ‘n verkeerde beeld van God se soewereiniteit. God se soewereiniteit staan nie los van sy goedheid, liefde en wysheid nie. Wanneer slegte dinge dan met jou gebeur, moet jy nie dink die Here weet nie wat Hy doen nie, dat Hy van jou vergeet het, of dat Hy nie vir jou omgee nie.

Die Here weet en Hy gee om. Jy is sekerlik nie ‘n beter ouer as Hy nie, is jy? Jy sal nie aspris slegte dinge in jou kind se lewe toelaat, net omdat jy weet hy dit vrees nie. Jy sál dit egter toelaat as dit hom gaan bevoordeel (bv. ‘n inspuiting om sy lewe te red). En sal die Here nie partykeer slegte dinge in jou lewe toelaat om jou te help nie?

‘Maar hoe help dit my as ‘n inbreker by my huis inkom?’ wonder jy. Ek weet nie. Dít is waar ons moet leer om die Here te vertrou en te weet dat Hy dit nie sou toelaat as Hy nie iets goed in gedagte gehad het nie (Gen. 50:20, Rom. 8:28).

Kan jy nou sien dat dít die oplossing vir al jou en my vrese is, naamlik dat ons die Here moet ken? Ons moet weet dat Hy almagtig en soewerein is; dat Hy goed, liefdevol en wys is. Ons moet ook onthou dat Hy deur die ergste storms by ons in die boot is. Onthou ook dat Hy onveranderlik en getrou is. Soos Hy jou in die verlede gehelp het, sal Hy jou deur hiérdie beproewing help. Vertrou Hom.

Omdat John Paton ‘n hoë siening van God gehad het, het hy dit verstaan. Paton was ‘n Skotse sendeling na die Suid-See Eilande in die 1800’s. Toe die kannibale hom omring het om hom dood te maak, het hy saggies tot die Here gebid. Skielik toe kom daar ‘n onbeskryflike vrede in sy hart. Hy skryf:

‘I realized that I was immortal till my Master’s work with me was done. The assurance came to me, as if a voice out of Heaven had spoken, that not a musket would be fired to wound us, not a club prevail to strike us, not a spear leave the hand in which it was held vibrating to be thrown, not an arrow leave the bow, or a killing stone the fingers, without the permission of Jesus Christ, whose is all power in Heaven and on Earth. He rules all nature animate and inanimate, and restrains even the Savage of the South Seas.’3

John Paton se God is jóú God. Hy is dieselfde God wat 2000 jaar gelede die storm op die see laat bedaar het. Hy is die God wat in 2Tim. 1:7 vir jou sê: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Hy is die God wat jou meer as ‘n honderd keer in die Bybel beveel om nie bang te wees nie, ‘want’ sê Hy, ‘Ek is met jou.’


1  Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1982), 239

2  Ibid., Vol. 2 (The Fight of Faith), 114-115

3  John G. Paton: Missionary to the New Hebrides (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1889]), 207