Volle geloofsekerheid

Related image

Hebreërs 6:9-20

Ron Edmonds was ‘n gelowige wat graag mense vir die Here wou wen. Ongelukkig was hy vasgevang in die ‘altar call’ sisteem waarin die evangelis mense vorentoe roep, hulle in ‘n gebed lei, en hulle dan verseker dat hulle Christene is. Toe hy sien hoe massas mense ‘tot bekering kom’ en gou weer wegval, het hy begin wonder of jy jou redding kan verloor. Uiteindelik het hy sy eie redding begin betwyfel. Sy vrees was so erg, dat hy gedink het hy is verhard. Hy het geglo hy kán nooit weer gered word nie.

Hy het sy vriende om hulp gevra, maar niemand kon hom help nie. Hy het homself met Skrifgedeeltes probeer troos, maar dit het nie gehelp nie. Hy het geweet dat God se beloftes waar is, maar het gedink dat hy uitgesluit is en dat dit nie vir hóm is nie.

Na ‘n lang worsteling het hy vir Martyn Lloyd-Jones (1899-1981) gaan sien. Lloyd-Jones het hom aangesê om weekliks onder die prediking van die Woord te sit. Dit het ‘n bietjie gehelp, maar sy angs het nie dadelik weggegaan nie. Vir die volgende paar maande het hy na elke diens met Lloyd-Jones gepraat. Onder sterk gereformeerde en evangeliese lering, het hy berusting gevind.1

Dit is presies wat die Hebreërskrywer met sy lesers wou doen. Nadat hy hulle in v.4-8 teen die onvergeeflike sonde gewaarsku het, het hy hulle in v.9-20 bemoedig om nie oor hulle redding te twyfel nie. Om hulle te help om sekerheid te kry, het hy vir hulle gesê wat hulle moet doen, asook hoe hulle God se beloftes moes beskou.

 

1. Jou kant (v.9-12)

Ek het by twee verskillende geleenthede te doen gehad met gelowiges wat geglo het die evangelie is waar, maar wat gedink het dat hulle nie uitverkies is nie. Party mense sal uitverkiesing hiervoor blameer, maar dit is nie hoe die Bybel dit sien nie. Volgens 2Pet. 1:10 móét jy seker maak jy is uitverkies. Hoe kan jy hiervan seker maak? Glo in Jesus en groei in Christelike kwaliteite soos ‘n Godvresende lewe, selfbeheersing, volharding, liefde, ens. (2Pet. 1:5-8). Jy moet m.a.w. jou kant bring. Dit beteken nie dat jy deur jou eie pogings gered word nie, maar eerder dat jy seker kan wees jy is ‘n gelowige as jy soos een lewe.

Die Hebreërskrywer kon uit sy lesers se lewens sien dat hulle nie die afvalliges van v.4-6 is nie, maar dat hulle God se geliefde kinders is (v.9). Hulle het nie maar net ‘n geestelike ervaring gehad (v.4-5), terwyl hulle lewens toegegroei was met die dorings en distels van sonde nie (v.8). Hulle het eerder die vrug van bekering gedra (v.7, Matt. 3:8, Gal. 5:22-23).

Om hierdie rede was die outeur in húlle geval van beter dinge oortuig; dinge wat saamhang met verlossing (v.9). Al moes hy hulle dus in v.4-8 ernstig waarsku, was dit nie omdat hy gedink het hulle is ongered nie (v.9). Die Here het óók nie so gedink nie (v.10). Hy het hulle diensbare lewens raakgesien en sou hulle daarvoor beloon (v.10, Matt. 10:42, Rom. 2:6-7, 10).

Dit beteken weereens nie dat die Here ons red omdat ons goed lewe nie (Ef. 2:8-9), maar eerder sodat ons goed sal lewe (Ef. 2:10). Die Hebreërs het dit verstaan: hulle het nie goed gelewe omdat hulle hulle redding wou verdien nie, maar omdat hulle die Here liefgehad het (v.10). Hulle het liefde bewys deurdat hulle die Here en ander gelowiges gedien het (v.10, Joh. 14:15, Gal. 5:13, 1Joh. 3:16-18, 4:21).

Volgens die outeur het hulle dit met volharding gedoen (v.10). Dit is jammer dat party Christene nie dieselfde doen nie, maar dat hulle ophou dien wanneer hulle ouer word. Hulle redenasie is: ‘Ek het dit vir jare gedoen; nou is dit die jong mense se beurt.’ So word hulle deel van die groep van wie ‘n Skotse vrou eenkeer gesê het: ‘…very few men, and very few ministers, keep up to the end the edge that was on their spirit at the first.’2

Toe hulle jonger was, was hulle baie meer getrou, maar nou het hulle traag geraak (v.12, 5:11). Sou dit nie beter gewees het as hulle vir die jong gelowiges ‘n voorbeeld gestel het van hoe dit gedoen word nie (v.10)?

Moenie die wedloop op ‘n drafstappie eindig nie. Hardloop voluit. Gee jou beste vir die Here. Beywer jou om volle geloofsekerheid te verkry (v.11). Dalk sê jy: ‘Ek wéét ek is gered.’ Maar hoe weet jy dit as Jesus nie meer vir jou eerste is nie (v.10)? Selfs al ís jy seker van jou redding, geniet jy dit nie soveel soos jy kan nie, omdat Jesus nie meer jou eerste liefde is nie. Bid, streef, soek en sug om weer die volle blydskap en vrede van ‘n verhouding met Jesus te hê (v.11). Moenie jaloers wees op die mense wat betrokke is en getrou dien in die gemeente nie. Volg eerder hulle goeie voorbeeld (v.11-12, 13:7, 1Kor. 4:16, 11:1, Fil. 3:17).

As jy die Here vurig liefhet, die gemeente met ywer dien en tot aan die einde van jou lewe vrug dra, sal jy nie twyfel of jy gered is, of nie (v.10-11). Jy sal nie hoef te vrees dat jy miskien een van die afvalliges van v.4-8 is nie. Jy sal wéét dat jy aan die Here behoort en dat die hoop van die hemel joune is (v.11).

Dit is moontlik om gered te wees sonder dat jy sekerheid het. Dit sal egter ‘n droewige lewe vol van twyfel en vrees wees. Wat sal die gevolge daarvan wees? Jy sal nie die Here met vurige ywer dien nie (Rom. 12:11), maar jy sal geestelik traag wees (v.12). Dit is te verstane. Hoe kan dit anders wees as jy dink: ‘Ek is nie gered nie; die hemel is nie vir my nie. Wat help dit dan ek hardloop, aangesien ek dit tot aan die einde sal maak nie’?

Iemand wat so redeneer, sal nie sy beste gee om die Here te dien, of deel te wees van die gemeente nie (v.10-12). Hy sal die heletyd eenkant wees, totdat hy op die einde moed opgee en dit oorweeg om sy eie lewe te neem.

Hoekom nie eerder die goeie voorbeeld volg van mense soos Henog, Noag, Abraham, Moses, Dawid, Paulus, Timoteus, Andries Rossouw, Etrechia de Villiers en ander wat nie morbied in hulle eie naeltjies vasgekyk het nie, maar wat hulle oë op die wenstreep gehou het en geduldig gewag het op die vervulling van die belofte en die erfdeel van die hemel (v.12, hfst. 11, 13:7)?

Bowenal moet jy jou oë op Jesus hou (12:2). Leer uit sy voorbeeld in die Bybel en sien hoe Hy nie soos party mense voor die einde opgegee het nie, maar die wedloop voltooi het. Byt vas my liewe gelowige. Volhard tot die einde (v.12, 3:6, 14, 10:36, Matt. 10:22, Kol. 1:23). Moenie na die vlees, die duiwel en die wêreld luister as hulle vir jou sê om die handdoek in te gooi nie. Lê jou twyfel aan Jesus se voete en glo sy belofte dat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe het (v.12, Joh. 3:16, 36, 6:47, 1Joh. 5:11-13).

Hoe kan jy weet of jy regtig in die Seun van God glo? Kan jy eerlik sê dat jy die Here liefhet? Kan ander mense dit in jou lewe sien, omdat jy die Here en sy kinders dien (v.10, Matt. 25:31-46)? Glo jy God se beloftes, sodat jy met verlange op die hoop van die hemel wag (v.11-12)? Word jou lewe m.a.w. gekenmerk deur geloof, hoop en liefde (v.10-12, 1Kor. 13:13, Kol. 1:4-5, 1Tess. 1:3, 5:8)?

 

2. God se kant (v.13-20)

Lionel wil R90 000 by Rina leen. Hy belowe om haar die helfte van sy polisgeld te gee (R250 000) wanneer dit oor ses maande uitbetaal. Om sy belofte vas te maak, sweer hy by sy kat se nege lewens. Rina is nie tevrede nie, omdat die kat enige dag kan doodgaan. Lionel sweer dus by die Bybel en sê dat die Here hom kan doodslaan as hy lieg. Dit klink goed, maar omdat Lionel al in die verlede vir Rina gelieg het, glo sy hom nie en leen sy nie vir hom die geld nie.

Hoe weet jy jy kan die Here vertrou? Hoe weet jy Hy lieg nie vir jou as Hy die ewige lewe belowe aan elkeen wat in sy Seun glo nie? God is die grootste en betroubaarste Persoon in die heelal. Toe Hy dus seën en ‘n groot nageslag aan Abraham belowe het, kon Hy nie by iemand groter as Homself sweer nie (v.13-14, Gen. 22:16-17, Deur. 32:40, Ps. 106:26).

Selfs toe Abraham 25 jaar moes wag (Gen. 12:2-4, 21:5), het hy geweet dat die Here sy belofte sal vervul en daarom het hy geduldig gewag (v.15, 12). Eintlik het hy nie die vervulling van die belofte in sý leeftyd gesien nie (11:13). Ná sy dood eers het God die Israeliete vermeerder. Selfs dít was egter nog nie die volkome vervulling van die belofte nie. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy ‘n ontelbare menigte uit alle nasies verlos. Vir eeue reeds is Hy besig om hulle deur die evangelie te red en hulle deel van Abraham se nageslag te maak (Gal. 3:7-9, 14, 16, 29, Op. 7:9).

As Abraham die Here hiérin kon vertrou, kan jy sekerlik sy belofte glo dat Hy jou die ewige lewe sal gee as jy in sy Seun glo. Hoekom twyfel jy? As ‘n betroubare mens op sy erewoord sweer en die Here tot getuie roep, aanvaar jy dit en gooi jy die bietjie twyfel wat jy oorgehad het in die wind (v.16). As die Here egter ‘n eed sweer by die hoogste Naam wat bestaan (sy eie), wonder jy of jy Hom kan vertrou (v.17). Is dit omdat Hy ‘n leuenaar is, of al in die verlede vir jou gelieg het?

Leer die Bybel nie vir ons dat God in die diepte van sy wese waaragtig en getrou is nie (10:23, Deut. 32:4, Ps. 36:6, 86:5, Klaagl. 3:23, Rom. 3:4, 1Tess. 5:24, 2Tim. 2:13, 1Pet. 4:19, Op. 19:11)? Sê die Bybel nie vir ons dat God nie kán lieg nie (v.18, Num. 23:19, 1Sam. 15:29, Tit. 1:2)? En is die Bybel self nie die ware Woord van God en die standaard van alle waarheid nie (Ps. 12:7, 119:137, 142, 144, 151, 160, Spr. 30:5, Joh. 17:17)?

Hoekom twyfel jy dan dat dié wat in die Seun glo hemel toe gaan en dat hulle erfgename van die belofte is (v.17, 12)? Jy hoef nie te twyfel nie. God verander nie; sy raadsplan om dié te red wat in sy Seun glo, ook nie (v.17-18, 1:12, 13:8, Mal. 3:6, Jak. 1:17, Ps. 33:11, Spr. 19:21, Jes. 14:24, 27, 46:9-11, 54:10, Ef. 1:11).

‘Ja, maar ek voel nie gered nie,’ sê jy. Waar sê Bybel dat ‘n mens se redding op sy emosies gebaseer is? ‘Dra jy die vrug van bekering?’ is die vraag wat jy jouself moet afvra (v.7, 10). Selfs dít is egter nie die basis van jou redding nie. Die vraag is eerder of die Here betroubaar is, of nie. Sal Hy dié wat in sy Seun glo, aanneem? Of sal Hy hulle verwerp? Natuurlik sal Hy hulle aanneem.

Die sterk sekerheid van ‘n Christen se redding en die bemoediging om tot in die hemel te volhard, lê nie in homself nie, maar in die betroubare karakter van God (v.18). Die belofte is vir elkeen wat in Jesus kom skuiling soek het teen die storm van God se oordeel wat op pad is (v.18, Spr. 18:10).

Glo jy in Hóm? Skuil jy in Hóm? Vertrou jy op Hóm? Sien jy Hóm as jou enigste hoop om gered te word? Dan kan jy seker wees dat jy gered is: “ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het” (v.19-20).

Wat beteken hierdie verse? In antieke Mediterreense hawens was daar groot klippe wat langs die kant gestaan het. Dit het bekend gestaan as anchoria in Latyn en agkura in Grieks. Om die skip te help om makliker tot in die hawe te kom, het ‘n man ‘n tou aan een van die groot klippe vasgemaak en dit met ‘n roeiboot na die skip toe vat. Hierdie man het as ‘n ‘voorloper’ bekend gestaan. Die skip se bemanning het die tou by die voorloper gevat en die skip tot in die hawe getrek.3

Dit is blykbaar die prentjie wat die Hebreërskrywer gebruik. Jesus is ons Vaste Hoop, ons Voorloper en ons Anker in die hawe van die hemel (v.19-20, Kol. 1:27, 1Tim. 1:1). As ons aan Hom vashou, sal die skip van ons lewens dit maak deur die beproewings, vervolgings en versoekings van hierdie lewe.

In die Ou Testament het die hoëpriester een keer per jaar agter die voorhangsel van die tabernakel, of tempel ingegaan om vir die volk se sondes te bid (9:7). In die Nuwe Testament is Jesus ons Hoëpriester (v.20). Toe Hy aan die kruis gesterf het, toe skeur God die tempelgordyn van bo na onder (Matt. 27:51). Jesus het in die Allerheiligste van die hemel ingegaan waar Hy nóú vir ons intree (v.19, 4:14, 7:25, 9:23-24, 10:19-20).

Solank as wat Jesus lewe om vir jou in te tree, is jy veilig en kan jy nie jou redding verloor nie. Glo jy dit? Of wil jy om een of ander rede glo dat ‘n Christen sy redding kan verloor? Glo jy dat jou eie redding onveilig is, omdat jy te veel op jouself en jou sonde fokus, in plaas van op Jesus?

Fokus op Jesus. Hy is nie ‘n hoëpriester soos Aäron en sy nageslag wat deur die dood verhinder is om vir die volk se sondes te offer nie (7:23). Hy is eerder ‘n Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (v.20, Gen. 14:18-20, Ps. 110:4). Ek sal in die volgende preek vir jou verduidelik wat dit beteken. Vir nou is dit genoeg om te weet dat jy net jou redding kan verloor as God ‘n leuenaar is, of as Jesus ‘n mislukking is. Dit kan nie gebeur nie en daarom kan jy nie jou redding verloor nie (Joh. 6:37-39, 10:28-29, Rom. 8:28-30, 38-39, Ef. 1:13-14, Fil. 1:6, 1Pet. 1:4-5).

Ek hoop dit bemoedig jou soos wat dit vir John Bunyan (1628-1688) bemoedig het. Nadat hy vir meer as twee jaar in die ergste graad oor sy redding getwyfel het, het die Heilige Gees hom aan Rom. 3:24 herinner: “en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

Volgens Bunyan was dit asof die Here die volgende woorde vir hom gesê het: ‘Sinner, you think that because of your sins and infirmities I cannot save your soul; but behold, my Son is by Me, and upon Him I look, and not on you, and shall deal with you according to My pleasure with Him.’4


1  Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 410-412

2  Marjory Bonar aangehaal in ibid., 714

3  Stuart Olyott, I Wish Someone Would Explain Hebrews to Me (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2010), 79-80

4  John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners (Springdale, PA: Whitaker House, 1993), 148-149