Die onvergeeflike sonde

Related image

Hebreërs 6:1-8

Die sonde waarvan ons in Heb. 6 lees, is dieselfde as die onvergeeflike sonde, of die sonde teen die Heilige Gees waarvan ons in Matt. 12:32 lees. Wat is hierdie sonde en hoe weet jy of jy dit gepleeg het?

 

1. Aanmoediging (v.1-3)

Almal het al gesien hoe ouers ‘n baba aanmoedig om te begin loop. Net so het die Hebreërskrywer sy Joodse lesers aangemoedig om nie by die fondasie van die Ou Testament te bly nie, maar om met die stene van die Nuwe Testament te begin bou (v.1, 5:13-14). Wat is die fondasie waarhede van die Ou Testament?

[a] Bekering uit dooie werke (v.1) 

As iemand God se wet oortree, verdien hy die dood (9:14, Eseg. 18:4, vgl. Rom. 7:9-11, 2Kor. 3:6-7). Daarom het die profete die volk gewaarsku om hulle te bekeer (Eseg. 14:6, 18:23, 30, 32).

[b] Geloof in God (v.1)

Redding deur geloof alleen het nie in die Nuwe Testament ontstaan nie; dit kom van die Ou Testament af (Gen. 15:6, Hab. 2:4).

[c] Die leer van die doop (v.2)

Die Griekse woord vir doop [baptismōn] staan in die meervoud en beteken letterlik ‘dope’ of ‘wassinge’. Dit gaan nie hier oor die doping met die Heilige Gees én die waterdoop nie; die doop van Johannes die Doper én die doop van Jesus nie (vgl. Hand. 19:1-6). Dit gaan eerder oor Ou Testamentiese wassinge (9:10). Ons sien bv. in Lev. 16:4, 24, 26, 28 hoe die priester homself met water gereinig het.

[d] Handoplegging (v.2)

In die Ou Testament het die priester sy hande op die offerdier se kop gelê (Lev. 1:4, 3:8, 13, 16:21). Dit het gesimboliseer dat hy die persoon se sonde op die dier oordra.

[e] Die opstanding van die dode (v.2)

Ou Testamentiese tekste soos Job 19:26-27, Ps. 16:10-11, 49:16, 71:20, Jes. 26:19, Dan. 12:2 praat van die opstanding van die dooies.

[f] Die ewige oordeel (v.2)

Job 19:29, Ps. 96:13, Pred. 11:9, 12:14, Jes. 2:10-21 praat van die ewige- of die finale oordeel.

Die outeur probeer sy lesers oortuig dat die Nuwe Testament nie téén die Ou Testament is nie, maar dat dit ‘n voller openbaring daarvan is. Vir die lesers om dus die rug op Jesus te draai en terug te keer na Ou Testamentiese rituele en offers is nie progressie nie, maar agteruitgang. Daarom moes die lesers nie by die melk van die Ou Testament bly nie, maar aanbeweeg na die vleis van die Nuwe Testament (v.1-3, 5:11-14). Dit kon net het gebeur het as die Here dit toelaat (v.3). Wat bedoel die outeur hiermee? As die lesers aangehou het om die rug op Jesus te draai, sou die Here hulle aan hulle sonde oorgee en hulle harte verhard (v.4-6).

Beteken dit dat iemand wat in ‘n kultus vasgevang is en sê dat Jesus nie die ware God is nie (bv. die Jehova’s Getuies) die onvergeeflike sonde gepleeg het? Nie noodwendig nie. Die Here red tog mense uit hierdie dwalinge. Iemand wat egter vir baie jare in ‘n goeie kerk sit, elke week die evangelie hoor, sien hoe die Heilige Gees mense se lewens verander, ervaar hoe God die gemeente se gebede op ‘n bonatuurlike wyse beantwoord en dán sy rug op Jesus draai, is skuldig aan die onvergeeflike sonde.

Moet dus nie die Jesus van die Nuwe Testament vir ‘n laer klas Jesus verruil nie (2Kor. 11:4). In stede daarvan dat ons terugdraai, laat ons as ‘n gemeente vorentoe gaan in ons verhouding met die Here. Sorg in die eerste plek dat jou hart en gewete skoon gewas is op grond van Jesus se kruisdood en deur die Heilige Gees (1Kor. 6:11, Tit. 3:5). Gebruik dan die genademiddele van Hand. 2:42—die Woord, die gemeenskap van die gelowiges, die nagmaal en gebed—om die Here beter te leer ken en in ‘n verhouding met Hom te groei. Vra die Heilige Gees om jou te help om die Bybel te gehoorsaam. As jy dít doen, hoef jy nie bang te wees dat jy die onvergeeflike sonde sal pleeg nie, aangesien jy in die teenoorgestelde rigting hardloop.

 

2. Waarskuwing (v.4-6)

‘n Man het eenkeer vir my gesê dat my preke ‘n harde reënbui is en nie die sagte reën wat hy nodig het nie. Ek dink ook soms dat my preke meer soos sagte reën moet val (bv. Deut. 32:2). En tog moet jy verstaan dat die Bybel nie altyd sag praat nie, maar dat God se stem soms soos donderweer klink (bv. Eks. 19:19, 20:19-20).

Heb. 6:4-6 is só ‘n teks. Volgens die outeur is dit onmoontlik vir mense wat teen die Heilige Gees gesondig het, om vergewe te word (v.4). Hoe kán hulle, as hulle deur die werk van Gees besef het dat Jesus die Seun van God is, en dan die rug op Hom keer? As jy Jesus verwerp, verwerp jy die enigste Verlosser en kán jy nie gered word nie. Ek bedoel nie dat elkeen wat Jesus laster en sê dat Hy nie Seun van God is, hierdie sonde pleeg nie. Paulus het Jesus verwerp en gelaster en tog het hý tot bekering gekom (1Tim. 1:12-16).

In die verse voor ons gaan dit oor ‘n spesifieke tipe persoon. Dit gaan hier oor iemand wat baie geestelike voorregte geniet en dit op die einde verwerp (v.4-6). Hy is soos die Israeliete in die woestyn (Heb. 3-4). Hulle het God se krag gesien in die tien plae, die Rooi See, die wolk- en die vuurkolom, manna, kwartels, water uit die Rots en God se heerlikheid op berg Sinaï. Tog het hulle nie die Here geglo nie en het hulle in die woestyn gesterf.

Ek is 100% daarvan oortuig dat die mense in v.4-6 nie ware gelowiges is nie. In v.1-3, 9-12 praat die outeur van die ware gelowiges as ‘ons’, terwyl hy die persone in v.4-6 ‘hulle’ noem. Hy gebruik ook nie die normale Nuwe Testamentiese terme vir redding nie (regverdigmaking, weergeboorte, heiligmaking, ens).

Die beskrywings wat hy in v.4-5 gebruik, is waar van elke gelowige. Jy is egter nie noodwendig ‘n gelowige, net omdat jy die dinge van v.4-5 ervaar het nie. Anders gestel: elke Bloubul sal rugby speel op Loftus, maar nie elkeen wat rugby speel op Loftus is ‘n Bloubul nie.

Die outeur probeer wys dat jy nie noodwendig ‘n Christen is, net omdat jy die regte dinge glo (v.1-3), of omdat jy ‘n kragtige geestelike ervaring gehad het nie (v.4-6). Die bewys dat iemand ‘n ware gelowige is, lê eerder daarin dat hy die Woord gehoorsaam (die vrug van bekering dra) en in die geloof volhard (v.7-12, Luk. 8:15, Joh. 8:31, 15:2, 8).

Hoe weet jy of jý hierdie tipe persoon is, of nie? Kom ons bestudeer die verse om uit te vind.

[a] Dié wat eenmaal verlig geword het (v.4)

God skyn sy lig in ware gelowiges se harte, sodat hulle oë oopgaan en hulle die evangelie verstaan (10:32, 2Kor. 4:6, Ef. 1:18). Sy lig skyn egter ook in ongelowiges se harte wanneer Hy Homself deur die skepping en hulle gewetens aan hulle openbaar (Joh. 1:9, Rom. 1:19-21, 2:14-15). Die Jode het meer lig gehad as die heidene, omdat God Homself deur sy Woord ook aan hulle bekend gemaak het (Ps. 19:7, 119:105).

[b] Die hemelse gawe gesmaak het (v.4)

Die hemelse gawe verwys waarskynlik na Jesus wat God se gawe uit die hemel is (Joh. 3:13, 31, 4:10, 6:32, 35, 51, 2Kor. 9:15). Elke gelowige smaak hierdie gawe (Ps. 34:9, 1Pet. 2:3). Die ongelowige Jode het dit ook gesmaak toe Jesus vir 33 jaar onder hulle geleef het en hulle sy lering gehoor en sy wonderwerke gesien het.

[c] Die Heilige Gees deelagtig geword het (v.4)

Ware gelowiges het deel aan die Heilige Gees (Hand. 2:38). Ongelowiges kan ook tot ‘n mate in Hom deel. Bileam was ‘n vals profeet (Num. 31:8, 15-16, 2Pet. 2:15, Jud. 11, Op. 2:14). Tog het die Gees oor hom gekom, sodat hy ‘n ware profesie gegee het (Num. 24:2). Koning Saul was ongehoorsaam en was ‘n moordenaar (1Sam. 13:13, 15:10-35, 18:8-26:25, 28:1-25, 31:4). Tog het die Gees hom vir sy taak bekragtig en het hy selfs twee keer geprofeteer (1Sam. 10:6, 10, 11:6, 19:18-24).

[d] Die goeie Woord van God gesmaak het (v.5)

Toe Jesus op aarde was, het selfs ongelowiges hulle oor sy preke verwonder (Matt. 7:28-29, Mark. 12:37). Vandag nog voel party ongelowiges die krag van die Woord wanneer dit die geheime van hulle harte blootlê (4:12-13, 1Kor. 14:24-25).

[e] Die kragte van die toekomstige wêreld gesmaak het (v.5)

Die toekomstige wêreld verwys na die nuwe aarde (2:5). Daar sal die dooies weer lewe, die blindes sien, die lammes loop en die dowes hoor.

Soos die mense in Matt. 7:21-23, het Judas hierdie kragte gesmaak. Hy het Jesus se wonderwerke gesien en het self ook wonderwerke gedoen (Matt. 10:4-8). Tog was hy ‘n duiwel, ‘n dief, het Satan sy hart gevul, het hy Jesus vir geld verraai, het hy selfmoord gepleeg en is hy hel toe (Matt. 26:14-16, 24-25, 47-50, 27:5, Luk. 22:3, Joh. 6:69-70, 12:4-6, 13:2, 27, 17:12, Hand. 1:25).

Die Hebreërs het hierdie kragte gesmaak toe die apostels wonderwerke voor hulle oë gedoen het (2:3-4). Simon die Towenaar het dit gesmaak (Hand. 8:9-24). Hy was stomgeslaan oor die wonderwerke wat Filippus gedoen het. Hy het geloof in Jesus bely en is gedoop. Tog het Petrus vir hom gesê hy gaan hel toe. Hy het vir hom gesê dat hy nie deel het aan die koninkryk van God nie, dat sy hart nie reg is voor God nie, dat hy hom van sy boosheid moet bekeer, dat vol is van die gal van bitterheid en dat hy in die bande van sonde is.

Om die kragte van die toekomstige wêreld en die res van dinge in v.4-5 te smaak, beteken nie jy is gered nie. Dit is moontlik om ná die ervarings van v.4-5 afvallig te raak van Christus en sy kerk en om verlore te gaan (v.6, 1Joh. 2:19). As iemand ná die belewenisse van v.4-5 sy rug op die Here draai, kan hy hom nooit weer van die wêreld se sondes bekeer soos wat hy voorheen probeer het nie (v.6, 1, 2Pet. 2:20-22). Dit is asof hy Jesus vir ‘n tweede maal kruisig en Hom openlik tot skande maak (v.6).

Wat beteken dit? Toe die Jode Jesus verwerp het, het hulle hom gekruisig. Hulle het nie mooi verstaan dat Hy die Seun van God is, of besef wat hulle doen nie (Luk. 23:34, Hand. 3:17, 1Kor. 2:8). Ek en jy weet egter wie Jesus is, veral as jy sy kragtige werke in die gemeente gesien het (v.4-5). As jy Hom nóú verwerp, is dit asof jy Hom ‘n tweede maal kruisig en ‘n bespotting van Hom maak (v.6). Jou sonde is ernstig en kan nie vergewe word nie (v.6).

Dalk vrees jy dat jy hierdie sonde gepleeg het: jy wens vir vergifnis. Die feit dat jy so voel, wys dat jy nie die onvergeeflike sonde gepleeg het nie. Die persoon wat hierdie sonde pleeg, is verhard en gee nie om dat hy dit doen nie. Hy glo nie meer dat Jesus die Seun van God, of die Messias is nie en sal nie na Hom toe kom vir vergifnis nie.

Dalk glo jy jy is gered, omdat jy die regte dinge glo (v.1-3), of omdat jy ‘n wonderlike geestelike ervaring gehad het (v.4-6). Moenie daarmee tevrede wees nie. As jy nie soos ‘n Christen lewe en in gehoorsaamheid volhard nie, is jy nog ongered (v.7-12). Vlug na Jesus toe en pleit dat Hy jou sal red.

 

3. Illustrasie (v.7-8)

Gestel daar lê ‘n kaal stuk grond op ‘n plaas in die Vrystaat. Hoe weet jy wat onder die grond is? Jy weet nie. Jy moet wag totdat dit reën. As die saad ontkiem en opkom, kan jy sien wat nog die hele tyd onder die grond was.

Net so weet ons nie wat in die harte is van mense wat in die kerk sit nie. Ons moet wag dat die Woord week na week soos reën op hulle val (Jes. 55:10-11). Uiteindelik sal hulle reaksie op die Woord wys of hulle ware gelowiges is, of nie. As hulle die goeie vrug van bekering dra en in gehoorsaamheid volhard, is hulle ware gelowiges en sal die Here hulle seën (v.7, 9-12, Luk. 8:8, 15). As hulle egter aanvanklik opgewonde is oor die Woord (v.4-5), maar later dorings en distels voortbring i.p.v. goeie vrugte, is hulle vals gelowiges (v.8, Luk. 8:7, 14). Die sonde wat dan aan die lig kom, was nog die hele tyd onder die grond van hulle harte (Matt. 15:19).

Hulle is soos ‘n stuk grond wat nie vrug oplewer nie. Dit deug nie en beteken niks vir die Landbouer nie (v.8). Net soos wat God die aarde in Gen. 3:17-18 met dorings en distels vervloek het, is hierdie mense se lewens naby aan die vervloeking van die hel (v.8). Die uiteinde van hulle lewens sal wees soos ‘n onvrugbare stuk grond wat met die ewige vuur verbrand word (v.8, vgl. Matt. 3:10, 12, Joh. 15:2, 6).

***

Die slotsom van Heb. 6 is nie dat ‘n ware gelowige sy of haar redding kan verloor nie (sien Joh. 6:37-40, 10:27-29, Rom. 8:28-30, 38-39, Ef. 1:13-14, Fil. 1:6, 1Pet. 1:4-5). As jy dít wil sê, moet jy konsekwent wees en sê dat die persoon dit ook nooit kan terugkry nie (v.6).

Die les is eerder dat jy ‘n egte ervaring van die Heilige Gees kan hê, sonder dat dit noodwendig ‘n reddende ervaring is.

Miskien is jy nie bang vir Heb. 6 nie. Jy dink jy kan afdwaal sonder dat daar gevolge sal wees. Maar wie sê jy gaan terugkeer? As ‘n klip teen die steilte begin afrol, kan jy nie sê of dit betyds gaan stop, en of dit oor die afgrond gaan verdwyn nie?

Moenie met sonde speel nie. As jy begin het om af te dwaal, keer terug. As jy op ‘n goeie plek met die Here is, sê vir Hom dankie en vra Hom om jou vas te hou. Dit is immers dié wat in die Here volhard, wat deel het aan Hom (3:14). Laat ons dan nie praat van ‘eens gered, altyd gered’ nie. Kom ons praat eerder van ‘eens gered, altyd volhardend’. In essensie beteken dit dieselfde, maar laat ons nie vir mense die verkeerde idee gee nie. Ons wil tog nie soos die predikant wees wat vir baie jare in seksuele sonde en geldgierigheid geleef het nie. Toe mense sy sonde uitwys en hom daaroor aanspreek, toe sê hy: ‘Ek is uitverkies; ek kan leef soos ek wil.’