Emosionele probleme: Hoogmoed

Image result for i love myself

Daniël 4

Kinders leer lesse deur stories. Verskillende kulture leer hulle mense deur stories om die kampvuur. Jesus het mense deur stories geleer. My gunsteling kategorie van lees is biografie. Ek wil die waarheid in ‘n persoon se lewe sien eerder as om abstrakte feite te probeer inneem. Sodoende onthou en verstaan ek dit makliker.

Om dieselfde rede wil ek jou nie net sekere feite oor hoogmoed leer nie; ek wil hê jy moet dit in lewende lywe sien. In Dan. 4 sien ons dit in die persoon van koning Nebukadnesar van Babilon.

 

  1. Die droom en sy vervulling(v.4-33)

Soms maak my vrou my wakker, omdat ek in my droom met skelms, honde, of bere baklei. My hart klop as ek wakker word, maar ek weet dit is net ‘n droom. Die meeste van ons dink nie ons lewens gaan uitmekaar val, omdat ons ‘n slegte droom gehad het nie.

Nebukadnesar se droom was egter nie net ‘n slegte nagmerrie nie. Dit was iets wat regtig gebeur het. Die Here het al by ‘n vorige geleentheid deur ‘n droom met hom gepraat (Dan. 2). In Dan. 4 het hy ook vermoed dat daar meer aan sy droom is as as net ‘n slegte verbeelding, omdat dit gekom het in ‘n tyd wat alles rustig en voorspoedig gaan (v.4). Nie dat rustige voorspoed opsigself verkeerd is nie, maar in baie gevalle is voorspoed gevaarliker as teëspoed, omdat ons in sulke tye maklik sê: ‘Ek is ‘n selfgemaakte mens en het daarom nie die Here nodig nie’ (Deut. 6:10-12, 8:11-17, Op. 3:17).

Dit was Nebukadnesar se probleem. Daarom het die Here hom in ‘n droom gewaarsku. Hy was bang toe hy wakker word (v.5), want diep in sy hart het hy geweet wat die droom beteken. Hy was immers nie die eerste koning met ‘n boom vergelyk is nie (Eseg. 17:22-24, 31:1-18).

Al was Nebukadnesar se wyse manne onsuksesvol in hfst. 2, het hy hulle gevra om die droom vir hom uit te lê (v.6-7). Hoekom het hy dít gedoen en nie dadelik vir Daniël gevra om die droom uit te lê nie? Hy het tog geweet dat Daniël drome verstaan (v.8-9, 18, 1:17, hfst. 2). Hy het hom nie gevra nie, omdat hy geweet het dat Daniël dinge sal sê wat hy nie wil hoor nie.

Toe die wyse manne nie sy droom kon uitlê nie (v.7), het hy nie ‘n ander keuse gehad as om Daniël te laat roep nie (v.8). Hy het hom Beltsasar genoem, na die Babiloniese god Bel (v.8, 1:7). Bel, of Bel-Marduk is afgelei van Baäl, die Babiloniese oppergod (Jes. 46:1). [Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester, Inter-Varsity Press, 1993), 368]. Nebukadnesar het geglo dat die gees van hierdie god Daniël sou help om die droom uit te lê (v.8). Hy het die droom vir Daniël vertel (v.8-10):

‘Daar was ‘n boom in die middel van die aarde. Die boom was sentraal en die belangrikste boom op aarde (v.10, vgl. Gen. 2:9). Dit was baie hoog en het al hoër gegroei, totdat dit aan die hemel gereik het en almal op aarde dit kon sien (v.10-11). Dit het mooi blare gehad, baie vrugte vir almal, koelte vir die diere en takke vir die voëls om hulle neste in te maak (v.12). ‘n Heilige boodskapper—’n engel—het uit die hemel neergedaal (v.13) en hardop aangekondig: ‘Kap die boom en sy takke af; stroop sy blare en verstrooi sy vrugte (v.14). Laat die diere onder die boom se koelte uitvlug en die voëls uit sy takke (v.14). Los die boomstomp met sy wortels in die aarde; bind dit met ‘n band van koper en yster (v.15). Laat dit tussen die gras van die veld staan (v.15). Laat dit nat word van die dou daar waar dit tussen die diere van die veld staan (v.15).’

Die boom het ‘n mens se verstand gehad wat in ‘n dier s’n verander het (v.16). Dit het vir sewe tydperke lank aangehou (v.16). Nebukadesar het gedink dat die engel hierdie dinge teen hom besluit het (v.17), maar eintlik was dit die Here (v.24). Nebukadnesar moes besef dat hy nie soewerein is nie, maar dat die Allerhoogste oor die koninkryke van mense regeer en dat Hy dit gee aan wie Hy wil (v.17). Hy vat dit by die hoogmoediges en gee dit aan die nederiges (v.17).

Daniël was vreesbevange oor die droom, omdat hy geweet het wat dit beteken (v.19). Die koning wou hom gerusstel, maar Daniël het geweet dat die droom slegte nuus inhou (v.19). Hy het dit oor Nebukadnesar se vyande gewens eerder as oor hom (v.19). Soos Nebukadnesar vermoed het, was hý die hoë boom met mooi blare, vrugte, koelte vir die diere en takke vir die voëls. Hý was die koning bo almal en sy groeiende koninkryk het gestrek tot aan die eindes van die aarde. Baie mense was van hom afhanklik (v.20-22). God sou hom egter uit die beskawing verdryf om vir sewe tydperke onder die dou van die hemel tussen die diere van die veld te woon en gras te eet soos ‘n bees (v.23-25). Hy sou in die veld bly, totdat hy die soewereine heerskappy van die Allerhoogste God erken het (v.25).

God het die engel gestuur om die boom af te kap, maar Hy het die stomp met sy wortels in die aarde gelos (v.26). Die boom sou m.a.w. weer uitspruit en groei. God moes hom egter eers verneder, omdat hy hoogmoedig was. Nebukadnesar was rustig en voorspoedig in sy paleis (v.4), terwyl sy onderdane swaargekry het (v.27). As hy hom egter ná sy vernedering bekeer het, sou die Here sy koningskap verleng (v.27).

Nebukadnesar het Daniël nie ernstig opgeneem nie. Hy het hom nie bekeer nie. Hy het gedink hy is onfeilbaar en sal nie val nie. God is geduldig, maar na twaalf maande het sy geduld opgeraak en het die koning se nagmerrie waar geword (v.28-29). Op ‘n dag het hy op die plat dak van sy paleis geloop (v.29). Hy het homself geprys vir die paleis wat hy gebou het (v.29-30). Dit is algemeen bekend dat Nebukadnesar se hangende tuine en watervalle—die terasse wat hy gebou het was 120 meter hoog—een van die sewe wonders van die antieke wêreld was.

Terwyl die koning sy eie stert geprys het, kom daar ‘n stem uit die hemel wat sê: ‘O Nebukadnesar, nou word jou koningskap van jou ontneem (v.31). Mense sal jou uit die samelewing verstoot en jy sal tussen die diere van die veld woon (v.32). Vir sewe tydperke sal jy gras eet soos ‘n bees, totdat jy erken dat die Allerhoogste oor die koninkryke van mense heers en dat Hy dit gee aan wie Hy wil’ (v.32). Dit het onmiddellik gebeur (v.33). Nebukadnesar het in die veld geleef, gras geëet soos ‘n bees en nat geword met die dou van die hemel (v.33). Daar het hy gebly totdat sy hare so lank was soos ‘n arend se vere en sy naels so dik en lank soos ‘n voël s’n (v.33).

***

Mense is hoogmoedig, omdat hulle God nie eerste stel nie. As hulle geweet het wie God is, sou hulle nie gedink het hulle is so belangrik nie. C.S. Lewis sê: ‘A proud man is always looking down on things and people: and, of course, as long as you are looking down, you cannot see something that is above you.’ [C.S. Lewis, Mere Christianity (London: HarperCollinsPublishers, 2002 [1942]), 124]. Ateïste is so: hulle dink dat hulle super intelligent is en glo dat die evolusie-teorie ‘n voldonge feit is. Die waarheid is eerder dat hulle dit uitgedink het om God uit die prentjie te kry, sodat húlle op die troon kan sit en sodat niemand vir hulle kan sê wat hulle mág en nié mag doen nie (Ps. 10:3-4 e.v., Rom. 1:19-25).

Dit was Satan se sonde, dit was Adam en Eva se sonde, en dit is vandag nog die wortel-sonde in elke mens se hart: ‘Ék wil eerste wees!’ (Gen. 3:5, Jes. 14:12-14, Eseg. 28:17, 13-16, 1Tim. 3:6). Mense se obsessie met selfies, met hoe hulle lyk, en met wat ander van hulle dink, bevestig dit. Omdat ons onsself so belangrik ag, aanbid ons die Here nie soos ons moet nie. Party mense aanbid Hom glad nie, terwyl ander ‘n god skep waarmee hulle gemaklik voel. Onder dié wat Hom wel aanbid, is daar sommige wat Hom aanbid soos húlle wil en nie soos Hý in die Bybel sê nie.

A.g.v. ons hoogmoed, dink ons ons is beter as ander en trap ons op hulle (v.4, 27). Ons dink ons verdien om uit te eet en braaivleis te geniet, terwyl die bedelaar langs die straat nie eers R1, of ‘n snytjie brood verdien nie. Ons verag enigiemand wat ons dink swakker is as ons: mans, vroue, grootmense, kinders, ongebore babas, mense van ander rasse, ou mense, arm mense. Indien ons die vermoë het en die gevolge nie te drasties is nie, onderdruk ons hierdie mense d.m.v. slawerny, apartheid, BEE, bakleiery, boelie, mishandeling, verkragting, aborsie, moord, vuil taal en meer. Hoogmoed vind ook uitdrukking wanneer ons:

  • Biddeloos is: ‘Wie het die Here nodig as ek myself het?’ (Ps. 10:4).
  • Nalaat om die Here te dank: ‘Die goeie dinge wat ek het, is nie God se genade nie, maar my verdiende loon’ (1Kor. 4:7).
  • Mense se lof soek (Matt. 6:1-2, 5, 16, 23:8-12).
  • Selfgeregverdig is en dink dat ons die hemel verdien. Dit gebeur veral as ons onsself met ander vergelyk en dink dat ons nie so sleg is soos hulle nie (Luk. 18:9-14).
  • Ons humeur verloor, of in ons huwelike, gesinne, families, gemeentes, vriendskappe en werksverhoudings baklei: ‘Ek is altyd, of ten minste meeste van die kere reg en kan nie verkeerd wees nie… Hoe durf jy mý teëgaan? Nou sal jy my toorn voel!’ (1Kor. 1:11-12, 3:4, 21, Jak. 4:1-2, 6, 10).
  • Leuens vertel om onsself beter te laat lyk as wat ons is, of om ander swart te smeer sodat ons nie so sleg lyk nie (Ps. 119:69).
  • Enige ander sonde doen.

As jy nie jou hoogmoed bely en hand en tand daarteen baklei nie, sal die Here jou van jou troontjie afbring en jou tot in die stof verneder soos Hy met Nebukadnesar gedoen het (Spr. 16:18, Luk. 1:52, Jak. 4:6). Hy kan selfs maak dat jy soos ‘n dier begin dink en optree (v.16, vgl. Ps. 73:22, Luk. 1:51, Rom. 1:28). Dan word jy soos die mense in New Orleans wat dink dat hulle ponies is [https://www.facebook.com/watch/?v=1999772466726839], of soos die vrou in New York wat dink dat ons die babas moet eet om klimaatsverandering te bestry [https://www.youtube.com/watch?v=epwUTVUwB7A].

 

  1. Bekering en lofprysing (v.1-3, 34-37)

Soms kan ‘n haelbui skade doen, maar terselfdertyd help dit die aarde, omdat dit stikstof vrystel. Op dieselfde manier kan dit tot jou voordeel wees as die Here jou verneder. Maar dan moet jy nie skop en skreeu nie, maar eerder geduldig wag totdat die Here besluit om jou te verhoog (1Pet. 5:6).

Prys die Here soos Nebukadnesar gedoen het. Na sewe tydperke het hy sy oë na die hemel opgeslaan en die Here geprys as die Allerhoogste Koning wat vir ewig en altyd regeer (v.34-35). Voorheen het hy erken dat God groter is as die ander gode (2:47, 3:28-29), maar nou noem hy nie eers die ander gode nie (v.8), omdat Jahwe die enigste God is. Voor Hom is die nasies niks (v.35, Jes. 40:15, 17). Hy doen wat Hy wil met die weermag van die hemel en onder die bewoners van die aarde (v.35, Ps. 115:3, 135:6). As Hy wil, kan Hy Nebukadnesar, keiser Nero, Hitler, Robert Mugabe, Jacob Zuma, Julius Malema, die duiwel en enige mens, of engel in ‘n oogwink verneder (v.37). Niemand kan sy soewereine raadsplan keer nie (v.35, Jes. 14:24, 27, 46:9-11, Ef. 1:11). Hy hoef ook nie rekenskap te gee vir hoekom Hy doen wat Hy doen nie (v.35), al het dit te make met moeilike dinge soos uitverkiesing en die hel (v.35, Rom. 9:20).

As jy jouself voor die Here verneder, sal Hy jou herstel sodat jy Hom met ‘n gesonde verstand kan dien (v.34, 36, 16). Hy sal Homself aan jou openbaar en die kosbare dinge van sy Woord vir jou oopbreek. Dan sal jy saam met Nebukadnesar voor Hom buig en Hom prys (v.1-3, 34, 37). Jy sal ook vir ander vertel wat Hy vir jou gedoen het (v.1-3). Jy sal nie meer in jouself, jou vermoëns, jou sukses, jou talente, jou skoonheid, jou rykdom, jou status, jou posisie, jou prestasies, jou wysheid en jou geleerdheid roem nie (v.30), maar slegs in die Here (v.1-3, 34-37, Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:31).

Het jy jouself al so verneder? Het jy al besef dat jy ‘n aaklige sondaar is wat die hel verdien en dat jy niks kan doen om die situasie te verander nie? Het jy al besef dat Jesus die situasie kan verander en dat Hy dit eintlik reeds aan die kruis gedoen het? Fokus dan op die kruis en nie op jouself nie. As jy dit nié doen nie, sal jy vergeet dat Jesus vir jóú aaklige sonde gesterf het. En as jy vergeet hoe lelik jy was voordat Jesus jou kom verander het, sal jy jouself bo ander mense verhef en op hulle neersien (Luk. 9:44-56, 22:14-24).

Alles wat ek en jy het, is genade (Joh. 3:27, 1Kor. 4:7, 15:10, Jak. 1:17). Ons het nie rede om onsself te verhef nie, maar het elke rede onder die son om die Here te dank dat Hy hoogmoedige en helverdiende sondaars kom red het. Nebukadnesar het dit besef en David Wood het dit besef.

David Wood was ‘n ateïs. Hy het geen emosie gevoel vir mense en diere wat sterf nie. Hy het geglo dat hy emosieloos was, omdat hy verder gevorder het in die evolusie-proses as ander. A.g.v. sy hoogmoed, het hy geglo dat hy mag het oor ander se lewens. Gevolglik het hy probeer om sy pa met ‘n hamer dood te slaan. Deur die Here se genade het hy in die tronk tot bekering gekom [https://www.youtube.com/watch?v=Ffac0ZfaJsQ]. Net soos wat daar hoop was vir hom, is daar hoop vir my, jou en vir die grootste narsis onder die son. Natuurlik is daar. Kyk maar na Nebukadnesar.