Sewe redes hoekom Jesus aarde toe gekom het

Image result for reason for the season

Lukas 1:67-80

Ek het hierdie week ‘n prent gesien van ‘n ‘holly berry’ krans en ‘n doringkroon. Bo die ‘holly berry’ krans staan daar: ’tis the season. Bo die doring kroon staan daar: ’tis the reason. Die volgende vraag is egter: wat is die rede hoekom Jesus aan die kruis moes sterf? In Luk. 1:67-80 gee Sagaria sewe redes hoekom Jesus aarde toe gekom het en uiteindelik aan die kruis moes sterf. Hier is hulle:

 

  1. Sodat ons Hom kan prys (v.67-68a)

Min dinge is vir my so mooi soos ‘n Janfrederik, of ‘n Lyster wat vroeg op ‘n somersoggend sing. Dit is asof hulle die dag met ‘n loflied wakker maak. Sagaria was so. Hy kon vir meer as 9 maande nie praat nie (v.20). Toe die Here uiteindelik sy mond oopmaak, het hy dadelik ‘n loflied gesing (v.64, 67).

Sagaria was ‘n opregte en gehoorsame priester; die pa van Johannes die Doper (v.5-6, 59-63). Uit sy loflied in v.68-79 is dit duidelik dat hy vol was van die Ou Testament. Hy was ook vol van die Heilige Gees (v.67, vgl. 1:15, 41, 46-47, 2:27, 36-38, 3:22, 4:1, 14, 18, Joël 2:28). Die Gees het hom gevul om die Here, die God van Israel te prys (v.68a). Die lof het uit sy hart geborrel, omdat God sy gebed verhoor het en aan hom ‘n seun gegee het (1:7, 13). Verder het hy God geprys omdat Johannes ‘n profeet en die voorganger van die Messias sou wees (v.14-17, 67). Bowenal het hy die Here geprys vir die Messias wat op pad was om sy verdrukte volk te red.

Lofprysing moet ook deel uitmaak van ons daaglikse lewens. As jy die Here nie prys nie, is jy soos ‘n jagluiperd wat nie hardloop nie, ‘n arend wat nie vlieg nie, ‘n voël wat nie sing nie, ‘n vis wat nie swem nie, ‘n boom wat nie vrugte dra nie en die son wat nie skyn nie. Jy doen m.a.w. nie waarvoor die Here jou geskep en verlos het nie, naamlik om Hom te prys. Jy is soos ‘n briljante wiskundige wat nooit sy brein ten volle gebruik nie, omdat hy sy dae deurbring om blokkiesraaisels in te vul.

Dalk sê jy: ‘Ek verstaan nie hoekom ek die Here moet prys nie. Ek weet dit is seker nie die regte ding om te sê nie, maar ek is net eerlik.’ Die rede hoekom jy nie ‘n behoefte het om die Here te prys nie, is omdat jy Hom nie ken nie (ten minste nie soos jy moet nie). Jy het nog nooit stilgestaan en God vir die wonder van sy skepping geprys nie. Jy is te vasgevang in die gejaag na geld, of in die tegnologie van ons samelewing.

Of miskien geniet jy die skepping, maar jy oortuig jouself dat die natuur per toeval (a.g.v. evolusie) so wonderlik is. As jy die Here as die Skepper van hierdie dinge erken het, sou jy nie anders kon as om Hom te prys nie.

Nóg ‘n rede hoekom mense nalaat om die Here te prys, is omdat hulle nie die genade van sy vergifnis en die verligting van ‘n skoon gewete ken nie. Hulle verstaan nie die evangelie nie—die boodskap van Jesus se kruisdood vir sondaars. Dit verveel hulle om daarna te luister. As hulle egter die voordele daarvan ontvang het, sou hulle nie anders kon as om saam met Sagaria in lof uit te breek en die Here te prys nie.

Miskien is jy ‘n gelowige, maar jy is te bang om erken dat jy nie ‘n begeerte het om die Here te prys nie. Dalk kan jy nie die soetheid van die Here geniet nie, omdat jou mond vol is van die grond van sonde. Bely jou sonde en ervaar opnuut die Here se vergifnis, sodat jy Hom kan prys.

Miskien is dit nie sonde wat keer dat jy die Here prys nie. Dalk moet jy net meer tyd in die Woord en gebed deurbring. Moenie net op ‘n Sóndag na die Woord luister nie. Dit is soos om net van ‘n mooi blommetuin te hóór. Moet ook nie net die Woord léés nie. Dit is soos om ‘n mooi blommetuin op ‘n afstand te sien. Bestudeer die Woord; bid en peins daaroor. Dit is soos om die blomme in detail te bekyk, daaraan te ruik en die nektar te drink. As jy God se Woord só benader, sal lofprysing ‘n natuurlike gevolg wees.

 

  1. Om ons te verlos (v.68b-71)

Die meeste kerkmense weet wat huisbesoek is: dit is wanneer ‘n geestelike leier na jou huis toe kom om te hoor of jy spesifieke probleme of behoeftes het, of omdat jy iets op die hart het. In die Bybel beteken ‘besoek’ nie heeltemal dieselfde nie. Die Here het persoonlik na die volk toe gekom om hulle te straf, of te seën. In v.68b, 78 verwys God se ‘besoek’ daarna dat Hy persoonlik aarde toe gekom het om sy volk van sonde en Satan te verlos (vgl. 7:16, Eks. 4:31, Hand. 15:14).

Hy is vir ons soos ‘n buffel se sterk horings wat die leeu gaffel om ons uit sy bek te red (v.69, 2Sam. 22:3, vgl. 1Kon. 22:11). Hy het gekom as Koning en Messias uit die geslag van Dawid (v.69, 1:31-32, 2:4, 3:23, 31, Matt. 20:30-31, 22:42). So het Hy die woorde vervul wat Hy deur die Ou Testament profete voorspel het (v.70, 2Pet. 1:20-21, vgl. 2Sam. 7, Jes. 11, Jer. 23). Hulle het o.a. gesê dat die Messias sy volk uit die vyand se mag sou verlos (v.71, Jes. 14:1-2, 54:7-17, Eseg. 34:28, Sag. 9:9-10).

Die ‘vyand’ verwys nie hoofsaaklik na die Romeine, Adolf Hitler, of ander verdrukkers van die Jode nie. Dit verwys eerder daarna dat Jesus gekom het om die mag van sonde, Satan en die dood oor ons te breek (Joh. 8:34, 36, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8).

Het Hy jóú al verlos? Is jy vry van vrees vir Satan en die dood? Is jy vry van die verslawende mag van sonde? Voel jy wanhoping, omdat jy al probeer het om vry te kom, maar nog steeds in boeie is? Soms is dit juis dán wat die Here vir ons deurkom: wanneer ons nie meer op onsself kan vertrou nie en verplig is om op Hóm te vertrou (sien Ps. 107). Roep daarom die Here aan en wag geduldig dat Hy jou red. Dit is tog hoekom Hy aarde toe gekom het, nie waar nie?

 

  1. Om sy beloftes te vervul (v.72-73)

Kom ek vertel jou in kode-taal van ons gesin. Ons is soldate wat die goeie stryd stry. Ons dien die Here met ‘n gebroke hart wat Hy heel gemaak het. Ons is deel van God se volk wat sal oorwin. Ons aanbid Jesus as die Skoon Een en streef daarna om soos Hý te wees. Ons is onvolmaak, maar doen ons bes om God te verheerlik. Deur Jesus wat ons gered het, is ons nou kosbaar vir God.

Die betekenis van ons name lê in bogenoemde paragraaf verskuil. Ivor beteken soldaat. Deirdrè beteken gebroke hart. Nichole beteken oorwinning van die volk. Jennifer beteken skoon een. Timothy beteken eer God, of kosbaar vir God.

In v.72-73 sinspeel Sagaria op die betekenis van sy gesin se name wanneer hy die Here prys: “om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink [om dit te onthou], aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee”. Johannes beteken die Here het genade bewys. Sagaria beteken die Here het onthou. Elisabet beteken God is my eed.

Die les is duidelik, naamlik dat die Here sy beloftes vervul. Soms vergeet ons dit, veral wanneer dit met ons sleg gaan. Ons dink dat die Here sy beloftes vergeet het (Ps. 77:9). Maar die ewige God vervul nie altyd sy beloftes binne twee maande nie. Soms vat dit vyftig, of selfs vyfhonderd jaar. Ons sien dit bv. met die geboorte van Jesus in Betlehem. God het in die ewige verlede besluit om mens te word. In Gen. 3:15 het Hy dit vir die eerste keer aangekondig. Hy het dit verskeie kere deur die Ou Testament profete voorspel en 4000 jaar na sondeval vervul.

Alhoewel God se volk rebels was en sy straf verdien het, het Hy aarde toe gekom om genadig en barmhartig oor hulle te wees (v.72). Sodoende het Hy die verbond wat Hy met Abraham en die vaders gemaak het, vervul (v.72-73, 54-55, Ps. 105:8-10, Miga 7:20, Heb. 6:13-14). God se verbond met Abraham was ‘n eed waardeur Hy plegtig belowe het om vir hom ‘n groot nageslag te gee, om vir sy nageslag die Beloofde Land te gee, om hulle as sy volk te neem en vir hulle ‘n God te wees, en om al die nasies van die aarde deur hom te seën (Gen. 12, 15, 17, 22).

In Christus het God sy verbond met Abraham vervul ver bo dit wat enige Ou Testament gelowige kon droom. Deur Jesus wat uit Abraham se nageslag gebore is, is almal wat in Hom glo kinders van Abraham; die nuwe Israel en die ware volk van God (Rom. 2:28-29, 9:6-8, Gal. 3:7-9, 14, 16, 29, 4:28, 6:16, Ef. 2:11-22, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10). Abraham se nageslag is inderdaad soveel soos die sterre van die hemel en die sand van die see (Op. 7:9). Deur Jesus erf ons ook meer as net die Land wat God aan Abraham en sy nageslag belowe het—ons erf die hemel en die nuwe aarde (Matt. 5:5, Heb. 11:9-10, 13-16).

Die les is eenvoudig dat ons nie die Here se beloftes gering moet skat nie. Die profesieë wat Hy oor die kerk se toekoms en die wederkoms gemaak het, sál vervul word so seker as wat die son skyn en die see nat is. Al lyk dit nou vir jou of Suid-Afrika en die wêreld uitmekaar val: God sal sy beloftes hou. Die nasies sal gered word. Die kerk sal triomfeer. Jesus sal kom om die wêreld te oordeel. Hy sal ongeregtigheid tot ‘n einde bring, die aarde nuut maak en vir ewig as Koning regeer.

As dit vir jou onmoontlik klink en lyk of dit lank vat om te gebeur, wag maar geduldig; die Here sal verseker sy beloftes vervul (vgl. Hab. 2:3, 1Tess. 5:24). Hy het dit by Jesus se eerste koms gedoen (v.72-73) en Hy sal dit weer doen wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Num. 23:19).

Jóú plig is om die Here aan sy beloftes te herinner en nie op te hou totdat Hy dit vervul nie (Jes. 62:6-7, Luk. 18:7-8). Wanneer Hy dit vervul, sal jy nie vir een oomblik twyfel dat Hy die Koning van die hemel is nie. Jy sal nie soos Maria wonder wat die herders se woorde beteken nie (2:18); jy sal wéét. Sy tweede koms sal nie soos sy eerste koms wees nie. Jesus se eerste koms was ‘n donkie; sy tweede koms is ‘n strydwa van vuur. Sy eerste koms was ‘n ligte bries; sy tweede koms is ‘n F5 sterkte tornado. Maak gereed om jou God te ontmoet! (vgl. Amos 4:12).

 

  1. Sodat ons Hom kan dien (v.74-75)

Wat sal jy dink as ‘n karwag jou by die winkel voorkeer en sê: ‘Ek het lank hieroor nagedink en wil jou uitnooi om my persoonlike assistent te wees’? Jy sal dink hy is mal. Maar as die koningin van Engeland dit vir jou sê, is dit heeltemal ‘n ander storie. Dit is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Hoeveel te meer is dit nie ‘n voorreg om die Koning en Here van die heelal te dien nie? Jesus het ons nie gered, omdat Hy diensknegte nodig gehad het nie. Hy het dit eerder uit liefde gedoen om vir óns die voorreg te gee om Hom te kan dien. Omdat Hy ons uit die vyand se mag verlos het, hoef ons nie meer bang te wees nie en kan ons Hom dien sonder vrees (v.74, Sef. 3:15).

Jy hoef nie die vyand te vrees soos wat baie Christene in ons tyd doen nie. As enigiets sleg met hulle gebeur (siekte, familie-probleme, ‘n finansiële krisis, ‘n miskraam, probleme by die werk, ‘n inbraak, ens.), dink hulle dat die duiwel op ‘n manier ‘n voet in die deur van hulle lewens gekry het. Hulle dink dat iemand ‘n vloek op hulle geplaas het, dat daar ‘n bloedlynvloek in hulle familie is, of dat iemand negatiewe dinge oor hulle uitgespreek het. Sonder dat hulle dit besef, of bereid is om dit te erken, leef hulle in vrees vir die duiwel.

Maar volgens v.74 is dit nie nodig om bang te wees nie, omdat God ons van ons vyande verlos het. Ons kan die Here sonder vrees dien. Hy het die duiwel se kop onder sy voete verbrysel (Gen. 3:15). Hy het hom kom oordeel (Joh. 12:31, 16:11). Hy het sy mag beperk en is deur die evangelie besig om die gevangenes by hom weg te vat en hulle deel te maak van die Koninkryk van lig (Matt. 12:28-29, Hand. 26:18, Kol. 1:13). Hy het die demone sy gevangenes gemaak en oor hulle getriomfeer (Ef. 4:8, Kol. 2:15). Hy het die werke van die duiwel en die mag wat hy oor ons gehad het, gebreek (Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8). Hy het gesorg dat die duiwel nie meer in die hemel kan kom om gelowiges voor Hom aan te kla nie (Rom. 8:33, Op. 12:9-10, vgl. Job 1:6-12, 2:1-6, Sag. 3).

Deur die Woord, die Heilige Gees en gebed het Hy ons die mag gegee om Sataniese dwalings, versoekings en leuens teë te staan en te oorwin (Rom. 16:20, Ef. 6:10-20, Op. 12:11). Omdat die Here ons dan beskerm, kan die duiwel nie met ons doen wat hy wil nie. Hy is onder die heerskappy van Jesus Christus en het nie toestemming om ons van God se liefde te skei, of vatplek in ons lewens te kry nie (Rom. 8:38-39, 1Joh. 5:18). Dien daarom die Here sonder vrees (v.74).

Natuurlik is die duiwel nie ons enigste vyand nie. Sonde is ‘n groter vyand as hy. Dit is immers nie die duiwel wat mense in die hel laat beland nie, maar sonde. Sonde is ook nie onder die mag van Satan nie, maar andersom (1Joh. 3:8).

Al is sonde egter ons grootste vyand, het Jesus ons van die straf van sonde bevry deur in ons plek die straf te dra (Jes. 53:4-6, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Hy het ook die mag van sonde in ons lewens kom breek (Joh. 8:34, 36). As jy in Jesus glo, dan is sonde nie meer jou baas nie (Rom. 6:14). Dien daarom die Here in vryheid en sonder vrees (v.74).

Sonde maak mense bang: bang vir die toekoms, bang vir die verlede, bang vir die lewe, bang vir die dood, bang vir die duiwel, bang vir mense, bang vir die donker, bang vir donderweer; bang vir alles, behalwe die Here.

Jesus het gekom sodat ons in eerbiedige vrees, heiligheid en geregtigheid voor die Here kan lewe en sodat ons niks anders hoef te vrees nie (v.74-75, Jes. 41:10, Matt. 10:28, Ef. 4:24). As ons dít onthou, sal ons heilig en opreg voor die Here lewe (v.75). As ons onthou dat ons altyd in die Here se teenwoordigheid is (v.75, Spr. 5:21, 15:3, Heb. 4:13), sal ons nie anders kan as om heilig en opreg voor Hom te wees nie. Jy sal heilig wees in die dinge wat jy dink, asook in die dinge wat jy agter toe deure en in die donker doen, of as jy alleen is. Jy sal dit doen, omdat jy daarvan bewus is dat jy voor die Here lewe (v.75).

Jy sal nie net vir ‘n paar dae, weke, maande, of jare so lewe nie. Jy sal die Here jou lewe lank dien (v.75). Dit sal jy doen, omdat Hy jou gered het, omdat Hy jou Vader en Verlosser is, en omdat jy sy kind is. Jesus red ons nie bloot vir ‘n tydjie nie. Sy verlossing is ewig en permanent (v.75). “…ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.” (Ps. 23:6).

 

  1. Om ons te vergewe (v.76-77)

Mense is agterdogtig as jy vir hulle iets verniet wil gee. Hulle dink daar is fynskrif, of ‘n vangplek. Dalk is dit die rede hoekom party mense agterdogtig is oor die evangelie. Hulle dink daar is vangplek. Hoe kan dit sommer net gratis en verniet wees? Soos húlle die Here beskou, is Hy daarop uit om ons te straf. Die boodskap van die Nuwe Testament is egter ‘n boodskap van vergifnis en verlossing vir dié wat hulle bekeer en in Jesus glo (Joh. 3:16-17). Dit is ook die boodskap wat God deur Johannes die Doper kom gee het (v.77).

Johannes was ‘n profeet van die Allerhoogste God; die laaste en grootste van die Ou Testament profete (v.76, 7:26, Matt. 11:11, 13, 14:5, 21:26). Soos ‘n boodskapper wat voor die koning uitgaan, het Johannes voor Jesus uitgegaan en sy koms vir die volk aangekondig (v.76, 3:2-6, Jes. 40:3). Hy het vir die volk gesê om hulle te bekeer en gereed te kry vir die Messias se koms (v.76, 1:16-17, 3:7-18). Hy het vir mense gesê dat die Messias hulle kan red en dat Hy hulle kan vergewe (v.77, 3:16, Mark. 1:4). Let op dat hy sy boodskap aan God se volk verkondig het (v.77).

Net so bring ek vandag die boodskap van God se vergifnis en verlossing vir jou wat in die kerk sit. Baie kerkmense verstaan nie die evangelie nie. Hulle het nie die kennis van verlossing nie (v.77). Hulle glo dat die doop, kerklidmaatskap, die gawe van tale, of iets anders hulle kwalifiseer om in die hemel te kom. Hulle weet van Jesus, maar as jy na hulle getuienis luister, is Hy afwesig. As jy die wet gebruik om vir hulle te wys dat hulle sondaars is wat die hel verdien, steun hulle op die vergifnis en genade van God. Hulle weet egter nie wat dit beteken nie en los Jesus heeltemal uit die prentjie. Hulle verstaan nie dat God ons sonde kan vergewe, omdat Jesus 2000 jaar gelede die straf daarvoor gedra het aan die kruis van Golgota nie.

Omdat hulle dit nie verstaan nie, dink hulle dat Moslems, Hindoes en ateïste sonder Jesus gered kan word. Maar indien dít geval is, is Jesus nie uniek nie en hoef Hy in die eerste plek nie aarde toe gekom het om vir ons te sterf nie (daar was immers ‘n ander manier).

As jy jouself ‘n Christen noem, neem ek aan dat Christus vir jou alles is (Fil. 1:21). Die naam ‘Christen’ beteken immers ‘volgeling van Christus’. Indien Jesus nié vir jou alles is nie, is jy nié ‘n Christen nie en moet jy jouself ook nie as een identifiseer nie.

 

  1. Om ons te verlig (v.78-79)

Ek was verledemaand in die arsenaal van die Goedehoop Kasteel in Kaapstad. Toe hulle die deur toemaak en die lig afsit, was dit so donker dat jy dit in jou kop kon voel. Gestel jy word vir 48 uur daar toegesluit. Hoe bly sal jy nie wees as hulle jou vrylaat en jy weer die lig sien nie?

Dit is wat Jesus vir óns kom doen het. Ons was gevangenes van die duiwel in die donker tronksel van ons eie sonde en die dood (v.79). God het sy Seun gestuur om soos die son oor ons op te kom (v.78-79, Ps. 107:10, Jes. 9:1, 42:7, Matt. 4:16). Jesus het die lig van die evangelie in ons harte kom skyn, sodat ons nie meer soos blinde mense op die afgrond van die hel sou afstuur nie (v.79, Ps. 119:105). Hy het ons voete op die pad van vrede kom rig (v.79, Ps. 23:3, kontra Rom. 3:17).

Omdat ons sy vrede het, ly ons nie meer onder ‘n skuldige gewete nie. God se vrede is vir ons ‘n objektiewe realiteit: Hy het ons sonde vergewe en is nie meer kwaad vir ons nie (Rom. 5:1, Kol. 1:20). Dit is ook ‘n subjektiewe ervaring; iets wat ons in ons harte voel (2:14, Gal. 5:22).

God se lig en vrede het deur sy innige barmhartigheid na ons toe gekom (v.78). Dit wys vir ons dat die Here graag vergifnis en verlossing gee. Dit beteken ook dat niemand Hom gedwing het om ons te red nie. Hý het die verlossingsplan uitgedink en Hý het dit aan die gang gesit. Hy doen dit nie op enigiemand se versoek nie, maar uit sy eie vrye wil en uit die goedheid wat Hy in Homself het (v.78).

Prakties beteken dit jy moenie uitstel om na die Here toe te kom, net omdat jy onwaardig vóél nie. As God se vergifnis afgehang het van hoe waardig jy is, sou niemand vergewe word nie, omdat almal van ons onwaardig is.

Jou en my redding hang af van God wat barmhartig is (Rom. 9:16, Tit. 3:5). Dit beteken dat daar altyd hoop is, omdat die fontein van God se barmhartigheid nie opdroog vir dié wat hulle hopelose toestand erken en in Jesus glo nie. Dit geld nie net vir ongelowiges nie, maar ook vir gelowiges wat afgedwaal het en dink die Here kan hulle nie vergewe nie.

Erken jou skuld, vra die Here om jou barmhartig te wees, en kyk wat gebeur. Hy sal jou nie teleurstel nie. Sy liefdevolle vergifnis sal soos die oggendlig oor jou skyn (v.78-79, Mal. 4:2, Joh. 1:5, 9, 8:12, Ef. 5:14). Net soos wat Jesus 2000 jaar gelede uit die hoogte van die hemel neergedaal het na aarde toe (v.78), sal jy sien hoe Hy persoonlik deur die Heilige Gees by jou teenwoordig is om jou te troos. Hy sal die duisternis van moedelose wanhoop en twyfel laat verdwyn (v.78-79).

Dalk is hier ‘n gelowige wat bang is vir die dood, hetsy jou eie dood, of die dood van ‘n geliefde. Maar Jesus sal jou ook deur hiérdie vallei bring. Hy is die Lig wat saam met jou daardeur gaan (v.79, Ps. 23:4). Hy het die dood oorwin en daarom het jy geen rede om dit te vrees nie (Jes. 25:7-8, Heb. 2:14-15, Op. 1:18). Vir jou is die dood nie ‘n gesiglose man met ‘n swart jas en ‘n maaier in sy hand nie. Vir dié wat in Jesus glo is die dood ‘n baba wat rustig in sy kot lê en slaap—dit kan ons nie skade doen nie.

 

  1. Sodat ons sy getuies kan wees (v.80)

Al weet sommige mense dat Kersfees eintlik oor Jesus gaan, dink hulle nie daaraan wanneer hulle die vet ou man met sy rooi jas en wit baard in die winkel sien nie. Kersvader help ons nie om van Jesus te getuig nie.

Ons moet soos Johannes die Doper wees en doelbewus van Jesus getuig. Voordat Johannes ‘n effektiewe getuie kon wees, moes die Here hom eers voorberei. Hy moes geestelik, emosioneel, intellektueel, fisies volwasse word (v.80, vgl. 2:40, 52, 1Sam. 2:26). Die Heilige Gees moes hom geestelik versterk en voorberei (v.80, 1:15, Rigt. 13:24-25). Hiervoor moes hy tyd alleen met die Here deurbring. Dit het hy in die woestyn gedoen (Matt. 3:4) tot op die dag wat sy bediening onder die volk begin het (v.80).

Alhoewel ons nie profete is soos Johannes nie, moet ons met ons lippe en lewens van Jesus getuig. Hiervoor moet ons, net soos Johannes, gereeld tyd alleen met die Here deurbring. Lees en bestudeer die Woord en vra die Here deur gebed om jou met sy Gees te vul. As jy nie vol is van sy Woord en sy Gees nie, sal jy nie met vrymoedigheid van Jesus kan getuig nie; veral nie as jy jou in ‘n intelligente persoon vasloop wat jou met strikvrae in ‘n hoek dryf nie.

***

Dít is dan die sewe redes hoekom Jesus aarde toe gekom het. Na nege maande van stilte kon Sagaria nie iets beter gesê het nie. Sy woorde was nie bloot soos as ‘n baba vir die eerste keer ‘pappa’, of ‘mamma’ sê nie. Dit was meer as dit: die waarhede van sy profesie het ons lewens verander.