Die volharding van ons geloof

Image result for ship in storm

Hebreërs 4:14-16

‘n Baba benodig suurstof in die baarmoeder. Hy benodig dit wanneer Hy die baarmoeder verlaat en gebore word. Hy benodig dit deur sy hele lewe hier op aarde. Sonder suurstof sal hy doodgaan.

Net so benodig ons Jesus om te lewe. Ons benodig Hom vir weergeboorte, geestelike groei, volharding tot die einde en die ewige lewe in die hemel. Jesus is die Begin en Voleinder van ons geloof (12:2). Hy hélp ons nie net om te volhard nie, maar Hy ís die Volharding van ons geloof (vgl. 1Kor. 1:30). In Heb. 4:14-16 leer Hy ons hoe ons déúr Hom en sóós Hy tot in die hemel kan volhard.

 

  1. Laat ons die belydenis vashou (v.14)

Party kerke is teen belydenisse en beskou dit as kerklike tradisie. Hulle sê: ‘Die Bybel is ons enigste belydenis; Christus is ons enigste kreet.’ Om egter so te redeneer is onlogies en onbybels. Hoekom sê ek so?

Prof. Julian Müller is ‘n liberale dosent aan die Universiteit van Pretoria. Hy verwerp o.a. die liggaamlike opstanding van Jesus. Toe ‘n radio omroeper hom ‘n paar jaar gelede vra of hy in die opstanding van Jesus glo, toe sê hy: ‘Ek sê elke Sondag die Apostoliese Geloofsbelydenis op, naamlik dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit die dood.’ Hy was slinks, omdat Hy die liggaamlike opstanding van Christus verwerp. Hy glo dat Jesus geestelik opgestaan het (wat dit ook al beteken!).

Sien jy dus dat dit nie genoeg is om te sê: ‘Ek glo in die opstanding nie’? Jy moet verduidelik wat jy daarmee bedoel. Net so moet jy nie maar net sê dat jy die Bybel glo nie. Sê eerder in watse Bybel jy glo. Glo jy in die Katolieke Bybel wat sewe ekstra boeke in het? Glo jy Marcion van Sinope (85-160 n.C.) se Bybel wat net elf boeke in het? Glo jy net die Ou Testament soos hedendaagse Jode? Of glo jy die 66 boeke van die Ou- en Nuwe Testamente?

Wie is die Jesus in wie jy glo? Is Hy bloot ‘n profeet; die tweede naas Mohammed soos wat die Moslems glo? Is Hy maar net ‘n Wyse Leermeester soos wat die Boeddhiste glo? Is Hy een van baie gode soos wat die Hindoes glo? Is Hy die eerste en grootste skepsel soos wat die Jehova’s Getuies glo: die Seun van God, maar nie God nie? Is Hy die duiwel se broer wat nie altyd ‘n god was nie, maar een geword het soos wat die Mormone glo? Is Hy ‘n Kersvader in die lug wat bestaan om ons ryk en gesond te maak soos wat Prosperity predikers glo? Glo jy m.a.w. in ‘n ander Jesus as die Een waarin Christene al vir 2000 jaar glo (2Kor. 11:4)?

Ons moet ons belydenis vaslê en uitspel wat ons oor God, Jesus, die evangelie en die res van die Skrif glo. Ons moet weet wát ons glo en hóékom ons dit glo, sodat ons dit uit die Bybel kan verdedig (1Pet. 3:15, Jud. 3). Laat ons dus ons belydenis vashou (v.14, 3:1, 10:23, 1Tim. 6:12). Wat bely ons oor Jesus? Uit Heb. 1-4 alleen kan ons ons belydenis soos volg opsom:

  • Jesus is die groot Hoëpriester en Apostel van ons belydenis (v.14, 2:17, 3:1, 10:21).
  • Hy is Jesus ons Verlosser (v.14, vgl. Matt. 1:21).
  • Hy is die Seun van God (v.14, 1:2, 5).
  • Hy is die groot Profeet en die finale openbaring van God (1:1, vgl. Deut. 18:15, 18).
  • Hy is die Erfgenaam van alle dinge (1:2).
  • Hy is die heerlikheid van God (1:3).
  • Hy is die presiese afdruksel van God se wese (1:3).
  • Hy is die ewige Skepper en God (1:2, 8-9, 10-12, vgl. Joh. 1:1-3).
  • Hy is die Koning op sy troon (v.16, 1:8-9).
  • Hy is waarlik mens (2:14, 17).

As ons aan hierdie belydenis vashou, sal ons nie soos die Hebreërs versoek word om die rug op Jesus te draai nie. Toe die Hebreërs vir die evangelie vervolg is (10:34, 13:3, 13), wou hulle onder die druk knak en die engele, Moses, Aäron, die diereoffers, die Levitiese priesters, die ou verbond, die tempel en die wet bo Jesus stel.

Maar Jesus is groter as al hierdie dinge. Dit is juis die punt wat die Hebreërskrywer wil tuisbring. Hou dan vas aan die belydenis van hierdie Jesus (v.14). Dan sal jy nie soos die Israeliete in die Ou Testament struikel en val nie (hfst. 3-4). Moet egter nie by ‘n belydenis van sekere waarhede oor Jesus stop nie, maar glo met jou hele hart in sy Persoon (Rom. 10:9-10). Soek ‘n verhouding met Hom, aanbid Hom, wees lief vir Hom, gehoorsaam Hom.

Jy kan dit nie op jou eie regkry nie. Jy moet deel wees van die liggaam van Christus. Dwarsdeur sy brief spoor die outeur die gemeente aan om te volhard: ‘Laat óns…’ (v.14, 16, 1, 6:1, 10:22, 23, 24, 12:1, 28, 13:13, 15). Ons het mekaar nodig (3:13, 10:24-25). Laat ons dus sáám aan die belydenis van Jesus vashou (v.14). Tog moet jy nie op die gemeente fokus, sodat jy maar net nog ‘n kerkmens word nie. Fokus eerder saam met die gemeente op Jesus wat ‘n beter Hoëpriester is as Aäron.

In die Ou Testament het Aäron en sy seuns diere vir die volk se sonde geoffer. Aäron het een keer per jaar agter die tabernakel se tweede gordyn ingegaan (9:7). Hy het bloed vóór en óp die ark gesprinkel, sy eie en die volk se sonde bely en vir hulle gebid (Lev. 16).

Jesus is ‘n beter Hoëpriester wat nie net deur ‘n aardse tabernakel gegaan het nie, maar in die Allerheiligste van die hemel waarvan die aardse tent maar net ‘n kopie was (v.14, 6:19-20, 8:1-2, 9:11). Jesus het twee keer in die Allerheiligste van die hemel ingegaan (Ps. 24:7-10):

[1] Toe Hy sy asem uitgeblaas het en as Oorwinnaar deur die poorte van die hemel ingegaan het (9:24, Luk. 23:43, 46).

[2] Veertig dae na die opstanding toe Hy as Koning aan die Vader se Regterhand gaan sit het, waar Hy ook nou vir ons intree (1:3, 7:25, 12:2, Ps. 110:1, Hand. 1:9, Rom. 8:34, Ef. 1:20).

Om as Hoëpriester vir ons in te tree, moet Hy God én mens wees. Jesus is sy menslike naam (Matt. 1:21), terwyl ‘Seun van God’ op sy Goddelike natuur dui (Mark. 14:61-63, Joh. 5:18, 10:33, 36). Omdat Hy God én mens is, kan Hy die mens by God verteenwoordig en God by die mens. Hy is soos die koppelstuk tussen die tuinslang en die kraan wat op beide kante pas. Dit het praktiese implikasies vir die Hebreërs en vir ons.

Vir die Hebreërs het dit beteken dat hulle nie hoef terug te keer na die priesters en offers nie, omdat Jesus vir ons sonde geoffer is en vir ons intree by die Vader. Om dus vir Jesus te verloën en ‘aan te beweeg’ na Ou Testamentiese rituele en offers was nie vordering nie, maar agteruitgang en afvalligheid. Net so is dit nie vordering om die historiese Jesus van die Nuwe Testament te verruil vir die dooie Jesus van die liberales in die NG Kerk nie; vir ‘n Jesus wat Homself soos ‘n verkleurmannetjie aanpas by die LGBTQ+ beweging van die wêreld.

Laat ons eerder vashou aan die Jesus van die Bybel, wat ook die Jesus van ons belydenis is. Enige ander Jesus is ‘n namaaksel van teologiese bedrog, net soos wat China se Geely GE nie die egte Rolls Royce Phantom is nie, maar ‘n goedkoop namaaksel. As jy in die namaaksel belê, kan ek jou waarborg dat jy nie die hemel sal bereik nie. Jy sal êrens langs die pad breek.

 

  1. Laat ons vrymoedig bid (v.15-16)

Iemand het ons onlangs vertel van hulle dogter wat verdwaal het toe sy net in Kempton kom. Sy het haar pa gebel. Hy het haar stap vir stap begelei tot sy by die huis aangekom het.

Christene so. Ons moet dwarsdeur ons lewens op aarde bid en in kontak met die Here wees, sodat ons veilig in die hemel kan kom. Ons moet op ons eie bid, maar ons moet ook as ‘n gemeente saam bid: ‘Laat ons…’ (v.16, Hand. 1:14, 2:42, 4:24, 12:5, 13:3, 14:23, 20:36, 21:5).

Hoe moet ons bid? Bid vrymoedig en moenie twyfel, huiwer, kleingelowig wees, of vrees soos mense in die tyd van koningin Ester nie (v.16, Est. 4:11). Moenie wees soos Israel in die Ou Testament wat nie op berg Sinaï, of in die tabernakel kon inkom nie (Eks. 19:12, Num. 3:7, 10). Moenie wees soos in die Ou Testament, toe net die hoëpriester een keer per jaar in die Allerheiligste kon inkom nie (9:7, Lev. 16).

Kom met vrymoedigheid deur Jesus wat die weg na die Vader oopgemaak het. Toe Hy gesterf het, het God die tempelgordyn geskeur wat ons uit die Allerheiligste uitgehou het (10:19-20, Matt. 27:51). Nou kan ons enige tyd van die dag of nag in God se troonkamer inkom (v.16). Ons benodig nie ‘n aardse priester soos die Katolieke nie, maar deur ons Hoëpriester Jesus is almal van ons priesters en kan ons direk tot God nader (1Pet. 2:5, 9, Op. 1:6, 5:10, vgl. Ef. 2:18, 1Tim. 2:5). Dit gee ons vrymoedigheid.

Ons kan ook vrymoedig bid, omdat Jesus waarlik mens is. Hy verstaan ons menslike swakhede (v.15). Hy verstaan geboorte in ‘n gevalle wêreld (Gal. 4:4). Hy verstaan moegheid (Matt. 8:24, Joh. 4:6), honger (Matt. 4:2), dors (Joh. 19:28), verwerping (Jes. 53:3), vriende wat Hom in die rug steek (Mark. 14:43-45, 50), angs (Matt. 26:38), trane (Luk. 19:41, Joh. 11:35), pyn (Joh. 19:1), die dood (Joh. 19:30, 33-34) en ’n begrafnis (Joh. 19:40-42).

As mens ken Hy ook versoeking (v.15). Dalk skok dit jou om te weet dat Hy in alle opsigte soos ons versoek is, byvoorbeeld om sondige dinge met sy liggaam en oë te begeer; om gierig te wees en op ander te trap om sodoende bo uit te kom (v.15, Matt. 4:1-11, 1Joh. 2:16). Omdat Hy op hierdie maniere versoek is, verstaan Hy jóú unieke versoeking en kan jy jou hart met Hom deel (v.15-16). Glo jy dit nie?

‘n Prediker genaamd Joel Beeke vertel hoe hý en ‘n ander jong man kandidate was vir die pastorale bediening. Toe hý gekies is, was die ander jong man jaloers op hom. Dit het hom baie gepla. Een aand het hy in die bed gelê en vir die Here gesê: ‘Here, U weet nie wat ek deurmaak nie. Darem was niemand ooit jaloers op U nie.’ Hy het dit skaars gesê, of hy moes vergifnis vra. Mark. 15:10 het in sy gedagtes opgekom: “Want hy [Pilatus] het geweet dat die owerpriesters Hom [Jesus] uit nydigheid oorgelewer het.”

Jesus verstaan jou versoeking en kan jou help. Dalk sê jy: ‘Maar beteken Jesus se versoekings nie dat Hy ‘n onvolmaakte Hoëpriester is wat ons eintlik nie kan help nie?’ Nee, want versoeking is nie sonde nie. Jesus is versoek, maar Hy het nie gesondig nie (v.15, 7:26, Joh. 8:46, 2Kor. 5:21, 1Pet. 2:22, 1Joh. 3:5). Dus is Hy die volmaakte Hoëpriester om ons in ons swakhede te help (v.15).

Iemand anders sal sê: ‘Maar diskwalifiseer Jesus se sondeloosheid Hom nie om ons te help nie, aangesien Hy nie eintlik ons stryd teen sonde verstaan nie?’ Jesus verstaan die krag van sonde beter as enige van ons. In die eerste plek het Hy miljoene mense se sonde gedra. In die tweede plek is dit juis die een wat nié sonde doen nie, wat die krag van versoeking verstaan. As jy binne die eerste vyf sekondes toegee aan die versoeking, weet jy nie hoe erg die stryd kan raak, of hoe sterk die versoeking kan wees nie. Jesus het die versoeking tot aan die einde weerstaan en ken daarom die krag daarvan beter as ons (2:18).

Buitendien soek jy seker nie die hulp van iemand wat die meeste sonde doen nie, maar van iemand wat die versoeking weerstaan het en die beste weet hoe om dit te oorwin (net soos wat jy nie ‘n amateur soek om jou met jou gholfhoue te help nie, maar iemand wat die spel bemeester het).

Omdat Jesus ons versoeking verstaan, het Hy medelye as die duiwel jou voortdurend versoek (v.15). Hy is nie koud en klinies soos wat ons pastorale sielkunde dosent ons geleer het om met mense te wees nie. Hy voel jou pyn (Jes. 63:9, Hand. 9:4). En tog is Hy nie swak soos ‘n aardse hoëpriester nie (5:2). Hy is die sterke God vir wie niks onmoontlik is nie (Jes. 9:5, Matt. 19:26, Luk. 1:37). Hy kan alles gee wat jy nodig het; ver bo alles wat jy kan bid, of selfs dink (v.16, Ef. 3:20).

Al vereiste is, dat jy jou swakheid moet erken. Bid en vra dat Hy jou help. Hy is die soewereine Koning wat genade en barmhartigheid skenk aan mense wat swak en hopeloos is; aan mense wat die hel verdien. Hy gee genade soos wat ‘n apteker medisyne gee. Sy troon is nie ‘n troon van oordeel vir dié wat in Hom glo nie, maar ‘n troon van genade.

Benodig jy genade vir jou versoeking, sonde, ‘n behoefte, ‘n krisis, jou twyfel, vir iets wat jy nie verstaan nie, vir jou geestelike groei, in jou voorbidding vir ander? Kom na die troon van genade. Jesus wil, kan en sal jou help (v.16). Sy genade en barmhartigheid is groter as jou sonde, jou behoefte, jou gebedsversoek, as enigiets wat jy nodig het. Moenie op ‘n afstand bly staan nie, maar kom na die troon van genade:

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7-8).

Die Here sal jou op die regte tyd help (v.16, 1Pet. 5:6). Wanneer die antwoord kom, sal jy sien dat dit die regte tyd was. God se tydsberekening is altyd perfek. Natuurlik moet jy dan vir die regte dinge bid en seker maak dat daar nie ‘n hindernis tussen jou en die Here is nie.

Wat is die regte dinge waaroor jy moet bid? Die dinge wat Hy ons in die Bybel leer. Aan die einde van die dag gaan gebed egter nie oor wat ons by die Here kan kry nie. Ons bid eerder om naby Hom te wees, sodat Hy ons tot by Hom in die hemel kan lei. Ons is soos die klomp predikante by verledejaar se ABK Vergaderings in Hermanus.

Ons moes ‘n hindernisbaan doen. Die hele span is geblinddoek. Iemand wat nié geblinddoek is nie het voor geloop en gesê: ‘Draai regs; gee twee tree vorentoe; ens.’ Ons moes die leier vertrou en elke nou en dan vir rigting vra.

Op dieselfde manier lei Jesus ons tot in die hemel. Ons moet Hom glo en gedurig sy hulp vra. As ons hiermee aanhou, sal ons deur sy genade veilig in die hemel aankom.